Charlie Kirk doodgeskiet — hoe maak ons nou?

Skote klap, bloed vloei, en mense gil angsbevange... Afgelope Woensdag, 10 September 2025, is nuuskanale oorspoel deur een naam: Charlie Kirk. Hy is om 12:20 (MDT) doodgeskiet tydens ‘n spreekbeurt by Utah Valley Universiteit, waar hy met studente in gesprek besig was.
Charlie het in 2012 op die ouderdom van slegs 18 jaar ‘n organisasie gestig genaamd Turning Point USA wat fokus op konserwatiewe aktivisme. Sy naam het prominent geword deur sy debatte, toesprake, boeke en video’s op YouTube. In die volksmond was Charlie een van die grootste invloede wat die Amerikaanse verkiesing in 2024 in Trump se guns geswaai het. Soek gerus sy naam op Google. Daar is meer as genoeg bronne oor die moord te vinde. Dit sal gou sigbaar wees hoe swaar polities elke artikel weeg.
Alhoewel Die Olielamp nie polities wil wees nie, eerder Christelik, is hier tog baie om van te leer as ‘n gelowige. 1 Petrus 3:15 spreek boekdele: “eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek.” Eerstens kan ons kyk na Charlie Kirk as ‘n Christen wat nie teruggedeins het vir valshede nie, maar gestreef het om trou aan die waarheid te bly. Hy was protestants-evangelies en was uitgesproke oor dit wat hy glo. Hy was altyd gereed om te getuig oor die hoop waaraan hy klou. “Hoekom is jy ‘n Christen?” is Charlie ‘n keer deur ‘n satanis gevra. Sy antwoord: “Want Jesus het my gered en my lewe verander.”
Verder kan ons hieruit leer hoe goddeloos die samelewing is. Vandag heers die eie ek en my eie opinie. G’n mens kan en mag my manier van dink verander nie. Dit is duidelik deurdat iemand so ver kon gaan om Charlie te skiet vir dit wat hy sê. Waarheen is hierdie wêreld op pad? Kyk net hoe lyk Amerika – dit is sonder om eens na ons eie land te kyk. Paulus skryf in Romeine 8:20, “Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan.” Dit is wat die sonde doen. Die wêreld kort vir Jesus.
Charlie Kirk se moord is angswekkend. Ons as Christene mag – eerder, moet – hartseer wees. Iemand is immers vermoor. ‘n Pa laat sy vrou en twee kinders agter. ‘n Christen is vermoor omdat hy die waarheid gepraat het. Terwyl dit ons laat skrik, moet ons nie verbaas wees nie. Jesus sê in Johannes 15:18, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” As gelowiges dra ons die merk van Christus. En in Openbaring 12 staan dit duidelik dat Satan God se kinders soek om hulle te verteer. Satan “het weggegaan om oorlog te voer teen die res van [die vrou se] nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het” (Openbaring 12:17).
Ons hoef egter nie te vrees nie, want Christus het reeds die oorwinning behaal (Kolossense 2:15). En al kreun die gelowiges saam met die hele skepping, bly daar hoop waaraan ons as kinders van God mag vasklou. Ons “sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop” (Romeine 8:23,24). Charlie Kirk is ons ‘n tree vooruit. Hy is alreeds van sy liggaamlike pyn verlos. Laat ons ook aan daardie hoop vasklou.
Paulus skryf verder in Romeine 8 oor die swaarkry van gelowiges: “Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Terwyl die wêreld woel, die bose aanval en die gelowige swaarkry, bemoedig Jesus ons wanneer Hy sê, “In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin” (Johannes 16:33).
Verdere Studie
Romeine 8 | Psalm 83
Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata