Geloof - Geen Vrees
Geloof is “‘n vaste vertroue op dinge waarop gehoop word, ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie” (Heb. 11:1). Dit behels vertroue in en lojaliteit teenoor God. Geloof in God kan baie dinge in jou lewe verander.
Lees Genesis 12:1-9 & Genesis 22:9-18
Geliefdes, geloof is “‘n vaste vertroue op dinge waarop gehoop word, ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Dit behels vertroue in en lojaliteit teenoor God. Geloof in God kan baie dinge in jou lewe verander. Jou lewe kan onderstebo gekeer word, omdat jy jou geloof op God gestel het. Hy kan jou roep om Hom te volg, nie net in die moeilikste tye van jou lewe nie, maar ook in die beste tye van jou lewe, waar jy alles het wat jy nodig het om te leef. Tog roep God jou om jouself elders te gebruik, en dit is waar ons in Genesis 12:1-9 die roeping van Abraham sien.
Abraham het saam met sy pa, Tera, Sarai sy vrou en Lot sy broerskind gebly, en hulle het saam in Haran gewoon. Abraham het ‘n gemaklike lewe gehad. Hy het alles gehad wat hy nodig gehad het om te leef. Maar die Here het Abraham geroep, soos ons sien in verse 1-3. Hy moes uit sy land weggaan en na die land trek wat God hom sou wys (Genesis 12:1). Hy het nie geweet waarheen hy gaan nie; hy moes alles net los en saam met sy familie gaan waar God hulle lei. Abraham het toe gegaan saam met Lot, soos God hom beveel het. Dit het groot geloof van Abraham geverg, want sy identiteit was in Haran, in sy vader se huis. Maar God het na hom toe gekom en wou hom ‘n nuwe identiteit wys.
Geloof is waar jy God eerbiedig moet gehoorsaam, Hom vertrou, Hom ken en waar jy Hom toelaat om jou te neem in elke aspek van die lewe. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:7). Ons ware identiteit, geliefdes, moenie vrees wees nie, maar geloof.
Dus sien ons dat geloof in die Here Jesus Christus duur is. As ons terugkyk na Genesis 12, sien ons dat Abraham God gevolg het saam met sy vrou en Lot. Maar om God se pad te vat, kon hom sy lewe gekos het; hulle kon hom doodmaak, of daar kon ‘n baie ernstiger optrede gewees het wat hulle reis sywaarts kon keer. In Genesis 12:10–20 kon Abraham doodgemaak word deur Farao, wat Abraham se vrou begeer het, en Abraham het daarom gelieg om sy eie lewe te bewaar. Maar tog was die Here met hulle. Hy het Farao en sy huis met groot plae besoek (vers 17).
Dit is duur om Jesus Christus te volg. Jesus Christus beveel ons in Mattheüs 16:24: “As iemand agter My wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
In Lukas 14:25–28 beveel Hy ons dat as ons nie ons vader, moeder, vrou, kinders, broer, suster en selfs ons eie lewe haat nie, ons nie sy dissipels kan wees nie. Dit is iets ongeloofliks as jy verder daaroor dink, want God het gesê ons moet mekaar liefhê soos onsself; ons moet ons vader en moeder eer sodat ons dae verleng mag word, met ander woorde dat ons lank op die aarde mag leef (Eksodus 20:12). Maar nou sê Hy in Lukas 14 dat ons sy dissipels sal wees as ons hulle “haat”? Wat hier bedoel word, geliefdes, is dat ons Jesus Christus prioritiseer en volle toewyding in Hom plaas bo alles — selfs bo familie en jou persoonlike lewe.
Geliefdes, daar gaan dae wees waar jy jou vriende verloor — met ander woorde, die mense met wie jy ‘n goeie verhouding het — omdat hulle aan verkeerde dinge vashou wat jou dwing om van hulle afstand te doen as gevolg van jou geloof in die Here. Huwelike kan ‘n uitdaging wees, want wanneer jy God volg en jou geloof op Hom sit, is daar ‘n groot moontlikheid dat spanning kan ontstaan as jou vrou of man die Here ken, maar kies om Hom nie te volg nie. Op ‘n stadium gaan jy jou kultuur, identiteit en rykdom moet opgee vir jou geloof in die Here en om Hom alleen te volg, waar ook al Hy jou roep, soos ons ook met Abraham gesien het. Al hierdie dinge wat jy om die Here se ontwil verloor is lonend, want in dit wat jy verloor het, gaan jy baie meer ontvang. Soos ons met Abraham sien, is die resultate ongelooflik nadat hy geloof in God gehad het. God het inderdaad sy beloftes nagekom (Psalm 145:13).
Geloof is gebaseer op wat God vir jou gesê het en wat God belowe het, nie op wat ek voel ek moet doen of nie moet doen nie. In Genesis 22:1–18 het God eerstens vir Abraham beveel dat hy sy enigste seun, Isak — wat hy liefhet — in die land Moria moes offer (vers 2). God het vir Abraham ‘n seun gegee, en nou sê God ewe skielik dat Abraham sy enigste seun, wat God self belowe het, moet offer. Die pragtige prentjie is egter dat Abraham steeds geloof in die Here gehad het, want hy was bereid om sy seun vir God te offer. Maar geliefdes, nie net het die Here Abraham deur ‘n engel gestop nie (verse 11–12); Hy het Abraham beloon soos wat Hy belowe het en sy nageslag vermeerder soos die sterre in die hemel (vers 17).
As geloof op gevoelens gebaseer was, sou ons ‘n verkeerde begrip van geloof hê. Dit is ‘n groot gevaar wat jou nader en nader aan sonde bring. Ons het ‘n sondige denkwyse en verkeerde bedoelings. Al hierdie dinge gebeur as gevolg van ons gebrek aan geloof in God.
Om die oordenking af te sluit, wil ek ‘n paar mooi opmerkings uit The Heavenly Race oor geloof deel:
Vrees sê: jy kan nie.Geloof sê: God is reeds daar.
Vrees isoleer, maar geloof herinner my dat ek nooit alleen is nie (Jesaja 41:10).Vrees styg, maar geloof kies vertroue (Psalm 56:3).Geloof stil die stem van vrees met die stem van oorwinning (Romeine 8:31).Vrees is ‘n leuen; geloof is my ware identiteit (2 Timoteus 1:7).Geloof rus my toe om vandag met moed te wandel (Josua 1:9).
Gebed
Ons Almagtige Hemelse God en Vader, ons dank U, Here, dat ons U weer mag aanroep. Ons dank U, Here, dat ons weer uit u Woord mag leer wie U is en dat ons ons volle vertroue op U mag sit en U mag volg deur ons geloof in U en deur ons geloof in die Here Jesus Christus. Ons vra, Here, dat U met ander mense sal wees wat sukkel om U te volg, wat twyfel en wat hulle geloof basies op hulle gevoelens baseer. Ons vra dat U ons sal versterk in groot omstandighede en moeilikhede, maar dat ons ons volle vertroue en geloof op U sal plaas. Hoor ons, Vader; in Christus se Naam bid ons. Amen.
Coram Deo
Abraham het op God vertrou, en God het dit wat onmoontlik is, moontlik gemaak. Deur die Woord het ons bewys van wat die Here in ‘n mens se lewe kan doen. Geloof mag jou lewe kos, maar aan die einde van die dag is ons hoofdoel om die ewige lewe te hê deur geloof in Jesus Christus.
Bronne en verdere studie
- Hebreërs 11 | Genesis 22:1–23 | 2 Korinthiërs 4 | Psalm 88
- https://youtu.be/Edx7dgKiZzM?si=DeuVkjkuP8nv7KhL
- https://youtu.be/K9UTLD9YRCM?si=xO0UMvGXWwan-FOY
- https://www.instagram.com/s/aGlnaGxpZ2h0OjE4MDU0MTczNDE2OTEwOTAx?story_media_id=3718763820425838844_70284659445&igsh=eHZlYXQxcGFzbXI=
Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata