Die Eerste Kerk in Jerusalem as voorbeeld vir ons!
Wonder jy soms hoe die kerk oor 10 jaar gaan lyk? Hoe weet ons hoe ‘n kerk behoort te funksioneer? Dit laat ons stilstaan en wonder: wat is die definisie van ‘n “kerk”?
Wonder jy soms hoe die kerk oor 10 jaar gaan lyk? Hoe weet ons hoe ‘n kerk behoort te funksioneer? Dit laat ons stilstaan en wonder: wat is die definisie van ‘n “kerk”?
In Handelinge 1 en 2 sien ons hoe God die eerste kerk gevorm en geseën het - ‘n riglyn vir wat ‘n kerk kan en moet wees.
Die volgende paar afdelings is aan die hand van Handelinge 1 en 2 om te verstaan hoe die eerste kerk begin het. Hou gerus ‘n Bybel byderhand om die verwysings saam te volg.
Saam met die Heilige Gees die wêreld in! (Handelinge 1:1-14)
Die dissipels se idee van ‘n koninkryk was presies dieselfde voor en na Jesus se kruisiging en opstanding:
- In Lukas 19:11, onder andere, het die dissipels gedink dat die koninkryk van God onmiddellik naby Jerusalem sou verskyn.
- Kort voor Jesus se Hemelvaart het die dissipels gevra of Hy in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (Handelinge 1:6).
Hulle het ‘n beeld gehad van ‘n aardse koninkryk waar Christus regeer en hulle sou verlos van die Romeine.
Jesus gee egter ‘n onverwagse antwoord dat daar nie ‘n aardse koninkryk opgerig sal word nie, maar presies die teenoorgestelde: versprei, en gaan verkondig oor die hele wêreld (Handelinge 1:8). Hoe kontrasterend is dit nie van hulle oorspronklike idee nie?
‘n Aardse koninkryk bou hoë mure om hulle kastele en word dag en nag beskerm deur wagte. Maak jy ook dalk ‘n verband tussen ‘n aardse koninkryk en ons kerke vandag? Word ons kerke nie ook soms “beskerm” deur hoë mure en interne politiek nie? Maar, Jesus sê hier juis om nie saam te staan en hoë mure te bou nie, maar om eerder, met die Heilige Gees, die wêreld in te gaan om die blye boodskap te verkondig aan alle mense! Met ander woorde: Moenie die Evangelie tussen die mure van die kerk hou nie, maar gaan vertel die goeie nuus aan almal! Vir Petrus en Johannes was dit onmoontlik om die blye boodskap vir hulself te hou! (Handelinge 4:20)
Opsienersampte (Handelinge 1:15-26)
In verse 15 tot 26 volg ‘n ander aspek van die kerk: Die ampte. Judas, wie Jesus verraai het en selfmoord gepleeg het, het ‘n leemte agtergelaat in die apostels wat gevul moes word (Handelinge 1:17). ‘n Groot groep mense (120 mense) besluit saam om iemand te verkies volgens Ou Testamentiese gebruike - deur te bid en daarna die lot te werp (Handelinge 1:24-26). Deur hul gebed laat hulle die lot aan die Here oor en nie bloot aan toeval nie. So is Matthías dan verkies as ‘n apostel, wat beteken “gestuurde”. Vir die eerste keer word die dissipels, wat “volger” beteken, “gestuurdes” genoem. Hulle kan nie meer Christus op aarde in persoon “volg” nie, maar hulle word nou eerder “gestuur” soos Jesus vir hulle by die Hemelvaart beveel het (Handelinge 1:8). Die kerk kry vir die eerste keer ‘n struktuur: Opsienersamptenare - mense deur God aangestel om die gemeente te lei. In latere hoofstukke word diakens ook verkies (Handelinge 6:1-7).
Die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 2:1-36)
Toe Pinksterdag aanbreek is almal, volgens die belofte in Handelinge 1:8, vervul met die Heilige Gees. Gelowiges en ongelowiges het bymekaar gekom (Handelinge 2:6) en daar hoor almal oor die groot dade van God in hul eie taal (Handelinge 2:6-11). Petrus, een van Jesus se dissipels, maar nou ook ‘n apostel, staan op en begin te vertel oor die profesië deur die profeet Joël (Handelinge 2:17-21). Petrus vertel dan ook aan almal, wat deur die Heilige Gees saamgeroep is, oor Dawid se vertroue op God (Handelinge 2:25-31), Christus se sterwe, oorwinning van sondes, en opstanding (Handelinge 2:32-34) waar hy dan tot ‘n hooggtepunt kom en die skare beskuldig dat hulle Christus gekruisig het. Haat en woede kon hulle oorval en hulle kon Petrus net daar doodmaak, maar Petrus vrees nie. Hy is nie meer dieselfde Petrus wat voor ‘n handjie vol mense ontken dat hy Christus ken nie (Lukas 22:54-62). Vervul met die Gees, bely hy Christus voor duisende mense, en beskuldig hulle ook nog!
Die doop (Handelinge 2:37-41)
Wat was hulle reaksie?
‘n Diep besef en spyt oor wat hulle gedoen het (Handelinge 2:37). Elkeen dink terug aan hoe hulle ‘n paar maande gelede uit volle bors geskree het “kruisig, kruisig Hom!” (Lukas 23:21). Petrus beveel hulle om gedoop te word (Handelinge 2:38). Daarby sê Paulus ook dat die belofte aan hulle en hulle kinders behoort en almal wat daar ver is - weereens ‘n apostoliese bevel (Handelinge 2:39). Die blye boodskap van vergifnis en die gawe van die Heilige Gees is nie net vir die groepie mense daar bedoel nie, maar vir almal! Deur die doop is daar 3000 siele toegebring tot die kerk. Vandag nog glo ons dat die doop ‘n teken van God se verbond is wat Hy met ons oprig - ‘n troos, maar ook ‘n uitnodiging om deel te wees van die kerk en saam te bou aan God se koninkryk!
Volharding en die viering van die Heilige Nagmaal (Handelinge 2:42)
Na hul bekering en doop, kom woon die Heilige Gees in hulle, en hulle gaan direk oor tot aksie, tot volharding in die leer (Handelinge 2:42). Later in vers 46 lees ons ook dat hulle daagliks bymekaar gekom en volhard het. Dit het ook spesifiek in die tempel gebeur, met ander woorde: ‘n plek van gereelde byeenkoms. Daarby vier hulle ook die nagmaal (Handelinge 2:42) volgens Jesus se instelling (Lukas 22:17-20) en bid saam.
Vrygewigheid (Handelinge 2:44-47)
Die gelowiges in Jerusalem het alles gemeenskaplik besit en na mekaar omgesien (Handelinge 2:44). Hulle oë is gevestig op Christus en so word hulle eie belange en hulle eie besittings aan die kant geskuif, verkoop, en verdeel onder mekaar. Vers 46 praat van die eerste kerk se gasvryheid, dat hulle van huis tot huis brood gebreek het, en voedsel met blydskap en dankbaarheid geniet het (Handelinge 2:46).
En hierdie alles terwyl hulle God geprys het (Handelinge 2:47). Sou hulle kon volhard in vrede as hulle alle rykdom gemeenskaplik besit, voedsel met blydskap geniet en hulle eie lewe prys gegee het sonder om God te prys? Sekerlik nie, want dit alles is slegs ‘n gawe van God (Prediker 5:18)!
So wat is ‘n kerk dan?
Die eerste kerk in Handelinge 1 en 2 bou vir ons stelselmatig aan ‘n volledige definisie van ‘n kerk. As mens die twee hoofstukke lees dink jy nie aan koue geboue, mense met negatiewe uitkyke, en ongewilligheid tot groei nie. Maar mens dink eerder aan die vrug van die Gees: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Waar die Gees werk, daar word die vrug van die Gees ook duidelik - net so ook in die eerste gemeente in Jerusalem. Alhoewel die eerste kerk nie sonder spanning en sonde was nie (Handelinge 5 en 6), kon die kerk deur al die eeue slegs staande bly deur die Heilige Gees se werking en God se genade.
Nie net word ‘n ingesteldheid van die gelowiges teenoor die kerk van Christus uitgebeeld nie, maar daar word ook ‘n uiteenlopende praktiese struktuur van ampte, sakramente, en liturgie gegee vir ons. Die eerste kerk is ook ‘n voorbeeld van hoe kerklike lewe nie beperk is tot bymekaarkomste op ‘n Sondag nie, maar deel vorm van ons daaglikse lewe deur gasvryheid, versorging, en gebed.
Luister jy na die preek net om dit te kritiseer? Skyn jou lig slegs in die kerkgebou op Sondae (Mattheüs 5:16)? Praat jy met jou vriende positief oor die kerk, katkisasie, en Bybelstudie? Voel die kerk vir jou soos ‘n koue en gespanne eksamenlokaal waar jy onwillig die volgende uur moet deurbring? Dit alles maak ons deure toe vir die besef van God se genade en barmhartigheid, vir die vernuwing van ons denke, en vir opregte lofprysing tot eer van God.
Wanneer ons strewe dat die Woord van Christus ryklik in ons woon (Kolossense 3:14-17), kan ons met oorgawe en vrymoedigheid aan die kerk van Christus bou. So sal ons ook selfondersoek kan doen oor ons kerk se mure en of dit soms te hoog is dat die kerk ‘n aardse kasteel word. Hoë mure veroorsaak gemak, eiewillige godsdiens, en “lawwe praatjies” (Efesiërs 5:4). Maar, sonder om direk vingers te wys, begin dit, net soos in die eerste kerk (Handelinge 2:37-41), by onsself en ons ingesteldheid. Deur God-gesentreerd te lewe en die vrug van die Gees te dra, kan elkeen van ons die Godgegewe definisie van die kerk verstaan en uitleef in God se koninkryk - ‘n kerk sonder mure en ‘n koninkryk sonder grense!
Wanneer ons dan wonder hoe die kerk gaan lyk oor 10 jaar, kan ons gaan kyk na die definisie van die eerste kerk in Jerusalem meer as 2000 jaar terug: ‘n definisie van God se genade en beskerming, oorgawe en vrymoedigheid, gasvryheid, gebede, lofprysing, volharding in die leer (Bestudering van die Skrif), en ‘n Geesgevulde ingesteldheid - alles terwyl ons God daardeur mag prys!
Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata