# Olielamp
> Die Weeklikse Christelike Jeugblad
Public Ghost content for AI and LLM tooling. This file includes a bounded export of public pages first, then recent public posts.
Append `.md` to any post or page URL to get the content in Markdown (for example, `/example-post.md`).
## Pages
### Meer oor ons
URL: https://olielamp.vgk.org.za/about/
Last updated: 2026-07-29T11:02:58.000Z
Die Olielamp is ‘n blaadjie wat uitgegee word deur die jeug van die VGKSA (Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika), en is primêr gemik op die jeug.
Die doel van Die Olielamp is om God die Vader, Seun en Heilige Gees en sy wil al beter te leer verstaan. Verder om God se koninkryk (in die kerk, samelewing en skepping) op te bou, spesifiek onder die jeug van die VGKSA. ’n Instrument
te wees om die geloof (wat betref die kennis, vertroue en toewyding aan God) van die jeug van die VGKSA te bevorder. Asook die gemeenskap van heiliges te bevorder onder die jeug (as deel van die groter gemeenskap van heiliges in
SA) en ’n spreekbuis te wees waar deur die jeug kan kommunikeer.
Ons grondslag staan in die Woord van God as onfeilbare riglyn vir ons hele lewe voor die Here, en daarom ook vir al die werk wat gedoen word t.o.v. Die Olielamp. Ons erken die drie belydenisgeskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis,
Heidelbergse Kategismus en Dordtse leerreëls) as samevatting van die gereformeerde geloofsleer soos wat God dit in sy Woord bekend maak.
Ons het as visie om die leser te bemoedig om ’n God-gerigte lewe te lei. Daarby hou ons by ons missie om die Drie-enige God te eer. Die Olielamp verskaf riglyne vanuit God se Woord en versterk sodoende die leser om God deel te maak
van alle aspekte van hul lewe. Ons doel is om te verseker dat daar kwaliteit leesstof vir die jeug en ander belangstellendes beskikbaar is, en verskaf elkeen die geleentheid om hulle opinies te lug en om hulle talente in God se Koninkryk
te gebruik. So bevorder ons ook kommunikasie tussen die Vrye Gereformeerde kerke in Suid Afrika.
Alhoewel Die Olielamp in die eerste plek geskryf word vir die jeug van die VGKSA, lees ook baie ouer persone dit. Baie van die artikels is ewe relevant vir oud en jonk. Ons is ook nie net eksklusief tot die VGKSA nie, maar wil graag
deel met almal vir wie die Bybel hul riglyn is. Hierin speel hierdie webtuiste ’n groot rol. Ons wil u graag nooi om op die webtuiste bietjie rond te kyk, ’n paar artikels te lees en van ons ander hulpbronne gebruik te maak. Dit
sal baie gaaf wees as u vir ons ’n reaksie los.
## Ontmoet ons span
### Redaksie
Hanno Moes (Redakteur, Pretoria)
Arco Klapwijk (Subredakteur, Oordenkings)
Hanna Klapwijk (Kaapstad)
Junelle Miske (Pretoria-Maranata)
Marise Kampman (Taalversorging)
Tineke van der Meer (Taalversorging)
Christa Miske (Taalversorging)
Iwan de Jong (Webtuiste)
### Bemarking
Nanette de Jong
Emily Snyman
Lise-Carien Breyl
### Potgooi
Cornel Meyer (Aanbieder)
Christiaan Grobler (Klankversorger)
### Oordenkings
Cornel Begemann
Theophilus Mnisi
Heinrich Goodey
Lekker rondkyk en lees!
Die Redaksiespan
Vind ons op Sosiale Netwerke: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440)
### Hulpbronne
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hulpbronne/
Last updated: 2025-02-06T01:48:54.000Z
## Christian Study Library
"**The aim of RSC is to provide scripturally sound material to those who want to study the Word of God but do not have the resources to do so. We are especially active in Africa and Asia.Please look around and see who we are and what we do. In everything, we are unworthy servants who have only done our duty (Luke 17:10). The Lord is doing wonderful things. To Him all the glory, now and forever!*"
Hierdie projek is deur Ds Jopie vd Linden, 'n emeritus-predikant uit die VGKSA, gestig. Dit bevat skrifgetroue studiemateriaal uit alle hoeke van die aarde en maak dit beskikbaar vir enigeiemand wat dit benodig.
### Links
[https://www.refstudycentre.com/](https://www.refstudycentre.com/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianstudylibrary.org/](https://www.christianstudylibrary.org/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christelikemedia.org/](https://www.christelikemedia.org/?ref=olielamp.vgk.org.za)
---
## VGKSA
**"Die VGKSA wil 'n Christelike kerk wees. Ons begeer om in alles te lewe ooreenkomstig die Heilige Skrif wat ons as die onfeilbare Woord van God aanvaar.Ons hoop dat hierdie ‘n middel mag wees vir die vestiging en verstewiging van kontak met kerke, sowel as individuele Christene. “Sodat hulle volkome een kan wees…” (Johannes 17:23)"*
Die VGK kerke is natuurlik waaruit die olielamp afkomstig is. Die webtuiste bevat ook ou preke uit die kerke wat as goeie bronne kan dien.
### Links
[https://www.vgk.org.za](https://www.vgk.org.za/?ref=olielamp.vgk.org.za)
---
### Skryf vir ons!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/
Last updated: 2025-02-13T10:40:10.000Z
Terwyl ons, ons materiaal kry deur skrywers vir spesifieke onderwerpe te vra, is dit natuurlik die beste om artikels van jongmense te kry waarmee hulleself na vore kom. Ons wil jou aanmoedig om – as jy passievol is oor iets – vir ons jou artikel te stuur, ons kan dit op ons webwerf plaas. Dink aan onderwerpe soos: Rock Musiek, Aborsie, LGBTQ, ‘n Social Media Trend of enigiets anders. Ons wil baie graag jou artikel publiseer!
Indien jy iets het - artikels of vrae - stuur dit na *[olielamp02@gmail.com](mailto:olielamp02@gmail.com)*. Gaan soek gerus verder op ons webtuisevir inspirasie of bloot net om te kyk wat ons skrywers en jeug te sê het.
### 🎙️ Die Olielamp Potgooi
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/
Last updated: 2025-09-06T18:50:24.000Z
Op hierdie bladsy vind u al die Olielamp Potgooi episodes op een plek. Snuffel gerus deur ons versameling en luister na u gunsteling episodes wanneer dit u pas.
[  ](https://podcasts.apple.com/us/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?itsct=podcast%5Fbox%5Fbadge&itscg=30200&ls=1&ref=olielamp.vgk.org.za) [  ](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?si=SYle%5FuZ6T5W1SpIIzwPPgQ&ref=olielamp.vgk.org.za) [  ](https://www.youtube.com/@olielamppotgooi?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Baie dankie vir jou inskrywing!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/baie-dankie-vir-jou-inskrywing/
Last updated: 2026-09-10T07:41:39.000Z
> *“Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word”* (Romeine 1:20)
Ons het jou inskrywing vir die **Olielamp Fotokompetisie: *die Skepping se Lens*** suksesvol ontvang.
Baie dankie dat jy die tyd geneem het om die skoonheid van God se skepping vas te vang en jou getuienis daaroor met ons te deel.
### Wat gebeur nou volgende?
- **Beoordeling:** Ons paneel gaan met aandag na elke foto en gepaardgaande paragraaf kyk om te sien hoe deelnemers God se handewerk raaksien.
- **Top 5-aankondiging:** Die Top 5-foto’s en hul inspirerende stories word op **Saterdag, 24 Oktober** op ons webwerf gepubliseer.
- **Die Wenner:** Die algehele wenner van die **R400-voucher van Augustine Bookroom** sal ook dan amptelik aangekondig word.
> *Neem asseblief kennis dat slegs *1 inskrywing per persoon* in aanmerking geneem word. Indien jy enige vrae het, kontak ons gerus by *olielamp02@gmail.com*.*
**Deel dit gerus:** Moedig jou familie en vriende aan om ook hul lense op God se skepping te rig voor die sluitingsdatum!
Die Olielamp-span
## Posts
### Hoe om jou naaste lief te hê
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-om-jou-naaste-lief-te-he/
Last updated: 2026-10-10T07:00:58.000Z
Ons weet ons moet ons naaste liefhê, want ons hoor dit al ons hele lewe lank by die kerk, die skool en by die huis. Maar hoe doen ’n mens dit nou eintlik? Dit is maklik om te sê dat ons ander mense moet liefhê, maar wanneer iemand ons seermaak, irriteer, teleurstel of eenvoudig baie anders as ons is, word hierdie opdrag baie moeiliker. Jesus vat die hele wet saam in die opdrag: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 22:37-40).
Enige vorm van ware liefde begin by God. Ons kan ons naaste liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. Naaste liefde is daarom nie bloot ’n gevoel wat in ons ontstaan wanneer ons iemand besonder aangenaam vind nie. Dit is ’n antwoord op God se genade en ’n teken van dankbaarheid vir wat Hy reeds aan ons gedoen het. 1 Johannes 4:19 sê: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Ons moet dus eers die genade en liefde van God in ons eie lewe raaksien en leer verstaan voordat ons ons naaste werklik kan liefhê. God se liefde word vir ons geopenbaar in sy Woord en veral in die evangelie van Jesus Christus.
Johannes 3:16 herinner ons aan die omvang van God se liefde: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hierdie liefde is onverdiend. Romeine 3:24 sê dat ons “deur sy genade sonder verdienste geregverdig” word deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Dit beteken dat God ons nie liefgehad het omdat ons dit verdien het nie. Die kruis wys juis vir ons dat genade beteken om goedheid te ontvang wat ons nie kan verdien nie. Daarom behoort ons ook bereid te wees om liefde aan ander te bewys selfs wanneer hulle dit nie volgens ons oordeel verdien nie.
Jesus Christus is self ons grootste voorbeeld hiervan. Hy het Homself verneder en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem. Sy hele lewe wys dat liefde nie bloot iets is wat ’n mens voel nie, maar iets wat jy doen. Hy het sy dissipels gedien en selfs Judas se voete gewas, alhoewel Judas Hom sou verraai. Hierdie voorbeeld wys vir ons hoe anders Christelike liefde is. Ons liefde vir ander kan nie altyd wag totdat hulle eers verander, jammer sê of bewys dat hulle ons liefde waardig is nie. Christus het Homself gegee. Sy liefde was opofferend.
Naaste liefde vra daarom dat ons onsself verloën. 1 Korintiërs 13:5 leer dat liefde “nie sy eie belang soek nie”. Dit beteken nie dat ons geen grense mag hê of dat ons onreg moet goedpraat nie. Dit beteken wel dat ons nie voortdurend moet vra: “Wat kry ek hieruit?” of “Wat doen hierdie persoon vir my?” nie. Ons moet ook leer vra: “Hoe kan ek hierdie persoon dien? Hoe kan ek sy of haar beswil soek?” Soms beteken dit om te luister wanneer ons eerder wil praat. Soms beteken dit om te vergewe wanneer ons eerder kwaad wil bly. Soms beteken dit om iemand te help wat ons nie eers bedank nie.
Ons selfsugtige natuur maak hierdie opdrag besonder moeilik. Van nature wil die mens die beste vir homself hê: die grootste huis, die mooiste motor, die beste posisie, erkenning en sukses. Ons wil hê dat ons behoeftes eerste moet kom. Tog sê Galasiërs 5:14: “Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Om iemand lief te hê soos onsself beteken dat ons ook aan ons naaste die goeie dinge gun wat ons vir onsself begeer. Filippense 2:3-4 sluit hierby aan wanneer Paulus ons leer om nie net na ons eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
Dit is belangrik om te besef dat naasteliefde nie by goeie wense en gedagtes eindig nie. Liefde moet sigbaar word in ons dade. Jakobus 2:14-17 wys daarop dat dit nie genoeg is om iemand goeie wense toe te spreek as ons niks doen om in sy nood te help nie. Ons kan dus nie bloot sê dat ons mense liefhet nie; ons liefde behoort sigbaar te word in hoe ons praat, hoe ons optree, hoe ons ander behandel en hoe bereid ons is om te dien. ’n Mens kan sê: “Ek wens hom net die beste toe,” maar ware liefde vra dikwels dat ons iets van onsself gee.
Daar is egter nog ’n belangrike onderskeid. Om iemand lief te hê beteken nie dat ons alles wat daardie persoon doen, moet goedkeur nie. Christelike liefde en waarheid hoort bymekaar. Ons kan iemand liefhê en tog sê dat ’n sekere optrede verkeerd is. Efesiërs 4:15 praat daarvan dat ons “die waarheid in liefde” moet betrag. Liefde beteken dus nie dat ons sonde ignoreer of onreg aanvaar nie. Dit beteken dat selfs wanneer ons iemand aanspreek, ons dit moet doen met die begeerte dat dit vir daardie persoon goed sal wees en nie bloot omdat ons hom wil afbreek nie.
Ons moet egter eerlik wees oor die mens se onvermoë om hierdie liefde volmaak uit onsself te leef. Ons sonde maak ons selfgesentreerd. Ons natuurlike neiging is om mense te beoordeel volgens wat hulle aan óns doen en volgens of ons van hulle hou. Daarom is die vraag nie net: “Hoe kan ek harder probeer om almal lief te hê?” nie. Ons moet eerder vra: “Hoe verander God my hart sodat ek ander kan liefhê?” Die Heilige Gees werk in die gelowige en bring vrug voort wat ons eie natuurlike vermoëns oortref. Galasiërs 5:22-23 noem onder andere liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing as vrug van die Gees.
Uiteindelik is naasteliefde nie ’n bewys van hoe goed óns is nie, maar ’n vrug van God se genade in ons. Ons liefde begin by God, word sigbaar in Christus se voorbeeld en word deur die Heilige Gees in ons harte gewerk. Ons sal hierin dikwels faal, maar die evangelie herinner ons telkens daaraan dat ons nie op ons eie volmaaktheid staatmaak nie. Ons behoort aan Christus. Daarom kan ons telkens weer opstaan, ons sonde bely, God se genade ontvang en weer probeer om ons naaste lief te hê. Nie omdat elke mens maklik is om lief te hê nie, maar omdat Christus ons geleer het wat ware liefde is.
*Geskryf deur Hilga Bunk en Alisha Drijfhout, VGK Pretoria*
### Die Brood van die Lewe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-b/
Last updated: 2026-10-07T20:30:52.000Z
*Lees Johannes 6:1–40*
> *“Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe.”* (Johannes 6:47–48)
Die Here Jesus Christus is die Brood van die Lewe.
Waarom sê Christus dat Hy die Brood van die Lewe is?
Brood is ’n baie groot behoefte in ’n mens se lewe. Daar word dikwels gesê dat ’n man moet werk om brood op die tafel vir sy gesin te sit. ’n Man wat hierin voorsien, word as ’n goeie man beskou.
Ons word ook geleer om God vir ons daaglikse brood te vra. In die Onse Vader bid ons: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matteüs 6:11). Mense het brood nodig om te eet en te leef. ’n Gebrek aan brood (hier bedoel as voedsel) lei tot wanvoeding en uiteindelik die dood.
Jesus Christus is die Brood van die Lewe, omdat Hy die noodsaaklike en blywende geestelike voedsel vir die mens se siel is, net soos fisiese brood die menslike liggaam onderhou. Hy is die enigste Brood van die Lewe. Daar is geen alternatief nie.
Konteks: Dit bring ons by die wonderwerk wat Jesus Christus in Mattheüs 14:13–21 gedoen het.
Ons sien dieselfde wonderwerk ook in Johannes 6\. Hy het 5000 mans, uitsluitend die vroue en kinders, gevoed. Daar was net vyf brode en twee visse, en daar was genoeg vir almal. Die volgende dag het die mense Hom na Kapernaüm gevolg omdat hulle nog fisiese voedsel gesoek het, eerder as om die geestelike betekenis van die wonderwerk te verstaan.
As ons terugkyk na die Ou Testament, sien ons in Exodus 16 waar God vir die eerste keer vir Moses sê: “Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en elke dag die daaglikse porsie bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle volgens my wet sal wandel of nie.”
Die Israeliete was 40 jaar lank in die woestyn en het ook manna uit die hemel ontvang. Daar was genoeg vir die Israeliete om te eet. Dit het hulle aan die lewe gehou. Net soos die Here brood uit die hemel gegee het, bied dit ook ’n treffende beeld in die Nuwe Testament van hoe Jesus Christus 5000 mans gevoed het.
Die Jode en die mense wou hê dat Christus vir hulle nog tekens moes wys, veral ’n teken wat sou beteken dat hulle gratis voedsel kon kry.
Jesus sê in Johannes 6:38: “Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om My eie wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Dit was God die Vader wat sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om vir ons sondes te sterf en ons te vergewe.
As mense en as sondaars, verlang ons na dinge wat ons gelukkig maak. Ons verlang na die wêreld en het ’n liefde vir die vlees. Ons leef dikwels om hierdie dinge meer as enigiets anders te bevredig. Dit kan byvoorbeeld alkohol, dwelms, seksualiteit, geld, ensovoorts wees.Hierdie dinge kan ontaard in sondige begeertes waarsonder ons liggame soms voel asof ons nie kan leef nie. Nadat ons hierdie dinge gedoen het, voel ons dikwels trots en goed oor onsself. Ons bepaal ons status volgens wat ons opgehoop het. Hoe ryker jy is of hoe meer jy het, hoe beter dink jy is dit vir jou en hoe belangriker beskou jy jouself.
Maar wat is Christus se belofte? Waar vind ons ware bevrediging? “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Johannes 6:35\. Christus belowe aan ons die bevrediging wat uit sy teenwoordigheid kom. Ons ervaar leegheid in ons lewens, maar in plaas daarvan om na Christus toe te gaan, kies ons dikwels die verkeerde dinge om ons gelukkig te maak.
Vir die mense wat in die Here Jesus Christus glo, vir dié wat hulle geloof in Hom stel, sal Christus altyd naby wees. Jesus verseker sy hoorders dat almal wat die Vader aan Hom gee, na Hom toe sal kom, en dat Hy niemand wat werklik na Hom toe kom, ooit sal wegstuur nie. Johannes 6:37–40\. Jesus Christus wil aan hulle ’n diep bewussyn van sy teenwoordigheid gee en daardie diepgaande eensaamheid wegneem.
*Sy belofte is waar vir die uitverkorenes - dit is ’n oop uitnodiging vir hulle.”* Hy verseker almal wat in Hom glo dat hulle, ongeag hulle fisiese omstandighede in die lewe, die vrede en bevrediging sal ervaar wat diep in hulle wese deurdring. Hulle sal die ewige lewe hê. Hulle sal volkome verander word.
Weer terug by die verhaal van die woestyn in Exodus 16: sommige van die mense wou die manna vir die volgende dag hou omdat hulle bekommerd was dat hulle die volgende dag nie weer sou eet nie. Maar die manna het die volgende dag sleg geword en kon nie geëet word nie. Ons kan nie gister se brood vir vandag hou nie. Daar is ’n rede waarom ons daaglikse brood ontvang.
Ons moet elke dag na God toe gaan om deur Hom gevoed te word, want elke dag het sy eie uitdagings en elke dag het sy eie bekommernisse. Maar God gee aan ons wat ons nodig het.
Wanneer God aan jou gee wat jy nodig het, sal jy dit nie verloor nie. Jesus Christus is die enigste Een wat ons lewend kan maak. Sonder Hom is ons dood! Wie die Seun het, het die lewe; en wie die Seun van God nie het nie, het ook nie die lewe nie. Is jy lewend?
### Coram Deo
> “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.” (Johannes 6:47)
Jesus Christus is die Brood van die Lewe. Wanneer jy in Hom glo, ontvang jy die ewige lewe. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Mattheüs 11:28\. Jesus bied geestelike vrede en sy teenwoordigheid aan my en jou, en aan almal wat in Hom glo.
Hy praat met mense wat moeg of gestres voel, of wat gebuk gaan onder die las van die lewe. Dit sluit die spanning van die daaglikse lewe, pyn en streng godsdienstige reëls in.
Jesus belowe innerlike vrede en verligting vir die siel, in plaas van swaar laste en eise.
### Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
### Bronne
- Let’s study John by Mark Johnton p.93
- [https://learn.ligonier.org/articles/how-is-jesus-the-bread-of-life](https://learn.ligonier.org/articles/how-is-jesus-the-bread-of-life?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.instagram.com/reel/DWQmHcugUaL/?stkn=MXkwbHp6OGl4cWRrNg==](https://www.instagram.com/reel/DWQmHcugUaL/?stkn=MXkwbHp6OGl4cWRrNg==&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.instagram.com/reel/DBwxOSWIO1r/?stkn=aXp6bmd5cW53cXg5](https://www.instagram.com/reel/DBwxOSWIO1r/?stkn=aXp6bmd5cW53cXg5&ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius*
### Hoe vind ons vrede in God se wil vir ons?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-vind-ons-vrede-in-god-se-wil-vir-ons/
Last updated: 2026-10-03T07:00:36.000Z
Soos met enige vraag, is dit eerstens belangrik om te bepaal wat presies met die vraag bedoel word. Wanneer ons kyk na hoe om vrede te vind in God se wil, moet ons begin by die begin - wat bedoel ons met ‘God se wil’?
‘God se wil’ verwys na wat God begeer, sowel as wat Hy van ons verwag. Hier moet ons onderskeid tref tussen sy soewereine wil en sy voorskriftelike wil.
God se soewereine wil behels sy groter plan en heerskappy oor die wêreld. Dit is dinge wat God bepaal wat ons dikwels nie kan verstaan nie, maar waarin ons vertroue kan hê dat Hy ‘n wyer perspektief het op sy plan vir ons. Dit vorm deel van God se ewige plan waarin Hy alles aan sy wil laat voldoen.
Aan die ander kant is God se voorskriftelike wil – dit wat Hy wil hê ons moet kies en doen in die lewe. Dit sluit dus die duidelike opdragte in sy Woord in, byvoorbeeld die Tien Gebooie. Die mees omvattende teks wat sy voorskriftelike wil uitlê, vind ons in Mattheus 22:37 en 38:
> "En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod."
Hierdeur kan ons sien dat God se wil nie net oor spesifieke reëls gaan nie, maar uiteindelik gaan dit oor ons verhouding met Hom en hoe daardie verhouding ons lewe beïnvloed. Dit is ook opmerklik dat ons nie elke opdrag wat deel vorm van God se wil uitgeskryf in die Bybel vind nie. God gee vir ons beginsels waarvolgens ons ons lewens moet lei.
Noudat ons ‘n basis het vir die betekenis van "God se wil", kan ons nader kyk na hoe hierdie waarheid in ons persoonlike lewens toegepas word. Die volgende vraag is dus: Hoe kan ons God se wil verstaan?
Om God se wil te verstaan, moet ons God se karakter ken. God gee vir ons sy Woord sodat ons Hom daardeur kan ken. Johannes 7:16-17 sê:
> "Jesus antwoord hulle en sê: My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek."
Jesus stel dit baie duidelik: hoe beter ons God se karakter verstaan, hoe makliker word dit om te herken watter keuses met sy wil ooreenstem.
Behalwe deur God se Woord, kan ons God ook beter verstaan deur te bid vir wysheid (Jakobus 1:5). Dit is belangrik om te besef dat God nie altyd wysheid aan ons openbaar soos ons dit verwag nie. Om te bid vir wysheid beteken nie noodwendig dat God ‘n teken gaan stuur wat vir jou sal aandui wat die regte keuse is nie. God kan kies om wysheid te skenk deur vir jou geduld te leer of selfs om jou te help aanvaar dat jy nie altyd menslik gaan kan verstaan waarom Hy sekere dinge laat gebeur nie. In sulke gevalle is dit belangrik om onderskeid te tref tussen ons begeertes en God se wil. God se wil wys nie altyd vir ons ‘n duidelike en volledige prentjie nie, maar deur sy wysheid word ons opgeroep om Hom genoeg te vertrou om vandag getrou te leef.
Dit bring ons tot die laaste vraag: Hoe vind ons vrede in God se wil?
Dit is veral toepaslik in daardie gevalle waar God se wil nie ‘n duidelike, volledige prentjie skep nie. Psalm 37:4: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” Om vreugde in die Here te hê, beteken nie dat al ons aardse begeertes bevredig word nie. Dit beteken egter dat ons hart en begeertes sal verander. Hoe nader ons aan God leef, hoe meer sal ons begeertes met sy wil ooreenstem.
‘Vrede’ in hierdie konteks beteken nie noodwendig ‘n totale afwesigheid van onsekerheid nie. Om vrede in God se wil te vind, beteken om Hom genoeg te vertrou om die volgende stap te neem.
Om saam te vat: God gee vir ons sy Woord waardeur ons Hom beter kan leer ken. Hierdie kennis, saam met gebed, gee vir ons die wysheid om sy wil raak te sien. Daarmee kan ons besluite neem. Laastens, deur ‘n vaste vertroue in Hom, kan ons vrede vind in die uitkomste van daardie besluite.
*Geskryf deur Klarizé van Alten, VGK Bellville*
### Ek is.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is/
Last updated: 2026-10-01T15:19:04.000Z
Geliefdes, God is vol van liefde en genade. Hy het ons so lief gehad dat Hy sy Seun, Jesus Christus, na die aarde toe gestuur het om vir ons sondes te sterf (Johannes 3:16). Jesus Christus was nie net ten volle God nie, maar ook ten volle mens (Sondag 6 v&a 16 en 17). Deur sy genade openbaar God homself aan ons op verskeie maniere. In die Johannes-evangelie openbaar Hy sy karakter aan ons met die gebruik van sewe afsonderlike beelde. Dit bring ons by die doel van die Evangelie volgens Johannes:
> *"Maar hierdie dinge is opgeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus, die Seun van God, is, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê." (Johannes 20:31)*
Die doel van hierdie boek is daarom om ons te lei in geloof in die Here Jesus Christus, die Seun van God, want deur Hom alleen kan ons ewige lewe beërwe.
In die eerste “Ek is” uitspraak openbaar Jesus homself as die **Brood van die Lewe** (Johannes 6:35). Nadat Hy vyfduisend mense met brood en vis gevoed het, het almal genoeg gehad om te eet. Christus se doel was egter nie bloot om hulle fisiese honger te stil nie, maar om te wys dat Hy iets veel groter bied, naamlik die versadiging van die diepste geestelike honger van die menslike siel. Want die menslike siel is geestelik dood sonder Christus. Jesus alleen kan die diepste honger van die siel bevredig.
In die tweede uitspraak sê Jesus: **"Ek is die Lig van die wêreld"** (Johannes 8:12). Jesus bring geestelike leiding en waarheid na 'n wêreld wat in duisternis verkeer. In die ou tyd was daar geen elektrisiteit nie, en mense moes hulle pad in die donker vind. Net soos Hy brood gee om ons honger te stil, gee Hy ook lig om ons pad te verlig. Daarom hoef ons nie in die duisternis rond te dwaal of te struikel nie - Jesus is die Lig van die wêreld. In 'n wêreld vol pyn, hartseer, gevaar en sonde skyn Christus, as die Lig, helder.
Derdens sê Jesus: **"Ek is die Deur"** (Johannes 10:9). Hierdie beeld sluit nou aan by die vierde uitspraak: sy beskrywing van Homself as die **Goeie Herder** (Johannes 10:11, 14). 'n Herder se verantwoordelikheid was om die skape te beskerm en te versorg. Christus, as die Deur, bied veiligheid, beskerming en die enigste weg tot verlossing. Hy het sy lewe afgelê sodat jy en ek die ware lewe kan vind. Hy is ons Goeie Herder wat sy skape ken, hulle liefhet en vir hulle sorg.
Jesus Christus weet wie jy is, waar jy is, en Hy het jou lief. Hy sorg vir jou en sal alles doen om jou terug te bring sodat jy saam met Hom op die pad van geregtigheid kan wandel. Maar wees versigtig - dit geld slegs vir sy skape. Daarom moet jy jouself afvra: Wie is my Herder? As die Deur het Jesus verklaar dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie. Daar is geen ander weg nie. Alle godsdienste of oortuigings wat 'n ander weg leer, is vals en staan in teenstelling met God se waarheid.
Verder, in die vyfde uitspraak sê Jesus: **"Ek is die Opstanding en die Lewe"** (Johannes 11:25). Net soos Hy hoop aan Lasarus gegee het, gee Hy ook aan ons die hoop dat die dood nie die finale oorwinning het nie. Jesus het self die dood oorwin, en ons sien dit deur sy opstanding. Daarom is die dood nie die einde van ons bestaan nie.
As ons in Hom glo, soos Johannes 20:31 leer, ontvang ons nie net lewe op aarde nie, maar ook die ewige lewe saam met die Seun van die lewende God in die hemel. Wie die Seun het, het die lewe; en wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.
Jesus sê ook: **"Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe"** (Johannes 14:6). Dit is die sesde uitspraak. Ware waarheid word slegs in Jesus Christus gevind. In Johannes 8:31-32 leer Johannes dat die waarheid ons vrymaak. Jesus sê vir sy volgelinge dat hulle die waarheid sal ken as hulle in sy Woord bly, en dat daardie waarheid hulle sal vrymaak van die slawerny van die sonde. Soos Johannes in sy doelverklaring sê, het hy geskryf sodat ons kan weet wie Christus is. Daarom openbaar die Skrif Hom aan ons. As ons die regte rigting in die lewe wil vind, moet ons Jesus volg, want Hy is die Weg. As ons eendag by die Vader wil wees, moet ons Hom volg. Leef volgens sy Naam, soos Johannes se doelverklaring ons leer.
In die sewende uitspraak sê Jesus: **"Ek is die Ware Wingerdstok"** (Johannes 15:1). Hy het hierdie woorde met sy dissipels gedeel die aand voordat Hy gevange geneem is. Ons lewens moet aan ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verbind bly. Net soos 'n loot aan die wingerdstok verbind moet bly om vrug te dra, moet ons aan Christus verbonde bly. As ons geestelik wil groei en vrug wil dra, moet ons naby Hom leef. Daarom behoort ons ons Christelike lewe en ons geloof ernstig op te neem.
Net soos God Homself in Exodus 3:14 as "Ek is" geopenbaar het, openbaar hierdie Naam sy wese:
- **Selfbestaan:** God is ongeskape en die uiteindelike bron van alle bestaan. Hy is enkelvoudig (NGB Artikel 1).
- **Ewige Bestaan:** God verander nooit en bestaan vir ewig verlede, hede en toekoms.
- **Soewereine Getrouheid:** God is van niemand en niks afhanklik nie. Sy karakter en sy beloftes is volkome betroubaar.
### Coram Deo
Die sewe "Ek is”-uitsprake leer ons hoe diep God ons liefhet, hoeveel Hy vir ons omgee en dat Hy die beste vir ons weet.
Daarom is die doel van die “Ek is”-uitsprake dat jy in Jesus Christus sal glo, sal glo dat Hy die Gesalfde is, die Christus, en die ewige lewe sal hê. Om nie in Hom te glo nie, verander nie wie Hy is nie. Hy het ons nie nodig nie; ons het Hom nodig.
Hoe meer jy jou verhouding met Jesus Christus versterk deur die krag van die Heilige Gees, hoe meer sal jy sy teenwoordigheid en leiding in jou daaglikse lewe ervaar. Hy is jou beste Vriend en die enigste Verlosser.
### Gebed
Ons almagtige hemelse God en Vader, ons dank U vir u Seun. Ons dank U Here dat daar lewe mag wees deur u Seun Jesus Christus. Ons vra U, Vader, dat ons rus mag vind in Hom. En ons vra Here dat ons Hom sal liefhê soos wat Hy ons liefhet. Ons vra dat U hierdie reeks sal seën en dat u kinders mag opgroei in kennis. Alles bid ons in Christus se Naam. Amen.
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius*
### Wat is ons erfenis?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-is-ons-erfenis/
Last updated: 2026-09-26T07:00:28.000Z
Ons leef in 'n wêreld wat elke dag verander. Wat vandag op sosiale media gewild is, is môre klaar vergete. Almal om ons - vriende, beroemdes en selfs familie - probeer vir ons sê wie ons moet wees. En te midde van al hierdie geraas moet ons gaan nadink: “wat is ons ware erfenis?”
Is dit net die tradisies wat ons van ons ouers en oumas en oupas geërf het? Ons kerk, ons geskiedenis, die manier waarop ons groot geword het? Of is daar iets veel groter agter dit alles?
Die antwoord begin nie by ons kultuur nie. Dit begin by God en Sy woord.
### 'n Erfenis wat van God af kom
Hier's die ding: as Christene het ons iets ontvang wat regtig spesiaal is. Petrus stel dit so voor:
“Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry” (1 Petrus 2:9).
Dis ‘n kritiese vers. Dit beteken ons identiteit hang nie af van ons kultuur, ons familie-naam of wat ons reg kry nie. Ons behoort aan God, het deel aan Sy volk, en ons kry die voorreg om Hom werklik te ken.
So ons erfenis is nie net 'n storie uit die verlede nie - dis 'n geloof wat ons ontvang het, en wat ons nou self moet uitleef.
### 'n Erfenis van waarheid
Een van die belangrikste erfenisse wat ons gekry het, is die Bybel. En nee, dis nie maar net 'n ou boek met interessante stories nie. Dis God wat met ons praat. Dis die fondament waarop ons hele denkwyse en al ons waardes gebou moet wees.
Psalm 119:105 sê: “U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.”
Dis hoekom 'n manier van dink volgens Bybelse beginsels so belangrik is. Ons hoef nie net alles te glo omdat iemand dit vir ons sê nie. Ons kan - en moet - self die Skrif ondersoek en leer om volgens God se woord te dink.
In Handelinge 17:11 lees ons van die mense van Berea, mense wat elke dag die Skrif nagegaan het om te kyk of wat hulle gehoor het, regtig waar was. Dis 'n kragtige les: geloof beteken nie jy los jou verstand by die deur nie.
Inteendeel. Ons mag vry dink, vrae vra en dinge ondersoek - maar ons denke moet uiteindelik deur God se waarheid gevorm word.
### Ware vryheid
Die wêreld sê vryheid is: “Doen net wat jy wil, wees wie jy wil wees…” Maar die Bybel gee 'n baie dieper betekenis daaraan.
Jesus sê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:32)
Ware vryheid beteken nie ons word van God se waarheid losgemaak nie. Dit beteken dat ons bevry word van sonde se mag, sodat ons God kan dien.
Dis 'n boodskap wat regtig saak maak vir ons as jongmense. Ons hoef nie ons identiteit te bou op wat sosiale media of vriende of die wêreld van ons verwag nie. Ons hoef ook nie bang te wees om vrae te vra nie. Ons kan met vrymoedigheid dink en ondersoek en leer - want ons weet Christus is die waarheid.
### Ons moet die erfenis verder dra
'n Erfenis is nie iets wat jy net vir jouself hou nie. Dit moet aangegee word, geslag na geslag.
In Deuteronomium 6:6-7 kry God se volk die opdrag om Sy woord vir hul kinders te leer. Geloof is nooit veronderstel om by een geslag te eindig nie.
Maar, en dis belangrik, dit beteken nie ons kopieer net tradisies sonder om te verstaan hoekom nie. Ons moet die waarheid self ondersoek, glo en uitleef.
Ons kan nie net sê: “Dis wat my ouers geglo het,” en dit daar los nie. Ons moet kan sê: “Dis wat ek glo, omdat ek God se woord self leer ken het, en ek vertrou dit.”
Ons erfenis vra dus iets van ons. Dit vra verantwoordelikheid.
### Wat gaan ons agterlaat?
Eendag gaan ons self die “vorige geslag” wees. Die vraag is: wat gaan ons vir die volgende geslag agterlaat?
Gaan hulle onthou dat ons net die wêreld nagevolg het? Of gaan hulle sien dat ons die Here regtig ernstig opgeneem het?
Paulus skryf aan Timoteus: “Hou vas aan die voorbeeld van die gesonde woorde wat jy van my gehoor het…” (2 Timoteus 1:13)
Ons geloof moet meer wees as net woorde wat ons sê. Dit moet sigbaar wees - in ons keuses, optredes, verhoudings en hoe ons regtig teenoor God en ander mense leef.
### Wat is ons erfenis?
So, terug na die begin. Wat ís ons erfenis?
Dis nie net ‘n van, ‘n tradisie of ‘n vaste manier van kerkwees nie. Ons erfenis is uiteindelik Christus self - die Evangelie van genade en die waarheid van God se woord.
Efesiërs 2:8 herinner ons: “Ons word uit genade deur geloof gered.” Ons grootste erfenis is dus niks waaroor ons kan spog asof ons dit self verdien het nie. Dis 'n geskenk.
Daarom moet ons dit nie net bewaar soos iets in 'n museum nie. Ons moet dit verstaan, uitleef en aangee.
Ons mag vry dink - maar ons denke moet deur God se woord gevorm word. Ons mag vrae vra - maar ons moet bereid wees om die waarheid te aanvaar. Ons mag in 'n veranderende wêreld leef - maar ons behoort aan 'n onveranderlike God.
Ons erfenis is Christus. Ons fondament is Sy woord. En ons roeping? Om hierdie waarheid getrou verder te dra.
*Geskryf deur George Jr Mnisi, VGK Nellmapius*
### Versoening.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/versoening/
Last updated: 2026-09-23T17:00:24.000Z
**Lees:** Levitikus 4-7:21
Afgelope Saterdag hardloop ek gou vining in ‘n winkel in om paar dinge te koop. Buite vang ‘n bord my oog “Blessed Yom Kippur”. Hierdie jaar (2026) was Yom Kippur (die groot versoendag) vanaf sononder Sondag 20 September tot Maandag aand. Die groot versoendag word beskou as die mees heilige dag in die Joodse Kalender.
Terwyl die Jode die groot versoendag vier wil ek ook hierdie week aandag gee aan die wonderlike boodskap van versoening soos wat ons daarvan kan leer uit die sond- en skuldoffers.
Die sondoffer se doel was primêr om versoening te doen voor God, terwyl die skuldoffer se doel meer was om skuld af te betaal, daarom moes die oortreder 20% meer gee as dit wat hy skuldig was. Lees gerus die besonderhede van beide hierdie offers in Levitikus en Numeri. Eerder as om op die detail te fokus wil ek let op drie belangrike toepassings: (i) sonde in swakheid *vs* moedswillige sonde, (ii) skuldbelydenis en (iii) die volmaakte offer van Christus.
### Sondes in swakheid vs moedswillige sondes
Die sondoffer en skuldoffer was beide bedoel om versoening te doen vir sondes wat onopsetlik, uit nalatigheid of soos die Bybel dit stel “uit swakheid” gedoen is. Dit is belangrik om uit te lig dat moedswillige sondes die doodstraf verdien het beide:
- in die **Ou-Testament** (Numeri 15:22-31) : “En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die Here begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word… Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die Here; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. ”
- en ook in die **Nuwe-Testament** (Hebreërs 10:26-31): “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar 'n verskriklike verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
Neem jou lewe onder die vergrootglas. Hoeveel keer doen ons nie sondes uit swakheid nie. Ons is so goed om verskonings uit te dink vir ons sondes, om onsself te oortuig dat ons sondes nie opsetlik was nie. Ek het so kwaad geword omdat hy dit of dat gedoen het. My vriendinne skinder en ek wil nie die geselligheid van die kuier opmors nie. Die sisteem is korrup, ons moet nou maar net ook betaal. Dink maar aan jou eie scenario’s.
En dan die nog meer konfronterende vraag: is daar moedswillige en opsetlike sondes in my lewe? Doen opreg selfondersoek!
### Skuldbelydenis
As ons eerlik is, weet ons ons verdien die doodsvonnis, “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” (Romeine 3:10). Wat nou gemaak?
In sy ongelooflike genade nooi God sondaars om na sy heiligdom te kom! Hy nooi ons om ons skuld te bely. Dit was in wese wat jy gedoen het as jy met jou sond- of skuldoffer na die heiligdom gegaan het.
Ons bring nie meer sond- en skuldoffers nie, so skuldbelydenis loop die gevaar om baie minder prakties in ons lewe te wees. Die Bybel is egter baie duidelik oor die belangrikheid van skuldbelydenis: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).
Maak dit prakties, bely jou sondes by die naam. Moet nie net in die algemeen bid vir vergewing van sondes nie, doen werklik selfondersoek.
Ongelukkig is dit soms vir ons makliker om God om vergewing te vra as ons naaste. Die skuldoffer sluit in om jou naaste te vergoed vir enige skade wat jy hom aangedoen het. Jesus self leer ons: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” (Mattheüs 5:23-24).
### Jesus ons offer
Maar hoe is dit moontlik, hoe kan ons, sondige mense, voor ‘n heilige God nader? Ons weet reeds dat die wet ons tot dood veroordeel het. Verder lees ons in Hebreërs 9:22 “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie”.
God sy dank: Jesus het sy bloed kom vergiet om vir ons die volmaakte versoening te bewerk, want “die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Hebreërs 10:4).
Die boek Hebreërs werk op ‘n wonderlike manier uit hoe Jesus die finale en volmaakte offer is. Lees gerus hierdie verrykende boek op jou eie tyd. Tog wil ek hierdie kort reeks afsluit met ‘n pragtige aanhaling uit die laaste hoofstuk van Hebreërs, ‘n aanhaling wat mooi aansluit by die voorskrifte vir die sondoffer wat buite die laer verbrand moes word (Levitikus 4:12), maar ook ‘n aanhaling wat die hele boodskap van die offerdiens pragtig vir ons saamvat (Hebreërs 13:10-16):
> “*Ons het 'n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word — hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige. Laat ons dan gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers*.”
### Coram Deo
Doen opregte selfondersoek. Neem jou lewe onder die vergrootglas en bely die sondes wat jou van God vervreem en jou skuldig laat staan teenoor jou naaste. Sonde is dodelik, en God se heiligheid kan dit nie verdra nie. Maar moet nie moedeloos wees nie, God is genadig, Hy maak die pad oop tot versoening, vir egbreekers soos Dawid, moordenaars aan ‘n kruis, vervolgers op die pad na Damaskus en ook vir jou en my. Loof en dank God vir die versoening wat ons deur die volmaakte offer van Jesus Christus kan kry en gee jou hele lewe as dankoffer aan Hom.
### Gebed
Almagtige, Drie-enige God. Here ek doen so baie sondes weer en weer. “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek… Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:14-25). Here, want hoe wonderlik is u belofte in Christus. Vergifnis, liefde en ‘n verhouding met U. Was my genadiglik skoon, skep in my ‘n nuwe hart (Psalm 51). “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Daarom sal elke vrome U aanbid” (Psalm 32:5-6). Here, help my dat dit ook in my lewe ‘n werkilikheid sal wees, dat ek my hele lewe as ‘n welgevallige dankoffer aan U sal gee. Dit bid ek in Christus se Naam. Amen
### Bronne
- Got Questions. (2026, Januarie 21). *What is the Day of Atonement (Yom Kippur)?* Verkry vanaf Got Questions: [https://www.gotquestions.org/Day-Atonement-Yom-Kippur.html](https://www.gotquestions.org/Day-Atonement-Yom-Kippur.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Got Questions. (2022, Januarie 4). *What is a sin offering?* Verkry vanaf Got Questions: [https://www.gotquestions.org/sin-offering.html](https://www.gotquestions.org/sin-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ligonier. (2010, Mei 27). *The Sin Offering*. Verkry vanaf Ligonier: [*https://learn.ligonier.org/devotionals/sin-offering*](https://learn.ligonier.org/devotionals/sin-offering?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Got Questions. (2022, Januarie 4). *What is a trespass offering / guilt offering?* Verkry vanaf Got Questions: [*https://www.gotquestions.org/trespass-offering.html*](https://www.gotquestions.org/trespass-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Van Wyk, C. (2017, April 25). *Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes.* Verkry vanaf Bybel Skool: [https://bybelskool.com/levitikus-41-513-die-sondeoffer-as-reiniging-en-vergifnis-van-konkrete-sondes/](https://bybelskool.com/levitikus-41-513-die-sondeoffer-as-reiniging-en-vergifnis-van-konkrete-sondes/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Die agtste gebod: Wandel en handel in opregtheid met jou naaste
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-wandel-en-handel-in-opregtheid-met-jou-naaste/
Last updated: 2026-09-19T07:00:22.000Z
Ons ken almal die tien gebooie. Die agtste gebod sê jy mag nie steel nie. Dit klink baie eenvoudig, maar die gebod behels baie meer as net dat jy nie ander mense se besittings mag vat nie. Dit handel oor hoe ons ons eie besittings, geld en werk hanteer, asook hoe ons moet omgaan met ons naaste se besittings.
### God se besittings en ons rentmeesterskap daaroor
Om die agtste gebod, ‘Jy mag nie steel nie’, te verstaan moet ons terug gaan na Genesis. God het die hele universum gemaak met alles wat daarin is. Hy het aan ons alles gegee wat ons nodig het. Ons moet onthou dat dit wat in die wêreld is en wat ons ontvang, van Hom afkom, ons mag dit gebruik wetende dat dit van God is. Die Here het vir die mens in die tuin van Eden geplaas. Hulle het alles ontvang wat daar is en is as rentmeesters daaroor gestel. In Psalm 24:1 staan daar geskrywe: ‘Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here.’ Dit is hoekom ons praat van rentmeesterskap. Die Here vertrou ons toe met Sy eiendom, ons mag daarvan gebruik maak terwyl ons op aarde lewe.
Vanaf die begin van die Bybel sien ons dat die Here Adam en Eva in die tuin geplaas het met die opdrag om dit te bewerk en te bewaak (Genesis 2:15). Net so moet ons ons eie eiendomme vandag ook gebruik (bewerk) en oppas (bewaak). Materiële en aardse dinge moet daarom nie tot hoogmoedigheid of trots lei nie. Dit word aan ons toegeken deur die Here en moet met verantwoordelikheid beheer en bestuur word. God verbied egter glad nie die besit van privaat besittings of eiendomme nie, dit sal in kontras staan met die agtste gebod self. Maar God ken ons mense en daarom waarsku Hy ons teen die selfsug van rykdom. Paulus wys ons wat ware rykdom is in 2 Korinthiërs 8:9\. Wanneer ‘n mens vir die Here Jesus ken, besit ‘n mens eers ware rykdom.
### Die wortel van diefstal, dit is meer as net die daad self
Vanuit Jesus se bergpredikasie leer ons dat die sonde nie begin by die fisiese daad nie, maar al reeds by die gedagte (Mattéüs 5:28). Net so is dit al verkeerd en teen God se wil om daaraan te dink om iets van jou naaste te vat of te besit. Dit begin by gierigheid en afguns, die begeerte om te hê wat die Here nie vir jou bestem het, of om die ander se rykdom nie te gun nie. Die Here waarsku ons baie duidelik teen hierdie sonde in Lukas 12:15: ‘Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die voorspoed van sy besittings nie.’
As ons die vers in gedagte hou sien ons dat die agtste gebod in ons daaglikse lewe op baie verskillende maniere toegepas kan word. Ons kan dit toepas op luiheid by die werk waar ons tyd steel van ons werkgewer, in korrupsie, in die nie-betaling van regverdige lone, op oneerlike maniere sake te doen, belastingontduiking en dit gaan so aan. In Spreuke 11 staan daar: ‘ ‘n Valse weegskaal is vir die Heer ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy ‘n behae’. Met ander woorde God verwag van ons eerlikheid. Enige keer wanneer wins deur misleiding nagejaag word of ten koste van iemand anders gemaak word, word hierdie wet oortree. Dit wys die wantroue in God se voorsienigheid as Skepper en stel die skepsel bo God.
### Die positiewe aspek van die agtste gebod
Ons het in die vorige paragraaf gesien dat ons eerlik en verantwoordelik moet wees met ons besittings, verder moet ons ons naaste se belange net so belangrik ag as ons eie belange. Ons is immers almal gelyk en niemand is belangriker as die ander in God se oë nie.
Paulus gee vir ons die perfekte toepassing hiervan in sy brief aan die Efesiërs: ‘Laat die een wat steel, nie meer steel nie maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te doen wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek lei.’ (Efesiërs 4:28). Let op die verandering, waar die hand eers geneem het van dit wat hom nie toekom nie, word dit ‘n hand wat hard werk om te gee. Ons doel op aarde is om die Here te verheerlik met alles wat ons doen. Deur te gee en na ons naaste om te sien, kan ons ‘n seën vir ons naaste wees. Dit is ook belangrik om te onthou: ‘n welvarende persoon word nie veroordeel omdat hy of sy baie besittings het nie, maar wel as hy of sy sy of haar hart toesluit vir die behoeftige voor die deur (1 Johannes 3:17 - 18). Regverdigheid in die lewe word van ons vereis deur die Here. Dit beteken dat ons opreg moet handel dryf, regverdige vergoeding sal gee vir werkers en naasteliefde betoon aan die mense om ons.
### Genoegsaamheid staan teenoor die gierigheid van die materialistiese wêreld
Die mammon is die wortel van allerlei kwaad. Die agtste gebod roep ons terug na die basiese behoeftes toe: ‘n lewe van goddelike tevredenheid. Paulus sê in 1 Timótheüs 6:6-8: ‘Maar die godsaligheid saam met die vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees’. Iemand wat tevrede is, staan in lyn teenoor die persoon wat ander mense se besittings begeer. Wetende dat God se genade genoeg is, sal die mens innerlike rus en genoegsaamheid gee.
### ‘n Heilige lewe in ‘n gebroke wêreld
‘Jy mag nie steel nie’ is uiteindelik ‘n spieël wat ons tekortkominge, kleingeloof en selfsug ontbloot. Dit wys ons na Christus en die kruis waar ons vir ons gierigheid en oneerlikheid vergifnis vind. Dit roep ons ook verder op om in die wêreld as lig te skyn en om in absolute betroubaarheid en eerlikheid met ons naaste te leef. ‘Laat ons ‘ja’ ja wees en ‘nee’ nee wees.’ (Mattéüs 5:37).
Sodra ons leer om in die vertroue op God te leef, in Sy liefde en voorsienigheid, word ons vrygemaak van die slawerny van selfsug en gierigheid. Ons word dan nie meer deur ons besittings besit nie, maar dit word instrumente in ons hande waarmee ons dankbaar die Here kan dien, prys en ons naaste in nood mee kan help. Dit is die ware heiliging waartoe die agtste gebod ons roep.
*Geskryf deur Mathys de Wit, VGK Pretoria*
### Dankbaarheid wat God eer
URL: https://olielamp.vgk.org.za/dankbaarheid-wat-god-eer/
Last updated: 2026-09-16T18:20:52.000Z
**Lees:** Levitikus 1&2
“Throughout Scripture, we see people honoured and encouraged for their wild, heartfelt and unusual worship… True worship is often loud and messy.” (Rose & Rose, 2019)
Hoe lyk jou aanbidding en lofpryse? In hierdie artikel kyk ons spesifiek na die lof- en dankaanbidding vanuit die Ou-Testamentiese offers.
Ons het in die vorige oordenking oor die [Brandoffer](https://olielamp.vgk.org.za/do-ut-des-vs-do-quia-dedit/) gesien dat die volk nie offers gebring het om God om te koop of sy guns te wen nie, maar dat dit veel eerder uit dankbaarheid was vir wat hulle reeds van God ontvang het. Tog was daar streng reëls en baie spesifikasies rondom die brandoffer, God het ook vereis dat die offer op baie spesifieke tye gebring moes word (lees [hier](https://www.gotquestions.org/burnt-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za) meer). In Levitikus 2 en 3 kom ons by twee offers met beide die doel om (spontane) dankbaarheid en lof teenoor God te betuig: die spysoffer en die dankoffer. Kom ons kyk na beide en wat ons oor God en ons diens aan Hom daaruit kan leer.
### Spysoffer
Die doel van die spysoffer was om God te prys en te eer vir sy voorsienigheid. Wanneer ‘n Israeliet hierdie offer gebring het het hy daarmee God gedank dat Hy vir hom sorg met alles wat hy nodig het.
Die brandoffers het streng reëls gehad, en die offeraar kon niks byvoeg nie. Op ‘n soortgelyke manier kan ons niks bydra tot ons versoening nie. Die spysoffer daarenteen het meer vryheid toegelaat.
In Levitikus 2 lees ons dat die Israeliete die spysoffer rou of gebak kon bring. Hulle kon ook kies om dit in die oond of in ‘n pan, as plat koeke of as gebakte brokkies te bring (Levitikus 6:21). Deur graan en plat koeke te offer het hulle beide erken dat hulle daaglikse voedsel van God kom, en terselfdertyd gesimboliseer dat elke aspek van hulle daaglike lewe aan God gewy moet wees. Besef ons dit nog?
Ten spyte van die meer vryheid is dit net soos by die ander offers belangrik dat dit puur is. Dit is immers “'n hoogheilige deel van die vuuroffers van die Here” (Levitikus 2:10). Die Here stip baie duidelik uit dat die Israelite geen suurdeeg by die offers mag voeg nie. In die Bybel is suurdeeg soms ‘n simbool van sonde en onheiligheid (Lukas 12:1). Moontlik omdat gisting ’n soort mikrobiologiese afbreekproses is en dus kan dui op die gevolge van die sonde. Iets soets soos heuning sal die gistingsproses aanwakker en versnel, en daarom was dit ook verbode om dit aan die spysoffer toe te voeg.
Teenoor die verbod op suurdeeg staan die gebod dat sout nooit aan die spysoffer mag ontbreek nie. Sout is ‘n preserveermiddel en het ‘n reinigende impak. Dit laat mens ook dadelik dink aan Jesus se opdrag in Mattheüs 5:13 “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?”
Die spysoffer moes met fynmeel en olie gemaak word, en die deel wat verbrand is, moes met wierook gemeng word. Olie en wierook was beide simbole van oorvloed, seën en feesviering. Die heerlike geur van die spysoffer was ‘n sterk herinnering aan God se oorvloedige voorsienigheid. Ons bring nie meer spysoffers nie; tog leef ons ook uit die voorsienige hand van God. Hoe betuig jy jou dankbaarheid?
### Dankoffer
In Levitikus 3 en 7:11-34 lees ons oor die dankoffer. Dit is by uitstek die offer wat spontaniteit toelaat. Wanneer die Israeliete aan God ‘n spesiale offer wou bring wat nie deel is van al die voorgeskrewe rituele nie, kon hulle ‘n dankoffer bring.
Jy kon vir drie verskillende redes ‘n dankoffer bring – as ‘n lofoffer, ‘n gelofteoffer of ‘n vrywillige offer. Die offer kon ‘n bul, vers, skaap, lam of bok wees. In alle gevalle moes die niere, lewer en vet verbrand word en die bloed teen die altaar uitgegiet word. Die bors was as beweegoffer bestem aan Aäron en sy seuns en die regterboud as hefoffer vir die dienende priester. Wanneer iemand ‘n lofoffer gebring het moes hulle behalwe vir die dier ook ongesuurde platkoeke en ‘n gesuurde brood bring. Die dankoffer staan uit as die enigste offer waarvan die offeraar mog eet, hy mog dit selfs met enige rein persone deel. ‘n Ware feesmaal uit dankbaarheid!
Ja, vrede met God is inderdaad iets om oor vrolik te wees en te vier. Tog herinner die voorskrifte van die dankoffer ons ook baie duidelik aan die heiligheid van God. Ons lees immers twee keer van die doodstraf in verband met die dankoffer: by die eet van vet en bloed (Levitikus 7:20) en onreinheid (Levitikus 7:25&27).
Dit is nie ‘n demper op die spontaniteit of die feesvreugde van die dankoffer nie, maar eerder ‘n herinnering aan die eerbied wat ons aan ons almagtige God verskuldig is. Hoe lyk ons (spontane) lof aan God? Mag dit uitbundig en van harte wees, maar mag dit ook op so ‘n manier gebeur dat God daarin ‘n welgevalle sal hê.
### Coram Deo
In Christus is die wette vervul en ons bring nie meer spys- en dankoffers nie. Tog het ons nog minstens net soveel rede vir dankbaarheid.
Ons het ook niks wat ons nie ontvang het nie. Vir ons geld: “Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee *dit* aan hulle, hulle tel *dit* op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof” (Psalm 104:27-29). Deur Christus se versoeningswerk hoor God ons gebede genadiglik aan as ‘n lieflike geur. Gedrywe deur die Gees mag ons God vrywillig dien. Ons mag die Here prys met sang en lied. Ons mag uit dankbaarheid ons goed en tyd aan die Here gee.
Maar ons moet ook altyd onthou dat hierdie God die almagtige Skepper van hemel en aarde is. Laat ons in ons vrywillige godsdiens nie dieselfde fout as Nadab en Abihu maak nie (Levitikus 10). Laat ons ‘n voorbeeld neem aan Dawid, ja, hy kon van vreugde voor die ark dans, maar hy moes eers op die harde manier leer dat dit uiters belangrik is om God te dien hoe Hy voorgeskryf het (2 Samuel 6 – die skeur aan Ussa).
So om terug te kom na die aanhaling aan die begin van die oordenking. God soek ons hart, Hy soek nie net rympies en formaliteite nie en Hy gee ruimte vir spontaniteit. Maar God stel ook die perke. Hierdie perke demp nie die vreugde en dankbaarheid nie, maar help ons eerder om God die eer te gee wat Hom toekom.
### Verdere leesstof
- Levitikus 6:14-23, 7:11-34
- Levitikus 10
- 1 Samuel 1:21-28
- 2 Samuel 6
### Gebed
Here, ek kom voor U in groot dankbaarheid. Dankie vir u sorg. Dankie vir my daaglikse brood. Dankie vir die natuur wat ook in hierdie pragtige lentetyd orals rondom ons van u grootheid kan getuig. Dankie, bo alles, vir u verlossing en die wonderlike werk aan die kruis. Help my om my hele lewe, selfs die mees alledaagse dinge, as dankoffer aan U te wy. Maak my ‘n sout in hierdie wêreld en verwyder die suurdeeg van die sonde uit my lewe. Help my om vrywillig en spontaan U te loof en te prys. Help my ook om dit te doen soos wat U behaag en nie my eie kop te volg nie. Aan U kom toe alle lof en eer en heerlikheid, in die hemel en op aarde. Amen
### Bronne
- Got Questions. (2022, Januarie 4). *What is a burnt offering?* Verkry vanaf Got Questions: [https://www.gotquestions.org/burnt-offering.html](https://www.gotquestions.org/burnt-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Got Questions. (2022, Januarie 4). *What is a grain offering?* Verkry vanaf Got Questions: [https://www.gotquestions.org/grain-offering.html](https://www.gotquestions.org/grain-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Got Questions. (2022, Januarie 4). *What is a peace offering?* Verkry vanaf Got Questions: [https://www.gotquestions.org/peace-offering.html](https://www.gotquestions.org/peace-offering.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ligonier. (2010, Mei 24). *The Grain Offering*. Verkry vanaf Ligonier: [https://learn.ligonier.org/devotionals/grain-offering](https://learn.ligonier.org/devotionals/grain-offering?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ligonier. (2010, Mei 20). *The Peace Offering*. Verkry vanaf Ligonier: [https://learn.ligonier.org/devotionals/peace-offering](https://learn.ligonier.org/devotionals/peace-offering?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Rose, J., & Rose, C. (2019, Augustus). *Spontaneous Worship*. Verkry vanaf: Peer Magazine: [https://peermag.org/articles/spontaneous-worship/](https://peermag.org/articles/spontaneous-worship/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Die Huwelik as instelling van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-huwelik-as-instelling-van-god/
Last updated: 2026-09-12T13:00:34.000Z
Die huwelik, die verbinding en verbond tussen man en vrou, is deur ons Hemelse Vader in die paradys ingestel omdat dit nie goed was dat die mens alleen was nie. Die Here lê in die skepping die begeerte om ‘n mens se lewe te deel en om ‘n maat te hê om jou aan te vul. Hierdie instelling is in vandag se tyd onder baie druk van die sekulêre wêreld en daarom is dit goed vir ons om te verstaan hoe die Here die huwelik geskape het en hoe dit in ons lewe behoort te lyk.
In Genesis 2:24 lees ons dat die man sy vader en moeder sal verlaat, sy vrou sal aankleef en dat hulle een sal wees voor God. In Matthéüs 19:5 bevestig ons Here Jesus ook hierdie grondslag wat kenmerkend is van ‘n Bybelse huwelik. Wat beteken dit vir ons vandag? In die wêreld is dit vandag algemeen dat die huwelik gesluit word vir eie gewin: dit gaan oor ek en jy as individue, en wat elkeen van ons daaruit kan baat. Baie keer word die huwelik net uit romantiese gedagtes gesluit, sodat albei partye kan saamleef omdat dit voordelig is vir hulself. Daar is nie sprake van eenwording nie, maar van twee partye wat wetlik verbonde is en twee aparte lewens lei. Dit is egter nie hoe God dit ingestel het nie. Hy sien die man en vrou as een, deur die Heilige Gees verbind. Hulle moet saamwerk om aan Sy koninkryk te bou. Dit is nie meer *ek* en *jy* nie, maar *ons*. Die man en vrou vorm saam ‘n nuwe eenheid. Dit is ‘n aardse afbeelding en voorbeeld van die eenheid wat daar in die Drie-eenheid is.
‘n Kernbeginsel wat ons in die Bybel leer en wat Tim Keller in sy boek, *The Meaning of Marriage,* so mooi beklemtoon, is dat die huwelik ‘n verbond is en nie net ‘n kontrak tussen man en vrou nie. Eerstens is dit ‘n verbond tussen beide man en vrou en God. En tweedens is dit ‘n verbond tussen man en vrou. ‘n Verbond, oftewel ‘n belofte, hou soveel meer diepte in as ‘n kontrak. Daar is emosies betrokke en kan nie sommer afbetaal of beëindig word nie. Dit beteken dat jy aktief aan die verhouding moet werk en dit as ‘n prioriteit in jou lewe moet hou. Jy kan dit nie op die agtergrond kan skuif of kan opdeel in verpligtinge wat afgehandel moet word nie.
Hoe lyk ‘n Christelike huwelik egter volgens die Bybel? In die Bybel gee die Here beide mans en vrouens goeie riglyne oor hoe ‘n huwelik moet funksioneer. Voor ons in die rol van die vrou en die man onderskeidelik inspring, is dit eerstens belangrik om te sien dat ons opgeroep word om mekaar te dien binne-in die huwelik. Dit beteken dat beide partye mekaar moet ondersteun en die ander se belange op die hart moet dra. So vinnig wil ons as mense net aan onsself dink, maar dit is juis wat so mooi aan die Christelike huwelik is: ons word opgeroep tot selfopofferende liefde vir ons eggenoot, selfs al word ons daardeur benadeel.
Beide man en vrou het ‘n belangrike rol om in die huwelik te vervul. Manne moet hul vrouens met hul hele hart en optrede liefhê, en vroue moet onderdanig wees en hul mans ondersteun. Ons sal bietjie later in die artikel meer na hierdie rolle kyk.
### Die huwelik as afbeelding van Christus en Sy Kerk
As ons Efésiërs 5:18 – 21 lees, sien ons dat man en vrou gevul moet wees met die Heilige Gees. Dit is belangrik dat deur die Gees se werking, man en vrou die nodige krag en wysheid sal ontvang om mekaar te dien. ‘n Dienende houding soos wat ons Here Jesus so pragtig kom wys het op aarde. ‘n Houding van selfopoffering, omgee, respek en vergewing - wat jou eggenoot se belange eerste plaas. Deur ons verhouding met Christus eerste te stel, het tot gevolg dat Hy jou die wysheid en krag sal gee om jou lewensmaat selfoppofferend te kan dien.
Die mooi aan die huwelik is dat dit so ‘n direkte afbeelding is van Christus se verhouding met sy Bruid, die Kerk. In Efésiërs 5:22-33 lees ons dat Paulus die huwelik tussen man en vrou direk vergelyk met die verhouding tussen Christus en die kerk en dat Christus hoof is oor sy Bruid. Net so het Hy die man as hoof oor die vrou gestel. Christus het sy kerk tot die einde van sy aardse lewe toe so liefgehad dat Hy Homself vir haar gegee het sodat sy heilig en rein kan wees. Netso moet die man sy vrou soos sy eie liggaam liefhê, haar versorg en beskerm en, indien nodig, bereid wees om sy lewe vir haar prys te gee. Soos die gemeente hom deur Christus laat lei, so moet die vrou haarself aan die liefdevolle leiding van haar man toevertrou. God het die ewige huwelik ingestel en ons kry nou al ‘n voorsmaak van hoe die ewige huwelik sal wees met Hom as ons ewige Bruidegom (Efésiers 5: 22-33).
### “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê.”
As dit kom by die verantwoordelikhede en pligte van mans in hul huwelik, sien ons iets drasties anders as wat die wêreld ons wil laat glo. Mans word opgeroep om hul vroue lief te hê, soos Christus die kerk liefhet. Dit moet ‘n liefde wees waardeur hy homself volledig gee. Dit sluit reiniging in en gaan daarop uit om sy vrou te laat floreer, sonder enige vlek of rimpel (Efésiërs 5:27). Dit moet dus ‘n dienende liefde wees, en nie gesag wat die vrou oorheers of onderdruk nie.
Net soos Christus die hoof is oor sy Bruid, net so is die man aangestel as hoof oor sy bruid en huisgesin. Christus wys vir ons in Titus dat die man geestelik sy gesin moet lei en dat hy verantwoordelik is vir die groei in geloof en dieper kennis van ons Verlosser. Wat beteken dit egter? Hoe kan die man dit toepas in sy lewe? Eenvoudig deur dit in gebed aan die Here op te dra en ‘n lewende verhouding met Hom te soek. Deur gebed kan hy sy gesin aan die Here opdra en bid vir die nodige insig en leiding om sy taak te verrig. Ons lees in Genesis 25:21 dat Isak vir die Here gebid het, en Hy het sy gebed verhoor en Rebekka het swanger geword. Manne moet bid, en vir God vra dat Hy die gesin sal bly beskerm en bewaar. Ons kragte kom nie uit onsself nie en daarom moet die man op God bly vertrou en Hy sal hom lei.
Die man het nog ‘n belangrike rol in die huwelik gekry, naamlik voorsiener en beskermer. En in die rol is daar vier areas wat die man moet beskerm en voorsien, naamlik fisies, geestelik, emosioneel, en moreel.
Mans het ‘n natuurlike geneigdheid om hul gesin fisies te beskerm en te voorsien. 1 Timόtheüs 5:8 beklemtoon die belangrikheid, maar dit is nie al wat God van die man vra nie, hy moet ook vir sy gesin geestelik, emosioneel en moreel beskerm en voorsien. Wat beteken dit vir die man? Geestelike beskerming en voorsiening beteken dat die man alle sake na God moet bring, veral as hy dit nie self kan oplos nie. In plaas daarvan om kwaad of gefrustreerd te word met sy gesin, bring dit na God toe. Op hierdie manier bring die man stabiliteit in die gesin. In Kolossense 3:19 noem Paulus dat die man hul moet vrou liefhê, sagmoedig optree, en juis nie verbitterd, of emosioneel onstabiel wees nie. Dit word gedoen deur te luister, die vrou se gevoelens te erken en self te erken wanneer hulle verkeerd opgetree het. Laastens, is dit belangrik om die gesin moreel te beskerm en te voorsien. Soos in Efésiërs 5, moet die man die lig in die huis wees, self die voorbeeld wees en beheer wat in die huis toegelaat word, in terme van sosiale media, musiek, ensovoorts.
Dit is ‘n baie groot verantwoordelikheid en ook is dit na die sondeval nie meer natuurlik in die mens nie, daarom mag en kan hulle dit in gebed voorlê aan hulle Hemelse Vader, en vra vir wysheid en krag om ook hulle gesin so te bewaar en te voorsien.
### “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.”
Net so is daar in vandag se tyd baie geraas wat ons hoor oor hoe die wêreld die rol van ‘n vrou sien, maar wat leer die Skrif ons? ‘n Vrou moet bystand en ondersteuning bied aan haar man. Ons lees in Genesis 2:18-22, dat die Here vir Adam ‘n helper geskape het. Iemand wat hom bystaan en ondersteun in tye van swaarkry en nood. Die vrou is nie aangestel as bevelvoerder oor haar man nie, maar as ‘n helper vir hom. Die woord *helper* is nie heeltemal die regte vertaling van die Hebreeuse woord ‘*ezer’* nie. In Engels word die woord eerder vertaal met *ondersteuning, deel in vreugde*.
Verder, lees ons in Efésiërs 5:22 – 24 dat die rol van die vrou is om onderdanig te wees aan haar eie man, net soos die gemeente onderdanig is aan Christus. Dit is belangrik om te noem dat, net soos Christus gelyk aan die Vader is in die Drie Eenheid en nie minderwaardig nie, net so is die vrou ook gelyk aan haar man in belangrikheid - daar is bloot net ‘n verskil in rol en take. Haar huwelikstaak is anders ingestel as die van haar man. Sy word opgeroep om onderdanig te wees. Dit beteken dat die vrou gehoorsaam moet wees aan haar man vir so ver dit billik en volgens die wil van God is, en te weet dat Christus hom aangestel het as hoof oor haar. Die man is nie aangestel om misbruik te maak van die gesag wat aan hom gegee is nie, maar om sy vrou te dien. Daarom beteken dit dat hy haar belange in ag sal neem en altyd die beste vir haar sal soek. Dit is die mooi aan die oproep om onderdanig te wees. Indien die man sy gesag misbruik, is daar altyd ruimte om na die gemeenskap van die heiliges uit te reik vir ondersteuning, maar deur dienend jou roeping na te kom werk die Here in beide partye en mag daar selfs bekering en terugkeer kom.
In Titus 2:4-5, het die vrou nog ‘n taak gekry. Alhoewel dit weer bevestig dat die vrou onderdanig moet wees aan hul eie man, is dit ook belangrik dat die vrou die onderdanigheid aan jong vroue leer, sodat hulle in hul huwelike en lewe tot eer van God kan leef en hul taak so dienend kan vervul in sy Koninkryk.
### Die prag van Sy werk
Die huwelik skyn in sy volle prag as ons mekaar kan bystaan in tye van swaarkry, saam mag geniet van alles wat goed is, dienend mekaar se belange eerste stel en tekortkominge en sondes vergewe omdat ons weet dat Christus dit vir ons gedoen het. God het ‘n pragtige doel met die huwelik en as man en vrou is dit belangrik om dit nie uit die oog te verloor nie. Man en vrou moet in opregte liefde en heiligheid saamleef en, indien die Here hulle met kinders seën, hulle in die ware kennis en vrees van God opvoed sodat sy lof nog soveel ryker oor die aarde kan weerklink. Bid, hou vas aan God se beloftes, maak Hom die middelpunt van jou huwelik en vertrou dat sy seën op julle huwelik sal rus. God het immers man en vrou aan mekaar gegee, en daarom sal niks hulle in hierdie lewe van mekaar skei nie.
U kan gerus *The Meaning of Marriage* van Tim en Cathy Keller lees. Dit is ‘n waardevolle en insiggewende boek.
*Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville*
### “Do ut des” vs “Do quia dedit”
URL: https://olielamp.vgk.org.za/do-ut-des-vs-do-quia-dedit/
Last updated: 2026-09-09T17:00:26.000Z
**Lees:** Levitikus 1
*Do ut des*. Dit is ‘n latynse frase wat beteken “Ek gee sodat jy kan gee”. Die Romeine het hierdie antieke formule gebruik tydens hul offerdiens. Al het hulle nie geglo dat jy sommer ‘n god kon omkoop nie illustreer hierdie uitdrukking wel die tipe verhouding wat die Romeine met hulle gode gehad het – jy het offers gebring sodat die gode jou kon seën en dan kon jy weer groter offers bring, dus ‘n soort simbiotiese verhouding (Hellenic Faith, 2021).
In amper elke antieke kultuur het mense offers gebring. Elke volk het sy gode gehad, elkeen met sy/haar spesifieke vereistes vir offers. In die moderne era is offers glad nie meer so algemeen nie. Tot ‘n groot mate is hierdie verandering te danke aan die Christendom. Soos wat Christendom oor die wêreld versprei het, is die offerdiens orals afgeskaf. Die gevolg is dat die offers vir ons vreemd en outyds klink. Daar is selfs die gevaar dat ons onbewustelik begin aanneem dat die Ou-Testamentiese offers ook ‘n soort *do ut des* was – die volk wat God probeer tevrede hou deur offers te bring. Maar die Bybelse betekenis van die offers is radikaal anders. In vandag se oordenking let ons op die brandoffer vanuit Levitikus 1 en hoe dit eerder opgesom kan word met *do quia dedit* of te wel “ek gee omdat Hy gegee het”.
God se voorskrifte vir die brandoffer in Levitikus 1 begin met die woorde “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE 'n offer **wil** bring, **kan** julle jul offer bring van vee — van beeste of van kleinvee.”
God beveel nie: julle moet vir my ‘n offer bring nie. Nee, die brandoffer val juis in die kategorie van vrywillige offers. Dit stel ons dadelik voor ‘n belangrike vraag. Hoekom sou ‘n Israeliet ‘n bees of stuk kleinvee sommer net so heeltemal wou verbrand? Of dalk nader aan ons: hoekom sou ons uit ons besittings (of tyd) ‘n offer aan God wou bring?
Met die eerste oogopslag lyk dit asof die rede sou wees om God tevrede te stel, vers 3 sê immers “sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind”. Is dit dan tog *do ut des?*
Psalm 50 kan hier van groot nut wees: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (vers 9-15)
Gebaseer hierop sou dit net dwaas wees om aan te neem God het die offers nodig en daarom kan ons sy guns wen deur dit vir Hom te gee. Die psalmis sê daarom ook dat ons veel eerder God dank kan offer.
Ons sal dus verder moet lees in Levitikus 1\. Alreeds in vers 4 lees ons: “En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen.” Hierdie vers bring ons by die kern van die Brandoffer – versoening met God. En duidelik gaan dit nie hier oor ‘n mens wat sy skuld af betaal deur ‘n dier te verbrand nie, of iemand wat ‘n honger monster voer sodat hy nie self verslind word nie. Nee, die Here maak dit baie duidelik dat die offer self nie die versoening bring nie. Daar staan immers dat die offeraar sy hand op die offerdier se kop moet sit. Dit is ‘n baie duidelike beeld dat hierdie dier in sy plek sterf. Hiermee bely die offeraar dat **hy** in werklikheid moes sterf.
So hoe is dit dan moontlik dat daar versoening kan wees? Wel daar is net een moontlikheid: die offer wys heen na iets groters. Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat dit inderdaad heengewys het na Jesus Christus, die offer wat God self gebring het.
Die offers het tot in die fynste besonderhede op Christus gewys. Die offerdier moes volmaak sonder enige gebrek wees, Christus was volmaak, sonder gebrek en sondeloos. Die priester wat die bul geoffer het mog die vel hou (Levitikus 7:8), net so het die soldate wat Jesus gekruisig het sy klere gehou. Die brandoffer moes volledig verbrand word, so het Christus sy lewe volledig vir ons kom gee. Lees maar net wat staan daar in Hebreërs 10: “die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God” (vers 4-7).
Wat is die impak hiervan - vir die Israelite en vir ons vandag? Dit kan nie anders as dat offers slegs gebring word uit dankbaarheid vir wat God reeds vir ons gedoen het nie - *do quia dedit –* of met die woorde van1 Johannes 4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”
Hierdie wete dryf ons daartoe om ons liggame te stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer (Romeine 12:1). En wat is hierdie offer wat God van ons verlang? Dit is dank en eer (Psalm 50:14-15), dit is “'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart” (Psalm 51:19), en dit is weldadigheid en mededeelsaamheid, “want God het ‘n welbehae aan sulke offers” (Hebreërs13:16). Om nie eens te praat van die lofoffer van ons lippe (Hebreers 13:15) of ons gawes uit dankbaarheid vir God se voorsiening nie, want ook dit is deel van ons offerdiens, maar dit sal maar moet wag tot volgende week wanneer ons let op die spys- en dankoffers.
### Coram Deo
In die wonderlike verbond met God bring die volk nie offers om iets van God terug te kry nie (*do ut des*), maar veeleerder omdat hulle soveel van Hom ontvang het (*do quia dedit*). Dit is die heel duidelikste in Christus, Hy is die Een waarop die brandoffer gewys het. Hy het ons sondes op Hom geneem en sy lewe volkome vir ons opgeoffer. Deur Christus is daar nou versoening vir ons. Nou kan ons ook aan God ‘n welgevallige offer bring deur ons lewens aan Hom oor te gee. Volkome, met ons liggame maar ook met ‘n verslae hart, ‘n hart wat oorgegee is in totale afhanklikheid aan God.
### Gebed
Almagtige God, dankie dat U reeds die volmaakte offer eens en vir altyd gebring het (Hebreërs 10:14). Here, nou wil ek ook my liggaam as ‘n lewendige offer aan U gee. Maar Here, ek is nog so vol gebreke, daarom bid ek U: “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees” (Psalm 51:12) sodat my offer U welgevallig kan wees. Amen.
### Bronne
- Hellenic Faith. (2021). Sacrifice & Do ut des. Gelees September 06, 2026, vanaf Hellenic Faith: [https://hellenicfaith.com/do-ut-des/](https://hellenicfaith.com/do-ut-des/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Die troos van die doop
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-troos-van-die-doop/
Last updated: 2026-09-05T07:00:53.000Z
Die doop word vandag dikwels as ‘n openbare geloofsbelydenis en ‘n persoonlike besluit om Christus te volg beskou. Ons as gelowiges mag egter weet dat die doop veel meer inhou. Dit is die genadige werk van God en ‘n sakrament om ons geloof te versterk. Dit verseël God se verbond met ons. Alhoewel die doop vir ons so alledaags mag voorkom, moet ons besef dat dit ‘n heilige instelling van God is en met ‘n spesifieke rede aan ons gegee is. Laasgenoemde lei ons na die kernvraag van die artikel: Watter troos bied die heilige doop aan ons as gelowiges?
### Waarvandaan kom die doop?
Almal word in sonde gebore en deel in die verdoemenis van Adam. Deur God se genade het Hy egter ‘n weg gestel om weer in vrede met Hom te leef. In die Ou Testament was iemand wat aan God behoort het, deel van die ou verbond, en het die besnydenis as teken daarvan ontvang. In die Nuwe Testament het Christus self die doop ingestel om die besnydenis te vervang. In Matthéüs 28:19 gee Jesus die opdrag aan sy dissipels om te doop, naamlik: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees…” Jesus self is ook gedoop en as navolger van Hom, wil ons ook in sy voetspore volg.
### Wat beteken die doop vir my?
Net soos ‘n Herder sy skape merk, wil die goeie Herder, die Here, ons as sy kinders merk. Wanneer ‘n persoon dus gedoop word, dien die doop as ‘n teken en ‘n seël dat ons aan God behoort. Die water wat by die doop oor ons gestort word, dui daarop dat ons uiterlik van ons vuilheid skoongewas word. Ek, as gedoopte kind van God, word, daarmee saam, net so gewas met die bloed van Christus van my innerlike vuilheid - my sondes (Romeine 6:4a). So seker as wat die water my uiterlik skoonwas, so seker was Christus my hart skoon (Romeine 6:4b). Ons ontvang ook beloftes met die doop. Van die Vader se kant af beloof Hy dat ek deel is van sy genadeverbond en ‘n erfgenaam is van die ewige lewe. Die Seun beloof dat Hy my reinig van my sondes, en die Heilige Gees beloof dat Hy in my sal woon. Dit is dus ‘n onverstaanbare groot geskenk van God.
### Wat eis die doop van my?
God vra van sy gedoopte kinders om sy beloftes van versoening en gemeenskap met Hom aan te neem. Hy vra dat ons gehoorsaam aan God sal leef deur sy gebooie na te kom en dat ons Hom bo alles, met hart, siel en verstand sal liefhê. Alhoewel ek, as sondige mens, nie hierdie eis uit my eie kan nakom nie, beloof die Vader dat Hy sy Heilige Gees aan my gee om my hierin te lei.
### Watter troos bied die doop aan my?
Deur die doop word ons weer deur Christus as sy kinders aangeneem. Dit is ‘n nuwe en voller openbaring van God se ewige verbond. Dit is ‘n genadegawe en ‘n geskenk aan ons. Waar ons eers, as gevolg van ons sondige natuur, die gemeenskap met Hom verbreek het en as vyande teenoor God gestaan het, sien Hy ons nou, deur die versoenende werk van Christus, weer aan. Hierdie troos word deur God se genade aan sy kinders van alle ouderdomme gebied. In Handelinge 16:15 vind ons die voorbeeld van Lidia, die purperverkoopster, wat saam met haar hele huishouding gedoop is. Dit is dus duidelik dat God eerste na ons toe kom met sy genade, al kan ons dit nog nie verstaan nie.
Ons as mense kan so gou moedeloos met onsself en ons sondes raak. Dit kan ons verwyderd van God laat voel. Wanneer dit gebeur mag ons God se teken van die doop onthou en Hom dank dat ons deel van sy verbond mag wees. Dink terug daaraan dat God sy beloftes deur sy Woord aan jou bevestig en jou nooit alleen sal laat nie, want sy Gees woon in jou. Wees ‘n getuie van God se groot genade en liefde deur ander te vertel van die troos wat jy deur die heilige doop mog ontvang.
*Geskryf deur Liani Miske, VGK Maranata*
### Oorsig oor die Offerdiens
URL: https://olielamp.vgk.org.za/oorsig-oor-die-offerdiens/
Last updated: 2026-09-03T09:28:21.000Z
**Lees:** Hebreërs 9 &10
**Kernteks:** Levitikus 1:1
> “En die HERE het Moses geroep en met hom gespreek uit die tent van samekoms en gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle:”
Dit is hoe die boek Levitikus begin. Daar is geen inleiding, geen verduideliking van wat nou gaan volg nie. Die boek spring dadelik weg met dit wat belangrik is: die direkte opdragte van God. Ja, want die boek Levitikus sluit meer direkte woorde van God in as enige ander boek in die Bybel (van Wyk, 2023).
En tog is dit een van die boeke waaraan ons die minste aandag gee, wat ons soms selfs sommer oorslaan…
Sommige van ons voel miskien dit is alles tog net bedoel vir die Ou Testamentiese Israel, ander van ons voel dalk dit is te ingewikkeld om te verstaan en dalk is daar nog ander wat net voel daar is geen toepassing of boodskap vir hulle in hierdie boek nie.
Maar as dit inderdaad die boek in die Bybel is met die meeste direkte woorde van God, wie is ons dan om te besluit dat dit nie belangrik is nie? Sou God dalk 27 hoofstukke van die Bybel gemors het?
In 2 Timotheüs 3 lees ons: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (vers 16 en 17). En inderdaad Levitikus is deur God self geïnspireer met presies hierdie doel sodat “die mens van God volkome kan wees” of in die woorde van Levitikus self: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig” (Levitikus 19:2).
Die boek Levitikus is propvol raad en riglyne vir ‘n lewe saam met die allerhoogste God, asook heenwysings na die Verlosser en sy versoening vir ons. Ook vandag nog het dit ‘n diep en verrykende boodskap vir ons. In hierdie kort reeks wil ons spesifiek let op die verskillende offers. Die offers wat ‘n verhouding met God moontlik gemaak het. Die offers waardeur die volk hulle toewyding en dankbaarheid kon bewys op die manier wat vir God behaaglik is. En die offers wat ten diepste heenwys na Jesus ons verlosser.
Daar is vyf hoof tipes offers in die Ou Testament. Bestudeer die diagram hier onder om ‘n oorsig te kry van die verskillende offers, die doel van die offer, wat geoffer is en waar in Levitikus jy daarvan kan lees:

### Coram Deo
Die offerdiens was ‘n kritiese deel van die Ou Testamentiese godsdiensrituele. Vandag offer ons nie meer bulle, bokke of brode nie. Maar ons mag nogsteeds God ontmoet in die erediens. Deur die bloed van Christus het ons selfs baie meer direkte toegang tot Hom. In Christus is daar versoening vir al ons sondes (Markus 10:45, Romeine 5:8-10, Efesiërs 5:2, Hebreërs 9&10, 1 Johannes 4:10, ens.). Maar ons is nie net God alle dank en lof verskuldig vir sy versoeningswerk nie, maar ook vir sy voorsienigheid (HK Sondag 10 en verwysings). Uit dankbaarheid wil ons ons hele lewe stel as ‘n “aan God welgevallige offer” (Romeine 12:1).
### Gebed
Almagtige God, ons kom met groot eerbied voor U. Here, vandag mog ons meer leer oor die offerdiens, u direkte voorskrifte oor hoe U gedien wou word. Dankie dat U ‘n verhouding met ons wil bou, dat U die moontlikheid van versoening gee, dat U selfs u eie Seun geoffer het om vir ons sondes te betaal. Dankie vir u voorsienigheid in ons lewens, en dat ons in alles op U kan vertrou. Here, ook vandag wil ons weer ons sondes voor U bely, die sondes wat ons keer op keer weer doen en die waarvan ons nie bewus is nie, want ‘n gebroke hart en gans verslae gees, dit is u offers, Heer! Skep in ons ‘n nuwe hart sodat ons ook ons lewens as ‘n dankoffer aan U kan gee.Amen.
### Bronne
**Verdere lees stof*: Lees die voorskrifte vir die offerdiens in Levitikus 1-7*
- Van Wyk, C. (2023, Maart 31). *Levitikus 1*. Beskikbaar van Bybelskool: [https://bybelskool.com/levitikus-1/](https://bybelskool.com/levitikus-1/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Got Questions. (2026, Augustus 7)*. What were the various sacrifices in the Old Testament?* Beskikbaar van Got Questions: [https://www.gotquestions.org/Old-Testament-sacrifices.html](https://www.gotquestions.org/Old-Testament-sacrifices.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Die Sewende Gebod: Heiligheid in liefde en verhoudings
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-sewende-gebod-heiligheid-in-liefde-en-verhoudings/
Last updated: 2026-08-29T13:34:13.000Z
> “Jy mag nie egbreek nie.” (Exodus 20:14)
As iemand die sewende gebod noem dan dink ons heel waarskynlik direk aan wat ons in Exodus 20 lees: *Moenie egbreuk pleeg nie.* En dit is inderdaad wat die gebod verbied. Maar soos met die ander gebooie, is God se bedoeling meer as net die direkte daad wat genoem word. Die sewende gebod gaan oor die manier waarop God wil hê dat ons ons seksualiteit, ons liggame, ons huwelike en ons verhoudings moet gebruik.
Die sewende gebod leer ons nie net wat ons nie mag doen nie, maar ook hoe ons wel moet leef.
### Die huwelik is nie bloot ’n menslike instelling nie
Van die begin af het God die verhouding tussen man en vrou op ’n besondere manier ingestel. Genesis 2:24 sê:
> “Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
Die huwelik is dus meer as net ’n romantiese verhouding of ’n kontrak tussen twee mense. Dit is ’n besondere verbond waarin ’n man en ’n vrou hulle aan mekaar verbind.
Seksualiteit is daarom ook nie net ’n fisiese behoefte wat bevredig moet word nie. God het dit met ’n bepaalde doel geskape en dit binne die huwelik ’n besondere plek gegee. God verbied dus nie seksualiteit nie; Hy gee dit ’n plek, ’n doel en ’n betekenis.
Ons sien ook die huwelik in die manier waarop die Bybel God se verhouding met sy volk beskryf. En ook net sy volk, nie met ander volke nie. God is getrou aan sy verbond, selfs wanneer sy volk ontrou is. Die Bybel gebruik daarom dikwels huweliksbeelde om Israel se verhouding met God te beskryf.
Die huwelik wys uiteindelik ook vooruit na Christus en sy kerk. Paulus beskryf Christus as die Bruidegom en die kerk as sy bruid. Die huwelik het daarom ’n groter betekenis as net die geluk van twee individue.
### Die sewende gebod gaan verder as egbreuk
Jesus maak dit baie duidelik in die Bergrede:
> “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (Mattheüs 5:27-28)
Jesus skuif die fokus van meer as net die daad, Hy wys na die hart.
Iemand kan dus sê: “Ek het nog nooit egbreuk gepleeg nie,” terwyl sy gedagtes en begeertes voortdurend deur wellus beheer word. Dis waar die probleem begin. Dikwels al lank voordat die daad plaasvind. Dit begin in ons gedagtes, wanneer ons ‘n persoon nie meer sien as ’n iemand wat na die beeld van God geskep is nie, maar as iets waarmee ons ons eie begeertes mee kan bevredig.
Ons sien dit oral rondom ons - in die mense en op sosiale media. Ons leef in ’n kultuur wat selfbevrediging amper as ’n hoogste doel beskou: *"As dit my gelukkig maak, moet ek dit kan doen. As ek dit begeer, moet ek dit uitleef."*
Maar die eintlike vraag wat ons moet vra is: Is dit wat ek begeer, ook wat God van my vra?
### God bepaal hoe ons leef
Ons kan nie ’n toestel ontwerp en dit dan vir enige doel gebruik wat ons wil nie. Die vervaardiger bepaal waarvoor dit gemaak is.
Die sewende gebod verbied daarom nie net egbreuk nie. Dit roep ons tot seksuele reinheid en waarsku teen seksuele onsedelikheid, seksuele mishandeling, pornografie en wellus. Die beginsel bly dieselfde: ons seksualiteit behoort onder die heerskappy van God te staan, soos Hy dit bepaal het**.**
### Die positiewe kant van die gebod
Martin Luther het daarop gewys dat die negatiewe formulering van die Tien Gebooie ook ’n positiewe plig impliseer. Wanneer God sê: “Jy mag nie doodslaan nie,” beteken dit nie net dat ons die ander moet afbreek en seer maak, maar ook dat ons ons naaste se lewe moet beskerm en bevorder.
Dieselfde geld vir die sewende gebod.
“Jy mag nie egbreek nie” beteken nie bloot dat ons nie ons huweliksmaat moet verneuk nie. Dit beteken positief dat ons getrou, rein en eerbaar moet leef binne ons verhoudings.
Dit beteken dat ’n man sy vrou moet eer en ’n vrou haar man moet eer. Dit beteken dat ons nie ander mense vir ons eie seksuele bevrediging mag gebruik nie. Dit beteken ook dat ons binne die huwelik met liefde, selfbeheersing en respek moet optree.
Om getroud te wees beteken nie dat enige seksuele optrede daarom outomaties reg is nie. Liefde soek nie bloot eie bevrediging nie; liefde soek die welsyn van die ander persoon. Die sewende gebod beskerm daarom iets kosbaars: die heiligheid van die huwelik en die waardigheid van mense.
### Alles begin in die hart
Die groot uitdaging is dat ons nie bloot met uiterlike gedrag moet probeer klaarkom nie. Jesus neem ons terug na die hart.
Ons kan pornografie vermy en steeds deur wellus beheer word. Ons kan fisies getrou wees aan ons huweliksmaat en tog emosioneel ontrou wees.
Dit is waarom die stryd teen seksuele sonde uiteindelik nie net ’n stryd oor gedrag is nie. Dit is ’n stryd oor wat ons harte liefhet.
### Christus en die gebroke mens
Die sewende gebod wys vir ons hoe ver ons van God se volmaakte standaard af is. Dit ontbloot nie net die persoon wat fisies egbreuk gepleeg het nie, maar ook die persoon wat in sy gedagtes wellus koester, ander mense gebruik, sy huweliksmaat nie eer nie, of sy eie begeertes belangriker ag as God se Woord.
Daarom is die doel van die sewende gebod nie bloot dat ons bang moet wees om seksuele sonde te doen nie. Die doel is dat ons leer om God se goeie ontwerp vir ons seksualiteit te waardeer en te eer.
### ’n Heilige lewe in ’n onheilige wêreld
Die wêreld rondom ons sal aanhou om vir ons te sê dat vryheid beteken om elke begeerte uit te leef. Die sewende gebod leer ons egter dat ware vryheid nie daarin lê om slawe van ons begeertes te wees nie. Ware vryheid is om te kan leef soos God ons geskep het om te leef.
Die vraag is daarom nie net: “Wat mag ek doen?” nie, maar:
*“Hoe kan ek met my liggaam, my gedagtes en my verhoudings God verheerlik?”*
Ons liggame behoort nie aan onsself nie. Ons behoort aan Christus.
*Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria*
### Moet nie net rympies opsê nie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moet-nie-net-rympies-opse-nie/
Last updated: 2026-08-29T13:53:19.000Z
> *“Bid sonder ophou.” (1 Thessalonicense 5:17)*
Van tyd tot tyd kom elke persoon in gesprek met ander persone. Party dae kom ‘n mens meer mense teë as ander dae en party mense is ook meer geneig om met ander ‘n gesprek te begin. Baie van hierdie gesprekke laat nie ‘n groot indruk op jou nie en jy vergeet dalk daarvan ná ‘n paar minute. Ander gesprekke word weer as belangrik beskou. Kan party gesprekke dan as belangriker as ander beskou word? Ja, jou gebed tot God is die belangrikste gesprek van jou dag.
### Hoekom moet ek bid?
Deur gebed versterk jy jou verhouding met God. Gebed is ‘n toevoerlyn tussen jou en God. Mense dink dat God tog alles weet en daarom voel die gebed vir hulle onnodig, maar dit is juis ‘n voorreg wat ons van Hom ontvang het. Dit moet nie gesien word as iets wat ons móét doen nie, maar as iets wat jy mag en kan doen. Dit is ‘n manier waarop ons met God kan praat en vir Hom vertel wat in ons harte en lewens aangaan. Ons moet nie net bid wanneer ons iets nodig het nie, maar kan eenvoudig voor etes of by enige geleentheid met Hom praat. Só kom ons in diepe verbintenis met God.
In vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus staan dat gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. Dit is dus noodsaaklik vir ‘n Christen om te bid.
> “*terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges*” (Efesiërs 6:18)
Die gebed vorm deel van die wapenrusting van God en is daarom ‘n manier om teen die aanslae van die duiwel te veg. Sorg dat gebed jou *first line of defense* is in plaas daarvan om dit as ‘n laaste uitweg te gebruik wanneer alles anders nie gewerk het nie. God beveel ons in Filippense 4:6-7 dat ons nie bekommer of angstig moet raak nie, maar om in alles, met gebed en smeking, en met danksegging, ons versoeke aan Hom bekend te maak.
### Hoe moet ek bid?
Daar is baie mense wat met gebed worstel. Jy sukkel dalk om voor ander mense te bid of is bang dat die regte woorde nie betyds in jou kop gaan kom nie. Moedeloos dink jy dalk: Ek weet nie hoe nie…
> “*En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge*.” (Romeine 8:26)
Die Heilige Gees tree vir ons in omdat ons swak en afhanklik van Hom is. As ons die Heilige Gees vra om ons te help bid, dan sal Hy ons leer om ooreenkomstig die wil van God te bid.
Vraag en antwoord 117 van die Heidelbergse Kategismus verduidelik hoe ‘n gebed moet wees wat God behaag en deur Hom verhoor word. Ten eerste moet ons net tot die enige ware God, en nie deur ander middele of beeldjies nie, bid. Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg ken. Sondag 45 vorm deel van die derde deel van die Heidelbergse Kategismus - die deel wat handel oor die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is. Sonder om eers ons sondes en ellendes te ken en hartlik berou daarvoor te hê, kan ons nie verstaan hoe ‘n groot geskenk Christus se kruisiging is en dankbaar daarvoor wees nie. Ten derde moet ons vas glo dat ons gebede ter wille van Christus sekerlik verhoor sal word, soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.
Ons kan gerus wees omdat die Heilige Gees ons altyd in ons gebed sal korrigeer en help. Dit is omdat Hy wil hê dat ons volgens God se wil moet bid. Die Heilige Gees tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
### Die Onse Vader
> “*EN toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.*
> *En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê:”* (Lukas 11:1)
Nie **as** julle bid nie, maar **wanneer** julle bid.
Die dissipels het erken dat hulle nie weet hoe om te bid nie, en daarom vir Jesus gevra om hulle te leer. Ons lees in Lukas 11:2-4 en in Matthéüs 6:9-13 van die gebed wat Christus vir die dissipels geleer het. Die gebed dien as ‘n model wat riglyne bied waarop ons moet fokus in ons eie gebede. Dit bestaan uit ses bede.
Begin jou gebed deur op God te fokus en Hom te loof en prys en te dank vir alles wat Hy doen. Bid vir die uitbreiding van die koninkryk van God - dat die kerk mag groei en bewaar word. Bid vir dinge wat jy nodig het - omdat God die bron is van alles wat goed is. Tree ook in vir ander mense en bid vir hulle behoeftes. Erken dat jy weer gesondig het en aanvaar die vergifnis deur Christus. Bid ook dat Hy jou sal help en bewaar teen die werke van die duiwel. Eindig jou gebed deur weer op God te fokus.
Ons kan ‘n troos vind in die wete dat wanneer ons bid, ons woorde nie vir ander bedoel is nie. Ons hoef nie groot woorde te gebruik of intellektueel te klink nie. Wat ons sê, is vir God se ore bedoel. Hoe bid ek dag en nag? Met nederigheid, volgens sy Woord en met ‘n opregte hart en begeerte om sy wil te doen.
*Geskryf deur Iwan Sterk, VGK Pretoria*
### “The Greatest Rivalry” - Groter as wat jy dink
URL: https://olielamp.vgk.org.za/the-greatest-rivalry-groter-as-wat-jy-dink/
Last updated: 2026-08-22T07:00:05.000Z
Vandag skop ‘n geskiedkundige toetsreeks tussen die Springbokke en die All Blacks af om 17:10 in Johannesburg. Albei spanne lyk sterk en dit blyk ‘n groot kragmeting te wees. In 1921 het hierdie twee spanne vir die eerste keer teen mekaar gespeel en sedertdien was daar nie ‘n groter wedstryd as wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland hulle beste spelers teen mekaar laat speel nie. Tog is hierdie reeks genaamd *Rugby’s Greatest Rivalry* relatief klein, en nie so groot soos wat die naam sê nie. Laat ek verduidelik.
Sport, en veral rugby, het enorm groot geword in ons land, veral die afgelope 7 jaar sedert die Bokke die eerste keer in 12 jaar die Wêreldbeker huistoe gebring het. Dit was so ‘n groot opwinding vir ons land waar mens juis voel ons kan nie wen nie. Wat dit nóg ‘n groter hupstoot gegee het, was om in 2023 as verdedigende kampioene wéér die *Web Ellis Cup* huis toe te bring. Voor 2019, egter, was ons maar stil en eintlik negatief oor die Springbokke. Hulle het net aanhou sukkel. En dit het nie na baie gelyk in ‘n land waar woorde soos moord, bendegeweld en verkragting elke tweede nuusberig se opskrif ingevul het nie.
Die Springbokke wat so begin wen het, het ons land ‘n idee van hoop gegee. Die vraag is: Wat gaan gebeur as hulle verloor? As Rassie nie meer daar is nie, ons sportsterre se loopbane verby is, wat gaan ons gelukkig kan maak? Dan moet ons na die titel van die reeks kyk, en besef dat dit werklik net Rugby se grootste stryd is. Die stryd om lewe is baie groter, en duisende jare ouer as ‘n rugbywedstryd op die kalender.
> “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12)
Ons het drie groot vyande: Die duiwel, die wêreld, en ons eie sondige natuur. En hierdie drie saam is ‘n baie sterk span wat veg om ons lewens te verwoes. Hoe kan jy so ‘n span spelers keer? Juis as jy self deel is van hulle. Niemand sal so ‘n stryd halfhartig kan baasraak nie.
Dit voel asof ons slegte hoofopskrifte in die koerant net nie kan vryspring nie. Naderhand voel dit dat ons versmoor word in ons eie land se geweld en politiek. Waar is die einde daarvan? Ek het onlangs iemand hoor sê: “Die lewe is ‘n donker tonnel, maar Jesus is die lig aan die einde van die tonnel.”
Ons sonde en die dood bly dinge wat ons gewoon nie kan oorwin nie. Ons het die Messias nodig, Jesus Christus wat die stryd vir ons gestry het. Hy, die Seun van God self, het aarde toe gekom en deur sy hele lewe hier op aarde gely. Ons kan soms dink dat dit vir Hom niks was nie, want Hy is mos God? Maar omdat Hy die Seun van God is, is Hy nie afgestomp teen die sonde en ellende in die wêreld nie. Sy gevoel van God se toorn oor die bose op aarde was skerper as enige een van ons s’n.
Maar sy lyding was veral erg aan die kruis toe Hy daar ons sonde gedra het. In sy liefde het Hy daar gehang. Dis nie die spykers wat Hom daar gehou het nie maar sy troue liefde. Hy het die stryd hel toe gevat. Omdat Hy sonder sonde was en die krag van God gehad het, kon die dood Hom nie daar hou nie. En Hy het opgestaan. Hy het die oorwinning behaal.
Maar soos ons reeds genoem het, is die ellende steeds daar. Die oorwinning is behaal, maar die stryd is nog nie verby nie. Vandaar dat Paulus sê wat hy gesê het in Efesiërs 6:12\. Dis hoekom Jesus nie die stryd daar gelaat het nie. Hy het sy Heilige Gees oor ons uitgestort om ons geloof te gee. Die krag wat Jesus uit die dood laat opstaan het, lewe nou in die gelowige se hart.
Glo jy in Hom? Glo jy dat Hy die stryd oorwin het? Glo jy dat Hy vir jou sodoende die ewige lewe gegee het en dat Hy gaan terugkom om sy kinders huis toe te neem?
Trek daarom die geloofsklere aan: die volle wapenrusting van God (lees gerus [hier](https://olielamp.vgk.org.za/tag/wapenrusting-van-god/) ‘n reeks onlangse oordenkings daaroor). Daarmee kan jy volhard in die geloof en in afhanklikheid van Jesus Christus lewe. Gee jouself oor aan die heerskappy van Jesus Christus. Hy is die een wat gaan terugkom as die Ruiter op sy wit perd. Al ons vyande gaan neergevel word. En ons gaan in ewige vrede met Hom lewe, aan die boesem van ons hemelse Vader.
Dis mooi om te sien hoe die spanne tot dusver in hierdie toer na hulle wedstryde gebid het. Mag dít ons perspektief bly. Laat ons nie gefokus bly op rugby nie, maar laat ons ons gedagtes rig na bo, na daar waar Christus is (Kolossense 3:1). Môre mag ons weer in sy (en ons) Vader se huis bymekaarkom om die evangelie van Christus te hoor. Hy is die uiteinde van die lewe. Dáár is jou lewe veilig en saam met Christus verborge in God (Kolossense 3:2). In Hom wag daar vir ons ewige heerlikheid.
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville*
### Oë toe en hande omhoog in die stryd
URL: https://olielamp.vgk.org.za/oe-toe-en-hande-omhoog-in-die-stryd/
Last updated: 2026-08-19T19:30:08.000Z
> *“*terwyl* julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees,*
> *en juis daartoe *waak* met alle volharding en smeking vir al die heiliges*
> *en vir my,*
> *sodat 'n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak,*
> *waarvoor ek 'n gesant is in kettings,*
> *sodat ek daarin vrymoediglik mag spreek soos ek moet spreek.” (Efesiërs 6:18-20)*
Op die oog af is ons van kop tot tone gereed vir die geestelike stryd. Maar, soos ‘n speelgoed soldaatjie geen krag in homself het om homself te verdedig nie, so staan ons ook, met wapenrusting en al, nog sonder krag in die militêre basis. Vers 10 sê dat ons “kragtig moet word in die Here en in die krag van sy sterkte”, waarna die wapenrusting van God aan ons voorgelê word in vers 11-17\. Met hierdie krag kan ons die geestelike stryd betree, maar hoe kry ons die krag?
In die vorige oordenking het ons gekyk na die swaard van die Gees wat ons op ons moet neem (vers 17). Met dit in gedagte vervolg vers 18 dan dat **terwyl** ons die helm van verlossing en die swaard van die Gees op ons neem, moet ons **bid**, *in die Gees*. Soos ons in die militêre basis gereed staan, is die adrenalien hoog: ons is ten volle toegerus, maar in ons koppe sien ons al pyle vlieg, *testudo*\-formasies vorm, en tweesnydende swaarde reflekteer in die son. En dan hoor ons die Bevelvoerder sê: “julle is nou ten volle toegerus, maar wat julle ook al doen in hierdie geestelike stryd, bid”. Die totaliteit van sy woorde maak die bevel nog meer gewigtig: met alle gebede, by elke geleentheid, met alle volharding, vir al die heiliges. Die laaste bevel dra gewig: dit fokus ons adrenalien op die belangrike en gee ons krag om die stryd aan te pak.
Ons kan hierdie stryd nie alleen aanpak nie. Soos ons in die opbou na hierdie oordenking gesien het, is daar min wat ons uit onsself kan doen om staande te bly. Gebed, wat ‘n persoonlike gesprek en kommunikasie tussen die soldate en God is, is dus van noodsaaklike belang om staande te kan bly. Ons besluitneming, beweging, en beskerming benodig deurlopende kommunikasie met ons Bevelvoerder. Hierdie lyn van kommunikasie is dus nie net ‘n nuusberig nie, maar ook ‘n volle vertroue dat die Bevelvoerder die regte besluite sal maak vir ons in hierdie stryd. Hoe lyk jou lyn van kommunikasie?
In die hedendaagse lewe het ons slegs kontak met die regering as ons probleme het: paspoorte en lisensies word hernu, huwelikskontrakte word ingedien, bouplanne word gekeur, eiendomme word geregistreer, of belasting word betaal. Die voorbeeld klink dalk irrelevant, maar bestaan jou gebedslewe ook miskien uit ‘n tou van selfgesentreerde versoeke? Eentonig, koud, en sonder ‘n verhouding met die Persoon aan die ander kant?
Ons bid nie net tot God wanneer ons iets nodig het nie. Gebed is die natuurlike voortvloeiing van ‘n lewe wat geleef word in afhanklikheid van God - ‘n verhouding met Hom. Anders as ‘n koue regeringsgebou, is die troonsaal van God warm en aangenaam vir die wat in die Gees tot Hom nader (HK Sondag 45). Maar daarvoor moet ons die Een ken tot wie ons nader, want hoe kan ons bid tot ‘n onbekende God (Handelinge 17:23)? As ons sukkel om te bid, lê die probleem nie in hoe ons bid, wanneer ons bid, of hoe baie ons bid nie, maar eerder in ‘n dieper probleem: in ons verhouding met God.
Paulus skryf dat ons met alle gebed en smeking moet bid - nie slegs eentonige versoeke nie. In die Ou Testament was offers een van die belangrike maniere waarop God se volk tot Hom genader het. Daar was brandoffers, spysoffers, dankoffers, sondoffers, skuldoffers, en drankoffers (vgl., Levitikus 1-6 en Numeri 15:1-10). In die Nuwe Testament het Christus as die volmaakte Versoeningsoffer gedien (Romeine 3:25) sodat ons tot God kan nader in gebed (Romeine 8:15-17). Gebede van belydenis, dankbaarheid, skuld, worstel, boetedoening, omgee, en voorbidding vorm deel van die Christen se gebed tydens die stryd! Ons gebede mag dalk deur ons verbeelding en kleingelowigheid ingeperk word, maar deur die Woord kan die omvang van ons gebede vergroot word (vgl. Johannes 17, Mattheüs 6:9-13, en verskeie Psalms).
Tydens die stryd gaan ons onsself gereeld bevind onder verskillende situasies. Soms is ons deel van die *testudo*\-formasie, ander kere is ons op onsself. Om by elke geleentheid te bid keer dat ons moed verloor (Lukas 18:1) - dit behou ons perspektief. Wanneer ons dus die kommunikasielyn tussen ons en ons Bevelvoerder lewend hou deur by elke geleentheid sonder ophou te bid vir sy genade en Hom daarvoor te dank, mag ons krag kry by Hom om staande te bly in die stryd (Jesaja 40:31).
Die Bevelvoerder bepaal ook hoe hierdie kommunikasie moet plaasvind, naamlik dat ons moet bid “in die Gees”. Net soos die hart-verstand verbintenis in vers 16 en die Woord-Gees verbintenis in vers 17, sien ons hier ook ‘n onafskeibare verbintenis tussen die Gees en gebed. Omdat die Gees ‘n noue verbintenis met die Woord het, vloei gebed in die Gees dus uit die Woord, waardeur ons leer om die wil van God vir ons lewens te soek. Ons bid nie altyd “in die Gees” nie - ons gebede word soms meer gevorm deur eie sondige begeertes as deur God se Woord en wil. Om te bid in die Gees bring ons terug na die swaard van die Gees sodat ons gebede in die Woord gegrond is.
Deur by elke geleentheid te bid, kan ons waak met volharding in hierdie stryd, juis om staande te bly (vers 14). Wanneer die Bevelvoerder sy laaste bevele gegee het, hardloop ons nie in die veld in en begin veg nie, maar ons waak eerder. In die tuin van Getsemane het Jesus vir sy dissipels gesê om te waak, sodat hulle nie in versoeking kom nie (Mattheüs 26:41).
Jesus het ook vir sy dissipels gebid. In Johannes 17 bid Hy dat God Hom sal verheerlik (vers 1-8). Hy bid vir sy dissipels: vir eenheid (vers 11 en 21), vir bewaring (vers 12 en 15), vir blydskap (vers 13), vir heiliging (vers 17) en vir aanskouing van sy heerlikheid (vers 24). So bid Paulus ook gereeld in sy briewe vir sy medegelowiges (vgl., Romeine 1:9-10 en Filippense 1:4) en beveel nou ook in vers 18 dat ons vir al die heiliges moet bid. Paulus vra daarom ook dat die gemeente van Efese vir hom sal bid sodat hy self ook staande sal kan bly in die stryd en met vrymoedigheid sy roeping sal kan uitvoer. Bid daarom vir jou medegelowiges in hul roeping, bid vir die vervolgde kerk en bid vir die groeiende kerk dat hulle Skrifgetrou mag bly!
### Coram Deo
Op hierdie oorlogsveld, in die stryd teen die Bose, word ons deur die krag en die wapenrusting van God versterk om te waak teen die versoekinge. Die wapenrusting van God gord ons lewe met die Waarheid, beskerm ons hart, gee ons die vrymoedigheid om vas te staan in die Waarheid, versterk ons geloof deur Christus se getrouheid aan ons, laat ons uitsien na die volkome saligheid, weer die Bose af, en reinig ons lewens. Met die wapenrusting van God aan word ons nie onafhanklike soldate nie, maar dit bring ons juis na ons knieë in volle afhanklikheid van ons Verlosser, wat reeds die stryd oorwin het, uit dankbaarheid vir sy verlossingswerk aan die kruis.
### Gebed
Ons almagtige God en Vader wat in die hemele is. In die geestelike stryd waar ons onsself bevind, dank ons U vir die genade wat U aan ons bewys het dat ons u kinders genoem mag word. Ons dank U dat ons tot U mag nader met die wete dat U alles ten goede sal laat meewerk. Ons bid of U ons harte wil reinig en ‘n gewillige hart gee sodat ons in u Waarheid mag lewe. En so wil ons U ook vra of U ons ook die vrymoedigheid sal gee om vas te staan in die Waarheid, bereid om verantwoording te doen oor die hoop van die saligheid wat in ons is. Ons vra U of U ons medegelowiges in hul roeping wil seën dat ons as lede van die liggaam in U koninkryk mag dien. Wil U ook wees met die vervolgde kerk, wil U haar bewaar teen die pyle van die Bose. Wil U so ook wees met die groeiende kerk, dat die Woord sentraal mag staan in die gemeentes. Versterk ons met die krag van u sterkte sodat ons mag staande bly in die dag van stryd! Amen.
### Vir verdere lesing
- Heidelbergse Kategismus Sondag 45 gaan oor die gebed, hoekom dit nodig is vir Christene en hoe so ‘n gebed moet lyk.
- The Whole Armor of God (bl. 103-117) deur Ian M. Duguid brei uit oor onverhoorde gebede, die sukkel om te bid, en hoe ‘n verhouding met God die fondament van ‘n gelowige se gebed is.
- Johannes 17 - Christus se gebed vir sy dissipels
### Bronne
- Efesiërs 6:18 | Met gebed in die Gees kan die gewapende soldaat staande bly | Ds. HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/vC3SG7nkjCg?si=bneY8j7z22aJJ58n&t=2401&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 103-117). Crossway.
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Hoe weet ek wat my gawes is? En hoe kan ek dit gebruik in die gemeente?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-weet-ek-wat-my-gawes-is-en-hoe-kan-ek-dit-gebruik-in-die-gemeente/
Last updated: 2026-08-29T11:12:21.000Z
In die kerk word daar gereeld gepraat oor gawes. Wanneer jy jou geloof bely, bely jy ook om jou gawes te gebruik. Maar wat is jou gawes werklik? Jy mag dalk dink dis jou talente, soos sport of jou stokperdjies. Alhoewel dit ook van God af kom, is dit nie noodwendig gawes nie. Gawes is geestelike gawes wat God skenk met ‘n baie spesiale doel, naamlik om God en sy gemeente daarmee te loof en te prys, tot eer van God se koninkryk.
In 1 Korinthiërs 12 lees ons dat almal verskillende gawes ontvang het uit dieselfde Gees:“Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees” (vers 4). Daar is ook verskillende bedieninge, maar tog is dit dieselfde Here (vers 5). Almal kry verskillende gawes, soos kennis, genadegawes van gesondmaking (versorging van siekes), die vermoë om te profeteer, die uitleg van tale (verkondiging van die evangelie) (verse 7-11). Gawes kan wyd strek - van jou werk as voorsitter van ‘n komitee, kosmaak vir ‘n lidmaat of bystand verleen tydens ‘n moeilike tyd. As ‘n ware gelowige sien ander die vrug van die Gees in jou gedrag en voorkoms, en met jou gawe verkondig jy die Woord met ‘n gesindheid wat die vrug van die Gees weerspieël.
Hoe weet ek wat my gawe is? Jou gawe gaan jy nie noodwendig dadelik weet nie. Dit is soos saad wat groei: jy groei en so ook jou geloof en daarin ontdek jy jou gawe. Dit sluit ook aan met wat Paulus vir Timόtheüs sê: "geniet jou jonkheid". Groei en ontdek en gebruik dit dan om God en sy koninkryk daarin te dien. Jy moet jouself keer op keer ondersoek en nadink oor wat jou gawes is en daarin groei. Efesiërs 4:12 gee ‘n rede vir die verskillende ampte of gawes: “Om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk.” Die gelowiges moet nou toegerus word vir hulle diens binne die kerk. Die Woord staan sentraal in hierdie opleiding.
Hoe gebruik ek dit in die gemeente? In Romeine 12:5 staan daar: “So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.” ‘n Liggaam kan net ten volle funksioneer as almal saamwerk, maar ook elkeen afsonderlik. So ook werk ons saam as diensknegte in God se Koninkryk tot opbou van sy gemeente, maar ook elkeen afsonderlik met sy of haar gawes. Ons sien ook as voorbeeld in Nehemia 3, met die opbou van Jerusalem, hoe almal saamgewerk het, maar ook elkeen afsonderlik.
Ons moet daarop gerig wees om al die verskeidenheid gawes in die gemeente te gebruik, vir een doel, naamlik die opbou van Christus se Koninkryk. Paulus dui ook aan in 1 Korinthiërs 12 hoe belangrik dit is om die genadegawes wat lidmate ontvang het, raak te sien en dit ook te gebruik.
Ons lees in Romeine 3:27 dat jy nie moet roem in jou eie dade nie. Dit mag dalk klink of dit beter is om liewers niks te doen nie. Om eerder passief te wees in my godsdiens en te waak teen eie roem. Die Bybel leer ons egter dat ons lewens offers kan wees wat God aanvaar tot sy eer. Ons kan weet dat ons lewens en gawes sinvol is as ons werklik ons lewens en gawes kan gee tot God se eer. Hierin leer ons dat ons ons gawes gebruik om God te eer en nie vir eie roem of om mense te eer nie. ‘n Gawe mag ook nooit gebruik word op ‘n wyse wat teenstrydig met die Bybel is nie.
Laat ons nou almal, jonk en oud, ons gawes gebruik tot die eer van God en Christus se koninkryk. Laat ons ook ‘n seën vir ander wees en mekaar ondersteun in ons diensplig as gelowiges en as gemeente - tot opbou van die Hemelse Koninkryk.
*Geskryf deur Inamarie Kamphuis, VGK Maranata*
### In die stryd met ‘n kragtige wapen
URL: https://olielamp.vgk.org.za/in-die-stryd-met-n-kragtige-wapen/
Last updated: 2026-08-17T13:46:35.000Z
> *“En neem aan…die swaard van die Gees — dit is die woord van God” (Efesiërs 6:17)*
In die beskrywing van die wapenrusting van God is die swaard van die Gees die enigste wapen wat ons op ons moet neem. Hierdie wapen word aan ons gegee om aanvallend in die geestelike stryd teen die Bose te staan. Die Griekse woord vir “swaard” in vers 17 dui op ‘n korter swaard. Ons enigste wapen is daarom nie bedoel vir langafstand teikens nie, maar eerder vir ‘n direkte geveg wat naby is. Ons vyand probeer ‘n gaping in die borsplaat, die skild op die verkeerde posisie, en die helm op die grond te kry. Hierdie vyand is dus nie net ‘n geluid in die verte nie, dis ‘n realiteit vir ons. Hoe weer ons hierdie vyand af met die swaard?
### Die Woord van God as die swaard van die Gees
Voor ons kyk na die funksies van die swaard, kyk ons eers na die tipe swaard wat ons op ons moet neem. Paulus skryf in vers 17 dat die swaard aan die Gees behoort. Hy skryf verder ook dat dit die woord van God is. Die Gees en die Woord word dus hier aan mekaar verbind. Soortgelyk aan die hart-verstand verbintenis met die helm van verlossing (vers 16) is die Gees en die Woord ook onafskeibaar. Die Woord is nie ‘n “swart-op-wit boek wat ‘n paar geskiedenisverhale bevat” nie, maar die Woord is lewend deur die Heilige Gees wat dit geïnspireer het (2 Petrus 1:21). Die Heilige Gees as uiteindelike Outeur van die Woord help ons met die verstaan van die Woord. Deur die swaard van die Gees kan ons die Woord nuttig tot onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om toegerus te wees in die stryd (2 Timotheüs 3:16).
### Die swaard teen die Bose
*“Is dit ook so dat God gesê het…?”*
Die vrae, wat Satan aan Eva in die paradys gevra het, kan inslag kry in ons eie lewens, byvoorbeeld:
- “Het God rerig gesê dat jy nie op Sondag mag werk nie? Sondagaand na kerk is die Sondag tog verby?”
- “Hoekom sal God jou beveel om tiendes te gee - is dit nie miskien veiliger om jou versekeringspolisse te versterk nie?”
- “Kan jy nie sien dat Christene nie tuis voel hier op aarde nie - hoekom sal jy wil vashou aan ‘n paar ou tradisies?”
Watter antwoorde sal ons hierop hê sonder ‘n vaste fondasie van waarheid en sonder ‘n wapen om hierdie Satansvrae af te weer?
> *“Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek” (Jesaja 49:2)*
Ook Satan het Jesus nie alleen gelaat nie. Toe ons Verlosser in die woestyn was rig Satan strategiese versoeke aan Hom:
- “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.”
- “As U die Seun van God is, spring van die dak af, want die engele sal U dra.”
- “As U neerval en my aanbid, sal ek al die koninkryke van die wêreld aan U gee.”
Maar, op al drie aanvalle van Satan, antwoord ons Verlosser met “Daar is geskrywe…” (Mattheüs 4:1-11). Christus druk die swaard van die Gees in die buik van die slang deur die Woord te gebruik. In reaksie daarop laat die duiwel Hom staan (vers 11). Hy, ons volmaakte Voorbeeld, wys ons die effektiefste manier om Satan se slinkse stellings en vrae af te weer: die swaard van die Gees. Wanneer ons versoek word om oneerlik te wees in ‘n eksamen, ander te haat wat ons seergemaak het, of gesag te ondermyn deur terug te praat, dan kan ons Satan en sy versoekinge afweer met die Woord. Lees daarom die Woord van God, [memoriseer teksverse](https://olielamp.vgk.org.za/memorisering-van-tekste-elke-dag/), verdiep jouself daarin en soek medegelowiges op om saam die Bybel te bestudeer sodat daar ‘n wolk van getuies gereed staan teen die versoekinge (Hebreërs 12:1).
### Die snoeiskêr van die Gees
Hierdie afwering van Satan deur die swaard sny die werke van die vlees weg: *owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery, en dergelike dinge* (Galasiërs 5:19-21). Terselfdertyd bring die afwering ook vrugte van dankbaarheid voort, naamlik die vrug van die Gees: *liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing* (Galasiërs 5:22).
Maar, in die druk van die samelewing plaas gelowiges gereeld hulle energie in aardse dinge en moeites en vergeet van die belangrike dinge in die lewe. Ons word afgelei deur bekommernisse, jaloersheid, en haat - so verloor ons perspektief om in die lig van God se nabyheid te lewe.
> *“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.” (Johannes 15:2)*
Soos ons perspektief verloor in hierdie stryd, word ons vaal en vrot. Dis dan wanneer die Landbouer ons deur sy Woord en Gees snoei dat ons weer perspektief kan kry en volop vrug kan dra in hierdie stryd. Maar, die swaard van die Gees het ‘n dieper inslag vir gelowiges, een wat deurdring tot die hart.
### Die skalpel van die Gees
> *“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” (Hebreërs 4:12)*
Die Woord van God is lewend. Hierdie swaard word nie net gebruik om Satan af te weer of om ons te snoei sodat ons weer vrug kan dra nie, maar ook om met ‘n skalpel (‘n skerp chirurgiese mes wat gebruik word vir operasies) tot die diepste van ons hart te sny. Na Petrus se toespraak op Pinkster was die skare “diep in die hart getref” (Handelinge 2:37). Die skalpel van die Gees oortuig die mens van sonde, van geregtigheid, en van oordeel (Johannes 16:8). Wanneer die Gees in ons lewe werk deur wedergeboorte, bekering, regverdigmaking, en heiligmaking, dan is dit ‘n stryd, ‘n pyn vir ons - dit laat ons harte bloei as die gewas van die sonde uitgesny word. Voel jy soms ‘n diep pyn in jou as ‘n preek of ‘n medegelowige jou aanspreek? Moenie kwaad of verdedigend raak as hierdie skalpel van die Gees jou hart sny nie, want die Gees gebruik juis hierdie skalpel om jou te heilig!
Om ‘n Christen te wees beteken dat ons nie meer op ons eie goeie werke staatmaak nie, want hierdie swaard sny dieper as ons voorkoms voor ander. Hierdie skalpel mis nie die gewas van selfverheerlikende Bybellees sodat ander mense dit kan sien nie. Dit mis nie die gewas van valse liefde aan ons vrou, familie, kinders, en kerkgemeenskap om ‘n positiewe en trotse selfbeeld uit te straal nie. Dit mis nie die gewas van ywer in die kerkgemeenskap sodat ons in aansien is by ons medegelowiges nie. Nee, die Gees sny deur tot die diepste kamers van ons hart en reinig ons van die sondes sodat ons, as Christene, ons lewens van harte kan rig tot God.
### In die stryd met ‘n kragtige wapen
Met die kragtige swaard van die Gees in ons hand kan ons die Bose met die swaard afweer. Die snoeiskêr bring ons lewe weer in perspektief sodat ons kan vrug dra in hierdie stryd. Die skalpel haal die gewasse uit die diepste van ons hart. Hierdie drie funksies van die swaard wys hoekom dit ‘n onmisbare wapen is in hierdie geestelike stryd.
> *“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.*
> *En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.*
> *En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.*
> *En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.*
> *En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.*
> *En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.” (Openbaring 19:11-16)*
Die vooruitsig vir ons is dat ons eendag die Woord van God self gaan sien op ‘n wit perd met ‘n skerp swaard in sy mond. Christus reinig ons om te stry teen versoekinge van die wêreld, ons eie sondige vlees, en Satan. Laat die Gees deur die woord van Christus ryklik in jou woon (Kolossense 3:16), ervaar daarmee saam die genadige werking van die Woord wanneer jou hart gesny word, en gebruik die swaard van die Gees om die Bose en sy versoekinge af te weer!
### Gebed
Here, U, die Kenner van die diepste kamers van ons hart. *Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?* Ons moet erken dat ons gereeld dinge doen vir die verkeerde redes. Ons jaag na status, rykdom, aansien, en aardse dinge, maar Here, U ken ons harte, U weet hoekom ons doen wat ons doen. Ons harte is besmet met sonde en daarvoor dank ons U dat U die swaard van die Gees aan ons gegee het as deel van die wapenrusting. Ons dank U dat U die Gees aan ons gegee het sodat ons van binne vernuwe mag word, na buite vrug kan dra, en die Bose en sy versoekinge kan afweer. Here, help ons om die swaard van die Gees op te neem sodat ons gewillig en met ‘n opregte hart in u koninkryk mag dien. Hou ons lewe in perspektief sodat ons ons lewens op die ewigheid kan rig, wanneer ons U sal sien op ‘n wit perd met die swaard in u mond, U wat reeds die oorwinning behaal het! *Deurgrond my, o God, en ken (sny diep in) my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!* Amen.
### Vir verdere lesing
- Memorisering van teksverse:
- Hoofstuk 15 in [But now I see van Gerald M. Bilkes](https://goodneighbours.org.za/shop/doctrine-and-theology/doctrine-and-theology-god/but-now-i-see/?ref=olielamp.vgk.org.za) verduidelik Johannes 15 oor die lote, die wynstok en die Landbouer mooi.
### Bronne
- Efesiërs 6 | Die swaard v/d Woord: ‘n Christen kan nie sonder sy Bybel lewe nie | Ds. HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/cnYi08bL9x4?si=I98WUXtWBnXW7SzZ&t=3038&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 89-102). Crossway.
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Hoe om ‘n aktiewe Christen te wees.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-om-n-aktiewe-christen-te-wees/
Last updated: 2026-08-08T07:00:45.000Z
Om ‘n aktiewe Christen te wees, verg meer as om net op ‘n Sondag een of twee keer kerk toe te gaan. Inteendeel, die Bybel vertel ons dat mense gedurig moet streef daarna om soos Christus te wees en vernuwe te word deur sy werke. Ons Christelike lewens moet vol geloof, gehoorsaamheid, liefde, diensbaarheid en groei wees.
Dit begin alles met ons verlossing.
Om verlos te word deur Christus, word daar van ons gevra om te glo dat Hy Koning is en uit die dood opgestaan het - soos Johannes 3:16 vir ons vertel. Hierdie selfde stelling word in Romeine 10:9-10 en Efesiërs 2:8-9 aan ons weergee met dieselfde boodskap: Glo en jy sal gered word. Nie “maak seker jy doen genoeg goeie werke sodat jy gered kan word” nie. Paulus stel dit baie duidelik in sy brief aan Efese wanneer hy skryf: “Nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie,” sodat ons verseker kan wees dat ons deur geloof alleen gered word.
Duidelik neem dit dus nie veel moeite of aktiwiteit van ons om ‘n Christen te wees nie. As my werke my nie red nie, hoekom sal ek dan die moeite doen?
Hoekom sal ek dan die moeite doen?
‘n Duidelike pandemie wat deesdae se generasies tref, is luiheid. As ‘n aktiewe selfoongebruiker, is dit maklik om te sien hoe dié toestel ons lewens oorneem. *Op soek na ‘n vertaling van ‘n woord?* My foon kan my help. *Wat was die naam van daardie blonde aktrise nou weer?* My foon kan my help. Om in ‘n woordeboek op te soek is te veel moeite; dit is tog op my selfoon. Om ‘n bankkaart saam te neem is te veel moeite; dit is op my foon. Om ‘n Bybel saam te neem kerk toe is te veel moeite; dit is tog op my foon…
Skerms neem ons lewens oor en stel ons tot risiko om *onaktief* te wees. Dit is gerieflik om ‘n skerm in die kerk te hê, maar skep dit nie ook die geleentheid vir deelnemers om onaktief te raak nie? Hierdie hele artikel kon deur ChatGPT geskryf wees, en niemand sou weet nie. Die idee van *alles moet maklik en gerieflik wees, anders is dit nie die moeite werd nie*, werk presies teen wat Christus ons leer in Sy Woord. Christus sê dan vir ons dat die Christelike weg deur die nou poort is en die pad smal is (Matthéüs 7:13-14), en dus nie ‘n eenvoudige of maklike pad om te neem nie. Moet ons as Christene nie daarom streef na ‘n bedrywige, flukse lewe nie, sodat ons seker is dat ons op die smal pad bly? Spreuke 12:24, Spreuke 13:4, en Spreuke 19:15 waarsku ons teen luiheid, maar Kolossense 3:23 vertel ons eintlik hoekom ons moet werk: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir die mense nie.” Alles moet ons doen vir die Here.
Hoekom sal ek dan die moeite doen?
Gehoorsaamheid. God vra van ons om Hom lief te hê bo alles (Matthéüs 22:37-38). Ons is immers sy skepsels en kinders en uit die liefde van sy hart, het Hy ons verlos van die ewige dood. Sal ons Hom daarmee bedank deur Hom te haat en teen sy wil in te gaan? God verdien ons liefde en ons kies die dood. Ons verdien die dood, maar God kies liefde.
Hoe kan ek dan vir God lief hê? Kies God daagliks - bo alles. Bo akademie, bo werk, bo die mense rondom jou. Dit sluit in bybelstudies en katkisasies bo skoolaktiwiteite en werk. Gehoorsaam God deur sy gebooie na te kom. ‘n Maklike manier om God se gebooie te onderhou, is om deur aktief na hulle te luister. Nie net weekliks elke Sondag nie, maar daagliks in jou eie huis. Lees deur die Bybel, neem notas en hoor wat God vir jou wil sê. Bid daaroor, praat daaroor met medegelowiges in die gemeenskap van die heiliges.
‘n Ander neiging wat deesdae na vore kom is die dien van die self. Ons kyk na films waar die hoofkarakter selde hulle eie geluk opoffer vir ander. Ons neem sosiale media in waar mense kla oor hulle eie regte, terwyl hulle niks tekortkom nie. Ons sien families wat skeur as gevolg van gretige ouers wat graag die beste vir hulself wil hê, ten koste van hulle gesin en kinders. Dit neem baie van ons as mens om aan ander te gee, maar hoeveel te meer het God nie aan ons gegee nie. Hoekom sal ek die moeite doen? Uit ‘n wêreldse perspektief sou ek sê dat ek nie gaan nie, want dit is puntloos. In hierdie wêreld word jou liefde nie terug uitgedeel nie, maar in Christus sal ek alles vir my naaste doen. Hy het my lewe gered van die duiwel se kloue. Hy het ons lief ten spyte van al die pyn. As ons daardie lig in ander kan sien, en bewustelik kan erken dat God na alle mense in liefde kyk, is die liefde die minste wat ek aan ander kan gee.
Ons weet dat God van ons vra om aktief ons Bybel te lees om Sy stem te hoor, te bid sodat Hy ons stem kan hoor en kerk toe te gaan om te leer en die gemeenskap van die heiliges te ondersteun, maar tog sukkel ons steeds daarmee. Is dit dan nie duidelik dat die probleem nie by kennis lê nie, maar eerder by ons verhouding met God? Die begin lê miskien by ons identiteit. Ons noem onsself Christene, so dus gaan dit oor ons. Dit is ons identiteit. Maar wat van Christus? Is Hy nie die hoogtepunt van ons lewe nie? Ons streef dalk nie na gehoorsaamheid nie, want ons identiteit lê in onsself, ons Christenskap. Maar wat van “in Christus”? Ek is in Christus. Ek sal kos bring vir my siek suster in die kerk, want ek doen dit in Christus. Ek sal jeug bywoon om my mede jeuglede te ondersteun, want ek doen dit in Christus. As Christus se identiteit die fokuspunt in jou lewe is, sal jou hart streef na Sy wil. Om “in Christus” te wees beteken dat Hy ons verenig as mense in sy dood, opstanding en lewe. En dan wil ons nog vra: “Hoekom sal ek dan die moeite doen?”
Aktiewe Christenskap verg nie groot en moeilike dinge nie, dit neem net ‘n gelowige hart, ‘n gehoorsame oor en ‘n flukse hand. Dit neem die krag om te kies tussen jou eie wil en God se wil. So kan ons na God se wil streef, mekaar in die gemeenskap van die heiliges ondersteun en werklik die koninkryk van God bou.
Hoekom sal ons dan die moeite doen? Want in Christus is ons verlos, en God se wil is ons doel.
*Geskryf deur Lianne van Renssen, VGK Bellville*
### Toegewyde gedagtes...
URL: https://olielamp.vgk.org.za/toegewyde-gedagtes/
Last updated: 2026-08-07T11:09:50.000Z
> “En neem aan die helm van verlossing” (Efesiërs 6:17)
Met die gordel vasgegord, die borswapen op ons, ‘n paar skoene aan ons, en die skild in ons hand, lyk die oorlogsveld al baie meer oorleefbaar. Maar, daar is een probleem: ons kop is nog blootgestel - ‘n ligte kopstamp kan ons onbewus maak en die einde vir ons beteken. Om die rede het Romeinse soldate ‘n helm gedra. Dit het sy kop, gesig en nek beskerm. Die helm het ‘n groot kuif gehad en was versier met patrone om die rang van die soldaat aan te dui, maar ook om hulle herkenbaar te maak tydens die stryd.
In Jesaja 59:17 dra God ook ‘n helm, naamlik die helm van verlossing. God dra hierdie helm saam met die borsplaat van geregtigheid om deur sy geregtigheid die verlossing vir Israel te bewerk (Jesaja 51:5-8). Geregtigheid en verlossing loop hand-aan-hand in die gedeeltes van Jesaja (en ook elders in 1 Thessalonicense 5:8). In die wapenrusting van God word die hart geklee met \[die borsplaat van\] geregtigheid en die verstand met \[die helm van\] verlossing. Dit mag dalk toevallig klink, maar die Woord verbind gereeld hart en verstand. Christus het vir sy dissipels gesê dat uit die hart slegte gedagtes voortkom (Mattheüs 15:19). So kan ons dwaas word en ons *onverstandige hart* verduister (Romeine 1:21). Ons word daarom opgeroep om die Here lief te hê met ons hele hart en ons hele verstand (Mattheüs 22:37). Waar geloof soms gesien word as iets wat net aanvaar moet word, vorm denke egter deel van ons geloof (vgl., Lukas 1:3-4 en 2 Petrus 3:18).
In die geestelike stryd speel die helm van verlossing dus ‘n groot rol in sy beskerming, naamlik om beide ons hart en verstand te bewaar teen die Bose.
### Die Bose val ons verstand aan
> "elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God" (2 Korinthiërs 10:5)
Die Bose laat ons verstand nie in vrede nie. Wanneer die toegang na die hart goed beskerm word deur die borsplaat, loots hy sy aanval op die verstand. Hy doen dit deur skanse op te rig om ons van die goeie af weg te hou, soos byvoorbeeld: materialisme, geldgierigheid, eie plesier, en relativisme. Buiten dit kan ons ook persoonlike skanse oprig om ons van God se verlossing weg te hou. Dink maar aan skuldgevoelens, haat, ontevredenheid, en bekommernisse oor werk, jou loopbaan en die toekoms. Ons kan ook skanse oprig deur in die raamwerk van ons eie gedagtes en probleme na die preek te luister. Hierdie skanse hou ons gedagtes gevange, ons dink onsself dood, en mis die (gratis) verlossing wat God ons bied.
### Maar daar is hoop…
> "Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid" (1 Thessalonicense 5:8)
In 1 Thessalonicense 5:8 voeg Paulus *hoop* by die saligheid (wat dieselfde Griekse woord as verlossing is). In hierdie hoofstuk is Paulus op die toekoms gerig. Hy spoor ons aan om wakker te bly vir die koms van die Here, nie met vrees vir God se toorn nie, maar om die volmaakte saligheid te verkry deur ons Verlosser, Jesus Christus (vers 9-10). Hy het die bewerker van die ewige saligheid geword sodat daar vir ons verlossing kan wees (Hebreërs 5:8-9). Anders as aardse hoop as vae optimisme oor iets, is Bybelse hoop ‘n vaste oortuiging, selfs in so ‘n mate dat die hoop **in** ons mag wees (1 Petrus 3:15)! Ons toekomstige saligheid is gegrond in die verlossende werk van Christus (Efesiërs 1:7)!
Die hoop in ons is nie net ‘n uitkyk na ons toekomstige saligheid nie, maar dit deurdrenk ons daaglikse lewe:
1. Hoop beskerm jou wanneer jy siekte, hartseer, afwysing, alleenheid, moedeloosheid, of selfs die dood in die gesig staar. As Christus die dood oorwin het, sal Hy dan nie ook as Oorwinnaar triomfeer oor die beproewinge en swaarkry in jou lewe nie (Romeine 8:35-39)?
2. Omdat die sonde nie meer oor ons heers nie (Romeine 6:14) en ons besef dat ons uit onsself nie die liggaam van hierdie dood kan verlos nie (Romeine 7:24), moedig die hoop, wat Christus in ons deur sy verlossing bewerk het, ons aan om te volhard in die stryd teen die sonde.
3. Hoop gee ons die vrymoedigheid en sekerheid (*boldness*) om in geloof God se roeping in jou lewe na te jaag en die evangelie van vrede te verkondig. Deur ons helm te versier met God se verlossingswerk in ons lewe, kan ons elke dag in sy Lig lewe! Wanneer ons geloofsbelydenis doen, bely ons ons geloof, maar die uitlewing van ons geloof mag ons ook die sekerheid van die ewige lewe gee (1 Johannes 5:13). Die *boldness* van ons verlossing is dus nie ‘n saak van arrogansie wat vermy moet word nie, maar eerder die hoop van verlossing wat Christus in ons werk!
### Om die helm op te sit
Met die hoop op die toekomstige saligheid, hang die hartklop van ons hoop nie af van ons huidige sukses en planne nie. Hierdie hoop word deur die Gees in ons bevestig, terwyl Hy ons in die waarheid lei, sodat ons op die toekomstige dinge mag hoop (Johannes 16:13). Deur die helm van verlossing op ons kop te sit, word ons gedagtes beskerm teen die Bose, maar ook teen ons eie sondige denke. Die skanse wat deur die Bose en onsself opgewerp word, om die kennis van God se verlossing te verdof, mag afgebreek word deur ons verstand te vul met die genade van God (2 Korinthiërs 10:4-5). Dink aan die ewige lewe (bv. as jy middagete eet) - die ewige lewe plaas jou hede in perspektief. Reflekteer op Christus se verlossingswerk (die Nagmaal is ‘n goeie geleentheid daarvoor). Groei in genade en kennis van God (2 Petrus 3:18). Bedink die dinge wat daarbo is (Kolossense 3:2) en alles wat eerbaar, regverdig, rein, lieflik, en loflik is (Filippense 4:8) - laat jou gedagtes besig wees met God en sy verlossingswerk vir jou! Jou verstand is wonderlik geskape deur God om die stryd te stry met die hoop op die toekomstige saligheid. Wy jou gedagtes toe aan die Here en gedenk elke dag sy verlossingswerk!
### Gebed
Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders! Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos 'n nagwaak. Weggespoel het U hulle; hulle word 'n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit: in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny 'n mens dit af, en dit verdor. Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik. U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig. Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur *soos 'n gedagte*. Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? *Leer ons* om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom! Keer terug, Here! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte. *Versadig ons in die môre* met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het. Laat u werk vir u knegte *sigbaar word* en u heerlikheid oor hulle kinders. En laat die lieflikheid van die Here onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!' Amen.
*'n Gebed van Moses, Psalm 90*
### Vir verdere lesing
- Voorafgaande oordenkings kan hierdie oordenking mooi in konteks plaas, veral
- Alhoewel dit kortliks in die tweede paragraaf genoem word, is daar nog baie meer oor hoe ons denke deel vorm van ons geloof. Lukas het nagedink voordat hy sy evangelie geskryf het (Lukas 1:3-4) en Petrus het gesê dat sommige van Paulus se woorde swaar is om te verstaan (2 Petrus 3:18). Meer hieroor kan gevind word in Ds. HH van Alten se preek.
-
### Bronne
- Efesiërs 6 | Laat die verlossing in Christus jou denke vul – dis jou beskerming | Ds HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/1gV0IlvsEDY?si=WDykIZHc3r9ir53N&t=2660&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 77-88). Crossway.
- [https://learn.ligonier.org/devotionals/helmet-and-sword](https://learn.ligonier.org/devotionals/helmet-and-sword?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### EP22: Ligdraers – Hoe Om ’n Lig te Wees in ’n Duister Wêreld
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep2-ligdraers-hoe-om-n-lig-te-wees-in-n-duister-wereld/
Last updated: 2026-08-03T17:00:47.000Z
*Met Johan Bruintjes*
Jesus noem sy volgelinge die lig van die wêreld. Maar hoe leef ’n mens daardie waarheid prakties uit in ’n kultuur wat dikwels vyandig teenoor geloof staan? Hierdie episode gee riglyne, stories en insigte oor wat dit beteken om sout en lig te wees – nie net met woorde nie, maar met ’n lewe van liefde, waarheid en gehoorsaamheid.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Vyfde gebod: Eer jou vader en jou moeder
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vyfde-gebod-eer-jou-vader-en-jou-moeder/
Last updated: 2026-08-01T07:00:13.000Z
Die vyfde gebod berei ons voor om ‘n waardige, genooide tafelgenoot te wees by die bruilof van die Lam. Ons lewe op aarde in voorbereiding op die dag wanneer ons as kerk van Christus deur Sy heerlikheid ontvang word.
In die eerste vier gebooie leer Hy ons hoe om Hom lief te hê en reg te dien. In die vyfde gebod, wat die begin van die tweede tafel van die gebooie is, leer ons nou hoe om ons naaste lief te hê en met almal om ons om te gaan. Om jou vader en moeder asook ander gesagsdraers te eer is dus die fondament van al die gebooie wat volg.
Hierdie fondament is iets wat vandag dikwels gesien word as outyds of belaglik. Dit word bevraagteken en in baie gevalle selfs misbruik. Tog is die Here in sy wet so duidelik met die doel van die gebod: dit is ‘n gebod met ‘n belofte. Die belofte dat dit met jou goed sal gaan as jy jou vader en moeder eer (Eksodus 20:12 en Deuteronomium 5:16). Dit is dus nie net ‘n struktuur wat ingestel is sodat die een oor die ander kan heers nie, maar eerder ‘n gawe vanaf God wat orde, vrede en voorspoed bevorder.
In Romeine 13:1-2 lees ons dat God die oorsprong van alle gesag is. Hy is die een wat jou ouers aan jou gee om jou op te voed, Hy is die een wat die regering oor ons land aanstel om reg te laat geskied, die een wat die kerkraad in Sy diens plaas om Sy skape te lei, die een wat jou onderwyser oor jou aanstel om jou te onderrig en Hy is ook die een wat jou baas oor jou aanstel aan wie se eise jy by die werk moet voldoen.
Hierdie gesagsdraers is nie in hierdie posisies geplaas omdat hulle vanself so goed is nie, maar omdat God hulle daar geplaas het. God vertrou die posisies aan hulle toe en ons moet gehoorsaam wees aan Hom en daarom ook aan hulle. Sy doel hiermee is nie om ons te onderdruk nie, maar eerder om ons in liefde te lei. Hy lei ons soos ‘n liefdevolle Vader en regeer oor Sy skepping met wysheid en goedheid. Ons het dus nie net met menslike gesagsfigure te doen nie, maar met God self wat ons deur hierdie gesagsdraers lei.
God lei ons deur die vyfde gebod sodat ons uiteindelik ook die res van die tweede tafel, wat ons verhoudings met ander bepaal, kan gehoorsaam. Sonder gehoorsaamheid sal daar wanorde in huisgesinne, lande, kerke, skole en besighede wees.
Ons bevind ons in ‘n tyd waar mense juis verkies om eerder hul eie idees te volg en vry van enige gesagsfigure op te tree. Die mens wil self besluit wat reg en verkeerd is en elkeen sy eie paadjie volg. Dit is egter nie wat God ons leer oor ware vryheid nie - Ware vryheid word gevind in die onderrig van die Woord en ook teregwysings van die wat oor jou aangestel is (2 Timótheüs 3:16).
Onderwerping aan gesag bied vir ons beskerming teen dwaasheid en die lokval van die sonde. Die aanvaarding van gesag lei tot kinders wat leer om verantwoordelikheid op te neem, landsburgers wat in veiligheid en vrede leef, ‘n kerk wat opgebou word in geloof en waarheid en ‘n skool wat kinders kan onderrig om uit te gaan om hul roeping uit te leef.
Ware vryheid lê dus nie daarin om sonder gesag te leef nie, maar om onder God se goeie orde te leef. Daarby gesê gesagsfigure spring beslis nie versoekings en sonde vry nie. Ouers, regeerders, die kerkraad, jou onderwyser of baas tree nie altyd reg op nie, maar dit verander wel nie die feit dat hulle deur God aangestel is nie.
Wat dan gemaak as die wat oor jou aangestel is nie altyd regverdig optree nie?
Daarmee help die Heidelbergse Kategismus ons mooi in Sondag 39\.
Dit roep ons op tot ‘n houding van eerbied en respek. Die gelowige moet in eerbied, liefde, getrouheid en gehoorsaamheid teenoor gesag optree. Dus selfs wanneer ons nie saamstem met dit wat die gesagsfiguur doen nie, moet ons nog steeds die posisie wat die persoon van God ontvang het erken en respekteer.
Daarmee word bedoel dat ek moet doen wat van my gevra word met ‘n goeie gesindheid en in gehoorsaamheid. Ja, ek mag besluite bevraagteken en dit met die gesagsdraer bespreek, maar op ‘n respekvolle, sinvolle en eerbiedige wyse. As my verskille handel oor my eie voorkeure en of ek net nie hou van dit wat van my gevra word nie, moet ek dalk twee keer dink voor ek dit bevraagteken.
Maar as dit in teenstelling is met wat ek leer uit God se woord, geld die beginsel van Handelinge 5:29: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Dit bring ons terug by die ouer as gesagsfiguur - in die ouerhuis word sie fondasie van gehoorsaamheid neergelê deur middel van onderrig in die Woord van God. As ‘n ouer hierin versuim om sy kind met die Woord op te voed, sal die kind nie later in sy lewe kan onderskei tussen reg en verkeerd met behulp van die Woord as nie. Gehoorsaamheid aan gesagsfigure bly altyd ondergeskik aan die gehoorsaamheid aan God.
Hierin was Jesus Christus vir ons die volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid. Hy was volkome gehoorsaam aan sy aardse ouers (Lukas 2:51) en tydens sy bediening op aarde het Hy altyd die wil van sy Vader in die hemel gesoek. Deur die kruisdood het Hy sy gehoorsaamheid volkome bewys toe Hy homself verneder het en was gehoorsaam tot die dood toe (Filippense 2:8). Terwyl ons as mense in opstand wil kom teen die wat oor ons aangestel is, moet ons na Christus kyk en sien hoe hy volmaak gehoorsaam is.
Dit is deur Sy gehoorsaamheid wat ons vergifnis vir ons sondes ontvang. Dit is uit dankbaarheid daarvoor dat ons ook die vyfde gebod wil gehoorsaam. Ons wil gehoorsaam wees nie om God se guns te wen nie, maar ons ons dankbaarheid te bewys vir die verlossing wat ons deur Christus ontvang het.
Die vyfde gebod leer ons dat alle gesag van God afkomstig is. Hy het die gebod ingestel met die doel om na die welstand van Sy kinders om te sien. As ons Hom gehoorsaam deur aan die wat oor ons aangestel is gehoorsaam te wees volg daar orde, vrede en voorspoed vir ons. Ons word daardeur gevorm om as verbondskinders eendag saam met Hom en al ons mede broers en susters in die geloof te sit aan die bruilofsmaal van die Lam. Daar sal ons dan ook volkome gehoorsaam kan wees net soos Jesus Christus.
### Bronne
- Ds PG Boon. Gesag maak die lewe goed. [https://www.vgk.org.za/preke/26503](https://www.vgk.org.za/preke/26503?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ds PG Boon. Met die vyfde gebod maak die HERE ons oë oop vir die groot waarde van gesag. [https://www.vgk.org.za/preke/24814](https://www.vgk.org.za/preke/24814?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ds FJ Bijzet. Gesag is ‘n geskenk. [https://www.vgk.org.za/preke/25164](https://www.vgk.org.za/preke/25164?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Ds HH van Alten. Deur middel van die vyfde gebod wil God ons wys maak tot die lewe. [https://www.vgk.org.za/preke/24557](https://www.vgk.org.za/preke/24557?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria*
### Here, red my!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/here-red-my/
Last updated: 2026-07-29T17:00:05.000Z
> *“Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efesiërs 6:16)*
Tot ongeveer die middeleeuse tydperk was pyle ‘n effektiewe lang-afstand tegniek om die vyand op ‘n afstand te hou en aan te val. Die Romeinse voetsoldate het eers ronde skilde gebruik en later groot reghoekige skilde van hout of yster gebruik sodat die soldaat sy hele liggaam teen die pyle kon beskerm. Hierdie skilde was oorgetrek met natgemaakte leer om die pyle van vuur uit te blus. Later het die skild onderdeel van ‘n gevegstegniek, die *testudo*\-formasie (wat beteken “skilpad”), geword waar voetsoldate hul skilde bo hul koppe gehou het om ‘n dak van skilde te vorm. Vir voetsoldate was die skild dus ‘n noodsaaklike item van hul wapenrusting om die vlieënde en vurige pyle te weerstaan. Op dieselfde wyse roep Paulus gelowiges op om die skild van geloof op te neem om die vurige pyle van die Bose te weerstaan.
### Die pyle van die Bose
In die Wapenrusting-oordenkingreeks het ons sover die nodige items van die wapenrusting aangetrek om staande te kan bly teen die Bose. Wanneer die Bose egter vurige pyle op ons afvuur, sal die items, wat ons sover aangetrek het, nie voldoende wees nie. Wanneer die Bose die daaglikse pyle van swaarkry, siekte, dood, huweliksprobleme, slapeloosheid, samelewingsdruk, versoeking, verleiding, groepsdruk, en egoïsme op ons afvuur, wat kan ons daarteen doen?
Paulus skryf dat ons die skild van **geloof** op ons moet neem. Hierdie skild, sê Paulus, sal ons kan help om die “vurige pyle van die Bose” uit te blus. Watter skild van geloof word hier van gepraat? As ons eerlik is, sou ons eie geloofskild sonder Christus ‘n skild van papier teen die vurige pyle wees - dun, vlambaar, en swak. Ons sink gereeld in twyfel saam met Petrus wanneer ons na die vurige pyle om ons heen kyk in plaas van om na Christus te kyk (Mattheüs 14:28-31).
### Wie is my skild?
Regdeur die Ou Testament word God ‘n skild genoem (vgl. Genesis 15:1, Deuteronomium 33:29, 2 Samuel 22:3, Psalm 5:13, Psalm 115:9-11, en Spreuke 30:5). In Psalm 91 sien ons dat God ons sy beskerming bied deur ‘n skild, ‘n toevlug, en ‘n bergvesting te wees in die dag van onheil. Geloof kan gesien word as die “hand” waarmee ons God en al sy beloftes aangryp en daarop vertrou. Deur die geloof mag ons deel hê in God se krag (Efesiërs 1:19). Paulus bid daarom ook dat Christus deur die geloof in ons harte kan woon (Efesiërs 3:17), sodat ons versterk kan word met sy krag. In geloof, kan ons soos Psalm 91:9 sê, die Here ons toevlug en beskutting maak. God bied sy beskerming, sy skild, aan - gryp u dit aan in geloof?
> *U tog, U is hul roem, hul sieraad en hul prag,*
> *wat hul beklee met sterkte en onverwinb're mag.*
> *Uit vrye guns alleen, uit eewge mededoë,*
> *hef ons die hoof omhoog, weer sterk deur Gods vermoë.*
> *Want God is ons 'n skild, die weerkrag van ons lewe;*
> *en onse Koning is deur Isr'els God gegewe.*
> *(Psalm 89:7 berymd)*
God se skild maak ons egter nie blind vir die leuens van die duiwel nie (Psalm 91:8). Hierdie skild van geloof gee ons ‘n breër visie om die sigbare dinge sowel as die hoop op die onsigbare ewige dinge raak te sien (2 Korinthiërs 4:16-18, Hebreërs 11:1). Geloof leer ons dat wat groot is vir die wêreld (bv. rykdom, mag, en status) klein is in vergelyking met God wat in ons woon (1 Johannes 4:4).
In ‘n donker wêreld is dit soms moeilik vir gelowiges om vas te hou aan God se beloftes. Ons wil in beheer wees van ons eie situasies en ons plaas ons geloof in wêreldse dinge wanneer God se beloftes nie sinmaak in ons lewens nie. So vol soos wat die Psalms vol van God as ‘n skild is, is dit ook vol van vrae oor God se afstand (vgl. Psalm 10:1, 42:3, 44:23-25, 69:1-3, 74:10-11). Met die sondeval het ons God verlaat, maar God het ons nooit verlaat nie. Die Satan wil ons sif soos koring, maar Christus bid voortdurend vir ons dat ons geloof nie sal ophou nie (Lukas 22:31-32). Ons veiligheid lê dus nie in die sterkte van ons *eie* geloof en ons *eie* vertroue in God se beloftes nie, maar eerder in Christus se getrouheid en die lewendmaking deur sy genadige werk vir ons aan die kruis (Efesiërs 2:4-10). Die geloof wat in ons gewerk word, gee vir ons toegang na Christus se genadewerk (Romeine 5:1-2).
Deur die skild van geloof op ons te neem, bied God ons sy beskerming aan en verlaat ons nie tydens die worstelstryd nie (Psalm 23:4). Terselfdertyd is hierdie worstelstryd op aarde ook nie ons eindbestemming nie, maar ons word ‘n hoopvolle toekoms beloof waar God die goeie werk wat Hy begin het, in ons sal voleindig (Filippense 1:6). Vir ons mag die vurige pyle van die Bose dalk die toekoms duister laat lyk, maar deur geloof mag ons vertrou dat God alles ten goede sal meewerk (Romeine 8:28). Wanneer ons geloof klein raak mag ons saam met Petrus ons hand uitsteek na ons Verlosser en uitroep “Here, red my!” en die Here sal ons krag gee in die dag van stryd (Psalm 139:8). Gryp daarom in geloof die skild van die Allerhoogste aan en vertrou op sy beloftes!
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel is. Ons dank U dat ons tot U mag nader in gebed. Vader, uit onsself moet ons erken dat ons nie ‘n enkele oomblik die vurige pyle van die Bose sal kan weerstaan nie, maar U is self ons skild en U het u Seun gestuur om ons lewend te maak deur sy genadige werk aan die kruis. Ons dank U dat ons te midde van ons aardse bekommernisse na U mag gryp om die skild van geloof op te neem. Ons dank U vir hierdie skild wat beskerming en krag bied teen die Bose, dat ons so onder u vaderlike sorg mag skuil. Wil U ook die geloof in ons harte werk sodat ons met ons hele hart op u beloftes mag vertrou. Here, waar sommige van ons dalk sukkel om U beloftes in hul lewens raak te sien, bid ons dat U hulle in die geloof sal versterk en u weldade aan hulle bekend sal maak. Ons bid dit alles in die Naam van Jesus Christus, ons Redder en Verlosser. Amen.
### Vir verdere lesing
- Heidelbergse Kategismus Sondag 7 v&a 21 (Wat is ‘n ware geloof?)
- Hebreërs 11 beskryf die aard van geloof en gee voorbeelde van geloof in die Ou Testament
- Efesiërs 2 beskryf God se genade vir ons deur sy Seun se verlossingswerk
- [https://www.youtube.com/live/6tOvF3R3yVo?si=0p\_2nI17MMk2W\_Hg&t=2630](https://www.youtube.com/live/6tOvF3R3yVo?si=0p%5F2nI17MMk2W%5FHg&t=2630&ref=olielamp.vgk.org.za) \- meer oor die *Testudo*\-tegniek
-
- [https://www.crossway.org/articles/7-passages-to-read-about-gods-protection](https://www.crossway.org/articles/7-passages-to-read-about-gods-protection?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Bronne
- Efesiërs 6 | Die skild van die geloof | Ds HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/6tOvF3R3yVo?si=0p%5F2nI17MMk2W%5FHg&t=2630&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 65-76). Crossway.
- [https://www.vgk.org.za/preke/25509](https://www.vgk.org.za/preke/25509?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.gotquestions.org/shield-of-faith.html](https://www.gotquestions.org/shield-of-faith.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://learn.ligonier.org/devotionals/the-shield-of-faith](https://learn.ligonier.org/devotionals/the-shield-of-faith?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Lordship Salvation: Word die Evangelie hier verdraai?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/lordship-salvation-word-die-evangelie-hier-verdraai/
Last updated: 2026-07-25T07:01:38.000Z
“Lordship Salvation” (LS), oftewel, vry vertaal, “Here-heerskappy verlossing”, is ’n leerstelling wat binne die Christelike en die gereformeerde wêreld debat veroorsaak. Dit word dikwels voorgestel as ’n dieper en meer toegewyde verstaan van geloof.
Volgens hierdie leer is reddende geloof nie bloot vertroue in Jesus Christus nie, *maar sluit dit ook ’n oorgawe aan Hom as Here, bekering van sonde en ’n veranderde lewe in*. Met ander woorde, ’n mens moet nie net glo nie - jy moet ook jou lewe aan Christus onderwerp as deel van wat dit beteken om gered te word.
Hier begin die probleem. Die Bybel leer duidelik dat redding ’n gratis genade gawe van God is - ontvang *deur geloof alleen*. Wanneer elemente soos oorgawe, gehoorsaamheid of lewensverandering as deel van redding self ingesluit word, lyk dit asof iets by geloof gevoeg word.
*“Want uit genade is julle gered, deur die geloof — en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efesiërs 2:8-9*
Om dit prakties te illustreer: stel jou voor iemand hoor die eenvoudige boodskap: “Glo in Jesus Christus en jy sal gered word.” Hy glo dit opreg. Volgens die klassieke Gereformeerde verstaan is daardie persoon gered, en enige verandering in sy lewe sal met tyd volg as die vrug van daardie geloof. Maar volgens die LS-benadering sou daar gevra word: Het hy werklik oorgegee? Het hy sy sonde laat staan? Is Jesus werklik Here van sy lewe? Indien nie, word sy geloof bevraagteken.
’n Tweede voorbeeld is iemand wat tot geloof kom, maar steeds met sonde worstel. In die gereformeerde siening is geestelike groei ’n proses—’n gelowige kan sukkel en stadig groei. Maar binne ’n LS-raamwerk word daar dikwels gesê dat ’n gebrek aan sigbare verandering daarop dui dat die persoon nooit werklik gered was nie. Dit plaas ’n sterk klem op uiterlike bewys as maatstaf van ware geloof.
Hierdie verskil kom ook na vore in prediking. ’n Eenvoudige evangelie-uitnodiging sou sê: “Glo in Christus en jy sal gered word.” ’n LS-georiënteerde uitnodiging sal eerder sê: “Bekeer jou, gee jou lewe oor, en volg Christus as Here.” Die evangelie word ingewikkelder gemaak en vereistes, “werke”, word bygevoeg wat die Skrif nie as voorwaardes vir redding stel nie - dit is dan nie meer deur geloof alleen nie.
Die kern van die hele debat lê dus in een fundamentele vraag: Is ’n veranderde lewe ’n voorwaarde vir redding, of ’n gevolg daarvan? Ons glo dat verandering die vrug van redding is, iets wat natuurlik volg nadat ’n mens deur geloof gered is. Voorstanders van LS stem saam dat geloof alleen red, maar beklemtoon dat ware geloof noodwendig tot verandering lei. Die probleem ontstaan wanneer hierdie “noodwendigheid” as ’n *vereiste* begin klink.
Selfs binne die Reformatoriese tradisie word daar gesê: ons word gered deur geloof alleen, maar nie deur ’n geloof wat alleen bly nie. Geloof red, maar ware geloof bring vrug voort. Die gevaar is egter dat hierdie balans maklik skeef getrek kan word, sodat die vrug ’n voorwaarde word.
Uiteindelik bly die evangelie eenvoudig: *redding is deur Christus alleen, uit genade alleen,* *deur geloof alleen*. Die debat oor Lordship Salvation gaan nie oor of ’n Christen se lewe moet verander nie—dit gaan oor wanneer en hoe daardie verandering in verhouding tot redding staan.
Die vraag bly dus nie óf daar vrug moet wees nie, maar of daardie vrug deel is van die wortel van redding, of die gevolg daarvan.
### Waarom hierdie artikel
Maar, sal jy vra, ons weet dit tog reeds — waarom dan hierdie artikel? Die antwoord is dat hierdie *en ander nie-Gereformeerde sienings* in ons kringe gereeld sonder voldoende onderskeid gelees, gebruik, aangehaal en selfs aanbeveel word.
**Byvoorbeeld: John MacArthur, Paul Washer, C. Marvin Pate, Tim Keller, Don Carson, Arnold Dallimore, W.P. Young en so meer.**
Terselfdertyd word daar steeds minder gebruik gemaak van ons eie erfenis aan studieboeke. Dit gee mos te denke?
*Deur hierdie “bronne” sonder onderskeid te gebruik, water ons die suiwer Gereformeerde leer af en verwater dit geleidelik met ’n seleksie van moderne-, evangeliese-, baptistiese-, dispensasionalistiese- of Lordship Salvation-invloede. Om wille van ons en ons kinders is duidelikheid van groot belang.*
*Op die ou end staan ons in gevaar om die rykdom van ons eie belydenisskrifte, die werke van die Reformasie en die duidelike stem van manne soos Calvyn, te verruil vir ’n oppervlakkiger, meer populêre teologie wat nie meer gereformeerd is nie en kan lei tot deformasie in die kerk.*
*Geskryf deur Herman Waagmeester*
### Geanker in die Evangelie van vrede!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geanker-in-die-evangelie-van-vrede/
Last updated: 2026-07-22T18:12:51.000Z
> *“*Staan dan vas*, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en *as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.*” (Efesiërs 6:14-15)*
In die laaste item van die drie “staan dan vas”-items van die wapenrusting van God bevind ons onsself met die skoene van bereidheid vir die evangelie van vrede. Te midde van die worstelstryd teen die owerhede, magte, wêreldheersers, en die bose geeste in die lug moet ons skielik skoene aantrek wat *vrede* bring. Is ons nie besig om te veg vir die waarheid nie (die gordel)? Om die Satan geen plek in ons hart te gee nie (die borswapen)? Hoekom is *vrede* ter sprake hier?
Die beloofde Messias het na die wêreld gekom om *vrede* te bring. Die herders van Betlehem was omsingel deur die hemelse leërskare wat God prys vir die vrede wat Jesus bring deur sy versoeningswerk (Lukas 2:14). Efesiërs 2:13-18 vorm die evangelie van vrede vir ons. Christus is self ons vrede. Hy het die “middelmuur van skeiding” afgebreek (vers 14) tussen ons en God, asook tussen ons en ons naaste (vers 15-16) deur sy versoeningswerk aan die kruis (vers 16) en deur self die evangelie van vrede te verkondig (vers 17). In die worstelstryd, wat ons Verlosser self oorwin het, het die blye boodskap nie op die boekrak bly staan nie, maar selfs te midde van die stryd het Christus die evangelie van vrede gebring (vgl., Johannes 4:1-26).
Dit is wanneer ons kyk na Christus se lewe, te midde van versoekings en lyding, dat dit sinmaak dat die evangelie van vrede ons woorde en gedagtes moet vul te midde van die worstelstryd. Die wapenrusting van God is dus nie net ‘n uitrusting van verdediging nie, maar dit is ook ‘n uitrusting om vas te staan in die evangelie van vrede wat Christus gebring het. Watter vrede het Christus gebring?
### Vrede met God
> *Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! (Jesaja 52:7)*
Christus, die beloofde Boodskapper, het die goeie tyding gebring deur sy verlossing. Die verbreekte vrede met God deur die sondeval het ons gelaat in ‘n tydelike blyplek in ‘n wingerd (Jesaja 1:8), totdat ‘n takkie sou uitspruit (Jesaja 11:1) en die boodskap van vrede gebring is aan die herders (Jesaja 40:1-11). In Christus word hierdie boodskap vervul: God seën ons met alle geestelike seëninge nog voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:3-14) - dit bring vrede vir ons met God. Hierdie seëninge van vrede is waarmee Paulus sy brief aan die gemeente van Efese begin en eindig (Efesiërs 1:2 en 6:23). Ons mag ook elke Sondag hierdie seëninge van vrede hoor. God het ons met Homself versoen en nader in genade tot ons deur sy Seun (Jesaja 43:1-2). Maar hoe leef ons in vrede met God te midde van gesondheidsprobleme, rotsagtige verhoudings, en talmende depressie, angs, en finansiële winters?
Jesus het nie in die eerste plek gekom om wonders te doen nie, maar Hy het vir sondaars, soos ek en jy, gekom om ons met God te versoen deur sy werk aan die kruis (Romeine 8:32). Ons aardse lyding is tydelik en ons toekoms is hoopvol: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van *vrede* en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11). Deur die lens van die evangelie het Paulus verby sy aardse lyding na ‘n hoopvolle toekoms gekyk, in Christus, om vrede met God te ervaar ([Fillipense-reeks](https://olielamp.vgk.org.za/tag/filippense/)). Ons mag die vrede van God ervaar wanneer ons die seën van vrede elke Sondag hoor, wanneer ons die Skrif oopmaak, wanneer ons in stil vertroue ons hoop op sy beloftes plaas (Psalm 42:12 en 62:2-3), en wanneer daar onderlinge vrede is (Psalm 133).
> *“Wie sal ons skei van die liefde van Christus - verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”* (Romeine 8:35-39)
### Vrede met ons naaste
> *“Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!” (Psalms 133:1)*
Hierdie onderlinge vrede in Psalm 133 is nie vanselfsprekend nie. Deur Christus se werk aan die kruis is ons ook met ons naaste versoen, maar ons word opgeroep om *“met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”* (Efesiërs 4:2-3). Wanneer daar onderlinge vrede is, raak die kerk van Christus beter bestand teen die aanvalle van die Satan. Satan probeer daarom om tweedrag (Galasiërs 5:20) onder gelowiges te laat ontvlam deurdat daar wanpersepsies oor medegelowiges ontstaan, mense mekaar vermy, en mense oor mekaar skinder. Vrede met ons naaste beteken dat ons die waarheid spreek, nie toornig word teenoor hulle nie, nie steel nie, en vergewingsgesind, vriendelik en vol ontferming teenoor hulle is (Efesiërs 4:25-32 en Kolossense 4:6). Dit is daarom ook dat Christus beveel om eers met jou broeder te gaan versoen voordat jy tot God nader (Mattheüs 5:23-24). Vrede met ons naaste loop daarom hand aan hand met ons vrede met God.
### Geanker in die Evangelie van vrede!
Dit was ongewoon (selfs sondig in die Jode se oë!) dat Christus, ‘n besnyde Jood, met tollenaars en sondaars geeët (Mattheus 9:10-13) en met ‘n Samaritaanse vrou gepraat het (Johannes 4:1-26). Maar, Christus bring die evangelie van vrede vir tollenaars, sondaars, Samaritane, Jode, en ons. Anders as aardse konings, het hierdie Koning van Jesaja 52:7 sy vyande lief en het vrede nagejaag. Daar is nie enige beter nuus vir ons, as anders hopelose sondaars, dat God ons sy kinders wil noem en ons in genade wil aanneem nie!
Hierdie skoene van bereidheid (miskien beter verstaanbaar as *readiness* (ESV) of *preparation* (NKJV)) maak ons gereed om vas te staan in die Waarheid. Om gereed te wees is noodsaaklik om staande te bly tydens verdediging. Deur die skoene van gereedheid te dra, kan ons heilig lewe, bereid om verantwoording te doen oor die hoop wat in ons is deur die vrede met God (1 Petrus 3:15). Die vers vervolg ook dat ons dit “met beskeidenheid en respek” moet doen (1 Petrus 3:16 AFR20). Die gesindheid waarmee Petrus ons beveel om die Waarheid te verdedig spreek van vrede. Deur hierdie skoene aan te trek, kan ons staande bly en gereed wees om die vredevolle Goeie Nuus te verdedig en met ander te deel in die dag van stryd!
### Coram Deo
Die skoene, wat ons aantrek vir die bereidheid vir die evangelie van vrede, is die laaste item in die wapenrusting wat ons help om vas te kan staan tydens die stryd. Deur geanker te wees in die vrede wat Christus bewerk het met God en ons naaste, kan ons regstaan met die evangelie om, te midde van die stryd, die Blye Boodskap te bring, ‘n boodskap van ‘n hoopvolle toekoms, wat spreek van God se beloftes en ryke seëninge!
### Gebed
Onse Vader, wat in die hemele is. Here, U wat ons deur u Seun versoen het sodat daar vrede mag wees. Ons dank U vir u Seun se verlossingswerk aan die kruis sodat ons nou na U mag nader, in vrede met u beloftes en seëninge vir ons. Ons vra of U ons sal help dat ons hierdie vrede, wat U aan ons gegee het, in geloof raak sal kan sien, sodat ons dit ook onder mekaar kan najaag. Laat hierdie vrede ons ook lei na eenheid. Eenheid om staande te kan bly in die dag van stryd, sodat ons altyd bereid sal wees om rekenskap te gee van die hoop wat in ons leef. Ons vra U of U die kerk wêreldwyd sal bewaar teen tweedrag, dat die goeie nuus wat U gebring het deur u Seun vrede sal bring vir almal in wie U ‘n welbehae het! Amen.
### Vir agtergrond en verdere lesing
Romeinse soldate het leersandale gedra wat ysterknoppies (spykers) onder aan die sole gehad het (Fig. 1). Hierdie spykers was ontwerp om die soldaat se voete stewig in die grond te plant. Dit wys dat die skoene nie net vir beweeglikheid bedoel is nie, maar ook om vas te kan staan in die stryd.

Figure 1: Romeinse **caligae* [\[Link\]](https://www.trimontium.co.uk/archive-item/caligae-replica/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- **2 Sam 18:24-27** skep die beeld van die boodskapper. Die voete van die boodskapper sou lieflik wees as hy die goeie nuus gebring het. So het ons Verlosser vir ons die blye nuus gebring!
### Bronne
- Efesiërs 6 | Ons geloofskoene is 'gereedheid' van die evangelie van vrede | Ds. HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/kpsgGzDJcKs?si=mW0QWy9q23ORRSUX&t=1746&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 51-63). Crossway.
- [https://www.desiringgod.org/messages/ready-to-move-with-the-gospel-of-peace](https://www.desiringgod.org/messages/ready-to-move-with-the-gospel-of-peace?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [How Jesus Became the King of the World (That He Always Was)](https://youtu.be/xmFPS0f-kzs?si=andXlUdphExoLsYz&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Always be ready to give a defence of the Gospel - ‘n Praatjie gehou deur Ds. Reuben Bredenhof (VGK Pretoria, 2026)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Van bo gebore: Die wonderlike werk van die Heilige Gees
URL: https://olielamp.vgk.org.za/van-bo-gebore-die-wonderlike-werk-van-die-heilige-gees/
Last updated: 2026-07-18T16:00:41.000Z
Christus het die verlossing vir ons verwerf aan die kruis. Maar sonder die werk van die Heilige Gees sou ons nooit daaraan deel gekry het nie.
Vandag merk ons dat daar by sekere Charismatiese- en Pinksterbewegings ‘n onderskeid tussen bekering en die ontvangs van die Heilige Gees gemaak word. Volgens die Gereformeerde verstaan, skep díe idee die indruk dat geloof die vernuwende werk van die Heilige Gees voorafgaan.
Die Skrif leer egter dat die mens van nature nie uit homself na God draai nie. Paulus sê ons was "dood deur die misdade en sondes" (Effesiërs 2:1). 'n Dooie mens kan homself nie lewend maak nie! Daarom neem God die inisiatief en blaas die asem van lewe weer in ons. Jesus bevestig dit wanneer Hy sê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (Johannes 6:44). Ware geloof ontstaan dus nie uit die mens se eie vermoë of besluit nie, maar uit die Gees se werk. Regdeur die hele verbondsverhaal sien ons hierdie beginsel: God roep Adam en Eva ná die sondeval; Hy sluit die verbond met Abram deur alleen tussen die stukke vleis te loop. En Christus roep sy dissipels op om Hom te volg. Die voorbeelde illustreer dat God die eerste stap neem. God inisieer die liefdesverhouding tussen Hom en sy kinders.
Ons is van nature blind en dwaas in ons sondes (Titus 3). Alhoewel Jesus dalk nie vandag fisies in ons midde is nie, het ons wel die geskenk van die Heilige Gees wat ons oë oopmaak en wys: Kyk na die Kruis, vandaar kom jou verlossing.
Dit is onmoontlik om ‘n Christen te wees sonder dat die Gees in jou werk.
> *“…niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” (*1 Korinthiërs 12:3)
Sonder die Heilige Gees se toepassing van Christus se verlossingswerk sou ons nooit die vrug daarvan ontvang nie. Want hoe sou ons dan glo in ‘n verlossing wat ons nie eers kan raaksien nie? Ons is dood in die sonde en MOET deur die Heilige Gees weergebore word om Christus as ons Koning en Saligmaker te herken.
Artikel 12 van die NGB lui so: “*Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing van sonde bevry.”*
In die verlede – voor die sondeval – was ons goed geskape (Genesis 1:31): *“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en - dit was baie goed.*” Ons het as gevolg van die sondeval die verhouding tussen ons en God belemmer. Alles waarvoor ons geskape is, het ons geskend. Ons het dooie beendere geword. Wie of wat kan die verhouding tussen ons en God herstel? Hoe word wedergeboorte bewerkstellig? Hoe word ons weer “goed” voor God se oë?
Die woordeboek beskryf wedergeboorte as 'n nuwe groeitydperk of die herlewing van iets wat voorheen bestaan het. Die Heilige Gees bewerk die nuwe lewe vir ons. Hy sit die volkome, bonatuurlike proses aan die gang. Daar is ‘n massiewe stryd wat woeker om van ons nuwe mense te maak. Van ons kant af is dit ‘n passiewe proses. In Johannes 3:3, in die 2020-vertaling, vertel Jesus vir Nikodemus: “*as iemand *nie van bo gebore word nie,* kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”* Wedergeboorte kom van BO. Die geboorte kan nie van die aarde, of die mens self, voortkom nie. Ons is nie in staat om agter te kom dat ons gered moet word van die verslawing van sondes nie. Om die koninkryk van God te beërf, moet ons van “bo af” verander word. Deur die verkondiging van die evangelie kom ons tot die besef dat ons ons moet bekeer (Hebreërs 12:14).
Nadat die Heilige Gees wedergeboorte bewerk het, gaan Hy voort om die gelowige te vernuwe. Van die oomblik af wat die Heilige Gees in jou werk, is Hy voortdurend besig om jou te laat groei in die nuwe lewe. Daar is soms tye wat jy die Heilige Gees bedroef. Maar, met die bomenslike krag van die Gees, is die geboorte van bo af - ‘n intensiewe proses wat jou help om keer op keer weer jouself te kan bekeer (Jeremia 31:18).
God skenk die geboorte, deur die prediking. Jy word heeltemal kop-onderstebo gedraai, tot ‘n nuwe mens, deur die prediking. Dit klink effens soos ‘n antiklimaks. Maar bybelstudie, katkisasie en die samekoms van die heiliges, is die instrumente wat die Heilige Gees gebruik om ons te maak “soos ons was”. Hoe bevoorreg is ons nie dat ons wel hierdie middele, amper vanselfsprekend, tot ons beskikking het nie. Die instrumente het ons elke Sondag. Elke Woensdag. Ons het die belangrikste instrument op ons bedkassie. Nuwe lewe en verkwikking deur die Gees is net ‘n klipgooi ver, en ons moet nie die krag van die Heilige Gees se instrumente onderskat nie.
Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus sê dat: “\[Christus\] deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is, tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat ons met sy Woord en Gees regeer.”
Christus is die Gesalfde, dit is sy titel wat dui op sy amp. Hy is deur God die Vader gestuur, en deur die Heilige Gees gedoop. Christus is bevestig in sy amp as Verlosser, deur die doop van die Heilige Gees. Net so gee die Heilige Gees ook vir Hom die krag om die moeilike taak te vervul. In Jesus se lewe draai *alles* om sy ampsdiens en die taak wat hy moet voltooi as Verlosser (Matthéüs 3:13-17).
Net soos ons Koning gesalf is tot ‘n amp, is ons ook deur die Heilige Gees gesalf en geroep tot diens aan God. Ons is, deur die werking van die Gees, Christene. Die Gees gee ons wat Christus vir ons verdien het. Hy kom en pas die verlossing op ons lewens toe, Hy maak dooie beendere weer lewend (Esegië. 37). So vorm ons weer ‘n eenheid met Christus. Hy het die volle krag van die Gees ontvang, en ek en jy mag nou ook daaraan deel kry.
Ons word nie gesalf deur die Gees om jou en my gelukkig of opgetoë te laat voel nie. Inteendeel die Gees eis van ons iets baie moeiliker, en onaangenaam. Naamlik om ons eie begeertes en natuur te laat vaar om Sy doel te bereik. Die Gees dwing ons oor tot aksie, om standvastig te bly teen die liste van die duiwel en ons lewens ten volle toe te wy aan die Here. Dis waartoe die Gees ons roep.
En soos verskeie kere genoem is, is ons dood in die sonde. Ons sal ons rieme styf loop as ons die doel self moes bereik het. Daarom, soos die Gees ons oproep tot sy diens, bemagtig Hy ons ook om die doel te kan bereik.
> “Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem wat aan my behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:14)
Die Gees plaas die kollig op Christus. Jesus verduidelik dit aan sy dissipels in Johannes 14 en 16\. Die Gees leer ons van Christus, en bewerk ‘n al groter liefde in ons vir Hom. Dit is die Gees wat die verlossing in ons harte toepas, ons daaraan laat deel kry en ons daarvan leer. Sonder Sy werk sou ons die genadegawe in die bek kyk!
Die Heilige Gees is nie 'n bykomstigheid tot ons verlossing nie. Hy is die Een wat ons dooie harte lewend maak, ons oë vir Christus oopmaak, geloof in ons werk en ons dag vir dag vernuwe. Christus het die verlossing volkome verwerf, maar die Gees maak ons deelgenote daarvan. Daarom kan geen Christen roem in sy eie geloof of bekering nie. Van begin tot einde behoort ons redding aan die drie-enige God alleen.
### Bronne
- *Verskeie preke van Ds Pieter Boon, hoofsaaklik: Wie is die Heilige Gees en wat Hy doen? (13/03/2022), Die Heilige Gees skenk aan sondaars geboorte van bo (12/11/2023)*
- *Verskeie preke van Ds Erik van Alten hoofsaaklik: ‘n ernstige roeping in verbondenheid aan God se Gesalfde (12/04/2026) en Die Heilige Gees is die band van liefde wat my aan God verbind (28/05/2026)*
*Geskryf deur Eleanne Kerkhoff, VGK Pretoria*
### Lofsang te midde van stryd en oorlog
URL: https://olielamp.vgk.org.za/lofsang-te-midde-van-stryd-en-oorlog/
Last updated: 2026-07-15T17:00:54.000Z
Lees 2 Kronieke 20:1-29
Verbeel jou jy dien in die militêre weermag van jou land. Julle staan op die punt om oorlog te voer teen ‘n baie magtige vyand. En dan klink die opdrag van die bevelvoerder of generaal deur die laer: “Ons sterkste gewapende manne gaan nie op die voorpunt uittrek nie, maar die sangers gaan op die voorpunt uittrek om lofliedere tot eer van die HERE te sing.”
Dit is ‘n vreemde scenario om jouself voor te stel. Miskien sal die broeders in Pretoria, wat al ‘n [Massale Mannesang](https://chat.whatsapp.com/HIjLOywMWuIHnjc8jxbZhd?ref=olielamp.vgk.org.za) se magtige dreuning beleef het, wel voel dat dit nie ‘n té ondenkbare opdrag is nie. Nietemin, bly dit ‘n vreemde voorstelling en in 2 Kronieke 20 vind ons juis so ‘n merkwaardige stryd.
Gelowiges se lewe op aarde is ‘n stryd, ‘n oorlog. Juda se stryd in 2 Kronieke 20 is egter ‘n stryd teen vlees en bloed, teen die Moabiete en Ammoniete, in teenstelling met ons geestelike stryd (Efesiërs 6:12). Tog leer ons in hierdie hoofstuk belangrike waarhede oor hoe om ons geestelike stryd aan te pak – meer nog, ons leer meer oor die God wat vir ons stry en die oorwinning gee.
Toe koning Josafat hoor dat die vyand optrek om teen hom oorlog te voer, het hy bevrees geword (vers 3). Wat het Josafat toe gedoen? Hy het “sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep.” (vers 3) In vers 6 tot 12 bid hy dan ‘n pragtige gebed en sluit die gebed soos volg af: “Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.” (vers 12)
Wat doen jy wanneer jy in groot benoudheid verkeer en baie bevrees word? Wanneer die Satan, sy bose geeste, die sondige wêreld en jou eie sondige natuur op jou toesak? Wanneer vervolging en verdrukking op jou pad kom? As jy siekte, depressie, ekonomiese of verhoudingsprobleme in die gesig staar? Kortom, as daar stryd en oorlog in jou lewe woed?
Kyk na Josafat en Juda se voorbeeld: Soek die HERE, verootmoedig jouself, bid tot die HERE en hou jou oë op die God wat in die hemel troon. Luister dan ook na die Woord van die HERE. Nadat Josafat gebid het, het die Gees op Jahásiël gekom, en hy het die HERE se Woord in vers 15-17 verkondig. Gebed en die Here se Woord kan dus die moedverlore soldaat versterk vir die oorlog.
Juda mog hoor: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” (vers 15) Dit is hoekom Juda met lofprysing die stryd kon stry, want God het vir hulle gestry! Dit is dan ook wat verder gebeur het in 2 Kronieke 20:
“En hy (Josafat) het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en *die mense van* die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.” (vers 21-22)
Die HERE stry vir sy volk. Die HERE het ingegryp deurdat die vyand teen mekaar gedraai en mekaar uitgewis het (vers 23). Toe Josafat en Juda daar aangekom het, was al hul vyande reeds dood en hulle kon die groot buit wegdra (vers 24-25). Daarom is die plek Lofdal genoem, want daar het hulle die HERE geloof (vers 26).
Die stryd is nie ons saak nie, maar ‘n saak van God! Nog duideliker sien ons dit met Christus se koms. Die Here Jesus het die beslissende stryd reeds vir ons gestry. Hy het in ons plek aan die kruis gehang. En in die aand voor sy kruisiging, in al sy benoudheid, het Hy ook ‘n lofsang gesing (Mattheüs 26:30). Christus het ook lofsingend die stryd tegemoet gegaan. En deur sy dood en opstanding het Hy die Satan, die sonde en die dood verslind en die oorwinning behaal. Deur geloof kry ons deel aan Jesus se oorwinning. Ja, ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het (Romeine 8:37).
Daarom kan ons ons stryd lofsingend aanpak, want die stryd is ‘n saak van God. Hy het reeds in Christus die grootste stryd in ons plek gestry. Hy versterk ons ook vir ons aardse stryd vandag! Ons is meer as oorwinnaars, laat ons Hom dan loof en prys – veral as die vyand teen ons optrek.
Wat beteken dit prakties?
- Eerstens beteken dit dat ons in swaarkry nie moet vergeet om die Here te loof nie. Ons moet Hom steeds erken vir Wie Hy is en alles wat Hy doen. Lofsang is ‘n wapen van troos en krag in ons aardse aanvegtinge. Dink aan Paulus en Silas wat om middernag in die tronk lofliedere gesing het (Handelinge 16:25). Christus self het ook in sy donkerste nag gesing (Mattheüs 26:30). Net ‘n kantnota: dit was die gebruik om tydens Pasga die Hallel Psalms (Psalm 113-118) te sing, so Christus en sy dissipels het heelwaarskynlik dit gesing. God is dus die God wat ook in die swartste nag met ‘n lied geloof moet word (Psalm 42:9, Job 35:10)!
- Loof die Here saam met mede-gelowiges. Sang is ‘n belangrike element in ons eredienste. Loof die Here met jou hele hart tydens eredienste.
- Memoriseer die psalms. Musikale stukke het die voordeel dat dit nie baie moeilik is om te onthou en te memoriseer nie. Rus jouself toe met lofsange vir die oorlog.
- Leer jou kinders om te sing. Die psalms wat die kinders by die huis, skool en kerk leer, kan eendag ‘n kragtige wapen in hul geestelike stryd wees!
Jy staan dus op die punt om oorlog te voer. Jy hoor hierdie buitengewone opdrag wat weerklink deur die laer: “Laat die sangers op die voorpunt uittrek!” Mag ons dan gehoorsaam wees en ons geestelike oorlog só aanpak - met lofsang op die voorpunt! Paulus skryf ook: “Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here” (Efesiërs 5:19). Ja, sing, gelowige, sing! Dan kan jy ook terugkyk op die oorlogsveld van jou lewe en sê: “Hierdie plek word Lofdal genoem, want daar het ek die HERE geloof.”
### Gebed
“Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; 'n loflied is gepas!” (Psalm 147:1) Dank U, Here, dat ons u lof kan besing. Ons aanbid U, Vader, Seun en Heilige Gees vir Wie U is en alles wat U doen. U is genadig en barmhartig, almagtig en regverdig en ons loof U daarvoor. Ons prys en dank U ook vir u sorg, vergifnis en vernuwing wat U aan ons skenk. Ons bid dat U met u kinders sal wees wat gebuk gaan onder moeilike omstandighede. Troos en versterk hulle dat hulle ook vir U ‘n lofsang kan laat oprys. Ons sien met verlange uit na die dag waar ons voor u troon sal staan en U saam met al u kinders sal loof (Openbaring 14:3). Aan U behoort die lof en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.
### Verdere Bybelstudie
Lees of sing Psalm 42-43
### Bronnelys
- Bruintjes, J (2021). *Soek die HERE in die aangesig van die rampspoed* \[aanlyn\]. vgk.org.za. Beskikbaar by: [https://www.vgk.org.za/preke/26041](https://www.vgk.org.za/preke/26041?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Piper, J (1985). *Ambushing Satan with Song* \[aanlyn\]. desiringgod.org. Beskikbaar by:[https://www.desiringgod.org/messages/ambushing-satan-with-song](https://www.desiringgod.org/messages/ambushing-satan-with-song?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Bybel as ‘n vak en Katkisasie is ‘n geskenk wat genadiglik van God af kom
URL: https://olielamp.vgk.org.za/bybel-as-n-vak-en-katkisasie-is-n-geskenk-wat-genadiglik-van-god-af-kom/
Last updated: 2026-07-11T13:45:09.000Z
Waar kom die stelling vandaan dat katkisasie en Bybel as skoolvak jou persoonlike verhouding met God skade aandoen?
In die hedendaagse wêreld van die jeug, ontstaan dikwels die vraag of die gestruktuureerde aanbieding van die Bybel as ’n akademiese vak of katkisasieles, die persoonlike verhouding met God kan benadeel. Hierdie argument beweer dat die afdwing van verpligte katkisasie en streng formele Bybelonderrig die jong generasie soms negatief beïnvloed.
Teenoor die vraag en stelling hierbo, wil ek graag die volgende stelling voorstel en verdedig: Bybelonderrig en belydenisgebaseerde katkisasie breek nie ’n persoonlike verhouding met God af nie, inteendeel, dit vorm die basis van ‘n jong kind se lewe.
### 1\. Kennis as die Grondslag van Liefde en Verhouding
’n Betroubare en standvastige verhouding met die Drie-enige God kan nie afgewater word nie, dit is die grondslag van ons geloof. Die Skrif leer ons dat die ware kennis van God die begin punt van ons geloof is. In Hosea 4:6 waarsku die Here: "My volk gaan te gronde weens 'n gebrek aan kennis." Sonder basiese onderrig dwaal die menslike hart onvermydelik af na afgodediens en selfgesentreerde spiritualiteit.
Volgens Sondag 7 v/a 21 is ‘n ware geloof ‘n vasstaande kennis en ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees in ons harte werk. Om God persoonlik lief te hê, vereis dat ons weet wie Hy is, hoe Hy Homself in die geskiedenis geopenbaar het, en wat Sy wil vir ons lewens is. Verder skenk God nie net aan ander nie, maar ook aan my, uit loutere genade, vergifnis vir my sondes. Katkisasie bied hierdie Skrif gebasseerde raamwerk.
### 2\. Die daad van Skrif-gebasseerde toewyding
Die Bybel skei nooit die menslike begrip van die geestelike lewe nie. Toe aan Jesus gevra is wat die grootste gebod is, het Hy geantwoord: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand" (Matthéüs 22:37). Die gebruik van die verstand is dus ’n daad van aanbidding.
In Paulus se briewe word daar deurlopend klem gelê op die suiwerheid en die vernuwing van die gees deur kennis:
- Romeine 12:2: "En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed..." (verstand).
- 2 Timoteus 3:16-17: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid..."
Bybelonderrig rig die verstand sodat die gelowige "gereed kan wees om 'n antwoord te gee aan elkeen wat verduideliking eis" (1 Petrus 3:15).
### 3\. ’n Waarskuwing teen skynheiligheid
Die argument dat katkisasie skadelik kán wees, bevat wel ’n element van waarheid as ons kyk na die gevaar van skynheiligheid. Wanneer die bestudering van die Woord van die Here bloot as ’n oefening of as ’n verpligte ritueel beskou word, loop dit uit op geestelike oortreding.
Jesus het die skrifgeleerdes van Sy tyd juis hieroor vermaan toe Hy Jesaja aangehaal het: "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af" (Matthéüs 15:8). Dit is nie die kennis wat skade doen nie, maar die ongehoorsaamheid van die onvernuwde hart wat weier om voor daardie kennis te buig. Kennis sonder liefde, soos 1 Korinthiërs 13:2 verklaar, beteken niks nie.
Die bestudering van die Bybel as vak en die getroue bywoning van katkisasie doen nie die persoonlike verhouding met God skade nie; dit dien as die noodsaaklike beskerming daarvan.
Kopkennis en hartskennis moet hand aan hand loop.
Mag die Heilige Gees in elke individu se lewe werk, sodat jy en ek mag groei in liefde en kennis van ons Here. Mag ons God loof en dank vir Sy Woord. Mag ons met opregte harte in verhouding met die Here leef, en mag ons dankbaar wees vir Bybel en katkisasie onderrig.
*Geskryf deur Corbin de Jager, VGK Bellville*
### Beklee jou hart met geregtigheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/beklee-jou-hart-met-geregtigheid/
Last updated: 2026-07-08T17:00:13.000Z
> *“met die borswapen van die geregtigheid aan” (Efesiërs 6:14)*
‘n Romeinse soldaat gaan nie na die oorlogsveld sonder sy borswapen nie. Die borswapen beskerm die belangrikste organe, insluitend die hart. As hierdie organe tydens die oorlog beseer word, is dit ‘n noodlottige geval vir die soldaat. In die wapenrusting van God word die term “geregtigheid” dus aan ‘n noodsaaklike item, naamlik die borswapen, verbind. Paulus het nie die borswapen self benoem nie, maar eerder, ons vind hierdie verbintenis in Jesaja 59:12-21 waar God self die borswapen van geregtigheid aangetrek het om sy vyande te oorwin.
Geregtigheid is ‘n swaar woord, maar wat beteken dit presies? Hoe kan ons daagliks die borswapen van geregtigheid aantrek om in die stryd te veg?
Geregtigheid word ook soms in Engels *uprightness* genoem, met ander woorde: om in die *regte* verhouding tot God te staan. Dit sluit in dat ons in lyn lewe met sy wil, sy wet onderhou, en dat ons vry van skuld of sonde is. So ‘n persoon word regverdig voor God genoem. Met die sondeval het ons egter hierdie *regte* verhouding met God verbreek deurdat ons *soos* God wou wees (Genesis 3:5). Deur die verhouding met God te verbreek, het ons sondeskuld verwerf en verdien daardeur die ewige dood. Met ander woorde: ons is nie meer geregtig om voor God te verskyn soos ons is nie, die skuld is te groot, en ons kort versoening.
### Toegerekende geregtigheid
> *“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23)*
Maar God is genadig. Met die sondeval belowe God ‘n volmaakte Versoeningsoffer aan die mens, Iemand wat die gebroke band tussen God en mens sal herstel (Genesis 3:15). Deur God se genade en Christus se versoeningsoffer aan die kruis word ons ten eerste vrygestel van die sondeskuld en ten tweede word aan ons die gawe van die ewige lewe gegee. Dit is in so ‘n mate dat sy geregtigheid “só volmaak aan ons geskenk is asof ons self vir al ons sondes betaal het en geregverdig is” (Nagmaalsformulier). Dit is toegerekende geregtigheid: God plaas die volmaakte geregtigheid van Christus op ons rekening sodat ons sondeskuld volledig afbetaal is.
### Uitgeleefde geregtigheid
Maar hoekom sal ons dan geregtigheid moet aantrek as die geregtigheid alreeds aan ons geskenk is? As dit toegerekende geregtigheid was, sou Paulus nie ons beveel het om geregtigheid aan te trek nie, want ons is alreeds deur Christus geregverdig (Romeine 8:30). In Efesiërs 6 vestig Paulus die aandag op geregtigheid wat uitgeleef word. Noudat ons weet dat Christus ons sondeskuld volledig afbetaal het, wat doen ons? Hoe lyk jou lewe anders as jy besef jy is geregverdig voor God? Uitgeleefde geregtigheid is die nuwe lewe wat voortvloei uit die besef dat God ons uit genade geregverdig het. Hierdie besef moet deurdring tot ons hart, want ons hart is bedrieglik en verdorwe (Jeremia 17:9). Paulus plaas daarom geregtigheid voor die hart.
In die stryd is dit belangrik om te kyk wat ons vyand, Satan, doen sodat ons die geskenkte geregtigheid van God én die herstelde verhouding met God miskyk. Satan val ons aan uit twee rigtings. Soms wil hy hê dat ons moet dink dat ons sonde te groot is om ooit voor God regverdig verklaar te kan word (m.a.w. dat ons God se genade miskyk). Ander kere wil hy ook hê dat sonde nie regtig saak maak nie, want ons is klaar geregverdig voor God. Albei leuens lei ons weg van Christus en God se genade.
Wanneer daar ‘n gaping in die borswapen is, vind Satan ingang tot ons hart. Spreuke 4:23 sê dat uit die hart die oorspronge van die lewe is. Satan se ingang tot ons hart is daarom nie net ‘n persoonlike aanval nie, maar dit filtreer deur tot ons arbeid in God se koninkryk: deur ons werk, verhoudings, skool, universiteit, ens. Maak daarom seker dat jou borswapen geen gaping het vir Satan om jou hart te wond met leuens nie.
Op ‘n praktiese noot het Paulus in die voorafgaande verse, nog voordat die wapenrusting van God ter sprake was, alreeds ‘n fondasie vir ons gelê: beproef wat vir die Here aanneemlik is (5:10), let op hoe jy leef (5:15), soek die wil van die Here (5:17), word vervul met die Gees (5:18), sing tot eer van die Here (5:19), wees onderdanig aanmekaar (5:21), wandel in die huwelik soos God beveel het (5:22-33), wees aan jou ouers gehoorsaam (6:1-4), en doen jou werk met blymoedigheid (6:5-9). Verder skryf Paulus ook dat ons vergewingsgesind moet wees juis dat ons nie deur Satan bedrieg sal word nie (2 Korinthiërs 2:10-11). In die gemeenskap van heiliges mag ons ook uitreik en sorg vir mekaar se harte sodat ander nie afvallig word en deur die sonde verlei word nie (Hebreërs 3:12-13). In toekomstige oordenkings gaan ons kyk na geloof, gebed, en die werk van die Gees om verder jou hart te beskerm teen die aanvalle van Satan.
Ons is verordineer om meer en meer gelykvormig te word aan die beeld van Christus (Romeine 8:29). Dit maak dat ons nie anders kan as om die wapenrusting, en spesifiek, die borswapen van geregtigheid aan te trek en ‘n lewe tot eer van God te leef nie. Dra daarom die borswapen van geregtigheid, nie op grond van jou werke nie, maar op grond van sy genade en barmhartigheid wat aan ons bewys is deur sy Seun (Titus 3:5). In Christus mag ons hierdie geregtigheid uitleef en uitstraal na ‘n donker wêreld!
### Coram Deo
Deur die sondeval het ons ewige sondeskuld verwerf, maar deur God se genade en barmhartigheid het Hy sy eniggebore Seun gestuur om as die volmaakte versoeningsoffer te dien vir al ons sondes. Slegs deur Christus is ons nou regverdig voor God verklaar. Deur die borswapen van geregtigheid aan te trek, leef ons uit die geregtigheid wat Christus aan ons geskenk het en beskerm ons ons hart teen Satan se aanvalle terwyl ons sy geregtigheid in ‘n donker wêreld uitleef.
### Gebed
Onse Vader, ons verdien die ewige dood. Deur die sondeval het ons die regte verhouding tot U verbreek en kan nie onsself red nie. Maar U wat genadig en barmhartig is, het u Seun vir ons gestuur om ons vry te stel van alle skuld sodat ons siel vry mog raak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers. Ons dank U vir u verlossingswerk aan die kruis dat ons nou vry die wêreld mag ingaan, geklee met die borswapen van geregtigheid. Ons vra U of U ons sal versterk in die stryd dat ons Satan geen plek in ons hart sal gee nie. Daarby is ons swak, ons val in sondes. Ons bid daarom of U genadiglik ons harte van sonde wil reinig sodat ons geregtig voor u troon mag nader deur u Seun. Aan U kom alle eer en glorie toe, tot in alle ewigheid! Amen.
### Vir verdere lesing
- Jesaja 59:12-21
- Filippense 3:8-9
- [Perfect Unity](https://goodneighbours.org.za/shop/doctrine-and-theology/doctrine-and-theology-systematictheologies/perfect-unity/?ref=olielamp.vgk.org.za) deur Ralph Cunnington verduidelik mooi hoe die sondeval die verhouding tussen God en mens verbreek het en hoe Christus die eenheid herstel het.
- [Jaag die goeie ná](https://olielamp.vgk.org.za/jaag-die-goeie-na/) kyk na praktiese maniere om jou lewe te vul met die goeie.
### Bronne
- Efesiërs 6 | Die borsplaat van geregtigheid (Nagmaal) | Ds. HH van Alten | [\[Link\]](https://www.youtube.com/live/o4c7TcOIrEs?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 25-36). Crossway.
- [https://www.desiringgod.org/articles/guard-your-heart-from-evil](https://www.desiringgod.org/articles/guard-your-heart-from-evil?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-the-heart/](https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-the-heart/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.gotquestions.org/breastplate-of-righteousness.html](https://www.gotquestions.org/breastplate-of-righteousness.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Die Erediens: Kom ontmoet God!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-erediens-kom-ontmoet-god/
Last updated: 2026-07-05T06:15:57.000Z
Vir die van ons wat die voorreg gehad het om in ‘n huis groot te word waar Sondae as ‘n “Rusdag” deurgebring is, kan hierdie spesifieke dag sy ware betekenis en waarde, as gevolg van gewoonte, verloor. Saterdagaande moet mens nie te laat gaan slaap nie, want jy moet Sondag in die kerk wakker bly. En wat die dag self betref, is dit vir jou dalk glad nie ‘n dag om na uit te sien nie, want jy is moontlik geleer om byvoorbeeld nie op ‘n Sondag TV te kyk, na gewone musiek te luister of selfs YouTube of Instagram te kyk nie.
Nou kan ons die vraag vra of ons egter nog stilstaan by die waarde van die rusdag en besef wat God aan ons gee en van ons vra in die vierde gebod.
Na aanleiding van Ds. Jopie van der Linden se praatjie in Mei 2026, tydens die gemeentetoerustingsmiddag van VGK Maranata, moet mens weer besef dat die vierde gebod en ons kerkgang veel meer inhou as wat mens dink. Hier onder volg ‘n paar kernpunte uit sy toespraak.
Wanneer ons Sondae in die erediens sit, is die liturgie (volgorde van die erediens) vir ons bekend, wat ons rustig maak. Ons word geestelik gevoed, leer God beter ken deur sy Woord, sing saam, bid saam en beoefen die gemeenskap van die gelowiges. En al hierdie dinge is goed en reg, maar wat is die “fokus” van die erediens?
Kom ons dink terug aan die Here se ontmoeting met sy volk Israel op die berg Sinai. Dalk is dit vir ons dan makliker om iets van God se Grootheid en ‘n ontmoeting met Hom te verstaan. In Hebreërs 12:18 lees ons dat, toe die Here direk met Moses-hulle gepraat het, het Sy verskyning ‘n brandende (laaiende) vuur, donkerheid, duisternis en ‘n storm veroorsaak het. Die berg, asook Moses, het gebewe, want God se grootheid en heiligheid was vreesaanjaend! Die volk het Moses as middelaar nodig gehad om met God te kommunikeer en selfs hy was ook bang vir God. So hoe kan ons as sondige mense God dan ontmoet?
Deur Jesus Christus se middelaarswerk! Elke Sondag, in die eredienste, mag ons die groot en lewendige God ontmoet!
Besef ons werklik wat wat dit vir ons beteken?
Eerstens, gaan ons met die erediens die hemelse Jerusalem binne. Wanneer ons in die kerkdiens instap, kom ons in God se teenwoordigheid en ervaar ons sy heiligdom. Die samekoms is dan ‘n bruisende plek van mense wat in die stad van die lewende God saamkom. Dit is ‘n feestelike byeenkoms. Ons sing tot eer van God in vreugde as ‘n eenheid, saam met mense wat verbind is in sy bloed - wat besef dat God Heilig is en dat dit slegs uit genade is dat ons mag deel wees van die regverdiges.
Tweedens, mag ons ‘n persoonlike ontmoeting met God tydens die Erediens hê. En hierdie ontmoeting kan nie anders as om reaksies soos liefde, dankbaarheid, ontsag en vreugde by ons te wek nie.
En verder, mag ons ook besef en glo dat tienduisend engele, ander regverdiges reg oor die wereld tesame met die volmaakte regverdiges (die wat reeds in Christus gesterf het), saam met ons die grote God se lof besing.
Wat ‘n groot voorreg! Om die verlossingswerk van Christus te herdenk en in dankbaarheid die Here daarvoor te loof. God het dus Sy rusdag as ‘n “gebod” en nie ‘n “verbod” ingestel nie. Hy het dus bedoel dat ons sy oneindige liefde gedenk en nie dit moet sien as “jy mag nie dit of dat op ‘n Sondag doen nie”.
Wie sal dan hierdie ontmoeting wil uitmis? Wat kan dan belangriker wees as om in gemeenskap met God te lewe en om Hom op Sondae te ontmoet? Hoe kan ek dan my vriend of vriendin los wanneer ek sien dat hulle nie van hierdie geleentheid gebruik wil maak nie?
God, die Almagtige, nooi ons uit om Hom persoonlik tydens die erediens te ontmoet! Kom saam! Alle lof en dank aan Hom!
*'n Artikel oor die vierde gebod. Geskryf deur Junelle Miske, VGK Pretoria.*
### Dra die gordel van Waarheid!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/dra-die-gordel-van-waarheid/
Last updated: 2026-07-26T14:27:30.000Z
> “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord” (Efesiërs 6:14)
Die beskrywing van die wapenrusting van God begin met die opdrag om ‘n gordel te dra. ‘n Romeinse soldaat se gordel was ‘n simbool van militêre status, dit het sy rol en posisie gewys. Dit het sy identiteit as soldaat sigbaar gemaak. In Efesiërs 6 word hierdie gordel die rol van waarheid gegee. Hierdie waarheid gaan oor die waarheid van God soos Hy Homself in Christus en sy Woord openbaar.
Die wêreld loop oor van relativisme - die begrip dat waarheid, moraliteit, en kennis nie ‘n vaste grond het nie, maar eerder relatief is tot kulturele, historiese, of persoonlike raamwerke. Dit klink aanloklik, want wie wil nou in ‘n sisteem van leerstellings leef as die skoen my nie pas nie? Klink dit nie miskien bekend nie? Tydens die Rigterstydperk het relativisme ook gereeld geseëvier (vgl. Rigters 21:25) en die volk het vanweë geestelike louheid in sonde geval.
### Wat doen Satan?
Die Ware God waarsku die gemeente van Laodicéa: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Daar is geen middelgrond nie, ons kan nie twee here dien nie (Mattheus 6:24). Satan is tevrede wanneer ons geloof lou is. Hy bevraagteken ons geloof deurlopend: “Het jy regtig die gordel van waarheid nodig vandag?”
Van die begin af (Johannes 8:44), bevraagteken Satan die waarheid: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1). Satan probeer alewig die idee skep dat ‘n gelowige nie vryheid het nie en sal so voortgaan tot die koms van Christus (2 Thessalonicense 2). Net so kan Christenwees vandag soos ‘n lewenslange beperking voel: “Christene mag nie werk op Sondae nie, mag nie van geld hou nie, mag nie saambly voor die huwelik nie” of in kort: “Christene mag nie net doen wat hulle wil nie”. Sy poging om die waarheid te verdraai was net so aktueel toe Christus op aarde was. Van die versoeking in die woestyn tot op die kruis het Satan probeer om die waarheid te vervals (vgl. Mattheus 4:1-11, Johannes 19:21-22, en Matt 27:39-43).
### Wat doen ons?
> “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Johannes 3:19)
Maar buiten Satan se leuens kies ons van nature ook teen God. Ons eie sondige natuur dryf ons na wêreldse plesiere (1 Johannes 2:16), maar deur die krag van die waarheid kan ons staande bly. God gooi sy reddingsboei uit na ons deur sy Seun en deur sy Gees. As ons nie omgord is met die waarheid nie, dan val ons maklik weg in die golwe van vleeslike begeertes. Of ons slaap en of ons wakker is, ons gedagtes is altyd besig, van nature geneig om te dwaal. Elke dag bring genoeg versoekinge om God se goedheid, voorsiening, krag, wysheid, en liefde te bevraagteken of te vergeet.
Wat maak dit dan so moeilik vir ons om eenvoudig die waarheid ons s’n te maak? Die waarheid wys ons weg van onsself - soos Johannes die Doper sê: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Johannes 3:30). Relativisme soek binne onsself na identiteit, stabiliteit, en status. Oosterse gelowe, byvoorbeeld, glo dat ware vrede in die mens self gevind word. Die mens wil dus in beheer wees en self bepaal hoe sy lewe moet lyk. Ons kyk weg van díé Lig en dink dat ons in ‘n donker wêreld ‘n lig sal kan vind wat inpas by ons lewensstyl.
### Wat het Christus gedoen?
> Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here… en geregtigheid **sal** die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe **wees.**” (gedeeltelik Jesaja 11:1-5)
**Sal…wees.**
Nie “omgord wanneer dit nodig was” nie.
Altyd.
In sy volmaaktheid het Christus nooit afgewyk van sy trou aan die waarheid nie. Waar die eerste Adam geval het, het die tweede Adam staande gebly en nie geval vir die Satan se leuens nie. Toe Jesus in die woestyn versoek is, het Hy getrou aan die Skrif gebly deur die Satan met die Woord teen te staan. By sy kruisiging was Hy bespot en bespuug, maar Hy het trou gebly aan die wil van sy Vader (Johannes 6:38). Deur getrou te bly en die gordel van waarheid te dra, het Hy die oorwinning behaal. So is die gordel van waarheid, wat ons op ons moet neem, nie ‘n splinternuwe gordel nie, maar eerder ‘n oorlogsgeteisterde gordel wat deur Christus self gedra is. Die goeie werk wat God in ons begin het, sal voleindig word tot op die dag van Christus se wederkoms (Filippense 1:6). Dis daarom dat ons onsself kan omgord en ons eie heil kan uitwerk met vrees en bewing, want dit is God wat in ons bekwaam om sy wil uit te voer (Filippense 2:12-13).
### Hoe dra ons dit prakties?
#### Bly in die Woord
> “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32)
Ons word beveel om hierdie oorlogsgeteisterde gordel te dra. Jesus sê dat dié wat in sy woord bly, waarlik sy dissipels is en dat die waarheid hulle sal vrymaak. Dawid vind ook vreugde in die waarheid van die Here se verordeninge (Psalm 19:7-11). As ons daarom in die Woord bly, kan ons met vreugde as Christene leef en staande bly teen die leuens van die duisternis.
#### Herinner jouself aan die waarheid
> “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22)
Wanneer Bybellees ‘n roetine raak, kan dit die geval wees dat mens belangrike dele van die waarheid vergeet of miskyk. ‘n Analogie: as jy ingenieurswese studeer doen jy calculus in die eerste paar jare. As jy ‘n ervare ingenieur vra om een van die somme te doen, sal hy eers weer sy geheue moet verfris.
Net so, om elke dag die stryd te kan stry, moet ons onsself voed met die waarheid en groei daarin sodat ons nie deur golwe rondgeslinger word nie (Efesiërs 4:14-15). Prakties kan dit goed wees om van tyd tot tyd deur die Belydenisgeskrifte te gaan, of om vir jouself ‘n paar “*reminders* van waarheid” neer te skryf - nie motiverende verse nie, maar waarhede wat kontekstueel geanker is in die Skrif. Hier is ‘n paar voorbeelde:
- **In Christus is ek ‘n nuwe skepsel (2 Korinthiërs 5:17):** My identiteit moet gevind word in Christus, nie in my loopbaan, vriende, familie, verhouding, ras, of bankrekening nie.
- **In Christus is daar geen veroordeling vir die wat in Hom is nie (Romeine 8:1):** Christus het volledig vir my sondes van gister, vandag, en môre betaal. Deur my sondes te bely, reinig Hy my van my ongeregtigheid (1 Johannes 1:9).
- **In Christus, is daar ‘n lewende hoop aan my geskenk (1 Petrus 1:3-4):** Tydelike lyding hier op aarde laat my uitsien na die ewige vreugde. Vertrou in sy beloftes en weet dat Hy my nie sal verlaat nie (Openbaring 21:3)
#### Bid vir lig en leiding
> “Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4-5)
Christus het onder ons kom woon en ons die weg gewys deur Homself (Johannes 14:6). Na sy Hemelvaart stuur Hy sy Gees om in ons harte te kom woon, Een wat ons in die waarheid sal lei (Johannes 16:13). Daarom mag ons ook saam met Dawid die Here vra om ons te deurgrond, om lig te skyn in die donker plekke van ons hart, en om ons ‘n ewige weg te wys (Psalm 139)!
### Vir verdere lesing
- 1 Johannes 1
- Johannes 8:12-59
### Bronne
- Duguid, IM. (2019). The Whole Armor of God (bl. 25-36). Crossway. [Link](https://www.crossway.org/books/the-whole-armor-of-god-ebook/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.crossway.org/articles/have-you-put-on-the-belt-of-truth-today/](https://www.crossway.org/articles/have-you-put-on-the-belt-of-truth-today/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.crossway.org/articles/christians-must-be-truthful/](https://www.crossway.org/articles/christians-must-be-truthful/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-truth/](https://www.crossway.org/articles/10-key-bible-verses-on-truth/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Dra God se Naam
URL: https://olielamp.vgk.org.za/dra-god-se-naam/
Last updated: 2026-06-28T00:23:16.000Z
Die onlangse gebeure in Amerikaanse politiek het veroorsaak dat Christendom meer gereeld in die nuus verskyn. Of dit nou Pete Hegseth, Verenigde State se Sekretaris van Verdediging (later aangewys as Sekretaris van Oorlog), is wat Psalm 144 aanhaal in verband met die oorlog in Iran (Stanley, 2026): “*Geloofd sy die Here, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer*” (Psalm 144:1).
Of Paula White-Cain, Trump se “Spiritual advisor”, wat tydens die Withuis se Paasete Trump se lyding en oorwinning met die van Jesus Christus vergelyk (Closson, 2026). Dieselfde Paula White-Cain het tydens die verkiesing verkondig: “Saying no to President Trump would be like saying no to God.” (Dowdell, 2025).
Waarskynlik voel jy nogal ongemaklik met hierdie uitsprake, maar wat maak dit jou nou eintlik? Dit is Amerikaanse politiek, dit is ver van ons af, en hulle sê en doen in elk geval baie ander dinge waarmee ons nie noodwendig saamstem nie.
Wel het jy al ooit gedink wat dit vir ongelowiges beteken? Wat as jy iemand was met basies geen kennis van die Christelike geloof nie, en jy hoor hoe Christene sê dat dit jou geloofsplig is om vir Trump te stem, of dat dit God self is wat Amerika help om Iran aan te val?
Op ‘n soortgelyke manier kan ons vra: wat moet die heidene nie dink as een groep Christene hulle vir LGBTQIA+ beywer, terwyl ‘n ander groep (tereg) uit die Bybel bewys dat God sulke dade haat? Of as een of ander prediker beweer dat Jesus op ‘n spesifieke datum gaan terugkom en dit dan nie gebeur nie? Of as jy langs die pad groot borde sien wat die voorspoedsteologie adverteer?
Al hierdie dinge laat mens dink aan Romeine 2:24: “die **Naam** van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster”. Want dit is hierdie tipe dinge wat die sekulêre media bereik, dit is hierdie tipe dinge wat die wêreld se beeld oor die Christendom vorm.
Dit bring ons by die derde gebod: “Jy mag die **Naam** van die Here jou God nie ydellik gebruik nie”. Die woord wat hier met “gebruik” vertaal word (*tissa*) kan ook as “optel” of “dra” vertaal word. As Christene dra ons God se Naam en dit beteken baie meer as net dat “Christen” ‘n vervorming van die woord “Christus” is.
In Eksodus 23:21 sê God die volgende oor die Engel wat Hy stuur om die volk deur die woestyn te lei: “Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my **Naam** is in Hom.” Uit hierdie vers is dit duidelik dat die Engel, wat God se Naam dra, deur die volk eerbiedig moet word omdat Hy ‘n direkte verteenwoordiger van God self is.
Nog ‘n voorbeeld om die konsep te illustreer, word in die offerdiens gevind. Ons lees in Eksodus 28:12 “En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel — Aäron moet hulle **name** op sy twee skouers dra voor die aangesig van die Here om hulle in gedagtenis te bring.” En weer in vers 29 “So moet Aäron dan die **name** van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om *hulle* in gedagtenis te bring voor die aangesig van die Here gedurigdeur”. Deur die stamme se name op sy heilige priesterklere te dra, het Aäron die volk voor die Here verteenwoordig.
Om iemand se naam te dra beteken om hulle te verteenwoordig, en die wonderlike is dat God sy Naam oor ons uitspreek. Hy lê sy Naam op ons: “Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet hulle dan my **Naam** op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.” (Num 6:23-27)
Ja, dit is inderdaad wonderlik en ‘n groot seën, maar saam met die seën kom daar ook ‘n groot verantwoordelikheid. As naamdraers van God is ons sy verteenwoordigers hier op aarde. En in ‘n tyd soos vandag is ons plig net nog groter. Mense se beeld van God word gevorm deur Christene se doen en late.
Hoe leef jy? Besef jy dat jy so moet lewe dat mense kan sien wie God is? Leef so dat mense kan besef wat regte Christenskap is, want “hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:14)
Jy is ‘n naamdraer van die God wat Lig is (1 Johannes 1:5), wees dan ‘n lig (Mattheüs 5:14-16) wat God verheerlik, asook die donker verdryf (Efesiërs 5:8). Jy is ‘n naamdraer van God: “wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur” (Efesiërs 5:2). Jy is ‘n naamdraer van God: “trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is” (Efesiërs 4:24 - 2020). Jy is ‘n naamdraer van God, en Hy roep ons op: “Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is Heilig” (Levitikus 19:2).
### Bronne
- Closson, D. (2026, April 10). *Paula White-Cain’s theological stumble - The resurrection of Christ was a unique and uniquely important event, and not a basis for political analogies*. Retrieved from World: [https://wng.org/opinions/paula-white-cains-theological-stumble-1775795146](https://wng.org/opinions/paula-white-cains-theological-stumble-1775795146?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Dowdell, D. (2025, April 16). *“Saying No to Trump Is Like Saying No to God” - Why this statement is a threat to Christianity — and America*. Retrieved from Medium: [https://medium.com/the-political-prism/saying-no-to-trump-is-like-saying-no-to-god-2bee84b66f39](https://medium.com/the-political-prism/saying-no-to-trump-is-like-saying-no-to-god-2bee84b66f39?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Stanley, T. (2026, Maart 20). *Pete Hegseth's Christian rhetoric reignites scrutiny after the U.S. goes to war with Iran*. Retrieved from PBS News: [https://www.pbs.org/newshour/politics/pete-hegseths-christian-rhetoric-reignites-scrutiny-after-the-u-s-goes-to-war-with-iran](https://www.pbs.org/newshour/politics/pete-hegseths-christian-rhetoric-reignites-scrutiny-after-the-u-s-goes-to-war-with-iran?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Maak gereed vir die oorlog!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/maak-gereed-vir-die-oorlog/
Last updated: 2026-06-24T17:00:51.000Z
> “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Efésiërs 6:10-13)
Efesiërs 6 bring ons op 'n oorlogsveld...
Oorloë voel ver van ons af, en dit is moeilik om die volle realiteit daarvan te verstaan. Miskien het jy al *Gladiator* of ‘n soortgelyke film gekyk, miskien sien jy foto’s en video’s van oorloë op die Internet, of miskien kom jy agter jou beursie is leër nadat jy jou kar volgemaak het... Van die ouer mense onder ons verstaan die realiteit van ‘n oorlog beter - miskien het jou pa in die weermag gedien, maar die realiteit word veral die beste deur ons grootouers verstaan wat geleef het tydens die Tweede Wêreldoorlog. Tog kry ons te doen met ‘n oorlog in Efesiërs 6:10-20, *wat* is hierdie oorlog en *hoe* is dit ‘n realiteit vir elke mens op aarde?
Voordat ons op die oorlogsveld kom, skryf Paulus aan die Efesiërs om kragtig in die Here te word (vers 10). Hierdie krag is dieselfde Griekse woord (“*ischus*”) wat in Efesiërs 1:19-20 gebruik word om God se krag in Christus se opwekking uit die dode te beskryf. Die krag van sy sterkte waarmee ons die stryd moet voer is daarom dieselfde krag waarmee Christus uit die dode opgewek is. Met hierdie krag kan ons die oorlogsveld ingaan, maar *hoe* lyk hierdie oorlogsveld?
Efesiërs 6 se oorlogveld lyk anders - nie ‘n stryd wat beperk is tot finansiële, liggaamlike, emosionele, of sosiale vlak nie, maar eerder 'n oorkoepelende geestelike stryd wat gevoer word (vers 12). Ons is reeds verkies en verenig met Christus in die hemel (Efesiërs 1:3-4, 2:6, 3:10), en mag deel hê in sy oorwinning, maar die oorwinning bring ‘n voortdurende daaglikse werklikheid op aarde. Die kerk van Christus word onderdruk deur dieselfde teenstander wat in Genesis 3:15 as ‘n slang verskyn en in Openbaring 12:9 as ‘n draak uitgebeeld word. Hierdie teenstander is aktief daarop uit om te verslind (1 Petrus 5:8).
Die inwoners van Efese was bekend met towery en bonatuurlike kragte (Handelinge 19:18-19), en was daarom ook nie onbekend met die realiteit van Satan se bonatuurlike krag nie. Maar, die bekeerlinge in Efese is nie meer Satan-slawe nie (Efesiërs 2:1-3), maar nou eerder teenstanders van hom. Op hierdie oorlogsveld bevind hulle hulself nou geklee met ‘n ander uniform, met ‘n uniform van onverganklikheid (1 Korinthiërs 15:53-54).
*Waar* is hierdie oorlogsveld? Paulus skryf doelbewus oor die allerdaagse lewe voor ons by vers 10 uitkom (huwelik, familie, en werk). Dit was in die allerdaagse lewe waar die Satan in Genesis 3:1 die mens tot sonde verlei het. Ons kan geneig wees om te dink dat al Satan se aanvalle soortgelyk aan ‘n skielike gebeurtenis soos Job se teëspoed geloots word (Job 1 en 2). Sulke skielike gebeurtenis kan vergelyk word met die “dag van onheil” in vers 13\. Jesus het self die “dag van onheil” ervaar toe almal Hom verlaat het (Lukas 22:53). Maar, versoekings is rondom ons, die begeerte is binne ons en die geleentheid is altyd daar om te sondig. Dawid het op ‘n doodgewone aand op die dak van sy paleis gewandel en in sonde geval (2 Samuel 11:1) - ‘n suksesvolle aanval van die Satan om die koning van God se verbondsvolk in sonde te laat val. Maar die Satan werk ook op nog meer subtiele maniere. 2 Korinthiërs 11:14 sê dat hy selfs homself kan verander in die engel van die lig om geduldig teen die stroom te werk totdat ons in sonde val (Psalm 1). Dit is daarom dat Paulus in Efesiërs 4:27 ons beveel dat ons die duiwel geen plek moet gee nie.
Ons is gewone gebrekkige, sondige, vlees-en-bloed mense (soos Dawid in Psalm 51 bely). Wie is ons om alleen in die stryd teen Satan te probeer staan? Maar, daar is hoop: God se seëninge het ons s’n geword in Christus wie sy en ons vyande oorwin het (Efesiërs 1:15-23). Dit is dáárom dat ons, soos vers 13 beveel, die volle wapenrusting van God moet opneem.
Vers 14-18 lê vir ons die volle uitrusting vas wat ons as gelowiges nodig het om hierdie geestelike stryd te voer - nie deur ‘n fisiese swaard te gebruik soos die een wat Petrus gebruik het om Malgus se oor af te kap nie (Johannes 18:10-11), maar ‘n buitengewone uitrusting wat ons op ons kan neem om die stryd aan te pak. Hierdie oordenkingseries oog om elke item van die wapenrusting van God te bestudeer in diepte, maar ook om die item in die geheelbeeld van die wapenrusting te sien. Deur die wapenrusting op ons te neem, mag ons, deur die krag van God in Christus se oorwinning, staande bly en seker wees dat die poorte van die doderyk ons nie sal oorweldig nie (Mattheüs 16:18).
### Coram Deo
Ons daaglikse stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar eerder teen die bose geeste in die lug. Ons kan nie alleen hierdie stryd aanpak nie en die besef bring gelowiges na Christus waar Hy deur die krag van sy sterkte ons toerus met die wapenrusting om hierdie stryd te stry tot die voleinding van die wêreld. Mag ons elke dag die krag van bo kry om staande te bly in hierdie stryd!
### Gebed
Onse Vader wat in die hemele is, U wat deur die krag van u sterkte die dood oorwin het deur Christus se opstanding. Ons erken ons is swak en sondig en kan nie uit onsself staande bly teen die liste van die duiwel nie. Daarom het ons U nodig. Ons dank U vir u genade dat ons deel mag hê aan Christus se oorwinning. Rus ons toe met u wapenrusting en versterk ons in ons daaglikse stryd en in die dag van onheil sodat u Naam alleen daardeur verheerlik mag word! Ons bid dit in Christus se Naam, Hy wat ons deur sy bloed aan die kruis met U versoen en verenig het. Amen.
### Vir verdere lesing
- 1 Korinthiërs 15 handel oor Christus se oorwinning oor die dood en dat gelowiges van hierdie oorwinning mag geniet as ons standvastig en oorvloedig in die werk van die Here staan.
### Bronne
- Ferguson, SB. (2005). Let's Study Ephesians. *The Armor of God* (bl. 178-183). The Banner of Truth Trust.
- [10 Things You Should Know About the Armor of God | Crossway](https://www.crossway.org/articles/10-things-you-should-know-about-the-armor-of-god/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [Why We Need the Armor of God | Crossway](https://www.crossway.org/articles/why-we-need-the-armor-of-god/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Hoe ervaar ek God se nabyheid?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-ervaar-ek-god-se-nabyheid/
Last updated: 2026-06-20T19:01:54.000Z
Hoe om God se nabyheid te ervaar:
> "Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, **want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.**" - Josua 1:9 (Die Boodskap)
Daar is 'n sekere vrede wat ‘n mens omhels as jy in die teenwoordigheid van God leef. 'n Rusgewende vertroue wat die leiding neem, en weer-en-weer ‘n bewys is van God se grootheid en goedheid. In 'n wêreld, waar oorgang, verlies, roeping en 'n onbekende toekoms swaar weeg, beveel die Here Josua om te streef na 'n lewe van krag en moed. Nie uit sy eie selfvertroue of roekeloosheid nie, maar uit gelowige trou. Vroeër in die boek van Josua sê God vir hom om die wet te gehoorsaam, daarop te mediteer, en nie daarvan weg te draai nie. Die Bybel wys keer op keer dat ‘n mens se eie krag onvoldoende is, en dat leiding, oorwinning, vrede en transformasie deur God se teenwoordigheid kom. Maar hoe pas mens dit in die praktyk toe?
'n Nederige sewentiende-eeuse Christelike monnik, bekend as ‘Brother Lawrence’, het geleer om God se teenwoordigheid in die mees gewone alledaagse dinge te beoefen — dat die siel op enige oomblik en in enige omstandigheid kan hunker na die geselskap van God. Hy het die grootste deel van sy lewe bestee aan praktiese werk soos skottelgoed was en skoene herstel. Sodoende het hy ontdek dat selfs eentonige take, dade van aanbidding kan word wanneer dit gedoen word in liefde en bewuste gemeenskap met God.
> "Lord of all pots and pans and things…
> Make me a saint by getting meals
> And washing up plates!"
‘Brother Lawrence’ se verhouding met God was so sterk, dat sy daaglikse take, soos skottelgoed, getransformeer het in ‘n formele gebed. Die grondslag van die geestelike lewe is die teenwoordigheid van God! Dit is nie opsioneel nie. Dit is nie in hokke verdeel of aan 'n plek gebonde nie. Om God se teenwoordigheid te ervaar is 'n daaglikse, deurlopende oefening wat gewortel is in bewustheid, herinnering en verhouding. ‘Brother Lawrence’ het blymoedig gewys dat:
> *"There is not in the world a kind of life more sweet and delightful than that of a continual conversation with God."*
Ons beoefen bewustheid deur 'n voortdurende gesprek met God. Gebed is nie beperk tot formele tye nie. Praat met Hom dwarsdeur die dag oor eerlike, pynlike en wonderlike dinge! 'n Voortdurende gesprek met God is 'n herinnering aan Sy teenwoordigheid — nie om Hom naderby te bring nie, want Hy is reeds teenwoordig, maar 'n besef dat Hy nader is as wat ons dink, en altyd naby bly.
> *"Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig." (Spreuke 15:8)*
Diegene wat in nederige eerlikheid voor God bid — in hulle het die Here 'n welbehae! 'n Eenvoudige, gefluisterde gebed terwyl jy skottelgoed was, mag God meer behaag as grootse, uiterlike godsdiens wat sonder liefde gedoen word. Dit is eenvoudig: erken Sy teenwoordigheid deur kort gedagtes, gebede en erkennings gedurende die daaglikse lewe. Gewone take, huishoudelike werk, verantwoordelikhede — dit alles word geestelik wanneer dit vir God gedoen word. Die wonderlikste lewenswyse is om gewone dinge suiwer uit liefde vir God te doen.
Soos die Here Josua beveel het: wees moedig en vertrou. Ontwikkel die gewoonte om aan God te dink. Die lewe word 'n gebed — 'n bewustheid van God se teenwoordigheid. En daarmee saam kom diepe vreugde, vryheid en fokus. Die soet en heerlike vreugde van 'n lewe van voortdurende gesprek met God. 'n Vryheid van vrees, want jy is elke dag in Sy teenwoordigheid. En 'n fokus op God, sodanig dat die lewe geleef word asof daar niemand anders is as God en ek nie.
Die altyd-teenwoordige nabyheid van God is die grootste geluk wat mens kan ervaar. Om Sy teenwoordigheid te ervaar is 'n eenvoudige, maar doelbewuste daad van bewustheid, gesprek, herinnering en daaglikse oefening.
> "We ought not to be weary of doing little things for the love of God, who regards not the greatness of the work, but the love with which it is performed."
God se teenwoordigheid is altyd beskikbaar!
*Geskryf deur Julia en Mariska de Wit, VGK Bellville*
### ‘n Voorbeeld te wees in ons jonkheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/n-voorbeeld-te-wees-in-ons-jonkheid/
Last updated: 2026-06-16T08:00:17.000Z
*Lees 1 Timoteus 4:12 en Lukas 2:41-52*
Wat is die jeugmentaliteit in vandag se wêreld. "Ek kan dronk word, ek kan alles self doen, ek het nie my ouers nodig nie." Dan word jy dalk deur die polisie gevang. Vir baie jongmense lyk die lewe soos een groot partytjie. Geniet jou jonkheid soveel as wat jy kan.
Geliefde jong broer en suster, Paulus vermaan ons in ons fokusteks:
> “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timotheüs 4:12)
Om jonk te wees gaan nie net daaroor om die lewe soveel as moontlik te geniet omdat jy eendag gaan sterf nie. Ons moet die Woord van die Here verkondig, sy werk doen, ‘n goeie karakter openbaar en in geloof wandel. Jeug is nie 'n beperking nie.
**Prediker 12:1** sê: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”
Salomo herinner ons daaraan dat ons God in ons jong dae moet prioritiseer. Hy moet eerste kom bo alles. Die eerste ding wat baie van ons doen wanneer ons wakker word, is om op Instagram deur *stories* en *reels* te blaai. Voor jy jou kom kry, het jy al 'n halfuur op jou foon spandeer. Daardie halfuur kon gebruik word om die Woord van God te bestudeer en die dag met gebed te begin.
Wanneer ons elke dag met die Here begin, word ons verhouding met Hom versterk. Die God wat ons geskape het, verdien ons mees aktiewe en gesonde jare. Ons liggame is sterk, ons gedagtes is skerp, ons sintuie is ontvanklik, ons entoesiasme is groot en ons wilskrag is sterk. Daarom moet ons Hom onthou in ons energieke jare.
Verder lees ons in **Lukas 2:41–52** van Jesus Christus in die tempel in Jerusalem. Hy het tussen die leermeesters gesit, na hulle geluister en vrae gevra. Almal was verbaas oor sy begrip en sy antwoorde. Hierdie gebeurtenis dui op sy geestelike volwassenheid en sy begrip van God se wet.
In vers 49 lees ons: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?”
Christus was slegs twaalf jaar oud, maar Hy het reeds geweet wat sy doel op aarde was. Hy was die Lig van die wêreld (Johannes 8:12). Net so moet ons ook die lig van Christus laat skyn gedurende ons jonkheid.
> “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik”(Mattheüs 5:16)
Wat beteken dit vir die jeug om in reinheid te wandel? Hoe kan hulle hul pad suiwer hou?
> “Deur dit te hou na u woord”(Psalm 119:9)
Om volgens God se Woord te leef, beklemtoon hoe belangrik die Skrif is om jongmense te lei tot integriteit en 'n godvresende lewe.
Jongmense kan op baie maniere in hulle bediening groei. God het hulle met verskillende talente en gawes geseën wat gebruik kan word in die werk van die kerk. Daar is baie praktiese maniere waarop jongmense kan dien, soos om te sing, 'n instrument te speel, huisbesoek te doen en vele ander take te verrig. Alles wat hulle doen, moet gerig wees op Jesus Christus, die Hoof van die kerk.
Verder seën God jongmense deur hulle ouers, veral ouers wat die Here dien. Dit is belangrik, want baie jongmense leer die Here ken deur die voorbeeld van hulle ouers. Dit is nie altyd maklik vir ouers nie, aangesien daar tye is wanneer kinders nie luister nie. Jongmense moet hulle ouers respekteer en eer in alle opsigte (Eksodus 20:12). Veral tieners moet nie dink dat hulle beter weet as hulle ouers nie. Hierdie geld vir alle jongmense. Julle moet nog steeds God eer en respekteer selfs as hulle nie Christene is nie.
Daarom moet die jeug in hierdie aspek soos Jesus wees. Ons volmaakte God het sy onvolmaakte aardse ouers heelhartig en ten volle gehoorsaam.
Die werk van die Here begin reeds vroeg in 'n jongmens se lewe. Daarom moet jongmense bereid wees om 'n voorbeeld te wees vir ander kinders en jongmense. Soos ons in 1 Timotheüs lees, moet jongmense 'n voorbeeld wees vir die gelowiges. Die jeugbediening wat binne en buite die kerk plaasvind, wys hoe jongmense in liefde, gees, geloof en reinheid wandel.
Liewe jong broer en suster, onthou om eerstens aan jou Skepper te dink in die dae van jou jonkheid. Maak tyd vir die Here. Werk, sport en ontspanning kan wag. Begin elke dag in sy teenwoordigheid sodat jou verhouding met Hom kan groei.
Tweedens, moenie wag totdat jy ouer is om die Woord van God te verkondig nie. Begin nou. Met die krag, energie en kennis wat God aan die jeug gee, kan sy werk gedoen word.
Laastens het God elkeen van ons met talente en gawes geseën sodat ons die werk van die kerk kan bevorder tot eer van Jesus Christus, die Hoof van die kerk. Van kleins af leer baie van ons die Woord van God deur ons ouers en deur die kerk.
Soos Jesus Christus reeds op twaalfjarige ouderdom sy Vader se werk gedoen het, moet die jeug ook die lig van Christus uitstraal na ander jongmense wat Hom nog nie ken nie — by die skool, in die gimnasium, by die werk en oral waar hulle gaan.
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel is, ons dank U vir alles wat U elke dag vir ons doen. Ons dank U vir ons ouers deur wie ons meer van U kan leer. Help ons, Here, om hulle te respekteer en te eer.
Ons vra dat U ons sal help om u Woord te verkondig gedurende ons jeugjare, om meer tyd saam met U deur te bring en om altyd bewus te wees van u grootheid, genade en liefde.
Help ons om te onthou dat die werk van Jesus Christus voortgesit moet word. Dit alles bid ons in Christus se Naam.
**Amen.**
### Coram Deo
- Streef na wysheid en begrip (Spreuke 1:7; Spreuke 4:7).
- Handhaaf suiwerheid en integriteit (Psalm 119:9).
- Vertrou op God se plan en leiding (Jeremia 29:11).
- Stel 'n positiewe voorbeeld deur jou taal, dade en geloof.
### Lees Verder
- [https://learn.ligonier.org/articles/4-reasons-remember-your-creator-your-youth](https://learn.ligonier.org/articles/4-reasons-remember-your-creator-your-youth?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://learn.ligonier.org/articles/youth-driven-culture](https://learn.ligonier.org/articles/youth-driven-culture?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Titus 1 en 2
- Kolossense 3
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata*
### Maar Here, Ek Kry Skaam
URL: https://olielamp.vgk.org.za/maar-here-ek-kry-skaam/
Last updated: 2026-06-10T17:00:40.000Z
*Lees Josua 5:1-9*
Almal het bagasie wat hulle saamdra. Ons almal het wonde en littekens oor die sonde en ellende wat ons meegemaak het of steeds bly ervaar. Hierdie merke weeg swaar, en ons kry skaam oor hulle. “Hoe kan ek van die skaamte ontslae raak?”
In ons fokusgedeelte lees ons van 2 generasies. Die een is ‘n rebelse groep wat besny is, maar in die woestyn gesterf het. Die tweede is ‘n groep wat op die Here vertrou en hulleself laat besny.
Die eerste groep is die generasie wat uit Egipte uitgelei is. Hulle was almal besny gewees. Hulle het egter telkens teen God gerebelleer: ‘n goue kalf, kla oor kos en water, betwyfel vir God en weier om die beloofde land Kanaän in te gaan. In Numeri 14 lees ons oor 10 van die 12 spioene wat twyfel onder die volk gesaai het. Hulle wou nie die land betree nie, en daarom was hulle straf dus ook dat hulle nie sal ingaan nie. Hulle wou teruggaan Egipte toe, maar sou vervolgens 40 jaar in die woestyn rondswerf en nie die land van melk en heuning sien nie (v.6).
Hulle rebellie het klaarblyklik verder gestrek en hulle het nie eens hulle eie kinders besny nie. Hulle het die God van die verbond verwerp (selfs al het hulle die uittog uit Egipte ervaar) en toe ook die verbondsteken van hulle kinders weerhou. Hulle het hulle eie kinders onder die vloek van die dood geplaas.
As ons Numeri 14 (rebellie) lees, en ook Eksodus 32 (goue kalf), hoor ons hoe Moses met God praat. Elke keer sê hy vir die HERE, “Maar Here, wat sal die Egiptenare sê wanneer hulle sien hoe Israel bly rondswerf en doodgaan? Dit sal ‘n bespotting wees. Dink aan U eie Naam.” Egipte sou toekyk; hulle gaan nie gou vergeet het wat destyds met hulle gebeur het nie. Hulle gaan sien en sê: “Maar hoekom het God hulle in die woestyn ingebring? Om hulle te laat sterf?” Die HERE word bespot, en Israel dra die las. Daarom, sê God in vers 9: *“Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.”*
Hierdie bespotting het baie kante om na te kyk. Eerstens het ons al na Egipte se letterlike bespotting gekyk. Tweedens, het daardie bespotting ‘n stemmetjie in Israel se oor geword. Hulle self, telkens weer, het dieselfde taal gepraat as die Egiptenare. Toe hulle honger was, het hulle terug verlang na die vleispotte in Egipte. Hulle het die water gemis, die lewe ook. Maar hulle het vergeet dat hulle slawe was – hard onderdruk was.
Satan, deur Egipte, het in hulle kop gekom. So het die bespotting ‘n skaamte geword. Israel het skaam gekry en dit het verder tot sondes gelei en hulle dieper en dieper in hulle eie skaamte laat wegsink. Dit het swaar geweeg. Maar die HERE het die skaamte verwyder, deur die besnydenis. Dis afgesny.
Nog ‘n kant van die bespotting (of skaamte, soos die Hebreeus dit weergee) is dat die onbesnedenes deur God vervloek is. Dit was ‘n skaamte. Die besnydenis was die teken van God se verbond en sy beloftes (Genesis 17). Maar as iemand onbesnede was, was dit ‘n teken van vervloeking. Eenvoudig gestel: die wat besny was, was God se kinders, maar die wat nie besny is nie is nie sy kinders nie. Lewe sonder God is dood. Dink maar aan hoe die Here Moses wou doodmaak omdat hy nie sy seuns besny het nie. Dis ‘n ernstige probleem. Daarom word vers 9 net soveel sterker.
Die bespotting van Egipte is verwyder, want Israel is nou uiteindelik in hulle beloofde land, anderkant die rivier. Die skaamte van hulle eie sondes is verwyder, want die stem van Satan is niks teenoor die verbondsbeloftes van God nie. Die vloek van Israel is afgesny, wat hulle is nou besny, hulle is nou God se kinders.
EN, geliefde, ons self is nou God se kinders. Dit is wat die doop vir ons uitbeeld. Ons besny nie meer nie, maar ons doop nou. Genoeg bloed het aan die kruis van Christus gevloei, so nou beeld die doop die afwassing van ons sondes deur die bloed van Christus uit. Ons skaamte is afgewas.
Die wêreld bespot ons, “waar is julle God?” Maar ons weet dat hulle g’n voet het om op te staan nie. Ons, inteendeel, het Christus as die hoeksteen. Ons hoef nie skaam te kry nie, want ons fondasie is vas. Broer, laat gaan daardie skaamkry van jou. Suster, moenie skaamkry nie. Jy is skoon, jy is Syne. Sy bloed het dit gedoen. “Hoe kan ek van die skaamte ontslae raak?” Deur genade in Christus alleen.
### Gebed
Uit genade alleen kom ons na U toe, Vader. Al dra ons dikwels die las van skaamte, veral wanneer ons aan u heiligheid dink. Hoe kan ek, 'n sondaar, voor U verskyn? Hoe kan ek dit doen? Omdat my skaamte van my afgewas is. U het ons innig lief, en ons is genadiglik vergewe. Daarom loof ons U, ons getroue God, ons Verlosser Jesus Christus. U is vir ewig getrou. U nooi ons na u tafel, en daarom mag ons deel in u seëninge. Vader, daar is baie wat skaam kry. Ons dink aan die armes, die verlore siele, die verwardes. Daar is soveel mense wat die skaamte van sonde dra deur die ellende wat hulle beleef, en wat die genade van ons Here so dringend nodig het. Ons bid vir hulle almal, dat hulle vryheid en rus in u Seun mag vind. Ons dink aan die mense in die gevangenis, wat op 'n baie direkte manier die gevolge van hulle sonde dra. En aan dié wat deur wêreldse godsdiens van God af weggelei word. Mag al die verlorenes, dié wat skaam is, dié wat onbewus is van u genade, dit in die evangelie vind. En dié wat ter wille van die evangelie skaamte ervaar, die vervolgdes, die geïsoleerdes, mag hulle vrede vind in u genade. Vader, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, en laat U gedien word in alles wat ons doen. Mag ons, al moet ons die aanslae van die wêreld en Satan verduur, nooit skaam wees vir die evangelie nie. Dit bid ons, uit genade alleen, tot u eer alleen.
Amen.
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville*
### Nie vir mense nie, maar vir God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/nie-vir-mense-nie-maar-vir-god/
Last updated: 2026-06-07T06:00:16.000Z
*Matthéüs 6:1-18*
In die middel van Jesus se bergpredikasie, bevind ons onsself met drie afsonderlike aspekte van ‘n Christelike leefstyl: liefdadigheid bewys, gebed, en vas. Die aspekte word elkeen in ‘n soortgelyke patroon aan die skare voorgelê: ‘n waarskuwing, hoe die geveinsdes dit doen, hoe ons dit moet doen as gelowiges en die rede hoekom ons dit so moet doen. Christus gee vir ons voorbeelde: Hy verwys na die geveinsdes wat hul eie eer soek en dat hulle nie hul loon gaan verkry nie. Die mentaliteit in teenstelling met die geveinsdes word voorgeskryf as ‘n mentaliteit van verborgenheid, want dit is waar die Vader ons dade sal sien en in die openbaar sal vergelde.
Wat beteken dit dat die Vader ons dade sal vergelde? Beteken dit dat ons ‘n beloning sal ontvang wanneer ons liefdadigheid bewys, wanneer ons bid, en wanneer ons vas? Om dit te verstaan, moet ons kyk na Christus wat die volmaakte voorbeeld van liefdadigheid, gebed en vas vir ons stel. Christus het geen belang daarin gehad om eer by mense te soek nie, maar hy het eerder die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Johannes 13:23-26). Hy het Homself verneder tot die dood toe, en *daarom* het God Hom uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is (Filippense 2:6-9). Kry ons dan ‘n nuwe naam wanneer ons goeie werke doen of nederig is? Die vergelding waarvan Christus praat is nie ‘n loon wat ons verdien nie, maar slegs genade van God aan die wat in Hom is. In Openbaring 3:5 sal, wanneer ons die hemel ingaan, Christus ons naam bely voor die Vader en voor die engele.
Kom ons kyk na elkeen van die aspekte: liefdadigheid, gebed, en vas. Daarby word ‘n fiktiewe karakter se storie vertel om dit aktueel te probeer maak.
“Liefdadigheid bewys” is sinoniem aan “goeie werke doen”. Wanneer ons goeie werke doen, hoe moet ons daarmee omgaan? Christus sê vir ons dat ons nie ‘n trompet voor ons moet blaas wanneer ons goeie werke doen nie.
René het uitgehelp by die kerk se uitreikaksie om mure te verf by die Jakaranda kinderhuis. Deur die dag neem mense fotos van hoe almal werk en daardie aand post René dit op sosiale media. Sy kyk elke 5 minute op haar foon of daar al enige likes of comments ingekom het. Sy praat met haar vriendinne oor hoe sy ‘n positiewe beeld op sosiale media wil uitstraal, maar haar trompet is dopamien-gedrewe - ‘n uitkyk op status.
Ons kry of soek baie keer ‘n rede om goeie werke te doen en daarvoor sal ons soms ekstra baie moeite doen vir eenvoudige resultate. René se probleem is nie haar goeie daad nie, maar eerder dat sy eer soek by mense en nie by God nie. 1 Petrus 2:11-12 gee vir ons ‘n ander beeld van goeie werke. Voor ons goeie werke kan doen, moet ons afsien van vleeslike begeertes. Vers 12 stel dat ons ‘n skoon lewenswandel in die wereld moet hou, sodat die ongelowiges deur ons goeie werke God kan verheerlik. In Lukas 11 waarsku Jesus dat ‘n netjies opgeruimde (maar leë) huis sewevoudig deur bose geeste bewoon sal word. Vul daarom jou huis met geloof en laat goeie werke daaruit voortvloei.
Wanneer ons bid, bid ons tot Iemand persoonlik, naamlik ons Vader wat in die hemel is. Die Jode het in die Ou Testament gebid tot die “God van my vader”, byvoorbeeld die “God van Abraham” (Johannes 5:18)1. Maar Christus, ons middelaar, bring ons nader aan God - deur die aanneming tot kinders (1 Johannes 3:2), mag ons nou roep: “Abba, Vader!” (Romeine 8:15). Ons mag bid tot ons Vader, in die Naam van die Seun, ons middelaar, deur die krag van die Heilige Gees.
Gert bid elke oggend en aand. Vir die afgelope paar maande bestaan sy gebede hoofsaaklik uit ‘n eentonige herhaling wat vra om genesing van sy ma wat siek is. Hy hoop dat hoe meer hy daarvoor bid, hoe groter die kans is dat die Here sy gebede verhoor. Soms wonder hy ook of hy reg bid, so hy sal byvoeglike naamwoorde byvoeg om seker te maak sy versoek aan die Here is duidelik. As mense by die kerk vra of hulle kan help met die situasie, is sy antwoord eenvoudig dat hulle kan bid vir sy ma. Hy dink heeltyd aan sy ma en dit is vir Gert moeilik om geloof in sy eie lewe raak te sien. Hy is eerder vasgevang in twyfel en onsekerheid en wonder of God sy gebede sal verhoor.
Gert het gehoop dat sy, en ander mense se gebede, vir sy ma dus ‘n prioriteit by God behoort te kry. Hy het gedink dat hoe meer perfek sy gebede is, hoe groter is die kans dat God dit sal verhoor. Ons gebede is nie eensydig soos ‘n email wat gestuur word, of ‘n brief wat in ‘n posbus gegooi word nie. Gebed is ‘n direkte lyn van kommunikasie met God - deur gebed mag ons ‘n nouer verhouding met God bou deur Hom ons Vader te noem en Hy sal ons sy weë bekend maak (Jeremia 33:3). Ons mag saam met die dissipels in Lukas 11:1 aan die voete van Jesus sit en sê: “leer ons om te bid” en die Heilige Gees sal ons swakhede te hulp kom (Romeine 8:26).
Om te vas is om sonder kos te gaan vir ‘n kort tyd, gewoonlik vergesel deur gebed. Vas is nie om gewig te verloor of om selfbeheersing op kos toe te pas nie, maar dis ‘n Godwaartse oefening.
Tim is 20 jaar oud. Hy is besig met sy LLB by die Universiteit van Pretoria en aan die kant het hy ‘n Instagram account waar hy tips gee vir LLB studente. Maar met sy besige skedule voel hy ver van God. Hy het êrens gehoor dat vas ‘n goeie manier is om nader aan God te kom, maar hy is bang hy sal nie vol kan hou nie. Hy besluit toe om homself aanspreeklik te hou deur elke dag vir ‘n paar weke lank te post dat hy vas. Hy maak dit eerder as ‘n dieet bekend op Instagram om weg te steek dat hy vas en om meer followers te kry. As hy meer as ‘n sekere aantal likes per dag kry, sal hy dit die volgende dag weer doen.
Vas het ‘n een doel: Om ons nader aan God te bring. Toe Christus op aarde was, was dit nie nodig vir sy dissipels om te vas nie (Matthéüs 9:14-15). Tim het oorspronklik die korrekte verstaan van vas gehad, maar hy het nie vertrou dat God hom deur die vastydperk sal dra nie. Daarmee saam het hy ook ‘n sekondêre doelwit gehad naamlik om te sien of hy meer followers sou kon kry. Die eksperiment het dus meer as een doel gehad, maar as ons vas verwag God ‘n skerp fokus op Hom. Vas kan gesien word as ‘n gawe van God: om te onthou, te bely, te rus, toe te wy, en te vier. Wanneer Christus tydens sy versoeking sê dat die mens nie alleen van brood sal lewe nie (Matthéüs 4:4), skuif Hy die fokus van aardse behoeftes na geestelike behoeftes - ‘n doelbewuste keuse.
Deur daarna te streef om Christus se volmaakte voorbeeld en lering van liefdadigheid, gebed, en vas te volg in die Bergpredikasie, kan ons Christus se beeld uitstraal op aarde - ‘n selflose, Godgesentreerde leefstyl. Die vraag is dus nie *of* ons liefdadigheid bewys, bid, en vas nie - maar eerder: As ons liefdadigheid bewys, bid en vas - doen ons dit tot God se eer of vir ons eie eer.
*1 Sien ook Genesis 28:13, Exodus 3:15, Matthéüs 22:32, Handelinge 3:13, en Handelinge 7:32.*
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Riviere en Klippe – God lei ons deur dodelike waters heen.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/riviere-en-klippe-god-lei-ons-deur-dodelike-waters-heen/
Last updated: 2026-06-03T19:00:09.000Z
*Lees Josua 3 en 4*
“Jou huis is waar jou hart is.” Dit praat van jou tuiste. So, waar voel jy die meeste tuis?
Sommige mense sal hulle adres gee. Ander sal weer aan ‘n spesifieke atmosfeer of persoon dink waar hulle gelukkig en veilig voel. Israel het vir baie jare nie ‘n tuiste gehad nie. Eers was hulle slawe in ‘n ander man se land, en toe het hulle vir 40 jaar deur die woestyn gedwaal. Tog was hulle nie sonder hoop nie, want God het belowe dat Hy hulle tuis sal bring. Net so ly ons almal self aan ‘n tipe heimwee. Ons is nog nie tuis nie – iets bly krap. Dis omdat ons tuiste elders is, of eerder, by Iemand anders is. God gaan ons daar bring.
As ons die verhaal van die deurtog deur die Jordaan sou oorvertel in ons eie woorde, sou ons dink aan die water wat opdam en die mense wat deurtrek. Ons vergeet egter dat die hoofkarakter God self is. Hy het d.m.v. die ark reg in die vloedwaters (3:15) gaan staan. Vloede maak dood, ons land het dit onlangs baie duidelik gesien. Maar geen vloed is groter as God nie.
So God tree letterlik vir ons in. God neem leiding en gaan staan in die dodelike vloedwaters van die Jordaan. Toe stop die watervloed; die dodelike waters kon God se mense nie aanraak nie en hulle kon droogvoets deurtrek.
Christus het presies juis dit gedoen. Net soos die ark ‘Immanuel – God met ons,’ was, so het Jesus uit die hemel aarde toe neergedaal en in die dood ingestap aan die kruis. Ons verdrink in ons eie sonde en ellende, ons kan nie self die vloedwaters oorkom nie. Ons het Christus nodig. Slegs deur Hom kan ons die beloofde land binnegaan. En in Hom het die dood sy angel verloor. Ja die dood bly erg, maar vir gelowiges is dit nou net ‘n deur tot die ewige lewe: ewige vrede en heerlikheid met God. Daarom is dit belangrik dat ons besef dat God die hoofkarakter in die deurtog deur die Jordaan is. Ons moet nie die ark vergeet nie.
God self het ook gesorg dat die ark nie vergete bly nie. Hy sorg vir twee hope van klippe: een in die middel van die rivier en ‘n tweede aan die oewer van die Jordaan. Dit is sodat die mense nie vergeet wat God vir hulle gedoen het nie. Meer nog, is dit ook ‘n leerskool vir kinders. Soos die Heilige Gees dit weergee in vers 6 en 21 van hoofstuk 4, gaan kinders die stapel op die oewer sien en vra: “Wat beteken hierdie klippe?”
‘n Pa kan dan vir sy seun wys dat daar nog ‘n stapel in die middel van die Jordaan staan. En dan kan hy sê: “Presies daar het die ark van God gestaan, die klippe hier kom van daardie selfde plek af. Jy sien, God self het ons daardeur gebring. Nou is ons hier in die beloofde land, ons huis, ons tuiste.”
Ons het self sulke klipstapels vandag: die doop en die nagmaal. Die doop herinner ons dat die sondes afgewas is deur die bloed van Jesus Christus. En die nagmaal maak dit duidelik dat Jesus se liggaam vir ons gebreek is, soos ‘n brood, sodat ons droogvoets deur die dood kan trek – die beloofde land in.
Jesus self gaan ons kom haal. Sy liefde is veel dieper as die waters van die Jordaan. Ja die lewe gee soms storms en golwe word na ons kant toe gegooi, maar Hy self gaan ons daardeur huis toe neem. Die dood sal ons nie aanraak nie, want Hy gaan ons na Homself toe neem. Hy is ons tuiste.
### Coram Deo
Die ark, die rivier, die klippe en die mense dien een doel: die eer van die Here. Net so doen die dood en opstanding van ons Heiland dieselfde, en ook ons eie verlossing dien tot die lof en eer van God die Vader. Dis waartoe alles in die lewe – en selfs die dood – lei. Mag ons daarom so ons hele lewe rig dat dit dieselfde doel dien.
### Gebed
Ons almagtige Skepper God en Vader. U is verhewe bo alles, selfs die see en groot watervloede kan nie voor U bly staan nie. Wie is ons dan sonder U, Here? ‘Wat is die mense dat U aan hom dink?’ Ons sou verdrink het sonder U. Ons sou nooit die beloofde land sien as dit nie vir u Seun was nie. Dankie dat Hy ons plek in die dodelike waters ingeneem het, en dit ook oorkom het! Nou weet ons dat ons lewe. Ons verlang na ons tuiskoms, Here. Daarom bid ons, kom tog gou, Here Jesus. Maranata. Amen.
### Lees verder
Psalm 69 | Filippense 2:5-11
### Idolatry and False Worship - The Second Commandment
URL: https://olielamp.vgk.org.za/idolatry-and-false-worship-the-second-commandment/
Last updated: 2026-05-30T07:00:50.000Z
*Pre-reading: Exodus 20:4-6*
Today, in our current cultural context here in South Africa, it is unlikely that you will see people bowing down to idols. However, if you were to travel to some other countries such as Thailand or India, you will likely be confronted with people bowing down before an image of some deity. Idolatry is therefore very much alive in our world today. This article will seek to explain what the second commandment has to say about idolatry and worship and seek to show that even though we may not be confronted with traditional forms of idol worship, this commandment is still very relevant for us today.
The second commandment builds on the first commandment in that it not only prohibits other gods, but prohibits the worship of them. More specifically, it prohibits the worship of false gods through carved images in the likeness of anything in all creation - heaven, earth and sea (Exodus 20: 4). To do so is to misuse God's creation. Since God's creation reveals his divine nature and eternal power (Romans 1:20) he calls us to praise and recognise him when we look at his creation. Idol worship fails to do this because it does not lift its eyes above the created level to where the Creator sits. In this way, this prohibition is very relevant for us today. While the making of graven images is not a temptation in our cultural context, we are nevertheless tempted to misinterpret creation. We do this when we look for what only God can give in the created things. Perhaps you are seeking the fulfilment only God can give in the life you are busy building. You may not be making a golden calf, but is your desire to build a prosperous life any different? In short, does your pursuit of earthly things amount to idolatry? Consider yourself. What is it exactly that you are building? A golden calf? An idol? Or is it a life of devoted service that honours God?
This leads to the second aspect of this commandment which is that it prohibits false worship of God. In the context of the second commandment, it means two things. Firstly, that we are not to worship God through a graven image in the likeness of any created thing (this was the sin of King Jeroboam in 1 Kings 12:26-30) and secondly, that we are not to visibly portray God in any way. This issue is addressed directly in Deuteronomy 4:15, *"Therefore watch yourselves very carefully. Since you saw no form on the day that the LORD spoke to you at Horeb out of the midst of the fire."* Moreover, *"To whom then will you compare me, that I should be like him? Says the Holy One"* (Isaiah 40:25). The same Hebrew word for *form* in Deuteronomy 4:15 is used for the word *likeness* in Exodus 20:4 and thus we can conclude that God is saying that since he has given us no likeness and since no likeness can adequately reveal him we are not to make an image of him. It is true that God has made human beings in his image and in that sense he has given us a likeness. But the point here is that no depiction *we* might make of God can possibly give him honour since it cannot accurately reveal who he is. An application of this today is that we ought to be careful how we think about God. Again, we may not be constructing a golden calf, but we may well be constructing a false understanding of God in our minds. Perhaps the God of the Bible is a little too harsh for our liking, so we avoid considering the passages which speak of his punishment for sin. Or perhaps our life experiences have caused us to overly focus on one aspect of God's character at the expense of another. True, our life experiences are often powerful ways in which God teaches us about himself, but the call is always to wholly know God as he has revealed himself in scripture and creation. Our worship of him will then bring him greater glory and honour. It is not for nothing that Jesus says, *“You shall love the Lord your God with all your… mind,”* (Matthew 22:37).
Verse five of Exodus 20, *“for I, the LORD your God, am a jealous God,”* provides the reason for this commandment. God is concerned with how we worship him and that we do not worship carved images of other gods because he is a *jealous* God. Exodus 34:14 presses home the significance of this characteristic. *"For you shall worship no other god, for the LORD, whose name is Jealous, is a Jealous God."* Here God says that jealousy is such an integral part of his character that his name is Jealous. But what does it mean? Perhaps the image of a husband and a wife is helpful. We could say that in the same way that a husband is jealous for his wife the LORD is jealous for his people and his glory. Thus, in the context of the second commandment, God’s jealousy for his own glory means that he will not share it with anyone or anything through corrupted worship.
But it goes deeper. In the second commandment we see two responses that flow out from God’s jealousy. Justice and mercy. Justice in that he will visit the iniquity of the fathers upon the children and mercy in that he will show steadfast love to thousands of those who love him. We see this connection elsewhere in scripture. Joel 2:18 connects God’s jealousy to his pity. *“Then the LORD became jealous for his land and had pity on his people.”* Zephaniah 1:18 connects it to his wrath. *“...In the fire of his jealousy, all the earth shall be consumed…”* Thus, we could say that behind God’s justice and mercy stands his jealousy. There is a strong warning here. Those who do not repent will experience God’s jealous wrath. But there is a beautiful promise too. God is faithful and will always show jealous love to those who repent and honour him as God.
Ultimately, we see the promise of the second commandment to be fulfilled in Jesus Christ. It is because God is a jealous God that he sent Jesus his Son to die on the cross for our disobedience of the second commandment. It is because he is jealous for his name and his people that he acted to save them. David himself prophesied in Psalm 69:9 concerning Jesus, *“For zeal for your house has consumed me…”* What a comfort! What an assurance to know that Jesus was so zealous for God’s house that it literally consumed him! Who then can bring a charge against us? Who then shall separate us from his love? *“He who did not spare his own Son but gave him up for us all, how will he not also with him graciously give us all things?”* (Romans 8:32). Does this not cause you too to fulfil the second commandment? Does this not cause you to worship God with fear, reverence and joy?
### For further study and reflection
God’s jealousy like a husband for his wife:
- Ezekiel 16
- Hosea 1-2
God’s jealousy in connection with justice and mercy:
- Deuteronomy 32:16
- Isaiah 37:32
- Ezekiel 36:5-6
- Zechariah 1:14-17
New Testament passages:
- Romans 1:18-32
Psalms:
- Psalm 115
Confessions:
- Heidelberg Catechism LD35
*Written by Joel Boon, VGK Pretoria*
### Volharding van die Heiliges (Dordtse Leerreëls 5)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/volharding-van-die-heiliges-dordtse-leerreels-5/
Last updated: 2026-05-27T17:00:33.000Z
*Hierdie is deel 5 van die* [*Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"*](https://olielamp.vgk.org.za/tag/dordtse-leerreels/)
*Lees: 1 Petrus 5*
Ons kom by die laaste onderwerp van die reeks in die Dordtse Leerreëls. Soos ons al gesien het, word dit deur die **TULIP** akroniem (in die volgorde: **ULTIP)** uitgelê. Vandag behandel ons die “**P**”, Perseverance of the Saints.
- **U**nconditional Election (DL Hoofstuk 1)
- **L**imited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- **T**otal Depravity (DL Hoofstuk 3)
- **I**rresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- **Perseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)**
“Die Volharding van die Heiliges” is die titel van hoofstuk 5\. In hierdie hoofstuk is daar 15 paragrawe oor die sondeval van die mens en ook hoe God ons deur sy genade red. Verder is daar nog 9 paragrawe waarin die Sinode die dwaalleer van Arminius verwerp.
Ons moet eers die titel goed verstaan, want dit som die hoofstuk op. Wie is die “heiliges” of die “saints”? Dit is nie die Rooms Katolieke Kerk se ‘heiliges’ nie, maar dit is eerder die Christene - die wat deur die bloed van Jesus Christus gekoop is en deur die werking van die Heilige Gees vernuwe word. Hierdie is in die vorige hoofstukke van die Dordtse Leerreëls beskryf. Die tweede groot woord in die titel is “volharding”. Om te volhard in iets, is om, al word dinge moeilik, aan te hou – dit is om vas by jou besluit te bly.
Die hoofstuk kan opgesom word deur die vraag: Kan ʼn Christen tot die einde in geloof volhard? En as hy kan, hoe? Dit is vrae wat ons vir onsself moet vra en oor moet nadink. Arminius het soos volg die vraag beantwoord: “*nadat ʼn mens verlos is deur Christus en hernu is deur die Heilige Gees, is hy sterk genoeg om self die aanvalle van Satan, die wereld en eie self te weerstaan en oorwin*”. Hy sê dat God daar is om vir ons krag te gee maar dit hang van die mens se besluit af om daardie krag te gebruik (VD 5.2). Weereens, deur Arminius se leer, word God klein en swak gemaak en die mens groot en sterk.
Maar wat glo ons? Ons glo dat God vir ons, veral in swaar en moeilike tye, krag gee. **Maar,** Hy werk dit in ons harte en lewens sonder dat ons self eers besluit of toestemming gee vir Hom. Hoe wonderlik is dit nie?! As ons eerlik is, dink ons gou dat ons dit self kan doen, sonder hulp. Maar ons moet nederig word, want wat doen God? Hy weet ons gaan sukkel en misluk, so Hy gee vir ons krag deur sy genade voordat ons eers daaraan dink om Hom daarvoor te vra. God wag nie vir die mens nie, want Hy is soewerein en alwetend! Petrus skryf ook oor God se werk in ons: “*En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!*” (1 Petrus 5:10).
Daar is baie versoekings en verleidings in die wêreld om ons: sosiale media, geld, werk, sport, en die lys gaan aan. Satan werk baie hard om ons te verlei. En hy kry dit ook reg - ons val dag na dag weer in die sonde. Ons doen, soos Paulus beskryf in Romeine 7, “*wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek*” (Romeine 7:15). Hoe swak en nietig is ons nie! Dink net dat ons, in ons sondige swak self, die krag moet vind om teen sonde te stry en vir God te kies. Ons sal nie dit kan doen nie, maar net al hoe dieper in sonde val. Daar is wel troos vir ons. Dit is dat God deur sy genade in ons werk. Paulus som, in 1 Korinthiërs 10:13, mooi op hoe God versoekings gebruik: “*Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra*”.
Die Dordtse Leerreëls som ook ons stryd teen die sonde op: “*Selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. *Daarom* moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige beoefening van godvresendheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang, totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer*” (DL 5:2).
Wanneer ons vir God lewe, uit sy Woord, en stry teen die sonde, moet ons ook verstaan dat die Dordtse Leerreëls, saam met die ander belydenisgeskrifte, nie ʼn plaasvervanger vir die Bybel is nie. Dit is daar vir die verryking en versterking van ons geloof. Ons moet dit lees en leer sodat God se Woord meer en meer in ons lewens kan werk. Sodat ons saam met Paulus in geloof kan sê: “*Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het*” (2 Timotheüs 4:7-8).
So hoe kan ʼn Christen dan tot die einde in geloof volhard? Ons kan dit net antwoord deur om te bely: “*Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee*” (Filippense 4:13). Die Dordtse Leerreëls eindig met ʼn gebed wat alles opsom en waarmee ons ook hierdie reeks klaarmaak, versterk deur die Woord van God: “*Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van God sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue bedienaars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek. Amen*” (Dordtse Leerreëls: Besluit).
### Verdere Lesing
- Romeine 7:13-25
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 5 en die Besluit (dit kom na die Verwerping van Dwalings: Hoofstuk 5)
### Gebed
Ons almagtige en genadige Vader in die hemel. Heilig is u Naam. Ons verdien nie om voor U te kom nie, maar U het, in u genade, ons gered van sonde en werk in ons dag na dag. Help ons om ons lewens vir U te leef en vir U alleen. Ons bid dit nie uit verdienste nie, maar alleen uit u genade. Amen.
### Coram Deo
Deur Jesus Christus alleen kan ons in geloof volhard. God die Vader werk deur die Heilige Gees in ons harte dat ons dag na dag kan stry teen die sonde en na Hom draai in geloof en dankbaarheid.
### Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, *God's Glorious GODness* (ble. 1-31)
- Book of Praise
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Detransisionering en Genade - Die getuienis van Christopher Yuan
URL: https://olielamp.vgk.org.za/detransisionering-en-genade-die-getuienis-van-christopher-yuan/
Last updated: 2026-05-23T07:00:45.000Z
In ‘n wêreld waar identiteit en seksualitiet ‘n sensitiewe onderwerp is, word Christene uitgedaag om vas te staan in wat die Skrif vir ons leer, maar ook om op dieselfde tyd liefdevol op te tree. Hierdie onderwerp raak mense diep en kan nie oppervlakkig hanteer word nie. Die Skrif leer ons dat God die Skepper van die mens is en dat ons na Sy beeld geskape is (Genesis 1:27). God het ook die huwelik ingestel as ’n verbond tussen een man en een vrou (Genesis 2:24). Terselfdertyd leer die Bybel ons dat alle mense sondig is en die heerlikheid van God ontbreek (Romeine 3:23). En daarom is elkeen, ongeag hul stryd, volkome afhanklik van God se genade.
Die evangelie bring egter vir al ons sondige mense hoop. Dit roep ons nie net op tot bekering nie, maar gee vir ons ’n nuwe identiteit in Jesus Christus. Hierdie geld vir elke gelowige, ongeag hul verlede. Tog beteken dit nie dat die Christelike lewe sonder stryd is nie. Inteendeel, gelowiges word geroep tot ’n lewe van heiligmaking en gehoorsaamheid (1 Thessalonicense 4:3-5), waar ons daagliks ons eie begeertes moet onderwerp aan die wil van God.
Met hierdie in gedagte, kom ons staan stil by die getuienis van Christopher Yuan - ’n man wie se lewe gekenmerk is deur worsteling, maar ook deur die transformerende krag van God se genade. Sy verhaal herinner ons daaraan dat niemand buite die bereik van God se liefde en verlossing is nie, en dat die kerk geroep is om getrou te bly aan die Skrif, maar ook om met deernis en sagmoedigheid na mense uit te reik (Efesiërs 4:15).
Christopher Yuan is gebore in die Verenigde State en het grootgeword in ’n christelike huis, Hy het egter later van die pad afgedwaal. Hy het homself begin identifiseer as ‘n homoseksuele man en het betrokke geraak by ’n leefstyl wat uiteindelik gelei het tot dwelmmisbruik en die verkoop van dwelms. Dit het uitgeloop op sy arrestasie en tronkstraf. Tydens hierdie moeilike tyd het sy ma tot ’n dieper geloof gekom en aanhoudend vir hom gebid. In die tronk het Christopher begin om die Bybel te lees, en deur hierdie proses en die werk van die evangelie het hy tot bekering gekom en sy lewe aan Jesus Christus oorgegee.
Na sy vrylating het hy besluit om sy lewe in diens van God se te wy. Hy het teologie studeer en het later ’n dosent geword by Moody Bible Institute. Vandag is hy ’n bekende spreker en skrywer wat wêreldwyd getuig van God se genade en die verandering in sy lewe. In sy boek “*Out of a Far Country*” deel hy, saam met sy ma, hul verhaal van gebrokenheid, gebed en herstel.
Christopher Yuan se boodskap fokus daarop dat ’n mens se identiteit in Christus gevind word en nie in jou verlede of versoekings nie. Sy getuienis dien as ’n herinnering dat God se genade kragtig genoeg is om lewens te verander. Die kern van ’n Christen se identiteit lê nie in enigiets wat ons doen nie. Ook nie in ons prestasies, gevoelens of selfs seksualiteit nie, maar alleen in Jesus Christus.
Die Skrif leer dat ons van nature ons identiteit soek in dinge wat veranderlik en gebroke is, maar dat God ons roep om onsself te sien soos Hy ons sien: as mense wat deur genade gered en nuut gemaak is. Soos ons lees in 2 Korinthiërs 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Hierdie nuwe identiteit is nie gebaseer op wat ons voel of ervaar nie, maar op wat Christus vir ons gedoen het.
Die mens se diepste probleem is sonde. Dit is ‘n gebrokenheid wat elke deel van ons wese raak, insluitend ons begeertes. Romeine 3:23 stel dit duidelik: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Daarom word geen spesifieke sonde uitgelig as die kern van ons identiteit nie; eerder is ons almal gelyk afhanklik van God se genade. Wanneer iemand tot geloof kom, ontvang hy nie net vergifnis nie, maar ook ’n nuwe identiteit as kind van God (Johannes 1:12). Dit beteken dat ons primêre identiteit nie lê in ons stryd of versoekings nie, maar in ons verhouding met Christus.
Hierdie nuwe identiteit bring egter ook ’n roeping tot ’n lewe van heiligmaking. 1 Tessalonisense 4:3-5 sê: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking… dat elkeen van julle sy eie vrou moet verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” Vanuit hierdie perspektief word seksualiteit gesien as iets wat onder God se wil gebring moet word, nie iets wat ons definieer nie. Gelowiges word geroep om hulself te verloën en Christus te volg (Lukas 9:23), wat beteken dat ons nie ons identiteit bou op ons begeertes nie, maar dit onderwerp aan God se Woord.
Die getuienis van Christopher Yuan sluit hierby aan. Hy getuig dat sy identiteit nie meer lê in sy seksuele oriëntasie nie, maar in Christus alleen. Sy lewe illustreer die Bybelse waarheid van Galasiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my”. Dit is die roeping van elke Christen, nie net in terme van seksualiteit nie, maar in elke aspek van die lewe. Om hul ware identiteit in Christus te vind, en daarvolgens te leef in afhanklikheid van Sy genade en krag.
Die verhaal van Christopher Yuan herinner ons daaraan dat geen mens buite die bereik van God se genade is nie. Sy lewe is nie ’n eenvoudige “voor en na”-verhaal nie, maar ’n voortdurende reis van groei, gehoorsaamheid en vertroue op die Here. Vir die kerk bly dit belangrik om waarheid en liefde saam te hou, om vas te staan in die Skrif, maar ook om met deernis en begrip na mense uit te reik.
*Geskryf deur Emile Burgers, VGK Maranata*
### Totale Verdorwenheid en Onweerstaanbare Genade (Dordtse Leerreëls 3/4)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/totale-verdorwenheid-en-onweerstaanbare-genade-dordtse-leerreels-3-4/
Last updated: 2026-05-20T17:00:47.000Z
*Hierdie is deel 3 van die* [*Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"*](https://olielamp.vgk.org.za/tag/dordtse-leerreels/)
*Lees: Efesiërs 2:1-10*
Ons het in hierdie reeks van oordenkings alreeds die eerste twee punte van die akroniem **ULTIP** behandel. Vandag kyk ons verder na die derde en vierde punt, die “**T**” en “**I**”:
- **U**nconditionall Election (DL Hoofstuk 1)
- **L**imited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- **Total Depravity (DL Hoofstuk 3)**
- **Irresistible Grace (DL Hoofstuk 4)**
- **P**erseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
In die Psalmboek is Hoofstuk 3 en 4 saam gesit onder een titel: “*Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind*”. Nou hoekom is die twee onderwerpe saam onder een hoofstuk? Soos beskryf is in die inleidingsartikel van die reeks, die Sinode van Dordrecht het teen die vyf punte van die Remonstrante (die leer van Arminius) geskryf. Toe hulle by die derde leerpunt van Arminius gekom het, het hulle besef dat die punt op sigself lyk of dit skriftelik reg is, maar wanneer dit saam met die vierde punt gelees word dan begin mens foute vind. Daarom het hulle die punte saam beantwoord in Hoofstuk 3/4\. Dit word beskryf in 17 paragrawe van Bybelse leer en 9 paragrawe waarin die Sinode die dwalings van Arminius verwerp.
Wat leer Arminius in hierdie derde en vierde punte?
*3\. Dat die mens nie uit homself die saligmakende geloof het nie, en ook nie deur die krag van sy eie vrye wil nie, aangesien hy in die toestand van afval en sonde nie uit en deur homself iets werklik goeds kan dink, wil of doen nie (soos veral die saligmakende geloof); maar dat dit nodig is dat hy deur God, in Christus, deur sy Heilige Gees wedergebore word en vernuwe word in verstand, gevoelens of wil, en al sy kragte, sodat hy reg kan verstaan, oordink, wil en doen wat werklik goed is, volgens die woord van Christus, Johannes 15:5: “Sonder My kan julle niks doen nie.”*
*4\. Dat hierdie genade van God die begin, voortgang en voltooiing van alle goeie dinge is, ook in soverre dat die wedergebore mens, afgesien van hierdie voorafgaande of bystandbiedende, opwekkende, daaropvolgende en samewerkende genade, nie die goeie kan dink, wil of doen of enige versoeking tot kwaad kan weerstaan nie; sodat alle goeie werke of dade wat bedink kan word, aan die genade van God in Christus toegeskryf moet word. Maar wat die wyse van hierdie genade betref, is dit nie onweerstaanbaar nie, aangesien daar geskrywe is van baie dat hulle die Heilige Gees teëgestaan het, Handelinge 7 en ook op baie ander plekke.*
As mens die derde punt lees, lyk dit of daar nie ʼn skriftelike fout is nie; dit is waar dat ons as mense nie enige goed kan doen nie. Maar dit is in punt vier, spesifiek die laaste sin, waar die dwaalleer uitkom. Die laaste sin kom terug op Arminius se leer wat sê dat die mens siek of beseer is en nie totaal verdorwe soos die Bybel vir ons leer nie. Kyk waarop Arminius in die laaste sin klem lê: “*Maar wat die wyse van hierdie genade betref, is dit *nie* onweerstaanbaar nie, aangesien daar geskrywe is van baie dat hulle die Heilige Gees *teëgestaan* het, Handelinge 7 en ook op baie ander plekke.*”
In die vorige oordenking het ons gekyk na Christus wat na die aarde gestuur is. Ons het ook gesien wat Arminius geleer het: dat God, deur Christus, vir alle mense ʼn tweede kans gegee het, maar dat mense wel die keuse het om die te aanvaar of nie. Dit is in Hoofstuk 3/4 waar ons kyk na die “aanvaring” van die genade van God en of dit moontlik is. Die hoofstuk behandel hierdie eerstens deur te kyk na die verdorwenheid van die mens, dan sy bekering tot God en laastens na die wyse waarop hierdie bekering plaasvind.
Nou hoe pas ons dit toe op vandag en die wêreld waarin ons lewe? Die antwoord is **KEUSE**. Keuse word in ons kulture vandag hoog geag! Ons moet kies waarvan ons hou, wat ons wil doen, wat ons glo en wie/wat ons is. Dit is die gevaar; ons dink ons sal goeie en regte keuse maak, maar dit is glad nie waar nie. Hoofstuk 3/4 leer ons oor ons totale verdorwenheid. Ons kan niks, NIKS, goed doen nie. God het ons perfek en na sy beeld geskape, maar deur die sondeval het ons net slegte dinge op onsself gebring (DL 3/4:1). Die sonde van die ouers word oorgedra na die kinders. Verdorwe ouers = verdorwe kinders (DL 3/4:2). Paragraaf 3 noem dat ons verdorwe mense “*onbekwaam \[is\] tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in sonde en slawe van die sonde.*” Kyk na jou lewe - sien jy dit raak? Besef jy hoe sondig en verdorwe jy eintlik is? Ons moet elke dag weer selfondersoek doen; soos Paulus die Korinthiërs bemoedig “*Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef*” (2 Korinthiërs 13:5).
Paragraaf 3 noem verder dat ons nie onsself kan help of red nie: “*kan en wil hulle \[die mens\] nie tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om te verbeter nie*”. Die natuur en die wet kan ons ook nie red nie (sien Paragraaf 4 en 5).Niks kan ons red nie behalwe “*die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk*” (DL 3/4:3).
Ons is verdorwe. Ons moet dit besef en erken, want anders maak ons God klein en die mens groot. **Maar**, ons moet ook besef dat God alleen bekering gee. Ons kan niks self doen nie. Paragraaf 11 leer ons van hierdie bekering: “*deur die kragtige werking van die Gees ... dring Hy ook deur tot die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is*”. Dit is God se onweerstaanbare genade (die vierde punt van **ULTIP**).
Paragraaf 12 noem dit duidelik, dit is “*God wat *sonder* ons, *in* ons werk*”. Laat dit insink! Ons wat teen God rebelleer, wat totaal verdorwe is, wat die ewige dood verdien, kry sonder dat ons dit verdien, die genade van God. Hy werk dit in ons sonder dat ons daarvan weet. Daarom kan ons nie hoogmoedig word nie – dit is deur God alleen! Kom ons besef dat ons klein en nietig is en so kan ons ook God groot maak in ons lewens. Gee Hom die glorie en eer, soos Judas doen in Judas 1:24 en 25 “*Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen*”.
### Verdere Lesing
- Romeine 6:15-23
- Filippense 2
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3/4
### Gebed
Onse genadige en almagtige Vader, Here ons dank U dat ons voor U mag kom. Sonder U sou ons niks kon doen nie, ons sou net die sondige en slegte dinge kies en doen. Maar, Here, deur U alleen is ons gered en kan ons ook in geloof leef deur die Heilige Gees. Help ons om konstant ons lewens te gee vir U en u glorie. Ons bid dit nie omdat ons dit verdien nie, maar deur u Seun, Jesus Christus, Amen.
### Coram Deo
Die besef en erkenning dat ons niks goed kan doen nie is moeilik vir ons. Maar die besef dat God alles vir ons doen, stel ons instaat om Hom te dien en prys. Gee alle eer aan God!
### Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, *God's Glorious GODness* (bl. 1-31).
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Die Eerste Gebod: Is Jou Hart Onverdeeld of bloot Gedeeltelik Syne?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-eerste-gebod-is-jou-hart-onverdeeld-of-bloot-gedeeltelik-syne/
Last updated: 2026-05-16T07:00:21.000Z
Ons is dikwels so vinnig om die Tien Gebooie soos ’n inkopielys af te merk. Ons kyk na die lys en dink met selfvoldaanheid: "Ek steel nie, ek het nog nooit moord gepleeg nie, en ek eer my ouers." Wanneer ons by die heel eerste gebod kom – *“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”* (Eksodus 20:3) – is ons reaksie gewoonlik net so selfversekerd. Ons knik instemmend, want ons kniel immers nie voor goue kalwers of houtsneewerk nie.
Maar as ons dieper in die spieël van die wet kyk, besef ons dat afgodery veel subtieler is as wat ons dink. Dit gaan nie net oor die vervanging van God met ‘n afgod nie; dit gaan oor die byvoeging van "iets anders" naas Hom.
### Die Gevaar van die "En-En" Lewe
Die definisie van afgodery (volgens Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 95) is om in die plek van die enige ware God of naas Hom iets anders te hê waarop jy jou vertroue stel. Dit is om God uit jou lewe te verwyder en Hom met iets anders te vervang. Die meeste van ons sal nooit openlik sê dat ons God verwerp nie. Ons kom die eerste deel van die gebod maklik na: ons verwyder nie vir God nie.
Ons grootste gevaar lê egter in die tweede deel – die neiging om *naas* God iets anders te hê waarop ons ons vertroue stel. Ons probeer ’n "en-en" lewe lei: God én my beleggings; God én my sosiale status; God én my eie vermoëns. Maar die Skrif is duidelik: die eerste gebod is nie ’n keuse van "en-en" nie, dit is ’n radikale "of-of".
In Matthéüs 6:24 waarsku Jesus ons reguit: *“Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”* Die Here soek geen dubbelhartigheid nie. Hy soek nie ’n hoekie van jou hart nie; Hy soek jou hele hart.
### Die Hele Hart, Siel en Verstand
Wanneer Jesus die wet opsom in Matthéüs 22:37, herinner Hy ons dat die eerste gebod vra dat ons die Here moet liefhê met ons *hele* hart, met ons *hele* siel en met ons *hele* verstand. Hierdie totale oorgawe laat geen ruimte vir verdeelde lojaliteit nie.
Die erns hiervan word weerspieël in Jesus se uitdagende woorde in Matthéüs 10:37: *“Hy wat vader of moeder liefhet bo My, is My nie waardig nie; en hy wat seun of dogter liefhet bo My, is My nie waardig nie.”* Selfs die mees edele aardse verhoudings kan afgode word as hulle die plek inneem wat slegs God toekom. Ons harte begeer dikwels van mense of dinge dit wat ons slegs van God kan kry, en ons gee aan ander dit wat slegs God moet ontvang.
### Die Stem van die Belydenis: "Alleen"
Die Heidelbergse Kategismus (Vraag en Antwoord 94) gee vir ons ’n kragtige praktiese gids oor wat hierdie gebod van ons eis. Dit is opvallend dat die woordjie **"alleen"** drie keer gebruik word:
1. Ons moet **alleen** op Hom vertrou.
2. Ons moet onsself **alleen** aan Hom onderwerp.
3. Ons moet alles **alleen** van Hom verwag.
Om dit te kan doen, moet ons die Here ken. Ons kan nie iemand vertrou wat ons nie ken nie. Daarom is die bestudering van Sy Woord nie bloot ’n akademiese oefening nie, maar ’n noodsaaklikheid vir geestelike oorlewing. Hoe beter jy Hom leer ken deur Sy Woord, hoe meer sal jy vind dat Hy die enigste een is wat werklik jou vertroue waardig is.
### Die moderne afgode
Dit is al gesê dat die menslike hart ’n fabriek van afgode is. Vanweë ons sondigheid is ons geneig om aan dinge wat nie bestaan nie, of wat dood is, ’n mag te gee wat hulle nie van nature besit nie. Ons laat toe dat hierdie dinge mag oor ons uitoefen.
Die mees algemene afgod in ons tyd is die "self". Ons probeer dikwels om self ’n god te wees deur ons eie lewens te dikteer, ons eie reëls te maak en onsself op die troon van ons harte te plaas. Die eerste gebod roep ons egter tot nederigheid en geduldige onderwerping. Om jouself op die troon te plaas, is die essensie van afgodery. Ons probeer ons leë harte volmaak met dinge wat "lekker" lyk, terwyl die Here wag om ons harte met Homself te vul.
Vandag is daar talle maniere waarop ons wys dat ons vertroue nie ten volle op die Here en Sy Woord is nie. Waar soek jy jou lewensekerheid en sekerheid oor die toekoms?
- Is dit in jou **beleggings** en bankrekening?
- Is dit in jou **kwalifikasies** of jou werk?
- Is dit in jou **gesin** of jou sosiale kring?
- Is dit selfs in jou **kerklike denominasie** eerder as in Christus self?
Selfs die verering van mense – van sporthelde en bekendes tot politici of familielede – kan die vernaamste plek in ons lewens begin inneem. Die Here eis egter die eerste plek op. Hy wat ons uit die slawerny van sonde verlos het "met groot krag en ’n uitgestrekte arm" (2 Konings 17:35), is die enigste Een voor wie ons moet neerbuig.
### ’n Saak van Lewe en Dood
Met die eerste gebod is daar baie op die spel. Die Heidelbergse Kategismus (Vraag en Antwoord 94) bely dat ons sieleheil hiervan afhang. Dit is lewensnoodsaaklik om die ware God alleen te dien.
As ons besef hoe deurslaggewend hierdie keuse vir elke mens op aarde is, kan ons nie anders as om passievol te raak oor sending en evangelisasie nie. Volgens die eerste gebod het ons elkeen die plig om onsself én ons naaste weg te roep van die afgode af en terug na die ware God toe.
### Gevolgtrekking
“Hy wat nie met My is nie, is teen My,” sê die Here in Matthéüs 12:30\. Daar is geen middeweg nie. Ons moet die Here opnuut elke dag vra vir krag om die keuse vir Hom alleen te maak en – nog belangriker – om by daardie keuse te bly.
Wanneer ons vir die Here kies, moet ons ook alles verwyder wat daardie keuse in gevaar kan stel. Ons moet wegvlug van alles wat ons aandag van Hom aflei. Mag ons harte vandag gevul word met die vrede wat net die ware God kan bied, terwyl ons bely: "Here, U alleen is my God; op u alleen vertrou ek."
*Geskryf deur Marlies van Renssen, VGK Bellville*
### Beperkte Versoening (Dordtse Leerreëls 2)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/beperkte-versoening-dordtse-leerreels-2/
Last updated: 2026-05-13T17:00:12.000Z
*Hierdie is deel 2 van die* [*Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"*](https://olielamp.vgk.org.za/tag/dordtse-leerreels/)
*Lees: 2 Korinthiërs 5:12-21*
Laasweek het ons in God se uitverkiesing gesien dat Hy ons van die strikke van sonde bevry. Ons het dus gekyk na die “wat” van die uitverkiesing, maar hierdie week kyk ons na die “hoe” van die uitverkiesing. Dit is in die tweede punt van die Engelse akroniem **ULTIP**:
- **U**nconditional Election (DL Hoofstuk 1)
- **Limited Atonement (DL Hoofstuk 2)**
- **T**otal Depravity (DL Hoofstuk 3)
- **I**rresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- **P**erseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
“Die Dood van Christus en die Verlossing van die Mense deur sy Dood” is die hoofstuk se titel. Hier word die dood van Christus en hoe ons daarna moet kyk in 9 paragrawe uitgelê.
Arminius se dwaalleer oor Christus se dood kan gevind word in die verwerping van dwalings. Hier kan ons lees hoe hy geleer het dat Christus vir die hele mensdom gesterwe het, **maar** dat net ʼn gelowige kan kies om die dood van Christus en die vergewing van sondes te aanvaar. Jy vra dalk nou vir jouself: hoekom moes Christus dan sterwe? Kon Hy nie net van die hemel af iets gedoen het vir almal nie? Die Arminiane sê dat God, toe Hy die mens geskape het, vereis het dat almal perfek aan die wet gehoorsaam moet wees. Maar, na die sondeval het God besef dat niemand perfek al sy gebooie sal kan onderhou nie. Arminius leer verder dat God sy Seun stuur om ʼn perfekte voorbeeld te wees hoe om God se gebooie volledig na te kom. Hy is nie gestuur om vir sondes te sterwe nie, maar leer hulle om aan God se vereiste te voldoen sodat dit makliker kan wees vir mense om verlossing te ontvang.
Arminius leer verder dat terwyl dit nou makliker is deur Christus se dood om verlossing te kry, beteken dit nie dat alle mense dit sal ontvang nie. Hy sê die enigste vereiste van God vir mense om verlossing te ontvang, is om te besluit om God te aanvaar. Soos genoem in die inleiding van die reeks, het Arminius geleer dat die mens “siek” of “beseer” is. So, sê hy, kan mens self besluit om te glo en so verlossing ontvang. Hierdie leer van Arminius word uitgelê in paragraaf 2, 3 en 4 in die Verwerping van die Dwalings in Hoofstuk 2\.
Die leer van Arminius breek God en veral Christus se soewereiniteit af en maak die mens groter. Hy plaas Christus se dood ver weg van ons – ons wat elke dag weer sukkel teen sonde. Hy leer dat sonde net vergewe sal word **as** mens aanhou glo en nie net dat ons sonde vergewe is, punt. Hierdie leer bring niks troos nie, veral nie as mense sukkel met hulle geloof nie.
Wat glo ons dan? Waar vind ons ons troos in Christus se dood? Die antwoord vind ons in paragraaf 8 van Hoofstuk 2\. Daar lees ons dat God in sy goeie raadsplan en uit genade alleen *“die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun aan al die uitverkorenes tot voordeel sal strek”* (DL 2:8). Christus is nie gekruisig sodat almal verlossing kan ontvang nie, maar net die uitverkorenes. Alhoewel Christus se kruisdood genoeg is om die hele wêreld te verlos, word dit net beperk na die uitverkorenes (DL 2:4). Dit is die Beperkte Versoening wat hierdie hoofstuk opsom. Hierdie word bevestig deur Christus se woorde in Johannes 17:9 “*Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort*”.
Dit is nie al wat God vir ons doen nie. Ons lees verder in paragraaf 8: “*so het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigmakende geloof skenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die oorspronklike sonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig.*” Christus werk geloof in ons, omdat ons totaal verdorwe is in ons sonde. Watter troos is dit nie! Ons hoef nie te leef met vrees soos Arminiane nie - die vrees dat ons dalk nie genoeg doen nie. Ons mag weet dat **Christus** alles gedoen het!
Dit is verder toepaslik vandag, want die dwaalleer van Arminius is die basis van die hedendaagse dwaalleer dat die God van die Nuwe Testament meer liefde en barmhartigheid wys as die God van die Ou Testament. Hoe kyk ons na hierdie leer? Ons mag weet dat God vir ewig en altyd dieselfde bly; Hy “*is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid*” (Hebreërs 13:8). Hy het al van die begin van die wêreld sy raadsplan gehad. Hy het al deur die Ou Testament plek gemaak vir Jesus Christus en die nuwe verbond deur sy bloed. Paragraaf 9 som dit op: “*hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer, ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk*”.
Paragraaf 8 eindig met ‘n troos: “*Ten slotte dat Hy \[Christus\] hulle \[die uitverkorenes\] tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in die heerlikheid by Hom sal neem*”*.* Hierdie mag ons baie troos en krag gee in tye van sukkel en depressie, die lae tye in ons geloof. Christus is **altyd** daar vir ons. Hy vergewe ons sondes en maak ons nuut. Ons mag lewe, dag tot dag, met die vooruitsig van die ewige lewe saam met Christus. Soos gesê is in Paragraaf 9 “d*aar sal altyd ʼn kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het – soos ʼn bruidegom vir sy bruid – standvastig liefhê, Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.*” Kom ons leef vandag met hierdie vooruitsig!
### Verdere Lesing
Hebreërs 9:23-28, Hebreërs 10:11-18, DL Hoofstuk 2
### Gebed
Onse getroue en alwetende God en Vader in die hemel. Ons is dankbaar dat ons voor U mag kom, al is ons sondige en ontroue mense. Here, versterk ons geloof in U en u Woord, veral ook deur u Seun se kruisiging. Ons verdien nie u genade nie – help ons om dankbare lewens vir U en U alleen te leef. Ons bid dit alleen in die bloed van u Seun, Jesus Christus, Amen.
### Coram Deo
Die dwaalleer van Arminius verkleineer God en sy krag en genade. In die Bybel en die Dordtse Leerreëls kan ons lees oor alles wat Christus vir ons gedoen het – laat ons troos hieruit vind en so ook in dankbaarheid lewe!
### Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, *God's Glorious GODness* (bl. 1-31).
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Amen – ‘n belydenis van vertroue dat God hoor
URL: https://olielamp.vgk.org.za/amen-n-belydenis-van-vertroue-dat-god-hoor/
Last updated: 2026-05-09T07:00:18.000Z
*Verwerking van ‘n preek deur Ds C Kleyn (2005-06-05)*
Ons almal sluit ons gebede af met die woord Amen. Dit is een van die eerste geloofswoorde wat baie kinders leer. En dit is is ook die woord waarmee die Onse Vader afsluit. Maar watter waarde het die woordjie "amen" in die praktyk van jou gebede? Kry dit soms nie die betekenis van: Klaar, dis afgehandel nie. Of dalk wonder jy wat van die gebed sal word, hoor God jou ooit.
As dit is hoe ons Amen sê, dan het ons gebed min of geen waarde nie. Dan kan mens verstaan hoekom baie mense op die ou end stop om te bid. Sulke gebede is nie vertroulike gesprekke met God nie. Dan praat jy in feite in die lug en rig jy jou nie in geloof tot die hemelse Vader, wat beloof het om na jou te luister, nie. Wanneer amen niks meer beteken as "klaar" nie, dan is dit waardeloos. Dan geld dit wat die Here gesê het: "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af." (Matthéüs 15:8).
Die gelowige gebed is egter ‘n gebed vol van vertroue. As die vertroue nie daar is nie, dan beledig ek God in sy gesig. Dink maar aan enige gesprek met ander mense - Wanneer jy met iemand praat en hulle duidelik laat agterkom dat jy hom nie vertrou nie, dan beledig jy hom in sy gesig. Jy sal sukkel om ‘n oop gesprek te hê. Dan het jy geen gemeenskaplike basis meer nie.
Met die gebed werk dit dieselfde. Om te bid sonder om te glo dat God betroubaar is en nakom wat Hy belowe het, is dieselfde as om God in sy gesig beledig. Die gebed is dan skyn. Geen wonder dat ons op die wyse nie die krag en troos van die gebed ervaar nie.
Die woordjie amen wil my op die hoogte van die geloofs-verwagting bring. Letterlik beteken die woord: dit staan vas, dit is geldig. Wanneer ek die woord gebruik, dan bely ek daarmee: ek erken die volle geldigheid en waarheid van wat ek sopas gesê het.
In die Onse Vader slaan die amen allereers terug op die lofprysing daarvoor: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Die woorde staan vas. Dit is waar en seker. Daarom is ek seker van die verhoring van my gebed. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer. In my be-aming van die lofprysing gee ek uiting aan die sekerheid van die verhoring. Ek bely: my gebed is verhoor.
Dink maar aan Psalms 10, 20 en 28 (Om net ‘n paar te noem) - Midde in die nood roep die Psalmiste uit: “Die Here het gehoor” (Psalm 10). “Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos” (Psalm 20). “Geloofd sy die Here, want Hy het die stem van my smekinge gehoor” (Psalm 28). ‘n Gelowige gebed kan van die sekerheid van die verhoring juig. Jy weet dit so seker dat jy dit selfs kan teken as iets wat reeds aanwesig is.
Hoe kan jy daarvan so seker wees? Net deur geloof. Deur God op sy woord te aanvaar. Deur God in sy mag en heerlikheid te vertrou. Deur alle woorde, inklusief die beloftes, van die groot en getroue God te glo. Hy het Homself as die Hoorder van die gebede bekend gemaak en getoon. Het Hy jou dan nie belowe dat Hy jou met alle goeie dinge wil versorg nie? Dit wil Hy as jou getroue Vader, en dit kan Hy ook as jou almagtige Vader, doen. Hy het die oorwinning belowe. In my gebed lê ek my hand op sy beloftes. Daarin vind ek my vastigheid. "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (dit wil sê in Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons" (2 Korinthiërs 1:20). Ons laat ons amen hoor nadat en omdat Hy eers sy ja van trou laat hoor het.
"Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."(Openbaring 1:8). Christus self word die Amen genoem, die getroue en waaragtige Getuie (Openbaring 3:14). Alles wat Hy gesê en beloof het, het Hy as die Amen, as die Getroue gesê. Daarom kan jy vol vertroue amen op jou gebed sê. Jou sekerheid rus in sy trou en sekerheid.
Ons gebede is baie sekerder deur God verhoor as wat ons in ons harte voel dat ons dit van Hom begeer. Deur ons sonde is ons begeertes dikwels onsuiwer en kortsigtig. Ons laat ons maklik verblind deur ons eie nood. As ons dan nie van die konkrete nood verlos word nie, dan dink ons vinnig dat ons gebede nie verhoor word nie. As ek byvoorbeeld vir genesing gebid het en ek word nie genees nie, het God my dan verhoor? As die moeites in my gesin of in my persoonlike lewe erger word pleks van beter, is my gebed wel verhoor? So bly ons sit in ons kortsigtigheid met die sogenaamde onverhoorde gebede. Maar God verhoor baie sekerder as wat ek bid of dink. Ons sien dikwels slegs uit na ‘n tydelike en onmiddellike vervulling. Ons kyk nie verder nie. Maar God se planne gaan baie verder. Hy werk heen na ‘n ewige ryk, ‘n ryk so groot in heerlikheid dat ons menslike breine dit nie kan bevat nie.
God is ‘n Verhoorder van die gebede. Op hierdie oomblik sien ek miskien nie baie daarvan nie, die moeites kan selfs vererger, maar op God se tyd sal blyk dat Hy die gebede verhoor, baie ryker as wat ek my ooit ingedink het. Die stryders van Psalm 20 het vir die oorwinning van die koning gebid. Hulle het ook reeds van die oorwinning gesing. "Hulle het inmekaargesak en geval, maar ons het opgestaan en ons weer opgerig."
Die mense wat Psalm 20 gedig het, het gedink aan die aardse oorlog in hulle tyd, en ja, die Here het hulle ook daarin gehelp. Tog kan ons ook nou terugkyk en sien Hoe die Here planne vir nog baie groter oorwinnings gehad het, planne wat hulle nog nie verstaan het nie. Die Here het sy Gesalfde, ons Here Jesus Christus, die oorwinning gegee. En Christus sal eenmaal alle vyande oorwin. Die goddelose, die antichristelike magte sak inmekaar en val, maar die gelowiges - ook hulle wat hul goed en bloed in die stryd verloor het - sal opstaan en hulle weer oprig. Hulle sal verhoog word en met ongekende heerlikheid gekroon word.
Mag net so die einde van ons gebede ‘n loflied wees op God se grootheid en trou. Gee uiting aan die sekerheid van die verhoring - ook al verkeer jy nou nog midde-in die nood en stryd. Bid sonder ophou. Volhard in die geloof. Onthou: aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Die oorwinning is seker.
AMEN
**Bron:** Kleyn, C. 2005. *In die slot van ons gebed gee ons uiting aan ons sekerheid van die verhoring.* Aanlyn: [https://www.vgk.org.za/preke/24130](https://www.vgk.org.za/preke/24130?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Onvoorwaardelike Uitverkiesing (Dordtse Leerreëls 1)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-se-voorbeskikking-dl1/
Last updated: 2026-05-06T17:00:53.000Z
*Hierdie is deel 2 van die* [*Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"*](https://olielamp.vgk.org.za/tag/dordtse-leerreels/)
*Lees: Efesiërs 1:1-14*
Ons kyk in hierdie reeks van oordenkings na die Dordtse Leerreëls. Dit word uitgelê deur die **TULIP** akroniem, maar in die volgorde van **ULTIP**. Vandag behandel ons die eerste punt:
- **Unconditional Election (DL Hoofstuk 1)**
- **L**imited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- **T**otal Depravity (DL Hoofstuk 3)
- **I**rresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- **P**erseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
Die titel van die hoofstuk is “God se Voorbeskikking”. Daarna volg 18 paragrawe oor die uitverkiesing en voorbeskikking voordat daar nog 9 paragrawe is waarin die Sinode die dwaalleer van Arminius verwerp het en ons ook leer wat die Bybel daaroor leer.
Die uitverkiesing en voorbeskikking is ʼn moeilike onderwerp. Hoe kan God net sommige mense uitverkies en nie ander nie? Is dit regverdig teenoor die wat nie uitverkies is nie? Hulle het nie eens ʼn kans gekry nie. Gaan die uitverkiesing nie mense lui maak - die feit dat mense weet dat hulle uitverkies is? Hierdie is moeilike vrae en vrae waarmee baie van ons worstel. Kom ons kyk in die Bybel na wat God sê oor die uitverkiesing en voorbeskikking.
Ons lees in Romeine 8:29-30: “*Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.*” God het alreeds geweet wie die mense is wat Hy uitverkies het. God lei die mense se lewens tot verheerliking in Hom. Hy roep hulle en regverdig hulle.
In Efesiërs 1:4-6 lees ons: “*soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.*” Hier leer Paulus ons dat die Here al voor die skepping geweet het wie Hy uitverkies het. Maar ook in die deel, lees ons dat God ons voorbeskik het “na die welbehae van sy wil”. Dit leer ons dat die basis van die uitverkiesing in God se wil gevind word.
Hierdie word nog verder geleer in 2 Timotheüs 1:9-10, waar ons lees dat God “*wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is, maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie*”. Weereens lees ons dat God al van ewigheid af mense uitverkies het vir sy glorie. Dit wys God se soewereiniteit, dat Hy al van ewigheid weet en nie dat Hy net gou ʼn plan moes maak na die sondeval nie.
So hoe hanteer ons die vrae oor regverdigheid van uitverkiesing? Ons moet versigtig wees om ons eie opinies en die van die wêreld in te bring voordat ons nie geluister het na wat God vir ons in sy Woord geopenbaar het nie. God openbaar nie die uitverkiesing aan die begin nie. Ons lees eers oor die skepping, die sondeval, die begin van ons verlossing, van die sonde en die verbond. Na al hierdie lees ons eers oor die uitverkiesing. Eers in Deuteronómium 7:7-8 lees ons oor die uitverkiesing toe God vir Moses gesê het dat Hy vir Israel uitverkies het, nie omdat hulle so goed was nie, maar eerder uit God se liefde.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis volg ook hierdie volgorde. Die skepping in paragraaf 12 tot 14, die sondeval in paragraaf 14 en 15 en dan eers die uitverkiesing in paragraaf 16 en 17\. Jy vra dalk nou, maar hoekom is die volgorde belangrik? As ons eers kyk na die uitverkiesing en dan na die res, is ons geneig om te dink dat God onregverdig is om net ʼn paar mense te red en ander nie. Maar as ons die volgorde van die Bybel volg dan kan ons sien dat God die aarde perfek en sonder sonde geskape het. Dan moet ons kyk hoe ondankbaar ons was en wat ons aan God gedoen het, hoe diep ons Hom seergemaak het deur ons val in sonde. Ons het die duiwel gekies bo ons hemelse Vader wat **alles** **perfek** vir ons gedoen het. As ons uit dié oogpunt kyk, dan het God alle reg om ons te los in ons sondes en ewige verdoemenis. Maar deur die uitverkiesing wys God sy volmaakte liefde aan ons. Hoe verstommend is dit nie dat God al van ewigheid af ons wat teen Hom gerebelleer het, gekies het om aan te neem as sy kinders!
Ons lees in paragraaf 7 ʼn opsomming van die leer van die uitverkiesing: “*Hierdie uitverkiesing is ʼn onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ʼn sekere aantal mense uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende*.”
Arminius het aan die ander kant geleer dat God voor die skepping al vooruit in tyd gekyk het en ’n paar ‘goeie’ mense gesien het wat in Hom sou glo. En met die kennis het God hulle uitverkies. Hierdie leer is “uitverkiesing op grond van vooruitgesiene geloof” genoem. Die groot fout in die leer is dat God sy keuse baseer op mense en nie in Homself nie. Dit maak God kleiner en mense en hulle keuse groter. Dit gaan direk teen wat ons gelees het in Efesiërs 1.
Hierdie leer sou maak dat ons niks sekerheid kon hê oor ons uitverkiesing nie. As ons ʼn “dip” vang in ons geloof, dan gaan ons groot onsekerheid hê of ons gered is. Christus is ons sekerheid! In die leer van uitverkiesing staan Hy sentraal (Ef 1:4-6). As ons vertrou dat God, in Christus, ons uitverkies het, kan ons in tye van sukkel en depressie na Hom kyk en in geloof hoop en vertroue kry dat God ons nooit sal verlaat nie. Kom ons plaas biddend ons vertroue in God alleen. Want in Hom vind ons sekerheid en verlossing!
### Lees Verder
- Romeine 8:29-30
- 2 Timotheüs 1:9-10
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1
### Gebed
Here, ons kom voor U as sondige mense. Ons verdien nie om U kinders genoem te word nie. As ons verlossing van onsself afhang, sou ons nie daar kom nie. Here ons dank U vir u liefde en u perfekte raadsplan. Help ons om te leef soos u kinders uit dankbaarheid. Amen.
### Coram Deo
Die Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1 leer ons volle vertroue in God se soewereiniteit. God het ons uitverkies en gered, nie omdat ons so goed is nie, maar omdat Hy in liefde mense wou red.
### Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, *God's Glorious GODness* (ble. 1-31).
- Vliet, J. V. (2016). Election: God's Decision to Adopt. In J. V. Vliet, *Growing in the Gospel Volume 1* (pp. 139-155).
- Book of Praise
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Goddelike Soewereiniteit as Klimaks van ons Gebede
URL: https://olielamp.vgk.org.za/goddelike-soewereiniteit-as-klimaks-van-ons-gebede/
Last updated: 2026-05-02T07:00:02.000Z
Die Onse Vader eindig nie by die mens se nood nie, maar by God se troon. Dit is nie ’n sentimentele afsluiting nie, maar ’n teologiese uitspraak van absolute soewereiniteit. Die woorde: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid,” is nie bloot ’n liturgiese afronding nie, maar die klimaks waarin die hele beweging van die gebed in God self tot rus kom. Wat in die voorafgaande bedes gevra is — die heiliging van die Naam, die koms van die koninkryk, die geskieding van die wil, die daaglikse brood, die vergewing van sondes en die bewaring van versoeking — word hier teruggeplaas in die sfeer van Goddelike heerskappy.
Hierdie slotdoksologie, soos oorgelewer in Mattheüs 6:13, eggo die lofbelydenis van 1 Kronieke 29:11, waar grootheid, krag en heerlikheid aan die Here alleen toegeskryf word. Selfs al wys tekskritiese oorwegings daarop dat hierdie woorde nie in al die oudste manuskripte voorkom nie, bly dit volkome in lyn met die Skrifgetuienis en die vroeë kerk se liturgiese belydenis. Die teologiese vraag is daarom nie eerstens of die doksologie oorspronklik tot Mattheüs behoort nie, maar wat dit beteken. Indien die koninkryk aan God behoort, is dit nie ’n menslike projek nie. Indien die krag aan Hom behoort, is sy wil nie afhanklik van skepsellike samewerking om uitgevoer te word nie. Indien die heerlikheid aan Hom behoort, is Hy self die einddoel van alle dinge, ook van ons gebede.
Die slot van die Onse Vader raam die hele gebed dus radikaal teosentries. Goddelike soewereiniteit word nie van buite op die teks afgedwing nie; dit is die innerlike logika van die gebed self. Die klimaks van ons gebede lê nie in die vervulling van ons behoeftes nie, maar in die erkenning dat alles reeds en altyd aan God behoort.
### Die Koninkryk: Heerskappy, nie Grondgebied nie
Wanneer die gemeente bely: “Aan U behoort die koninkryk,” moet dit duidelik wees dat *koninkryk* in die Skrif nie in die eerste plek op ’n geografiese ruimte dui nie, maar op heerskappy — God se aktiewe, regerende gesag. Die Griekse *basileia* wys nie primêr op ’n territorium nie, maar op koningskap: die daadwerklike uitoefening van koninklike mag.
Hierdie onderskeid is beslissend. As die koninkryk ’n grondgebied was, sou dit begrens of verloor kon word. Maar as dit heerskappy is, rus dit in God self. Hy word nie Koning wanneer mense Hom erken nie; mense erken Hom omdat Hy reeds Koning is. Daarmee word die bede “Laat u koninkryk kom” reg verstaan: die kerk bid nie dat God eendag Koning moet word nie, maar dat sy reeds bestaande heerskappy sigbaar, erken en volkome geopenbaar sal word. Gebed bring dus nie God se regering tot stand nie; dit onderwerp die bidder aan daardie regering.
### **Die Krag: God se Effektiewe Uitvoering van sy Wil**
Waar die koninkryk God se reg om te regeer beklemtoon, beklemtoon die krag sy vermoë om daardie regering werklik uit te oefen. God se heerskappy is nie simbolies of potensieel nie, maar effektief. Hy besit nie bloot die reg om te regeer nie; Hy beskik ook oor die mag waardeur sy wil onfeilbaar tot vervulling kom.
Die Skrif se begrip van krag dui op werkende, uitvoerende mag. Wat God wil, dit doen Hy. Geen weerstand in die skepping kan sy raadsplan verydel nie. Daarom verwerp hierdie belydenis elke voorstelling van ’n afhanklike of beperkte God. Jesaja beklemtoon dat niemand God se hand kan terughou nie, en Efesiërs leer dat Hy alles werk volgens die raad van sy wil. Sy krag is nie reaktief nie; dit is soewerein. Hy reageer nie bloot op die geskiedenis nie — Hy orden dit.
Hiermee word ook ’n ernstige dwaling ontbloot: die idee dat God se wil uiteindelik afhanklik is van menslike samewerking om doeltreffend te wees. Indien die krag aan God behoort, kan sy voornemens nie gefrustreer word deur menslike ongehoorsaamheid nie. Die mens kan sonde doen en skuld dra, maar hy kan nie God se soewereine doel verydel nie.
Die kruis van Christus is die diepste openbaring van hierdie waarheid. Wat vir die wêreld soos swakheid lyk, word die middel waardeur God verlossing bewerk. God se krag word nie gemeet aan aardse maatstawwe van geweld of oorheersing nie, maar aan sy vermoë om sy verlossingswil onfeilbaar te laat geskied. Daarom is gebed nie ’n poging om God te oorreed om te doen wat Hy andersins nie sou kon doen nie. Dit is die erkenning dat alle ware verandering, alle ware verlossing en alle ware uitkoms uit sy hand kom.
### Die Heerlikheid: God as Einddoel van Alle Dinge
Die laaste element van die doksologie bring die belydenis tot sy hoogste punt: “Aan U behoort … die heerlikheid.” Waar die koninkryk God se reg om te regeer aandui en die krag sy vermoë om sy wil uit te voer, openbaar die heerlikheid die doel van dit alles. God handel nie bloot omdat Hy kan nie; Hy handel ter wille van sy Naam. Sy heerlikheid is die eindpunt waarna alle dinge beweeg.
In die Skrif dui heerlikheid op die openbaring van God se majesteit, heiligheid en volmaaktheid. Dit beteken dat God nie bloot die middel tot menslike geluk is nie. Hy is self die hoogste goed. Hier word elke subtiele vorm van mensgesentreerdheid afgewys. God bestaan nie ter wille van die mens nie; die mens bestaan ter wille van God. Selfs verlossing is uiteindelik op die verheerliking van sy genade gerig. Soos Romeine 11:36 sê: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.”
Hier lê die hart van die gereformeerde belydenis *Soli Deo Gloria*. Geen mens, kerk of skepsel dra finale betekenis in homself nie. Alles bestaan tot eer van God alleen. Om te bid is daarom nie om God in diens van ons doelwitte te stel nie, maar om onsself te rig op Hom as die einddoel van ons bestaan.
### Tot in Ewigheid: Eskatologiese Finaliteit
Die doksologie eindig met die frase: “tot in ewigheid.” Dit is nie poëtiese versiering nie, maar eskatologiese sekerheid. God se koninkryk, krag en heerlikheid is nie tydelik of onderhewig aan historiese verval nie. Wat aan Hom behoort, behoort aan Hom sonder einde. Daarmee word elke menslike ryk gerelativeer. Politieke magte verrys en val, kulture blom en verdwyn, maar God se heerskappy strek verby die grense van die geskiedenis. Die geskiedenis beweeg na die finale openbaring van sy koninkryk, die onbetwisbare openbaring van sy krag en die allesoorheersende verskyning van sy heerlikheid. Gebed het daarom altyd ’n eskatologiese rigting: dit sien verder as die onmiddellike nood van die oomblik en rus in die ewige regering van God.
### Gevolgtrekking: Gebed as Onderwerping
Die doksologie van die Onse Vader bring die bidder tot diepe onderwerping. Gebed eindig nie in selfgerigtheid nie, maar in aanbidding. Ons besit nie die koninkryk nie, maar erf dit deur genade, ons beskik nie oor die krag nie, en ons dra nie die heerlikheid nie. Alles behoort aan God. Hy is koning, alles geskied deur sy krag en dien tot sy heerlikheid.
Daarin lê die ware aard van gebed. Dit is nie ’n middel waardeur die mens beheer oor sy omstandighede verkry nie, maar ’n handeling waardeur hy homself onderwerp aan God se volmaakte wil. Gebed leer die hart om te rus in God se soewereiniteit, selfs waar sy weë nie ten volle begryp word nie. Menslike afhanklikheid is dus nie iets wat oorkom moet word nie, maar iets wat erken moet word. Die bidder staan nie as vennoot langs God nie, maar as skepsel voor sy Skepper.
Tog is hierdie afhanklikheid nie wanhoop nie. Dit rus in die sekerheid dat die God aan wie alles behoort volkome wys, goed en getrou is. Daarom eindig die Onse Vader waar alle ware teologie moet eindig: nie by die mens nie, maar by God, die Alfa en die Omega, die begin en die einde, aan wie die koninkryk en die krag en die heerlikheid behoort tot in ewigheid.
*Geskryf deur Erik de Jong, VGK Pretoria*
### Meer van God, minder van my
URL: https://olielamp.vgk.org.za/meer-van-god-minder-van-my-dl1/
Last updated: 2026-04-29T17:01:02.000Z
*Hierdie is deel 1 van die* [*Dordtse Leerreëls reeks "Meer van God, minder van my"*](https://olielamp.vgk.org.za/tag/dordtse-leerreels/)
Lees: Job 25
Die Dordtse Leerreëls is die derde en laaste geskrewe formulier van die Drie Formuliere van Eenheid: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en dan die Dordtse Leerreëls. Dit is geskryf en aanvaar deur die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke wat gehou was in 1618-1619 in Dordrecht, Nederland. Die sinode was spesifiek gevorm om deur die dwaalleer van die Remonstrante te werk en dit te toets aan wat die Bybel vir ons leer. Die Dordtse Leerreëls word ook genoem “die Vyf Paragrawe teen die Remonstrante”.
Die Dordtse Leerreëls is ʼn uitdagende, moeilike en vol belydenisgeskrif. Jy moet soms ʼn paar keer ʼn sin deurlees voordat jy dit verstaan. Amper elke paragraaf lei na vrae waaroor mens gou kan wonder. Dalk vra jy nou jouself: maar hoekom is so ʼn ou belydenisgeskrif nog belangrik vir my om te lees? Is dit vandag nog toepaslik vir ons? Of moet dit wees? Om te sien hoe dit nog belangrik is vir ons, moet ons eers na die konteks en gebeurtenisse wat voor die sinode plaasgevind het kyk. Ons moet ook kyk na wie die Remonstrante en Arminius was en wat hulle geleer het.
Die Remonstrante is die groep wat die leer van Jakobus Arminius volg. Maar Arminius se leer kom van nog vroeër af - dit het begin met die Pelagiane. Pelagius het gesê dat mens kan kies vir goed of vir sleg. Hy het ook nie in erfsonde geglo nie; geleer dat jy sonder sonde of gebrek gebore is, maar jy kan kies vir die slegte, of beïnvloed word deur jou sondige ouers om vir sonde te kies. Verder het hy ook gesê dat die mens self sy eie verlossing kan uitwerk en nie God se genade nodig het nie. Augustinus het teen hierdie leer gepreek. Hy het vanuit die Bybel teen Pelagius en sy gedagtes gepraat. Sy leer was baie dieselfde soos wat ons dit lees in die Dordtse Leerreëls.
Tussen die twee uiterstes het nog ʼn leer gekom: Semi-Pelagianisme. Dit was om te sê dat mens “beseer” of “siek” is. So, as gevolg van die sondeval kort mens God se genade vir verlossing, maar mens kan nog steeds self besluit om daardie genade te aanvaar. Dit kan beskryf word as ʼn wiskundesom: 7 + 3 = 10\. 7 is God se genade en 3 is mens se bydrae en altwee saam is gelyk aan jou redding. Ons kan duidelik sien dat hierdie leer God se soewereiniteit beperk – dit gaan in teen wat geleer word in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3 en 23 oor die mens se verlossing.
Dit was hierdie Semi-Pelagiaanse leer wat Arminius gebruik het vir sy idees meer as ‘n duisend jaar later. Hy het basies teruggekeer na die leer dat mens “siek” is, en nie homself kan red nie, maar wel nogsteeds kan besluit of hy God se genade wil aanvaar. Daar is vyf hoofpunte wat Arminianisme opgesom het, en dit was teen hierdie vyf punte wat die Sinode vyf Bybelse antwoorde gegee het:

Die vyf punte van die Sinode kan in Engels opgesom word deur die akroniem **TULIP**:
- **T**otal Depravity (DL Hoofstuk 3)
- **U**nconditional Election (DL Hoofstuk 1)
- **L**imited Atonement (DL Hoofstuk 2)
- **I**rresistible Grace (DL Hoofstuk 4)
- **P**erseverance of the Saints (DL Hoofstuk 5)
Ons gaan in hierdie reeks van oordenkings deur hierdie akroniem werk maar in die volgorde van **ULTIP**, soos dit in die Dordtse Leerreëls uitgelê is.
So hoekom is hierdie alles toepaslik vir ons? Hoekom is dit belangrik om die Dordtse Leerreëls te lees? Deur die Bybel, van die skepping af, al die pad deur tot Christus se koms, leer ons van watter belang God se genade is en hoe nodig Christus se koms en kruisiging is vir die vergewing van ons sondes en vir ons verlossing. Ons kan deur die gekreun van die skepping sien dat die **hele** skepping, mense ingesluit, eenvoudig net deur God se genade kan leef (Romeine 8:18-30). Om hierdie genade ten volle te begryp, moet ons regtig besef hoe groot God is en hoe klein ons as mense is.
Dit is wat die Dordtse Leerreëls ons leer! Dit wys ons na Jesus Christus toe in alles (Efesiërs 2:4 en 5). Ons kan sien dat hierdie dwaalleer al vir eeue lank geleer word, bewustelik of onbewustelik. Dit kom van diep binne ons sondige hart en natuur. Ons wil graag dink dat ons iets kan of moet doen vir die Here, veral vir ons redding. Ons is so geneig om nie God se genade alleen te aanvaar vir ons verlossing nie. Deur die dwaalleer van Pelagius en Arminius maak ons God baie kleiner en gee nie aan Hom wat Hy verdien nie: glorie en eer! (Romeine 5:1-11)
Deur die reeks wil ons graag kyk na die belangrikheid van die Dordtse Leerreëls sodat ons almal kan verstaan hoe om weg te bly daarvan om God kleiner en mens groter te maak. Ook dat ons uit dankbaarheid vir God Drie-Enig kan leef met die wete dat ons niks kan doen sonder Hom nie! Job 25 laat ons net weer besef hoe sleg ons in onsself is en hoe nodig ons God het. Ons word vergelyk met ‘n wurm en ‘n maaier (Job 25:6) - klein, vuil, en sterflik. Ons en die ellendige bestaan van ‘n strydende kerk verdien daarom die ewige dood. Maar, as die Goeie Herder nie sy skape beskerm het nie, sou die kerk lankal wegvaag deur aardse geweld en bedrieëry (Mattheus 28:20). Soos die Dordtse Leereëls destyds beoog het om die rustigheid van gewetens, en die rus en welvaart van die Nederlandse kerk ter harte te neem, mag ons vandag net soveel troos en lering uit die Dordtse Leereëls trek dat die Goeie Herder ons en die kerk vir ewig sal beskerm!
Lees Hoofstuk 1 vir volgende keer en probeer dit verstaan. ʼn Boek soos *God’s Glorious GODness* van C. Bouwman kan ʼn baie goeie hulpmiddel wees wanneer jy deur die Dordtse Leerreëls werk om dit te help verduidelik en verstaan.
### Verdere Lesing
- Romeine 5:1-11
- Romeine 8:18-30
- Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1
### Gebed
Ons almagtige en hemelse God en Vader, U is groot en verdien al die eer, lof en prys! Here, ons dink gou te groot van onsself en besef dan nie hoe klein ons U maak nie. Help ons om in alles U te erken en ook die prys te gee vir alles. Gee ons sondebesef en ook die moed om aan te hou streef na ’n regte lewe voor U. Ons vra dit nie omdat ons dit verdien nie, maar alleen uit U genade. Amen.
### Coram Deo
Die Dordtse Leerreëls leer ons van God se grootheid en die mens se afhanklikheid van Hom alleen. Dit leer ons dat ons alleen uit genade kan leef en dat ons niks self kan doen nie. Volgende keer kyk ons na die erfsonde en God se genade en liefde daardeur.
### Bronnelys
- Bouwman, C. (2018). Background to the Canons of Dort. In C. Bouwman, *God's Glorious GODness* (ble. 1-31).
- Book of Praise
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Wat is ware vryheid vir ons op aarde?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-is-ware-vryheid-vir-ons-op-aarde/
Last updated: 2026-04-25T07:00:31.000Z
Wat is ware vryheid? Baie mense dink om vry te wees beteken om te doen wat jy wil. Daar is geen reëls wat jou beperk nie en jy kan self besluit wat reg en verkeerd is. Maar hoe verstaan ons as Christene vryheid?
Van nature is ons as mense slawe van die sonde. Paulus skryf in Romeine 6:20: “Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.” Wanneer jy dus doen wat jy wil, is jy ‘n slaaf van jou sondige begeertes. Jy word deur jou eie sondige natuur beheer en kan uit jouself niks doen om van hierdie slawerny bevry te word nie.
Psalm 124 illustreer iets van hierdie hulpelose situasie waarin ons sou gewees het as die Here ons nie verlos het nie. Dawid was op verskeie oomblikke in sy lewe omring deur mense wat hom wou doodmaak, vasgevang in die mag van sy vyande. Hy gebruik in hierdie psalm 3 beelde om hierdie toestande te beskryf. Sonder die Here, was Dawid soos iemand wat deur ‘n stroom weggespoel word (vers 4-5). Sonder die Here, was hy soos ‘n weerlose bokkie wat deur ‘n roofdier gejaag en verslind word (vers 6). Sonder die Here, was hy soos ‘n klein voëltjie wat in die net van ‘n voëlvanger vasgevang is (vers 7).
Dis ‘n wrede, skrikwekkende beeld wat hier geskets word. Maar dis presies hoe ons lewe sonder die Here lyk, vasgevang in die mag van die sonde. Ons word weggespoel en oorweldig deur die verleiding van die sondige wêreld. Ons word deur ons eie sondige begeertes verwoes en verskeur. Ons is vasgevang in die net van die duiwel, magteloos.
Dit is egter nie waar die psalm eindig nie. Luister na vers 7: “Ons siel het vrygeraak soos 'n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak.” Die Here het ons verlos deur Jesus Christus. Jesus het in ons plek gely en is gekruisig. Hy het die straf van al ons sondes gedra. Aan die kruis het Hy uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Net soos wat ‘n slaaf se rekening afbetaal word, so het Christus ons skuld ten volle betaal en ons losgekoop. Ons is nou vry!
Wat beteken dit vir ons lewe? “Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder 'n juk van slawerny indwing nie!” (Galasiërs 5:1). Ons moet dus soos vry mense lewe. Maar hoe doen ons dit? ‘n Predikant het eenmaal die voorbeeld van ‘n vis gebruik. ‘n Vis is vry wanneer hy in die water is, nie as hy op droë land is nie. Geen vis sal dink dat die water sy vryheid beperk of dat hy eerder op die land wil swem nie. ‘n Vis is vry wanneer hy is waar hy moet wees en doen wat hy moet doen.
Dit is ‘n treffende voorbeeld om ons lewe as vry mense te beskryf. Ons is vry wanneer ons leef waarvoor ons gemaak is - wanneer ons binne die perke, die reëls, leef wat God vir ons ingestel het. Ons is gemaak om in gemeenskap met God te lewe en aan Hom gehoorsaam te wees.
Hierdie dinge is juis moontlik gemaak deur die verlossingswerk van Jesus Christus. Deur sy kruisiging het Hy ons verhouding met God herstel. Hy het die Heilige Gees in ons harte uitgestort om ons te lei en te heilig sodat ons al meer aan God gehoorsaam kan wees. Deur die werking van die Heilige Gees het die sonde nie meer ‘n houvas oor ons lewe nie - ons is vry van die mag van die sonde. Daarom kan ons nou daarteen stry.
Dis belangrik om hierdie vryheid wat Christus vir ons verwerf het, nie te misbruik nie. Ons is nie vry om te sondig nie, maar vry van die sonde. Petrus verduidelik dit soos volg in 1 Petrus 2:16: “Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God.”
Ons gaan egter nooit op aarde volkome vry kan leef nie. So lank as wat ons hier op aarde is, leef ons steeds in ‘n sondige wereld en stry ons daagliks teen ons sondige natuur. Ons kan egter uitsien na die lewe hierna wat sal aanbreek met Chistus se wederkoms. Dan sal ons volkome verlos word van die sonde en die gevolge van sonde. Ons sal volmaak in God se teenwoordigheid kan leef asook lewe waarvoor ons gemaak is. Ons sal waarlik vry wees!
Laat ons daarom daarna streef om al meer soos vry mense te lewe. Laat ons, deur die krag van die Heilige Gees, aanhou stry teen die sonde. Laat ons uitsien na die ewige lewe in volmaakte vryheid. En laat ons God altyd prys vir sy verlossing en die vryheid wat Hy aan ons geskenk het. Soos wat ons sing in Psalm 124:4 (berymd):
> *“Die troue HEER het self ons vrygemaak:*
> *die strik is los en ons het vrygeraak,*
> *vry soos ‘n voël wat vind sy vryheid weer.*
> *Die eewge God, van alle dinge HEER,*
> *Hy is ons hulp, Hy het ons vrygemaak.”*
### Bronnelys
- Oordenkings uit die Woord (2022) *Oordenking – Psalm 124*. 3 November 2022\. Beskikbaar by: [https://www.youtube.com/watch?v=odllKs6olbw](https://www.youtube.com/watch?v=odllKs6olbw&ref=olielamp.vgk.org.za).
- Zwemstra, H.M. (2021). Preek op Kerkdienstgemist, Gereformeerde Kerk Walvisbaai/Swakopmund. Gelewer op 1 Augustus 2021.
Geskryf deur Jéan Goodey, VGK Maranata
### Earth Day: Vir Wie Vier Ons Dit?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/earth-day-vir-wie-vier-ons-dit/
Last updated: 2026-04-22T17:00:56.000Z
Lees: Johannes 1
Vandag is Aarde Dag, oftewel, *Earth Day*. Maar om Earth Day op die regte manier te kan vier, moet ons besef wat die aarde is: Dit is God se skepping, en die erfenis van sy Seun, Jesus Christus. Ons is deel van sy skepping en mag deel in daardie groot erfenis.
Aan die begin en einde van die Bybel skep die Alpha en die Omega. God het ‘n paar duisend jaar gelede die hemel en die aarde geskape (Genesis 1:1), en sal die hemel en aarde eendag weer herskep (Openbaring 21:1). Die Here het die mens 'n lewende wese gemaak deur hom te vorm uit die stof van die aarde en asem in sy neus te blaas (Genesis 2:7). Nou leef ons op ‘n plek waar berge ons klein laat voel, waar die son dag na dag sy gang gaan, waar die reën die aarde voed, waar mense opgroei en lewe, en waar biologie ons dikwels kan verstom. Dan kan ons maar net soos Dawid in Psalm 8:5 bely:
> *"Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?"*
God, en slegs God (Kolossense 1:16), het die hemel en die aarde geskape - die eerste wat ons van God in die Bybel vind is dat Hy skep. Slegs God kan skep, wat beteken om iets uit niks uit te maak (Hebreërs 11:3). God het die hemel en aarde geskape, vir ons om in te woon en Hom te dien (Jesaja 45:18). Dit is nie omdat Hy ‘n behoefte gehad het daaraan dat mense Hom dien nie (Handelinge 17:24-25), maar wil hê dat slegs Sy Naam alle eer ontvang (Openbaring 4:11)! Ons bely in NGB Artikel 1 dat God, buiten sy ander eienskappe, ook die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is - die Skepping is eenvoudig ‘n oorvloeisel van ‘n oorvloedige Fontein van goedheid! Dit bring ons tot die nederige besef van God se genade, dat Hy ons ‘n woonplek gegee het, uiteindelik ook uit duisternis gered het, en ons nou Sy kinders noem (1 Johannes 3:2).
As ons na die skepping kyk, moet ons Johannes 1 in ag neem om dit reg te kan verstaan - Skrif interpreteer Skrif. “Die Woord” is Christus. Hy was in die begin reeds daar, en “alle dinge het deur Hom ontstaan” (vers 3). God het gepraat, sy Woord gegee, en so het alles tot stand gekom. Die Vader het die aarde deur die Seun geskape. Christus is dus in Genesis 1 alreeds betrokke by die Skepping, saam met die Vader en die Gees.
Ons lees verder in Genesis 1:2: *“Die aarde was woes en leeg, en die duisternis was op die wêreldvloed.”* Ons vind die woord “duisternis” terug in Johannes 1:4-5 waar Christus die Lewe en die Lig van die wêreld is. Let wel, die duisternis kon die Lig nie oorweldig nie. Met ander woorde: Christus wat die Lig en Lewe is, oorweldig die duisternis en die dood (2 Korinthiërs 4:6). Die Skepping bring lig en lewe vir die fisiese wêreld soos ons in Genesis 1 lees, maar gee ook ‘n geestelike beeld wat die kern van die Evangelie voorafskadu. Die lig en lewe wat God uitspreek in Genesis 1 reflekteer ‘n beeld van die Lig en Lewe in Christus wat ons verlos van die ewige duisternis en dood (1 Korinthiërs 15:22).
> *Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.*
> *\- Johannes 8:12*
[*Earth Day*](https://www.earthday.org/?ref=olielamp.vgk.org.za) is ‘n organisasie wat vanaf 1970 jaarliks deur meer as 1 biljoen mense regoor die wêreld ondersteun word. Hulle hou vas aan ‘n leuse wat lees, *“our power, our planet.*” So eggo die val van Adam en Eva tot in die 21ste eeu. Ons dink so gou dat die skepping om ons draai. Die aarde draai om die son, maar die skepping draai om God. Die skepping sug, en die enigste uitweg is wanneer alles weer draai en gaan soos dit hoort - om God. Die skepping sug, en wag met reikhalsende verlange op die dag van Christus waar nietigheid heerlikheid sal word en die kinders van God vry mag loop (Romeine 8:19-22). Die kinders sug saam, en wag op die aanneming as kinders van God (Romeine 8:23).
Die aanneming as kinders is goeie nuus, want ons is mede-erfgename van Christus. Wat erf ons dan? Harpe, wolke en vlerkies? Nee, ons erf vir Christus en Hy erf die hele skepping saam (Hebreërs 1:1-2). Nie net is Christus die middelpunt van die Evangelie, die laaste openbaring, die Een waarom alles draai nie, maar Hy sal dit alles beërwe. Deur Hom, *in Christus*, mag ons daaraan deel kry.
Die aarde is nie “our planet” nie, maar Christus s’n. En dit word nie deur “our power” herskep nie, maar deur die krag van God - die Lig oorweldig die duisternis. As ons dus na die aarde kyk, moet ons dit sien as God s’n. Rentmeesterskap reik verder as die bestuur van geld, en strek tot by ons hantering van God se skepping. Die Vader gee die skepping vir die Seun, want alles is deur Hom en tot Hom geskape (Romeine 11:36). So, as die aarde Iemand se familiegeskiedenis is, Iemand se erfenis is, gaan dit ook verander hoe ons daarna kyk en daarmee omgaan.
Psalm 104 help ons om met die regte perspektief na God en sy aarde te kyk. Die Psalm bring vreugde, aanbidding, en verwondering. Die digter staan in verwondering oor die natuur en skryf soos hy kyk. Maar, die natuur is nie sonder doel, sonder glorie, of bloot “net daar” nie - die natuur is immers God se skepping en Christus se erfenis: **Hy** het die aarde gegrond (vers 5); dis **Hy** wat die fonteine uitstuur in die holtes (vers 10); **Hy** laat gras uitspruit vir die diere, die plante vir die mens (vers 14); **Hy** het die son en die maan hul vaste tyd gegee (vers 19).
> *U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.*
> *Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor sy werke, Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.*
> *Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.*
> *Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die Here!*
> *\- Psalm 104:30-34*
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville en Iwan de Jong, VGK Maranata*
### ‘n Familie in Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/n-familie-in-christus/
Last updated: 2026-04-18T07:00:36.000Z
> *“’n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.”*
> *Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?”*
> *Hy het die mense aangekyk wat in 'n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers!*
> *Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”*
> \- Markus 3: 32-35
In die Markus-evangelie lees ons van Jesus Christus wat besig is om ‘n skare mense te onderrig. Terwyl Hy besig is, word aan Hom gesê van sy ma en broers wat aan die rand van die skare staan en vir Hom soek. Jesus antwoord hierop op ‘n ongewone manier wat ons begrip van familie heeltemal verander: Hy vra aan hulle wie Sy moeder en broers is. Daarna antwoord hy self en sê: almal wat by Hom was.
Almal wat in Hom glo en die wil van God doen.
Hierdie antwoord laat nie net die volk nie, maar ook ons, dink aan wie ons familie is. Ons dink aan familie as ons bloedverwante. Ons ouers en boeties en sussies. Jesus verruim ons begrip van familie en wys ons daarop dat ons deel vorm van ‘n veel groter familie. Een waarvan Jesus Christus self die hoeksteen is en God ons Vader.
Hierdie besef herinner ons ook aan die verhouding wat ons elkeen het met ons mede- gelowiges. Ons is almal met mekaar verbind deur meer as net vriendskapsbande. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom, hoe jou verlede lyk of wie jy is nie – as jy in God glo en Sy wil doen dan vorm jy deel van hierdie familie.
Jesus se woorde bring hoop en vrede. Niemand wat glo staan alleen nie. Jy vorm deel van die familie van God waarvan Jesus die hoeksteen is. Ons het almal ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar: om mekaar se laste te dra, mekaar te ondersteun in lewe en geloof asook mekaar lief te hê soos kinders in ‘n gesin. Ons moet elkeen respekteer en vergewe soos God ons vergewe. Hierdie liefde wys vir die wêreld iets van God se hart.
Jesus se woorde bring nie net hoop en vrede nie, maar is ook ‘n herinner aan elkeen van ons dat ons gehoorsaamheid aan God sentraal staan. Ons vorm nie sommer net deel van die familie nie - Jesus sê dat die wat die wil van God doen, deel vorm van die familie. Maar nou is die vraag: leef ons op so ‘n wyse dat die wêreld kan sien dat ons deel vorm van God se familie? Weerspieël ons dade en ons woorde dat ons kinders van God is - dat Hy ons uitgekies het?
Almal weet dat die gesin ‘n afbeelding is van die kerk en Christus, maar partykeer vergeet ons die praktiese implikasie daarvan. Moet nooit vergeet dat ons saam as gelowiges die familie van God is nie en om dit uit te leef nie. Dit is ‘n groot vreugde en seën!
*Geskryf deur Anneke Roos, VGK Bellville*
### Laaste bekeringsoproep deur die profeet van God se liefde - Hoséa 14
URL: https://olielamp.vgk.org.za/laaste-bekeringsoproep-deur-die-profeet-van-god-se-liefde-hosea-14/
Last updated: 2026-04-15T17:00:27.000Z
*LeesHoséa 14*
Ons trek nou by die laaste hoofstuk van Hoséa sowel as die laaste oordenking in hierdie reeks. Om ‘n profeet deur te lees verg inspanning. Die herhaling, beeldspraak, sowel as die verskeie verwysings en beelde wat binne die profeet se historiese konteks verstaan moet word, kan dit vir ons moeilik maak om te lees en te verstaan.
Maar die Here gebruik steeds vandag die profete om Homself te openbaar en om ons op te roep. En so het ons die voorreg gehad om dieper te delf in hierdie profeet en kon ons opnuut weer waarhede uit die rykdom van God se Woord ontgin.
Die profeet het duidelik die sondes van die volk uitgewys: hoogmoed, gebrekkige kennis van God, skynheiligheid, moord, owerspel en nog meer. Die volk Israel het ontrou geword aan die HERE en afgode begin dien. Hulle gee hul liefde vir afgode in plaas van die HERE, net soos ‘n vrou (soos Gomer) wat owerspel bedrywe.
Hoséa het die HERE se oordeel aangekondig deur sy woorde maar ook deur die naamgewing van die kinders: Jísreël, Lo-Rugáma en Lo-Ammi. God is en bly regverdig. Die volharding in sonde het toe ook gelei tot die Assiriese ballingskap van die Tienstammeryk in 722 v.C.
Sonde en oordeel…Is dit al waaruit Hoséa se profesie bestaan? Genadiglik nie. Die kern van Hoséa se profesie is die onvoorwaardelike liefde van God. Net soos wat Hoséa hom weer oor die ontroue Gomer moes ontferm, net so ontferm die HERE Hom herhaaldelik oor sy owerspelige verbondsvolk. God se liefde word deurgaans beklemtoon deur Hoséa. Ons kan hom selfs beskou as die profeet van God se liefde. Hierdie liefde is eeue later volmaak in Christus aan ons geopenbaar.
Ook in hierdie laaste hoofstuk word die HERE se liefde en geduld sigbaar. Die profesie eindig met ‘n oproep tot bekering. Dit is genade dat God steeds tyd gee vir bekering. Die HERE staan soos die vader in die gelykenis van die verlore seuns gereed met sy arms oop om sy kinders wat tot Hom terugkeer te omhels (Lukas 15:20). Kom ons kyk na hierdie laaste bekeringsoproep deur die profeet.
Die woord wat hier in vers 2 vir bekering gebruik word, beteken om “om te draai” of om “terug te keer”. Dit kan vergelyk word met ‘n persoon wat besig is om in ‘n rigting te stap, maar dan draai hy om en loop in die teenoorgestelde rigting as waarin hy aanvanklik geloop het. Bekering behels dus meer as om net ‘n paar verbeterings of opdaterings in jou lewe te maak. Bekering is radikaal van aard. Dit is ‘n 180 grade draai – weg van sonde na Christus toe.
