Bome en Vrugte – Genesis 3

Bome en Vrugte – Genesis 3
Photo by Alex Kulikov / Unsplash

Almal van ons het al ellendige dinge ervaar. Is dit nie so nie? Ons hoef nie ver te kyk nie, of ons sien dit al: woede, jaloesie, dronkenskap, seksuele sondes, verslawing, moord, aborsie, godslastering, afgodery... dis net om ‘n paar dinge te noem. Ons ervaar miskien sulke dinge, of doen dit self. Maar, waar kom dit vandaan? Hoekom lyk die wêreld so? Vandag gaan ons kyk na die tema: Vanaf die dooie, verdorwe mense na verheerlikte lewens in Christus.

Eerstens kyk ons vlugtig na die sondeval. Laasweek het Genesis 1 dit uitgewys: God het alles goed en mooi geskape. Die mens is ook goed geskape, ja selfs die kroon van God se skepping! Tog sien ons ook hoe die mens die roeping van 1:28 nie nagekom het nie, en in sonde geval het deur die vrug te eet van die boom van kennis van goed en kwaad (3:6-7). Dit is nie ‘n verhaal wat ver van ons verwyderd staan nie. Nee, ons het self deel daaraan omdat ons almal van Adam afstam. Ons self ly onder die sondeval – sonde, siekte, dood, ellende. Ja, ons almal het geval. So proe ons daagliks die bittere vrug van die vlees.

Dis alles die gevolg van die sondeval. Die slang wat die mens se hakskeen byt dui op die duiwel wat die mens gaan aanval met die bose. Ook sal die vrou in pyn kinders in die wêreld bring en die man sal met swaarkry sy werk doen. Ja, die mens kort klere want hy is skaam, skaam vir wie hy is: naak en kwesbaar, lelik en vol ellende. Uiteindelik sal die mens sterf, vers 19: “ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Tog moet ons nie ‘n frase miskyk wat God vir die slang in vers 15 gesê het nie: “Hy sal jou kop vermorsel.” Die Seun van die mens sal uiteindelik die slang oorwin. Dit is Jesus, waar Hy aan die kruis die duiwel oorwin het.

Hierdie sou eers baie later gebeur – ons weet dit het ook. In hoofstuk 3 staar die mens nou nog eers ‘n ander gevaar in die gesig. Vers 22 maak die probleem duidelik. God sê: “Nou moet hy (die mens) net nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en vir altyd bly lewe nie.” Let op Genesis 2:17, want net die boom van kennis van goed en kwaad is verbied. As die mens van die boom van die lewe eet, sal hy vir ewig in hierdie toestand bly. 

Daarom word die mens uit die tuin weggedryf (vers 23). Dit was om ons te beskerm. Dis genade! Dis die hand van ‘n liefdevolle Vader wat sy kinders weghou van dinge wat seermaak, van dinge wat doodmaak. Die Gerubs beskerm die mens daarvan om terug te gaan. Die Vader self sou die kwaad wat die mens aangedoen het, regmaak deur sy eie Seun, Jesus Christus, aarde toe te stuur. Daar het ons liefdevolle Here Jesus aan die kruis gehang en die kop van die slang vermorsel. Die dood is oorwin! Toe Christus oorwin het is die tempelvoorhangsel geskeur, waarop twee gerubs uitgebeeld was. Die toegang tot God is weer herstel. 

So wag ons tot die dag wanneer Jesus terugkom en ons neem na die plek, by die Vader, wat Hy vir ons voorberei. Daar sal ons God se heerlikheid mag aanskou. Daar sal ons drink van die Lewende Water wat omring is deur bome van lewe. Die bome dra 12 keer per jaar vrug – genesing tot die mense. Daar mag ons weer van die boom van lewe eet – sonder sonde, siekte, pyn en swaarkry. Hoe soet en vars sal dit nie wees nie! Geen ellende sal daar meer wees nie. In volle gemeenskap met God, in sy heerlikheid, mag ons tot in ewigheid lewe.

Gebed

Vader, hoe heerlik is U. Hoe groot is U. Ons mag u liefde aanskou, reeds al van die begin van die aarde af. Meer nog, ons mag u heerlikheid en grootheid en liefde aanskou in Jesus self. “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” Dankie vir u Woord, waaruit ons hierdie waarheid mag leer ken. Dankie vir u Heilige Gees waardeur ons dit alles kan glo. Voed ons so, Here, met die Lewende Water, dat ons meer en meer mag groei nader aan U. En, Here, ons sien uit na die dag wanneer U terugkom. Wanneer daar geen siekte of ellende meer sal wees nie, wanneer geen duisternis ons sal oorweldig nie. Kom tog gou, Here Jesus! Aan U behoort die koninkryk en krag en die heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.

Coram Deo

Al aanskou ons nie nou al die volle heerlikheid van God nie, kan ons al soveel daarvan proe. Ons leef nou al voor Hom. Ons mag aan die hoop vasklou dat alles wat ons hier al van Hom ontvang ons regmaak vir daardie groot dag wanneer Hy sal terugkom.

Verdere Bybelstudie

Openbaring 22; 1 Korinthiërs 15; Psalm 90

Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Pretoria-Maranata