> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Olielamp Fotokompetisie: Die Skepping se Lens
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/olielamp-fotokompetisie-die-skepping-se-lens/
- Published: 2026-10-24T19:00:00.000Z
- Updated: 2026-10-24T19:04:55.000Z
- Description: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.” (Romeine 1:20)
- Author: Olielamp

> “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.” (Romeine 1:20)

Hoe kyk jy?

Die natuur is vol van die pragtigste dinge: indrukwekkende berge, die see se golwe wat met ’n nimmereindigende ritme land toe spoel, lentekleure wat ons harte bly laat voel, elke dierespesie met sy unieke kenmerke en spesialiteite, voëls wat gemaklik deur die lug sweef, die sterrehemel wat ons sommer baie klein laat voel …

Ons kan almal dit sien, gelowig en ongelowig, jonk en oud. “Hoe goddelik en skoon en wonderbaar die toon wat deur die skepping gaan! Geen volk so onbegaaf, geen oor so onbeskaaf, wat nie dié taal verstaan” (Psalm 19:2, berymd).

En tog kan ons kyk en nie sien nie. Dit is waarvan Romeine 1:20 ons bewus maak. Sien jy ook God raak wanneer jy na al hierdie mooi in die natuur kyk? Wanneer die oë van jou hart verduister is, verruil jy die heerlikheid van die onverganklike God vir die natuur self, of uiteindelik die mens (Romeine 1:21–23).

Dit is ook ’n oproep vir ons. Ek vra weer: Hoe kyk jy?

Ja, kyk, kyk rondom jou, sien al die mooi, wees verwonderd, maar sien verder. Sien die Skepper. Aan Hom al die eer!

Ons hoop dat die fotokompetisie ook hierdie effek kon hê. Ons hoop dit het mense geïnspireer om te kyk, die mooi vas te vang en ook God se grootheid raak te sien en te beskryf. Ons is baie dankbaar vir al die mense wat deelgeneem het. En ons is opgewonde om nou die top vyf foto’s met hulle paragrawe te publiseer, asook om die wenner aan te kondig.

Baie geluk aan die wenner en die top vyf! Ons hoop julle foto’s en paragrawe sal nou al ons lesers net soveel inspireer soos wat dit ons geïnspireer het.

Lekker lees, geniet die foto’s, en mag die oë van ons harte altyd verlig wees om verder te kan sien as waarna ons kyk!

## Algehele wenner

![](https://storage.ghost.io/c/01/39/01399e25-370d-4f53-9362-f037890aaa74/content/images/2026/10/data-src-image-1adb8980-9416-4999-85af-d118cd53677e.jpeg)

Hierdie foto, wat geneem is aan die Weskus, toon die wydsheid van God se skepping.

Die see wat begrens is deur God en nie die vloedlyn sal oorskry nie.

Die son wat ondergaan dui op die reëlmaat van die skepping - elke 24 uur is daar weer 'n dag verby, presies soos God dit ingestel het.

Die plantegroei wat geskep is om in die spesifieke habitat floreer.

Verder die rus. Die kroon van die skepping is die sewende dag - die dag waarop God gerus het en geniet het van Sy werk. Ons mag noual geniet van daardie einste werk, wat heeltemal volmaak sal wees op die nuwe aarde wat ons eendag sal bewoon.

Die skakering aan kleure wat in die natuur voorkom. Geen natuurtoneel het kleure wat bots nie – alles pas harmonies inmekaar. Die verskillende tye van die dag het sy eie kleure met sy eie bekoring.

Psalm 8 - Wat is die mens dat U aan hom dink? Ons is nietige, klein skepseltjies wat deur God geskape is, en deur Hom versorg word. Ja, meer nog, hy het ons as sy kinders aangeneem, gekoop met sy bloed. Wat ’n vreugde is dit nie! Wat ’n liefde straal hieruit.

God is in beheer, die ritme van elke dag kan deur niemand verander word nie. Hoe troosvol is dit nie om te weet dat niks God se aandag ontglip nie.

*Geneem en geskryf deur Harm Snijder, iPhone 13*

### Naaswenners (in geen spesifieke volgorde)

![](https://storage.ghost.io/c/01/39/01399e25-370d-4f53-9362-f037890aaa74/content/images/2026/10/data-src-image-5efd3547-c642-4330-ae6e-077faff2bd19.jpeg)

Mense lag altyd as ek sê my gunsteling dier in die Krugerwildtuin is die hiëna. Hulle sien 'n lelike aasdier. Ek sien God se hand.

Daardie oggend het hy so op die teerpad na my toe aangeloop, jonk, met daardie groot donker ore soos skotteltjies. Sy oë was nie wreed nie, net nuuskierig. En toe tref dit my.

God maak nie foute nie. Hy het nie die leeu mooi gemaak en die hiëna as 'n na-gedagte geskep nie. Kyk na hom. Daardie kakebeen wat 'n been kan breek, is ontwerp om die veld skoon te maak. Sonder hom sou die bos siek word. Hy is die opruimer, die geneser van die veld. Wat ons as lelik sien, is eintlik genade in aksie. 

Sy pels is deurmekaar, vuil van die modder, maar God ken elke haartjie. Sy bene lyk skeef, maar hulle dra hom nag na nag - kilometers ver. Daar is niks mors in God se skepping nie.

Die wêreld wil hê ons moet net glorie sien in die mooi goed - die leeu, die sonsondergang. Maar Psalm 104 sê God se wysheid is in ál die diere. As God so baie moeite doen vir 'n dier wat almal misverstaan, hoeveel te meer vir my?

Ek het daar op die pad gestaan en besef: ek is ook soms soos daardie hiëna. Nie altyd mooi vir die wêreld nie, maar volkome geken, ontwerp en geliefd deur my Maker. En dit is waarin ek sy glorie sien.

*Geneem en geskryf deur Andreas vanDeventer, Sony A6400 (50mm lens), f1.8, ISO 1600, 1/4000s*

---

![](https://storage.ghost.io/c/01/39/01399e25-370d-4f53-9362-f037890aaa74/content/images/2026/10/data-src-image-295a9f4b-0b8b-484e-b9ea-7c4c42c6909a.jpeg)

In hierdie foto is *Elephant Gully* in die noordelike deel van die Drakensberge. Ek en ‘n paar vriende het in die jaar daar ‘n staptoer gedoen.

*Elephant Gully* is ook bekend as *Elephant shortcut*. Mens kon besluit om hierdie deel van die staproete te stap waar mens moet afdaal in die *gully* in en dan weer anderkant opklim tot bo-op die eskarp. Ons het so besluit en was baie bly oor die keuse.

Hier staan mens op n hoogte van ongeveer 3 114m bo seevlak! Dis besonders mooi en ons het ongelooflike uitkykpunte geniet.

Die tema wat ek graag wil vasvang in hierdie foto is dalk baie bekend, maar dit kan nie genoeg gesê word nie: die grootsheid van God.

Regs in die foto kan daar iemand gesien word, hy stap na een van die uitkykpunte toe. Kyk net hoe klein is hy teenoor die landskap rondom hom. Is dit nie ons almal nie? God se mag en krag is enorm teenoor ons klein en sondige mens. Hierdie foto skep dalk vrees of angs by sommige, maar ons hoef nie bang te wees vir God en sy skepping nie. Hy, wat hierdie rots kranse in die Drakensberg geskape het, en dit elke dag in stand hou, sorg net so vir my en jou as ons hom aanroep.

*Geneem en geskryf deur Tiaan de Wit, Canon EOS R7 (16mm)*

---

![](https://storage.ghost.io/c/01/39/01399e25-370d-4f53-9362-f037890aaa74/content/images/2026/10/data-src-image-d97492a8-a078-448b-930f-5bb7b2b9dc10.jpeg)

### In die kleinste besonderhede. 

Wanneer ek na hierdie foto kyk, word ek daaraan herinner dat ons God nie altyd in die groot en buitengewone hoef te soek nie.

Soms openbaar Hy Homself juis in die kleinste besonderhede – in ’n veld vol droë gras, ’n klein pers blommetjie en ’n kind wat vir ’n oomblik stil genoeg raak om dit raak te sien.

Romeine 1:20 herinner ons daaraan dat God se onsigbare eienskappe deur sy skepping sigbaar word. Hierdie foto laat my presies daaraan dink.

Elke blommetjie, elke grasspriet en elke klein besonderheid is deel van iets wat veel groter is as ons.

Wat vir my besonders is, is die manier waarop ’n kind na die wêreld kyk. Waar ons as volwassenes maklik verby ’n klein blommetjie sou stap, stop ’n kind.

Sy kyk. Sy raak daaraan. Sy ontdek. Dit herinner my dat ek ook meer gereeld moet stilword en werklik moet kyk na dit wat God rondom my geplaas het.

Selfs tussen die droë gras groei daar iets mooi en delikaat. Vir my is dit ’n herinnering dat God se goedheid en teenwoordigheid ook sigbaar kan wees in seisoene wat droog, moeilik of onseker voel.

Daar kan steeds groei wees. Daar kan steeds skoonheid wees. 

Daar is steeds hoop. Hierdie foto herinner my om stadiger te leef, met verwondering te kyk en God se hand raak te sien – selfs in die kleinste blommetjie. 🌿

*Geneem en geskryf deur Simonè Theron, Nikon D3200 (50mm lens); 50mm, f/2.8, 1/500s, ISO 100*

---

![](https://storage.ghost.io/c/01/39/01399e25-370d-4f53-9362-f037890aaa74/content/images/2026/10/data-src-image-a31899f8-aaf5-4a2b-9592-36c0be96cfd7.png)

Soos die reëndruppels wat op die water val, so is God se goedheid ook vir ons. God se sorg, die reën, die verandering van seisoene, die groei van plante. Dit gebeur ook alles op die regte tyd, die druppels val op die regte tyd, want God weet wat ons nodig het en ons mag vertrou dat Hy sal voorsien. Deuteronomium 11:14 sê: "sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes." Hoe goed is die Here nie dat Hy vir ons sorg en dat alles op die regte tyd gebeur nie? Mag Sy lewende Woord soos waterdruppels uitkring in hierdie wêreld. God se goedheid is ook soos die waterrimpels - ons ervaar God se goedheid en mag dit ook oordra aan ander. Ons moet ook soms stil wees en luister en kyk na God se hand in ons lewe. Hoe dikwels gaan ons nie net aan nie, maar soms moet ons stil staan en kyk hoe die druppels val - elkeen op die regte oomblik. Die water wys ook na die lewende water wat ons deur Christus mog ontvang. Mag ons altyd daaraan vashou in droë en nat seisoene.

*Geneem en geskryf deur Inamarie Kamphuis, Canon EOS 77D (150-500mm)*