> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# My Ore, my Hart, en die Musiek van die Wêreld - ‘n Eindelose Somer
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/my-ore-my-hart-en-die-musiek-van-die-wereld-n-eindelose-somer/
- Published: 2026-11-08T12:00:00.000Z
- Updated: 2026-11-08T11:59:59.000Z
- Description: “Hulle sê dat ons ‘n eindelose winter inwag.” So lui die vertaalde woorde van die liedjie, Endless Summer. Maar soos die dae langer en warmer word en haastig planne vir die somervakansie gemaak word, maak sulke woorde nie vir ons regtig sin nie. Tog skuil daar baie diepte agter daardie woorde.
- Author: Olielamp

“Hulle sê dat ons ‘n eindelose winter inwag.” So lui die vertaalde woorde van die liedjie, *Endless Summer*. Maar soos die dae langer en warmer word en haastig planne vir die somervakansie gemaak word, maak sulke woorde nie vir ons regtig sin nie. Tog skuil daar baie diepte agter daardie woorde.

Verbeel jou gou dat winter nooit sou ophou nie. Dit klink inderdaad aaklig. Dit was die situasie in die storieboek: Die Leeu, Die Heks, en die Klerekas (geskryf deur C.S. Lewis). Daar beland ‘n dogtertjie, genaamd Lucy, in die land van Narnia. Soos sy wonder waar sy nou is, stap sy deur ‘n woud oordek met sneeu. Die wit poeier kraak onder haar voete terwyl sy so loop. Sonder om te veel van hierdie uitstekende storie weg te gee, ontmoet sy ‘n karakter wat haar vertel dat, sovêr hy en sy voorgeslagte kan onthou, dit nog altyd winter was – winter sonder Kersfees (Lewis het natuurlik in die noordelike halfrond gewoon waar Kersfees in die winter is). Die spanning van die verhaal is dus: Sal dit vir altyd winter bly? Sal die heks se towerspel en krag ooit verbreek word? Of sal die mense en diere daar nooit die son sien skyn en die blomme sien bloei nie?

Dit is waar die liedjieskrywer, David Radford van *The Gray Havens*, sy inspirasie vir *Endless Summer* vandaan gekry het. Hy skryf liedjies wat almal ‘n evangeliese of Bybelse tema het. Dit eggo dikwels die temas en taalgebruik van Tolkien en C.S. Lewis se werke. So, agter hierdie liedjie (soos met die verhaal van Narnia) skuil daar ‘n boodskap: In die werklikheid beleef die mensdom ‘n eindelose winter. Miskien besef ons dit nie, want ons weet nie van beter nie. Hoe sal jy weet winter is winter as jy nog nooit warmte en sonskyn en groen gras beleef het nie? Hoe sal jy weet jy lewe in duisternis en hopeloosheid as jy nog nooit die goedheid van God gesien en geproe het nie (vergelyk Psalm 34 en 1 Petrus 2)?

Ons sou steeds, figuurlik gesproke, in die winter geleef het as Jesus Christus se warm liefde en lig – sterker as dié van die son – nie in die duistere wêreld kom skyn het nie (Johannes 1). Dit is genade wanneer jy mag glo en in vryheid en vreugde mag hoop en wag op die heerlikheid wat voorlê. Ons gaan ‘n ewige lewe ingaan, soos C.S. Lewis dit uitbeeld: ‘n somer sonder einde. Miskien hou sommige van ons lesers meer van winter as somer, maar natuurlik het Lewis as ‘n Engelsman eerder na somers verlang :) 

Hoe dit ook al sy, of jy van somer of winter hou, daar lê ‘n lewe van ewige heerlikheid in en met Christus voor. 

Een vraag bly egter hang: hoe kyk die ongelowige hierna? Wel, hulle is sonder hoop. Hulle sien geen uitkoms vir hulle eie lewens of vir die wêreld nie. En sonder die hoop van die Evangelie sal dit so bly, en hulle sal probeer om jou hoop te verduister deur te sê: “Weet jy, daar lê ‘n eindelose winter voor (eindelose koue en duisternis)...” Dis hoe die liedjieskrywer die wêreld se perspektief weergee. Maar diegene wat hulle vertroue in God en sy Seun geplaas het, weet dat daar iets is om in te hoop. Of eerder Iemand wat al ons trane sal afvee en dan sal daar geen swaarkry en dood meer wees nie (Openbaring 21:2-4).

*Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, 'n bewys van die dinge wat nie gesien word nie (Hebreërs 11:1).*

Dit is wat in ‘n gelowige se onderbewussyn sal aangaan wanneer hy of sy musiek soos dié van *The Gray Havens* luister. ‘n Ongelowige sal die musiek kan luister en nie eers dink dat daar evangelie daaragter skuil nie. 

Maar jy, gelowige, waarna luister jy? Luister jy die musiek van die wêreld wat donkerte in jou hart inbring? Kan jy, as gelowige, luister na wêreldse musiek wat sing oor alkohol en seksuele losbandigheid en hopeloosheid? Daar is inderdaad ongelowige musiek waarna jy kan luister en steeds vrugte kan pluk... “Plunder die Egiptenare,” sou die kerkvader, Augustinus, sê. Maar, min hoofstroom musiek is van só ‘n aard.

Miskien moet jy verder soek na musiek wat jou laat dink aan die dinge wat daarbo is, waar Christus is (Kolossense 3:1-2); liedjies wat jou sal help om die Here te bepeins soos jy op die bank of bed lê en rus (Psalm 63). Dit hoef nie gospelmusiek te wees nie. *The Gray Havens* werk vir my en ‘n paar van my vriende. Daar is baie ander kunstenaars wie se musiek wat dieselfde effek sal hê. Miskien kan ‘n medegelowige vir jou ‘n paar voorstelle gee. Laat ons daarom ons ore ook tot eer en verheerliking van God gebruik.

Hier is nog ‘n paar voorstelle van name en liedjies om mee te begin:

- [Onbekende Reis](https://www.youtube.com/watch?v=1aGnbPtSrdI&list=RD1aGnbPtSrdI&start%5Fradio=1&pp=ygUOb25iZWtlbmRlIHJlaXOgBwE%3D&ref=olielamp.vgk.org.za) \- Joshua Na die Reën
- [Where the Living is Deep](https://www.youtube.com/watch?v=pzJrM9OZSsU&list=RDpzJrM9OZSsU&start%5Fradio=1&pp=ygUkd2hlcmUgdGhlIGxpdmluZyBpcyBkZWVwIGdyYXkgaGF2ZW5zoAcB&ref=olielamp.vgk.org.za) \- The Gray Havens
- [Flood Waters](https://www.youtube.com/watch?v=0QVnx2upTLs&list=RD0QVnx2upTLs&start%5Fradio=1&pp=ygUMZmxvb2Qgd2F0ZXJzoAcB&ref=olielamp.vgk.org.za) – Josh Garrels
- [Ancient Love](https://www.youtube.com/watch?v=u3UM8WZbhpg&list=RDu3UM8WZbhpg&start%5Fradio=1&pp=ygUfYW5jaWVudCBsb3ZlIGpvaG4gbWFyayBtY21pbGxhbqAHAQ%3D%3D&ref=olielamp.vgk.org.za) – John Mark McMillan
- [Ek het ‘n Huisie by die See](https://www.youtube.com/watch?v=gW15FoAdp2g&list=RDgW15FoAdp2g&start%5Fradio=1&pp=ygUfaHVpc2llIGJ5IGRpZSBzZWUgbGF1cmlrYSByYXVjaKAHAQ%3D%3D&ref=olielamp.vgk.org.za) – Laurika Rauch
- [My Honda](https://www.youtube.com/watch?v=EL0eiNTlrgs&list=RDEL0eiNTlrgs&start%5Fradio=1&pp=ygUVTXkgaG9uZGEgYW5keSBzcXV5cmVzoAcB0gcJCUEMAYcqIYzv&ref=olielamp.vgk.org.za) – Andy Squyres

*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville*