Die sesde bede: En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose

Versoeking word gedefinieer, in die lig van die Woord, as die bose wat ‘n mens verder van God af wil weg lei. Ons moet dus as mens, swak en vol sonde, aan ons Hemelse Vader vra om ons krag te gee en oor ons te waak tydens tye van versoeking.

Die sesde bede: En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose
Photo by Nivedh P / Unsplash

Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v&a 127

Versoeking word gedefinieer, in die lig van die Woord, as die bose wat ‘n mens verder van God af wil weg lei. Ons moet dus as mens, swak en vol sonde, aan ons Hemelse Vader vra om ons krag te gee en oor ons te waak tydens tye van versoeking.

Almal van ons is van nature sondig, met hardkoppige en eiewyse neigings, en dus val ons gereeld in versoeking. Versoeking kom in verskeie vorme voor en is baie keer nie opvallend nie. Dit kan aardse dinge wees wat vir ons as normaal voorkom omdat “almal anders” dit doen. Daarom moet ons juis waak teen die indoktrinering van die internet, wêreldse televisieprogramme en sosiale media wat tans ‘n ongelooflike groot rol in ons alledaagse lewe speel. Sonde is deel van menswees, tog gee dit jou nie die reg om sonde te pleeg nie. Ons gaan gereeld in die lokval van sonde beland. Dit is juis dan waar ons bewustelike keuses gaan moet maak oor hoe ons as Christen gaan reageer op die lokval van die bose. 

Deesdae word selfliefde ongelooflik baie geadverteer op sosiale media. Meeste jong mense van vandag is aktief op platforms waar dit geadverteer word. Sosiale media is natuurlik nie net sleg nie, maar ons moet waak daarteen om vasgevang te word in die wêreld van sosiale media. Die Here het ons na Sy beeld geskape, ons is elkeen goed in Sy oë, daarom moet ons onsself liefhê! Maar waak steeds daarteen om nie meer lief vir jouself te wees as vir die Here nie. 

Hoe kan ons as Christene dus meer bewustelik optree in ons besluite? As jy weet jy sukkel met verleiding, moet jy dalk gaan kyk hoe jou spirituele lewe lyk. Hoe lyk jou persoonlike verhouding met die Here? Het jy Hom voor oë? Lees jy jou Bybel gereeld en vind jy Hom daar? Bid jy gereeld? Vra jy Hom vir krag en leiding? Het jy mede-Christene as ondersteuning en bou jy daagliks aan jou verhouding met die Here? 

Hoe meer tyd jy met die Here spandeer, hoe meer leef jy vir Hom en nie vir jouself nie. So gaan jy van nature meer bewustelik besluite neem met die Heilige Gees wat jou lei.

Geskryf deur Marna Potgieter, VGK Bellville