Ek is tot alles in staat – Filippense 4

Filippense 4:13 is seker een van die bekendste Bybelverse en is dikwels een wat in charismatiese bewegings misbruik word. In die oordenking, gaan ons egter dieper delwe en kyk na wat Paulus hier bedoel.

Ek is tot alles in staat – Filippense 4
Photo by Matt Paul Catalano / Unsplash

Lees Filippense 3:17-4:14

“Ek is tot alles in staat deur ‘n vers buite konteks.” Dit is ‘n grappie wat ek onlangs gehoor het. Filippense 4:13 is seker een van die bekendste Bybelverse en is dikwels een wat in charismatiese bewegings misbruik word. Ons gaan egter dieper delwe en kyk na wat Paulus hier bedoel, asook sien hoe dit troos gebied het aan ‘n pa wat sy kinders verloor het en geboorte gegee het aan een van die bekendste liedere wat die wêreld mag hoor. 

Om dit te kan doen moet ons die konteks van die vers verstaan, en ons begin daarom by hoofstuk 3 vers 17. Die eer-en-skaamte-samelewing bly ‘n besprekingspunt vir Paulus. Hy praat oor die vyande van die kruis van Christus, met trane in sy oë (vers 18). Dit is die eerste keer in Filippense waar ons lees van Paulus wat hartseer is – deurlopend praat hy oor blydskap. Dit beteken dat hy eerstens omgee vir daardie verlore siele en tweedens ‘n ontsettende groot liefde vir Christus het. Christus is alles vir hom, dit het ons reeds gesien. Daarom weeg hierdie saak swaar op sy hart. Dit is hartverskeurend om te sien hoe mense in sonde verval, en aardse dinge bedink (vers 19).

Ons sou ook daar gewees het, daarom mag ons nie trots wees nie. Maar, “ons burgerskap is egter in die hemel,” sê Paulus (vers 20). Al wat ons anders maak as die ongelowiges, is dat ons in Christus verenig is. H‎‎y is die een wat ons verander en aanhou verander tot ons aan sy beeld gelykvormig word (vers 21).

Deur die krag van die Heilige Gees verander Jesus ons (vers 21). Dit is ‘n kosbare wonder wat nie as vanselfsprekend gesien moet word nie. Daarom sê Paulus vervolgens in hoofstuk 4:1, baie direk en persoonlik: “my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here.” Dis ‘n warm oomblik in hierdie brief, want ons word geneem van trane uit liefde vir die verlorenes tot liefdevolle trane en koesterende woorde vir die kinders van God.

Net in die Heilige Gees kan ons vasstaan in die Here Jesus Christus. Dis net deur s‎y werk dat ons verander kan word. So daarom moet ons ons verbly in die Here (vers 4). Ons moet vriendelik wees teenoor alle mense, nie trots nie (vers 5). Laat ons in dankbaarheid dan ook tot God bid, en ons gedagtes rig op hemelse en Christelike dinge (vers 8): 

“Verder, broers,
alles wat waar is,
alles wat eerbaar is,
alles wat reg is,
alles wat rein is,
alles wat lieflik is,
alles wat lof verdien,
ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

So mag ons rustig word, “en die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak” (vers 7).

Dit is hierdie vrede wat Paulus gerus stel. Dit is dieselfde vrede van God wat hom tevrede maak in alle omstandighede – honger of oorvloed (vers 12). Dit is in al hierdie omstandighede waarin God hom in staat stel om staande te bly (vers 13) deur die krag van die Gees, nie Paulus se eie krag nie. In honger of oorvloed kan Paulus tevrede wees. Dít is wat Filippense 4:13 beteken. Ons kategismus leer dieselfde in Sondag 10: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (Romeine 8:38-39), aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. 

Dit herinner my aan die verhaal agter die bekende gesang, It is well with my soul. Horatio Spafford, ‘n ryk prokureur, het in 1870 sy 4-jarige seun verloor aan koors en ook in 1871 sy eiendomsbeleggings verloor deur die Groot Chicago-brand. Hy was finansieel bankrot. In die soeke na rus het hy ‘n vakansie met sy gesin na Europa beplan (1873). As gevolg van besigheid, stuur hy sy vrou en 4 dogters vooruit op die SS Ville du Havre wat toe bots met die Britse skip, Loch Earn. Die skip sink binne 12 minute en net ‘n derde van die passasiers oorleef. Sy vrou, Anna, stuur vir Horatio ‘n telegram wat lees, “Saved alone.” Al vier van sy dogters het verdrink. Tragies. Hy spring toe op die volgende boot op pad na sy vrou toe. Soos hy verby die plek kom waar sy dogters verdrink het, sien hy die see wat woed en die hartseer oorweldig hom soos ‘n golf. Hy skryf in daardie oomblik sy bekende lied: 

“When peace, like a river, attendeth my way,

When sorrows like sea billows roll;

Whatever my lot, Thou hast taught me to say,

It is well, it is well with my soul.”

Slegs deur die krag van God kon hy tot lof keer in ‘n oomblik soos dié. Mag dit ons ook staande hou in alles wat op ons wag.

“Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13

Gebed

Onse Vader en troue God. U gee vrede, selfs al woed die see en staan die duiwel op die loer soos ‘n leeu wat wag vir sy prooi. Tog weet ons dat ons in daardie storms van die lewe rus en vrede by U mag vind. U is ons krag. U genade is vir my genoeg, want wanneer ek swak is, is U sterk (1 Korintiërs 12:9). Ja, Here, U is my krag – en daardeur is ek in staat om tevrede te wees in beide voor- en teëspoed. “O Lord, haste the day when my faith shall be sight, the clouds be rolled back as a scroll; the trump shall resound and the Lord shall descend; even so, it is well with my soul.” Amen.

Verdere Studie

  1. Psalm 42
  2. Hoor Spafford se verhaal: https://youtu.be/Gx0pJb0lcXw
  3. Luister na die gesang (met lirieke): https://youtu.be/rhaTIu_k4w0 

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad