Exodus uit Egipte: Hartklop van die Evangelie - Hoséa 11
In die eerste oordenking in hierdie reeks het ons gesien dat Hoséa as die profeet van God se liefde beskou kan word. Deur sy huwelik met die owerspelige vrou, Gomer, het hy iets uitgebeeld: Aan die eenkant die onvoorwaardelike liefde van God en aan die anderkant die ontrouheid van die volk.
Lees Hoséa 11 en Mattheüs 2:13-18
In die eerste oordenking in hierdie reeks het ons gesien dat Hoséa as die profeet van God se liefde beskou kan word. Deur sy huwelik met die owerspelige vrou, Gomer, het hy iets uitgebeeld - en ook self pynlik ervaar - van die verbond tussen God en sy volk: Aan die eenkant die onvoorwaardelike liefde van God en aan die anderkant die ontrouheid van die volk.
En hier in hoofstuk 11 weerklink die sentrale tema van die HERE se liefde weer so helder: “Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad” (vers 1) “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.” (vers 4). “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Sebóim: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.” Terloops, Adma en Sebóim is twee stede suid van die Dooie See wat saam met Sodom en Gomorrra vernietig is (Deuteronomium 29:23).
Baie keer kan God se liefde vir ons net soos ‘n abstrakte begrip begin voel. Veral in tye van beproewings kan ons sukkel om God se liefde raak te sien en te ervaar. Dan kan ons begin vrae vra soos: “Is God nog lief vir my? Hoe kan ek seker wees van God se liefde?” Hoséa 11 leer vir ons troosvolle waarhede oor God se liefde. Ons gaan veral fokus op vers 1.
God se liefde is nie bloot ‘n abstrakte begrip nie, maar Hy openbaar sy liefde op ‘n konkrete manier deur sy dade, veral sy dade van verlossing. Ons kan toeneem in sekerheid van God se liefde as ons ons oë aanhou vestig op God se verlossing. Kom ons lees weer Hoséa 11:1 “Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.”
God het Israel liefgehad en dit het gevloei na ‘n daad van verlossing - die verlossing uit Egipte, wat ‘n helder beeld skets van die ware verlossing in Christus. Of soos hoofstuk 11 dit stel, die roeping van God se seun uit Egipte.
Kom ons kyk dieper na hierdie woorde. Terwyl die volk Israel in Hoséa se tyd verder afdwaal in sonde, herinner die HERE die volk dat Hy ten spyte van hul ontrou, getrou gebly het. God se liefde het nie verander nie. Sy liefde is konsekwent in wie Hy is. En daarom herinner Hy die volk dat Hy hulle nog altyd liefgehad het. Hy het sy liefde aan hulle kristalhelder geopenbaar toe Hy hulle eeue gelede uit Egipte geroep het.
Dat God vir Israel sy seun noem, verwys terug na Exodus 4. God het Moses in Exodus 4:22-23a beveel: “Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien.”
Israel was slawe van Farao in Egipte. Hulle is verdruk met harde arbeid. Egipte word deurlopend in die Bybel uitgebeeld as die land van slawerny en die dood. En dan tree die HERE op. Hy red Israel op ‘n wonderbaarlike wyse deur tekens en wonders – dink maar net aan die 10 plae, die bloed van die paaslam, die deurtog deur die Skelfsee. Hy vernietig die vyand en bevry sy volk uit slawerny. ‘n Verlossing wat die ander nasies laat sidder het vir die God van Israel.
Hierdie verlossing skets ‘n beeld van die ware verlossing wat Christus kom bring het. Israel word verlos uit die slawehuis van Egipte, word bewaar tydens hul woestynreis en word uiteindelik in die beloofde land Kanaän ingelei. Net so verlos Christus ons uit die slawehuis van sonde, bewaar Hy ons op ons lewensreis en lei Hy ons in die ewige Kanaän. Ons word dus ook uit Egipte geroep om die HERE te dien.
Dan trek Mattheüs hierdie lyn vanaf Hoséa deur tot by Christus. Mattheüs 2:15: “En hy (Josef) was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
Ironies genoeg, was Egipte vir Jesus nie ‘n plek van slawerny of verdrukking nie, maar eerder ‘n toevlugsoord. ‘n Plek waar Hy, Josef en Maria veilig was teen Herodes se wrede opdrag om die seuntjies te vermoor. En juis dan word Christus, die Seun van God, uit Egipte geroep. Hy word geroep uit Egipte, om ons uit ons Egipte uit te lei. Hy kom lei ons uit en verlos ons van die heerskappy van die vyand, die slawerny van sonde en die land van die dood.
Hoe het Hy hierdie verlossing bewerkstellig? Hy het gely, is gekruisig en het uit die dood opgestaan – so eenvoudig maar tog so onpeilbaar, ‘n verlossing baie groter as die van Israel uit Egipte.
Twyfel jy aan God se liefde? Of is jy miskien besig om soos Israel in Hoséa se tyd van die regte pad af te dwaal? Kyk na die uittog uit Egipte, die van Israel en die van Christus. God se liefde kry die duidelikste vergestalting in dade van verlossing. Kyk na die kruis. Ook in die Paasfeestyd staan ons in besonder stil by die lyding van Christus. Mag ons die rykdom van God se liefde weer opnuut besef!
Gebed
Onse Vader wat in die hemel woon. U is met majesteit en heerlikheid bekleed. Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit (Psalm 89:15). Ons wil U loof en prys vir wie U is en alles wat U doen. Ons dank U vir die liefde wat U in die Here Jesus Christus volmaak aan ons geopenbaar het en dat die Gees ons laat groei in sekerheid. Soos Israel wil ons ook sing: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind. U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer” (Exodus 15:11-13). Ons bid en dank U dit in Christus se Naam. Amen.
Coram Deo
God se liefde word die helderste geopenbaar in sy dade van verlossing. Kyk na die Exodus (uittog) uit Egipte, die van Israel en die van Christus. Kyk na die kruis. Laat ons Hom dan loof wat ons eerste so uitnemend liefgehad het!
Verdere Bybelstudie
Exodus 15 | 1 Johannes 4
Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata