Die Woord Weerklink – 1 Thessalonicense 1

Die Woord Weerklink – 1 Thessalonicense 1
“Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.”
- 1 Thessalonicense 1:8 

Handelinge 17:1-10 vertel vir ons hoe Paulus en sy reisgenote tydens sy tweede sendingsreis die evangelie in Thessaloníka verkondig het. Ons lees in Handelinge 17:2-3, “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.” 

As gevolg van die ongelowige Jode se afgunstigheid het daar ‘n opskudding in die stad ontstaan wat Paulus verhinder het om langer in Thessaloníka te bly. Maar alhoewel Paulus slegs vir 3 Sabatte die evangelie aan hulle verkondig het, het die woord van die Here so groot impak op hulle gehad dat Paulus die volgende sê: “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Thessalonicense 1:5) en verder: “julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6) 

“Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan” (1 Thessalonicense 1:8). Die woord van die Here het weerklink, weergalm, ge-eggo. Thessaloníka was soos ‘n klankversterker wat die evangelie laat weergalm het deur die hele Griekeland. Dit is die onoplosbare eggo van die evangelie - die goeie nuus van wie God is en wat Hy alles in Christus en deur sy Gees vir gelowiges doen. 

Ons het gehoor dat die evangelie ‘n baie groot impak op en ingang by die Thessalonicense gehad het. Die gelowiges het volgens vers 9 alreeds van die afgode bekeer tot God en hulle dien die lewende en waaragtige God. Maar wat doen Paulus in hierdie eerste hoofstuk en die res van die brief? Hy spel weer in duidelike taal die evangelie uit. Die gemeente in Thessaloníka en ons vandag het voortdurend nodig om die Woord van die Here te hoor.

Kyk hoe weerklink die evangelie in vers 10. Jesus, wat uit die dode opgewek is, verlos ons van die toekomstige toorn. Ons word verlos van God se toekomstige toorn, want Christus het in die volheid van die tyd reeds die plaasvervangende en volmaakte offer vir gelowiges gebring en sodoende ons bevry van God se toorn. Hy het uitgeroep, “Dit is volbring” (Johannes 19:30). Dit is betaal, en daarom kan ons met hoop leef en die Seun vanuit die hemele verwag, want die Regter wat kom om te oordeel is reeds in ons plek geoordeel. 

Dit is ook die rede waarom ons, as die Here wil, hierdie nuwe afdeling in die Olielamp sal begin en voortsit. Hierdie projek sal hoofsaaklik toegespits wees op oordenkings vanuit Skrifgedeeltes eerder as tematiese oordenkings. Die evangelie moet eggo in ons gedagtes en moet vanuit ons weerklink in hierdie wêreld. 

Ons bede is dat hierdie afdeling in die Olielamp groei sal gee in ons kennis van God se Woord en ons verhouding met Hom. Die Here gebruik sy Woord en die verkondiging en oordenking daarvan op ‘n wonderbaarlike wyse deur sy Gees om ons te laat volhard op ons pelgrimsreis.

So bely ons in Dordtse Leerreëls 5:14: “Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente.”

Gebed 

O Here, soos die Psalmdigter wil ons bid: “Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne." (Psalm 119:17-24). Amen

Coram Deo

Laat ons die Here se Woord voortdurend lees, hoor, bepeins en memoriseer en laat ons nie net hoorders van die Woord wees nie, maar ook daders van die Woord.

Verdere Bybelstudie

Psalm 119 | Psalm 19 | 2 Timótheüs 3

Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin