Die Profeet Hoséa – Die onvoorwaardelike liefde van God!

Die apostel Johannes word dikwels die apostel van God se liefde genoem. Terwyl Johannes in die Nuwe Testament die apostel van God se liefde genoem kan word, kan Hoséa in die Ou Testament as die profeet van God se liefde beskou word.

Die Profeet Hoséa – Die onvoorwaardelike liefde van God!
Photo by Laura Vinck / Unsplash

Lees Hoséa 1 en 3

Die apostel Johannes word dikwels die apostel van God se liefde genoem. Liefde is ‘n sentrale tema in die evangelie volgens Johannes en loop soos ‘n goue draad deur sy briewe. Ons lees byvoorbeeld in 1 Johannes 4:7-8: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”

Terwyl Johannes in die Nuwe Testament die apostel van God se liefde genoem kan word, kan Hoséa in die Ou Testament as die profeet van God se liefde beskou word. Op ‘n baie konkrete manier moes Hoséa God se liefde vir sy volk uitbeeld. Hy kry ‘n buitengewone en vreemde opdrag: “Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.” (Hoséa 1:2) 

Hoekom kry Hoséa so ‘n vreemde opdrag? Om dit te verstaan, gaan ons eers kortliks kyk na die historiese konteks waarin Hoséa opgetree het. Hoséa tree op as profeet in die jare ongeveer so 750 v.C. in die Noordelike Ryk, die Tienstammeryk, en word in Hoséa aangedui as ‘Israel’ of ‘Efraim’, terwyl die Suidelike Ryk, die Tweestammeryk, as ‘Juda’ aangedui word. Hy tree op “in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.” (Hoséa 1:1). 

Ons lees van hierdie Koning Jeróbeam II in 2 Konings 14:23-29. Vir 41 jaar was hy koning en die HERE het hom gebruik om verligting en beterskap te gee aan Israel. Uit hierdie gedeelte en uit Hoséa sien ons dat dit gedurende sy regering op die oog af weer goed gegaan het. Daar was voorspoed, vrede en welvaart; daar was koring, mos, olie, silwer en goud (Hoséa 2:7).

Maar wat was dan die probleem? Israel het nie meer die HERE alleen liefgehad en Hom alleen en op sy manier gedien nie. Koning Jeróbeam II het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en het die kalwerdiens in Bet-el en Dan aanhou handhaaf net soos koning Jerobeam I (2 Konings 14:24, 1 Konings 12:28-29). Die volk het ook Baäl, die vrugbaarheidsgod van die Kanaäniete, gedank vir die materiële seëninge (Hoséa 2:4,7). Dit is juis hierdie aanhoudende afgodery en eiewillige godsdiens wat uiteindelik sou lei tot die Assiriese ballingskap in 722 v.C.

En daarom gebruik die HERE Hoséa om Israel op te roep tot bekering en hulle te waarsku teen sy oordele. Ons sien God se oordele so duidelik in die betekenis van die name van die kinders van Gomer waarna ons in ‘n volgende oordenking dieper gaan kyk – “Sonder Ontferming; Nie my volk nie!” 

Maar hoekom moes Hoséa juis God se oproep uitbeeld deur ‘n hoervrou en hoerkinders te neem? Want die sentrale boodskap wat God vir sy volk wil verkondig, is sy onbeskryflike groot liefde. Al is sy volk ontrou, Hy bly getrou. Sy liefde wat tugtig en hulle oproep tot bekering, maar ook sy regverdigheid wat straf as sy goddelike jaloersheid opgewek word.

Want sien, op baie plekke in die Bybel word die verhouding tussen God en sy volk beskryf as die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou in die huwelik. Hoerery het daarom in die boek Hoséa, en baie ander Bybelboeke, ook ‘n simboliese betekenis. Hoerery simboliseer afgodery. God se volk is ontrou aan Hom en gee hulle hart en liefde vir afgode. 

Hoséa toon liefde en ontferming vir ‘n hoervrou, vir iemand wat ontrou is, wat dit nie verdien nie, en wat vir hom deur haar optrede sou seermaak. Hoséa 3 vertel vir ons dat Hoséa, nadat Gomer weer in hoerery en slawerny verval het, weer vir Gomer moet gaan bemin en liefhê.

Ons sien hierin iets van God se liefde. God is liefde (1 Johannes 4:8) - tussen die Vader, Seun en Heilige Gees - bestaan van ewigheid af, ‘n volmaakte liefde. God se liefde is onvoorwaardelik. Ons kan dit nie verdien nie en daar is niks aan ons wat maak dat God ons liefhet nie. Hy het ons vrywillig lief (Hoséa 14:5).

Dit is hierdie liefde en trou van God wat in Christus volmaak geopenbaar word. Christus wat, volgens Efesiërs 5:25, as Bruidegom die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. Het ons as Bruid van Christus dit dan verdien? Nee, inteendeel. Paulus antwoord hierdie vraag in Romeine 5:6-8: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe — vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe — maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” 

Ons is spreekwoordelik soos ‘n owerspelige vrou, soos Gomer, wat van nature ons Man se liefde verwerp en agter ander minnaars aanloop. Maar Hoséa verkondig reeds die evangelie: God het ons vrywillig lief! 

Mag ons aan die een kant nooit twyfel aan God se liefde nie, maar aan die ander kant daarteen waak om God se liefde as vanselfsprekend te beskou. Mag ons dan in die volgende paar oordenkings vanuit Hoséa opnuut weer God se liefde aanskou en dan daarop antwoord met heelhartige liefde! 

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, soos die Psalmdigter wil ons jubel:”Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte” (Psalm 18:2). Ons het U lief, omdat U ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Ons dank U vir u onbeskryflike groot liefde en ons bid dat U sal gee dat ons u liefde al hoe meer sal ken en ook sal uitleef. Vergewe ons liefdeloosheid en ons ontrouheid. Laat die liefde van Christus ons al hoe meer dring. Ons bid dit alles in Christus Jesus se Naam alleen. Amen.

Coram Deo

God het sy volk vrywillig lief en het die liefde, wat Hoséa moes uitbeeld deur sy huwelik, in Christus volmaak aan ons geopenbaar. Liefde is die samevatting van God se wet: Liefde tot God en liefde tot ons naaste. 

Verdere Bybelstudie

Jeremia 2-3 I Hoséa 11

Bronnelys

Van Hulst, F.J. Hoofstuk 1: Hosea 1. Bl. 3-12. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.

Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin