Die derde bede: Laat u wil geskied

Om die derde bede te kan verstaan, moet ons eers weet wat die wil van God is. In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 word ‘n belangrike onderskeid gemaak tussen die verborge en die geopenbaarde wil van God. 

Die derde bede: Laat u wil geskied
Photo by Jeremy Bishop / Unsplash

Geskryf deur Annemarie Antuma, VGK Bellville

Om die derde bede te kan verstaan, moet ons eers weet wat die wil van God is. In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 word ‘n belangrike onderskeid gemaak tussen die verborge en die geopenbaarde wil van God. 

Die verborge wil van God is Sy raadsplan. Dit is die dinge in die wêreld wat ons nooit volledig sal verstaan nie, omdat ons as mense beperk is en God oneindig groot en wys is. Dit is die vrae wat in tye van swaarkry by ons opkom, soos wanneer ‘n geliefde sterf of tydens beroepskeuses of wanneer ons toekoms onseker lyk. Artikel 13 wys ook duidelik daarop dat ons nie dit moet probeer verstaan nie, maar dat ons die vaste vertroue mag hê dat niks ons per toeval sal oorkom nie, maar slegs deur die Vader se beskikking.

Daarteenoor is die geopenbaarde wil van God - die deel van sy wil wat Hy wel aan ons gee deur sy Woord. Dit is sy wet, gebooie en riglyne vir die lewe. Dit kan ons duidelik lees in Deuteronomium 29:29: “Die geopenbaarde dinge is vir ons en vir ons kinders, om te doen al die woorde van hierdie wet.” Die derde bede gaan dus oor dit wat God wel aan ons openbaar en bid nie vir insig tot God se raadsplan nie.

Hoe kan ons God se wil navolg? Die kort antwoord: ons kan dit nie uit ons eie doen nie. 

Van nature volg ons ons eie wil. Ons hart neig tot selfheerskappy, selfsug en trots. Ons wil die wynstok wees, nie ‘n loot nie. Maar, die derde bede vra juis die teenoorgestelde. Hy wil hê dat ons in totale oorgawe aan Hom leef en Hy sal daardie gehoorsaamheid ook in ons werk. Filippense 2:13 wys daarop dat dit God is wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. 

Johannes 15 verduidelik verder dat Jesus Christus die ware wynstok is en dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Ons is die lote en ons is in Christus, die Wynstok, gegrond. Deur sy Woord, Gees en krag kan ons vrugte van gehoorsaamheid dra. 

Jesus Christus is daarin vir ons die volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Vader se wil. Ons lees in Matthéüs 16 dat Jesus moes ly en sterf omdat dit God se wil was. Sy gehoorsaamheid het sigbaar geword toe Hy aan die kruis gesterf het ter wille van ons verlossing. Sonder sy werk sou hierdie bede vir ons onmoontlik gewees het, maar met sy werk word dit ons daaglikse roeping.

Die derde bede sluit in: “...in die hemel, net so ook op die aarde.” In die hemel verwys na hoe die engele in die hemel gewillig, vreugdevol en sonder teëpraat God se wil uitvoer. Dit is hoe ons ook God se wil moet uitvoer - nie net op Sondae of in godsdienstige sake nie, maar in alles wat ons doen. By die werk, op universiteit, skool, in ons huise, verhoudings, besluite, woorde en gedagtes. Dit moet in elke aspek van ons lewe sigbaar wees. Ons moet Hom dien as Koning, Priester en Profeet om so te stry teen ons sonde, Hom en ander te dien en om Sy waarheid te bely en te verkondig.

Romeine 12:1-2 leer ons dat God nie net ons uiterlike dade wil hê nie, maar dat ons ons hele lewe aan Hom moet offer. Ons erediens is nie net beperk tot die kerk nie, maar dit is die manier waarop ons leef, dink en optree. Wanneer ons verstand vernuwe word en ons nie gelykvormig aan die wêreld word nie, begin God se wil in ons lewe sigbaar word. Ons moet onsself verdiep in sy Woord sodat ons gedagtes en hart so verander word dat God se wil uiteindelik ons wil word en ons niks anders wil doen as om Hom te eer nie.

As ons hierdie bede bid, bid ons veral ook vir die dag wanneer God se wil volmaak op die aarde sal geskied, wanneer daar niks meer sonde sal wees nie, alle mense God volmaak met vreugde gehoorsaam en wanneer die nuwe hemel en aarde aanbreek.

Die gebed is dus nie ‘n vae wens nie, maar ‘n diep en radikale gebed van oorgawe. Ons bid dat God se geopenbaarde wil ons lewe sal vorm en dat God deur sy Gees in ons die gehoorsaamheid sal werk. Mag ons elke dag die gebed bly bid: Vader, laat U wil – nie myne nie – in my lewe geskied sodat U naam daardeur geheilig word.

Bronne

Boon, P. G. (2017, May 14). God se wil is die beste, soos in die hemel, net so ook op die aarde | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. https://www.vgk.org.za/preke/24828

Van Alten, H. H. (2009, September 27). In die derde bede bid ons dat God se geopenbaarde wil in ons lewens sigbaar sal word | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. https://www.vgk.org.za/preke/23073

Van Alten, H. H. (2008, February 24). In die derde bede bid ons vir die totale oorgawe van ons wil aan die wil van God! | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. https://www.vgk.org.za/preke/24375

Van Alten, H. H. (2006, May, 21). In die derde bede bid ons dat God sy wil in ons sal laat geskied | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. (n.d.). https://www.vgk.org.za/preke/24214