Die daaglikse bekering waaroor Paulus skryf – en wat die Kategismus behandel – volg dieselfde patroon: Afsterwing van die ou mens en opstanding van die nuwe mens (Efesiërs 4:22-24, HBK Sondag 33). Wegdraai van sonde na Christus toe. Slegs die Gees kan so ‘n radikale bekering bewerk.
Kom ons kyk kortliks na ‘n paar belangrike aspekte van bekering wat hierdie hoofstuk ons leer.
Wat moet jy met jou saamneem as jy tot die Here bekeer? Vers 3 gee die antwoord: “Neem woorde met julle…” Ons hoef en kan niks anders met ons saamneem nie, selfs nie offerdiere nie. Ons kom met leë hande voor die Here. Al wat ons met ons kan saamneem is woorde wat smeek om vergifnis op grond van God se barmhartigheid. “Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.” (Hoséa 14:3)
Bekering behels verder ‘n afsien, ‘n verloëning, van al die ander dinge waarop ons ons vertroue stel: “Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie!” (Hoséa 14:4). Geen politiese leiers of bondgenootskappe kan redding bring nie. Dit help ook nie om op perde, op militêre mag, staat te maak nie. En die afgodsbeelde wat daar deur hul eie hande gemaak, wil hul nie meer aanbid nie.
Israel moet afsien van al die ander dinge waarop hulle hul vertroue gestel het. Dit kon hulle weerloos laat voel het. Dit wat hulle ‘n gevoel van veiligheid en sekuriteit gegee het, moes hulle prys gee. Dit kon hulle soos weeskinders laat voel het – onseker en onveilig. Maar so gaan vers 4 aan: “Want by U vind die wees ontferming.”
Die veiligheid wat al hierdie ander dinge bied, bevat geen ware sekuriteit nie. Die Here alleen gee ware ontferming en sekuriteit vir die wat so kwesbaar soos weeskinders hul vertroue op Hom stel. Dan volg vers 5: “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” Vers 6-9 skets vir ons die herstel en verkwikking wat die HERE ook belowe.
Laat ons die waarhede wat die Gees deur Hoséa aan ons leer, ter harte neem soos wat die einde van die boek ons oproep: “Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!” (Hoséa 14:10)
### Gebed
Troue God en Vader, ons dank U dat ons tot U mag kom in ons gebede met vrymoedigheid. Dat U ons nie wegwys in u toorn nie, maar dat U as Vader na ons wil luister danksy u geliefde Seun. Ons bid dat U ons genadig sal wees en al ons sondes sal vergewe. Sal U ons krag gee om te stry teen die sonde en om ons tot U te bekeer. “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer” (Klaagliedere 5:21). Dank U vir u Woord wat so ryk aan betekenis is. Dank U vir die profeet Hoséa waardeur U ook vandag u kerk oproep om U te ken en lief te hê. Bewaar ons ook so in u liefde en u Woord. Ons bid dit alles, want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
### Coram Deo
Bekering is steeds die oproep wat aan die kerk en deur die kerk verkondig moet word. Die radikale omkeer: Weg van sonde na Christus toe. Bekering was ook deel van Christus se prediking: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mattheüs 4:17)
### Bronnelys
- Van Hulst, F.J. Hoofstuk 8: Hosea 14\. Bl. 67-75\. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.
- Kempff, D. Hoofstuk 15: Hosea 14\. Bl. 97-103\. Wees Trou. Uitgegee deur Boekhandel De Jong (Edms.) Bpk. 1979.
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Die sesde bede: En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die bose
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-sesde-bede-en-lei-ons-nie-in-die-versoeking-nie-maar-verlos-ons-van-die-bose/
Last updated: 2026-04-11T07:00:07.000Z
Heidelbergse Kategismus Sondag 52 v&a 127
Versoeking word gedefinieer, in die lig van die Woord, as die bose wat ‘n mens verder van God af wil weg lei. Ons moet dus as mens, swak en vol sonde, aan ons Hemelse Vader vra om ons krag te gee en oor ons te waak tydens tye van versoeking.
Almal van ons is van nature sondig, met hardkoppige en eiewyse neigings, en dus val ons gereeld in versoeking. Versoeking kom in verskeie vorme voor en is baie keer nie opvallend nie. Dit kan aardse dinge wees wat vir ons as normaal voorkom omdat “almal anders” dit doen. Daarom moet ons juis waak teen die indoktrinering van die internet, wêreldse televisieprogramme en sosiale media wat tans ‘n ongelooflike groot rol in ons alledaagse lewe speel. Sonde is deel van menswees, tog gee dit jou nie die reg om sonde te pleeg nie. Ons gaan gereeld in die lokval van sonde beland. Dit is juis dan waar ons bewustelike keuses gaan moet maak oor hoe ons as Christen gaan reageer op die lokval van die bose.
Deesdae word selfliefde ongelooflik baie geadverteer op sosiale media. Meeste jong mense van vandag is aktief op platforms waar dit geadverteer word. Sosiale media is natuurlik nie net sleg nie, maar ons moet waak daarteen om vasgevang te word in die wêreld van sosiale media. Die Here het ons na Sy beeld geskape, ons is elkeen goed in Sy oë, daarom moet ons onsself liefhê! Maar waak steeds daarteen om nie meer lief vir jouself te wees as vir die Here nie.
Hoe kan ons as Christene dus meer bewustelik optree in ons besluite? As jy weet jy sukkel met verleiding, moet jy dalk gaan kyk hoe jou spirituele lewe lyk. Hoe lyk jou persoonlike verhouding met die Here? Het jy Hom voor oë? Lees jy jou Bybel gereeld en vind jy Hom daar? Bid jy gereeld? Vra jy Hom vir krag en leiding? Het jy mede-Christene as ondersteuning en bou jy daagliks aan jou verhouding met die Here?
Hoe meer tyd jy met die Here spandeer, hoe meer leef jy vir Hom en nie vir jouself nie. So gaan jy van nature meer bewustelik besluite neem met die Heilige Gees wat jou lei.
*Geskryf deur Marna Potgieter, VGK Bellville*
### Hoe skryf ek ‘n goeie Christelike artikel?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-skryf-ek-n-goeie-christelike-artikel-2/
Last updated: 2026-04-11T07:00:03.000Z
Om ‘n artikel te skryf klink rof. Soms is dit al moeilik genoeg om met die regte woorde te praat. Nou moet jy woorde op papier sit - goeie woorde, goeie sinne, goeie logika en dan nog goeie Teologie! En boonop moet dit alles saam leesbaar wees. Hoe doen ek dit? Gaan mense dit ooit wil lees?
Wanneer jy begin, kry 'n duidelike en goeie verstaan van die onderwerp waarvoor jy wil skryf. Dit is belangrik om goeie navorsing te doen en jou inligting te verifieer, sodat jou artikel akkuraat en betroubaar is. Lees ‘n paar artikels of preke (kyk gerus na ons hulpbronnelys op *Die Olielamp*), of as jy regtig jou en jou leser wil verryk, lees ‘n hoofstuk of selfs ‘n hele boek oor jou onderwerp. As jy onseker is, praat gerus met jou vriende, iemand by die kerk of jou predikant oor jou artikel.
‘n Titel maak of breek jou artikel. ‘n Treffende titel maak die kyker se oog wonder wat die artikel te sê het. ‘n Goeie titel weerspieël die hoofonderwerp: “My selfoon maak my siek” of “Hoe gebruik ek my selfoon as ‘n Christen?” Dit is ook goed wanneer jy klaar geskryf is, om weer te gaan kyk of jy tevrede is met jou titel.
Die inleiding is amper die belangrikste en word juis vir daardie rede - meestal - laaste geskryf. Dit moet die leser se aandag gryp en die belangrikheid van die onderwerp verduidelik. Jy kan besluit: “Gaan ek *clues* wil gee oor die inhoud of gaan ek eerder die leser stadig maar seker wys wat ek wil sê?” Onthou, geen artikel is dieselfde nie. Gebruik jou verbeelding en dink mooi na oor hoe jy jou punt wil oordra. As jy skryf oor ‘n vraag of iets soos die Drie-Eenheid, is dit dalk beter om die inhoud stukkie vir stukkie te verduidelik totdat jy by die antwoord of gevolgtrekking kom. Jy mag dalk ‘n argument lewer, maar dan begin jy liewers met jou stelling en verduidelik van daar af hoe jy daarby uitgekom het, bv.: “Pornografie vind die ingang na jou hart deur jou selfoon se skerm”, is ‘n stelling wat jy in jou inleiding kan gee. Dit prikkel die leser se belangstelling, waarna jy dan verder verduidelik hoe jy by daardie gevolgtrekking uitgekom het.
Die liggaam van jou artikel is die deel waar jy die meeste inligting en argumente sal gee. Verdeel jou teks in paragrawe wat elkeen spesifieke aspekte van die onderwerp aanspreek. Maak seker dat elke paragraaf 'n duidelike idee of argument bevat wat logies van die een konsep na die ander gaan. Goeie struktuur gee goeie vloei en dan kan jou leser lekker lees aan ‘n goeie artikel. Dink so daaraan: “Alles moet bydra tot my boodskap en moet my leser help om te verstaan wat ek sê” - ja, selfs die vloei van idees! Klomp deurmekaar woorde maak nie ‘n sin nie; los sinne maak nie ‘n storie nie; lukrakeidees maak nie ‘n artikel nie.
Gebruik feite, statistieke, en bronne. Wanneer jy navorsing doen, kry ‘n paar Bybelverse wat jy kan gebruik. Jy kan dit in jou artikel aanhaal. Ons skryf ‘n Christelike artikel, en daarom moet dit wat jy sê Bybels wees. Dit beteken dat jy nie teen God se Woord ingaan met dit wat jy sê nie - eerder, laat jou punt uit die Bybel kom. Dit is altyd bemoedigend om ‘n Bybelvers te lees, so kan jy jou leser toerus met verse wat pas by jou onderwerp. Dit is daarom belangrik om mooi te gaan kyk na die verse wat jy gebruik. Vra jouself: “Wat sê God hier?” So kan jy self ook getrou bly aan God se Woord. Om by ons voorbeeldtema van skerms en selfone te bly:
*“Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie! “* (Matthéϋs 6:22-23, AFR20)
Sluit jou artikel af met 'n samevatting of gevolgtrekking wat die hoofpunte van jou werkstuk uitlig en jou artikel tot die eindstreep bring. Jy wil jou leser oortuig/bemoedig agterlaat. Jy kan ook 'n vraag stel of 'n aksie voorstel wat die leser aanmoedig om verder na te dink of op te tree. Laastens, hersien jou artikel vir taal- en spelfoute. 'n Goed geskrewe artikel sal die leser se aandag behou en hulle ‘n Bybelse boodskap gee om saam te dra - bemoedig deur die Evangelie.
Om ‘n artikel te skryf is nie maklik nie, maar dit is ‘n groot geleentheid om oor iets te leer en dit met ander mense te deel. Dan word skryf ‘n vreugde! Jou artikel word vir die leser nog ‘n groter vreugde om te lees. Dit is belangrik om te onthou dat geen artikel perfek is nie. Ons beroof onsself dikwels van vreugde wanneer ‘n groot taak voor ons staan. Ons kyk vas teen hoë standaarde, menslike opinies en is bang dat ons nie ‘n goeie werk sal doen nie. Ons is soms te trots om ‘n artikel te probeer skryf. Gooi die trots eenkant, bid vir God om jou te lei in die proses. Hy sê: *“My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”* (2 Korinthiërs 12:9, AFR53).
Nouja, gryp jou Bybel, notaboekie en jou rekenaar - skryf! Ons lees graag!
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Bellville*
### EP20: Die roeping van die vrou in die kerk
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep20-die-roeping-van-die-vrou-in-die-kerk/
Last updated: 2026-04-09T19:00:34.000Z
*Met Annemarie Van Rensburg*
Wat is die plek en roeping van die vrou in die kerk van Christus? In hierdie episode gesels ons oor Bybelse riglyne, kerkgemeenskap wees, en die belangrike - maar dikwels ongesiene - rol wat vroue in die gemeente speel. Ons ondersoek ook hoe verskillende tradisies hierdie rol benader, en hoe vroue hul gawes tot diens van die liggaam van Christus kan aanwend.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Soos ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is - Hoséa 13
URL: https://olielamp.vgk.org.za/soos-n-beer-wat-van-haar-kleintjies-beroof-is-hosea-13/
Last updated: 2026-04-08T17:00:51.000Z
*LeesHoséa 13*
“Toe het Ek vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd lê Ek by die pad en loer. Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos 'n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.” (Hoséa 13:7-8)
In ons Skrifgedeelte word die HERE met ‘n verskeidenheid skrikwekkende diere vergelyk. ‘n Leeu, ‘n leeuin, ‘n luiperd en dan ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is. ‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is - hierdie interessante uitdrukking kom drie keer in die Bybel voor:
In 2 Samuel 17:8 waar Húsai met Absalom praat oor koning Dawid: “Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos 'n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader 'n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie.”
Spreuke 17:12: “Laat 'n beer wat van kleintjies beroof is, 'n mens ontmoet, maar nie 'n dwaas in sy sotheid nie.”
En dan in ons hoofstuk van Hoséa vandag: “Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop” (Hoséa 13:8)
‘n Ma-beer is bekend daarvoor dat sy baie beskermend is oor haar kleintjies. As iets of iemand haar kleintjies bedreig of wegneem, dan reageer sy met aggressiewe woede. Sy sal verskeur en verslind. ‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is, is baie gevaarlik. Dit is daarom nogals opmerklik dat Salomo skryf dat dit verkiesliker is om so ‘n beer raak te loop as ‘n dwaas in sy sotheid.
Dit is inderdaad angswekkende beelde wat gebruik word om die HERE te beskryf en dit laat ons miskien ‘n bietjie ongemaklik voel – ‘n leeu, ‘n luiperd, ‘n leeuin en ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is. Dien ons dan ‘n God wat so verslind en verskeur soos hierdie wilde roofdiere? Dien ons dan nie ‘n God wat in onbeskryflike groot genade en liefde sy Seun na hierdie wêreld gestuur het nie?
Ja, God is die God van liefde en genade, maar Hy is ook regverdig. God haat sonde en sal geen sonde ongestraf laat bly nie. “’n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid” (Nahum 1:2a). Die God wat ons dien, is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:29).
Die volk het swaar gesondig. Hoofstuk 13 noem veral twee sondes: Afgodery (vers 1-2) en dan hoogmoed in vers 6: “Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.”
Sonde vertoorn God en bou ‘n skeidsmuur tussen ons en God (Jesaja 59:2). Dit doen skade aan ons verhouding met God en doen sy Naam oneer aan. En juis daarom word God toornig – sy toorn is in lyn met sy geregtigheid. Daarom word Hy so aanvallend soos ‘n beer wat van haar kleintjies beroof is.
Waar moet hierdie woorde ons bring? Eerstens, moet dit ‘n diep vrees en eerbied vir die heilige en regverdige God wek – want wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? (Nahum 1:6) Tweedens, moet ons ons skuld besef en dit voor die Here bely. Derdens, kan ons vasgryp aan God se vergiffenis. Want dieselfde God wat aanval soos ‘n beer wat van kleintjies beroof is (vers 8), is die HERE ons God, ons Heiland, van Egipteland af (vers 4). God is dus regverdig en genadig.
God se genade en regverdigheid ontmoet mekaar in die feit dat God ook met ‘n ander dier in die Bybel as ‘n leeu, luiperd en beer vergelyk word. Christus, wat self die Leeu uit die stam van Juda is, word ook die Lam van God genoem (Openbaring 5).
As Lam van God het Christus die las van die toorn van God aan die kruis gedra. Hy is verbrysel aan die kruis (Jesaja 53:5,10), soortgelyk aan hoe ‘n prooi verskeur word deur hierdie roofdiere. Christus het sodoende die volmaakte en plaasvervangende offer vir gelowiges gebring. God is regverdig, want Hy straf ons sonde. God is genadig, want Christus is in ons plek gestraf.
Die Bybel gebruik beeldryke taal soos vergelykings en metafore van diere om die waarheid van die evangelie al hoe dieper by ons te laat insink. Mag die evangelie ons harte deurweek en lei tot ‘n lewe van dankbaarheid vir die God van genade en geregtigheid.
### Gebed
“o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie. Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik. Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank? Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil. (Psalm 6:2-5).” Here, so erken ons ook saam met Dawid in Psalm 6 dat U regverdig is en dat ons u genade nodig het. Dank U dat U hierdie genade in Christus ook aan ons skenk sodat ons voor u aangesig mag lewe. Ons bid dit alles in Christus se Naam. Amen.
### Coram Deo
‘n Beer wat van haar kleintjies beroof is – ‘n interessante uitdrukking wat drie keer in die Bybel voorkom. Dit is ‘n beeld wat ons met eerbied en vrees vul voor die regverdige God, maar wat tegelyk in beeldryke taal verkondig waarvan Jesus Christus ons kom verlos het – die toorn van God oor die sonde.
### Verdere Bybelstudie
Openbaring 5 | Nahum 1
### Ander leesstof
Volg gerus die volgende skakels om meer te lees oor ander voorbeelde waar bere in die Bybel genoem word, asook interessante feite oor die tipe beer waarna daar heelwaarskynlik in die Bybel verwys word, naamlik die Siriese bruinbeer:
- [https://www.oneearth.org/species-of-the-week-syrian-brown-bear/](https://www.oneearth.org/species-of-the-week-syrian-brown-bear/?ref=olielamp.vgk.org.za).
- [https://www.biblestudytools.com/dictionary/bear/](https://www.biblestudytools.com/dictionary/bear/?ref=olielamp.vgk.org.za).
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Paasfees: Die leë graf en die lewende Here
URL: https://olielamp.vgk.org.za/paasfees-die-lee-graf-en-die-lewende-here/
Last updated: 2026-04-04T07:00:40.000Z
Paasfees staan sentraal in die Christelike geloof. Sonder die opstanding van Jesus Christus sou daar geen hoop wees nie, geen vaste grond vir ons geloof en geen uitsig op ’n nuwe toekoms nie. Daarom klink die woorde van Lukas 24 steeds met krag deur die eeue:
“Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.”
### Die werklikheid van die leë graf
Die evangelies vertel nie simboliese verhale nie, maar getuig van ’n werklike gebeurtenis. Op Paasoggend is die graf leeg. In Johannes 20 lees ons hoe Maria Magdalena, Petrus en Johannes dit self sien: die klip is weggerol en die grafdoeke lê netjies. Alles wys daarop dat Jesus se liggaam nie gesteel of verwyder is nie – Hy het self, deur God se krag, uit die dood opgestaan.
Paulus bevestig dit in 1 Korinthiërs 15\. As Christus nie opgewek is nie, is ons geloof tevergeefs. Maar nou is Christus opgewek, as eersteling van dié wat ontslaap het. Die opstanding is die fondament waarop die kerk staan.
### Soek Hom op die regte plek
Die vraag van die engele is ook vandag nog aktueel: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hoe maklik soek ons Jesus op plekke waar Hy nie is nie – in uiterlike godsdiens sonder hart, in gewoontes sonder geloof, of in ons eie verwagtinge eerder as in sy Woord.
Paasfees roep ons om:
- Christus te soek waar Hy Homself openbaar – in sy Woord,
- sy beloftes ernstig op te neem,
- en die tekens van sy werk raak te sien.
### Christus se sterwe en begrafnis
Volgens die Heidelbergse Kategismus Sondag 16 moes Christus werklik sterf en begrawe word om die straf op die sonde volkome te dra. Sy dood was nie ’n mislukking nie, maar deel van God se heilsplan. Deur sy sterwe het Hy die mag van die dood gebreek en vir ons versoening met God bewerk.
### Die ryk betekenis van die opstanding
Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 17) leer ons dat Christus se opstanding drie groot seëninge vir ons inhou:
- Eerstens, deur sy opstanding word ons regverdig verklaar voor God.
- Tweedens, ons word nou opgewek tot ’n nuwe lewe - ’n lewe van dankbaarheid en heiligmaking.
- Derdens, sy opstanding is die waarborg van ons eie opstanding en ewige lewe.
Paasfees is dus nie net ’n terugblik op wat gebeur het nie, maar ook ’n vooruitsig na wat God nog sal doen.
### Lewe uit Paasfees
Die Paasboodskap bring lig in donkerte en hoop in onseker tye. Die Here Jesus leef – nie net in die verlede nie, maar vandag steeds. Hy regeer as die opgestane Here en is naby aan sy gemeente.
> "Hy is nie hier nie. Hy het opgestaan."
*Geskryf deur Nathalie Antuma, VGK Bellville*
### Exodus uit Egipte: Hartklop van die Evangelie - Hoséa 11
URL: https://olielamp.vgk.org.za/exodus-uit-egipte-hartklop-van-die-evangelie-hosea-11/
Last updated: 2026-03-31T17:00:39.000Z
Lees Hoséa 11 en Mattheüs 2:13-18
In die eerste oordenking in hierdie reeks het ons gesien dat Hoséa as die profeet van God se liefde beskou kan word. Deur sy huwelik met die owerspelige vrou, Gomer, het hy iets uitgebeeld - en ook self pynlik ervaar - van die verbond tussen God en sy volk: Aan die eenkant die onvoorwaardelike liefde van God en aan die anderkant die ontrouheid van die volk.
En hier in hoofstuk 11 weerklink die sentrale tema van die HERE se liefde weer so helder: “Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad” (vers 1) “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.” (vers 4). “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Sebóim: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.” Terloops, Adma en Sebóim is twee stede suid van die Dooie See wat saam met Sodom en Gomorrra vernietig is (Deuteronomium 29:23).
Baie keer kan God se liefde vir ons net soos ‘n abstrakte begrip begin voel. Veral in tye van beproewings kan ons sukkel om God se liefde raak te sien en te ervaar. Dan kan ons begin vrae vra soos: “Is God nog lief vir my? Hoe kan ek seker wees van God se liefde?” Hoséa 11 leer vir ons troosvolle waarhede oor God se liefde. Ons gaan veral fokus op vers 1.
God se liefde is nie bloot ‘n abstrakte begrip nie, maar Hy openbaar sy liefde op ‘n konkrete manier deur sy dade, veral sy dade van verlossing. Ons kan toeneem in sekerheid van God se liefde as ons ons oë aanhou vestig op God se verlossing. Kom ons lees weer Hoséa 11:1 “Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.”
God het Israel liefgehad en dit het gevloei na ‘n daad van verlossing - die verlossing uit Egipte, wat ‘n helder beeld skets van die ware verlossing in Christus. Of soos hoofstuk 11 dit stel, die roeping van God se seun uit Egipte.
Kom ons kyk dieper na hierdie woorde. Terwyl die volk Israel in Hoséa se tyd verder afdwaal in sonde, herinner die HERE die volk dat Hy ten spyte van hul ontrou, getrou gebly het. God se liefde het nie verander nie. Sy liefde is konsekwent in wie Hy is. En daarom herinner Hy die volk dat Hy hulle nog altyd liefgehad het. Hy het sy liefde aan hulle kristalhelder geopenbaar toe Hy hulle eeue gelede uit Egipte geroep het.
Dat God vir Israel sy seun noem, verwys terug na Exodus 4\. God het Moses in Exodus 4:22-23a beveel: “Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien.”
Israel was slawe van Farao in Egipte. Hulle is verdruk met harde arbeid. Egipte word deurlopend in die Bybel uitgebeeld as die land van slawerny en die dood. En dan tree die HERE op. Hy red Israel op ‘n wonderbaarlike wyse deur tekens en wonders – dink maar net aan die 10 plae, die bloed van die paaslam, die deurtog deur die Skelfsee. Hy vernietig die vyand en bevry sy volk uit slawerny. ‘n Verlossing wat die ander nasies laat sidder het vir die God van Israel.
Hierdie verlossing skets ‘n beeld van die ware verlossing wat Christus kom bring het. Israel word verlos uit die slawehuis van Egipte, word bewaar tydens hul woestynreis en word uiteindelik in die beloofde land Kanaän ingelei. Net so verlos Christus ons uit die slawehuis van sonde, bewaar Hy ons op ons lewensreis en lei Hy ons in die ewige Kanaän. Ons word dus ook uit Egipte geroep om die HERE te dien.
Dan trek Mattheüs hierdie lyn vanaf Hoséa deur tot by Christus. Mattheüs 2:15: “En hy (Josef) was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
Ironies genoeg, was Egipte vir Jesus nie ‘n plek van slawerny of verdrukking nie, maar eerder ‘n toevlugsoord. ‘n Plek waar Hy, Josef en Maria veilig was teen Herodes se wrede opdrag om die seuntjies te vermoor. En juis dan word Christus, die Seun van God, uit Egipte geroep. Hy word geroep uit Egipte, om ons uit ons Egipte uit te lei. Hy kom lei ons uit en verlos ons van die heerskappy van die vyand, die slawerny van sonde en die land van die dood.
Hoe het Hy hierdie verlossing bewerkstellig? Hy het gely, is gekruisig en het uit die dood opgestaan – so eenvoudig maar tog so onpeilbaar, ‘n verlossing baie groter as die van Israel uit Egipte.
Twyfel jy aan God se liefde? Of is jy miskien besig om soos Israel in Hoséa se tyd van die regte pad af te dwaal? Kyk na die uittog uit Egipte, die van Israel en die van Christus. God se liefde kry die duidelikste vergestalting in dade van verlossing. Kyk na die kruis. Ook in die Paasfeestyd staan ons in besonder stil by die lyding van Christus. Mag ons die rykdom van God se liefde weer opnuut besef!
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel woon. U is met majesteit en heerlikheid bekleed. Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit (Psalm 89:15). Ons wil U loof en prys vir wie U is en alles wat U doen. Ons dank U vir die liefde wat U in die Here Jesus Christus volmaak aan ons geopenbaar het en dat die Gees ons laat groei in sekerheid. Soos Israel wil ons ook sing: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind. U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer” (Exodus 15:11-13). Ons bid en dank U dit in Christus se Naam. Amen.
### Coram Deo
God se liefde word die helderste geopenbaar in sy dade van verlossing. Kyk na die Exodus (uittog) uit Egipte, die van Israel en die van Christus. Kyk na die kruis. Laat ons Hom dan loof wat ons eerste so uitnemend liefgehad het!
### Verdere Bybelstudie
Exodus 15 | 1 Johannes 4
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Die Eerste Kerk in Jerusalem as voorbeeld vir ons!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-eerste-kerk-in-jerusalem-as-voorbeeld-vir-ons/
Last updated: 2026-03-28T09:25:47.000Z
Wonder jy soms hoe die kerk oor 10 jaar gaan lyk? Hoe weet ons hoe ‘n kerk behoort te funksioneer? Dit laat ons stilstaan en wonder: wat is die definisie van ‘n “kerk”?
In Handelinge 1 en 2 sien ons hoe God die eerste kerk gevorm en geseën het - ‘n riglyn vir wat ‘n kerk kan en moet wees.
*Die volgende paar afdelings is aan die hand van Handelinge 1 en 2 om te verstaan hoe die eerste kerk begin het. Hou gerus ‘n Bybel byderhand om die verwysings saam te volg.*
### Saam met die Heilige Gees die wêreld in! (Handelinge 1:1-14)
Die dissipels se idee van ‘n koninkryk was presies dieselfde voor en na Jesus se kruisiging en opstanding:
1. In Lukas 19:11, onder andere, het die dissipels gedink dat die koninkryk van God onmiddellik naby Jerusalem sou verskyn.
2. Kort voor Jesus se Hemelvaart het die dissipels gevra of Hy in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (Handelinge 1:6).
Hulle het ‘n beeld gehad van ‘n aardse koninkryk waar Christus regeer en hulle sou verlos van die Romeine.
Jesus gee egter ‘n onverwagse antwoord dat daar nie ‘n aardse koninkryk opgerig sal word nie, maar *presies* die teenoorgestelde: versprei, en gaan verkondig oor die hele wêreld (Handelinge 1:8). Hoe kontrasterend is dit nie van hulle oorspronklike idee nie?
‘n Aardse koninkryk bou hoë mure om hulle kastele en word dag en nag beskerm deur wagte. Maak jy ook dalk ‘n verband tussen ‘n aardse koninkryk en ons kerke vandag? Word ons kerke nie ook soms “beskerm” deur hoë mure en interne politiek nie? Maar, Jesus sê hier juis om nie saam te staan en hoë mure te bou nie, maar om eerder, met die Heilige Gees, die wêreld in te gaan om die blye boodskap te verkondig aan alle mense! Met ander woorde: Moenie die Evangelie tussen die mure van die kerk hou nie, maar gaan vertel die goeie nuus aan almal! Vir Petrus en Johannes was dit onmoontlik om die blye boodskap vir hulself te hou! (Handelinge 4:20)
### Opsienersampte (Handelinge 1:15-26)
In verse 15 tot 26 volg ‘n ander aspek van die kerk: Die ampte. Judas, wie Jesus verraai het en selfmoord gepleeg het, het ‘n leemte agtergelaat in die apostels wat gevul moes word (Handelinge 1:17). ‘n Groot groep mense (120 mense) besluit saam om iemand te verkies volgens Ou Testamentiese gebruike - deur te bid en daarna die lot te werp (Handelinge 1:24-26). Deur hul gebed laat hulle die lot aan die Here oor en nie bloot aan toeval nie. So is Matthías dan verkies as ‘n apostel, wat beteken “gestuurde”. Vir die eerste keer word die dissipels, wat “volger” beteken, “gestuurdes” genoem. Hulle kan nie meer Christus op aarde in persoon “volg” nie, maar hulle word nou eerder “gestuur” soos Jesus vir hulle by die Hemelvaart beveel het (Handelinge 1:8). Die kerk kry vir die eerste keer ‘n struktuur: Opsienersamptenare - mense deur God aangestel om die gemeente te lei. In latere hoofstukke word diakens ook verkies (Handelinge 6:1-7).
### Die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 2:1-36)
Toe Pinksterdag aanbreek is almal, volgens die belofte in Handelinge 1:8, vervul met die Heilige Gees. Gelowiges en ongelowiges het bymekaar gekom (Handelinge 2:6) en daar hoor almal oor die groot dade van God in hul eie taal (Handelinge 2:6-11). Petrus, een van Jesus se dissipels, maar nou ook ‘n apostel, staan op en begin te vertel oor die profesië deur die profeet Joël (Handelinge 2:17-21). Petrus vertel dan ook aan almal, wat deur die Heilige Gees saamgeroep is, oor Dawid se vertroue op God (Handelinge 2:25-31), Christus se sterwe, oorwinning van sondes, en opstanding (Handelinge 2:32-34) waar hy dan tot ‘n hooggtepunt kom en die skare beskuldig dat hulle Christus gekruisig het. Haat en woede kon hulle oorval en hulle kon Petrus net daar doodmaak, maar Petrus vrees nie. Hy is nie meer dieselfde Petrus wat voor ‘n handjie vol mense ontken dat hy Christus ken nie (Lukas 22:54-62). Vervul met die Gees, bely hy Christus voor duisende mense, en beskuldig hulle ook nog!
### Die doop (Handelinge 2:37-41)
Wat was hulle reaksie?
‘n Diep besef en spyt oor wat hulle gedoen het (Handelinge 2:37). Elkeen dink terug aan hoe hulle ‘n paar maande gelede uit volle bors geskree het “kruisig, kruisig Hom!” (Lukas 23:21). Petrus beveel hulle om gedoop te word (Handelinge 2:38). Daarby sê Paulus ook dat die belofte aan hulle en hulle kinders behoort en almal wat daar ver is - weereens ‘n apostoliese bevel (Handelinge 2:39). Die blye boodskap van vergifnis en die gawe van die Heilige Gees is nie net vir die groepie mense daar bedoel nie, maar vir almal! Deur die doop is daar 3000 siele toegebring tot die kerk. Vandag nog glo ons dat die doop ‘n teken van God se verbond is wat Hy met ons oprig - ‘n troos, maar ook ‘n uitnodiging om deel te wees van die kerk en saam te bou aan God se koninkryk!
### Volharding en die viering van die Heilige Nagmaal (Handelinge 2:42)
Na hul bekering en doop, kom woon die Heilige Gees in hulle, en hulle gaan direk oor tot aksie, tot volharding in die leer (Handelinge 2:42). Later in vers 46 lees ons ook dat hulle daagliks bymekaar gekom en volhard het. Dit het ook spesifiek in die tempel gebeur, met ander woorde: ‘n plek van gereelde byeenkoms. Daarby vier hulle ook die nagmaal (Handelinge 2:42) volgens Jesus se instelling (Lukas 22:17-20) en bid saam.
### Vrygewigheid (Handelinge 2:44-47)
Die gelowiges in Jerusalem het alles gemeenskaplik besit en na mekaar omgesien (Handelinge 2:44). Hulle oë is gevestig op Christus en so word hulle eie belange en hulle eie besittings aan die kant geskuif, verkoop, en verdeel onder mekaar. Vers 46 praat van die eerste kerk se gasvryheid, dat hulle van huis tot huis brood gebreek het, en voedsel met blydskap en dankbaarheid geniet het (Handelinge 2:46).
En hierdie alles **terwyl hulle God geprys het** (Handelinge 2:47). Sou hulle kon volhard in vrede as hulle alle rykdom gemeenskaplik besit, voedsel met blydskap geniet en hulle eie lewe prys gegee het sonder om God te prys? Sekerlik nie, want dit alles is slegs ‘n gawe van God (Prediker 5:18)!
### So wat is ‘n kerk dan?
Die eerste kerk in Handelinge 1 en 2 bou vir ons stelselmatig aan ‘n volledige definisie van ‘n kerk. As mens die twee hoofstukke lees dink jy nie aan koue geboue, mense met negatiewe uitkyke, en ongewilligheid tot groei nie. Maar mens dink eerder aan die vrug van die Gees: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Waar die Gees werk, daar word die vrug van die Gees ook duidelik - net so ook in die eerste gemeente in Jerusalem. Alhoewel die eerste kerk nie sonder spanning en sonde was nie (Handelinge 5 en 6), kon die kerk deur al die eeue slegs staande bly deur die Heilige Gees se werking en God se genade.
Nie net word ‘n ingesteldheid van die gelowiges teenoor die kerk van Christus uitgebeeld nie, maar daar word ook ‘n uiteenlopende praktiese struktuur van ampte, sakramente, en liturgie gegee vir ons. Die eerste kerk is ook ‘n voorbeeld van hoe kerklike lewe nie beperk is tot bymekaarkomste op ‘n Sondag nie, maar deel vorm van ons daaglikse lewe deur gasvryheid, versorging, en gebed.
Luister jy na die preek net om dit te kritiseer? Skyn jou lig slegs in die kerkgebou op Sondae (Mattheüs 5:16)? Praat jy met jou vriende positief oor die kerk, katkisasie, en Bybelstudie? Voel die kerk vir jou soos ‘n koue en gespanne eksamenlokaal waar jy onwillig die volgende uur *moet* deurbring? Dit alles maak ons deure toe vir die besef van God se genade en barmhartigheid, vir die vernuwing van ons denke, en vir opregte lofprysing tot eer van God.
Wanneer ons strewe dat die Woord van Christus ryklik in ons woon (Kolossense 3:14-17), kan ons met oorgawe en vrymoedigheid aan die kerk van Christus bou. So sal ons ook selfondersoek kan doen oor ons kerk se mure en of dit soms te hoog is dat die kerk ‘n aardse kasteel word. Hoë mure veroorsaak gemak, eiewillige godsdiens, en “lawwe praatjies” (Efesiërs 5:4). Maar, sonder om direk vingers te wys, begin dit, net soos in die eerste kerk (Handelinge 2:37-41), by onsself en ons ingesteldheid. Deur God-gesentreerd te lewe en die vrug van die Gees te dra, kan elkeen van ons die Godgegewe definisie van die kerk verstaan en uitleef in God se koninkryk - ‘n kerk sonder mure en ‘n koninkryk sonder grense!
Wanneer ons dan wonder hoe die kerk gaan lyk oor 10 jaar, kan ons gaan kyk na die definisie van die eerste kerk in Jerusalem meer as 2000 jaar terug: ‘n definisie van God se genade en beskerming, oorgawe en vrymoedigheid, gasvryheid, gebede, lofprysing, volharding in die leer (Bestudering van die Skrif), en ‘n Geesgevulde ingesteldheid - alles terwyl ons God daardeur mag prys!
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
### Ware aanbidding: meer as net offers - Hoséa 5-6
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ware-aanbidding-meer-as-net-offers-hosea-5-6/
Last updated: 2026-03-28T09:17:25.000Z
Lees Hoséa 5-6
Soos ons verder reis deur die profeet Hoséa, kan ons maklik mismoedig word. Hoofstukke 4 tot 10 herhaal deurgaans dieselfde gedagte: Die sonde van die volk en die HERE se oordeel daaroor.
Die patroon gaan voort in hoofstuk 5: “Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die HERE nie (vers 4)…Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water (vers 10b)...Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente (vers 12).” Weer die sonde van die volk en dan die oordeel van die HERE.
Hoofstuk 6:1-3 skets egter skynbaar ‘n omkeerpunt in die volk se houding. Hulle sê: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind (vers 1).” Het die volk nou uiteindelik begin reageer met bekering op Hoséa se profesie?
Uit die HERE se reaksie in vers 4 blyk dit dat dit nie die geval is nie. Hy sê: “Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? Aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn.” Die HERE vergelyk die volk se liefde met ‘n môrewolk en ‘n dou – dit dui op die kortstondigheid en vlugtigheid van die liefde – dit verdwyn vinnig.
Die volk se woorde van terugkeer in vers 1 tot 3 is baie oppervlakkig. Dis ‘n houding wat ligsinnig sê: “Laat ons weer die HERE gaan dien, dan sal Hy ons vinnig weer help uit ons node.” Nêrens in hulle woorde lees ons iets van skuldbelydenis nie. Daar is duidelik geen hartsverandering by die volk waarneembaar nie – die liefde verdwyn so vinnig soos wat dou verdamp wanneer die son deurbreek.
Die volk se woorde en hul aanbidding was oppervlakkig. Die volk se godsdiens het verval tot vormgodsdiens – die uiterlike vorm van godsdiens terwyl hul hart ver was van die HERE en sy wil. Die volk het gedink dat hulle die HERE met hul offers en mooi woorde tevrede kon stel. Hierdie gevaar kom ook dikwels by ons na vore. Dit kan gebeur wanneer goeie dinge soos kerkbywoning en gebede slegs gewoontes raak. 'n Ander voorbeeld kan ook wees wanneer ons vroom Sondae in die kerk sit, maar in die week leef ons soos wat almal leef en geniet die sonde.
Die HERE wys dan weer op die kern van ware aanbidding: “Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (Hoséa 6:6)
Dit mag miskien vir ons vreemd klink dat die HERE sê dat Hy nie ‘n behae het in offers nie. Het Hy dan nie deur Moses bevel gegee dat die volk offers moet bring nie? Ja, die probleem is nie met die offers nie, maar met die gesindheid waarmee die persoon die offer bring. Deur die bring van offers is die persoon wat offer se toewyding aan God uiterlik bevestig - een van die doele van offers bring, was dus om toewyding aan die Here uit te druk. Sonder toewyding is ‘n offer betekenisloos.
Met hierdie woorde sê die HERE dat die uitvoering van godsdienstige handelinge sonder ‘n hart vol geloof en liefde, nie vir Hom behaaglik is nie. Die HERE soek offers wat kom uit ‘n hart van liefde en kennis van God. Aan die term kennis van God het ons ook al in ‘n vorige oordenking geraak. Die kern van aanbidding is dus ‘n lewende verhouding met die HERE God wat gepaard gaan met liefde. En juis daaruit vloei offers wat God behaag, offers met ‘n lieflike geur.
Ons bring nou wel nie offers van diere soos wat Israel gedoen het nie, maar die offers neem ander vorme aan soos:
- Skulderkenning: “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19)
- Finansiële bydraes in God se koninkryk: “Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, 'n lieflike geur, 'n welgevallige offer, welbehaaglik by God.” (Filipennse 4:18)
- Gebede: “En 'n ander engel het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.” (Openbaring 8:3-4)
Ons kan nog voorbeelde noem, maar uiteindelik is ons hele lewe ‘n lofoffer aan God op grond van die volmaakte versoeningsoffer wat Christus vir ons gebring het. Paulus gebruik ook die beeld van offers om ons lewe van toewyding aan die HERE te beskryf: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)
Maar tog sien ons ongelukkig nie hierdie uitwerking by die meerderheid van die volk Israel in Hoséa se tyd nie. Die patroon gaan voort: die sonde van die volk en dan die oordeel van die HERE. En volharding in sonde maak die oordeel onafwendbaar – die Assiriese ballingskap het toe later gekom.
Maar laat ons wat nou die boodskap hoor, ons bekeer tot God met ons hele hart en offers bring wat aan God welbehaaglik is. Offers vanuit ‘n hart vol liefde en kennis van God. Christus leer ook in kern hierdie twee elemente wanneer Hy praat met die Samaritaanse vrou oor ware aanbidding: “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (Johannes 4:23-24)
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel woon, U is groot en baie lofwaardig. Ons wil U heilige Naam loof en prys. Ons dank U dat U baie lankmoedig is met ons en dat U tyd gee vir bekering. Here, ons bid dat U ons sal vergewe op grond van U Seun se volmaakte offer. Ons kan nie uit onsself ons bekeer nie en daarom smeek ons: “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer.” (Klaagliedere 5:21) Here, lei ons en vorm ons om al hoe meer offers te bring wat aan U welbehaaglik is. Ons bid dit alles in die Here Jesus Christus se Naam. Amen.
### Coram Deo
In teenstelling met die oppervlakkige en uitwendige vormgodsdiens van Israel in Hoséa se tyd (en dikwels onder ons ook), moet ons lewens deurweek wees met liefde en kennis van God. Dit is die dryfveer vir die offers wat ons aan God bring. “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1)
### Verdere Bybelstudie
Ons volgende oordenking uit Hoséa gaan DV uit hoofstuk 11 kom. U kan daarom gerus hoofstukke 7 tot 10 op u eie tyd lees.
### Bronnelys
Van Hulst, F.J. Hoofstuk 5: Hosea 6\. Bl. 42-50\. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.
Kempff, D. Hoofstuk 7: Hosea 6\. Bl. 45-50\. Wees Trou, Die Betroubare Woord. Uitgegee deur Boekhandel De Jong (Edms.) Bpk. 1979.
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Verbly julle altyd in die Here!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/verbly-julle-altyd-in-die-here/
Last updated: 2026-03-22T11:30:26.000Z
Ons hele lewe is aanbidding van God. Tog is daar tye in hierdie lewe wat ons nie die krag het om Hom te aanbid nie. Dit is nie dat ons nie wil nie, maar dit is moeilik om dit te doen as ons swaarkry ervaar. Ons weet dat ons die Here se lof moet besing, maar ons sukkel baie keer om onsself sover te kry om dit te doen. Die harde waarheid is: ons as mense het nie die vermoë om hierdie aanbidding te laat opwel nie. Die Heilige Gees wys vir ons die pad.
Petrus skryf in sy eerste brief aan Christene wat vervolging, marteling en stryd ervaar. In hierdie omstandighede sing Petrus tog ‘n loflied (1 Petrus 1:1-12) – prys en loof God, juis in jou moeilike omstandighede. Kan ‘n mens dit doen?
Ons ervaar almal verskillende moeites. Miskien sukkel jy met jou skoolwerk, studies of om werk te kry. Dalk het jy onlangs gehoor ‘n geliefde is terminaal siek. Jy was miskien self onlangs by die dokter wat vir jou ‘n slegte diagnosis gegee het. Miskien wonder jy of dit jou regtig baat om kerk toe te gaan – vandat ek die Here begin volg het, het ek vriende verloor en my wêreld raak al hoe kleiner. Dalk worstel jy om te verstaan wat jou doel hier op aarde is en of dit regtig die moeite werd is om nog te bly lewe. Miskien het die Here in Sy alwysheid ‘n geliefde uit hierdie lewe weggeneem.
Die Here ken ons omstandighede tot in die fynste detail. Tog roep Petrus ons op om die Here te bly loof en aanbid ook wanneer jy vrese, pyn, hartseer en bekommernisse ervaar. Die Here is goed, altyd. Dit is hoekom dit altyd tyd is om die Here te aanbid.
### Wat is die grond van ons aanbidding?
Soms word ons beheers deur ons omstandighede - ons kry swaar en dan word dit moeilik om die Here te loof. Stadig maar seker verflou ons gebede. Die Bybel leer vir ons dat ons nie ons moeites moet afmaak nie – die Here maak dit nie net af nie. As ons Sy grootheid voor oë bring, verklein ons moeilikhede. God is groter as al jou seer. Vind die grond van jou aanbidding buite jouself, want binne jouself kyk jy vas in hartseer en pyn. Ons vind dit by ons barmhartige Vader. Hy het medelye met ons. Hy dra ons pyn. Daarom kan ons Hom loof in ons moeilike omstandighede.
Sonder die Heilige Gees kan ons Hom nie prys nie, maar saam met Hom kan ons die Here aanbid in ons donkerste nag. Ons lees in 1 Petrus 1:23: “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onvergangklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” Ons moeites is nie vir ewig nie, net die Woord van die Here. Jou Bybel moet oop bly en jou hande gevou.
> “Maar die Heer sal in my lewe
> weer oordag sy guns gebied.
> Ook deur donker nag omgewe,
> sing ek nog my pelgrimslied.
> Ja, ek lofsing in die nag,
> want ek bly die Heer verwag;
> my gebed sal opwaarts strewe
> na die bronwel van my lewe.”
> \- Beryming van Psalm 42 (vers 5)
Ons lees dikwels in die psalms van swaarkry in die digters se lewens, maar tog prys hulle die Here vir sy goedheid en sy trou. Dit is altyd tyd om die Here te aanbid. Hy sal uitkoms stuur, op Sy tyd, die regte tyd.
Die Here vra nie net van ons om Hom te aanbid nie, Hy gee vir ons rede om Hom te loof. Hy het vir ons so ‘n jammerte om ons te sien in ons diepste droefheid, dat Hy so ver gegaan het om Sy enigste Seun te offer. Hierin is ons aanbidding geanker, nie in ons wisselvallige omstandighede nie, want as dit die geval is, dan is ons lofprysing ook wisselvallig. Dan sal ons in die tye wat dit sleg gaan sê: “Ek sal die Here loof wanneer dit weer goed gaan”.
Om die Here te loof moes jy al Sy goedheid gesmaak het. Elkeen van ons kan oor soveel goedheid getuig wanneer ons terugkyk op ons lewe, hoe Hy sy goedertierenheid vir jou gestuur het en hoe jy in die donker nag kon lofsing. Daarom kan ons ook Hom loof in ons swaarkry, want ons weet dat ons weer Sy goedheid sal kan proe.
### Barmhartigheid se geskenk is die wedergeboorte
Ons kan ons Vader se goedheid so duidelik sien as ons na die kruisdood van Sy enigste Seun, ons Verlosser, kyk. Petrus rig ons gedagtes op Christus se opstanding, maar dit beteken dat Hy gekruisig is en gesterf het. Tog het Hy opgestaan. Ons is saam met Hom gekruisig en het saam met Hom opgestaan. Ons is wedergebore en dit het die Here aan ons geskenk in Sy barmhartigheid, nie omdat ons dit verdien nie, maar net omdat Hy dit wil. Hy het ons lewend gemaak. Loof en prys ons Vader vir hierdie goedheid ook al het jy moeites.
Ons swaarkry skep ‘n droefheid in ons hemelse Vader se hart. Hy het Sy Seun geoffer om ons swaarkry, wat deur die sonde oor ons hang, weg te neem en om ons nuwe lewe te skenk. Ons was doodsbeendere wat rondgeswerf het. Efesiërs 2: 4 & 5 troos ons met die woorde:
“Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered…”
Ons nuwe lewe kom van die hart van ‘n liefdevolle Vader en dit vloei voort uit Christus se opstanding. Jy moet dit glo. Jy is ‘n nuwe skepsel. Dieselfde Krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het, is nou ook in jou aan die werk. Ons kyk na onsself en dink soveel keer dat ons nie hierdie Krag in ons lewens voel nie. Miskien voel jy hopeloos. Jou omstandighede lyk dalk hopeloos. Tog het ons die troos van lewende hoop in ons wedergeboorte. Die graf is leeg! Jou lewe nou is nie die laaste nie - die ewige lewe is ons erfenis (1 Petrus 1: 4).
Ons hoef nie skatte op die aarde bymekaar te maak om gelukkig te wees nie. Dit sal ons nie geluk bring nie. Ons vreugde lê by ons Vader in die hemel, maak jou skatte daar bymekaar. Ons erfenis, wat ons in Christus kry, is ons vreugde. Jou swaarkry kan nie verlig word hier op aarde deur aardse dinge nie, alleen maar by Christus.
God is liefdevol besig in jou lewe. Hy gebruik jou moeites, as dit nodig is, om jou in Sy erfenis te bewaar. Want wat wil jou Vader hê? Hy wil hê dat jou geloof op daardie dag bevind sal word tot lof, eer en heerlikheid van sy Naam en sal dan vir jou sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, gaan in in die heerlikheid van jou Heer.” Dis hoe kosbaar jy vir die Here is, meer as goud. “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). Dit is ons troos en hoop in goeie tye, maar veral in donker dae. Laat ons dan lofsing to Sy eer. Hy bewaar ons, ook in moeilike omstandighede, sodat ons ons erfenis in ontvangs mag neem. Kyk hoe Hy die moeites in jou lewe gebruik om jou geloof skoon te maak.
Ons God is lofprysing waardig in elke omstandigheid. God is altyd goed. Dit is altyd tyd om Onse God en Vader te aanbid.
*Verwerking van 1 Petrus 1 - preek deur Ds. C van Wyk gehou op Sondag 7 September 2025\. Geskryf deur Hanna Klapwijk, VGK Bellville*
### Kennis van God en afgodery - Hoséa 4
URL: https://olielamp.vgk.org.za/kennis-van-god-en-afgodery-hosea-4/
Last updated: 2026-03-19T19:13:30.000Z
Lees Hoséa 4
In hierdie reeks vanuit Hoséa trek ons nou al by die vierde hoofstuk. Die boek Hoséa kan in twee hoofdele verdeel word. Hoofstuk 1-3 handel oor Hoséa se huwelik met Gomer en dan Gomer se drie kinders. In hoofstuk 4-14 word die hoofboodskappe wat deur Hosea se huwelik uitgebeeld word, verder uitgebrei en ondersteun deur profetiese woorde, aanklagtes en oproepe.
Hoofstuk 4 is dus die begin van die tweede hoofdeel van Hoséa en hier lees ons dat die HERE ‘n regsaak het met die inwoners van die land. Hy gaan as Regter optree teen sy volk. Ons gaan in hierdie oordenking fokus op twee konsepte waarvan die volk aangekla word: ‘n Gebrek aan kennis van God vanuit vers 1 en 6 en dan afgodery vanuit vers 12.
### Kennis van God
Kom ons luister weer na vers 1: “Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.”
Daar is geen liefde en trou nie. Hoe kan enige verhouding bestaan sonder hierdie twee elemente? Dit is die boustene vir enige verhouding, veral vir ‘n huwelik. Dan is daar ook geen kennis van God nie. Vers 6 gaan verder: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis”. Veral die priesters word aangekla, omdat hulle die volk van die HERE moes geleer het.
Wat is hierdie kennis van God waarvan gepraat word? Is dit maar net om baie van God te weet? Om kennis van God te hê, beteken nie net om baie van God te weet nie, maar ook dat jy Hom persoonlik ken. Dit is nie ‘n droë en koue akademiese feite-kennis nie, maar kennis wat met trou en liefde gepaard gaan.
Kennis van God dui op ‘n intieme omgang met God. Dit sluit natuurlik nie verstandskennis, ‘n goeie Bybelkennis, uit nie, maar dit is nie net beperk tot verstandskennis nie. Om God te ken, behels om ‘n persoonlike verhouding met die Drie-enige God te hê en om- soos Henog, soos Noag- saam met God te wandel. (Genesis 5:24; 6:9)
Die troueloosheid teenoor die HERE en gebrek aan kennis (vers 1) het gelei tot ‘n samelewing waar leuens, moord, diefstal en owerspel aan die orde van die dag was (vers 2). Dit lei dan weer tot skade en verwoesting in die natuur (vers 3). Dit is die hartseer kettingreaksie wat ons in vers 1 tot vers 3 sien. ‘n Vervreemde verhouding met God (geen kennis van God) lei tot ‘n gebroke verhouding tussen mense en met die natuur.
Kom ons pas hierdie gedeelte op onsself toe en ondersoek onsself deur ‘n paar vrae te vra. Hoe lyk ons kennis van God? Maak ons tyd om persoonlik en intiem met God om te gaan deur persoonlike Bybelstudie en gebed? Weet jy net baie van God of ken jy Hom werklik? Hoe lyk ons verhouding met ons naaste? Is ons goeie rentmeesters van God se skepping?
### Afgodery
Kom ons kyk nou na die tweede konsep: Afgodery. Luister weer wat sê vers 12:”My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het *hulle* verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.”
God het die mens geskep met die behoefte om Hom te aanbid. Maar na die sondeval aanbid die mens van nature nie meer die ware God nie, maar aanbid en verheerlik iets in die skepping (Romeine 1:25). Die behoefte om te aanbid het in die mens oorgebly, maar is deur die sonde besmet en verdorwe. Dit is die rede hoekom daar vandag so baie godsdienste en afgode is.
Israel het ook in gruwelike afgodery verval wat gepaard gegaan het met fisiese onsedelikheid (vers 13-14). Maar wanneer die HERE se volk afgode aanbid, dan noem die Bybel dit geestelike hoerery (vers 12). Die verbondsvolk gee hul liefde vir afgode in plaas van die HERE, net soos ‘n vrou wat owerspel bedrywe.
Vandag loop ons nie die gevaar om soos Israel fisies voor Baäl en ander afgodsbeelde te buig nie. Ons sal nie vinnig vir ‘n stuk hout gaan raadpleeg nie (vers 12). Beteken dit dat ons nie skuldig is aan afgodery nie?
Nee, afgodery is nie beperk tot die fisiese aanbidding van ‘n beeld of ander (mensgemaakte) gode nie. Ons bely in Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 95 wat afgodery is: “Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.”
Dit is om iets anders die middelpunt van jou lewe te maak en om daarop te vertrou. Dit kan byvoorbeeld geld, sport, jou werk, aansien, gewildheid of sukses wees. ‘n Afgod is enige iets wat die plek van God in ons lewe inneem. Dit is dan in werklikheid geestelike hoerery.
### Slot
Dit is die uitspraak van die Regter in hoofstuk 4, maar dit is nie die enigste hofsaak in die Bybel nie. Paulus roep die beeld van ‘n regsaak weer op in sy brief aan die Romeine. Die uitspraak: ”Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” (Romeine 3:10-11)
Maar Christus het Homself in ons plek in die beskuldigingsbank geplaas. Hy het ons sonde op Hom geneem, ook ons sonde van gebrekkige kennis van God en afgodery. Hy is onskuldig deur ‘n wêreldse regter ter dood veroordeel en het deur sy lewe, dood en opstanding vir ons die geregtigheid en lewe verwerf. Christus het dus ons sonde op Hom geneem en skenk sy geregtigheid aan ons.
Die HERE het ‘n regsaak met sy volk, en wat is die uitspraak: Deur geloof in Christus is jy regverdig verklaar, is jy vrygespreek! En wat is die gevolg? “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1). ‘n Versoende verhouding met die enigste ware God. En vanuit hierdie versoende verhouding met God kan ons weer in ‘n versoende verhouding met ons naaste en die natuur lewe. Ons kan groei in kennis van God en aanbidding van die ware God.
### Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ons wil U aanbid, want U is die enigste ware God. Ons dank U dat ons U kan ken deurdat U Uself aan ons geopenbaar het. Om U en u Seun Jesus Christus te ken, om in ‘n verhouding met U te lewe, is die ewige lewe (Johannes 17:3). Ons dank U vir hierdie wonderlike voorreg. Lei ons deur u Gees dat ons al hoe meer sal groei in ons lewe saam met U. Ons bid dit alles in Christus se Naam. Amen.
*Geskryf deur Heinrich Goodey, VGK Maranata*
### Onse Vader – Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/onse-vader-vergeef-ons-ons-skulde-soos-ons-ook-ons-skuldenaars-vergewe/
Last updated: 2026-03-15T06:30:12.000Z
Ons almal weet dat vergifnis die basis van die Christelike geloof is, en ons almal is baie bekend met die bede: “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” in die Onse Vader. Hierdie bede maak dit baie duidelik dat ons ook ons naaste moet vergewe as hulle ons seer maak of teen ons sondig. Dit is ‘n duidelike Bybelse beginsel, dink maar aan die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser in Mattheüs 18:23-35\. Ons ken die les, ons moet besef hoeveel God ons vergeef het en dat dit wat ons naaste ons skuldig is, niks staan in vergelyking daarmee nie. Daarom moet ons nie so onbarmhartig soos die kneg wees nie, maar eerder ons naaste vergewe. Ja, ons almal ken die Christelike beginsels van vergifnis, maar tog is daar ‘n vraag wat nog baie keer rondom die onderwerp na vore kom: Moet ons ons naaste ook vergewe as hulle geen berou het oor wat hulle gedoen het nie?
Ek dink dit is ‘n baie menslike vraag. Selfs as ons na die bogenoemde gelykenis kyk sien ons dat die tweede dienskneg voor die eerste se voete neer val en hom smeek: “Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal”. Dalk is dit nie so moeilik om iemand te vergewe wat opreg om vergifnis vra nie, dalk is dit nie so moeilik om jou met iemand te versoen wat in diep berou erken dat hulle verkeerd was nie, maar wat van iemand wat geen berou het nie, of erger nog, net aanhou om dieselfde te doen?
Die voordeel van die moderne tyd is dat jy maklik ‘n algemene mening kan kry van die gemiddelde mens. Toe ek vir Google gevra het of ons mense moet vergewe wat nie spyt het oor dit wat hulle gedoen het nie, het ek die volgende AI oorsig gekry:
*“Forgiving someone who is not sorry is a personal choice focused on releasing your own bitterness and emotional burden, rather than excusing their behaviour or reconciling. It is not required for safety or self-respect, especially in toxic situations. True forgiveness frees you to move forward, regardless of the offender's remorse.*
*Key considerations on this topic include:*
- **Forgiveness vs. Reconciliation:* Forgiveness can be granted to free yourself from anger, but that does not mean you must reconcile or trust the person again.*
- **It’s For You, Not Them:* Forgiveness is about letting go of the negative impact the action has on your life, not condoning the act.*
- **Accepting the Unapologetic:* Sometimes, you must accept that an apology will never come and decide to move on without it.*
- **Setting Boundaries:* Forgiving someone does not mean allowing them to continue hurting you. You can forgive someone while still holding them accountable or limiting your interaction with them.*
*In some belief systems, such as Christianity, forgiving others is seen as a requirement, similar to how one is forgiven. Ultimately, the decision to forgive should be based on what brings you peace and well-being.”*
Ek dink dit is ‘n baie goeie opsomming van hoe die wêreld na vergifnis kyk en ons neig om presies dieselfde te doen. Vergifnis gaan uiteindelik oor jouself, jy moet mense vergewe vir die primêre doel om self vrede te ervaar en vry te voel.
Die vraag is nou, wat is die Christelike uitgangspunt? Om hierdie vraag te beantwoord moet ons nog ‘n paar verse terug gaan in Mattheüs 18\. Dit begin met ‘n vraag wat Petrus vir die Here stel: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?” Dit is ‘n baie bekende gedeelte, maar het jy al jouself ooit daarin verdiep? Menslik gesien is sewe keer al baie, persoonlik sal ek al na die derde keer voel iemand het regtig geen berou nie.
Die Here Jesus wys vir ons dat ons ingesteldheid totaal verkeerd is. Hy antwoord: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe”. As ons nog enigsins dink aan limiete, as ons nog enigsins dink daar kom ‘n punt waar ons nie meer hoef te vergewe nie, dan maak ons ‘n fout.
Maar wat kan ons verander? Ons moet ons lewens uitkyk ondersoek en moontlik daaraan verander. Jesus se bergpredikasie vat dit die beste saam:
“*Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.”* (Mattheüs 5:43-48)
Ons probleem is dat ons na vergifnis (en verhoudings in die algemeen) kyk vanuit ons eie perspektief. Jesus leer ons dat ons dan niks anders as die wêreld is nie. Die heidene is ook lief vir die wat hulle lief het, hulle vergeef ook die wat opreg berou het… Maar ons dien ‘n God wat vir goeies en slegtes sorg. Meer nog “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.” (1 Johannes 4:10). As ons kinders van God is, moet ons net soos Jesus Christus optree. Hy het niks terug gedoen aan die mense wat Hom geslaan en gespoeg het nie, nee, inteendeel, Hy het sy lewe aan die kruis gegee om vir daardie mense se skuld te betaal.
Dus in konklusie, die wêreld sê dit is ‘n goeie idee om mense te vergewe omdat dit jou beter laat voel, maar uiteindelik is dit jou eie keuse. Dit is menslik en verstaanbaar om te voel dat vergifnis limiete het. Maar God roep ons op om totaal anders te wees, Hy roep ons op om soos Hom te wees. Dit beteken om nie dinge te doen ter wille van ons self nie, maar ter wille van Hom. Dit beteken dat ons nie net ons naaste moet vergewe nie, maar selfs ons vyande moet liefhê (Mattheüs 5:44). Dit is ‘n radikale nuwe lewensuitkyk, een wat teen ons natuur indruis. Mag die Heilige Gees kragtig in ons werk sodat ons kan groei om net soos ons Hemelse Vader te wees.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Die kinders van Gomer - Hoséa 1
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-kinders-van-gomer-hosea-1/
Last updated: 2026-03-11T17:00:46.000Z
**Die kinders van Gomer - Hoséa 1**
Lees Hoséa 1
Ons het in die vorige oordenking gesien dat daar in die tyd van Hoséa materiële seëninge en voorspoed was. Maar in plaas daarvan om die HERE daarvoor te dank, het Israel dit aan Baäl toegeskryf. Die voorspoed het gemaak dat Israel die HERE vergeet het. Ons lees byvoorbeeld in Hoséa 13:6: “Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.”
Ons het dus gesien dat Israel ontrou was aan die HERE, maar ook dat God se liefde en geduld baie groot is. Die HERE is baie lankmoedig met sy volk, maar Hy bly steeds regverdig. Hy sal Israel, wat volhard in sonde, moet straf. Ons sien dit in die name wat Hoséa vir die kinders moes gee.
Die eerste kind moet Hoséa Jisreël noem. Jisreël is ‘n vlakte in Israel, ‘n plek waar daar baie bloedvergieting en oorlog plaasgevind het. Dit dui op ‘n plek van oordeel. Jisreël beteken letterlik: verstrooi, versprei.
Die name van die volgende kinders maak die oordeel oor Israel se aanhoudende afgodery nog duideliker. Lo-Rugáma beteken “Nie ontferming” of “sonder barmhartigheid”. Lo-Ammi beteken “Nie my volk nie”. Dit wat Israel uniek maak as verbondsvolk van die HERE, word hulle ontneem.
Daar is ook ‘n verskil tussen die geboorte van Jisreël en die geboortes van Lo-Ammi en Lo-Rugáma. By Jisreël word gesê dat Gomer vir “hom (Hoséa) ‘n seun gebaar” (vers 3) het, maar by Lo-Rugáma en Lo-Ammi word daar net gepraat van “’n dogter” (vers 5) en “’n seun” (vers 8). Dit dui daarop dat die laaste twee kinders van Gomer heelwaarskynlik nie Hoséa s’n was nie, maar dat hierdie kinders vanuit hoerery deur Gomer gebore is.
Die name wat Hoséa in opdrag van die HERE aan die kinders gegee het, maak dus duidelik sy oordeel bekend. Israel sal verstrooi word in ballingskap, sonder ontferming en vervreemd van God. Hoséa profeteer deur hierdie naamgewing al oor die Assiriese ballingskap van 722 v.C, maar later in die boek nog meer direk: “Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.” (Hoséa 10:6).
Maar tog in sy regverdigheid bly die HERE steeds barmhartig. Hoséa mag in dieselfde asem waarmee hy die HERE se oordeel aankondig, tegelyk ook verkondig dat God Israel nie heeltemal sal vernietig nie.
Daar bly genade: “Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie — sal aan hulle gesê word: *Julle is* kinders van die lewende God. Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël! Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.” (Hoséa 1:10-12)
Die name word verander! Lo-Ammi (nie my volk nie) word Ammi (My volk) en Lo-Rugáma (nie ontferming) word Rugáma (Ontferming).
En ons as Nuwe Testamentiese gelowiges verstaan so te veel meer hoe hierdie naamverandering moontlik is: slegs as gevolg van Jesus Christus se volmaakte verlossingswerk. Aan die kruis het Hy uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?“ (Mattheüs 27:46). Aan die kruis is Hy as’t ware: “Nie my Kind nie” genoem. Vir Jesus was daar geen ontferming of barmhartigheid aan die kruis nie. ‘n Plek waar God sy toorn en oordeel op sy Seun laat neerkom het. Lo-Ammi. Lo- Rugáma. Jisreël.
Omdat Christus deur sy Vader verlaat is, word ons weer kinders van die lewende God genoem. Omdat daar geen ontferming vir Christus was nie, ontferm God Homself oor ons. Ammi en Rugama! Dit is ook die identiteit van die kerk. Wanneer Petrus in sy eerste brief die kerk van die Here beskryf, eindig hy deur te sê: ”Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9), en dan Hoséa se woorde in vers 10: “julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”
Uit hierdie woorde van Hoséa straal ook duidelike Pinksterkleure. In die Nuwe Testament word heidene deel van die volk van God en ontvang God se barmhartigheid. Paulus maak dit duidelik in Romeine 9:24-26:”Ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.”
Kyk na die nuwe status wat God ons gegee het: Volk van God, kinders van die lewende God, sondaars aan wie daar nou barmhartigheid bewys is!
### Gebed
Getroue God, U het hierdie groot liefde aan ons bewys dat ons kinders van U genoem mag word. Ons dank U vir hierdie status en identiteit wat ons in Christus mag hê. Dank U dat U as Vader vir ons sorg en weet wat vir ons die beste is. Laat ons besef dat ons van U afhanklik is en dan ook sal besef dat dit U is wat vir ons sorg en ons seën. Soos Israel in die tyd van Hoséa is ons ook nog baie keer ontrou aan U, en ons bid dat U ons daarvoor sal vergewe. Ontferm U oor ons om Christus wil. Amen.
### Coram Deo
In Christus het ons die wonderlike status as volk van God, aan wie daar barmhartigheid bewys is, ontvang. Versterk mekaar met hierdie waarheid soos Hoséa ons oproep: “Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.” (Hoséa 1:12)
### Verder Bybelstudie
Hoséa 2
*Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin*
### EP19: GKSA Sinode 2026 en Vroue in die Amp: Besluit, Reaksies en Gevolge
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep19-gksa-sinode-2026-en-vroue-in-die-amp-besluit-reaksies-en-gevolge/
Last updated: 2026-03-07T07:00:21.000Z
*Met Ds. Erik van Alten*
Die GKSA se Algemene Sinode (5–10 Januarie 2026) het ’n duidelike besluit geneem oor gemeentes wat vroue in die besondere dienste (ouderling en predikant) toelaat. Die Sinode stel dat die **nie-onderhouding van sinodebesluite oor VIDA** (vrou in die amp) neerkom op **self-losmaking van die kerkverband**, omdat kerklike binding (KO art. 31) daarmee in gedrang kom. Gemeentes wat vroue as ouderlinge bevestig het, kry **’n jaar** om hul besluit terug te trek en dit “met die daad reg te stel” deur losmaking te gee aan die bevestigde vroue; klassisse moet dié gemeentes pastoraal begelei. Indien ’n gemeente ná daardie tyd volhard, moet dit met droefheid gekonstateer word dat die gemeente ongehoorsaam aan Christus is en haarself van die GKSA se kerklike gemeenskap losgemaak het; indien ’n klassis of streeksinode nie optree nie, kan ’n volgende Algemene Sinode dit doen. Hierdie besluit het wyer reaksie ontlok: ope briewe (vir en teen), intensiewe media-dekking, en vrae oor ekumeniese verhoudings, teologiese opleiding, en die breër getuienis van gereformeerde kerke in Suid-Afrika.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Profeet Hoséa – Die onvoorwaardelike liefde van God!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-profeet-hosea-die-onvoorwaardelike-liefde-van-god/
Last updated: 2026-03-04T17:00:08.000Z
Lees Hoséa 1 en 3
Die apostel Johannes word dikwels die apostel van God se liefde genoem. Liefde is ‘n sentrale tema in die evangelie volgens Johannes en loop soos ‘n goue draad deur sy briewe. Ons lees byvoorbeeld in 1 Johannes 4:7-8: “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”
Terwyl Johannes in die Nuwe Testament die apostel van God se liefde genoem kan word, kan Hoséa in die Ou Testament as die profeet van God se liefde beskou word. Op ‘n baie konkrete manier moes Hoséa God se liefde vir sy volk uitbeeld. Hy kry ‘n buitengewone en vreemde opdrag: “Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.” (Hoséa 1:2)
Hoekom kry Hoséa so ‘n vreemde opdrag? Om dit te verstaan, gaan ons eers kortliks kyk na die historiese konteks waarin Hoséa opgetree het. Hoséa tree op as profeet in die jare ongeveer so 750 v.C. in die Noordelike Ryk, die Tienstammeryk, en word in Hoséa aangedui as ‘Israel’ of ‘Efraim’, terwyl die Suidelike Ryk, die Tweestammeryk, as ‘Juda’ aangedui word. Hy tree op “in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.” (Hoséa 1:1).
Ons lees van hierdie Koning Jeróbeam II in 2 Konings 14:23-29\. Vir 41 jaar was hy koning en die HERE het hom gebruik om verligting en beterskap te gee aan Israel. Uit hierdie gedeelte en uit Hoséa sien ons dat dit gedurende sy regering op die oog af weer goed gegaan het. Daar was voorspoed, vrede en welvaart; daar was koring, mos, olie, silwer en goud (Hoséa 2:7).
Maar wat was dan die probleem? Israel het nie meer die HERE alleen liefgehad en Hom alleen en op sy manier gedien nie. Koning Jeróbeam II het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en het die kalwerdiens in Bet-el en Dan aanhou handhaaf net soos koning Jerobeam I (2 Konings 14:24, 1 Konings 12:28-29). Die volk het ook Baäl, die vrugbaarheidsgod van die Kanaäniete, gedank vir die materiële seëninge (Hoséa 2:4,7). Dit is juis hierdie aanhoudende afgodery en eiewillige godsdiens wat uiteindelik sou lei tot die Assiriese ballingskap in 722 v.C.
En daarom gebruik die HERE Hoséa om Israel op te roep tot bekering en hulle te waarsku teen sy oordele. Ons sien God se oordele so duidelik in die betekenis van die name van die kinders van Gomer waarna ons in ‘n volgende oordenking dieper gaan kyk – “Sonder Ontferming; Nie my volk nie!”
Maar hoekom moes Hoséa juis God se oproep uitbeeld deur ‘n hoervrou en hoerkinders te neem? Want die sentrale boodskap wat God vir sy volk wil verkondig, is sy onbeskryflike groot liefde. Al is sy volk ontrou, Hy bly getrou. Sy liefde wat tugtig en hulle oproep tot bekering, maar ook sy regverdigheid wat straf as sy goddelike jaloersheid opgewek word.
Want sien, op baie plekke in die Bybel word die verhouding tussen God en sy volk beskryf as die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou in die huwelik. Hoerery het daarom in die boek Hoséa, en baie ander Bybelboeke, ook ‘n simboliese betekenis. Hoerery simboliseer afgodery. God se volk is ontrou aan Hom en gee hulle hart en liefde vir afgode.
Hoséa toon liefde en ontferming vir ‘n hoervrou, vir iemand wat ontrou is, wat dit nie verdien nie, en wat vir hom deur haar optrede sou seermaak. Hoséa 3 vertel vir ons dat Hoséa, nadat Gomer weer in hoerery en slawerny verval het, weer vir Gomer moet gaan bemin en liefhê.
Ons sien hierin iets van God se liefde. God is liefde (1 Johannes 4:8) - tussen die Vader, Seun en Heilige Gees - bestaan van ewigheid af, ‘n volmaakte liefde. God se liefde is onvoorwaardelik. Ons kan dit nie verdien nie en daar is niks aan ons wat maak dat God ons liefhet nie. Hy het ons vrywillig lief (Hoséa 14:5).
Dit is hierdie liefde en trou van God wat in Christus volmaak geopenbaar word. Christus wat, volgens Efesiërs 5:25, as Bruidegom die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. Het ons as Bruid van Christus dit dan verdien? Nee, inteendeel. Paulus antwoord hierdie vraag in Romeine 5:6-8: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe — vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe — maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Ons is spreekwoordelik soos ‘n owerspelige vrou, soos Gomer, wat van nature ons Man se liefde verwerp en agter ander minnaars aanloop. Maar Hoséa verkondig reeds die evangelie: God het ons vrywillig lief!
Mag ons aan die een kant nooit twyfel aan God se liefde nie, maar aan die ander kant daarteen waak om God se liefde as vanselfsprekend te beskou. Mag ons dan in die volgende paar oordenkings vanuit Hoséa opnuut weer God se liefde aanskou en dan daarop antwoord met heelhartige liefde!
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel is, soos die Psalmdigter wil ons jubel:”Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte” (Psalm 18:2). Ons het U lief, omdat U ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Ons dank U vir u onbeskryflike groot liefde en ons bid dat U sal gee dat ons u liefde al hoe meer sal ken en ook sal uitleef. Vergewe ons liefdeloosheid en ons ontrouheid. Laat die liefde van Christus ons al hoe meer dring. Ons bid dit alles in Christus Jesus se Naam alleen. Amen.
### Coram Deo
God het sy volk vrywillig lief en het die liefde, wat Hoséa moes uitbeeld deur sy huwelik, in Christus volmaak aan ons geopenbaar. Liefde is die samevatting van God se wet: Liefde tot God en liefde tot ons naaste.
### Verdere Bybelstudie
Jeremia 2-3 I Hoséa 11
### Bronnelys
Van Hulst, F.J. Hoofstuk 1: Hosea 1\. Bl. 3-12\. Profeet van God se liefde. Uitgegee deur Die Vrye Gereformeerde Kerk Kaapstad 1991.
*Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin*
### EP18: Eenheid in die Waarheid: Die samesprekings tussen die VGKSA en die GKSA
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep18-eenheid-in-die-waarheid-die-samesprekings-tussen-die-vgksa-en-die-gksa/
Last updated: 2026-03-03T17:00:51.000Z
*Met Ds. Erik van Alten*
In hierdie gesprek gesels ons met ds. Erik van Alten oor die samewerking tussen die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (VGKSA) en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA). Ons delf in die geskiedenis van die samesprekings, die verskille wat deur die jare op die tafel was, en hoe plaaslike gemeentes by die proses betrokke is. Ons vra ook: waar lê die uitdagings, waar sien ons hoopvolle tekens van samewerking, en hoe moet ons as lidmate en gemeentes met die GKSA omgaan? Hierdie opname help ons om die beginsel van ware eenheid in die waarheid te onderskei en prakties toe te pas.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wat is waarheid?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-is-waarheid/
Last updated: 2026-02-28T07:00:01.000Z
In ’n samelewing waar ons al hoe makliker toegang kry tot inligting, groei daar terselfdertyd ’n ongemaklike vraag in ons: wat is werklik waar*?* Teorieë soos die *Dead Internet Theory* stel dat groot dele van die internet nie meer deur regte mense gegenereer word nie, maar deur *bots* (outomatiese rekenaarprogramme) en algoritmes wat bepaal wat ons sien, hoor en uiteindelik as aanvaarbaar reg of verkeerd beskou. Of hierdie teorie waar is of nie, dit wys dat ons in ’n wêreld leef waar waarheid maklik gemanipuleer en vervang kan word. Dit bring ons dan by die vraag: **wat is waarheid?**
Die vraag is egter nie iets nuuts wat eers in die een-en-twintigste eeu ontstaan het nie. In Johannes 18:38 vra Pontius Pilatus vir Jesus: *“*Wat is waarheid?” Ironies genoeg vra Pilatus hierdie vraag terwyl Jesus, die Waarheid, voor hom staan. Jesus het reeds vroeër gesê: *“*Ek is die weg en die waarheid en die lewe*”* (Johannes 14:6).
Ons sien dus dat waarheid vir ons geopenbaar word deur Christus, wat self die Waarheid is. Ons leer dat waarheid nie ‘n abstrakte konsep is nie, maar dat dit ons Verlosser Jesus Christus is en dat waarheid nie deur die mens beheer en gedefinieer word nie, maar dat dit van God af kom. Psalm 119:160 sê: “Die hele inhoud van U woord is waarheid”. Hieruit kan ons sien dat die waarheid gegrond en geopenbaar word in God se woord.
Waarheid is dus nie net iets wat jy weet nie, maar is ‘n lewenswyse waarin geleef moet word - so lees ons in Psalm 25:5 waar Dawid sê: “lei my in u waarheid”. So sien ons dat die pad van die waarheid nie deur onsself gehardloop kan word nie, maar dat dit God is wat die krag van die waarheid in ons werk, deur die Heilige Gees.
Verder moet ons as kinders van God, wat leef in ‘n wêreld van verdraaide waarhede en valse leringe, herhaaldelik die inligting wat ons allerdaags inneem, toets teenoor die Woord van God sodat valse waarhede en valse leringe nie toegang tot ons harte vind nie. So word ons ook geleer in 1 Johannes 4:1-6 om geeste te toets, omdat daar baie valse profete is wat in die wêreld uitgegaan het. Nog ‘n waarskuwing sien ons in Matthéüs 24:24 wat handel oor valse profete wat valshede verkondig en die uitverkorenes probeer mislei waar dit moontlik is. Hierdie waarskuwing is in vandag se digitale era baie belangrik, aangesien valshede al hoe makliker versprei word en dikwels voorkom as populêr en iets om deel van te wees.
Waarheid vra daarom meer as blote erkenning, dit vra reaksie. Jesus sê in Johannes 8:31-32: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”. Dus in ’n wêreld vol *bots*, algoritmes en teenstrydige stemme word ons as gelowiges geroep om nie net die waarheid te erken nie, maar om in die waarheid te leef. Dit is alleenlik moontlik deur die krag van God, wat dit in ons werk. Bid dus elke dag en vra: “lei my in u waarheid.”
*Geskryf deur Tiaan van der Vinne, VGK Maranata*
### Ware Liefde
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ware-liefde/
Last updated: 2026-02-26T13:00:34.000Z
> “En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie, maar die grootste hiervan is die liefde.”
> 1 Korinthiërs 13:13
Soos ons hierdie reeks begin het, sluit ons dit ook so af. Geloof en hoop het werklik liefde nodig om tot aksie oor te gaan; daarom is liefde die belangrikste van die drie komponente.
Geliefdes, God is liefde. Liefde is uit God, en daarom moet ons mekaar liefhê sodat ons God meer kan ken (1 Johannes 4:7–8). Wanneer ons God vergeet, beweeg ons weg van ware liefde. Liefde is die grootste gebod.
In Mattheüs 22:37–39 beveel Jesus: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en grootste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
As jy na hierdie verse kyk, sien jy dat God ons geskape het sodat ons mekaar kan liefhê en Hom kan ken. Sy grootste liefde aan sy kinders is dat Hy sy enigste Seun, naamlik Jesus Christus, gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16).
Dis hoekom ons God moet liefhê, want om Hom lief te hê gee ons versekering van die ewige lewe. Verder, as ons kyk na die tweede gebod wat hiermee gelykstaan — om jou naaste lief te hê soos onsself — beteken dit dat ons iemand anders se belange voor ons eie stel.
Wie is dan ons naaste? Dit is die mense om jou: jou vriende, familie, bure, die mense saam met wie jy werk, die kerk, ensovoorts. Dit is dus mense wat jy ken. Ook die mense wat jy nie ken nie, moet jy liefhê.
Ons as mense sukkel daarmee om ons naaste lief te hê. Dit gebeur wanneer iemand iets verkeerd aan jou gedoen het, byvoorbeeld, as iemand jou geslaan het en jy neig dan om terug te slaan. Na so iets gebeur het, het jy al gestop en nagedink wat Christus in hierdie tipe situasie sou doen?
“Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet julle vyande liefhê en goed doen aan dié wat vir julle haat” (Lukas 6:27).
Dit is wat Jesus Christus sê wat ons moet doen. Om ons naaste lief te hê sluit ons vyande in — die mense wat kwaad aan ons gedoen het. Christus verduidelik hierdie prentjie deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25–37). Die Samaritaan het ’n Joodse man gehelp, al was hulle groot vyande in daardie tyd.
In vandag se tyd kies ons soms om die Leviet en priester te wees en nie die barmhartige Samaritaan nie. Onthou, ons het gesê dat God liefde is. As ons nie God kies of in Hom glo nie, dan is liefde sinloos. Liefde kan nie van God geskei word nie en kan nie sonder Hom bestaan nie.
Dit bring ons dan by die wêreld se siening van liefde. In 2 Timotheüs 3:2–4 sê Paulus vir ons dat daar mense is wat liefhebbers van genot is in plaas van liefhebbers van God. Alles word bo God gestel — dit is ook ’n siening van liefde wat eerder eer aan sonde gee as aan God. Die wêreld baseer liefde op emosies; liefde gaan egter nie net oor emosies nie. Liefde is aksie en hoe ons ander mense hanteer: om vir die armes te sorg, om iemand te bel wat nie ’n goeie dag gehad het nie, om iemand te besoek wat siek is, ensovoorts.
Ons moet oppas vir die perspektief dat ons dink ons beter is as mekaar of dat God nie die ons ewe liefhet nie. ’n Goeie prentjie hiervan is die gelykenis van die verlore skaap in Lukas 15:1–10, waar die man een skaap gaan soek het wat weg en verlore was uit die honderd. Hy was vol blydskap toe hy die skaap gevind het.
Vers 10 sê: “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”
Uit hierdie prentjie sien ons dat Jesus Christus werklik omgee oor die sondaar, en ons sien dus dat Hy jou en my as individue liefhet.
Geliefdes, ware liefde kom van God, en as ons nie ware liefde het nie, ken ons nie God nie. Ons moet daarop reageer deur ’n lewe van ware liefde te leef onder die krag van ons Here Jesus Christus. “Maar die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart en ‘n goeie gewete en ‘n ongeveinsde geloof” (1 Timotheüs 1:5).
Hierdie beklemtoon dat ware liefde gegrond is in die suiwerheid en opregtheid van ‘n mens se hart. Net so moedig 1 Petrus 1:22 gelowiges aan om mekaar dieper te lief te hê vanuit 'n suiwer hart, wat die idee versterk dat liefde 'n weerspieëling is van iemand se innerlike toestand. Jy kan nie ‘n mens se hart opereer of x-strale gaan doen om vas te stel wat liefde is nie. Liefde is ontasbaar en nie fisies nie. Ons harte word daarom deur die Heilige Gees vernuwe sodat ons deur God se liefde in Christus mag lewe.
### Gebed
Ons almagtige hemelse God en Vader, ons dank U, Here, vir U groot liefde.Ons dank U dat ons redding mag ontvang deur die bloed van Jesus Christus.Ons vra, Here, dat ons ons naaste mag liefhê — ons vyande ook ingesluit.Ons bid, Here, dat ons soos die barmhartige Samaritaan kan wees. Ons vra, Here, dat ons kan vergewe net soos U ons vergewe het.
In Christus bid ons dit.Amen.
### Coram Deo
Vanweë die liefde van God is daar hoop vir ons om gered te word, en deur geloof in God word ons gered.
### Bronne en Vedere Studie
- 1 Korinthiërs 13:4-13
- 1 Johannes 4:7-21
- [https://learn.ligonier.org/guides/love](https://learn.ligonier.org/guides/love?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://learn.ligonier.org/articles/true-love-2](https://learn.ligonier.org/articles/true-love-2?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://youtu.be/KX70iu8bmM0?si=cTUqxOSaK3X6\_OF1](https://youtu.be/KX70iu8bmM0?si=cTUqxOSaK3X6%5FOF1&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://youtu.be/R3TnRwDVjlg?si=v8HvpP7INFycVG1l](https://youtu.be/R3TnRwDVjlg?si=v8HvpP7INFycVG1l&ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata*
### Van Apatie na Ywer: Lewe uit Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/van-apatie-na-ywer-lewe-uit-christus/
Last updated: 2026-02-21T07:18:51.000Z
*Hierdie artikel is deel 2 van 2\. Deel 1 kan* [*hier*](https://olielamp.vgk.org.za/geestelike-apatie-n-onsigbare-gevaar/) *gelees word.*
Dit is nou alles goed en wel dat ons besef waarmee ons sukkel. Soms een of soms meer van die dinge wat ons in deel 1 genoem het of dalk iets anders nog. Maar hoe werk ons daarteen? Hoe verander ons van apaties lewe na ywerig lewe? Ons moet eerstens besef dat ons dit nie oornag gaan regkry nie. Dit is die manier waarop ons lewe - die gewoontes wat ons het. Daar is twee dele in die antwoord. Eerstens, en die belangrikste, is die antwoord wat ons uit die Bybel kry. Dit help ons ook dan met die tweede gedeelte, naamlik hoe ons ons daaglikse lewe moet verander.
Eerstens kom ons hoop uit die Bybel. In Jesaja vind ons twee mooi gedeeltes wat ons hoop en vertroosting gee; Jesaja 53:4-6:
*“Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.”*
Asook Jesaja 57:18:
*“Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges”.*
Jesus het self ook gesê Hy kom vir die siekes en die sondaars om Sy lewe vir hulle af te lê. Jesus is met ons. In Hom kan ons ‘n oplossing vir al ons redes teen ‘n apatiese lewe vind.
In twyf vind ons sekerheid, ons kan Sy voorbeeld volg en anwoorde uit Sy Woord kry. In tye van smart en hartseer mag ons rus en hoop by Hom kry. Alles sal ten goede uitwerk.
Wanneer ons baie besig is met onbenullighede en onseker is oor wat ons prioriteite moet wees, mag ons weet: as ons op Hom gefokus is en Hom ons eerste prioriteit maak, sal Hy met ons sal wees en ons lei vir die res van ons lewe.
Ook in tye wanneer ons onvoldoende voel mag ons weet dat al sien die hele wêreld dit nie, dit wat ons tot eer van Sy naam doen, sal betekenis hê. Hy sal ons ook begelei in situasies waar ons so voel.
Wanneer ons in situasies beland, wat wanneer ons dit vermy, ons broos laat voel, mag ons weet dat ons die situasie met Hom kan aanpak. Al beteken dit swaarkry, is ons nooit alleen nie. Dit maak ons net sterker.
Ons het ‘n doel en dit is om God te verheerlik in alles wat ons doen. En ons moet ons lewe so aanpak. In alles wat ons doen moet ons gefokus wees daarop. Van die klein goed soos Bybel lees en bid tot kerk toe gaan op Sondae. Ons lees in Romeine 8:5: *“Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.”* So moet ons geestelike dinge bedink elke dag wat ons lewe.
So mag ons hulp en antwoorde uit die Bybel kry op al ons redes om apaties te lewe. Maar tog gaan ons lewens aan. Ons gaan skool, universiteit of werk toe elke dag. Ons het die kennis, maar tog sukkel ons steeds daagliks. Hoe kan ons dit verander?
Dit gaan oor die gewoontes wat ons het en die tyd wat ons spandeer het om dit aan te leer. Dan moet ons gewoontes kweek wat dit sal verander, gebaseer op die Bybel. Ek het 4 dinge waarop ek kortliks wil fokus:
1) Eerlikheid. Wees eerlik met jouself, maar ook met ander rondom jou. Dis waarvoor die gemeenskap van die gelowiges daar is. *“Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16).* Daar mag dalk ander mense wees wat met soortgelyke dinge sukkel en hulp kan bied. Dit is wel belangrik om seker te maak dat die gemeenskap waarin jy is dieselfde geloof en doel het.
2) Aanhanklikheid. Spandeer meer tyd met God. Hang Hom meer aan. Dit begin by klein dinge. Probeer stil te word op seker tye deur die dag om vir ‘n paar oomblike net al jou aandag op Hom te rig. Stop alles wat jy doen: Werk, studies, musiek, alles. Raak net vir ‘n paar oomblikke heeltemaal stil. Moet nie daarby stop nie. Luister, kyk of lees na meer dinge wat jou motiveer om meer tyd aan Bybelstudie te spandeer. Probeer altyd meer tyd aan Bybelstudie spandeer.
3) Vrygewigheid. Dit is soos ‘n skat in die hemel, soos Jesus sê in Matthéüs 6:20-21: *“maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”* Of dit nou ons tyd, geld of aandag is, of om uit te reik na ander en die liefde wat ons as Christene ervaar te mag deel, help ons self ook om rigting te vind asook om te sien hoe ons aksies ander kan bemoedig.
Dan ten slotte, 4) Wegbreek van die aardse dinge. Dit behels basies die eerste drie dinge in een. Bly nader aan God groei. Probeer meer tyd spandeer in die Bybel om sekerheid te kry van jou oortuigings en waardes. Probeer dit ook in alles wat jy doen toe te pas. Ons doel om God te verheerlik moet altyd ons eerste gedagtes wees. Ons lewe beteken iets vir God en so moet ons ook deur die lewe gaan.
Al sal die stryd teen apatie altyd bly en ons steeds struikel, bly Hy getrou deur ons met Sy Woord en Gees te vorm. Daarom leef ons nie langer apaties nie, maar mag ons daarna streef om dankbaar en toegewyd tot eer van God alleen te leef.
*Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria*
### Vaste Hoop
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vaste-hoop/
Last updated: 2026-02-18T17:00:50.000Z
*Lees 1 Petrus 1:1-12*
As ’n klein kind hoop jy dat eendag, as jy ouer word, jy nie probleme sal hê nie en dat jy goed sal kan lewe. Jy het byvoorbeeld die denkwyse: “Ek hoop ek word eendag ryk sodat ek nie arm word nie”, “Ek hoop ek trou met ’n baie mooi vrou,” of “Ek hoop dit donderweer nie vandag nie, anders gaan ons nie kan sokker speel nie.” Ons sien hier die verkeerde denkwyse van hoop — en nie net by kinders nie, maar ook by ouer mense.
As mense het ons sondige gedagtes wat oor en oor opkom. Hierdie sondige gedagtes kom alles uit ons eie sondige harte. Ons kort ’n nuwe hart en ’n nuwe siel. Dis hoekom ons die verkeerde denkwyse van hoop in die algemene lewe het. Natuurlik wil meeste mense suksesvol wees in hul toekomstige lewe, maar dis net God wat dit bepaal. Ons weet nie hoe ons lewe gaan uitdraai nie. God alleen ken ons toekoms.
Die enigste Christelike versekering vir die toekoms is die ewigheid na my tyd hier op aarde en dit is die vaste hoop; die hoop van ewige lewe. Ons het sekerheid dat ons na hierdie lewe op aarde, saam met Christus sal wees in die hemel en dit is waarop ons gaan fokus in hierdie oordenking - die vaste hoop in Jesus Christus.
In die vorige oordenking het ons op geloof gefokus — dat ek in die Here Jesus Christus kan glo. Ons het dit gebaseer op die bewyse wat Hy gee in sy Woord. As ek ’n gebrek aan geloof in Christus het, het ek nie vaste hoop in Hom nie. So die vraag is: waarop moet ek my vaste hoop sit? Hoe kan ek ’n lewende hoop hê?
Soos ons in die eerste oordenking gesê het, is hoop ’n anker vir die siel, veilig en vas (Hebreërs 6:19). En wie is dan ’n anker vir die siel? Jesus Christus is. Hy is die anker vir my en jou wat vas en veilig is. 1 Petrus 1:1-7 gee vir ons ’n baie mooi verduideliking van lewende hoop.
Eerstens, deur God se barmhartigheid het ons die wedergeboorte tot ’n lewende hoop ontvang deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood (vers 3). God was so genadig en lief vir ons dat Hy sy Seun, Jesus Christus, gestuur het sodat ons deur Hom gered kan word.
In vers 4 verduidelik Petrus vir ons die rede waarom ons ons vaste hoop in die Here moet stel. Dit is dat Hy ’n plek vir ons in die hemel het. Geliefdes, my en jou plek in die hemel is deur God verseker en bewaar. Jesus Christus bied die ewige lewe aan dié wat in Hom glo. Dit is hoekom daar hoop vir elke gelowige is.
Die probleem is, geliefdes, dat baie mense oorweldig is deur die lewe — hulle voel hopeloos en dink dat dinge nie beter sal gaan nie. Dit is mense wat byvoorbeeld angs, depressie of selfmoordgedagtes het. Die meeste van hierdie mense kom uit moeilike omstandighede en omgewings. Mense baseer hoop op verkeerde dinge, soos om dwelms te verkoop om meer geld kan kry om ‘n pa te help wat siek is, of prostitute wat hoop om meer geld te maak deur betrokke te raak by seksuele aktiwiteite. Daar is soveel meer dinge waarop ’n mens sy hoop verkeerd baseer. Paulus sê vir ons in Kolossense 3:2: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Dit is ’n oproep om ons gedagtes in lyn te bring met hemelse, ewige en Christus-gesentreerde waardes, eerder as om deur tydelike aardse bekommernisse verteer te word. Jou hoop op sonde kan jou nie vry maak van wat jy verloor het of ’n moeilike tyd nie. Dit gaan jou vrymoedigheid stukkie vir stukkie vernietig.
Geliefdes, hoop word geskep deur die Heilige Gees binne in ons. Dit is die versekering dat God sal doen wat Hy sê Hy sal doen. Petrus sê verder vir ons in verse 5 tot 7: As gevolg van hierdie onwrikbare vertroue in die verlossing wat God vir ons in Christus bewerk het en vir ons sal aanhou bewaar tot die laaste dag, moet die Christelike lewe gekenmerk word deur blydskap — selfs te midde van intense probleme en beproewinge.
Ons word opgewek tot die nuwe lewe saam met Jesus Christus (Romeine 6:3-4). Ons sal van nou af as nuwe skepsels leef totdat ons sterf en die ewige lewe saam met Hom het.
Ons het hoop omdat ons ons primêre geestelike vyande kan oorwin, naamlik die duiwel, die wêreld en ons sondige natuur — ons vlees (Heidelbergse kategismus Sondag 52). Maar die dood is ons laaste vyand wat ons moet oorwin (1 Korintiërs 15:26). Ons kan na die hemelse stad gaan wanneer ons hier op aarde sterf.
Soos ons gesê het: Christelike hoop is vaste hoop, gebaseer op Jesus Christus — die hoop dat God sy beloftes sal vervul.
“Die Here sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie. Daar sal ook geen rou of gehuil of pyn meer wees nie, want alles het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Ons het hoop as gevolg van dit wat Hy belowe het en dat ons daardeur die uiteindelike oorwinning oor sonde en kwaad sal behaal.
### **Gebed**
Vader in die hemel, wat ’n voorreg is dit dat ons u kinders mag wees. Ons is dankbaar dat U ’n God is vol barmhartigheid en liefde. Ons vra, Here, dat U ons sal help om in U te glo en dat ons nie ons hoop op sonde sal plaas nie, maar slegs op Jesus Christus, ons anker en ons vaste hoop. Ons sien baie daarna uit om in die hemelse stad fees te vier met ons Verlosser, Jesus Christus. Help ons, Here, dat ons slegs in Hom mag glo. Ons bid dit alles in Christus se Naam alleen. Amen.
### **Coram Deo**
My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop. Hy is my anker, my vaste hoop. Ek behoort nou aan Jesus — niks sal my ooit van Hom kan skei. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop. Hy is my anker, my vaste hoop (Lied 292).
### **Bronne en vedere studie**
- [**https://www.ligonier.org/learn/articles/the-role-of-hope-in-the-christian-life**](https://www.ligonier.org/learn/articles/the-role-of-hope-in-the-christian-life?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/articles/living-hope](https://www.ligonier.org/learn/articles/living-hope?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/articles/10-reasons-hope-when-all-seems-hopeless](https://www.ligonier.org/learn/articles/10-reasons-hope-when-all-seems-hopeless?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://youtu.be/DYO**WL9dw6kM?si=J8P0aeElTw5P49vi**](https://youtu.be/DYOWL9dw6kM?si=J8P0aeElTw5P49vi&ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata*
### Geestelike Apatie: 'n Onsigbare Gevaar
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geestelike-apatie-n-onsigbare-gevaar/
Last updated: 2026-02-21T07:18:05.000Z
*Hierdie artikel is deel 1 van 2\. Deel 2 kan* [*hier*](https://olielamp.vgk.org.za/van-apatie-na-ywer-lewe-uit-christus/) *gelees word.*
Dit is laat in die aand en jy weet jy moet Bybel lees en bid voordat jy gaan slaap, of weet jy het môre Bybelstudie, maar het nog glad nie voorberei nie. Dit moet gedoen word, maar jy het regtig nie lus daarvoor nie. Dieselfde gebeur dalk op ‘n Sondagoggend. Die kerk begin oor ‘n halfuur, maar jou bed lê baie lekker. Jy kan mos altyd inluister. So maklik gebeur al hierdie dinge met ons. Ons aanvaar dit dikwels ook net, want *dit is maar hoe ons is* \- al weet ons diep in ons harte dat dit nie reg is nie.
Die beskrywing vir hierdie gevoel is ‘apatie’ in die breëer konteks. Dit kom van die Griekse woor *apatheia* af. Die voorvoegsel ‘a’ beteken *sonder* en ‘patos’ beteken *emosie*. Dus, om iets sonder emosie te doen. Dit word vandag dikwels gebruik vir gebrek aan belangstelling aan iets. Die Bybel waarsku ons sterk teen sulke optrede in Romeine 12:11 - *“wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.”* Ons sien dit baie keer in onsself raak, maar weet nie hoe om daarteen te stry nie. Om daarteen te stry, moet jy dit eers in jouself raaksien en ook verstaan waar dit vandaan kom. Soos enige ander stryd moet jy voorbereid wees.
Waar kom apatie egter vandaan en wat is die oorsaak daarvan? Dit loop baie keer hand-aan-hand met iets soos depressie en is nie net ‘n gebrek aan belangstelling, entoesiasme of besorgdheid nie, maar ook ‘n belangstelling in die verkeerde dinge. Dit is lekkerder om te slaap as om kerk toe te gaan, of om tyd op sosiale media te spandeer is lekkerder as om na Bybelstudie toe te gaan. Ons kan nog dieper kyk wat wat die rede agter die gevoel is. Daar is ses redes waarna ons graag hier wil kyk. Dit gaan alles oor ‘n geestlike geveg rondom ons wat ‘n invloed op ons het en die stryd in onsself teen ons sondige natuur.
### 1) Twyfel
Dikwels sit ons met n moelike vraag, dalk iets soos die uitverkiesing. Of dalk moet jy ‘n groot besluit maak soos van kerke verskuif, maar is nie seker waarheen om te skuif nie. Die onsekerheid en twyfel oor watter rigting om te kies lei dikwels daartoe dat geen besluit gemaak word nie.
### 2) Smart of hartseer
Ons gaan almal deur moeilike tye. Ons verloor dalk geliefdes, word afgedank of verhoudings breek op. Nog baie meer dinge kan genoem word. Hier loop depressie baie keer baie naby aan apatie - met die verlies verloor ons baie keer ook hoop. Drome en planne is verpletter. Sonder dit lyk alles hopeloos en dit voel of niks meer saak maak nie. Daar is nie meer nut om in enige iets belang te stel of aandag aan te gee nie.
### 3) Onbenullighede
Dikwels is ons baie besig met soveel dinge. Die lewe is een groot gejaag. Werk is belangrik, universiteit is belangrik, Bybelstudie is belangrik en dan nog is geloof ook belangrik vir ons. As alles belangrik is, is niks eintlik belangrik nie. Ons maak nie meer onderskeid tussen die belangrikheid van dinge in ons lewens nie. Dit bepaal hoeveel moeite ons insit. As geloof en kerk nie die ding is waaraan ons ons volle aandag grotendeels gedurende die week rig nie, is dit die gedeelte van ons lewe wat in die agtergrond geskuif word. Daar bly net nog bietjie energie, as ons nog het, aan die einde daarvoor oor.
### 4) Onvoldoendheid
As jeug het ons nog nie so baie lewenservaring en kennis nie. En as ons enige iets doen, is dit nog nie so groot nie. Ons voel ons kan nog nie die groot besluite neem nie. Waarom dan enigsins besluite maak? Waarom dan enigsins na Bybelstudie kom of na die kerk of na enige vergaderings van die aard? Ons kan glo dat ons besluite en bydrae nie veel beteken nie. As ons groter word bly die vrae steeds staan: watter verskil maak een keuse van een persoon ooit?
### 5) Breekbaarheid of Broosheid
In die eerste rede het ons al met moeilike tye te doen gekry. Daar was die oplossing om gewoon nie die besluit te maak nie. ‘n Ander oplossing wat ons ook kan hê, is om sulke tye heeltemaal te vermy. As ons weet die gemeentevergadering gaan konfronterend wees of die stuk vir die Bybelstudie gaan baie ongemaklike vrae opbring, dan maak ons soms die besluit om dit heeltemaal te vermy - netnou beland jy in ‘n moeilike situasie of word jy dalk direk ‘n vraag gevra. As jy weer sien probeer jy dit alles heeltemaal te vermy. Jy word broos en kies eerder om te skuil.
### 6) Ten slotte: ‘n Gebrek aan dissipline en ‘n doel
Dit klink soos iets wat elke selfhelp-boek vir jou sal sê, maar daar is waarheid in vir ons geloof ook. Waaraan jy aandag gee of wat jou doel is, bepaal op die ou-end wat jy dink en waarna jou hart neig. As jy net goeie punte soek of ‘n sukses van jou besigheid wil maak, dan fokus jy in alles wat jy doen daarop.
Geestelike apatie is dus nie iets wat buite ons staan nie, maar iets wat diep in ons eie harte wortelskiet. As ons eerlik is, sal elkeen van ons iets hiervan in onsself herken. Die vraag wat oorbly, is nie of hierdie stryd werklik is nie, maar of ons bereid is om dit ernstig voor God te bring. Ons bespreek dit in die volgende artikel.
*Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria*
### Geloof - Geen Vrees
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geloof-geen-vrees/
Last updated: 2026-07-26T14:36:57.000Z
*Lees Genesis 12:1-9 & Genesis 22:9-18*
Geliefdes, geloof is “‘n vaste vertroue op dinge waarop gehoop word, ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Dit behels vertroue in en lojaliteit teenoor God. Geloof in God kan baie dinge in jou lewe verander. Jou lewe kan onderstebo gekeer word, omdat jy jou geloof op God gestel het. Hy kan jou roep om Hom te volg, nie net in die moeilikste tye van jou lewe nie, maar ook in die beste tye van jou lewe, waar jy alles het wat jy nodig het om te leef. Tog roep God jou om jouself elders te gebruik, en dit is waar ons in Genesis 12:1-9 die roeping van Abraham sien.
Abraham het saam met sy pa, Tera, Sarai sy vrou en Lot sy broerskind gebly, en hulle het saam in Haran gewoon. Abraham het ‘n gemaklike lewe gehad. Hy het alles gehad wat hy nodig gehad het om te leef. Maar die Here het Abraham geroep, soos ons sien in verse 1-3\. Hy moes uit sy land weggaan en na die land trek wat God hom sou wys (Genesis 12:1). Hy het nie geweet waarheen hy gaan nie; hy moes alles net los en saam met sy familie gaan waar God hulle lei. Abraham het toe gegaan saam met Lot, soos God hom beveel het. Dit het groot geloof van Abraham geverg, want sy identiteit was in Haran, in sy vader se huis. Maar God het na hom toe gekom en wou hom ‘n nuwe identiteit wys.
Geloof is waar jy God eerbiedig moet gehoorsaam, Hom vertrou, Hom ken en waar jy Hom toelaat om jou te neem in elke aspek van die lewe. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:7). Ons ware identiteit, geliefdes, moenie vrees wees nie, maar geloof.
Dus sien ons dat geloof in die Here Jesus Christus duur is. As ons terugkyk na Genesis 12, sien ons dat Abraham God gevolg het saam met sy vrou en Lot. Maar om God se pad te vat, kon hom sy lewe gekos het; hulle kon hom doodmaak, of daar kon ‘n baie ernstiger optrede gewees het wat hulle reis sywaarts kon keer. In Genesis 12:10–20 kon Abraham doodgemaak word deur Farao, wat Abraham se vrou begeer het, en Abraham het daarom gelieg om sy eie lewe te bewaar. Maar tog was die Here met hulle. Hy het Farao en sy huis met groot plae besoek (vers 17).
Dit is duur om Jesus Christus te volg. Jesus Christus beveel ons in Mattheüs 16:24: “As iemand agter My wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
In Lukas 14:25–28 beveel Hy ons dat as ons nie ons vader, moeder, vrou, kinders, broer, suster en selfs ons eie lewe haat nie, ons nie sy dissipels kan wees nie. Dit is iets ongeloofliks as jy verder daaroor dink, want God het gesê ons moet mekaar liefhê soos onsself; ons moet ons vader en moeder eer sodat ons dae verleng mag word, met ander woorde dat ons lank op die aarde mag leef (Eksodus 20:12). Maar nou sê Hy in Lukas 14 dat ons sy dissipels sal wees as ons hulle “haat”? Wat hier bedoel word, geliefdes, is dat ons Jesus Christus prioritiseer en volle toewyding in Hom plaas bo alles — selfs bo familie en jou persoonlike lewe.
Geliefdes, daar gaan dae wees waar jy jou vriende verloor — met ander woorde, die mense met wie jy ‘n goeie verhouding het — omdat hulle aan verkeerde dinge vashou wat jou dwing om van hulle afstand te doen as gevolg van jou geloof in die Here. Huwelike kan ‘n uitdaging wees, want wanneer jy God volg en jou geloof op Hom sit, is daar ‘n groot moontlikheid dat spanning kan ontstaan as jou vrou of man die Here ken, maar kies om Hom nie te volg nie. Op ‘n stadium gaan jy jou kultuur, identiteit en rykdom moet opgee vir jou geloof in die Here en om Hom alleen te volg, waar ook al Hy jou roep, soos ons ook met Abraham gesien het. Al hierdie dinge wat jy om die Here se ontwil verloor is lonend, want in dit wat jy verloor het, gaan jy baie meer ontvang. Soos ons met Abraham sien, is die resultate ongelooflik nadat hy geloof in God gehad het. God het inderdaad sy beloftes nagekom (Psalm 145:13).
Geloof is gebaseer op wat God vir jou gesê het en wat God belowe het, nie op wat ek voel ek moet doen of nie moet doen nie. In Genesis 22:1–18 het God eerstens vir Abraham beveel dat hy sy enigste seun, Isak — wat hy liefhet — in die land Moria moes offer (vers 2). God het vir Abraham ‘n seun gegee, en nou sê God ewe skielik dat Abraham sy enigste seun, wat God self belowe het, moet offer. Die pragtige prentjie is egter dat Abraham steeds geloof in die Here gehad het, want hy was bereid om sy seun vir God te offer. Maar geliefdes, nie net het die Here Abraham deur ‘n engel gestop nie (verse 11–12); Hy het Abraham beloon soos wat Hy belowe het en sy nageslag vermeerder soos die sterre in die hemel (vers 17).
As geloof op gevoelens gebaseer was, sou ons ‘n verkeerde begrip van geloof hê. Dit is ‘n groot gevaar wat jou nader en nader aan sonde bring. Ons het ‘n sondige denkwyse en verkeerde bedoelings. Al hierdie dinge gebeur as gevolg van ons gebrek aan geloof in God.
Om die oordenking af te sluit, wil ek ‘n paar mooi opmerkings uit *The Heavenly Race* oor geloof deel:
Vrees sê: jy kan nie. Geloof sê: God is reeds daar.
Vrees isoleer, maar geloof herinner my dat ek nooit alleen is nie (Jesaja 41:10). Vrees styg, maar geloof kies vertroue (Psalm 56:3). Geloof stil die stem van vrees met die stem van oorwinning (Romeine 8:31). Vrees is ‘n leuen; geloof is my ware identiteit (2 Timoteus 1:7). Geloof rus my toe om vandag met moed te wandel (Josua 1:9).
### Gebed
Ons Almagtige Hemelse God en Vader, ons dank U, Here, dat ons U weer mag aanroep. Ons dank U, Here, dat ons weer uit u Woord mag leer wie U is en dat ons ons volle vertroue op U mag sit en U mag volg deur ons geloof in U en deur ons geloof in die Here Jesus Christus. Ons vra, Here, dat U met ander mense sal wees wat sukkel om U te volg, wat twyfel en wat hulle geloof basies op hulle gevoelens baseer. Ons vra dat U ons sal versterk in groot omstandighede en moeilikhede, maar dat ons ons volle vertroue en geloof op U sal plaas. Hoor ons, Vader; in Christus se Naam bid ons. Amen.
### Coram Deo
Abraham het op God vertrou, en God het dit wat onmoontlik is, moontlik gemaak. Deur die Woord het ons bewys van wat die Here in ‘n mens se lewe kan doen. Geloof mag jou lewe kos, maar aan die einde van die dag is ons hoofdoel om die ewige lewe te hê deur geloof in Jesus Christus.
### Bronne en verdere studie
- Hebreërs 11 | Genesis 22:1–23 | 2 Korinthiërs 4 | Psalm 88
- [https://youtu.be/Edx7dgKiZzM?si=DeuVkjkuP8nv7KhL](https://youtu.be/Edx7dgKiZzM?si=DeuVkjkuP8nv7KhL&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://youtu.be/K9UTLD9YRCM?si=xO0UMvGXWwan-FOY](https://youtu.be/K9UTLD9YRCM?si=xO0UMvGXWwan-FOY&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.instagram.com/s/aGlnaGxpZ2h0OjE4MDU0MTczNDE2OTEwOTAx?story\_media\_id=3718763820425838844\_70284659445&igsh=eHZlYXQxcGFzbXI](https://www.instagram.com/s/aGlnaGxpZ2h0OjE4MDU0MTczNDE2OTEwOTAx?story%5Fmedia%5Fid=3718763820425838844%5F70284659445&igsh=eHZlYXQxcGFzbXI&ref=olielamp.vgk.org.za)\=
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata*
### AI en Bybelstudie?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ai-en-bybelstudie/
Last updated: 2026-02-07T07:00:43.000Z
Mag mens Artificial Intelligence (AI) gebruik om Bybelstudie te doen?
Net soos enige ander bron kan AI gebruik word ten goed of ten kwade. Mens kan AI gebruik as ‘n handige soekenjin om te help met Bybelstudie, mits mens dit met omsigtigheid en wysheid gebruik.
Hoe om dit te gebruik met die Bybel as maatstaf:
- Vra vir AI om Bybel verse by te gee sodat mens dit kan gebruik om dit te toets teen die waarheid. (Die Bybel is altyd die eerste en belangrikste bron)
- Lees die Bybel self.
- Bid vir wysheid en leiding.
- Gebruik AI as ‘n hulpmiddel, nie as gesag nie.
- Vergelyk wat AI sê met betroubare Bybelkommentaar (bv. die Vox Viva Bybelstudie App of ‘n Study Bible)
Hoe AI nuttig kan wees:
- Dit kan gebruik word om verskillende Bybel vertalings te vergelyk.
- Dit kan struktuur en idees gee vir Bybelstudie (vrae, temas, oorsigte ens.)
- Dit kan gebruik word om verwysings na ander skrifgedeeltes op te soek.
Belangrike waarskuwings teen AI wat onthou moet word:
- AI is nie gelei deur God soos die Bybel is nie – soos alles in die lewe, toets dit teen die Bybel.
- AI kan foute maak of interpretasies gee wat nie op die Bybel gegrond is nie.
- AI het geen geloof, wysheid of onderskeiding van die Heilige Gees nie.
Toets daarom alles aan die skrif self:
- Handelinge 17:11: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
- 1 Thessalonicense 5:21: “Beproef alle dinge; behou die goeie.”
- 1 Johannes 4:1, “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
Onthou dat AI nie jou persoonlike verhouding met God kan vervang nie en dat mens steeds deeglike nadenking moet doen nadat jy “vinnige antwoorde” van AI ontvang het.
Die Bybel bly die hoogste gesag, en alles moet daaraan gemeet word. Wanneer gelowiges die Skrif self ondersoek, bid vir leiding van die Heilige Gees en om AI slegs as ’n dienende hulpmiddel te gebruik, dan kan dit tot verdieping en groei in die geloof lei eerder as verwarring.
*Geskryf deur Marno Erasmus, VGK Bellville*
### Geloof, Hoop en Liefde
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geloof-hoop-en-liefde/
Last updated: 2026-02-04T20:20:47.000Z
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Sukkel jy tans in die lewe? Dalk met jou werk, familiedrama by die huis, uitdagings in die kerk, of selfs ’n gebeurtenis wat jou lewe vir altyd verander het en dit vir jou onmoontlik laat voel om te genees? Ons almal sukkel van tyd tot tyd, en die vraag wat dan by ons opkom, is: **Hoe kom ek hieruit? Hoe hanteer ek hierdie probleme?**
Ons moet eerlik met onsself wees: die lewe is dikwels onregverdig, en ons leef in ’n gebroke wêreld. Maar, Geliefdes, **God is regverdig**. Dit is juis hier waar drie belangrike komponente ’n rol speel. Wanneer jy ly of swaarkry, moenie God blameer nie. Sit eerder stil en vra jouself: *Het ek geloof? Het ek hoop? Leef ek in liefde?* Geloof, hoop en liefde in Jesus Christus het die krag om jou lewe te transformeer en te versterk—fisies sowel as geestelik—sodat jy werklik in God kan leef.
Vandag kyk ons na hoe hierdie drie komponente saamwerk en mekaar aanvul om ware transformasie in ons lewens te bring. Later in die reeks sal ons elkeen afsonderlik behandel, maar vandag fokus ons daarop hoe geloof, hoop en liefde mekaar nodig het.
> “En nou bly geloof, hoop en liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”
> \- *1 Korintiërs 13:13*
Paulus leer ons dat liefde die grootste van hierdie drie is. Maar hoekom is liefde die grootste? Die proses begin by liefde, tog lê die probleem dikwels by geloof.
Jesus Christus leer ons herhaaldelik dat ons geloof soos ’n mosterdsaad moet wees:
> “As julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
> \- Mattheus 17:20
En weer sê Hy:
> “As julle geloof gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: ‘Ontwortel jou en plant jou in die see’, en hy sou julle gehoorsaam wees.”
> \- *Lukas 17:6*
Maar, geliefdes, ons geloof is dikwels nie so sterk nie. Wanneer ons met geloof worstel, begin ons minder bid en minder tyd in Bybelstudie spandeer—hetsy alleen of saam met ons gesin. Ons raak so oorweldig deur stres en bekommernis dat ons dink ons moet alles self hanteer. Ons prioriteite skuif, en God word nie meer eerste gestel nie. Te dikwels vertrou ons nie die Here om ons deur moeilike omstandighede te dra nie, en dit lei tot ’n gebrek aan geloof in Hom.
Wanneer ons dus ’n probleem met geloof het, moet ons ’n vlak dieper kyk en vra: **Hoe lyk my hoop—in die lewe en in Christus?** As Christene is hoop die lens waardeur ons die wêreld, die lewe en God sien. Dit is ons verwagting vir die toekoms, en dit dien as
> “ ‘n anker vir die siel, veilig en vas.”
> \- *Hebreërs 6:19*
Ons hoop op goeie dinge wat in die toekoms sal kom, maar soms voel dit asof daar geen vooruitgang is nie. Ons bevind onsself weer in dieselfde plek: hartseer, gebroke en moedeloos. Wanneer hoop begin verdwyn, verswak ons geloof—nie net in God nie, maar ook in die lewe self.
Verswakte hoop het brandstof nodig, en daardie brandstof is **liefde**. Liefde het die krag om hoop weer aan te wakker. Wanneer ons met geloof worstel, dui dit dikwels op ’n gebrek aan hoop; en wanneer ons hoop in God swak is, beteken dit dat ons ’n tekort aan die ervaring van God se liefde het.
Romeine 5 gee vir ons ’n duidelike prentjie van hoe geloof, hoop en liefde saamwerk:
> *"Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.*
>
> Deur Hom het ons ook die toegang verkry tot hierdie genade waarin ons staan, en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
>
> Nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukking, omdat ons weet dat verdrukking volharding bewerk.
>
> En volharding beproefdheid, en beproefdheid hoop.
>
> En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is."
> \- *Romeine 5:1-5*
Dit, geliefdes, is dikwels waarom ons so swaar kry in die lewe: ’n gebrek aan geloof, hoop en liefde beïnvloed ons verhouding met God diep. Tog leer die Skrif ons dat ons selfs in ons lyding kan roem, omdat liefde ons dra (Romeine 5:3). Wanneer ons God se ware liefde ervaar en onsself sien soos Hy ons sien, bring dit ware vreugde.
Hoop is gewortel in God se liefde en gebou op geloof in Jesus Christus en sy beloftes—nie op tydelike, aardse dinge soos werk, geld of verhoudings nie. In die teenwoordigheid van ware liefde word hoop weer lewendig, en ons begin die goeie raaksien: ’n positiewe dag by die werk, verbetering in ons studies, en versoening tussen vriende. Dit alles lei tot ’n sterker geloof in God.
Dit is waarom Paulus sê dat liefde die grootste is. Om ware geloof en hoop te hê, moet ons God se liefde leer ken—deur sy Woord en deur gebed.
> *“En ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy voorneme geroep is.”*
> *\- Romeine 8:28*
## Gebed
Vader in die hemel,
Dankie, Here, dat ons U deur gebed mag nader. Dankie dat U ons elke dag beskerm, versorg en liefhet. Sonder U liefde sou ons verdwaal—sonder hoop en sonder geloof. Dankie dat U ons deur U Heilige Gees lei om meer van U te leer en mekaar lief te hê soos Christus ons liefgehad het.
Help ons, Here, om raak te sien waar ons in ons lewens sukkel, sodat ons U volkome kan vertrou. Vergewe ons sondes en help ons om daarteen te stry. Ons bid dit alles in die Naam van Jesus Christus.
**Amen.**
## Coram Deo
“ONS dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle *geloof* in Christus Jesus en julle *liefde* tot al die heliges, vanweë die *hoop* wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die evangelie” (Kolossense 1:3-5). Soos Paulus hier die dankgebed vir die mense in Kolossense gee, so moet ons ook God vra deur gebed om ons die geskenk van Geloof, Hoop en Liefde te skenk, want ons kry dit nie alleen of deur ons eie wil nie, maar slegs deur ons Here Jesus Christus.
## Gaan kyk verder
- [https://youtu.be/xkxuVoYtnts?si=7HGzXpSsXhCtbPD4](https://youtu.be/xkxuVoYtnts?si=7HGzXpSsXhCtbPD4&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://youtube.com/shorts/M91IxJdlAjM?si=inCf73MZSd4qIvzp](https://youtube.com/shorts/M91IxJdlAjM?si=inCf73MZSd4qIvzp&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.instagram.com/reel/DTYgRLGkXm4/?igsh=OHFvZWlydXd4bjd2](https://www.instagram.com/reel/DTYgRLGkXm4/?igsh=OHFvZWlydXd4bjd2&ref=olielamp.vgk.org.za)
- Kolossense 1:1-24
- 1 Thessalonicense 1:1-10
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranata*
### My Enigste Troos in Lewe en Sterwe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/my-enigste-troos-in-lewe-en-sterwe/
Last updated: 2026-02-01T06:40:02.000Z
Die Bybel is vol van bemoedigende woorde - woorde van troos en van hoop. Miskien het jy al bemoediging of troos nodig gehad. As jy dit vandag nodig het, dan hoop ek jy vind dit in Christus - Hy is die een wat ons troos.
### Waarom moet ons getroos word?
In Genesis 3 lees ons van die sondeval van die mens, en reg deur die res van die Bybel sien ons al die sondes en gebrokenheid van en in hierdie wêreld. Ons dink aan Dawid wat bely: “Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het” (Psalm 51:7). Dit is baie moontlik dat jy tans ook self daardie gebrokenheid ervaar. Jy voel dalk vasgevang in sondes wat jou elke dag tog weer verhinder om ‘n totale godvresende lewe te lei, dan verstaan jy miskien hoe Paulus voel wanneer hy sê: “Ons weet wel dat die wet geestelik is, maar ek, in my sondige aard, is uitverkoop aan die sonde. Ek verstaan my eie optrede nie: Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek.” (Romeine 7:14-15, AFR20). Jy voel dalk asof jy deur die wêreld of deur die Satan versoek word en jy sukkel om daarteen te stry. Of miskien lê die sondigheid nie net binne jou nie, maar ook rondom jou - as jy dink aan ‘n geliefde wat siek is of gesterf het, of die baie mense wat in honger en armoede lewe.
As ons voorbeelde van ons gebroke en sondige wêreld moet bly opnoem, gaan ons baie lank sit en sal heel moontlik baie moedeloos raak. Miskien is jy reeds moedeloos. Wel, dan het ek vir jou goeie nuus.
### Daar is hoop vir die gebroke hart!
Dit is nie verniet dat ek begin praat het van bemoedigende woorde nie, ons kan sien dat dit baie nodig is. As ons dieper na die Bybel kyk, sal ons baie verhale vind wat die gevalle aard van ons natuur wys. Dink maar aan die verhaal oor die toring van Babel - mense wat teen God wil draai en hulle eie grootheid bewys. Of die volk Israel wat keer op keer die Here ongehoorsaam is. Miskien dink jy aan al die siek mense waarvan ons in die Evangelies lees. Tog is dit nie al nie, daardie siekes word ook genees. Die Bybel vertel eintlik ‘n ander verhaal. ‘n Verhaal van hoop, uitkoms en redding.
As ons noukeurig kyk, sal ons sien dat die hele Ou Testament getuig van ‘n Verlosser wat op pad is. En as ons die Evangelies lees, dan hoor ons die Blye Boodskap van die koms van die Messias. Die Bybel is duidelik daaroor: Jesus Christus is ons
enigste hoop. Daar is geen ander manier om onsself vry te maak van die bande van die sonde waarin ons almal lewe nie, behalwe deur die Een wat vir ons gesterf het en die dood oorwin het. Ons lees hiervan in 2 Korinthiërs 1:5: “Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.”
Daarom vind ons ook weer en weer in die Bybel die bemoedigende woorde, daar is uitkoms! Lees gerus gedeeltes soos Jesaja 40:29-30, Jesaja 41:10 en 2 Timótheüs 4:17-18.
Die Heidelbergse Kategismus vind hierdie troos so belangrik, dat die heel eerste vraag daaroor handel. *Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?* Ons gaan nou stap vir stap kyk na die antwoord wat die Kategismus ons gee.
### Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Vandag mag jy getroos wees, in watter omstandighede jy ook jouself mag bevind, dat jy die eiendom van Jesus Christus is. Jy hoef na liggaam en siel oor niks bekommerd te wees nie, want Hy sorg vir jou soos sy eie kind. “Hy wat Homself ter wille van ons gegee het, om ons los te koop van alle wetteloosheid, en vir Hom ‘n eie volk as eiendom te reinig, wat ywerig is om goed te doen” (Titus 2:14).
### Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.
Waardeur word jy getroos? Deur die “kosbare bloed van Christus”, soos ons daarvan lees in 1 Petrus 1:18-19\. En waarvan word jy getroos? Eerstens, van die straf wat ons verdien vir al die sondes wat ons gedoen het - Christus het dit vir ons betaal. “En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.” (1 Johannes 2:2). En tweedens van die krag van die duiwel. Hy mag ons in hierdie leeftyd probeer versoek, maar Hy het geen mag oor ons nie. “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel —“ (Hebreërs 2:14).
### Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.
Die Here beloof in sy Woord dat Hy ons sal beskerm en bewaar. “Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose” (2 Thessalonicense 3:3).
Hy ken ons so goed, dat Hy van elke haar op ons kop bewus is. Sien gerus Matthéüs 10:30 en Lukas 21:18\. Hy belowe om alles tot ons goede te laat meewerk en dat elke ding wat in
ons lewe gebeur tot ons saligheid (ons verlossing) sal dien. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).
### Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.
Toe Jesus Christus opgevaar het na die hemel, het Hy ons nie alleen hier agtergelaat nie. Hy het geweet dat ons iemand gaan nodig hê om ons te troos en te lei, en Hy wou ons daarvan verseker dat ons nooit alleen is nie. Daarom het Hy vir ons sy Heilige Gees gestuur. Deur die werking van die Gees in ons harte (wat die geloof bewerkstellig) en in ons lewens (dat ons goeie vrugte dra), mag ons weet dat ons kinders van God is en dat Hy in ons woon. Hy beloof dit in Romeine 8:16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”
Dit is wel nodig om te let daarop dat die Kategismus se antwoord eindig met sprake van verandering in ons lewens. Hoe mag ons weet dat ons die Gees in ons het? Deur die feit dat ons gewillige harte het en graag ons lewens aan die Here wil wy. 1 Johannes 3:3 beklemtoon dit: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Maar ons hoef nie bekommerd te wees dat ons dit alleen moet doen nie, die Heilige Gees help ons hiermee. Ons kan tot Hom bid en Hom vra om ons te help en te lei om ‘n meer godvresende lewe te lei.
### ‘n Baie mooi opsomming
Ek vind Efésiërs 2:1-10 ‘n goeie samevatting van die troos wat ons deur Jesus Christus, ons Verlosser, verkry. Lees stadig daardeur en herinner jouself daaraan dat jy nie hierdie stryd alleen stry nie. Daar is hoop vir jou, vind dit by Hom.
“Julle was dood deur die oortredings en sondes waarin julle vantevore geleef het, volgens die bose lewenswyse van hierdie bedeling, volgens die heerser oor die mag van die lug – die heerser van dié gees wat nou aan die werk is onder die seuns van die ongehoorsaamheid. Ons almal het vantevore soos hulle opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel. *Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, alhoewel ons dood was as gevolg van die oortredings, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak* – uit genade is julle verlos! Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.”
*Geskryf deur Emily Snyman, VGK Bellville*
### Ek is tot alles in staat – Filippense 4
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is-tot-alles-in-staat-filippense-4/
Last updated: 2026-01-28T17:00:39.000Z
Lees Filippense 3:17-4:14
“Ek is tot alles in staat deur ‘n vers buite konteks.” Dit is ‘n grappie wat ek onlangs gehoor het. Filippense 4:13 is seker een van die bekendste Bybelverse en is dikwels een wat in charismatiese bewegings misbruik word. Ons gaan egter dieper delwe en kyk na wat Paulus hier bedoel, asook sien hoe dit troos gebied het aan ‘n pa wat sy kinders verloor het en geboorte gegee het aan een van die bekendste liedere wat die wêreld mag hoor.
Om dit te kan doen moet ons die konteks van die vers verstaan, en ons begin daarom by hoofstuk 3 vers 17\. Die eer-en-skaamte-samelewing bly ‘n besprekingspunt vir Paulus. Hy praat oor die vyande van die kruis van Christus, met trane in sy oë (vers 18). Dit is die eerste keer in Filippense waar ons lees van Paulus wat hartseer is – deurlopend praat hy oor blydskap. Dit beteken dat hy eerstens omgee vir daardie verlore siele en tweedens ‘n ontsettende groot liefde vir Christus het. Christus is alles vir hom, dit het ons reeds gesien. Daarom weeg hierdie saak swaar op sy hart. Dit is hartverskeurend om te sien hoe mense in sonde verval, en aardse dinge bedink (vers 19).
Ons sou ook daar gewees het, daarom mag ons nie trots wees nie. Maar, *“ons burgerskap is egter in die hemel,”* sê Paulus (vers 20). Al wat ons anders maak as die ongelowiges, is dat ons in Christus verenig is. Hy is die een wat ons verander en aanhou verander tot ons aan sy beeld gelykvormig word (vers 21).
Deur die krag van die Heilige Gees verander Jesus ons (vers 21). Dit is ‘n kosbare wonder wat nie as vanselfsprekend gesien moet word nie. Daarom sê Paulus vervolgens in hoofstuk 4:1, baie direk en persoonlik: *“my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here.”* Dis ‘n warm oomblik in hierdie brief, want ons word geneem van trane uit liefde vir die verlorenes tot liefdevolle trane en koesterende woorde vir die kinders van God.
Net in die Heilige Gees kan ons vasstaan in die Here Jesus Christus. Dis net deur sy werk dat ons verander kan word. So daarom moet ons ons verbly in die Here (vers 4). Ons moet vriendelik wees teenoor alle mense, nie trots nie (vers 5). Laat ons in dankbaarheid dan ook tot God bid, en ons gedagtes rig op hemelse en Christelike dinge (vers 8):
> *“Verder, broers,*
> *alles wat waar is,*
> *alles wat eerbaar is,*
> *alles wat reg is,*
> *alles wat rein is,*
> *alles wat lieflik is,*
> *alles wat lof verdien,*
> *ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”*
So mag ons rustig word, *“en die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak”* (vers 7).
Dit is hierdie vrede wat Paulus gerus stel. Dit is dieselfde vrede van God wat hom tevrede maak in alle omstandighede – honger of oorvloed (vers 12). Dit is in al hierdie omstandighede waarin God hom in staat stel om staande te bly (vers 13) deur die krag van die Gees, nie Paulus se eie krag nie. In honger of oorvloed kan Paulus tevrede wees. Dít is wat Filippense 4:13 beteken. Ons kategismus leer dieselfde in Sondag 10: *Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (Romeine 8:38-39), aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.*
Dit herinner my aan die verhaal agter die bekende gesang, *It is well with my soul*. Horatio Spafford, ‘n ryk prokureur, het in 1870 sy 4-jarige seun verloor aan koors en ook in 1871 sy eiendomsbeleggings verloor deur die Groot Chicago-brand. Hy was finansieel bankrot. In die soeke na rus het hy ‘n vakansie met sy gesin na Europa beplan (1873). As gevolg van besigheid, stuur hy sy vrou en 4 dogters vooruit op die *SS Ville du Havre* wat toe bots met die Britse skip, *Loch Earn*. Die skip sink binne 12 minute en net ‘n derde van die passasiers oorleef. Sy vrou, Anna, stuur vir Horatio ‘n telegram wat lees, “*Saved alone.*” Al vier van sy dogters het verdrink. Tragies. Hy spring toe op die volgende boot op pad na sy vrou toe. Soos hy verby die plek kom waar sy dogters verdrink het, sien hy die see wat woed en die hartseer oorweldig hom soos ‘n golf. Hy skryf in daardie oomblik sy bekende lied:
> *“When peace, like a river, attendeth my way,*
> *When sorrows like sea billows roll;*
> *Whatever my lot, Thou hast taught me to say,*
> *It is well, it is well with my soul.”*
Slegs deur die krag van God kon hy tot lof keer in ‘n oomblik soos dié. Mag dit ons ook staande hou in alles wat op ons wag.
> *“Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13*
### Gebed
Onse Vader en troue God. U gee vrede, selfs al woed die see en staan die duiwel op die loer soos ‘n leeu wat wag vir sy prooi. Tog weet ons dat ons in daardie storms van die lewe rus en vrede by U mag vind. U is ons krag. U genade is vir my genoeg, want wanneer ek swak is, is U sterk (1 Korintiërs 12:9). Ja, Here, U is my krag – en daardeur is ek in staat om tevrede te wees in beide voor- en teëspoed. *“O Lord, haste the day when my faith shall be sight, the clouds be rolled back as a scroll; the trump shall resound and the Lord shall descend; even so, it is well with my soul.”* Amen.
### Verdere Studie
1. Psalm 42
2. Hoor Spafford se verhaal: [https://youtu.be/Gx0pJb0lcXw](https://youtu.be/Gx0pJb0lcXw?ref=olielamp.vgk.org.za)
3. Luister na die gesang (met lirieke): [https://youtu.be/rhaTIu\_k4w0](https://youtu.be/rhaTIu%5Fk4w0?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad*
### Die vierde bede: "Gee ons vandag ons daaglikse brood"
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-vierde-bede-gee-ons-vandag-ons-daaglikse-brood/
Last updated: 2026-01-24T07:00:36.000Z
*Geskryf deur Werner de Jong, VGK Maranata*
Elke mens kort kos om te kan lewe. Sonder kos kan ons liggaam nie funksioneer nie. Mens kyk vinnig verby die ryke seëninge wat ons het om elke dag brood op tafel te mag hê. Hierdie artikel fokus op die doel van voedsel in ons lewe as Christen.
Die Onse Vader word opgedeel in twee dele, naamlik ons verhouding met God en ons as kinders van God. Die laaste drie bedes handel oor hoe ons as kinders van God is. As mens die Onse Vader bestudeer, lyk dit miskien vreemd omdat ons eers bid vir kos en daarna bid vir vergewing van sondes. Paulus het dit soos volg verduidelik: ”Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.” (1 Korinthiërs 15:46). Daarmee wys hy dat mens eers voedsel nodig het om met God ‘n verhouding te kan bou.
Die kerk in die Middeleeue het dit dikwels verkeerd verstaan. Hulle het Christus se woorde letterlik opgevat omdat Hy Homself die Brood van die Lewe genoem het. (Johannes 6:48). Hierdeur het hulle afgedwaal en die Mis van die Roomse Kerk ondersteun - die idee dat die brood aan tafel Christus se liggaam is. Hierop is daar in Vraag en antwoord 125 van die Heidelbergse Kategismus duidelik gewys dat dit nie die geval is nie, maar eerder ware voedsel wat vir die liggaam nodig is om te funksioneer - om so God te kan dien. Ons bely ook daarmee saam dat ons moet bid vir voedsel, en daardeur vereer ons God omdat Hy die Bron is van alles wat lewe. Soos Romeine 11:36a dit mooi stel: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.”
Ons kan in die Ou Testament dikwels sien hoe God vir sy kinders liggaamlik voed. Dink maar aan die manna in die woestyn. God kom sy beloftes na en voorsien ook sodat ons Sy beloftes moet onthou. Moses het die woorde van God in Deuteronomium 8 geskryf om te wys dat God vir Sy kinders sorg en hulle onderhou. Die manna is deur God gegee om aan die volk bekend te maak dat mens lewe van alles wat uit God uitgaan.
Selfs in die Nuwe Testament wys Hy dieselfde. Christus wat 40 dae en nagte sonder kos in die woestyn was, is versoek deur die duiwel. Hy het egter die woorde wat Moses neergeskryf het, gebruik om die duiwel te weerstaan. Dit gaan hier daaroor dat God nie net daar is om kos te voorsien nie, maar weerens dat die kos van God af kom.
Soos God in die Ou en Nuwe Testament aan sy volk voorsien het, skenk Hy steeds vandag aan ons ons daaglikse brood. Ons mag en moet Hom ook daarvoor vra sodat alle eer aan Hom toekom. Sal ons uit onsself dit kan vra? Nee, want God is die Bron van alles wat lewe. Hy wil deur die woorde ons juis wys dat alles van Hom af kom. Dieselfde Krag wat die manna vir die Israeliete gegee het, gee vandag nogsteeds ons daaglikse brood op tafel.
Verder kan ons sien dat daar ‘n doel is agter voedsel wat van Hom af kom. Sonder kos is daaglikse werk nie moontlik nie. Ons kort die energie van kos om ons skeppingsopdrag te kan uitoefen. God het in die skeppingsopdrag beveel om te heers oor die skepping, wat insluit dat ons dit moet bewerk en bewaar, maar ook om die aarde te vul (Genesis 1:28). God wil weereens hierdeur wys dat Hy die Skepper is en ons die voedsel gee om Sy bevele te gehoorsaam en daardeur eer aan Hom te skenk.
‘n Belangrike tyd om God vir voedsel te bid en te dank is voor en na die oestydperk. Ons kom saam as gemeente met die doel om God te vra dat Hy vir ons ‘n goeie oes sal gee. Ons plaas dus al ons vertroue op Hom. Na die oes dank ons Hom vir die nuwe voedsel op tafel omdat alles van Hom af kom. Ons mag altyd weet dat God vir ons sal voorsien, ons hoef nie daaraan te twyfel nie. Hy sê dit ook in Sy Woord: “Kyk na die voëls van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matthéüs 6:26).
Samevattend kan ons sien dat alles van God af kom en dat Hy wil hê dat ons daarvoor moet bid. Ons hoef nie bang te wees om God vir kos te vra nie. Die vierde bede leer ons hoe om ons verhouding met God te bou en ons vertroue ten volle op Hom te plaas.
### "In Christus" – Filippense 3
URL: https://olielamp.vgk.org.za/in-christus-filippense-3/
Last updated: 2026-01-21T17:00:16.000Z
Lees Filippense 3:1-16
Sommige woorde val nie lekker op die oor nie. Twee sulke woorde vind ons in ons teks. ‘Verlies’ laat mens dink aan verloor en ‘vullis’ klink sommer vuil. Dis asof hierdie woorde ‘n slegte nasmaak in die mond laat soos daardie soetsuur, vrot reuk van ‘n swart asblik wat jou sommer naar maak. Juis dít is Paulus se bedoeling wanneer hy hierdie woorde in ons fokusgedeelte gebruik.
Vandag se gedeelte stem baie ooreen met die eerste oordenking van ons kort reeks uit Filippense. Daar het ons gesien dat Paulus alles ter wille van Christus verduur en daarom vreugdevol is. Sy brief aan die Filippense fokus op eenheid met Christus wat juis ware vreugde bied. Dit word reeds duidelik wanneer ‘n mens na die voorsetsel ‘in’ kyk. As jy hierdie woordjie onderstreep in die vier hoofstukke van hierdie Bybelboek, sal jy gou sien wat Paulus probeer sê. ‘In die Here’ (vers 1) of ‘in Christus’ (vers 9) – is die hoofgedagte van die brief aan die Filippense.
In die vorige oordenking uit Filippense 2 het ons gesien dat Paulus teen die konteks van ‘n eer-en-skaamte-samelewing skryf. In Filippense 3 waarsku hy teen die honde. Honde was straatdiere en wild in daardie tyd – gevaarlik. Daarmee bedoel hy gevaarlike mense. Hy waarsku ook teen mense wat kwaad aanrig. Dis mense wat honger na hulle eie eer. In vandag se gedeelte wys hy dat hy ook die eer-speletjie kan speel. Kyk na vers 4-6 en sien sy sarkastiese opmerking: Paulus kan hom beroem op sy besnydenis, Israelitiese afkoms, wetsgehoorsaamheid as Fariseër, mag as vervolger van die kerk... Dit is alles waarop mense van daardie tyd, veral die Jode, hulle beroem het. Dit is vir ons vandag dalk eerder dinge soos die kar wat jy ry, jou werk, jou vakansiehuis, die klere wat jy dra, hoe die mense na jou kyk in die kerkbank, hoe gewild jy is, ens.
Maar dan sê Paulus in vers 8 en 9: *“Ter wille van Hom, het alles vir my ‘n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word.”* Dit is treffend, en moet vandag vir ons ook aan die hart gryp. In ons individualistiese samelewing bou elkeen sy eie koninkryke. Sondag sit ons mooi in die kerk, maar na kerk bêre ons weer die Bybel in die kas; Maandag werk ons weer vir wins en vergeet van God, maar onthou van geldmaak.
Voor jy verder lees, beantwoord gou die volgende vraag: “Wat sal dit neem om vir jouself te kan sê jy is ‘n volledige Christen?”
‘n Moontlike antwoord is, “Ek gaan kerk toe, lees Bybel, my kinders is in ‘n Christelike skool, en ek gooi genoeg geld in die kollektesakkie... miskien kan ek harder sing in die kerk, of minder alkohol drink oor die naweke; dan sal ek ‘n volledige Christen wees.”
Liewe broer of suster, ook dít is verlies en vullis, drek, ‘n vrot asblik as jy nie ‘in Christus’ is nie. Wat jou ‘n Christen maak, is Christus alleen en niks anders nie. Dit is soos Paulus sê:
> “nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof – en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding, en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.” – Filippense 3:9-11.
Nie een van ons het dit bereik nie. As Paulus dit toe nog nie bereik het nie (vers 12) hoe kan een van ons dit sê? Hy wil in Christus wees. Geliefde, wil jy ook in Christus wees? Of wat wil jy anders hê as vreugde in die Here wat vrede vind selfs wanneer jy die dood voor oë het?
Ons lewe in ‘n identiteitlose wêreld, selfs al is ons samelewing individualisties. Ironies, nè? Almal sê om jou identiteit in jouself te vind, maar dit help nie. Ons gaan net by vullis en verlies kom as ons dit daar soek. Maar jy is in die Beeld van God geskape, so jy moet jou identiteit buite jouself in Christus vind. Eenheid met Christus maak jou wie jy is, ‘n Christen wat alles ter wille Christus doen, dink, en sê. Dit ís dan jou identiteit. Dan word jy Christologies.
Wanneer jy in Christus is, is niks meer jou eie nie. Alles is van Hom, jou geld, huis, en jou kinders. Meer nog, wanneer jy in Christus is, word sy regverdigheid word joune, word sy heerlikheid en genade joune. Daarom word ons heilig in Christus, want soos Hy ons gelykenis aangeneem het (mens geword het) om ons vry te maak van die slawehuis van sonde, neem ons deur die Gees Sy gelykenis aan en word kinders in sy Vader se huis vol van goedheid en liefde.
So beur ons voort na die wenstreep, waar ons in Christus die prys van God sal ontvang (vers 14). Dis waarheen God ons roep. Dink só aan dit alles, en neem die gesindheid van Christus aan (Filippense 2:5).
### Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, hoe heerlik is U, en hoe groot is U nie? Ons staan verwonderd oor U grootheid, dat die Heilige Gees Paulus so gelei het om U Woord neer te pen. Ons kan dit sien deur net na een klein woordjie te kyk. Dankie vir die troos wat ons het, om te mag weet dat ons in Christus is danksy sy offer aan die kruis. Ons kan daarom alles anders as bloot aardse dinge beskou, en ons mag U heerlikheid ervaar. Dankie vir die eenheid met U Seun. Ons sien uit na die wenstreep wanneer ons die einde van die resies sal bereik. Gee ons U Gees dat ons mag groei en ook mag aanhou hardloop tot ons die einde behaal, by die Bruilofsfees van die Lam. Op daardie dag sal ons tot in ewigheid U heerlikheid aanskou en alle boosheid, verlies en vullis sal vergete gaan. Niks kan met U vergelyk nie. Daarom kom U alle lof en eer en heerlikheid toe. Amen.
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad*
### Die derde bede: Laat u wil geskied
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-derde-bede-laat-u-wil-geskied/
Last updated: 2026-01-17T07:00:50.000Z
*Geskryf deur Annemarie Antuma, VGK Bellville*
Om die derde bede te kan verstaan, moet ons eers weet wat die wil van God is. In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 13 word ‘n belangrike onderskeid gemaak tussen die verborge en die geopenbaarde wil van God.
Die verborge wil van God is Sy raadsplan. Dit is die dinge in die wêreld wat ons nooit volledig sal verstaan nie, omdat ons as mense beperk is en God oneindig groot en wys is. Dit is die vrae wat in tye van swaarkry by ons opkom, soos wanneer ‘n geliefde sterf of tydens beroepskeuses of wanneer ons toekoms onseker lyk. Artikel 13 wys ook duidelik daarop dat ons nie dit moet probeer verstaan nie, maar dat ons die vaste vertroue mag hê dat niks ons per toeval sal oorkom nie, maar slegs deur die Vader se beskikking.
Daarteenoor is die geopenbaarde wil van God - die deel van sy wil wat Hy wel aan ons gee deur sy Woord. Dit is sy wet, gebooie en riglyne vir die lewe. Dit kan ons duidelik lees in Deuteronomium 29:29: “Die geopenbaarde dinge is vir ons en vir ons kinders, om te doen al die woorde van hierdie wet.” Die derde bede gaan dus oor dit wat God wel aan ons openbaar en bid nie vir insig tot God se raadsplan nie.
Hoe kan ons God se wil navolg? Die kort antwoord: ons kan dit nie uit ons eie doen nie.
Van nature volg ons ons eie wil. Ons hart neig tot selfheerskappy, selfsug en trots. Ons wil die wynstok wees, nie ‘n loot nie. Maar, die derde bede vra juis die teenoorgestelde. Hy wil hê dat ons in totale oorgawe aan Hom leef en Hy sal daardie gehoorsaamheid ook in ons werk. Filippense 2:13 wys daarop dat dit God is wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Johannes 15 verduidelik verder dat Jesus Christus die ware wynstok is en dat ons sonder Hom niks kan doen nie. Ons is die lote en ons is in Christus, die Wynstok, gegrond. Deur sy Woord, Gees en krag kan ons vrugte van gehoorsaamheid dra.
Jesus Christus is daarin vir ons die volmaakte voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Vader se wil. Ons lees in Matthéüs 16 dat Jesus moes ly en sterf omdat dit God se wil was. Sy gehoorsaamheid het sigbaar geword toe Hy aan die kruis gesterf het ter wille van ons verlossing. Sonder sy werk sou hierdie bede vir ons onmoontlik gewees het, maar met sy werk word dit ons daaglikse roeping.
Die derde bede sluit in: “...in die hemel, net so ook op die aarde.” *In die hemel* verwys na hoe die engele in die hemel gewillig, vreugdevol en sonder teëpraat God se wil uitvoer. Dit is hoe ons ook God se wil moet uitvoer - nie net op Sondae of in godsdienstige sake nie, maar in alles wat ons doen. By die werk, op universiteit, skool, in ons huise, verhoudings, besluite, woorde en gedagtes. Dit moet in elke aspek van ons lewe sigbaar wees. Ons moet Hom dien as Koning, Priester en Profeet om so te stry teen ons sonde, Hom en ander te dien en om Sy waarheid te bely en te verkondig.
Romeine 12:1-2 leer ons dat God nie net ons uiterlike dade wil hê nie, maar dat ons ons hele lewe aan Hom moet offer. Ons erediens is nie net beperk tot die kerk nie, maar dit is die manier waarop ons leef, dink en optree. Wanneer ons verstand vernuwe word en ons nie gelykvormig aan die wêreld word nie, begin God se wil in ons lewe sigbaar word. Ons moet onsself verdiep in sy Woord sodat ons gedagtes en hart so verander word dat God se wil uiteindelik ons wil word en ons niks anders wil doen as om Hom te eer nie.
As ons hierdie bede bid, bid ons veral ook vir die dag wanneer God se wil volmaak op die aarde sal geskied, wanneer daar niks meer sonde sal wees nie, alle mense God volmaak met vreugde gehoorsaam en wanneer die nuwe hemel en aarde aanbreek.
Die gebed is dus nie ‘n vae wens nie, maar ‘n diep en radikale gebed van oorgawe. Ons bid dat God se geopenbaarde wil ons lewe sal vorm en dat God deur sy Gees in ons die gehoorsaamheid sal werk. Mag ons elke dag die gebed bly bid: Vader, laat U wil – nie myne nie – in my lewe geskied sodat U naam daardeur geheilig word.
### Bronne
Boon, P. G. (2017, May 14). *God se wil is die beste, soos in die hemel, net so ook op die aarde | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika*. [https://www.vgk.org.za/preke/24828](https://www.vgk.org.za/preke/24828?ref=olielamp.vgk.org.za)
Van Alten, H. H. (2009, September 27). *In die derde bede bid ons dat God se geopenbaarde wil in ons lewens sigbaar sal word | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika*. [https://www.vgk.org.za/preke/23073](https://www.vgk.org.za/preke/23073?ref=olielamp.vgk.org.za)
Van Alten, H. H. (2008, February 24). *In die derde bede bid ons vir die totale oorgawe van ons wil aan die wil van God! | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika.* [https://www.vgk.org.za/preke/24375](https://www.vgk.org.za/preke/24375?ref=olielamp.vgk.org.za)
Van Alten, H. H. (2006, May, 21). *In die derde bede bid ons dat God sy wil in ons sal laat geskied | Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika*. (n.d.). [https://www.vgk.org.za/preke/24214](https://www.vgk.org.za/preke/24214?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Die Omgekeerde Heerlikheid van Jesus in Sy Nederigheid – Filippense 2:5-11
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-omgekeerde-heerlikheid-van-jesus-in-sy-nederigheid-filippense-2-5-11/
Last updated: 2026-01-14T17:00:21.000Z
Lees Filippense 1:27-2:11
Ek twyfel sterk dat baie mense ‘n pasgebore babatjie sou vashou en aan sy moontlike dood sou dink. Dis mos nie ‘n natuurlike reaksie nie? Sou Josef en Maria ooit só na Jesus gekyk het? Daardie pasgebore babatjie sou ‘n slaaf wees en tot die dood toe verneder word. Dit is die onderwerp waarna ons gaan kyk in die bekende gedeelte van Filippense 2:5-11\.
Filippi was ‘n Romeinse stad waar eer en status hoog geag is. Dit is iets wat ons leeftyd ook sterk ervaar. Die Romeinse Ryk het ‘n eer-en-skaamte-samelewing gehad, en dit begin meer en meer vandag prominent te word vir ons ook. Ons lewe in ‘n individualistiese samelewing waar self-obsessie normaal is. Nooit is daar genoeg *likes* nie, genoeg aandag in ‘n gesprek nie, of wapper daar nie genoeg *PRIDE*\-vlae (die naam op sy eie bevestig alreeds die punt) in ons stede nie. Paulus, soos wat hy aan die Filippense doen, skets vir ons die voorbeeld van nederigheid in Jesus Christus.
Jesus is die Seun van God, maar “hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Let wel, met *leeggemaak* word nie bedoel dat Jesus iets verloor het nie. God kan niks verloor nie, want dan is Hy nie meer God nie. Eerder, soos die vers self verder verduidelik, het Hy iets aangeneem: die gestalte van ‘n mens.
God het ons so lief gehad dat Hy bereid was om ‘n slaaf te word. Ongelooflik! Hy het Homself verneder om ons klein en nietige sondaars te kom dien. Sien u Hom, daardie klein pap babatjie? Dit is die Almagtige God, Skepper van hemel en aarde, Koning bo alle konings, in die vorm van ‘n pap babatjie. Ons het onlangs nog Kersfees gevier en dit gedenk. Nie net het Jesus Homself vir ons gegee in sy pynlike dood aan die kruis nie, maar alreeds as ‘n kindjie in ‘n krip tussen die diere in Betlehem.
Sy vernedering strek nog baie verder, selfs tot die dood toe. En nie net enige dood nie, maar die dood aan ‘n kruis. Dit is die doodstraf wat vir die laagste laag en die mees kriminele skelm bedoel is. Kyk maar na die moordenaar wat langs Jesus gehang het. Dit is die dood wat ons verdien het. Jesus het dit in ons plek ondergaan. Besef u dit? Die man op die middelste kruis is God! God aan ‘n kruis? Dit klink absurd. Hy is tot die dood toe verneder, die laagste laag.
> *“Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek ‘n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang”*
> *\-* Galasiërs 3:13
Die wêreld leer ons dat eer verdien moet word. Jy moet iets bereik om eer te kan verkry. Maar, Jesus doen die omgekeerde, Hy word juis minder. Tog lees ons in vers 9 dat God Hom uitermate verhoog het. Jesus het ook nog die naam (of titel) bo alle name ontvang: Here. Ja, elke knie sal buig, van die engele in die hemel, die mense hier op aarde, tot die bose in die hel. Almal sal voor Jesus die Here buig, selfs die duiwel. Hy verdien dit, nie deur mag en krag nie, maar deur nederigheid. Dit gaan totaal teen ons kultuur in.
Dit moet ‘n verandering in ons teweegbring. As ons in Jesus glo en sy beeld wil navolg (Filippense 3:17 en 1 Korintiërs 11:1), sal dit ons in die hart tref, ons hart besny (Deuteronomium 10:16) en verander. Vandaar Paulus se vermaning en aanmoediging tot nederigheid in vers 5\. Christus het die gelykenis van ‘n mens aangeneem, en nou verander Hy ons tot die gelykenis van Homself. Dit doen Hy deur die krag van die Gees. So sal ons met ‘n veranderde hart tot eer van die Vader uitroep:
> *“Jesus Christus is die Here!”*
### Gebed
Liefdevolle Vader, U doen dinge wat alle verstand te bowe gaan. Dinge wat ons wese tref en dikwels teen ons grein ingaan, soos die vernedering en verheerliking van u Seun. Dankie vir u groot genade, dat Jesus Christus mens geword het en vir ons verneder is deur die dood aan die kruis. Hy was gehoorsaam waar ons geensins was nie. Daarom verdien ons nie u genade nie. Ons is diep dankbaar vir u goeie wil en liefde. Dankie dat ons mag deel wees van u koninkryk. Vul ons dan ook met u Heilige Gees sodat ons U en ons naaste nederig sal dien en liefhê. Gee ons die gesindheid van Christus. Ons sien uit na u wederkoms, waar elke knie sal buig. Ons wil U verheerlik en u heerlikheid aanskou. Maranata, kom, Here Jesus. Kom gou. Amen.
### Coram Deo
Vanuit vers 5 van ons fokusgedeelte: “Laat dan die \[nederige\] gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees.” Dink na hoe u dit in u huwelik, by die werk of in die klas kan reflekteer.
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad*
### Wie is Unite180?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wie-is-unite180/
Last updated: 2026-01-10T07:00:21.000Z
*Geskryf deur Ds Gerben Meijer, GK Die Kandelaar*
In September was daar twee geleenthede waar daar gepraat is oor charismatiese bewegings, onder andere met die fokus op Unite180\. Die eerste praatjie is by die Gereformeerde Kerk Oos-Moot aangebied deur prof. Henk Stoker en die tweede praatjie, twee weke later, by Gereformeerde Kerk Die Kandelaar deur myself. Na die eerste praatjie het een van die senior pastore van Unite180 – Willbert Kinnear – die kerkkantoor van Oos-Moot gekontak vir ‘n afspraak. Die gesprek het in die pastorie van Oos-Moot plaasgevind en ek kon self hierin deel. Dit het geleentheid gegee om persoonlik kontak te maak en meer inligting oor Unite180 te bekom. Na aanleiding van die praatjies en die gesprek met Willbert, deel ek graag in hierdie artikel die een en ander oor Unite180.
### Die ontstaan van Unite180
Unite180 se wortels lê in die Pinkster Protestante Kerk in Suid-Afrika (PPK). Die PPK is in 1958 gestig en bestaan huidiglik uit ongeveer 220 gemeentes. In 2013 het daar onder leiding van ‘n aantal jeugpastore, deur middel van ‘n kerkplantingsprojek, ‘n nuwe gemeente in Hatfield ontstaan. Dit was die begin van Unite180\. Vanaf daar het hulle vinnig gegroei en ontwikkel en ‘n aantal kampusse (kerke) regoor die land opgerig, onder andere in Bloemfontein en Potchefstroom, asook internasionaal (Eindhoven en Londen). Hulle hoofkampus het hulle in die noorde van Pretoria gebou. Die terrein het hulle in 2018 begin ontwikkel teen ‘n koste van R100 miljoen en dit in 2023 amptelik oopgemaak – die plek staan bekend as UniteCity. Ander projekte wat hulle onlangs geloods het, is die bou van ‘n nuwe astro-hokkiebaan by Hoërskool Overkruin ter waarde van R7 miljoen. Hiermee toon hulle aan waarop hulle as kerk gerig is – gemeenskapsontwikkeling en jeugondersteuning. Unite180 is gefokus op jongmense. Volgens berigte het hulle ‘n lidmaatskap van 15000 lidmate waarvan ongeveer 70% onder die ouderdom van 25 jaar is.
### Hoe werk Unite180?
Die leierskap van Unite180 bestaan uit David en Chanelle Grobler (Senior pastore), Louis Paulus (Uitvoerende pastoor en direkteur), Wilbert Kinnear (Uitvoerende pastoor) en Ruan Spies (Pastoor en direkteur). Onder hulle is daar nog 33 ander pastore.
Hoe word iemand ‘n pastoor in Unite180? *“In Unite180, the journey to becoming a pastor follows a structured progression within our church. Individuals typically start as uGroup leaders, then advance to area leaders before being considered for the role of pastor. All our pastors followed this process, reflecting a commitment to develop leaders from within.”*
Buiten die pastore is daar ook 199 area-leiers en 1176 *uGroup* leiers. Die leierskapstelsel toon aan hoe Unite180 se program van week tot week lyk. As jy by Unite180 wil inskakel, doen jy dit deur middel van ‘n *uGroup*. Jy kry drie verskillende groepe: *Pre-Teen*, *Standard* en *Online*. *uGroups* is klein selgroepe wat almal elke week op dieselfde tyd vergader: Woensdag 19:00\. Elke *uGroup* het ‘n leier en sodra een selgroep te groot word, skei hulle en word twee groepe. As iemand bewys het dat hy goed leiding kan neem as ‘n *uGroup*\-leier en daar onder die persoon se leiding meerdere selle ontstaan het, word iemand ‘n area-leier. ‘n Area-leier hou toesig oor ‘n aantal *uGroups*. Die *uGroup*\-leiers staan onder toesig van area-leiers, die area-leiers onder toesig van die pastore en die pastore onder toesig van die senior pastore. Die vraag is onder wie se toesig laasgenoemde staan.
Buiten die Woensdag byeenkomste het hulle dienste op Saterdag en Sondag. Besoekers word met hartlikheid ontvang
> “*Come to the new visitor station on Sunday at church and receive a free cappuccino when you download the Unite180 App. Come back for your second visit and receive a free t-shirt!”*
Ook het hulle ‘n Bybelskool waar ingeskryf kan word om kursusse te volg. Lede word aangemoedig om by Unite180 *uSchool* verder te leer.
### Wat sê ander oor hulle?
Tydens die gesprek met pastoor Kinnear was een van die punte deur ons uitgelig dat daar bitter min oor Unite180 bekend is. Dit skep heelwat vrae en onsekerhede omdat daar deur ander heelwat aantuigings teen hulle gemaak word. Met ‘n kort soektog op die internet word dit duidelik: sommige beweer dat die groep eienskappe van ‘n kultus vertoon. Dít vanweë hoe alles hiërargies by hulle inmekaar steek. Tipies van ‘n kultus is dat daar ‘n leier is wie se persoonlikheid die groep se oortuiging vorm. Ook eie aan kultiese praktyke is dat lede van hulle families en die samelewing geïsoleer word. Verder is daar ook vrae oor waarheen die finansies van die kerk gaan. Blykbaar is daar agter Unite180 ‘n maatskappy wat die finansies hanteer - hulle werk met ‘n dubbele raad: die een kant geestelik en die ander kant direkteure van die besigheid. In die titelbeskrywings van die senior pastore sien jy dit raak. Ander bekommernisse wat uitgelig is, is die gebrek aan deursigtigheid en die intimiderende manier van evangelisasie.
### Wat bely ons?
In ons Nederlandse Geloofsbelydenis bely ons oor die kerk in artikels 27-32\. Daarin stel ons dat elkeen verplig is om by die ware kerk aan te sluit. Ons maak ‘n fyn onderskeid tussen die ware en die valse kerk. Ons bely: *“Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien...Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf…”*
Aan die hand hiervan word dit duidelik dat daar kommerwekkende verskille met Unite180 is. Punte waarop ons drasties met hulle verskil is sluit in die buitengewone gawes van die Gees (profesie, spreek in tale, gebedsgenesing). Verder is daar vraagtekens oor die regering van die gemeente: Wie hou toesig oor die prediking, die opleiding en die ampte? Opmerklik is dat Unite180 nie die diakonale amp ken nie. Ons verskil ook van hulle oor die sakramente - die doop is by hulle ‘n bekeringsdoop en nie die verbondsdoop nie. Die doop word ook nie bedien in ‘n erediens nie, maar meestal binne ‘n sel en die bediening van die doop kan ook deur enige ander gelowige gedoen word. Daar is nog heelwat wat verder uitgelig kan word, soos die aggressiewe manier van evangelisasie en die gevoelsmatigheid in hulle godsdiens. Ook blyk dit vanuit hulle optrede teenoor mense wat nie meer ‘n *uGroup* bywoon nie, dat daar nie sprake van liefdevolle tug is nie, maar eerder harde uitsluiting (straf). In kort is daar heelwat vraagtekens oor hulle praktyke as ons dit meet teen die maatstaf van die ware kerk soos wat ons bely.
### Ten slotte
As jy in kontak kom met iemand van ‘n ander kerk is dit altyd goed om weer na binne te kyk, om seker te wees van wat ons saam glo en bely oor die kerk van die Here. Met dit as vertrekpunt kan jy meestal opbouend met iemand anders in gesprek tree. Kom dit by die charismatiese kerke, dan is dit belangrik dat jy self weet en kan vertel hoe die Heilige Gees in jou lewe en in ons kerke werk, watter rol gevoel in jou geloofslewe speel. Mag ons met vrymoedigheid as gereformeerdes hiervan getuig, Dít terwyl ons vashou aan dit wat die Here ons in sy Woord leer: *“wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees.”* (1 Petrus 3:15)
### Alles ter wille van Christus – Filippense 1
URL: https://olielamp.vgk.org.za/alles-ter-wille-van-christus-filippense-1/
Last updated: 2026-01-07T20:00:46.000Z
Lees Filippense 1:1-26
Soos ons 2026 binneval, is dit goed om te vra wat hierdie jaar moontlik mag voortbring. Tyd is baie interessant, want almal is bekommerd daaroor, maar tog is dit iets wat buite enige mens se beheer lê. Ons maak planne en doen dinge, maar as ons terugkyk op vorige jare is daar soveel dinge wat gebeur het sonder dat ons ‘n sê daarin gehad het. God bly in beheer, so al wat ons saam met Paulus op die vraag kan antwoord, is dat God, “wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus” (Filippense 1:6).
Hierdie oordenking is die eerste in ‘n kort reeks oor Filippense, en dit is pragtig om hierdie skrywe van Paulus te sien ontvou. Hierdie boek is vol hoogtepunte en ook verse wat – dikwels buite konteks – baie aangehaal word. Ons gaan ‘n bietjie daarna kyk. Hoofstuk 1:21 is eerste aan die beurt:
> *“Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.”*
Hierdie teks is na aan die hart vir baie mense. Dit het my die eerste keer diep getref toe ‘n vriend op 21-jarige ouderdom aan kanker gesterf het. Hierdie teks het hy self vir sy begrafnis gekies. Ek het myself gevra: “Hoe kan iemand die dood so in die gesig staar terwyl hy nog so bloedjonk is? Hoe kan hy, van alle mense, die dood as wins bereken?” Dit kan beter verstaan word as ons die konteks bestudeer. Paulus was in die tronk terwyl hy hierdie brief geskryf het (Filippense 1:13). Hy het waarskynlik die doodstraf afgewag. Nou, dit is ongelooflik om te sien dat hy so vreugdevol is. Die gevangenis was nie ‘n vrolike omgewing nie - alles behalwe ‘n rustige vakansie. Dit was donker, nat, en depressief, maar tog bid hy vol blydskap (Filippense 1:4). Meer nog, hy verbly hom selfs omdat sy gevangenskap tot die verspreiding van die evangelie lei, selfs al preek mense die evangelie met die hoop om Paulus dieper in die moeilikheid te kry (Filippense 1:17-18).
Ek twyfel dat Paulus in sy jaarbeplanning beplan het om in die tronk te gaan sit, maar tog was dit volgens God se beswil. Hy sê, “sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van Christus in gevangenskap verkeer.” Let op, “ter wille van Christus” is hy in die tronk. Daarom is hy bly. Op dié manier hoor die soldate, ander gevangenes en selfs die owerhede oor die Heilige Evangelie. So wat ook al Paulus beplan het, het rondom die Here gedraai. Hy het Jesus voor oë gehad, en daarom kan hy hom in sy lof verheug. Dit is wat Paulus staande hou. Dit is die Gees van Jesus Christus wat hom ondersteun (Filippense 1:19).
As ons ‘n rukkie langer na vers 19 kyk, sal iets opval: die gebed van gelowiges sal tot verlossing lei. Ons moet bid vir verlossing, en bid vir die Heilige Gees; en dit is dan nie net vir onsself nie, maar vir ons medemens ook. Paulus ken God se beloftes, en hy klou vas aan daardie waarheid. Dit word deur die gebed van gelowiges bevestig en dien ook as bemoediging vir hom. Of die verlossing nou in die vorm van vrylating uit die tronk kom, of deur die dood as deur tot ewige heerlikheid, sal Paulus bly wees, want gevangenskap, dood, of lewe, is ter wille van Christus.
Daarom kan Paulus van harte sê: *“Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.”* Hy sien die twee opsies. 1) Hy sterf en sien sy Heiland in ewige heerlikheid, of 2) hy word vrygelaat en kan God aanhou dien deur vir Hom te lewe op aarde. Dis waarlik ‘n tweestryd. Opsie 1 is verreweg die beste, erken hy self (Filippense 1:23). Tog is hy oortuig daarvan dat hy sal aanhou dien (opsie 2), en dit is vir hom goed. In beide gevalle is sy vreugde in Christus, nie in sy situasie nie, nie in gevangenskap of vryheid nie, nie in lewe of dood nie. Hy kan altyd blydskap vind, want sy vreugde is in Christus.
Wat ons alles ook vir 2026 beplan, of wat die jaar mag bring, moet ons weet dat God sy werk sal voltooi op die dag van Christus. 2026, soos ander jare, is die jaar van ons Here, so die hele jaar deur gaan God werk en bou. Hy sal sy werk voltooi. Laat ons daarom Christus voor oë hou, vasklou aan die boodskap van die kruis, en alles ter wille van Christus doen – in lewe en in sterwe.
### Gebed
Almagtige God en Vader, U wat getrou bly deur die geslagte heen, U bly werk in ons lewens, dag in dag uit. Wat ‘n troos is dit nie om te weet dat U die werk in ons sal voltooi. Daarom bid ons vir verlossing en die Gees. Werk in ons volgens u goeie wil. Vorm ons hele lewe om tot u lof en eer te dien. Bring ons ook daar, sodat ons mag sê: Vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins. Dra ons hierdie jaar, en gee ons die vertroue dat ons mag weet dat alles tot die bou van u koninkryk sal dien. Gebruik ons ook so, sodat ons dae vol mag wees van diens aan U. As die lewe donker en depressief raak, hou ons vas, en gee ons die vreugde en vrede wat alles hier op aarde oortref. Wil U gou terugkeer aarde toe, en ons tot U neem, want by U is dit verreweg die beste. Aan U kom toe alle lof en eer. Amen.
### Coram Deo
Die nuwe jaar mag moontlik heelwat uitdagings bring: siekte, dood, en depressie. Dit mag ook vreugdes gee soos nuwe lewe, opwindende fases en mooi tye saam met familie en vriende. Wat die Here ook op u pad bring, probeer dit sien as dinge wat ons nader aan Hom sal bring, hoe maklik of moeilik dit ook kan wees. Dit is soos Paulus wat deur gebede en die krag van die Gees Christus voor oë kon hou. Voorspoed en die Here se seën vir die nuwe jaar!
### Lees Verder
Filippense 4 | Psalm 103
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Kaapstad*
### EP17: Die Huwelik – ’n Verbond, Nie Net ’n Kontrak
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep17-die-huwelik-n-verbond-nie-net-n-kontrak/
Last updated: 2026-01-03T07:00:25.000Z
*Met Ds. Marnix Boersema*
Die huwelik is meer as net ’n romantiese verbintenis – dit is ’n Godgegewe verbond wat Christus en die kerk weerspieël. In hierdie episode kyk ons na die doel, uitdagings en vreugdes van Bybelse huwelike.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Gaan die nuwe jaar in met Prediker se wysheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gaan-die-nuwe-jaar-in-met-prediker-se-wysheid/
Last updated: 2026-01-01T14:34:48.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Nuwejaarsdag - die eerste dag van ‘n nuwe jaar. ‘n Dag waarop meeste van ons groot drome het vir die jaar wat voorlê. Die nuwejaar bring baie keer verandering - miskien is jy klaar met skool en gaan nou universiteit toe, miskien begin jy werk of het jy planne om oorsee te gaan. Of dalk is die verandering minder groot - dit is net nog ‘n jaar op universiteit, skool, of by die werk. Tog ook dan is daar nuwe voornemens, nuwe projekte of dalk nuwe vakke.
Al die nuwigheid kan ons opgewonde laat voel, maar dit kan ons ook onseker laat voel. In dit alles is die Bybel vir ons ‘n goeie kompas. Dit gee vir ons goeie raad hoe ons hierdie nuwe jaar tot eer van die Here kan aanpak. Kom ons kyk wat die Bybel ons leer in Prediker 11\. Dit is ‘n bekende gedeelte, en tog bevat dit soveel wysheid.
### Toekoms is onvoorspelbaar
“*Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ‘n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie*.” (Prediker 11:5)
Ons weet nie wat die toekoms bring nie. Ons as mense kan groot planne maak, ons kan droom, ons kan sperdatums stel, maar uiteindelik het ons nie beheer oor die loop van gebeure nie. Die groot Koning sit in die hemel. Hy is die beskikker van ons lot en lewe, Hy beheer die geskiedenis.
“*As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as ‘n boom na die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê*.” (vers 3).
Wanneer ons die nuwe jaar ingaan moet ons hierdie waarheid in gedagte hou. Jakobus skryf ook vir die gelowiges van die nuwe testament dat hulle moet oppas om net te sê “*Vandag of môre sal ons na die of die stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak*” (Jakobus 4:13), want sê Jakobus, julle weet nie eens wat môre gebeur nie. Hy leer ons om altyd God die erkenning te gee deur te sê “*as die Here wil en ons lewe*” (Jakobus 4:15).
So die eerste boodskap van Prediker 11 is om te onthou dat die toekoms onbekend is. Ons kan planne maak, maar uiteindelik lei God ons paaie. Soms kan dit vir ons lastig voel, maar as ons dieper daaroor dink, is dit eintlik so troosvol en versterkend, want die Een wat, uit liefde, bereid was om sy eie Seun aan ‘n kruis te laat sterf, is ook die Een wat elkeen van ons se lewensverhaal skryf. Ons hoef ons daarom nie te bekommer oor môre nie, gee nie om hoe onseker die toekoms lyk nie. Ons kan ons lewe met ‘n geruste hart aan die Here oorgee.
### Werk hard
Soms word ons verlam deur die onsekerheid van die lewe. Die Prediker skryf oor hierdie realiteit in vers 4: “*Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie*.”
Aan die een kant kan die onsekerheid van die toekoms maak dat ons niks durf aanpak nie omdat ons nog nie weet wat sal werk en wat sal gebeur nie. Aan die ander kant is daar ook die gevaar dat ons, heel gelowig, ons hele lewe in God se hand oorgee maar nie bereid is om die werktuie te wees nie.
Hier geld die eeue-oue leuse van Benedictus “Ora et Labora” of te wel “Bid en Werk”. Ja God is in beheer, maar Hy maak gebruik van baie eenvoudige, allerdaagse maniere om sy wil uit te voer. Ja, daar was inderdaad tye wat die brood letterlik uit die hemel geval het, maar vir die meeste van die geskiedenis moes mense koring plant, oes, dors, maal en brood bak.
Die Prediker roep ons dan ook op om hard te werk: “*Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie*.” (vers 6)
### Help ander
Baie keer is dit vir ons maklik om ons lewens al heeltemal vol te beplan - werk, skool of studies neem so baie tyd in beslag, daar is nog skaars tyd oor vir onsself, en in die tyd wil ons so graag sport kan doen, met vriende kuier of net ontspan. Dit is inderdaad alles belangrik; ons moet vir ons self sorg, maar in ons samelewing waar die eie self oorbeklemtoon word, is dit maklik om van ons naaste te vergeet.
Die Prediker roep ons dan ook op: “*Werp jou brood uit op die water... Gee ‘n deel aan sewe; ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie*” (vers 1-2). God vra van ons om goed te doen aan ander, sonder om te iets terug te verwag.
In al die drukte mag ons nie van die behoeftes van ander vergeet nie. Ons moet nie so besig met onsself raak dat ons nie tyd het vir ander nie. Dit is deel van die groot gebod om ons naaste lief te hê soos onsself en God bo alles.
Laat ons ook in hierdie nuwe jaar seker maak dat ons tyd maak vir ons naaste, dat ons saam Bybelstudie doen (al is dit nie altyd mense met wie ons van nature oor die weg kom nie), dat ons bereid is om te help waar ons kan met beide ons tyd en ons hulpbronne.
### Geniet van dit wat die Here gee
Teen die tyd voel mens dalk al: Is werk en ander help dan al waaroor die lewe gaan? Dit klink nie regtig meer lekker om die nuwe jaar in te gaan nie.
Dit is beslis nie die boodskap van die Bybel of van Prediker nie. Regdeur die boek wys die Prediker uit dat die lewe ‘n gejaag na wind is, dat meeste dinge wat ons aanpak nie nut het nie en in dit alles was sy konklusie telkens: die beste ding om te doen is om nie gejaagd te wees nie, maar om te geniet van dit wat die Here vir jou gee, soos kos, jou vrou en werk. Ook in Prediker 11 word ons opgeroep om die lewe te geniet:
“*Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid*” (vers 7-8)
Die gedeelte gaan selfs aan en spreek spesifiek die jeug aan om hulself te verbly in hulle jonkheid, vrolik te wees en te wandel in die weë van hulle hart (vers 9). Geloof en ‘n lewe naby God is nie ‘n tronk nie. Nee, naby God vind ons juis die ware vrede, geluk en vervulling van ons lewe.
Mag ons ook in hierdie nuwe jaar, so in blydskap en dankbaarheid leef. Meeste van ons is uitermate geseënd en kom niks kort nie. Laat ons die dankbaarheid uitstraal en God elke dag daarvoor die eer gee.
### Onthou dat God sien
In dit alles moet ons egter onthou dat God alles sien: “*weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring*” (vers 9b).
Wanneer ons planne maak, wanneer ons werk, as ons besluit hoe ons ons tyd gebruik, wanneer ons ander help, en wanneer ons ontspan moet ons altyd onthou dat God nie net sien wat ons doen nie, maar selfs ons harte deursoek. Mag 2026 bo alles ‘n jaar wees waarin ons nader aan God groei, Hom in alles soek, Hom die eer gee, en ons toekoms in sy hande lê.
### Kersfees as Christelike feesdag
URL: https://olielamp.vgk.org.za/kersfees-2/
Last updated: 2025-12-25T07:00:01.000Z
*Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata*
Kersfees…
Dis ‘n tyd van vrolikheid, liggies en groot feesviering. Só beleef mense wêreldwyd hierdie seisoen. Maar hoe behoort ons as Gereformeerdes dit te sien? Sluit ons bloot aan by die algemene gees van joligheid, of kyk ons dieper - na die ware betekenis van Kersfees?
Die Bybel leer duidelik dat Kersfees inderdaad ’n fees van groot blydskap behoort te wees. Die engel se woorde aan die skaapwagters op die eerste Kersnag getuig daarvan. Lukas 2:10: “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees.”
Die vraag bly egter: Wat is die rede vir ons blydskap?
Ons verheug ons omdat die Saligmaker, Jesus Christus die Here, vir ons in die stad van Dawid gebore is. Dáár lê die hart van Kersfees.
Tog word moderne Kersvieringe dikwels oorheers deur dinge soos kersbome, Kersvader en hope geskenke. Dit alles is vrolik en vol pret, maar ons moet eerlik vra: Hoe verbind ek dit waarmee ek besig is met die ware rede vir Kersfees?
Wanneer ons Christus se geboorte as die middelpunt van ons feesviering sien, bepaal dit ook die styl waarin ons vier. Kersvreugde is ware uitbundige lof aan God, maar dit kom gepaard met rus, eerbied en soberheid. Dit soek nie die opwinding van oormatige uitgawes of geskenke nie.
### Kersfees en Christus se nederigheid
Jesus se geboorte in die krip in Betlehem herinner ons aan die nederige pad wat Christus gekies het. Hy wat die Koning is, het die vorm van ’n dienskneg aangeneem.
Filippense 2:6-7: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk geword.”
Kersfees roep ons dus ook terug na nederigheid, diensbaarheid en gehoorsaamheid - ’n lewe wat weerspieël wat ons Verlosser vir ons kom doen het.
### Kersfees en ons roeping tot liefde en barmhartigheid
Wie die liefde van God in Christus verstaan, kan nie anders as om dit uit te leef nie. Kersfees word dan ’n tyd waarin ons:
- omgee vir armes en behoeftiges,
- die eensames en bedroefdes bystaan,
- en meelewendheid, gasvryheid en barmhartigheid uitleef.
Hierin word die liefde van Christus sigbaar deur sy kerk.
### Kersfees as fees van die lig
Christus is die Lig van die wêreld, tot aan die einde van die aarde, ja ook tot aan die einde van die tyd.
Met Kersfees vier ons dat God die Lig gestuur het wat nooit uitgedoof kan word nie. En omdat ons aan Hom behoort, word ons roeping ook om draers van hierdie lig te wees - draers van waarheid, hoop en die evangelie in ’n donker wêreld. Soos die Here aan Paulus gesê het in Handelinge 13:47 (AFR20): “Ek het jou aangewys as ‘n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.”
### Kersfees as fees van hoop
Die krip wys na die kruis, en die kruis wys weer na die opstanding. Die geboorte van Christus is die begin van God se groot verlossingsplan wat deur die eeue voortgaan. Daarom is Kersfees ’n fees van hoop - hoop wat sterker is as lyding, sonde en dood.
Kersfees is daarom ook ‘n dankfees. Dit is die dag waarop die kerk van die Here wêreldwyd in diepe dankbaarheid voor Hom neerbuig vir die wonderlike gawe van sy Seun. So word die waarheid van Johannes 3:16 steeds weer bevestig:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
In hierdie Kerstyd bly ons roeping as kerk van die Here duidelik - om die boodskap van vrede in Christus te verkondig. Buiten Hom soek die wêreld tevergeefs na vrede, want sonder geloof in Hom is daar geen ware vrede nie. Bekeer julle tot Hom. Soek die Here in opregte gebed. Glo dat Hy die Lig van die nasies en die Redder van die wêreld is en onderwerp julle aan Hom as die enigste Here en Koning. Dan sal “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan” oor julle harte en gedagtes waak.
### Volharding tot die einde
URL: https://olielamp.vgk.org.za/volharding/
Last updated: 2025-12-22T18:35:48.000Z
As jy dink aan die woord “volharding”, dan dink mens direk aan verskillende voorbeelde om dit te verstaan: eksamens en studies, sporte, geloof, vervolging en verdrukking, terugslae, ens. Hoekom volhard ons in hierdie dinge? Hoekom werk ons hard om studies te voltooi, ‘n marathon te doen, te groei in geloof, en hoopvol te bly wanneer die golwe van die lewe ons omgooi?
Volharding beteken dat ons hoop op iets in die toekoms, en daarnatoe werk met verwagting. Meestal is dit nie ‘n reguit lyn tot die uitkoms nie, maar met die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk (Romeine 8:28), mag (en moet) ons volhard. Dit is belangrik om te let op “die wete dat God alles ten goede sal laat meewerk” — dit gee ons versekering, maar ook vertroue en geduld in God se raadsplan. Volharding kort dus versekering dat die vooruitsig haalbaar is. Maar waar kry ons die versekering?
Menslik is ons swak: ons gee op as dinge moeilik raak en die vooruitsig mistig raak. Dit bring ons tot ‘n nederige besef dat ons God nodig het om ons die pad te wys. Dawid het gevlug vir sy lewe, maar in sy benoudheid en onsekere toekoms het hy God gesoek (Psalm 22:3), sekerheid gevind (Psalm 23:1), en op Hom vertrou (Psalm 108:14). Dawid het die belofte gehad dat hy koning oor Israel sou word (1 Samuel 16), maar hy moes volhard tot die einde om die kroon te ontvang. Vir ons wag daar ook ‘n kroon: die kroon van die nuwe hemel en aarde. Openbaring 3:10 gee vir ons die versekering dat God ons sal bewaar tot op die dag wat Hy terugkom.
### God voltooi wat Hy begin
In Openbaring 22:13 staan daar dat God die Begin en die Einde is. Wat beteken dit vir ons? Fillipense 1:6 sê dat Hy voltooi wat Hy begin. Die mooiste (en belangrikste) voorbeeld is die koms van die Messias wat direk na die sondeval aangekondig is (Genesis 3:15), en ‘n paar duisend jaar later ‘n realiteit geword het (Mattheus 1:18-25): God het mens geword en onder ons kom woon (Johannes 1:14)! Volgens die belofte in Jesaja 53 het Hy vir ons sondes aan die kruis gesterf (Mattheus 27:32-56) en opgestaan uit die dode (Mattheus 28:1-10).
Na sy opstanding vaar Hy op na die hemel en gaan sit aan die regterhand van God (Handelinge 1:1-14). Die manne, wat daar was, kry *‘n opdrag* en ‘n versekering: “*Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.* En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Mattheus 28:19-20). Die wonderlike versekering dat Christus met ons is tot die einde toe, gee vir ons die sekerheid dat ons, met volharding, kan wag op dit wat ons nie sien nie (Romeine 8:25). Mattheus 28:19-20 wys ons ook op die direkte korrelasie tussen die doop en God se nabyheid. Die doop is vir ons “‘n betroubare pand en ‘n kosbare seël” dat God ons in genade aanneem en met ons is tot die voleinding van die wêreld (Doopsformulier). Die kinderdoop is ‘n voorbeeld dat God sy wonderbare werk in ‘n klein en nietige mens begin, en nie die mens uit eie keuse nie.
### Volharding in die Kerk
Die Galilése manne, wat by Christus se hemelvaart was, draai hulle om en gaan die wereld in: kerke word gebou op die onverganklike Hoeksteen (1 Petrus 2:6), daar word volhard in die leer van die apostels (Handelinge 2:42), en die onuitblusbare vlam van die Evangelie word gedra (Handelinge 4:19-20).
Maar, soos die saad van die evangelie gesaai word, val die saad langs die pad, op rots, tussen dorings, en op goeie grond (Lukas 8:4-15). Die ryk jongman het bedroef geraak toe hy gehoor het dat hy al sy besittings moes verkoop om Christus te volg — hy was nie bereid om die prys vir Christus te betaal nie. Alhoewel God voltooi wat Hy begin, is ons ten volle deel van ons eie wedloop. In Lukas 14:25-27 vermaan Christus ons om af te sien van ons aardse lewe, ons kruis op te neem en Christus te volg. Is jy bereid om vir Christus te sterf?
### ‘n Muur van valse sekerheid word deur God afgebreek
Petrus was bereid om vir Christus te sterf (Lukas 22:33), maar hy het op homself vertrou om nie in sonde te val nie. Dawid het owerspel gepleeg (2 Samuel 11) en die volk getel om sekerheid te kry van sy oorlogsvermoë (2 Samuel 24). Beide het die sekerheid gehad dat dit wat hulle doen reg was, maar Petrus was deur Jesus self en Dawid was deur die profete Natan en Gad gewys op hul sondes.
Tot die einde toe gaan ons teen die sonde moet stry (Romeine 7) en ons gaan nie altyd ons eie sondes kan raaksien nie. Gemak seëvier gereeld wanneer ons voor ‘n keuse staan. Dit bring ons valse sekerheid en daarvoor kort ons *accountability* van medegelowiges — mense wat moeilike vrae vra. Daarenteen moet ons ook ag gee op mekaar in liefde en mekaar tot goeie werke aanspoor (Hebreërs 10:24). In verskeie briewe van Paulus bid hy onophoudelik vir sy medegelowiges (o.a. 1 Thessalonicense 1:2-3). In Paulus se gebede soek hy die beste vir sy medegelowiges tot opbou van God se koninkryk (Mattheus 6:33), nie vir homself nie.
Gelowiges se oë is gevestig op Jesus wanneer hulle saam die wedloop hardloop (Hebreërs 12:2). Hierdie driehoek wat tussen onsself, Christus en medegelowiges vorm kan nie maklik verbreek word nie (Prediker 4:12). Hebreërs 12:1 noem dit selfs ‘n wolk van getuies rondom ons — mense wat saam met ons leef en groei in geloof.
### ‘n Wedloop om te hardloop met sekerheid
(Meestal) wanneer ons sien dat die verkeerslig groen word, mag ons met sekerheid ry. God gee ons ook die groen lig deur sy genade, en wanneer ons dit in ons lewe raaksien, mag ons met sekerheid (voluit) die wedloop hardloop tot die einde toe. Maar, God laat ons nie agter as ons in die verte verdwyn met die wedloop nie — die Heilige Gees woon in ons en is met ons tot die einde toe. Wanneer ons van die pad afdwaal mag ons weet dat die Goeie Herder (Johannes 10:14) ons met sy staf sal teruglei na waters waar rus is (Psalm 23). Ons hoef nie bevrees te wees nie, want God het ons op ons naam geroep, en ons is syne (Jesaja 43:1)!
Met dit alles, wyk af van die sonde wat jou volharding en sekerheid onderdruk (Hebreërs 10:22), verdiep jou in die Woord en persoonlike gebed, bid vir jou medegelowiges en ondersteun hulle, jaag na die einddoel toe met sekerheid (Fillipense 3:12), en “laat jou hart sterk wees; ja, wag op die Here!” (Psalm 27:14). Deur dit mag jy seker wees dat “geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).
*Hierdie artikel is ‘n gedistilleerde weergawe van die drie lesings wat by Kongres 2025 gehou was deur Ds Pieter Boon (VGK Pretoria-Maranata), Ds Dirk-Maurits Boersema (VGK Johannesburg), en Ds George Mnisi (FRC Nellmapius). Dit sluit ook oordenkings in wat deur verskeie jeuglede gedoen is (Arjan Boon, Cornel Begemann, Ben Bunk). Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata.*
### Vakansie en rus (Matthéüs 11:25-30)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vakansie-en-rus-mattheus-11-25-30/
Last updated: 2025-12-20T07:00:43.000Z
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” - Matthéüs 11:28
Ons nader nou die einde van 2025\. Die skole en universiteite het al gesluit. Baie besighede beplan om toe te maak vir die laaste week of twee van die jaar en baie mense het ook verlof ingesit. ‘n Tyd van rus lê vir ons voor as die Here wil soos wat die laaste dae op 2025 se Kalender afgemerk word.
### 1) Die mens se behoefte na rus
Die Here weet dat ons as mense rus nodig het. Ons sien dit al in die feit dat Hy ‘n weeklikse rusdag ingestel. Dit is ‘n Skeppingsordinansie dat die mens 6 dae moet werk en 1 dag moet rus. Die rusdag is veral gegee om geestelik te rus deur ons in die Here te verlustig, maar dit sluit natuurlik die liggaamlike rus nie uit nie.
Die Here gee dus ‘n weeklikse rusdag vir ons, maar Hy gee ook in sy wysheid vir ons hierdie Desembervakansie om na ‘n jaar se harde werk en moeite te rus en asem te skep. Na ‘n jaar se geswoeg en gespartel, voel baie van ons miskien uitgeput, vermoeid en emosioneel gedreineerd. Die jaar was vir sommige van ons uitdagend, besig en vol beproewings. Vir ander was die jaar vol hoogtepunte en vreugdes, maar selfs dit kan energie en moeite vereis.
Ons is dan ook vermoeid met die sonde. Wanneer ons sukkel om sekere sondes af te lê. Wanneer ons struikel en worstel. Wanneer dit voel asof ons moeg raak in die stryd teen die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur. Ons voel ook vermoeid en belas en het daarom ‘n dringende behoefte om te rus.
Daar lê nou deur die Here se voorsienigheid ‘n tydperk van rus voor vir die meeste van ons. ‘n Tyd wat ons nie net vir liggaamlike rus en ontspanning moet gebruik nie, maar ook moet gebruik om rus vir ons siele in Christus te vind – om opnuut verkwik te word deur sy Woord en sy Gees. Die vraag is: Hoe kry ons hierdie rus vir ons siele?
### **2) Die rus wat die Here gee**
In Matthéüs 11 gee die Here Jesus die bekende oproep en belofte: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matthéüs 11:28). Hoekom kan die Here Jesus rus vir ons siele gee?
Want Hy het ter wille van sy kinders self moeite en onrus deurgegaan. Christus het mens geword, en Hy het as ware mens ook moeg geword (Johannes 4:6). In Getsémané het Jesus gesê: ”My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). “En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Lukas 22:44). Terwyl Hy bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matthéüs 26:39)
En ons weet wat verder gebeur het. Jesus het die lydingsbeker gedrink. Aan die kruis het Hy die toorn op ons sonde gedra, is Hy deur sy Vader verlaat en het angs, moeite, pyn en spot ervaar. Christus is van alle rus ontneem aan die kruis, sodat Hy vir gelowiges die ware rus kon bring – vrede by God, vergifnis, bevryding van die Satan se heerskappy. Rus wat gaan oorloop in ‘n nuwe hemel en nuwe aarde, die ewige Sabbatsrus (Hebreërs 4:8-11), waar daar geen moeite meer sal wees nie (Openbaring 21:4).
Dit is die rus en wyse waarop Christus die rus bewerkstellig het. Hoe kry ons dan deel aan hierdie rus? Eenvoudig: “Kom na My toe” (Matthéüs 11:28). Om na Jesus toe te gaan, beteken om in Hom te glo. Om te glo dat Jesus Christus die rus bewerk het deur self die diepste onrus deur te gaan. En vir elke sondaar wat vermoeid is en na Jesus toe gaan, gee Hy elders hierdie wonderlike belofte: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37)
### 3) Prakties rus hierdie vakansie
Rus liggaamlik goed uit. Ons is ‘n liggaam-siel eenheid. Ons liggame en siele het albei rus nodig om behoorlik te funksioneer.
Bly besig met die Woord van die Here. Die Here Jesus sê in vers 29 en 30: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Leer dus by Jesus, sy juk is sag en sy las is lig. Die lering van Christus is bevrydend, in kontras met die juk van wettisisme wat die Fariseërs afgedwing het.
Bid. Dit is ook wat Jesus in vers 25-27 doen. Ons lees gereeld in die evangelies hoe Jesus Hom af gesonder het en op ‘n afgeleë plek gaan bid het. Bid dat die Here jou weer nuwe krag sal gee. Slegs ‘n verhouding met die lewende God deur Christus se werk kan ‘n rustelose siel ware rus vind.
Die rus wat God bring, is meer as ‘n vakansie. Dit is ‘n rus wat oorloop in die ewige Sabbatsrus. ‘n Rus, troos en vrede in Christus. Laat ons ons in hierdie rus verlustig, veral op Sondae, maar ook gedurende hierdie vakansie.
### Gebed
Onse Vader wat in die hemel is. Dankie dat U ons deur hierdie jaar gedra het. U ken ons moeites en moegheid. Ons bid dat U ons sal versterk met nuwe krag en rus in Christus. Wees met almal wat ook die vakansie op reis gaan, bewaar hulle op die paaie. Ons sien uit na die ewige rus wat U vir ons berei en roep daarom uit: Maranata! Kom Here Jesus, kom tog gou! Amen.
### Coram Deo
Rus behoorlik die vakansie. Nie net liggaamlik nie, maar soek veral rus vir jou siel in Christus.
### Verdere Bybelstudie
Hebreërs 4 en Psalm 42 en 43
*Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Pretoria-Annlin*
### Moenie jou bekommer oor jou lewe nie!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moenie-jou-bekommer-oor-jou-lewe-nie/
Last updated: 2025-12-13T07:00:46.000Z
*Geskryf deur Emile Burgers, VGK Pretoria-Maranata*
In vandag se wêreld klink Jesus se woorde uit Matthéüs soos ‘n kalmerende stem in die storm. “Moenie julle kwel oor jul lewe… nie,” in Matthéüs 6:25, klink eenvoudig, maar is dikwels buitengewoon moeilik om na te kom. Jesus bied hier ’n pad van bevryding uit die kringloop van angs en spanning aan, waaraan die moderne mens so gewoond geraak het. Tog sukkel ons om ons bekommernisse werklik neer te lê en in vertroue te leef.
Hierdie gedeelte maak deel uit van die Bergpredikasie, die preek wat Jesus in Matthéüs 5–7 verkondig. Die Bergpredikasie kan opgesom word in een tema: Hoe om ’n lewe te leef wat geheel en al aan God toegewy is: ’n lewe vry van skynheiligheid, gevul met liefde en genade, en geanker in wysheid en geestelike onderskeiding. Jesus openbaar hier die waardes van die Koninkryk van God en konfronteer terselfdertyd die valse sekuriteit wat die wêreld aanbied.
Hoewel hierdie woorde meer as 2 000 jaar gelede uitgespreek is, bly die boodskap vandag net so relevant. Die oorspronklike gehoor was gewone mense wat onder politieke druk en ekonomiese onsekerheid geleef het. Hulle was oorlaai met vrees vir die toekoms. Dit is presies soos ons in ’n tyd van ekonomiese spanning, prestasiedruk en sosiale vergelyking. Jesus roep sy volgelinge op om geloof bo bekommernis te kies.
Die woord “kwel” (*merimnáō*) is vertaal vanaf Grieks en beteken: “bekommerd/angs.” Dit beskryf ’n geestelike toestand waarin die gedagtes afgelei word, deurmekaar raak en die geloof se fokus verloor. Jesus waarsku dus teen ’n lewe waar vrees ons aandag wegtrek van God en ons vrede steel. Hy herinner ons dat bekommernis nie die toekoms verander nie, maar wel die vreugde van vandag beroof.
Verder in Matthéüs 6:26–34 en Lukas 12:24–31 word verduidelik hoe die natuur getuig van ’n getroue en voorsienende Skepper. Die voëls vlieg nie rond en maak ingewikkelde planne, strategieë of noodvoorsiening vir die toekoms sodat hulle verseker kan wees van hul eie bestaan nie. Hulle saai nie, oes nie en stapel nie op in skure nie (Matthéüs 6:26). Tog word hulle elke dag onderhou. Dit is nie omdat hulle lui of onverantwoordelik is nie, maar omdat hulle leef in die hede, net in die tyd wat God aan hulle gee.
Die voëls vertrou instinktief op die voorsienigheid van hul Skepper. Hulle leef in totale afhanklikheid van die hand wat vir hulle sorg. Hierdie voorbeeld is nie ’n aanmoediging om niks te doen nie, maar tot rus en vertroue. As God vir die skepsels sorg wat geen siele het nie, hoeveel te meer sal Hy nie sorg vir die mens wat na sy beeld gemaak is en deur Christus verlos word nie?
Jesus herinner die gelowige dat bekommernis nie die toekoms verander nie, maar wel die vreugde van vandag steel. Wanneer die mens gedreig word deur onsekerheid, ekonomiese druk of persoonlike nood, val hy maklik in die strik van selfvertroue en selfbeplanning, dan begin die mens dink hy moet alle dinge self beheer. Maar, deur die natuur wys God dat Hy die koning is oor elke fyn detail, van die kleinste mossie tot die gras van die veld wat môre vergaan.
Dus, om op God te vertrou bring innerlike vrede. Deur eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek, word die gelowige se fokus verskuif vanaf vrees na aanbidding, vanaf onsekerheid na sekerheid, en vanaf menslike krag na goddelike afhanklikheid (Matthéüs 6:33). Daarom hoef die kind van God hom nie te kwel oor vandag of môre nie. Ons Vader weet wat ons nodig het, nog voordat ons vra (Matthéüs 6:32).
In Johannes Calvyn se Instutisie raak hy meer as een keer aan hierdie onderwerp. Hy leer dat niks by toeval gebeur nie. “Daar is nie ‘n enkele druppel reën wat op die aarde val, tensy dit deur God se bevel bepaal is nie”. As God dan alles onder beheer het, dan is bekommernis ‘n teken dat ons sy hand vergeet.
Hy wys daarop dat bekommernis sy wortels het in ongeloof, gehegtheid aan aardse dinge en die idee dat mens sy eie sekuriteit moet beheer. Hy beklemtoon dat tevredenheid ‘n belangrike kenmerk van ware geloof is. ‘n Christen moet rus vind in wat God gee en nie ontevrede wees met wat hy nie het nie. God bepaal die maat van elke gelowige se laste, maar God gee nooit meer as wat Hy terselfdetyd genade gee om dit te kan dra nie.
Selfvertroue, sê Calvyn, is ’n vorm van afgodery, want dit vervang God se sorg met die mens se eie vermoë. Daarom is afhanklikheid nie ’n teken van swakheid nie, maar hoe die mens oorspronklik geskape is. Om nie te kwel nie, word uiteindelik ’n daad van aanbidding: dit is die erkenning dat God getrou, alwetend en volmaak is.
Jesus se woorde in Matthéüs 6:25 is nie net bemoedigende woorde nie, maar ‘n opdrag. Ons het reeds gesien dat om jou te kwel ‘n teken van wantroue is, en hoort nie by ‘n hart wat volledig op God vetrou nie. Wanneer ’n gelowige kies om nie te kwel nie, onderwerp hy hom doelbewus aan God se Vaderlike sorg en erken hy dat God weet wat hy nodig het nog voordat hy vra (Matthéüs 6:32).Daarom gaan hierdie opdrag gepaard met ’n uitnodiging: “Soek eers die Koninkryk van God” (Matthéüs 6:33), met die belofte dat God self sal voorsien.
Paulus beklemtoon dieselfde beginsel wanneer hy skryf dat ons onsself oor niks hoef te kwel nie, maar alles in gebed aan God moet oorlaat, waardeur die vrede van Christus ons harte en gedagtes sal bewaar (Filippense 4:6–7). Verder herinner Petrus gelowiges daaraan om hulle bekommernisse op God te werp, want Hy sorg vir hulle (1 Petrus 5:7). Hierdie tekste saam toon dat om nie te kwel nie ’n gehoorsaamsopdrag is wat die mens se geloof, gebede en afhanklikheid van God verdiep. Dit is meer as net bemoediging; dit is ’n geloofsdaad waarmee die gelowige God se karakter vertrou, sy voorsienigheid erken en sy hart van die slawerny van vrees bevry.
### Romeine 6 - Slawe van Regverdigheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/romeine-6-slawe-van-regverdigheid/
Last updated: 2025-12-10T17:45:37.000Z
Broeders en Susters van ons Here Jesus Christus,
Sonde is ’n plek waar ons soms selfs genot vind. Ons is vasgevang deur die kettings van ons eie sondes. Almal het probleme en stryd, maar meeste van die tyd verkies ons om ons sondes te geniet in plaas daarvan om ons Verlosser, Jesus Christus, te volg. Christus het vir ons aan die kruis gesterf sodat ons deur Sy bloed vry van sonde kan wees. Hoe GROOT is God se genade tog nie!
Paulus sê vir ons in vers 2: “Hy wat vir die sonde afgesterf het — hoe kan ons nog daarin lewe?” Mense misbruik God se genade, want ons glo soms dat Sy genade ’n lisensie is, om te doen wat ons wéét verkeerd is. Nee. As jy só reageer of glo, beteken dit dat jy nie werklik vry wil wees van sonde nie — jy wil net beter oor jouself voel.
Broeders en Susters, die genade van God help ons om in die krag van ware vryheid te wandel. Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur Hom nie (Johannes 14:6). Jou pad na vryheid is deur Jesus Christus. Moet nie God se genade misbruik nie, want elke dag wat jy wakker word en asemhaal, is genade — moet nie dit mors nie.
Paulus gee vir ons vanaf vers 4 tot 10 ’n opsomming van hoe ons nuwe lewe in Christus ontvang. Vers 5 en 6 sê vir ons dat ons ou mens, ons ou natuur, saam met Christus gekruisig is, sodat ons nie meer slawe van die sonde hoef te wees nie. Paulus sê in Romeine 8 dat ons geestelik sterf as ons die vlees bedink (vers 6). Ons is selfs God se vyande as ons die vlees bedink (8:7). Maar die Woord sê: “Die wat die Gees bedink, is lewe en vrede” (8:6). Deur Sy Gees ontvang ons nuwe lewe.
Jesus Christus het vir die sonde gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God (vers 10). Ons moet soos Christus wees, want vers 10 sê dat Christus vir altyd vir die sonde gesterf het — nie net in die verlede of op die dag van Sy kruisiging nie, maar vir altyd. So moet ons ook wees, broeders en susters: lewend vir God. Deur die nuwe lewe wat God gee, het ons hoop om regverdig voor Jesus Christus te staan.
Verder sien ons in die tweede gedeelte van Romeine 6 dat ons as mense die ervaring het dat ons diensknegte van die sonde is. Almal dien sonde, en elkeen is ’n slaaf van ’n bepaalde sonde. Jy kan ’n slaaf wees van alkohol, ’n slaaf van sukses, ’n slaaf van dwelms, ’n slaaf van pornografie, ensovoorts. ’n Mens soek altyd iets wat jou beter laat voel, want die menslike hart is nooit tevrede nie.
Maar die waarheid bring ons terug na vryheid. In hierdie konteks beteken vryheid nie dat jy kan doen wat jy wil nie. Vryheid beteken dat jy vry is van dit wat jou beheer. Deur Jesus Christus is ons nie meer slawe van sonde nie, maar slawe van geregtigheid (vers 18).
Daar is dus ’n verskil tussen wêreldse vryheid en Goddelike vryheid:
Wêreldse vryheid sê:
- Doen wat vir jóú goed voel
- Volg jou hart
- Jy leef net een keer
Goddelike vryheid sê:
- Doen wat reg is
- Jou hart is bedrieglik
- Jou ewige lewe begin by oorgawe aan God
“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36). Paulus verduidelik in vers 21–23 die belofte wat God vir ons gegee het: die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here (vers 23).
Om in verbintenis met Jesus Christus te groei, moet ons aan mekaar verbind bly. Hoe meer ons met ander Christene verbind word deur verantwoordelikheid, diens en kerklike bywoning, hoe meer sal ons in ons verbintenis met Jesus Christus groei.
**Loop in vrede, en ontvang die ware vryheid in Jesus Christus.**
### Gebed
Vader in die Hemel, Dankie, Here, dat ons U kan aanroep. U is groot, U is goed, en U is genadig. Dankie vir U genade en barmhartigheid wat ons elke dag ontvang. Ek vra dat U my sal help om U genade nie te misbruik nie. Ja, Here, U het ons so lief dat U U Seun, Jesus Christus, gestuur het om vir ons sondes te sterf, sodat ons vryheid kan ontvang van ons daaglikse sondes. Help ons, Here, om tot U eer te leef en in U vrede te wandel. Ons vra dit alles in Christus se Naam. Amen.
### Coram Deo
Die Here het ons verlos van die sonde, sodat ons nie meer slawe van sonde hoef te wees nie, maar slegs deur Jesus Christus slawe van geregtigheid kan wees, die ewige lewe kan ontvang, en in Sy vrede kan leef.
### Bronnelys
- https://youtube.com/shorts/bT17kSHD8HY?si=ozlPGBzgx4w6ZkHC
- https://youtu.be/DhS61JSgfRU?si=BpdmZoH4hHvJf68T
- https://youtube.com/shorts/UDH\_TGv0cio?si=KLnc1HecPGomSX\_B
- Ilustration book Show\_Then Tell\_7.29
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Maranatha*
### Iets teen Swaarkry en Moegheid - Psalm 143
URL: https://olielamp.vgk.org.za/iets-teen-swaarkry-en-moegheid-psalm-143/
Last updated: 2025-12-05T17:30:47.000Z
Aan die einde van ‘n bedrywige jaar is mens dikwels moeg. Ook is swaarkry niks nuut vir mense hier op die aarde nie. Dit kom duidelik van die begin van die aarde af al aan. God het direk na die sondeval aan Adam en Eva gesê dat swaarkry hul voorland is (Genesis 3:16, 17). Vervolging was ook toe al daar, Kain het Abel doodgemaak uit jaloesie vir ‘n aangenome offer. Ons kan daardie lyne regdeur die geskiedenis trek na ons toe, deur die slawerny in Egipte, na Dawid wat deur sy vyande vervolg is, tot by ons Heiland se lyding aan die kruis. Dan is daar nog die martelaars, Christene in Rome, Christene in China vandag. Ook in ons kringe is daar swaarkry, al is dit nie noodwendig direkte vervolging nie. Elke liewe mens in die geskiedenis het swaarkry ervaar, dit is deel van die gebrokenheid van die sondeval. Daarom is Psalm 143 van Dawid so relevant vir elke lewende siel. Kom ons hou ons Bybels daar oop soos ons na ‘n paar dinge in die Psalm kyk.
Dawid se smeekgebed begin in ellende, waar hy erken dat niemand wat leef voor die aangesig van God regverdig is nie. Dawid se swaarkry in hierdie Psalm gaan hoofsaaklik oor die vervolging deur sy vyande. Hy was moontlik deur Saul vervolg toe hy hierdie Psalm geskryf het.
Dawid voel hulpeloos soos sy gees versmag en sy hart verstyf. Ons ervaar sulke emosies ook. Dit kan dood, siekte, eensaamheid of moegheid wees. Hoe dit ook al sy, ons as mense is verlore sonder ons Here. Alle hoop syfer weg, elke greintjie moed beswyk en dan gaan sit ons in sak en as. Die ashoop is waar ons in elk geval hoort, want ons is van nature dood. Tog, mag ons ongelooflik dankbaar wees, want Christus het vanuit sy majesteit neergedaal aarde toe, het mens geword en gely tot aan sy dood aan die kruis. So het Hy ons weer opgewek uit die dood. Sonder Hom is ons dood, maar deur Hom lewe ons (Johannes 3:18).
Ons mag aan die Evangelie vasklou in tye van swaarkry en onsekerheid. Alhoewel ons onstabiel mag wees, staan ons Rots vas en moet ons ons vertroue in Hom stel (Psalm 143:8). Ons mag vreugde en vrede vind by ons Heiland. Ons mag ons laste op Hom sit, en ons kruis opneem. Ja, hierdie kruis dra het ook gevolge en swaarkry, die wêreld het Christus gehaat (en doen nogsteeds) en haat dan natuurlik sy volgelinge ook! MAAR, ons wil hierdie kruis dra, want ons weet wat die Messias vir ons bewerk het. Dan wil ons ook wandel volgens sy weë (v10). Mag ons in lyn hiermee die volgende in ons gebede bid: “Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land. o Here, maak my lewend om u Naam ontwil”.
Ons moet dan vir Hom lewe elke dag, en daarmee saam besef dat Hy aan ons kant is, want Hy het ons lief. Daarom hoef ons nie bang te wees om ons barmhartige Vader, die God van liefde, te nader vir hulp nie. Dawid klink dalk opdringerig, maar hy (en ons) mag die versoek aan God rig om ons vyande teen te werk, want ons is sy knegte, sy KINDERS! Aan Hom al die eer.
### Gebed (Bid deur die Psalm self)
O Here, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie. Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste. Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande. Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land.
Verhoor my tog gou, Here: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.
O Here, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg. Amen
### Coram Deo
Ja ons sonde is baie, ons ellende en swaarkry groot. So kan jy gou moeg en moedeloos word en in angs en depressie val. MAAR God se genade is meer en Hy is groter as dit alles. Ons is deur sy Seun se bloed vrygekoop en ons is Syne. Ons mag skuiling en rus vind onder sy koesterende vlerke. Waarom sou ons dan vrees?
### Verdere Studie
Johannes 3 en 1 Petrus 3:8-22
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Pretoria Maranata*
### Weet mense ek is 'n Christen?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/weet-mense-ek-is-n-christen/
Last updated: 2025-12-01T20:00:47.000Z
*Geskryf deur Brendan Aartsma, VGK Bellville*
As jy nou al die mense rondom jou gaan vra of hulle weet dat jy ‘n Christen is, wat sal hulle antwoord wees? Sal hulle ‘n definitiewe JA sê, of sal hulle huiwer? As ons na ons alledaagse lewe kyk, moet ons onsself afvra of ons waarlik die lig van Christus uitstraal in alles wat ons doen.
Ons leef in ’n wêreld waar geloof dikwels stilgehou word, asof dit iets persoonliks is wat nie te veel aandag moet kry nie. Dikwels is ons bang om op te staan vir ons geloof, bang vir die gevolge om daaroor te praat en dat dit “uncool” of “cringe” gaan wees. Soms besluit ons om die onderwerp van geloof net heeltemal te vermy sodat ons nie gekonfronteer word nie, dan hou ons die geloof by die kerk en leef soos die wêreld in die res van ons lewe. ‘n Lig is gemaak om in die donkerte te skyn, en Jesus vra van ons om ons lig te laat skyn vir die mense om ons Vader te verheerlik.
Om jou lig te laat skyn beteken nie noodwendig dat jy op elke straathoek hoef te preek of Bybelverse op sosiale media hoef te deel nie. Dit gaan oor die manier waarop jy mense behandel, oor hoe jy praat, optree en reageer, selfs wanneer niemand kyk nie. Dít is waar mense die lig begin raaksien.
Ons dink dikwels dat om ons “lig te laat skyn” groot dinge vra – sendingwerk, liefdadigheidsprojekte of iets wat almal kan sien. Maar meestal gebeur dit in ons alledaagse lewe. Dit is wanneer jy kalm bly in ’n moeilike situasie, of vriendelik is teenoor iemand wat jou sleg hanteer het. Dit is wanneer jy eerlik bly in ’n wêreld waar almal die maklike, breë pad vat.
Om Christenskap uit te leef, is nie om altyd reg te wees nie, dit is om ander mense te laat voel dat hulle gesien, gehoor en waardeer word. Dis wanneer jou gesindheid God se liefde weerspieël, selfs al sê jy niks direk daaroor nie.
Om jou geloof uit te leef, veral in vandag se wêreld, kan moeilik wees. Mense verstaan dit nie altyd nie, en soms voel dit net makliker om stil te bly. Maar, die mooi ding is, die lig wat in jou skyn, kom nie uit jouself nie, dit is God se lig in jou. Ons hoef nie perfek te wees om God se liefde uit te straal nie. Inteendeel, dit is juis in ons swakheid waar mense sien hoe God se genade werk. As jy struikel, staan weer op. As jy moeg voel, vra vir krag. Dis nie jou eie lig wat skyn nie, dit is Syne deur jou.
*My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.* \- 2 Korinthiërs 12:9-10
Ons hoef nie altyd groot dinge te doen om ’n verskil te maak nie. Soms is dit jou glimlag vir iemand wat af voel, jou gewilligheid om te help, of jou keuse om vrede te maak eerder as om reg te wees. Só wys ons vir mense wie Christus is, nie net deur ons woorde nie, maar ook deur hoe ons leef.
So dalk is die vraag nie net: “Weet mense dat ek ’n Christen is?” nie, maar eerder: “Sien hulle iets van Christus in my?” Wanneer ons elke dag met hierdie ingesteldheid leef, begin ons wêreld stadig maar seker ligter word.
### Karakter van God – Trou
URL: https://olielamp.vgk.org.za/karakter-van-god-trou/
Last updated: 2025-11-26T17:10:57.000Z
**Lees**: Hosea 1-3
> “*As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.*”
> \- II Timótheüs 2:13
Ons het reeds gekyk na God se genade, barmhartigheid, lankmoedigheid en goedertierenheid, so kom ons dan by die 5de en laaste eienskap in Exodus 34:6 - Trou.
### Die Huwelik as beeld van God se trou
‘n Huwelik is die beste voorbeeld van trou en liefde. Dit is dan ook hoekom dit ‘n kragtige beeld is wat in die Bybel gebruik word om God se verhouding met ons te verduidelik. In die Bybel praat die Here gereeld daaroor dat Hy vir die volk soos ‘n man is. Hy is lief vir hulle. Hy sorg vir hulle. In Jesaja hoofstuk 54 lees ons hoe die Here sê "Jou Maker is jou Man”. En "soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees", vervolg Jesaja in hoofstuk 62:5\.
Verder kan ons ook uitsien na die dag wanneer die Here weer kom. In Openbaring lees ons dat die heilige stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel neerdaal, toebereid soos 'n bruid wat vir haar man versier is (Openbaring 21) – dan sal die bruilof van die Lam aanbreek (Openbaring 19:7).
Regdeur die Bybel, sien ons dus dat die Here se verhouding met sy volk vergelyk word met die verhouding tussen 'n man en 'n vrou, en dat die verbond vergelyk word met 'n huwelik. Pragtig - daar is min beelde wat so tot ons harte spreek soos die beeld van die huwelik.
### Hosea en huweliksontrou
Maar dit kan ook baie anders wees. Die Here kom na ons met die skokkende beeld van ‘n gebroke huwelik. Hierdie beeld word veral duidelik gemaak in die lewe van Hosea. Hy was ‘n profeet met ‘n baie unieke en moeilike opdrag. Met sy lewe moes hy God se teleurstelling, maar ook God se diepe liefde en onverstaanbare trou, uitbeeld.
Hosea kry die swaar opdrag om met 'n hoervrou te trou. Dink jouself dit in. Hosea is gehoorsaam, hy trou met Gomer. Maar na hulle drie kinders gekry het loop Gomer weg, sy val terug in haar ou lewe van hoerery. En dan, ná 'n tyd, kry Hosea die byna ondenkbare opdrag: hy moet haar gaan terugkoop (Hosea 3:1-2). Gomer kom nie eens smekend terug nie, nee, Hosea moet haar letterlik gaan terugkoop.
Hoe erg Hosea se huwelik ook al was, ons verstaan natuurlik dat dit hier oor baie meer gaan. Uiteindelik is Hosea se huwelik 'n uitbeelding van die Here se verhouding met sy volk.
Israel (God se eie volk) tree op soos 'n prostituut. Die Here sê in hoofstuk 1:2: "Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want (en dan gee die Here die rede) die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word." Net soos wat Gomer herhaaldelik ontrou was, so was Israel herhaaldelik ontrou:
- Israel het nie die Here alleen gedien nie (Hosea 4:13, 8:11, 10.1).
- Israel het gekies vir 'n lewensstyl van gierigheid, rykdom en genot. Hulle het die mense rondom hulle bedrieg en bedreig net om ryk te word (Hosea 4:2; 7:1).
- Israel het die Here se gebooie en insettinge vergeet (Hosea 8:12) en soos die ander nasies geword.
- Israel was voortdurend daarop uit om bondgenootskappe met die omringende volke te sluit. Hulle vertrou eerder op Assirië of Egipte, as op die Here (Hosea 7:11, 8:9; 12:2).
### Oordeel
Vir eeue lank is God geduldig en stuur hy keer op keer profete, maar nou moet hulle die gevolge dra. Hy gee Israel oor aan haar hoerery. Gomer gaan weg, sy val in haar ou lewe terug, maar dit lei uiteindelik tot armoede en slawerny. Die owerspelige volk wil weggaan van die Here, Hy laat hulle gaan. Hulle dien ander gode en vertrou nie meer op Hom nie, maar uiteindelik lei dit tot hulle ballingskap.
Die Here laat sy volk oor aan hulleself – hulle sal weggevoer word deur die einste volk op wie hulle hul vertroue wou stel: "Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb"(Hosea 10:6). Die Here se liefde is vertrap, sy geduld kom uiteindelik tot uitbarsting in sy oordeel in die ballingskap. Van sy kant af gaan die Here Homself van die verhouding onttrek (Hosea 5:15).
### Die Here se onbeskryflike liefde en trou
Gelukkig is dit nie die einde nie. Selfs in God se oordeel word sy trou sigbaar. Die Here is bereid om die skeiding van die ballingskap te verdra, solank dit maar net tot 'n verbetering van die verhouding sal lei. Dit word pragtig uitgebeeld in die feit dat Hosea sy hoervrou opnuut op die slawemark gaan koop. Die pynlike skeiding was nie finaal nie!
Ten spyte van die hoerery en oordeel wil Hosea ons verstom laat staan oor God se liefde. Lees net wat die Here oor sy ontroue bruid sê: "Hoe kan ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?... My hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek" (Hosea 11:8). "Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek" (Hosea 11:4). En die Here wys in die laaste klompie hoofstukke dat hierdie liefde God se karakter is regdeur die geskiedenis (Hosea 2:8, 9:10, 11:1-3, 12:13, 13:5-6 ).
Die vraag is: hoekom hou God aan om trou te wees ten spyte van hulle ontrou? Die rede vir God se trou lê ten diepste in Homself, sodat Hy in Hosea 14:5 kan sê: "Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend." Is dit nie ongelooflik nie? Die Here sê Hy sal hulle (en ons) vrywillig liefhê. Dit is die geheim en die pragtige boodskap van die Bybel, God se liefde en trou is deel van sy karakter, Hy bewys dit net omdat Hy wil, omdat dit is wie Hy is! Só kom daar hoop op herstel. Op geen ander manier as deur die Here se genade nie. Deur sy vrywillige liefde word die volk verander in 'n troue vrou, wat nie meer sê "My Baäl nie", maar 'n volk wat die Here vol liefde aanspreek as "My man!" (Hos. 2:15).
### Toepassing
Ons is die gemeente vir wie Christus Homself oorgegee het om ons soos ‘n vlekkelose bruid voor sy Vader te kan stel. As ons na ons eie lewens kyk dan moet ons erken dat ons baie ver van vlekkeloos is. Ons maak baie keer afgode van geld en eie plesier. Ons het naas die Here ook nog ander dinge waarop ons ons vertroue stel (werk, versekering, medisiesefonds). Ons begin self besluit wat reg en verkeerd is, na watter wette van die Here ons hoef te luister; ons lieg en skinder. Net soos Israel in die tyd van Hosea raak ons soos die heidene rondom ons.
Ons moet elkeen na onsself kyk en dink: watter tipe Christen is ek? Is ek nog ‘n getroue bruid van die Here? Of het ek op sekere punte in hoerery verval? En as ons in hoerery verval het, dan moet ons onthou dat die Here nie die sonde ongestraf laat bly nie (Exodus 34:7)
Maar dis nog belangriker om sy huwelikstrou te sien. Sy trou wat maak dat sy hart in Hom omkeer van pyn wanneer sy kinders ongehoorsaam is. Sy trou wat maak dat Hy ons elke keer maar weer soek en na Hom terugbring. Sy troue liefde wat gemaak het dat Hy sy ontroue vrou – die kerk – teen die duurste denkbare prys gekoop het. Hy het ons vrygekoop met die bloed van sy eie Seun.
Dit is wat dit beteken dat die Here trou is: ‘n pragtige, ondenkbare en baie diep karaktereienskap van God.
### Gebed
Here, God, ons skaam ons diep oor ons ontrouheid in ons verhouding met U. Baie dankie dat u getrou bly ten spyte van alles wat ons doen. Dankie dat U ons vrygekoop het met die kosbare bloed van u eie Seun.
### Bronne
- Pos, R. (2019) ‘Die Trou van die Here aan Sy verbond, is vele mate groter as wat ons besef’, Beskikbaar op: [https://www.vgk.org.za/preke/25246](https://www.vgk.org.za/preke/25246?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Van Alten, H.H. (2021) ‘Israel se hoerery en die Here se trou’, Beskikbaar op: [https://www.vgk.org.za/preke/25516](https://www.vgk.org.za/preke/25516?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Wat bid ons as ons sê: laat U Koninkryk kom?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-bid-ons-as-ons-se-laat-u-koninkryk-kom/
Last updated: 2025-11-22T07:00:07.000Z
*Geskryf deurAntoinette Groenveld, VGK Pretoria*
Wat is die eerste gedagte wat in jou kop opkom as jy aan ʼn soldaat dink? Ek sien ʼn soldaat wat gereed staan met sy harnas en spies om, vir ʼn sekere doel, te verdedig of aan te val. Ons as Christene word beveel om die volle wapenrusting van God aan te trek. Sien ons die gevaar raak en trek ons die VOLLE wapenrustig aan? Of is ons bangbroeke of verraaiers? Stry ons genoeg vir die waarheid by die universiteit, werk of skool? In verband hiermee, bid ons, “laat U Koninkryk kom.” Dit is ‘n versoek aan God wat heelwat inhou.
Eerstens word ons gebruik as Sy soldate om Sy koninkryk uit te brei. Twyfelaars of verraaiers is gevaarlik vir die inval. As die Opperaanvoerder dit nodig vind om te stry vir die waarheid, moet ‘n solaat daarvan oortuig wees. Christus wil ons lewe regeer en jy moet jou aan Hom onderwerp. Die wapens wat Hy vir ons gee is Sy Woord en Gees. Ons as soldate word deur hierdie twee middele opgelei en voorberei vir die stryd. Hy deel Sy strategie vir ons en verduidelik vir ons hoe om te lewe. Die Onse Vader gee ons ʼn patroon hoe om te leef. Gebed is nie ʼn aparte deel van ons lewens nie, maar dit is hoe ons tot aksie kom. Om gehoorsaam aan Hom te wees, moet ons onsself aan Hom onderwerp. As gevolg van die sonde doen ons dit nie van harte nie. Daarom moet ons die ou mens afsterf en in die nuwe mens lewe. Ons moet deur Sy krag, onsself daagliks vernuwe.
> “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
> \- Johannes 3:3
Uit ons sondaar oogpunt staan ons verbaas hoe die kerk nog steeds bestaan. Psalm 127:1 gee ons vertroue dat God Sy kerk deur die eeue bewaar en vermeerder: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Die kerk is die begin van herstel van Sy koninkryk. Hy vernietig die mag van die duiwel. Die kerk word egter nog omring deur ʼn vyandige gebied. Daarom moet ons bid dat Hy die kerk (gelowiges) bewaar. Ons, die lede van die kerk, moet onsself ook afvra: Hoe lyk ons lewensstyl in ‘n vyandige (geestelike) gebied wat nie gehoorsaam aan Christus se koninkryk is nie? Hierdie is ʼn onvaste stad en dit gaan omval. Of probeer jy, deur die krag van die Heilige Gees, die versoekings te weerstaan om jou lewe rein te bewaar? Stel jy dit in diens van God se koninkryk omdat jy aan Sy kerk mag behoort? Gebed en vertroue op God is nodig vir die bewaring en vermeerdering van die kerk.
Derdens moet ons bid dat die werke van die duiwel vernietig word. Ons moet bid dat God ons oë sal oopmaak om die duiwel se valstrikke raak te sien. Ons moet ook bid dat die heerskappye wat hulle teen Christus gedraai het, vernietig word. Die duiwel se strategie begin baie keer met iets wat mooi en onskuldig is. Maar sy doel is dodelik. Iets soos ʼn film, wat jou geloofslewe negatief kan beïnvloed. ‘n Taktiek daarteen is om van die gevaar bewus te wees en dit positief aan te val. Om die Bybel te lees en tyd te maak vir die goeie, sodat daar nie meer tyd vir die slegte is nie. Dan kry jy ook ʼn weersin in die slegte, en aan dit wat grens aan sonde. Sorg daarom dat jy ‘n warm en toegewyde verhouding met God het, dit help dat jy Sy gawes verantwoordelik kan gebruik. Jy moet ʼn bewuste keuse maak, want dit beteken nie dat jy nou outomaties voor God reg staan omdat jou voorouers reg gekies het nie. Is jy bereid om jou lewe onder God se gesag te plaas of glo jy die duiwel se leuens?
Vierdens moet alle bose planne wat teen die Woord bedink word, vernietig word. Die satan kry dit reg om tot in die hart van die mens te infiltreer. Een voorbeeld hiervan is dat mense hulself op dieselfde vlak van gesag as die Bybel plaas en niemand hulle mag kritiseer nie. Vroeër was die Bybel in Latyns en die pous in die Roomse kerk het gesê dit is te moeilik vir die gewone mense. Net die priesters en biskoppe mog die Bybel aan die mense verduidelik. Hoe ʼn groot armoede is dit nie! As gevolg van die onverstaanbare taal kon mense die Woord nie deel van hulle daaglikse lewe maak nie. Die groot gevaar hiervan is dat die pous dieselfde gesag as die Bybel gekry het. As jy jou Bybel lees, spreek die Heilige Gees direk tot jou.
Laastens word ons getroos dat ons Generaal se planne vas staan en Hy sal oorwin. God se koninkryk sal seëvier oor die duiwel se ryk (Romeine 16:20). Elke nasie sal aan Hom verantwoording moet doen. Hy sal op die wolke terugkom en geen wêreldse ryk sal voor Hom kan bestaan nie. Satan het nie ʼn plek in God se vrede nie.
> “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
> \- Romeine 8:38-39
God verander ons ingesteldheid, Hy maak ons medestryders in Sy koninkryk. As medestryders bid ons met reikhalsende verlange, vir die koms van die koninkryk, wanneer God alles in almal sal wees (1 Korinthiërs 15:28). Hierdie toekoms verwagting gee ons hande en voete vir ons lewe. Ons mag diensbaar wees om Sy koninkryk op te bou.
### Bronnelys
- *Ds. M.J. Booyens. 2007\. Laat My Lammers wei.*
- *PG Boon. 2013\. Sondag 48: Medestryders bid vir die koms van die koninkryk. https://www.vgk.org.za/preke/24714*
- *J Bruintjes. 2020\. Die gebed van die Christen. https://www.vgk.org.za/preke/25859*
### Karakter van God - Goedertierenheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/karakter-van-god-lankmoedig-2/
Last updated: 2025-11-19T17:00:59.000Z
**Lees**: Psalm 136 (lees dit een keer met die refrein en weer sonder die refrein)
> *Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.*
> *Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.*
> *Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.*
> \- Psalm 136: 1-3
Ons trek nou al by die vierde karaktereienskap van God. In hierdie oordenking let ons op God se goedertierenheid.
### Wat beteken die woord goedertierenheid?
Dit is nie ‘n algemene woord wat ons in ons daaglikse lewe gebruik nie. Dit is nie net ‘n moeilike woord omdat dit nie algemeen gebruik word nie, maar selfs die mense wat die Bybel vertaal het, het gesukkel om te besluit wat die beste manier sou wees om die betekenis daarvan vas te vang. Die oorspronklike woord is *Hesed*, ‘n baie ryk Hebreeuse woord. Dit is ‘n kombinasie van liefde, genade, omgee, trou, toewyding en lojaliteit. Dit is dus regtig die diepste manier van lief wees vir ander - ‘n liefde wat nie oppervlakkig is nie, ‘n liefde wat vir altyd aanhou, en ‘n liefde wat getrou bly onder alle omstandighede. In die 2020-vertaling word dit vertaal as “troue liefde”.
Hierdie beskrywing van God se karakter kom 250 keer al in die Ou Testament voor, en daarom kan ons weet dat dit regtig is wie God is. Hierdie liefde is op ‘n veel groter en dieper vlak as wat ons liefde verstaan of ooit vir iemand sal kan gee. Sy liefde is oneindig, dit hou vir ewig aan, dit kan nie op raak nie en het geen grense nie. Dink aan die see, ons dink dit is ‘n oneindige hoeveelheid water, maar slim wetenskaplikes kan uitwerk hoeveel kiloliters dit is. Of dink aan die sterre, op ‘n mooi helder aand kan dit soms lyk of daar oneindig baie sterre is, maar tog is daar mense wat al uitgewerk het hoeveel daar ongeveer is. Dit is voorbeelde van dinge wat ons dink is ontelbaar, of oneindig groot of baie, maar selfs dit het nog ‘n limiet, ‘n einde, is nog meetbaar of berekenbaar. God is oneindig, onmeetbaar, en ons kan nie met ons breine sy grootheid omvat nie. In 1 Konings 8:27 sê Salomo “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.”
### Hoe kan ons seker wees van God se goedertierenheid?
Een van die mooiste Bybelgedeeltes oor God se goedertierenheid is Psalm 136\. In hierdie Psalm lees ons 26 keer die woord goedertierenheid, mens raak amper verveeld daarvan. Maar, tussen die refrein gee die digter vir ons 3 redes om op God se goedertierenheid te vertrou: In die eerste plek sien ons God se goedertierenheid in die skepping (vers 4-9), tweedens is die geskiedenis van die volk Israel vir ons ‘n bewys (vers 10-22) en laastens ervaar ons dit in ons persoonlike lewe deur God se voorsienigheid en beskerming (vers 23-25).
### Die troos vir ons!
Hoekom bewys God hierdie onverstaanbare troue liefde aan sy volk en aan ons? God is niks aan ons verskuldig nie. Maar, God sy dank, troue liefde is deel van sy karakter en Hy is onveranderlik. Hy hou sy verbond met Abram, Isak, en Jakob. Dit is ook waarop Moses hom beroep in Exodus 32:9-14, as hy vir God vra om goedertieren te wees.
God hou ook die oer-oue moederbelofte. God se troue liefde word die duidelikste uitgedruk in God die Seun se menswording: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Dit is vir ons ‘n pragtige troos.
In Christus is ons as kinders van God aangeneem. Die troos van God se goedertierenheid werk daarom deur na alle fronte van ons lewe. In ons alledaagse lewe kan ons op God se liefde vertrou vir ons daaglikse brood en versorging. Maar meer nog, ons kan ook sy liefde vir ons ewige lewe vertrou: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39)
God se goedertierenheid, sy troue liefde, is oneindig en niks kan ons van sy liefde skei nie. Mag ons ook vandag weer in hierdie vertroue lewe.
### Gebed
Dink, Here, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o Here! Amen.(Psalm 25: 6-7)
### Coram Deo
Goedertierenheid, of troue liefde, is deel van God se karakter. Sy liefde strek verder en gaan dieper as enige liefde wat ons as mense ooit kan gee. Dit is onvoorwaardelik en oneindig groot. Sy troue liefde het sy hoogtepunt daarin bereik dat Hy ons eerste liefgehad het en sy Seun geoffer het toe ons nog vyande was. Antwoord hierop deur Hom bo alles lief te hê.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Onse Vader – “Laat U Naam geheilig word”
URL: https://olielamp.vgk.org.za/onse-vader-laat-u-naam-geheilig-word/
Last updated: 2025-11-15T19:30:35.000Z
*Geskryf deur Liana Rousseau, VGK Bellville*
Ek onthou nog hoe my mamma en pappa altyd hulle hande gevou het voor slaaptyd en die *Onse Vader* saam met ons kinders gesing het. Die woorde: “Laat U Naam geheilig word.” As kind het ek dit net opgesê; as tiener/volwassene het dit vir my ’n anker geword.
Die Heidelbergse Kategismus verduidelik hierdie bede in Vraag en Antwoord 122 só:
> “Dit is: Gee dat ons U reg ken en U heilig, roem en prys in al U werke waarin U almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid helder skyn. Gee ook dat ons hele lewe – gedagtes, woorde en werke – daarop gerig is dat U Naam deur ons nie gelaster nie maar geëer en geprys word.”
In ons kultuur is ’n naam net ’n etiket, ’n manier om iemand te onderskei van ander. In die Bybel is ’n Naam veel meer. Dit verteenwoordig die persoon se karakter en teenwoordigheid. Toe Moses by die brandende bos vra wie God is, het Hy geantwoord: “Ek is wat Ek is” (Eksodus 3:14). Dit is nie net ’n titel nie; dit is God se wese, sy selfbestaan, sy betroubaarheid. Psalm 9:10-11 sê: “Die Here is ’n toevlug vir die verdrukte… Dié wat U Naam ken, vertrou op U, want U verlaat nooit dié wat U soek nie.” Om God se Naam te ken, is om Homself te ken en op Hom te vertrou. Wanneer ons dus bid: “Laat U Naam geheilig word,” sê ons eintlik: “Here, laat my U reg ken. Laat ek nie ’n vertekende beeld van U dra nie. Laat ek U leer ken soos U werklik is.”
“Heilig” beteken afgesonder (anders, suiwer). In Jesaja 6 sien die profeet die Here op ’n hoë troon, omring deur serafs wat uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige, die hele aarde is vol van sy heerlikheid” (Jesaja 6:3). Jesaja se onmiddellike reaksie was: “Wee my, ek is verlore!” Die heiligheid van God is nie ’n koue eienskap nie; dit is sy majesteit wat my klein maak en my laat besef hoe afhanklik ek van Hom is. Om te bid dat God se Naam geheilig word, is om te vra dat mense Hom só sal sien: nie as ’n verlengstuk van ons begeertes nie, maar as die Here wat bo alles verhewe is. Dit is om te vra dat ons eie harte nie sy Naam ligsinnig gebruik nie, maar eerbiedig en met ontsag nader. Die Kategismus begin sy verduideliking met “gee dat ons U reg ken.” Kennis van God is nooit maar net ’n intellektuele oefening nie. Hoe meer ons Sy almag, wysheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid in ons eie lewe raaksien, hoe meer word ons hart gevul met lof.
Jeremia 9:23–24 sê: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie… maar wie hom wil beroem, laat hom hierop roem: dat hy insig het en My ken, dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid op die aarde bring.” So begin hierdie bede by ’n begeerte om God beter te leer ken. Dit is asof Jesus ons leer: “As jy regtig wil leer bid, begin deur na jou Vader te kyk – leer Hom ken – en dan sal jou gebed in lof verander.”
Maar die bede stop nie by kennis en lof nie. Dit vra dat ons hele lewe – gedagtes, woorde, werke – gerig is op God se eer. Jesus sê in Matthéüs 5:16: “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Wanneer jy jou werk eerlik doen, jou kinders met geduld opvoed, jou naaste uit liefde help, of jou vyand vergewe, heilig jy God se Naam – jy wys sy karakter in jou optrede. Maar wanneer ons onverskillig of onregverdig leef, word sy Naam deur ons blemmer en ondermyn. Paulus sê in Romeine 2:24: “Die Naam van God word ter wille van julle onder die heidene gelaster.” Om te bid “Laat U Naam geheilig word” is dus om te sê: “Here, laat my lewe ’n venster wees waardeur ander U kan sien.”
Ons tyd moedig ons aan om ons eie naam groot te maak – volgelinge te kry, erkenning te soek. Maar Jesus leer ons om eers te bid vir God se Naam. Johannes die Doper het dit pragtig gestel: “Hy moet meer word en ek minder” (Johannes 3:30). Hierdie bede trek my ego van die troon af. Dit herinner my dat ek nie die middelpunt is nie, en dit leer my om te bid: “Here, laat my lewe nie oor my gaan nie, maar oor U. Laat U Naam, nie myne nie, groot wees.”
Dis maklik om God se Naam te prys wanneer die lewe glad verloop. Maar die toets kom in donker tye. Job, wat alles verloor het, het gesê: “Die Here het gegee, en die Here het geneem; die Naam van die Here sy geloofd” (Job 1:21). Selfs in sy pyn het hy geweier om God se Naam te laster. Dit wys dat hierdie bede nie net ’n loflied in goeie tye is nie, maar ook ’n anker in swaarkry: “Here, laat selfs my trane en my swaarkry U Naam verheerlik.”
Let op: ons bid nie “My Vader” nie, maar “Ons Vader.” Hierdie bede is nie net persoonlik nie, maar gemeenskaplik. Jesus bid in Johannes 17:21 dat sy volgelinge een mag wees “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” As ek hierdie bede bid, bid ek dus ook vir ons geloofsgemeenskap: “Here, maak ons ’n helder getuienis van U heiligheid.” Al voel ons soms klein in ons pogings, weet ons: God self sal sorg dat sy Naam geheilig word. Hy het sy heerlikheid ten volle in Jesus Christus gewys: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon… vol genade en waarheid” (Johannes 1:14). En eendag sal dit volmaak wees: “...dat in die Naam van Jesus elke knie sal buig en elke tong sal bely: Jesus Christus is Here, tot eer van God die Vader” (Filipense 2:10–11). Hierdie bede gee ons hoop: ons is deel van iets groots wat God self aan die werk is om te voltooi.
Die eerste bede van die *Onse Vader* is kort, maar dit is allesomvattend. Dit leer ons dat gebed nie begin by ons behoeftes nie, maar by God se eer. Dit nooi ons om God reg te ken, sy heiligheid te bewonder, ons lewe as getuienis te leef, ons ego af te lê, en selfs in swaarkry sy Naam te verheerlik.
Elke keer as ons bid: “Laat U Naam geheilig word,” vra ons dat ons lewe – en ons wêreld – ’n verhoog sal wees waarop God se karakter helder skyn. Dit is nie net ’n sin in ’n gebed nie; dit is ’n lewenshouding wat my geloof verdiep en my gebede transformeer. Hierdie bede herinner ons ook dat ons eie roem nie voorop moet staan nie. In ’n samelewing waar mense graag hul eie beeld wil bevorder, leer Christus ons om God se eer eerste te stel. Om te bid dat sy Naam geheilig word, is om te verlang dat sy lig deur ons sal skyn – sodat ander Hom raaksien en verheerlik.
So word gebed uiteindelik ’n daad van lof: om God se eer bo alles te soek, op aarde net soos dit reeds in die hemel gebeur. Om iets te heilig beteken om dit af te sonder en as kosbaar en eerwaardig te erken. Wanneer ons vra dat God se Naam geheilig moet word, erken ons dat sy Naam uniek is, verhewe bo alle ander name. Dit sluit in dat ons nie sy Naam ydel gebruik nie, maar Hom met eerbied aanroep. Dit beteken ook dat ons dade ons belydenis moet weerspieël: dat ons as sy kinders leef op ’n manier wat sy grootheid uitstraal. Die Kategismus wys daarop dat God se Naam geheilig word wanneer ons Hom reg leer ken, Hom in alles prys en verheerlik, en sodat ons hele lewe daarop gerig is dat sy eer, nie ons s’n nie, sigbaar word. Ons vra dat God ons gedagtes en optrede sal verander, sodat mense deur ons woorde en werke Hom sal erken.Dit sluit gemeentes in wat getrou sy Woord verkondig, gesinne wat saam bid en sy Naam loof, en gelowiges wat in die daaglikse lewe getuig van sy liefde en waarheid. Selfs ons werk, studies en omgang met ander behoort ’n weerspieëling te wees van sy heiligheid.
Wanneer ons dus bid: “Laat U Naam geheilig word,” vra ons eintlik dat die Here alles in ons lewens – ons denke, ons woorde en ons dade – so sal gebruik dat sy eer bo alles sigbaar word. Dit is ’n nederige erkenning dat ons dikwels geneig is om ons eie naam groot te maak, maar dat dit alleen die Naam van God is wat vir ewig staan.
Hierdie eerste bede herinner ons daaraan dat alle gebed God-gesentreerd begin. Dit is ’n oproep tot aanbidding, tot dankbaarheid en tot ’n lewe wat Hom in alles erken. Wanneer ons so bid en leef, word ons self verander en begin ons sien hoe God se Naam in die wêreld verheerlik word.
Olielamp links: [Oordenkings](https://olielamp.vgk.org.za/tag/oordenkings/) | [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Karakter van God - Lankmoedig
URL: https://olielamp.vgk.org.za/karakter-van-god-lankmoedig/
Last updated: 2025-11-12T18:00:46.000Z
*“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”* (2 Petrus 3:9)
Die derde karaktereienskap wat ons in Eksodus 34:6 kry is lankmoedigheid. As ons die woord afbreek, beteken dit letterlik dat jy lank moed hou. Lankmoedigheid beteken ook dat jy met die swakhede van ander kan uithou, geduldig met ander kan wees. In die konteks van Exodus 34 beteken dit: stadig om kwaad te word.
### Wat God se lankmoedigheid NIE beteken NIE
Ons het baie keer so ‘n verkeerde beeld van wat dit beteken dat God lankmoedig is. Hier is twee foute wat ons dikwels maak as ons oor God se lankmoedigheid dink.
Die eerste fout is om te dink dit beteken dat God glad nie kwaad raak nie. God is net liefde en Hy sal mos nie mense met die dood of selfs met die hel straf nie. Dit is waar dat God liefde is, Hy is inderdaad genadig en vergewe sonde, maar Hy is ook regverdig. God straf sonde. Dit is dus belangrik dat ons besef God word seergemaak en beledig deur elke sonde wat ons doen.
Die tweede fout is om te dink die Here se lankmoedigheid soos ‘n ballon is. As jy ‘n ballon opblaas, raak dit groter en groter totdat dit op die ou-end bars. Sommige mense dink die Here is geduldig, en dan skielik ontplof Hy, wanneer Hy sy limiet bereik. Ook dit is nie wat God se lankmoedigheid beteken nie.
Die Here is oneindig geduldig. Ja, soms straf Hy; soms stuur Hy selfs vuur uit die hemel, maar Hy tree nooit onbeheerst op nie. As ‘n ballon bars skiet die stukke alle kante toe. Dis stukkend en jy sal dit nooit weer kan regmaak nie. As ons ontplof maak ons skade. Ons verloor ons selfbeheersing. As God straf, is dit altyd vir ons beswil.
### Wat leer die Bybel ons oor God se lankmoedigheid?
Die Bybel praat baie oor God se lankmoedigheid. Dit is nie moontlik om na alle tekste te verwys in ‘n oordenking nie, maar hier is drie voorbeelde:
1. God se lankmoedigheid oor die Amoriete: In Genesis 15 sluit die Here ‘n Verbond met Abram. In vers 16 sê God dat die Amoriete se maat nog nie vol is nie, God wil nog lankmoedig wees. Hierdie volk het afgode gedien en kinders geoffer. Die Here was 600 jaar geduldig voor Hy Israel gebruik het om hulle te straf.
2. God se lankmoedigheid oor Israel: As ons die Bybel lees kom ons al gou agter dat die Israeliete nie ‘n baie gehoorsame volk was nie. Elke keer weer begin hulle afgode dien. Die tienstammeryk het nie een gelowige koning gehad nie. Die Here het 200 jaar lank profete gestuur voor hulle weggevoer is deur die Assiriërs. Netso het die Here die tweestammeryk 340 jaar verdra voor hulle in ballingskap weggevoer is. Selfs toe kon hulle na 70 jaar terug kom.
3. Lankmoedigheid in die verhaal van Jona: Die Here stuur vir Jona om vir die goddelose mense van Nineve te gaan preek. Die Here is so genadig om hierdie volk, wat niks met hom te doen wou hê nie, te waarsku. Dit is ook die Here wat die wonder werk dat hulle hul bekeer. Jona is kwaad hieroor. Die Here leer vir Jona met die voorbeeld van die boom dat Hy omgee vir die mense en lankmoedig oor hulle wil wees.
Deur al die eeue van die Ou Testament het God sy lankmoedigheid daarin getoon dat Hy bereid was om die skuld van die mense te verdra. Die Ou Testament het tot ‘n einde gekom, toe God sy eie Seun na die aarde gestuur het, om as Middelaar al die skuld op sy skouers te laai. Dit bring ons by die volmaakte voorbeeld van Christus. Hy het alle reg om aanbid en vereer te word gelos en het geduldig al ons straf oor Hom laat kom. God se lankmoedigheid het ‘n toppunt bereik aan die kruis.
### Toepassing vir ons
Die eerste toepassing is: Kom na God toe. Ons almal weet hoe sondig en swak ons is; dit kan ons bang maak. Ons wil dan soos Adam en Eva wegkruip vir God. God se lankmoedigheid herinner ons dat ons die teenoorgestelde moet doen. God sê in die gelykenis van die verlore seun dat Hy vir ons wag om ons te bekeer. As ons ons bekeer neem Hy ons weer as Sy kinders aan.
Die tweede toepassing is dat ons nie self wraak mag neem nie. Ons moet Christus se voorbeeld volg (1 Petrus 2:20-24). Die Bybel sê as jy ‘n Christen is, gaan jy ly (2 Timotheüs 3:12). Verdra dit. Volg Christus se voorbeeld wat nie teruggeveg het nie, selfs nie met woorde nie. Ons moet en kan deur sy krag volharding toon.
Derdens: God werk dit in ons. Om ongeduldig te wees, is baie van ons se swakpunt. Gelukkig hang dit nie van ons af nie. Dink aan Moses. Toe hy ‘n jong man was, het hy ‘n Egiptenaar doodgeslaan. Maar, die Here het hom verander, sodat hy die middelaar van die Ou Verbond kon wees. Ons lees selfs in Numeri 12:3 “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”
Laastens dink na oor wie jy is. Lankmoedigheid beteken dat jy baie bewus is van die feit dat jy self baie gebreke het, en dat ander mense ook met jou moet uithou. As ons besef wat die Here vir ons gedoen het, hoe groot sy lankmoedigheid teenoor ons is, sal ons anders na ons medemens kyk.
### Gebed
Lankmoedige God en Vader, dankie dat U so met ons geduld het. Dankie dat U altyd gereed staan om ons te vergewe en ons weer as U kinders aan te neem. Here, laat hierdie besef deurwerk in ons lewe, sodat ons ook U lankmoedigheid kan weerspieël na almal rondom ons.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Bronne
Ds PG Boon, “Danksy Christus is God lankmoedig. Deur Christus se Gees word ons ook lankmoedig.”, [https://www.vgk.org.za/preke/25295](https://www.vgk.org.za/preke/25295?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Die Olielamp in 2025 – ‘n Verslag
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-in-2025-n-verslag/
Last updated: 2025-11-10T17:00:44.000Z
[Die Olielamp in 2025 – ‘n VerslagDie Olielamp in 2025 – ‘n Verslag.pdf1 MBdownload-circle](https://olielamp.vgk.org.za/content/files/2025/11/Die-Olielamp-in-2025--------n-Verslag-1.pdf "Download")
Hierdie jaar was anders as die vorige twee jare in verskeie maniere. Nuwe uitbreidings in die Olielamp het vir ons lesers en luisteraars nuwe en meer maniere gegee om hulself weekliks te voed met Christelike materiaal. Deur die uitbreidings mog ons ook nuwe redaksielede verwelkom en so as span groei.
Die redaksie se lamp sou al lankal uitgedoof gewees het as ons slegs motivering in statistiek en nommers gesoek het. Al gee statistiek vir ons ‘n aanduiding van groei en potensiale strategie, strek die Olielamp vêr verby wat ons as mense definieer as sukses. Die Olielamp is immers ‘n roeping (Handelinge 1:8) en ‘n weerklinking van die Woord (Handelinge 4:19-20) – ‘n pragtige manier waarop God sy gemeente vergader regoor die wêreld! Deur die skrywers, redaksielede, taalversorgers, potgooi aanbieders en gaste, klankversorgers, en bemarkers se besige skedules heen, besef ons dat dit slegs genade uit God se hand is dat die lamp elke week nog mag brand!
Die doel van hierdie verslag is om te verstaan hoe ons as Olielamp mog groei die afgelope jaar. Statistiek en terugvoer laat ons toe om te verstaan wie ons leser is, hoe laat om te publiseer, en dies meer. Ons wil ook graag ons lesers en luisteraars ‘n oorsig gee van die stand van die Olielamp as ‘n weerspieëling van God se genade. Ons wil Hom verheerlik in alles wat ons doen en sodoende, as die Here wil, vorentoe kyk na ‘n geseënde 2026! Ons hoop van harte dat julle hierdie verslag nuttig, interessant, en opbouend sal vind!
> *“Dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God” (Filippense 1:8-11)*
Die Olielamp Redaksie
### Boererate tot die aandelemark
URL: https://olielamp.vgk.org.za/boererate-tot-die-aandelemark/
Last updated: 2025-11-08T12:00:16.000Z
*Geskryf deur Gerhard Burger, Gereformeerde Kerk Wonderboom*
Binne die Gereformeerde geloof word Christene geroep om God te eer met alle aspekte van hul lewens, insluitend die gebruik van rykdom. Die Skrif leer dat rykdom nie verkwis moet word in hebsugtige strewes nie (Lukas 12:15), en ook nie roekeloos gewaag moet word in die hoop op skielike wins nie (Spreuke 28:20). As gevolg hiervan is dobbelary lank reeds as 'n sondige praktyk verwerp. Ons kinders word groot gemaak om weddery speletjies te vermy en hul nie te steur aan lotto-advertensies wat oor die radio en TV uitgesaai word. Nogtans is dit nie vreemd om te hoor van mense in die kerk, sterk gelowiges, wat hul pensioen en spaargeld verloor as gevolg van aandelemarkte of slegte beleggings nie. Daarom kom die vraag keer op keer na vore: *Hoe onderskei ek dan tussen die risiko’s van beleggings en aandeleverhandeling en die risiko’s van ‘n weddenskap? Is die twee nie tog maar dieselfde nie?*
Dobbelary behels die oordrag van rykdom deur toeval, sonder arbeid of bydrae tot die algemene welsyn van ‘n gemeenskap of die “common good”. Dit voed gierigheid, ondermyn ywer en verontagsaam God se voorgeskrewe middele van voorsiening. Dobbelary is ook die eiewillige aanneming van onnodige risiko’s met die hoop dat die aanname beloon sal word.
Tog word Christene in die moderne ekonomie gekonfronteer met aandelebeurse en finansiële markte, instellings wat soms soos dobbelary kan lyk in hul voorkoms van risikoneming. Hoe kan 'n Christen deelname aan hierdie markte regverdig terwyl hy kansspeletjies verwerp? Die antwoord lê in die verskil tussen spekulasie vir selfsugtige gewin en verstandige rentmeesterskap van hulpbronne ter wille van produktiewe arbeid. Hierdie onderskeid kom veral duidelik na vore in die voorbeeld van boere wat hulself verskans deur middel van kommoditeitsbeurse.
‘n Graanboer in Suid Afrika is as gevolg van die vryemarkstelsel ‘n prysnemer. Dit beteken dat hy nie sy eie prys kan vra vir die gewas wat hy groei nie, inteendeel, ‘n boer kan net die vergoeding aanvaar wat die mark aanbied. Markpryse kan dus so laag daal dat boere nie hul insetkoste kan dek nie en ‘n verlies ly. Danksy die vryemark en die afskaffing van die destydse graanrade (vra gerus jou oupa of hy so iets onthou) kan niemand die markprys bepaal, beïnvloed of op enige manier manipuleer om die boere te help nie. ‘n Boer, vanuit die aard van sy beroep, word dus blootgestel aan prysrisiko.
Om hierdie risiko te bestuur, gebruik boere ‘n spesiale finansiële instrument naamlik: Termynkontrakte.
Termynkontrakte, of “futures”, is vaste ooreenkomste wat op ’n beurs aangegaan word om hul oes teen ’n vaste prys, voor dit gestroop word, te verkoop. Met ander woorde ‘n boer verkoop sy voorraad vooruit.
> **‘n Praktiese voorbeeld:**
> *Boer Jan plant in November mielies en gaan insetkoste soos saad en kunsmis aan van omtrent R 5000\. Teen Maart kom hy agter dat die markprys ‘n hoogtepunt bereik het en begin sak. Met behulp van sy ekonoom word daar bepaal dat teen die tyd wat hy in April stroop, die markprys so laag sal wees dat hy nie sy insetkostes sal kan dek indien hy sy mielies dan verkoop nie. Boer Jan onthou dat hy ‘n prysnemer is en nie kan onderhandel vir ‘n beter prys nie. Sy ekonoom gaan dus na die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en stel vir hom ‘n termynkontrak op. In die kontrak stel boer Jan dat hy sy mielies teen R 6000 sal verkoop, ‘n bedrag wat hom R 1000 wins sal verseker. By die effektebeurs aanvaar ‘n handelaar die belofte en koop die kontrak by Boer Jan. Boer Jan is nou verplig om in April sy oes teen R 6000 te verkoop aan die handelaar.*
>
> *Boer Jan het dus sy prysrisiko verskans en is verseker dat, alhoewel die markprys dalk kan val na onder R5000, daar ‘n handelaar sal wees wat sy graan vir R 6000 moet en sal koop. Die handelaar is daarteenoor verseker dat, al styg die markprys na R 7000, Boer Jan aan hom moet verkoop teen R 6000\. Die proses staan bekend as verskansing en gebeur daagliks op die aandelemark met beide harde en sagte kommoditeite soos graan en ru-olie asook met finansiële produkte soos aandele.*
Deur verskansing maak die boer ‘n voorafbepaalde inkomste vas en verseker dit stabiliteit vir sy onderneming. Terselfdertyd gee die boer die kans op buitengewoon hoë winste prys (as die mark na R 7000 of hoër sou beweeg). Hy beskerm homself ook teen verwoestende verliese (as die markprys onder R 5000 sou beweeg).
In wese is dit ‘n berging van wins vergelykbaar met Josef se God-geordende berging van graan in Egipte teen die komende hongersnood (Genesis 41). Dit is dus nie dobbelary nie; dit is ’n vorm van wyse rentmeesterskap, en goeie finansiële beplanning.
## Die Morele Verskil tussen Dobbelary en Verskansing
Die boer se verskansing demonstreer die morele verskil tussen aandele- of kommoditeitbeurse en dobbelary:
### Produktiewe Doel
Dobbelary produseer niks en dra welvaart oor sonder arbeid.
Verskansing ondersteun werklike ekonomiese aktiwiteite – plant, oes, vervoer van voedsel. Die uitruiling fasiliteer stabiliteit in produktiewe arbeid asook regverdige prys ontdekking in ‘n vryemarkstelsel waar ingryping en manipulasie onwettig is. Die Woord leer ons ook egter in Spreuke 28:19-20 dat die Here produktiewe, opbouende en eerbare werk beloon terwyl winsbejaagdheid en werk wat nie tot eer van Hom is, veroordeel en gestraf word.
### Gemete Risiko vs. Roekelose Risiko
In beide gevalle is risiko die produk wat gekoop of verkoop word. Die verskil kom egter in dat verskansing die mark gebruik om risiko’s te verminder, inkomste te stabiliseer en voortgesette voorsiening vir afhanklikes te verseker.
### Rentmeesterskap vs. Gierigheid
Die dobbelaar soek skielike verryking wat ten einde nie geseënd sal wees nie (Spreuke 20:21). Dikwels word die verryking ten koste van iemand anders verkry. Die boer soek beskerming en volhoubaarheid, gemotiveer deur 'n plig om hulpbronne verantwoordelik onder God te bestuur.
### Breër Implikasies vir Effektebeurse
Dieselfde logika geld vir breër deelname aan effektebeurse. Wanneer Christene in maatskappye belê deur aandele of fondse, dobbel hulle nie, maar maak hulle produktiewe onderneming moontlik - fabrieke, plase, tegnologie en dienste - wat die samelewing bevoordeel. Die belegger deel in beide die risiko's en die belonings van ware ekonomiese arbeid.
Soos met verskansing moet spekulasie, geskei van ‘n produktiewe einddoel, vermy word. Daghandel op gerugte of die najaag van "vinnig ryk word "-skemas kan inderdaad in dobbelary oorgaan, waar sondige gierigheid, begeerte en emosies die oorhand oor gedissiplineerde, deurdagte beleggings kry (1 Timotheüs 6:9-10). Dit is belangrik om te onthou dat die effektebeurse ‘n mensgemaakte platform is met sy eie verleidings.
*Dit word sterk aanbeveel dat as u nie die nodige kennis het nie, of nie toegang tot betroubare finansiële adviseurs het nie, of sukkel met die versoeking van gierigheid, u die risiko's wat met die aandelemark verband hou, moet vermy.*
### Gevolgtrekking
Vanuit 'n Gereformeerde perspektief is die aandelebeurs nie inherent sondig nie, en dit is ook nie gelykstaande aan dobbelary nie. Waar dobbelary ‘n vrywillige intrede in ‘n risikante finansiële posisie is, is verskansing eerder 'n instrument wat, wanneer dit verstandig gebruik word, produktiewe arbeid ondersteun en God se voorsienige orde eerbiedig. Boere wat hul gewasse verskans, is voorbeelde van hierdie waarheid: hulle dobbel nie op kans nie, maar soek getrou stabiliteit om vir hul huishoudings te sorg en hul naaste te dien. Boere, vanweë die aard van hul industrie, begin in ‘n risikoblootgestelde posisie. Risiko’s waaroor hul geen beheer het nie. Verskansings gee hulle die geleentheid om die risiko’s aan ‘n gewillige koper te ontlaai en is ‘n belangrike stuk gereedskap in die vryemarkstelsel vir regverdige en deursigtige prysontdekking. Op hierdie manier kan aandele- en kommoditeitsbeurse verdedig word as wettige middele van Christelike rentmeesterskap, mits dit met ywer, matigheid, en die doel om God in alle dinge te verheerlik, benader word.
Olielamp links: [Oordenkings](https://olielamp.vgk.org.za/tag/oordenkings/) | [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Karakter van God – Genade
URL: https://olielamp.vgk.org.za/karakter-van-god-genade/
Last updated: 2025-11-05T17:00:34.000Z
Lees: Rom 5:1-11
> “*Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is*.” (Romeine 5:10)
Exodus 34 vers 6 en 7 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel waar die Here sy eie karakter beskryf, veral as ons in gedagte hou dat die volk net voor hierdie gebeure die verbond gebreek het en ‘n goue kalf aanbid het. Dit is uiters belangrik om die God wat ons dien en aanbid persoonlik te leer ken. Hierdie week let ons op die tweede eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: **Genade.**
Genade is ‘n pragtige eienskap van God; seker die mees bekende eienskap. Een wat definitief met die God van die Christene geassosieer word. Maar, besef ons nog regtig die implikasie van genade?
Dink jouself vir ‘n oomblik die volgende in: Jy is in ‘n oorlog, jy veg nou al vir jare teen die vyand, jy het al baie dinge verloor in die geveg en die geveg gaan nie goed nie. Die vyand is baie sterker en is besig om die oormag te kry.
Dink jouself die oomblik in wat jy total omsingel is. Daar is nie meer uitkomkans nie, jy het verloor. Al moontlikheid vir oorlewing is om te pleit op die genade van die ander party. Jy maak maar ‘n wit lap aan ‘n stok vas en swaai dit in die lug rond. Dink jy dis ‘n oomblik van verligting? Dink jy jy sou vrolik voel die oomblik as jy moet oorgee? Jy het die stryd verloor. Jy is oorgelewer aan die genade van die ander party.
Dink ons ooit so aan genade? Dit is amper ‘n skokkende beeld, ons is so gewoond aan genade. Ons dink aan die liefde, vergewing en sorg van die Here. God is lief vir ons en daarom is Hy genadig. Ja, dit is beslis waar, maar plaas ons dit nog in die konteks van ons vyandskap teenoor God (Romeine 5:10, Kolossense 1:21)?
Ons is ons hele lewe nog besig om teen die Here te stry. Ons was aan die verkeerde kant. Aan die duiwel se kant. Net soos die Here vir Saulus gesê het, is dit vir ons hard om teen die prikkels te skop (Handelinge 9:5). Maar God is sterker. Dit help nie om teen Hom te veg nie. Op die ou end moet ons, net soos Saulus, oorgee. Ons wapper maar ons wit vlaggie.
Ja, dis pragtig as mense tot bekering kom, as mense besef dit help nie om teen God te veg nie. Dis pragtig as mense oorgee en vir God se genade smeek. Maar tog sien ons in onsself dat dit baie moeilik is om regtig oor te gee. Ons ou mens binne ons wil nog so graag baklei. Ons probeer so hard om self te besluit wat reg en verkeerd is…
Genade is mos 'n baie vernederende woord vir hoogmoedige mense. Dit beteken jy het self niks meer nie, jy kan niks meer nie, jy is volslae aan 'n ander uitgelewer. Soos daardie soldate wat gedwing is om die wit vlag uit te steek, so is ons teenoor God.
Ons het net nog lewe en toekoms as God ons genade wil bewys.
Dit is dan ook nie verbasend dat daar regdeur die eeue mense was wat teen die boodskap van die Bybel, dat ons slegs van genade kan lewe, in verset gekom het nie. Op allerhande maniere is daar probeer om aan die vernedering van daardie woordjie genade te kan ontsnap.
Nogtans kan ons uitroep van dankbaarheid, want die Koning wat ons oorwin het, laat ons nie net lewe nie, maar neem ons in Sy diens, meer nog, Hy noem ons selfs Sy kinders. God bewys ons genade op genade, op genade. Eerstens laat Hy ons leef, ons was vyande wat die ewige dood verdien het, maar ons word vrygespreek (Efesiërs 2:4-7). Tweedens gee Hy ons Sy Gees. Die Gees verander ons harte, sodat ons sien dat ons vir die verkeerde kant geveg het. Hy oortuig ons van ons sondes (Johannes 16:7-11). In die derde plek maak Hy ons Sy knegte (Levitikus 25:55, Jakobus 1:1). Met die Gees werk Hy goeie werke in ons, want ons kan dit nie self doen nie (Esegiël 36:27). En selfs dan belowe Hy nog steeds om ons vir ons geloof te beloon (Mattheus 6:3-4). En in die laaste plek maak Hy ons Sy kinders, en mede-erfgename saam met God die Seun (Romeine 8: 16-17).
Dit bly baie keer nog moeilik om ons volkome aan die Here oor te gee. Maar as ons ons oorspronklike staat en ons nuwe lewe besef maak dit ook dat ons Hom van harte kan loof en prys daarvoor. Dan aanvaar ons dit nie met hoogmoedige harte nie, maar met 'n hart vol dankbaarheid en psalms op ons lippe.
### Gebed
Here God, Koning van Hemel en aarde. Ons bely dat ons nog so dikwels teen U genade veg. Baie dankie dat U ons al met God versoen het, terwyl ons nog vyande was. Dankie dat U vir ons genade op genade bewys, dat U nie net ons sonde vergewe nie, maar ook vir ons ‘n nuwe lewe gee. Werk met die Gees in ons hart, sodat ons ons lewe aan U sal oorgee, en U genade met dankbaarheid kan aanneem.
### Coram Deo
God het in Sy genade al ons skuld betaal met die bloed van die Seun, terwyl ons nog sy vyande was. Hy bewys ons genade op genade, deur ons nie net te vergewe nie, maar ook ‘n nuwe lewe te gee.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### EP16: Die Lig van Waarheid – Christelike Onderwys en Geloofsvorming
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep16-die-lig-van-waarheid-christelike-onderwys-en-geloofsvorming/
Last updated: 2025-11-02T18:00:15.000Z
*Met Mev. Saskia Meijer*
Skole vorm wêreldbeskouings. Christelike onderwys wil méér as net akademie aanbied – dit wil harte vorm. In hierdie episode bespreek ons die doel, uitdagings en roeping van Christelike onderwys in ’n pluralistiese samelewing.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Jaag die goeie ná!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/jaag-die-goeie-na/
Last updated: 2025-11-01T19:22:14.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
‘n Vraag wat my die afgelope tyd besig gehou het, is: “Hoekom doen ek wat sleg is as ek weet wat goed vir my is?” Dit voel of die goeie en die slegte kant van my brein armdruk, maar tog wen die slegte kant een te veel. Paulus sê self ook dat hy die kwaad wat hy nie wil doen nie, doen, maar die goeie wat hy wil doen, nie doen nie (Romeine 7:19).
### **‘n Analogie: Jou kar**
‘n Kar se diensrekord kan soms iets frustrerend wees om by te hou, veral ook omdat dit jou geld uit die sak jaag. Ons weet dat, as jy nie jou kar diens nie, dit oor die langtermyn ernstige probleme kan veroorsaak. Om dit te verhoed, diens ons ons karre so vêr as moontlik volgens die diensplan.
Soortgelyk verstaan ons dat ‘n “gesonde leefstyl” ‘n lys van aksies is wat ons elke dag kan doen. Dit kan insluit dat ons elke dag genoeg slaap, oefening inkry of gesond eet. Die aksies, weet ons, is goed vir liggaam, siel, en gees. Ons weet ook dat ‘n slegte roetine oor ‘n lang termyn ‘n slegte effek op ons lewe mag hê en daarom is dit belangrik om ons “diensrekord” op datum te hou.
Dit klink alles goed en mooi, maar hoekom is my diensrekord van tyd tot tyd agterstallig?
### **‘n Scenario: Student**
As ‘n student verskil mens se werkslading deur die loop van ‘n jaar. Die eerste week van die semester is veels te rustig, maar voor jy weer kyk, staan jy voor ‘n intense week van toetse of eksamens. Die intense weke is meestal die weke waar mens die meeste dissipline het: jy het ‘n goeie slaapskedule, drink genoeg water, vat breuke, spandeer min tyd op sosiale media en draf om die blok om jou kop skoon te kry. Maar, wanneer ons net-net te min werk het om ons besig te hou, is ons “sleg”: gaan slaap laat, staan laat op, breuk meer as wat jy studeer, en spandeer te veel tyd op sosiale media. As ons ondermekaar daaroor praat lag ons daaroor, maar diep binne weet ons dit is nie goed vir ons nie. Hoekom doen ons dit dan? Buiten dit praat ons nie daaroor dat ‘n slegte roetine ook meestal bydra tot ‘n slegte geloofslewe nie. Byvoorbeeld: dit is moeilik om in die oggend ordentlik Bybel te lees en te bid as jy verslaap omdat jy 3 keer “snooze” gedruk het.
### **Jou brein**
Dit is nogal interessant om nie net te wonder oor hoe jou brein werk nie, maar om ook te verstaan hoe jou brein biologies werk. ‘n Aantal studies maak duidelik hoekom die slegte kant eerder wen as die goeie kant:
1. Jou brein is in konstante konflik: jou limbiese stelsel (*limbic system*) bestaan uit vinnige en emosionele impulse, waar jou prefrontale korteks (*prefrontal cortex)* stadiger en rasionele besluite maak (Bechara et al., 1994). Oor die algemeen is jou brein dus meer geneig om ‘n emosionele as ‘n rasionale besluit te maak.
2. Dopamien dryf jou na besluite wat nou goed en lekker is in plaas van die besluite wat langtermyn voordele bevorder (Laibson, 1997).
3. As jy nie emosioneel oortuig is nie, is jy minder geneig om aksie te neem (Damasio, 1994).
4. Jou omgewing dryf jou tot besluite wat jy nie wil maak nie (bv. groepsdruk) (Volkow et al., 2011).
God het die mens met gesag (m.a.w. ‘n vrye wil) geskape na sy beeld, om Hom te loof en te eer, maar ons het gekies om te sondig (Genesis 3). Om nie van die onderwerp af te wyk nie, stel ek [“Is jy vry of nie?”](https://www.vgk.org.za/preke/25685?ref=olielamp.vgk.org.za) en verdere studie voor as u meer oor die vrye wil wil weet.
Het God dan die brein geskape om van nature die slegte te kies? Nee, God het die brein goed geskape om Hom en ons naaste te dien:
1. Jou limbiese stelsel is gemaak om emosies te ervaar. God het ons geskep om Hom en mekaar lief te hê. Jou prefrontale korteks is gemaak om besluite te maak en om te heers oor die skepping (Genesis 1:28).
2. Dopamien laat ons geniet wat God vir ons gee — om ten volle te geniet van wat God ons gee, maak dit sin om ook in die oomblik te kan leef.
3. Die Heilige Gees werk in ons sodat ons emosioneel oortuig kan wees om in God te glo.
4. God het ons gemaak om ons naaste te dien en goed te wees vir ons omgewing, selfs al is dit om onsself tweede te sit (Fillipense 2:4).
### **Die Bybel as handleiding**
Buiten wat mediese navorsing vir ons uitwys, is die Bybel ook oorlaai met wenke, ervarings en voorskrifte oor hoe ‘n goeie allerdaagse leefstyl moet lyk. 1 Thessalonicense 5:12-27 skryf voor dat ons die goeie moet najaag, dat ons altyddeur moet bly wees, dat ons moet bid sonder ophou, en dat ons dankbaar moet wees — alles met die strewe na volmaaktheid. Die Bybel is ons handleiding tot ‘n goeie leefstyl — daar staan nêrens in die Bybel dat jy 8 ure elke aand moet slaap nie, maar daar staan wel dat jy teenoor almal goedgesind moet wees (Efésiërs 4:32). As jy weet dat min slaap jou gesindheid teenoor ander beïnvloed, dan is dit sonde (Jakobus 4:17).
### **Hoe jaag ek die goeie na?**
Ons moet erken dat ons dit nie uit onsself kan doen nie. Die sonde woon in ons (Romeine 7:20), en tot die einde van ons dae gaan ons moet stry teen die slegte. Dit vat inspanning, geduld, en gebed. Christus werk deur medegelowiges om mekaar aan te spoor tot ‘n beter leefstyl — slegs deur Christus kan ons volmaak in gees, siel en liggaam wees (1 Thessalonicense 5:23).
Vul jou tyd met die goeie, want waar jou tyd nie gevul word met die goeie nie, wag die Satan by die deur (1 Petrus 5:8-9). Wanneer ons egter die tyd uitkoop tot God se eer en ‘n Geesvervulde lewe lei deur die wapenrusting op ons te neem (Efésiërs 5:16-18), maak ons geen plek vir die bose in ons lewe nie. Doen dus goeie selfondersoek oor wat jy met jou tyd doen: werke van die vlees of werke van die Gees.
As jy in die oggend opstaan mag jy, soos Samuel gereed was om te dien (1 Samuel 3:9), gereed wees om te dien in God se koninkryk. Waar die wereld sê dat ‘n goeie leefstyl lei tot status en selfverryking, mag ‘n gesonde leefstyl ons as Christene se geloofslewe komplimenteer om tot eer van God te leef (1 Timotheus 4:8, AFR20)!
Olielamp links: [Oordenkings](https://olielamp.vgk.org.za/tag/oordenkings/) | [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Karakter van God – Barmhartigheid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/karakter-van-god-barmhartigheid/
Last updated: 2025-10-30T21:00:56.000Z
**Lees:** Psalm 103
> “*HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou*” (Exodus 34:6)
Exodus 34 vers 6 en 7 is een van die mooiste gedeeltes in die Bybel waar die Here sy eie karakter beskryf, veral as ons in gedagte hou dat die volk net voor hierdie gebeure die verbond gebreek het en ‘n goue kalf aanbid het. Dit is uiters belangrik om die God wat ons dien en aanbid persoonlik te leer ken. Kom ons let op die eerste eienskap waarmee Hy Homself bekend maak: Barmhartigheid.
Barmhartigheid is ‘n groot Bybelwoord wat ons maar min in ons gewone taal gebruik. In die Bybel vind ons ‘n pragtige beeld waarmee die dieper betekenis van hierdie woord beskryf word. In Hebreeus word dieselfde stam vir barmhartigheid gebruik as vir baarmoeder/skoot (Tim, Jon, & Carissa, 2020).
Dink aan ‘n ma wat ‘n baba verwag, kan jy aan ‘n veliger plek dink vir ‘n baba om te groei as binne in sy ma se baarmoeder. Buite kan dit koud en gevaarlik wees, maar binne in sy ma is die baba warm en veilig, en kry hy al die kos wat hy nodig het.
Of dink aan ‘n pasgebore baba wat rustig by sy ma lê. Wanneer hy so in sy ma se arms is, weet hy, hy is veilig en daar is iemand wat vir hom lief is en vir hom sorg.
As die Here sê Hy is barmhartig, sê Hy eintlik ons is soos daai pap babatjie en Hy is soos die liefdevolle moeder. Dit klink dalk bietje vreemd om te sê die Here is soos ‘n ma, maar dit is ook hoe die Here self dit verduidelik:
**Jesaja 49:14-16,** “MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.”
En **Jeremia 31:20,** “Is Efraim vir My 'n dierbare seun of 'n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here.”
Is dit nie pragtig dat die God wat die hemel en die aarde gemaak het en aan die volk veskyn het in vuur en donderweer (Exodus 20:18 - wat net voor ons teks afspeel) Homself beskryf as ‘n liefdevolle moeder nie?
Een van die mooiste voorbeelde hiervan is die gelykenis van die verlore seun. Die jongste seun het sy Pa se geld gemors op verslawings, drank en verkeerde vriende. Wat doen die Pa in die gelykenis? Hy kyk elke dag of Hy nie al sy seun sien terug kom nie. En wanneer Hy hom sien, hardloop Hy na hom toe en gee hom ‘n soen en ‘n drukkie. Hy reël ‘n groot fees om te vier dat sy verlore seun weer terug is.
God is soos dit. Al het sy volk ‘n goue kalf gemaak en nie meer Hom gedien nie het Hy besluit om nie hulle dood te maak nie, maar om barmhartig te wees. Om barmhartig te wees is meer as om net te vergewe, dit is om weer iemand met liefde te hanteer terwyl hulle dit glad nie verdien nie.
Die Here doen dieselfde met ons. Ons is ook sondig. Ons het ook sy gebooie oortree, ons eie goue kalwers gemaak. Miskien was ons jaloers, miskien het ons geskinder of gelieg, miskien het ons ook dinge in ons lewe wat vir ons belangriker geraak het as God. Miskien was ons baie kwaad vir mense, miskien het ons ook verslawings. Die Here gooi ons nie weg nie. As ons om vergewing vra hardloop Hy as’t ware na ons toe, en verwelkom ons terug in Sy familie. Hy vergewe nie net ons sondes nie, Hy is selfs barmhartig en gee ons so baie liefde soos wat selfs nie eens die beste ma of pa op aarde ooit sal kan gee nie – Hy koop ons vry met Jesus se bloed.
Ja, God is inderdaad barmhartig. Dit is deel van sy karakter en vind uiting in aksies teenoor ons. Maar in die Bybel word ons opgeroep om net soos God te wees. Elkeen van ons lyk ‘n bietjie soos ons pa en ‘n bietjie soos ons ma. Ons is nou kinders van God so ons moet ook al hoe meer soos Hom begin lyk. God is barmhartig so ons moet ook barmhartig wees. Die Bybel het weereens ’n baie mooi voorbeeld van hoe ons barmhartig moet wees: die gelykenis van die barmhartige Samaritaan – ons moet ‘n naaste vir ander wees. Ons moet barmhartigheid wys vir almal wat ons teen kom, of dit nou ‘n vriend of ‘n vyand is.
Mag elkeen van ons vertroos wees omdat ons weet dat die Here barmhartig is. By Hom is ons veilig soos ‘n baba by sy ma, soos ‘n seun by sy pa, want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Mag ons elke dag dit in dankbaarheid besef en antwoord deur ook barmhartigheid aan ander te bewys.
### Gebed
Here, God, dankie dat U, Uself bekend maak as Barmhartig. Here by U is ons geborge soos ‘n ongebore baba in sy moeder se skoot. Here, ons vlug dan ook na u toe vir beskerming, en vergewing, want daar is “Geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder meededoë as Israels Here die wat Hom eer en vrees. Hy weet wat van sy maaksel is te wagte, hoe swak van moed, hoe klein van kragte, en dat ons stof van jongs af is gewees.”
### Coram Deo
God maak Homself aan ons bekend as Barmhartig. By Hom is ons veilig en geborge, want hy vergewe ons nie net nie, maar neem ons ook in liefde as Sy kinders aan.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### Bronne
Tim, Jon, & Carissa. (2020, August 31). *The Womb of God?* Retrieved from BibleProject: https://bibleproject.com/podcasts/the-womb-of-god/
### Gebed: Die hartklop van die gelowige
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gebed-die-hartklop-van-die-gelowige-ben-bunk/
Last updated: 2025-10-25T07:00:54.000Z
*Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria*
Ons almal weet dat gebed belangrik is in elke Christen se lewe. Weet ons egter werklik wat die doel van gebed is? Waarom bid ons nou regtig? Dit kan baie maklik ook net ‘n gewoonte raak deur vinnig ‘n paar woorde te sê voor ons eet of in die aand voor ons gaan slaap. Wat beteken so ‘n gebed dan vir ons?
Die mees algemene definisie van gebed is dat dit ‘n gesprek met God is. Dit is gedeeltelik waar, maar dit is nie waar dit stop nie. Dit is anders as ‘n gesprek met ‘n vriend of kollega. Die Heidelbergse Kategismus gee vir ons n mooi beskrywing:
“*Gebed is 'n offer van ons begeertes aan God vir dinge wat in ooreenstemming is met sy wil; in die naam van Christus; met belydenis van ons sondes; en dankbare erkenning van sy barmhartighede.”*
Gebed is ‘n gesprek, maar met God. Hy is almagtig en verwag ontsag en eerbied van ons af. Dit leer ons ook in die Onse Vader wat Jesus in Matthéüs 6 vir ons leer. Hy is in die hemel en ons op die aarde - ons het vergifnis nodig waar Hy volmaak en sonder sonde is.
Dit kan ons dan baie bang maak om te bid. Wat as ons verkeerd bid? Gaan ons gebede nie verhoor word nie? Hy is ‘n almagtige en regverdige God wat die verkeerde sal straf, maar ons mag in geloof bly bid. Ons mag weet, soos Paulus in Romeine 8:26 sê, dat die Gees altyd daar vir ons in ons gebede is. Daar is niemand wat God die Vader ken soos Hy nie. Hy tree in vir ons voor die Vader om duidelik te maak wat ons vra. Ons hoef nie bang te wees nie. Paulus sê vir ons in Filippense 4 dat ons in alles na Hom toe mag gaan - vir smeking of dankbaarheid. Niks hoef ons te keer om in gebed voor God te nader nie. As ons met die regte houding na God gaan, al is dit is in moeilike of goeie tye, mag ons met sekerheid weet dat Hy ons gebede aanhoor. Soos enige verhouding verwag ons om te hoor wat die ander persoon dink en wil hê, selfs al weet ons wat hulle gaan sê. Vra enige ouer, hulle wil graag weet wat in hulle kinders se dag gebeur het. So wil God van ons ook hoor wat ons uitdagings is en waarvoor ons dankbaar is. Hy wat selfs sy Seun vir ons gestuur het om ons te red. Ons hoef nie te twyfel dat hy ons liefhet nie. Ons moet net altyd onthou dat die dinge waarvoor ons bid in ooreenstemming met sy wil moet wees. Matthéüs 7 leer ons dat, soos ons aardse vaders altyd die goeie vir ons in gedagte hou, hoeveel te meer ons hemelse Vader nie vir ons die dinge sal gee wat ons nodig het.
Dan kom die groot vraag waarmee ons dikwels sukkel: Wat is die doel van gebed as dit soms lyk of God dit nie verhoor nie? Ons voel ons bid in geloof soos ons geleer is en ons probeer alles reg doen, maar steeds word ons gebed nie verhoor nie. Steeds sterf die persoon waarvoor ons gebid het of steeds dwaal iemand af wat ons in ons gebede bly opdra het. Dalk ‘n ander gedagte: God se wil is onveranderlik so waarom moet ons dan bid? Dit gaan tog niks verander nie. Dit is alles opregte vrae waarmee ons dikwels sukkel.
Die eerste ding wat ons moet onthou is dat God nie ‘n welwillendheid-organisasie is wat aan elke versoek van ons sal probeer voldoen nie. Verder sal God ons altyd gee wat ons nodig het, nie noodwendig altyd alles wat ons wil hê nie. Daar is ‘n groot verskil wat ons baie keer mis kyk. Ons lewe in dankbaarheid, want alles wat ons is en het is genade. Ons moet dus mooi dink wat ons werklik nodig het en wat ons graag wil hê wat nie gaan bydra tot verheerliking van God se naam nie. Ons kan ook nie net een keer bid en dan agteroorsit en verwag dat God alles gaan doen nie. Ons moet aanhoudend bid. Elke keer wat ons bid moet dit onselfsugtig en in ware geloof en vertroue wees - selfs al voel dit of ons vertroue verloor omdat daar geen uitsig is vanuit ons menslike oogpunt nie. Ons lees in Psalm 37 dat ons onsself in God moet verlustig, dan sal Hy skenk. Ons kan nie God omkoop deur net genoeg te bid nie. As ons besef wat God se wil met ons is en ons onsself deur die Gees laat lei, dan sal ons gebede wees soos God dit wil hê.
Steeds verduur ons egter soms moeilike tye. Paulus self het in 2 Korinthiërs 12 gesukkel met n doring in sy vlees waarvoor hy ook aanhoudend gebid het. In plaas daarvan om die probleem op te los, kry Paulus die antwoord dat God se genade vir Hom genoeg is. Jesus het self in die tuin van Getsemane gebid en gevra dat die beker by Hom sal verby gaan, maar steeds is Hy gekruisig. Ons gebede gaan nie altyd moeilike tye voorkom - soos in Jesus en Paulus se geval - nie, maar wat daaruit voortkom kan van veel groter waarde wees. As die beker by Jesus verby gegaan het, sou ons nie gered wees nie en sou alles verniet wees. Paulus sou ook nie versterk wees in sy geloof nie. So mag ons ook vandag daaruit leer: al ontvang ons nie wat ons wil hê nie, sal ons altyd ontvang wat ons nodig het en wat ons verhouding met God sal versterk en tot eer van Sy naam sal wees.
Laat ons dan sterk bly staan in gebed in goeie en in slegte tye. So versterk ons ons verhouding met God. Primêr is gebed om God te verheerlik, en tweedens dat sy wil geskied. Daarmee saam mag ons ook tot God nader om vir onsself en vir ander te smeek vir krag vir alle versoekinge wat ons teekom. Gebed is nie om God se arm te draai nie, maar om in liefde en vertroue naby Hom te leef.
Olielamp links: [Oordenkings](https://olielamp.vgk.org.za/tag/oordenkings/) | [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Inleiding tot karakter van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/inleiding-tot-karakter-van-god/
Last updated: 2025-10-23T08:00:29.000Z
**Lees*: Exodus 34:1-9*
Soms as mens die Bybel lees voel dit soos ‘n klomp los geskiedenisverhale. Tog weet ons almal dat die Bybel een geheel vorm. Dit vertel een groot verhaal van God se genade en regverdigheid wat sy klimaks bereik in God se Seun, Jesus Christus, wat vir ons sondes aan die kruis betaal het.
In Exodus vind ons een van sulke tekste wat die essensie van die Bybel se boodskap so goed saamvat dat dit meer as 20 keer in die res van die Bybel aangehaal word. Dit is die woorde waarmee die Here Homself beskryf in Exodus 34:6-7\.
In Genesis het die Here vir Abraham belowe dat Hy hom tot ‘n groot nasie sal maak, hulle sal die land Kanaän in besit neem en vrugbaar en geseënd lewe. In Abraham se leeftyd sien hy maar min daarvan. Hy moet geduldig wag tot hy 100 jaar oud is voor hy die seun van die belofte verkry, en al die tyd woon hy nog as ‘n vreemdeling in die beloofde land. Die enigste stukkie grond wat hy besit is ‘n graf. Na sy dood lyk dit nie of dit baie beter gaan nie. Jakob kry inderdaad ‘n klomp seuns, sodat sy nageslag vinnig groei, maar hulle is nog altyd vreemdelinge in Kanaän. Dit raak selfs erger, want tydens ‘n hongersnood verlaat hulle die beloofde land om in Egipte te gaan bly. 400 jaar later is hulle ‘n groot volk, maar hulle is ook ‘n slawevolk. Die Here vergeet egter nie van Sy beloftes nie. Deur Sy kneg Moses lei Hy hulle uit Egipte na die land van melk en heuning.
Daar is egter ‘n groot tussenstop in die boek Exodus. Vir ongeveer ‘n jaar lank kamp die volk aan die voet van die berg Sinai. Dit is hier waar die almagtige God met eenvoudige mensies ‘n verbond wil sluit.
Ons ken almal die geskiedenis: Die Here gee die verbondsvereistes (10 gebooie), maar die volk is te bang om God so direk te hoor praat. Daarom klim Moses alleen teen die berg op. Terwyl hy nog op die berg is en die verbondsluiting dus nog aan die gang is, breek die volk alreeds die eerste twee ooreenkomstes, deur ‘n goue kalf te maak.
God is woedend. Hy dreig om die volk vir altyd van die aarde af te vee. Moses tree as middelaar in vir die volk en God is bereid om te vergewe. Dit is in hierdie konteks wat God die pragtige woorde van Eksodus 34 oor Homself sê.
Kom ons kyk na wat hierdie vers sê:
*Die HERE, die HERE,*
*'n *barmhartige* en *genadige* God,*
**geduldig*,*
*oorvloedig in *troue liefde* en *waarheid*,*
*wat troue liefde vir duisende bly handhaaf,*
*wat skuld, oortreding en sonde vergewe,*
*maar wat beslis niks ongestraf laat nie,*
*wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet,*
*ook die derde en vierde geslag. (Exodus 34:6-7)*
Heel eerste noem God Homself by Sy verbondsnaam, JAHWEH. Dit is die Naam waarmee Hy Homself aan Moses in die brandende bos bekend gemaak het. “EK IS”. Ja, ook nou dat die volk die Verbond verbreek het, bly God getrou. Hy hou sy beloftes. Dit is en bly ook ‘n troos vir ons. Dit wat ons oor God in die Bybel lees, is steeds wie Hy is.
In Hebreeus het die tweede reël (*'n *barmhartige* en *genadige* God)* 3 woorde wat rym, dit word beklemtoon deur die vierde reëltjie (*oorvloedig in *troue liefde* en *waarheid)** wat ook 3 woorde wat rym bevat. Elkeen van hierdie reëls bevat twee eienskappe van God. Dit omring saam die middelste eienskap en lig so God se geduld of lankmoedigheid uit.
Dan kom die tweede helfte van die beskrywing van God in vers 7\. God handhaaf troue liefde aan duisende – en hoe kan Hy goedertieren bly teenoor die wat teen Hom sondig – Hy vergewe hulle skuld, oortreding en sonde.
Maar God se vergewing beteken nie dat ons maar net kan doen wat ons wil nie. God se genade word gebalanseer in die beskrywing wat volg “*maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag”*.
Let op die kontras tussen die klein getal generasies wat gestraf sal word omdat hulle volhard in die sonde van hulle vaders, teenoor die groot getal generasies wat God se troue liefde ervaar. Dit pas in by die teenstelling van God se straf oor ongeregtigheid in reël 8 en God se vergifnis van ongeregtigheid in reël 6\.
In vers 7 kry ons dus twee temas: God se vergifnis, maar ook Sy regverdige straf. Saam omring dit weereens ‘n middelste gedagte: “*maar wat beslis niks ongestraf laat nie”.*
Die twee sentrale gedagtes van hierdie pragtige beskrywing van die karakter van God is dus dat God geduldig is (reël 3), maar beslis nie die sonde ongestraf laat bly nie (reël 7). Dit is die spanning tussen die twee verse, maar ook in die hele verhaal van die Bybel.
### Gebed
Almagtige God, Dankie dat u ‘n verbond sluit met nietige, sondige mense soos ons. Here, ons bely dat ons net soos die volk Israel elke dag weer die vereistes van die verbond verbreek. Ons verdien om van die aarde af uitgeroei te word, maar ons pleit op u beloftes. Wees getrou aan u karakter en vergewe ons ons skuld. Dankie dat ons dit met vrymoedigheid kan vra, omdat ons weet dat die Here Jesus reeds met sy eie bloed betaal het. Ons loof en prys U vir hierdie oneindige groot genade. Amen.
### Coram Deo
Die HERE is wie Hy is en bly altyd dieselfde. Deur genade maak Hy sy karakter aan mense bekend. God is beide geduldig/genadig en regverdig.
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
### God se Wil vir Gemengde Huwelike
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-se-wil-vir-gemende-huwelike/
Last updated: 2025-11-27T18:51:39.000Z
*Geskryf deur Wian Bouwmeester, VGK Maranata*
**1 Korinthiërs 7: 10 & 12:**
> *10 ”En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie”*
> *12 “Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie”*
1 Korinthiërs 7 handel oor die huwelik. Die gemeente van Korinthe was omring deur ‘n heidense samelewing waar losbandigheid en egskeiding as algemeen aanvaar was. Dus rig hulle ‘n aantal vrae aan Paulus, met betrekking tot die huwelik en egskeiding.
Vandag sien ons steeds die dwaling en verdraaiing van die huwelik wat deur God ingestel is. Die alledaagse samelewing vandag toon geen afwyking van die heidense lewenspaaie soos beskryf in 1 Korinthiërs 7 nie. Die fokus draai om my, en God se Woord geld nie in my huwelik as ek nie baat daarby vind nie.
In Matthéüs 19: 3 tot 9 lig Jesus kernbeginsels uit ten opsigte van die huwelik wanneer Hy met die Fariseërs praat. Hulle vra hom: *“Is dit ‘n man geoorloof om oor allerande redes van sy vrou te skei?”.* Jesus antwoord daarop en sê dat die man sy ouers sal verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees (vers 5) . Verder antwoord hulle hulle ook *“Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (vers 6)* en *“Maar ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou pleeg egbreuk.” (vers 9)*
Die huwelik is dus nie net ‘n blote kontrak nie, maar ‘n heilige verbond voor God. Egskeiding mag nie gesien word as ‘n ‘uitweg’ nie. Jesus se woorde in Matthéüs 19 is ‘n goeie vertrekpunt vir 1 Korinthiërs 7\. Paulus skryf spesifiek aan getroudes in reaksie op hul vrae. Daar is ‘n aantal verse in die Bybel wat ons waarsku teen ‘n huwelikssluiting tussen ‘n gelowige en ongelowige, maar hoe nou as ek reeds getroud is en my man of vrou dwaal dan van die Skrif af?
In vers 10 maak Paulus duidelik dat sy woorde ‘n direkte bevel van God is, en nie net persoonlike raad nie. Die vrou mag nie van haar man skei nie, en as sy wel doen moet sy ongetroud bly of haar weer versoen met haar man. Net so mag die man nie sy vrou wegstuur nie. Maar hoe kan 'n gelowige een vlees wees met 'n ongelowige?
Vers 12 is Paulus se eie woorde. Maak dit sy woorde minder gesagvol? Nee, hy is ‘n apostel van Christus, geïnspireer deur die Heilige Gees. En ons glo immers dat die hele Skrif deur God gegee is tot lering en onderwysing(II Timótheüs 3:16). Christus het dus net nie self direk oor hierdie situasie gepraat nie. Die situasie: ‘n gelowige isgetroud met ‘n ongelowige. Moet die gelowige skei? Paulus sê: nee, as die ongelowige bereid is om saam te bly, mag daar nie geskei word nie.
Hier kom die roeping tot getuienis na vore. Die gelowige leef as lig in die huis en die Here kan deur hom of haar die ongelowige huweliksmaat en kinders heilig. Die huwelik bly ‘n plek van heiliging.
Kom ons vat weer ‘n stap terug. Gestel die man is gelowig en die vrou is ongelowig, en hy wil skei, dan mag hy nie. Hy moet bly as sy tevrede is om saam te woon, maar indien hulle wel skei, bly hy nog gebonde aan haar en mag hy nie weer trou nie. As die ongelowige vrou wil skei is die man nie meer gebonde aan haar nie (vers 15). Hierdie verse bring natuurlik baie vrae na vore, maar ons moet onthou om na Christus te kyk. Wanneer ons die huwelik betree, doen ons dit om die liefde van Christus en Sy bruid (die kerk) aan die wêreld te toon. Jesus het nooit van Sy bruid geskei nie. Hy het haar agtervolg, skoon gewas, en haar afgesonder om haar te heilig. So mag ‘n gelowige nie net sy ongelowige huweliksmaat wegstuur nie, maar moet hy of sy trou bly aan die verbond voor God.
God het die huwelik so ontwerp dat ons heilig kan word. Dit is nie eerstens vir jou geluk nie. As jy op jou huwelik staatmaak om altyd gelukkig en tevrede in die lewe te wees, moenie trou nie, want jou man of vrou sal nooit die las kan dra wat net Christus kan dra nie. Paulus belig vir ons die beeld van Christus se liefde vir Sy kerk. Genade vloei van Hom na ons toe. ‘n Gesonde verhouding met ons naaste vloei uit ‘n gesonde verhouding met God.
Die Here bly altyd getrou, selfs wanneer ons struikel. Daarom kan ons ook bid vir sy krag om getrou te bly in die huwelik.
> *9 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel. 11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? 12 En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en 'n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.*
> *\- Prediker 4:9-12*
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Sien God in die Seisoen – Ps. 104
URL: https://olielamp.vgk.org.za/sien-god-in-die-seisoen-ps-104/
Last updated: 2025-10-15T17:00:52.000Z
Afgelope Sondag was biddag vir Gewas en Arbeid. Oral om ons kan ons die begin van ʼn nuwe seisoen sien: Die nuwe blare en blommetjies, die gesing van voëltjies, die gedreun van donderweer, die gedruis van reën. Oral om ons is daar veranderinge - die somer is om die draai! Ons voel die koue weggaan en begin uitsien vir die reën en onweer.
Maar nou moet ons die vraag vra, “het ek al ooit stilgestaan by die gebeurtenis? Het ek al gedink oor wat die verandering in seisoene beteken?”
Ons lees in Psalm 104 oor God se skepping. Hierdie psalm moedig ons aan om God te loof en te prys vir Sy wonderbare skepping. Ons moet saam met die digter sê, “*Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!*” (Ps. 104:24). Die psalm wys ook vir ons God se koninklike majesteit soos vertoon word in Sy skepping (v. 3-5). Dit laat ons rus vind in die Here se mag, dat Hy alles in Sy Hand het. Die Here is besig in Sy skepping sodat ons weer van die somer en die reën kan geniet. So kan ons getroos word dat die Here ook na ons toe kom - Hy ondersteun en versterk ons. Hy wil dit ook graag doen vir ons, veral in die moeiliker oomblikke van ons lewe, soos geskryf is in Psalm 72:12-14\.
Alles wat God in Sy skepping gemaak het, is so gemaak dat dit ons dryf om God se bestaan raak te sien. Hierdeur word ons gekonfronteer met ons wanbeeld van selfstandigheid.Deur die skepping leer God vir ons om Hom te erken soos beskryf is in 2 Korinthiërs 3:5, “*Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God*”. Wanneer ons opstaan en wanneer ons werk en weer wanneer ons gaan slaap, sien ons God se werke net soos die digter noem regdeur Psalm 139\. Ons sien God deur die wind en reën, lig en duister, groenigheid en lewe. Alles wys die vinger na God. Die seisoene veral wys na die wysheid en getrouheid van die Here. Alles in die natuur is deurstraal met die liefde en genade van God (Matt 5:44-45).
Verder in Psalm 104 lees ons dat die Here sal voorsien: *“Hy laat die berge drink uit Sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk”* (Ps. 104:13-15). Al gaan ons deur moeilike of onseker tye, kan ons weet dat God daar is en vir ons en Sy skepping sal sorg. God is dag na dag, uur na uur besig met die wêreld – daar is nie iets wat gebeur wat God nie van weet nie. Soos ons bely in die Sondag 1, *“Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie”*.
Laat ons almal die verandering in seisoene gebruik as ʼn herinnering om te besef dat God betrokke en besig is in ons almal se lewens. Laat ons dit gebruik om terug te draai en weer volle vertroue op Hom alleen plaas. En dan kan ons saam met die digter van Psalm 104 ons almagtige en getroue Vader prys: *“Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor Sy werke... Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die Here! Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die Here, o my siel! Halleluja!”* (Ps. 104:31,33-35).
### Gebed
Onse getroue Vader en almagtige Here. Ons dank U vir U volmaakte skeppingsplan. U hou alles in stand en beheer die seisoene en weer dat alles op sy bestemde tyd aanbreek. Here, ons bid dat U die land sal seën met reën, dat die land en al die plante genoeg water mag kry om te groei en vrug te dra. Here, help my om altyd U werke raak te sien en so ook herinner mag word aan U betrokkenheid in my lewe. Help my om al my sorge oor te gee aan U, want ek is geneig om op myself te vertrou. Ek bid dit in Jesus se Naam alleen, Amen.
### Coram Deo
God gebruik Sy skepping om ons te herinner aan Sy almagtige krag en Vaderlike liefde. Die verandering in seisoen moet ons versterk in ons stryd. Hou moed in die Here, want Hy alleen is goed!
### Verdere Bybelstudie
Psalm 104 | Sondag 1 | Psalm 8
### Bronnelys
- Do You Believe by Paul David Tripp
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Twyfel - So ver van God soos die man na Sy hart
URL: https://olielamp.vgk.org.za/twyfel-so-ver-van-god-soos-die-man-na-sy-hart/
Last updated: 2025-10-11T07:00:06.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Meeste van ons ken donker tye. Tye waarin jou geloofslewe nie so sterk voel nie, of erger nog, tye waarin jy ver van God verwyderd voel. Tye waarin jy selfs begin twyfel of God jou gebede hoor, of Hy ooit vir jou omgee. In sulke tye kan dit soms voorkom of die Here van jou vergeet het.
Dawid, die man na God se hart, was nie onbekend met hierdie donker gevoel nie. In ‘n menigte psalms roep hy uit tot God, “my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?” (Psalms 6:4) of “O Here, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?” (Psalms 10:1).
Daar was tye wat Dawid gevoel het dat God hom vergeet het. Daar was tye wat hy uitgeroep het tot God “hoe lank nog”, wanneer hy al jare van Saul gevlug het en dit moeilik geraak het om God se beloftes te bly glo. Maar daar is ook ‘n hele klomp kere dat Dawid bely dat hy van God vervreem is as gevolg van sy eie optrede. Dink aan sy tyd in die land van die Filistyne, sy sonde met Batseba en wanneer hy vlug vir Absalom. Net so is daar by ons ook verskeie redes vir verwydering van God, soms die onverstaanbare raadsplan van die Vader, maar soms deur ons eie toedoen.
Kom ons leer by Dawid hoe om hierdie donker tye in ons lewe te hanteer.
### Selfondersoek
Ons is vinnig om te voel God hoor ons nie of God het van ons vergeet. Dit is dan maklik om amper onbewus die kerk, die dominee, medegelowiges en soms selfs die Here self die skuld te gee vir ons donker tye. Dit is egter baie belangrik dat ons eers selfondersoek doen.
Ons is geneig om soms te dink die Here verhoor alle gebede. In die Bybel sê God egter duidelik en herhaaldelik dat Hy soms Sy ore vir ons sluit:
- As ons onbelyde sondes het (Jesaja 59:2, Miga 3:4, Spreuke 28:9).
- As ons ander dinge bo God stel (Eségiël 14:7-8, Galásiërs 5:4).
- As ons nie bereid is om ander te vergewe nie (Markus 11:25-26, Matthéüs 5:23-24).
- As ons nie bereid is om ander te help nie (Spreuke 21:13).
- As ons slegs vra om ons eie begeertes te bevredig (Jakobus 4:3).
- As ons in ongehoorsaamheid lewe (Sagaría 7:13).
- As daar ongeregtigheid in die huwelik is (1 Petrus 3:7).
Hierdie is alles baie indringende Bybelverse, met ‘n duidelike boodskap. Soms word ons van God vervreem deur ons eie toedoen. Ons sluit ons hart vir God en Hy laat ons dan oor aan ons eie begeertes. Dit is op hierdie punt wat ons saam met Dawid ons skuld moet bely:
“Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander *soos* deur somergloed. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Psalm 32:3-5).
God bring soms donkerte oor ons lewe, maar gelukkig is dit nooit die einde nie. God bly getrou. Sy doel met die donkerte in ons lewe is altyd dat ons weer na Hom sal terugkeer waar Hy verlangend sal wag na ons soos die Vader in die gelykenis van die verlore seun.
Alle hartseer en ongeluk is die gevolg van sonde, maar ons kan beslis nie die konklusie trek dat alle hartseer en teëspoed die direkte straf op ons persoonlike sonde is nie. In die Bybel vind ons ook talle voorbeelde van gelowiges wat baie swaar gekry het terwyl daar duidelik getuig word dat dit nie ‘n straf op hulle sonde was nie. Dink aan Job, met respek gesê, waar die swaarkry in sy lewe die gevolg van ‘n goddelike weddenskap was. Dink ook aan die blinde man oor wie die Here Jesus self sê: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Johannes 9:3)
Wat moet ons dan doen as dit voel of God van ons vergeet het, en ons van harte kan bely dat ons Hom (al is dit met gebreke) wil dien? Weereens kan die Psalms ons van groot nut wees.
### Soek sonder ophou
Soek die Here. Maak nie saak hoe donker jou lewe is nie. Hou aan om die Here te soek. Hy belowe dat Hy Hom sal laat vind, en dat Hy sal oopmaak as ons klop.
Ja, soms roep ons dit uit met Dawid: “Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?” (Psalm 13:2). Soms voel die Here so ver weg, dat ons wil opgee. Ons ervaar nie meer Sy nabyheid nie. Maar hoe teenstrydig dit ookal mag voel, moenie opgee nie. God is daar en Hy hoor ons. Hou aan om Hom te soek.
Psalm 27 is ook ‘n Psalm waarin Dawid uitroep tot die Here, dat sy vader en moeder hom verlaat het en dat die Here hom tog nie ook moet afwys of verlaat nie. Dit is in hierdie konteks dat Dawid uitroep “Ek soek u aangesig, o HERE!” (Psalm 27:8)
Hou aan om die aangesig van die Here te soek en vertrou dan op die seën wat jy elke week in die kerk mag ontvang “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” (Númeri 6:24-26)
### Wag
Ja, ons weet ons moet die Here soek. Dit is maklik in teorie... maar in jou lewe voel dit dalk so anders.
Die Here se tyd is nie ons tyd nie. Abraham moes wag tot hy honderd jaar oud was voor hy die seun van die belofte gekry het (Génesis 21:5). Dawid moes 15 na 20 jaar wag voor hy uiteindelik koning kon word soos die Here beloof het, en die meerderheid van die tyd moes hy vlug vir sy lewe.
Josef was ongeveer 17 jaar oud toe hy deur sy broers verkoop is (Génesis 37:2), dertien jaar later het hy pas onderkoning geword (Génesis 41:46). Hy moes twee jare wag vir die skinker om van hom te onthou (Génesis 41:1) en uiteindelik het hy, eers 22 jaar na hy verkoop is, weer sy pa gesien (Génesis 45:6). En nog kon Josef terugkyk op sy lewe en vir sy broers sê: “Júlle het wel kwaad teen my bedink, *maar* God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.” (Génesis 50:20)
Ons verstaan nie altyd God se plan en Sy tydskaal nie. Maar ons kan gelowig saam met Dawid bid: “o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” (Psalms 27:13-14)
### Hoop
Dit maak nie saak hoe donker jou lewensomstandighede lyk nie, daar is altyd hoop, want ons het ‘n genadige en almagtige God. Een wat altyd daar is, ‘n God wat so intiem by ons betrokke is dat Hy selfs weet hoeveel hare daar op jou kop is (Lukas 12:7).
En as jy ooit voel soos Dawid in Psalm 22 en wil uitroep “My God, my God, waarom het U my verlaat” weet dan dat God jou so lief gehad het dat Hy sy Seun na die aarde gestuur het. Hy het al jou skuld en sorge op Hom geneem. Hy is werklik deur God verlaat sodat ons nooit weer deur God verlaat hoef te word nie.
Leer by die man na aan God se hart wat menigmaal ver van God af gevoel het en wag verlangend op die dag wat ook jy mag sing: “Julle wat die Here vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp” (Psalms 22:24-25).
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Bome en Vrugte – Genesis 3
URL: https://olielamp.vgk.org.za/bome-en-vrugte-genesis-3/
Last updated: 2025-10-08T17:01:00.000Z
Almal van ons het al ellendige dinge ervaar. Is dit nie so nie? Ons hoef nie ver te kyk nie, of ons sien dit al: woede, jaloesie, dronkenskap, seksuele sondes, verslawing, moord, aborsie, godslastering, afgodery... dis net om ‘n paar dinge te noem. Ons ervaar miskien sulke dinge, of doen dit self. Maar, waar kom dit vandaan? Hoekom lyk die wêreld so? Vandag gaan ons kyk na die tema: Vanaf die dooie, verdorwe mense na verheerlikte lewens in Christus.
Eerstens kyk ons vlugtig na die sondeval. Laasweek het Genesis 1 dit uitgewys: God het alles goed en mooi geskape. Die mens is ook goed geskape, ja selfs die kroon van God se skepping! Tog sien ons ook hoe die mens die roeping van 1:28 nie nagekom het nie, en in sonde geval het deur die vrug te eet van die boom van kennis van goed en kwaad (3:6-7). Dit is nie ‘n verhaal wat ver van ons verwyderd staan nie. Nee, ons het self deel daaraan omdat ons almal van Adam afstam. Ons self ly onder die sondeval – sonde, siekte, dood, ellende. Ja, ons almal het geval. So proe ons daagliks die bittere vrug van die vlees.
Dis alles die gevolg van die sondeval. Die slang wat die mens se hakskeen byt dui op die duiwel wat die mens gaan aanval met die bose. Ook sal die vrou in pyn kinders in die wêreld bring en die man sal met swaarkry sy werk doen. Ja, die mens kort klere want hy is skaam, skaam vir wie hy is: naak en kwesbaar, lelik en vol ellende. Uiteindelik sal die mens sterf, vers 19: “ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Tog moet ons nie ‘n frase miskyk wat God vir die slang in vers 15 gesê het nie: “Hy sal jou kop vermorsel.” Die Seun van die mens sal uiteindelik die slang oorwin. Dit is Jesus, waar Hy aan die kruis die duiwel oorwin het.
Hierdie sou eers baie later gebeur – ons weet dit het ook. In hoofstuk 3 staar die mens nou nog eers ‘n ander gevaar in die gesig. Vers 22 maak die probleem duidelik. God sê: “Nou moet hy (die mens) net nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en vir altyd bly lewe nie.” Let op Genesis 2:17, want net die boom van kennis van goed en kwaad is verbied. As die mens van die boom van die lewe eet, sal hy vir ewig in hierdie toestand bly.
Daarom word die mens uit die tuin weggedryf (vers 23). Dit was om ons te beskerm. Dis genade! Dis die hand van ‘n liefdevolle Vader wat sy kinders weghou van dinge wat seermaak, van dinge wat doodmaak. Die Gerubs beskerm die mens daarvan om terug te gaan. Die Vader self sou die kwaad wat die mens aangedoen het, regmaak deur sy eie Seun, Jesus Christus, aarde toe te stuur. Daar het ons liefdevolle Here Jesus aan die kruis gehang en die kop van die slang vermorsel. Die dood is oorwin! Toe Christus oorwin het is die tempelvoorhangsel geskeur, waarop twee gerubs uitgebeeld was. Die toegang tot God is weer herstel.
So wag ons tot die dag wanneer Jesus terugkom en ons neem na die plek, by die Vader, wat Hy vir ons voorberei. Daar sal ons God se heerlikheid mag aanskou. Daar sal ons drink van die Lewende Water wat omring is deur bome van lewe. Die bome dra 12 keer per jaar vrug – genesing tot die mense. Daar mag ons weer van die boom van lewe eet – sonder sonde, siekte, pyn en swaarkry. Hoe soet en vars sal dit nie wees nie! Geen ellende sal daar meer wees nie. In volle gemeenskap met God, in sy heerlikheid, mag ons tot in ewigheid lewe.
### Gebed
Vader, hoe heerlik is U. Hoe groot is U. Ons mag u liefde aanskou, reeds al van die begin van die aarde af. Meer nog, ons mag u heerlikheid en grootheid en liefde aanskou in Jesus self. “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” Dankie vir u Woord, waaruit ons hierdie waarheid mag leer ken. Dankie vir u Heilige Gees waardeur ons dit alles kan glo. Voed ons so, Here, met die Lewende Water, dat ons meer en meer mag groei nader aan U. En, Here, ons sien uit na die dag wanneer U terugkom. Wanneer daar geen siekte of ellende meer sal wees nie, wanneer geen duisternis ons sal oorweldig nie. Kom tog gou, Here Jesus! Aan U behoort die koninkryk en krag en die heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.
### Coram Deo
Al aanskou ons nie nou al die volle heerlikheid van God nie, kan ons al soveel daarvan proe. Ons leef nou al voor Hom. Ons mag aan die hoop vasklou dat alles wat ons hier al van Hom ontvang ons regmaak vir daardie groot dag wanneer Hy sal terugkom.
### Verdere Bybelstudie
Openbaring 22; 1 Korinthiërs 15; Psalm 90
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Pretoria-Maranata*
### EP15: Lig in ’n Verwarde Wêreld – Die Christelike Antwoord op Transgender Ideologie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep15-lig-in-n-verwarde-wereld-die-christelike-antwoord-op-transgender-ideologie/
Last updated: 2025-10-04T07:00:58.000Z
*Met Prof. Henk Stoker*
In ’n wêreld waar geslag nie meer as biologies vasgestel beskou word nie, word Christene toenemend gekonfronteer met vrae oor identiteit, waarheid en liefde. Hierdie episode van *Die Olielamp* ondersoek die opkoms van transgender-ideologieë en hoe Christene daarop moet reageer – nie net met Bybelse waarheid nie, maar ook met deernis. Ons gesels oor hoe die Skrif oor geslag praat, hoe die kultuur geslag herdefinieer het, en wat dit beteken om as kerk standpunt in te neem, terwyl ons steeds mense met waardigheid en liefde behandel.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Christelike huisgesin
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-christelike-huisgesin/
Last updated: 2025-10-04T07:00:15.000Z
*Geskryf deur Carolien Antuma, VGK Bellville*
Die gewilde siening in die moderne wêreld is om jouself eerste te stel. Daar word gesê dat as iets of iemand nie tot jou voordeel is of werk nie, as iets jou nie dien nie, jy dit uit jou lewe moet verwyder. Dat dit die heel belangrikste is om na jouself om te sien en dat jou gevoelens en geestesgesondheid die belangrikste is in jou lewe.
In teenstelling hiermee, leer die Bybel ons dat die lewe van 'n Christen een van selfverloëning is - jy moet jou eie begeertes prysgee en vir God eerste stel en ander mense bo jouself (vgl.Filippense 2:1-11 en Lukas 9:57-62). Dit kan 'n mens slegs doen deur die genade van God en die werking van die Heilige Gees.
Die huwelik is een van die besondere maniere hoe God se verhouding met sy kerk uitgebeeld word in die wêreld. Dit is dié plek waar 'n getroude paartjie van die Here die geleentheid ontvang om hulle Christenskap uit te leef. Regdeur die Bybel gee die Here riglyne oor hoe om dit te doen.
In Efésiërs 5:18-33 leer die Here ons dat die man en vrou mekaar moet dien in hulle huwelik. 'n Vrou dien haar man deur onderdanig te wees aan hom en haar begeerte om in beheer te wees op te gee en 'n man dien sy vrou deur haar lief te hê en homself vir haar op te offer soos Christus dit vir die kerk gedoen het. In sy reeks preke, wat aan die einde van die artikel aanbeveel word, gee John MacArthur 'n mooi verduideliking van wat dit presies beteken.
Indien die Here 'n huwelik seën met kinders (sien Deuteronónium 7:12-14, Psalm 127:3-5 en Psalm 128 oor die seën van kinders), verbreed 'n man en vrou se verantwoordelikhede en take in die gesin. Hulle kry die geleentheid om die Here nie net in die huwelik te dien nie, maar ook in hulle ouerskap. Die begin van ouerskap beteken nie dat die huwelik nou onbelangrik is of tweede moet kom nie, maar dat die huwelik nou die hart van die gesin word (sien Génesis 1:26-28,Matthéüs 19:1-9 en Efésiërs 5:21-6:4). Dit gebeur soms dat jy óf jou verhouding met jou eggenoot óf jou verhouding met jou kinders prioritiseer na aanleiding van omstandighede, maar dit is belangrik om 'n balans te handhaaf tussen die twee.
Een van die verantwoordelikhede wat saam met die seën van kinders kom, is om hulle in die vrese van die Here groot te maak. Deuternómium 6:6-7 (AFR53) sê: "En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan." Dit wys ons die belangrikheid daarvan om ons kinders die weë van die Here te leer, maar ook dat ons (as Christene) altyd besig moet wees met die dinge van die Here. Aanbidding begin in die huisgesin - dis waar kinders leer hoe om God te dien. Ons moet ons daaglikse lewe só inrig, en die alledaagse dinge só aanpak, dat dit getuig van 'n Gees-vervulde hart sodat ons kinders daardie voorbeeld kan volg. (Sien Kolossense 3:16 en 23 en Efesiërs 5:18b).
Daar is baie praktiese maniere hoe om so 'n voorbeeld te wees. Die boek, Habits of the Household (wat aan die einde van die artikel aanbeveel word), stel voor dat jou daaglikse roetine 'n vorm van aanbidding is en dat, hoe jy jou lewe inrig, gesien kan word as 'n tipe liturgie. Die skrywer gee baie praktiese voorbeelde van hoe jy dit kan toepas en watter gewoontes jy kan bou om dit te doen.
Een van die belangrikste dinge wat enige Christen kan doen, is om die dag in stilte voor die Here te begin - deur Bybel te lees en te bid - om bewus te wees daarvan dat die Here daardie dag gemaak het, sodat jy dit ook tot sy eer kan deurbring.
Die eerste gedagte wat opkom wanneer 'n mens daaraan dink dat jy jou kinders van die Here moet leer, is om met hulle daaroor te praat. Dit is goed en belangrik vir ouers om hierdie gesprekke met hulle kinders te hê, maar dit is net so belangrik dat ouers se lewens hulle leer reflekteer, want kinders leer deur te sien - "monkey see, monkey do". Laat hulle byvoorbeeld sien hoe jy jou oggend saam met die Here begin en laat hulle soms deel wees daarvan.
Gereelde erediensbywoning en die gesindheid waarmee ouers dit doen, is 'n ander manier waarop kinders hulle ouers se geloof kan sien. Hulle leer dan ook so getrouheid en hoe dit lyk om deel te wees en deel te neem aan die gemeenskap van die heiliges. Dit is die ouers se taak om ook te verduidelik waarom ons kerk toe gaan en te help waar kinders dalk vrae het oor die preek.
Gesprekke in die gesin moet ook nie net gaan oor amptelike geloofslewe en -leer nie. Dis die ouers se verantwoordelikheid om 'n omgewing te skep waar daar openlik oor enige onderwerp gepraat kan word. 'n Omgewing waar ouers in liefde en met eerlikheid reageer op wat hulle kinders sê en waar kinders ook kan sien dat hulle ouers so met mekaar en ander omgaan.
Dis belangrik om geloofsleer nie slegs oor te laat aan die kerk en katkisasie nie, want ouers het self die doopbelofte afgelê om hulle kinders van God te leer. Daarom is dit goed om deur die week ook saam as gesin Bybelstudie te doen. Ouers kan verder met elke kind afsonderlik Bybelstudie doen en gesprekke hê oor die geloof en sake wat op die betrokke kind van toepassing is.
Kinders leer ook uit die manier waarop ouers omgee vir hulle medemens (binne en buite die kerkgemeenskap). Hulle sien wanneer ouers byvoorbeeld met vreugde kos maak en bring vir 'n gesin wat dit nodig het. Hierdie tipe voorbeeld wat ouers stel, sal kinders dan ook in hulle lewe makliker kan volg eerder as wat ouers net sê dat 'n mens moet lief wees vir jou naaste.
Die verantwoordelikheid om kinders volgens God se wil op te voed, mag dalk swaar op ouers rus, maar hulle word bemoedig in die wete dat hulle dit in vertroue op die Here mag doen.Hulle mag ook onthou dat hulle kinders aan God behoort en dat Hy in beheer is van alles. Wanneer ouers dít doen en hulle taak biddend aanpak, mag hulle rustig wees in die vertroue dat God se wil altyd geskied - dat die Heilige Gees ook in hulle kinders se harte werk en hulle pad só sal lei dat dit tot verheerliking van sy Naam is.
Alhoewel hierdie artikel 'n duidelike fokus het op die “tradisionele” gesinslewe, is dit belangrik om te onthou dat dit nie die Here se plan vir almal is nie. Daar is baie mense wat vir verskeie redes nooit trou nie (sien byvoorbeeld 1 Korinthiërs 7 en Matthéüs 19:12), of nie kan kinders kry nie. Daardie mense is geensins minder geseënd nie, en die Here gee vir hulle ander geleenthede om hul Christenskap uit te leef. Ons moet voortdurend biddend voor Hom staan en vra hoe Hy ons in sy Koninkryk wil gebruik.
### Goeie bronne om te lees/luister
- [Habits of the Household - Justin Whitmel Earley](https://www.takealot.com/habits-of-the-household-practicing-the-story-of-god-in-everyday-/PLID72131200?ref=olielamp.vgk.org.za) ('n Boek wat handel oor hoe om jou gewoontes in die daaglikse lewe te gebruik om as 'n gesin saam te dien in die alledaagse lewe.Hierdie boek is bespreek by 'n ouerskapskursus wat aangebied is by VGK Kaapstad).
- John MacArthur se reeks preke oor [The Fulfilled Family](https://www.youtube.com/playlist?list=PLcpTMSL-FR-fA0oIyoUD89404-SQcEHEp&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### God en Sy Glorie – Genesis 1
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-en-sy-glorie-genesis-1/
Last updated: 2025-10-01T17:00:19.000Z
Staan vir ‘n oomblik stil en dink, waar word God vir die eerste keer geloof? Dit gebeur alreeds op bladsy 1 van die Bybel. God was die eerste wese om Homself te prys. Die hele skeppingsverhaal besing sy lof. Ons kan dit raaksien wanneer ons vra: Hoekom het God die aarde geskape? Tot sy lof en prys. Hoekom het Hy het die diere gemaak? Om Homself te verheerlik. Hoekom het Hy die mens geskape? Tot sy eie eer. Wanneer jy Genesis 1 lees, sien jy dat alles wat God gemaak het, “goed” was.
Nog ‘n vraag wat mense vra, dui op dieselfde antwoord: Wat is die doel van die lewe? Om God te eer. Wanneer ons hierdie eerste hoofstuk van die Bybel lees, sien ons God se glorie skitter. God Drie-Enig, skep hemel en aarde. Hierdie skeppingsverhaal vind sy hoogtepunt wanneer die mens geskape word – die kroon van God se skepping. Die mens is, as’t ware, *die kersie op die koek*.
Die mens het ‘n taak gekry (vers 28), iets wat van die ander skepsels nie gesê is nie: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit.” Dit beteken, ons word geroep om God te dien en eer deur sy skeppingsopdrag te gehoorsaam. Deur God te dien loof en prys ons Hom. Hy het nie die aarde “sommer net” geskape nie, nee. Dit het een doel: Sy eer. Ons kan Kolossense 3:17 hierby aanhaal: “En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”
Die hele skepping loof sy naam. Die plante bloei in alle uitbundigheid met pragtige blomme wat sy glorie uitstraal. Die hoë bome getuig van sy almag. Die druising van die see herinner ons aan die magtige stem van God (Openbaring 1:15). Selfs die sterre skitter en glinster tot die eer van ons heilige God.
Tog, verg dit min moeite om die ellende en donkerheid van die mens te kan raaksien. Die mens het swaar misluk in sy taak, en homself in duisternis gedompel. Genesis 3 wys die wortel daarvan. Die mens is lief vir homself en wil homself loof en prys, daarom het hulle die vrug geëet, want Satan het valshede aan die mens vertel wat hom met hoogmoed en trots verlei het. Die mens se trots het hom laat struikel. En ons dra nou nog die gevolg daarvan, die menslike trots het alles verniel. Nie net sug die hele skepping (Romeine 8) gebukkend onder die mens se sondelas nie, maar die hele skepping aanskou hoe die mens homself vereer ten koste van alles. So neem ons die eer weg wat eintlik alleen aan God behoort.
Dan is die vraag: “Waarom het God die mens geskape as Hy geweet het dat die mens in sonde sou val?” Die heerlikheid van die skepping het nie verdwyn nie, God se raadsplan bevat nog groter glorie as net Genesis 1\. Deur die sonde sou God verhoog word. Sy regverdigheid, voorsienigheid en sy genade sou triomfeer. Dit sou kontrasterend, oneindig groot en helder skyn teenoor die donker sondebevlekte mensdom.
God het dit deur die geskiedenis aan die mens openbaar. Deur dit alles sou ons God leer ken vir wie Hy werklik is: ‘n God van getrouheid – wat ‘n verbond met sy kinders sluit; ‘n God van genade wat telkemale sy dwalende skape uitred; ‘n God van geregtigheid wat die bose straf; ‘n God van liefde wat sy Seun gestuur het ten koste van ons almal; ‘n God van ewigheid wat sy kerk bou tot aan die einde van dae.
Ja die heerlikheid en glorie van God skyn helder. Dit is die duidelikste as ons staan by die voet van die kruis. Ook dit was tot sy eer en heerlikheid (Johannes 17). Daar hang Jesus – God self – aan ‘n kruis, die aarde vir 3 uur in duisternis gehul. Daar hang Hy en betaal die boeteprys van ons sonde. Daar het hy die dood oorwin. Drie dae later het Hy opgestaan. Hy het opgevaar tot waar Hy sit aan die regterhand van die Vader. Laat die skepping juig!
### Gebed (Aangepas uit Psalm 104)
Here, my God, U is baie groot; U is met luister en glans beklee, U wat Uself met lig omhul, soos in 'n mantel, wat die hemel oopspan soos 'n tentdoek. Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort. Mag die majesteit van U, Here, vir ewig duur; verheug U in U werke. Ek wil vir die Here sing solank ek leef, ek wil U, my God, besing solank ek bestaan. Mag my bepeinsing vir U aangenaam wees. Ek, ek sal my verheug in U, o Here. Amen.
### Coram Deo
Ons is nie gemaak om stil te staan nie; ons is gemaak en geroep om God aanhou te dien en te verheerlik.
### Verdere Bybelstudie
Psalm 104 | Johannes 1 | Johannes 17
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata*
### ‘n Lewenslange Roeping - Bewoon, Bewerk, Bewaar
URL: https://olielamp.vgk.org.za/n-lewenslange-roeping-bewoon-bewerk-bewaar/
Last updated: 2025-09-27T07:00:06.000Z
*Geskryf deur Jorienke van der Linden, VGK Bellville*
In ‘n wêreld wat vinnig beweeg, waar jongmense dikwels gefokus is op prestasie en vooruitgang, is dit waardevol om terug te kyk — nie net na die geskiedenis nie, maar na die mense wat daardie geskiedenis beleef het. Die Bybel gee vir ons ‘n duidelike roeping: *bewoon, bewerk en bewaar*. Hierdie drie woorde word in die Gereformeerde wêreld as die opsomming van die Here se eerste opdrag in Genesis 1:28 gesien.
Hierdie opdrag geld nie net vir een lewensfase nie. Inteendeel, ek sien dit daagliks in die manier waarop ouer mense hierdie woorde uitleef — stil, getrou en met wysheid. Laat ons ‘n slag met nuwe perspektief na hierdie bekende en eerste opdrag van die Here kyk. (Terloops, hierdie opdrag begin met die woorde “God het hulle geseën”... sien ons dit ooit raak wanneer ons na hierdie opdrag verwys? Dat God ons as’t ware seën in en met die eerste opdrag?)
### Bewoon: Aanwesig wees met betekenis
> “God het die mens geskape… en vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…”
> \- Genesis 1:28, AFR53
Om te bewoon verwys nie noodwendig net na ‘n fisiese plek nie. Dit beteken ook om met teenwoordigheid en waardering te leef. Wanneer ek na die ouer mense in die gemeente kyk — oumas, oupas en mentors — sien ek hoe hulle die aarde op ‘n ander manier bewoon. Nie deur haastigheid nie, maar deur diep betrokkenheid. Hulle leef met ‘n rustigheid en wysheid wat vir jongmense ‘n voorbeeld is: om teenwoordig te wees, om sinvol te leef en om elke dag te sien as ‘n gawe van God.
### Bewerk: ‘n Lewenslange hand aan die ploeg
> “Die Here God het die mens in die tuin geplaas om dit te bewerk en te bewaak.”
> \- Genesis 2:15, AFR53
Die idee van bewerking is vir baie jongmense gekoppel aan werk, drome en doelwitte. Wat dan van die ouer generasie? Mense wat nie meer kan werk nie, of wat klaar hulle persoonlike doelwitte bereik het? Dan besef ek dat die opdrag oor bewerking soveel groter is as net ‘n loopbaan - dit verwys ook na die kinders wat grootgemaak is, na die "aktiwiteit" van lewe. Die bewerking van harte, verhoudings, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe is iets wat baie ouer mense op ‘n stille en effektiewe manier doen. Hulle wys vir ons dat werk nie net in aksie lê nie, maar ook in invloed. Op hierdie manier bewerk hulle steeds die wêreld—deur gebed, raad, voorbeeld en getrouheid.
### Bewaar: Die kuns van versorging en verantwoordelikheid
> “…om dit te bewaar.”
> \- Genesis 2:15, AFR53
Bewaring is dalk een van die kosbaarste lesse wat ons van ouer mense leer. Hulle verstaan hoe om dinge te beskerm—waardes, tradisies, geloof, familie-eenheid, selfs die natuur. In ‘n tyd waar alles vinnig vervang of vergeet word, leer hulle ons die waarde van volharding en versorging. Ouer mense is dikwels die stil wagters van herinnering en betekenis. Hulle dra ‘n nalatenskap wat nie net beskerm nie, maar ook gedeel word. En ek besef: ek is wie ek is, ek is deel van iets, omdat iemand anders iets bewaar het.
### Gevolgtrekking: ‘n Roeping vir elke seisoen
As jongmens leer ek uit die Bybel én uit die voorbeeld van die ouer generasie dat God se roeping nie by ‘n sekere ouderdom ophou nie. Die opdrag om te bewoon, bewerk en bewaar geld vir elkeen van ons—van kindsbeen tot grys hare. Die ouer mense in my lewe wys my wat dit beteken om getrou te bly, om betekenisvol te leef, en om met die regte perspektief te bou aan God se koninkryk. En dan sien ek ook die seën van die Here in die ouer generasie se lewe in hierdie drie woorde: om te bewoon, bewerk en te bewaar. En ek weet seker dat ook ons jong generasie deur die Here geseën sal word om hierdie mooi opdrag te kan nakom. En ja, ons is jonk, ons moet nog leer, ons maak foute! Maar God wat Adam en Eva in die paradys geseën het met hierdie opdrag, beloof ook in sy Woord dat Hy sal gee wat nodig is om sy opdragte na te kom: “Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Thessalonicense 5:24, AFR53) asook: “God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.” (1 Korinthiërs 1:9, AFR53)
Ek dank die Here vir die generasie na wie ons vandag mag opkyk — wat vir ons wys hoe om te leef, te werk en te sorg. Hulle is nie agter in die storie nie; hulle lê die fondament waarop ek bou.
> “Hulle sal nog vrugte dra in die grys ouderdom, hulle sal fris en groen wees, om te verkondig dat die Here reg is."
> \- Psalm 92:15-16 (AFR53)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Is jy gereed?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-jy-gereed/
Last updated: 2025-09-24T21:01:57.000Z
Die afgelope weke, maar veral die afgelope paar dae, het baie mense gepraat van die wegraping of 'rapture' soos dit genoem word in Engels. Dit is orals oor Facebook, Instagram, TikTok en die nuus. Die TikTok trend oor hierdie dinge word sommer 'raptok' genoem.
Maar waar kom hierdie idee en aandag vandaan? Dit kom hoofsaaklik van twee mense. Die eerste is die wêreldbekende gospelsanger wat ʼn Christen predikant geword het - Danie Botha. En die tweede is ʼn Suid Afrikaanse dominee Joshua Mhlakela. Hulle albei praat met oortuiging dat die wegraping sou plaasvind tussen die 23ste en 24ste September 2025\. Hulle vertel wel twee verskillende stories oor hoe hulle die datum gekry het. Danie Botha verduidelik in ʼn paar videos hoe hy, op ‘n dag, trompette en basuingeklank gehoor het. Hy noem dat God toe met hom gepraat het en gesê het dat iets kom. Later het God weer vir hom ‘n visioen gegee oor verskeie nommers wat uitwerk op die 23ste September 2025\. Aan die ander hand, deel Joshua Mhlakela dat hy ook ʼn paar visioene gekry het waar hy Jesus sien en dat Jesus met hom gepraat het en vir hom baie spesifiek genoem het dat die datum wat Hy terug sal kom die 23ste September 2025 is. Hy het ook gesê dat God hom die taak gegee het om vir die mense te waarsku hieroor.
Hierdie gesprekke oor die datum van die wegraping bring angs en vrees in baie mense. Dit veroorsaak ook bespotting van Jesus Christus en God die Vader asook Christene. Dit gaan ook so ver dat mense hulle besittings en geld weggee vir ander omdat hulle dink dat die ander mense, wat agterbly hier op aarde, dit nodig gaan hê na die wegraping. Dit alles veroorsaak chaos en paniek!
Maar hoe verder? Hoe moet of kan ons daarna kyk? Die wegraping is ʼn moeilike onderwerp vir Christene - baie sê dit is waar, soos Danie Botha en Joshua Mhlakela, terwyl ander Christene glo in die wederkoms van Christus en nie die wegraping nie. In die Bybel leer ons dat die wegraping nie waar is nie. In 1 Thessalonicense 4:13-18 lees ons: *“Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”* Hierdie verse verduidelik die terugkoms van Jesus Christus om ons te red en hemel toe te vat. Paulus verwys hier ook terug na Mattheus 24 waar die tekens van die eindtye verduidelik word. Christus gaan terugkom en al die gelowiges, lewende en dooies, bymekaar bring voordat Hy hulle almal na die hemel toe sal vat.
Die wegraping en wederkoms van Christus is ʼn moeilike onderwerp, u kan dalk verder oplees hieroor in die artikels onder aangeheg.
Ons as Christene moet nie nou fokus op of Christus gaan terugkom tussen 23ste en 24ste nie (teen die tyd wat julle hierdie lees is daardie tyd ook amper verby). Maar ons moet juis fokus op of ons reg is om voor God te kom. Christus kan nou kom maar Hy kan ook in 10 jaar kom of in 1000 jaar kom. Maar dit is nie die punt nie, soos Matthéüs 24:36 beskryf *“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”* Verder sê Matthéüs in vers 44: *“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”* Ons moet nie nou net ‘geworry’ raak of Jesus nou gaan terug kom nie, maar ons moet kyk na ons eie lewens. Maak jou lewe reg voor God. Want dit is seker dat ons eendag en enige dag voor God gaan kan kom. Ons kan enige oomblik sterf, of dit van siekte is of ʼn karongeluk of van enigiets anders nie. As ons sterf of as Christus voor dan terugkom, gaan ons voor die Here moet verskyn waar ons ons dade en lewe sal moet verduidelik en verantwoordelikheid vir dit sal moet neem.
Lewe nou met die denkwyseom reg te wees as Christus nou sal terugkom, dat ons nie skaam is oor ons lewens nie. Is jy reg vir Christus se terugkoms? Is jy oortuig dat Hy vir jou sondes gesterwe en weer opgestaan het om ʼn plek in die hemel te maak vir jou en dat Hy sal terugkom om jou na God te bring sodat jy Hom daar kan loof tot in ewigheid? Ek eindig met Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 5:1-11 *“julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag ... Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie ... Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”*
### Gebed
HERE, almagtige Vader, Skepper van hemel en aarde. Here, ek kom voor U wat alleen weet van U plan vir die aarde. Help my om U werke raak te sien en ook daarvan te getuig. Help my om ander mense bewus te maak van U Seun en sy reddingswerk, wat op die kruis gesterwe het vir al ons sondes. Help my ook om op U te vertrou deur die moeilike tye, dat ek krag in U kan vind. Asseblief stuur U Gees om ons almal ook te versterk in hierdie stryd. Kom Here Jesus, kom gou! Amen.
### Coram Deo
Gee Hom die eer van nou tot in ewigheid. Gee Hom jou lewe, want Hy sal terugkom. Getuig vir ander dat Christus sal terugkom en dat almal reg gaan moet wees vir daardie dag.
### Verdere Bybelstudie
1 Thessalonicense 4 en 5 | Matthéüs 24 | Openbaring 8
### Bronne
- [https://www.christianstudylibrary.org/article/rapture-believers](https://www.christianstudylibrary.org/article/rapture-believers?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.christianstudylibrary.org/article/christs-return-and-rapture-evaluating-dispensationalism](https://www.christianstudylibrary.org/article/christs-return-and-rapture-evaluating-dispensationalism?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.christianstudylibrary.org/article/biblical-order-events](https://www.christianstudylibrary.org/article/biblical-order-events?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.jacarandafm.com/shows/breakfast/sa-preacher-says-rapture-will-happen-23-september/](https://www.jacarandafm.com/shows/breakfast/sa-preacher-says-rapture-will-happen-23-september/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.gotquestions.org/rapture-of-the-church.html](https://www.gotquestions.org/rapture-of-the-church.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
-
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Meer as net ‘n werk – Bewoon, Bewerk, Bewaar
URL: https://olielamp.vgk.org.za/meer-as-net-n-werk-bewoon-bewerk-bewaar/
Last updated: 2025-09-20T07:00:46.000Z
*Geskryf deur Lourens Strydom, VGK Pretoria*
Die oorgang van studentejare of afhanklikheid van ons ouerhuis na ’n selfstandige, werkende volwassene is ’n uitdagende fase van ons lewe. Skielik kry ons nuwe verantwoordelikhede soos finansiële onafhanklikheid, werksprestasie en om saam te werk met mense in magsposisies. Hierdie lewensfase bied egter ook ’n unieke geleentheid om die Here se skeppingsopdrag uit te leef op ’n manier wat Hom eer.
Genesis 1 en 2 herinner ons daaraan dat ons nie sommer toevallig op aarde is nie. Ons is doelbewus geskep. In Genesis 1:26 (AFR53) spreek God soos volg: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis…” Hierdie kort, maar kragtige boodskap plaas ons hele bestaan in perspektief. Ons is geskep om God se beelddraers te wees. Om dit reg te verstaan, moet ons eers weet wie God is en hoe Hy wil hê ons moet leef. Herinner jouself gereeld daaraan dat ons nie die mag oor ons eie lewens in ons eie hande mag neem soos die wêreld dit aanmoedig nie - ons leef slegs vir Hom.
### Die skeppingsopdrag: Bewoon, bewerk en bewaar
Vanaf die begin het God vir die mens ’n plek gegee om te woon: die tuin van Eden. Ons het ook ‘n taak gekry om te verrig. In die eerste plek hoor ons in die skeppingsopdrag dat ons ’n opdrag het om te bewoon. Dit beteken nie net fisies om êrens te bly nie, maar om ons plek verantwoordelik te vul. Ons moet die ruimte wat God vir ons gee waardeer en goed bestuur. Die wêreld sê dikwels dat jou woonplek bloot ’n plek van voorkeur en gemak is. Uit die Woord leer ons egter dat dit deel van ons roeping is.
Tweedens is ons opgeroep om te bewerk, produktief te wees, waarde toe te voeg en te bou. Adam se eerste werk was om die diere name te gee (Genesis 2:19-20). Uit hierdie teksverse sien ons dat werk nog voor die sondeval deel van God se plan was. Dit is dus nie ’n straf nie, maar ’n seën.
Laastens het God ons geroep om te bewaar, te versorg, te beskerm en te onderhou wat Hy aan ons toevertrou het. Hierdie drie opdragte is ook vandag nog van toepassing op ons beroepslewe.
### Werk in die lig van God se beeld
Die groot vraag is: hoe leef ons hierdie skeppingsopdrag uit as werkende Christene?
Ons doen dit nie volgens ons eie planne of vir ons eie eer nie, maar volgens die beeld van God. Romeine 1:17 (AFR53) lui soos volg: “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” Dit beteken dat ons nie net by sekere geleenthede uit geloof moet leef nie, maar selfs in uitdagende omstandighede. Ons word ook gewaarsku in Jakobus 1:22 (AFR53): “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Dus moet ons geloof prakties sigbaar wees by die werk. Ons kan nie selektief gehoorsaam wees aan die gebooie wat ons pas nie. Dit is dikwels duidelik dat daar in die werksomgewing sulke gewoontes kop uitsteek. Wees daarom bedag daarop om nie self in daardie strik te trap nie. Ons is almal van nature sondig, wat maak dat dit iets is waarvoor ons voortdurend moet bid.
### Verskillende rolle in die werkplek
As werkendes kan ons in verskillende posisies wees, onder andere:
- ’n Werknemer onder ’n ongelowige baas.
- ’n Werknemer onder ’n gelowige baas.
- ’n Bestuurder met gelowige of ongelowige werknemers onder ons gesag.
Elke posisie bring unieke uitdagings, maar in elkeen bly die beginsel dieselfde: God se lig moet deur jou skyn.
Vir die eerste twee punte kan ons net kyk na Paulus se woorde in 1 Timόtheüs 6:1-2 (AFR43):
> “ALMAL wat diensknegte is onder 'n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie. En die wat gelowige here het, moet hulle nie verag omdat hulle broeders is nie, maar moet hulle des te meer dien, omdat hulle wat die weldade ontvang, gelowiges en geliefdes is. Leer hierdie dinge en wek daartoe op.”
Let op die rede wat Paulus gee: “sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.” Dit gaan dus nie oor ons eie belange nie, maar soos vroeër genoem, oor die eer van God en die getuienis van die evangelie.
In praktyk beteken dit dat ons integriteit en lojaliteit onder andere in ons werk moet wys en deur hierdie optredes, wie God is. Of jy nou ’n pasiënt versorg, ’n verslag skryf, rekeninge balanseer, of ’n vloer mop – elke handeling sê iets oor Jesus Christus.
Verder, sê Paulus ook vir ons dat ons nie gelowige base minder moet respekteer nie, maar nog meer diensbaar moet wees. Onthou dat die gesagstruktuur ook deur God ingestel is en dat ons deur ons diensbaarheid ook hulle bediening versterk.
Wanneer ons by die derde punt kom waar daar werknemers onder ons gesag is, moet ons onthou dat dit nie saak maak of ons bo of onder op die hiërargie staan nie. Jou verhouding met God behoort te bepaal hoe jy jou werkverhoudings bestuur. Hy is immers ’n God van orde en geregtigheid, maar ook van liefde, geduld en genade. As ons hom navolg behoort daardie eienskappe ook sigbaar te wees in die manier waarop ons ander hanteer.
Laastens, as gevolg van ons sondige natuur sal daar altyd tye van jaloesie of die gedurige begeerte na erkenning en geld wees. Onthou Christus se woorde in Openbaring 2:9 (AFR53): “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede – maar jy is ryk…” Hierdie “rykdom” is nie materieel nie, maar geestelik van aard. Dit is ’n realiteit wat ons reeds in die hede kan beleef sowel as ’n belofte wat in die toekoms vervul sal word.
### Nuwe verantwoordelikhede, nuwe geleenthede
Die werksfase van ons lewe is meer as net ’n tyd van salaris verdien en rekeninge betaal. Dit is ‘n stadium waar ons leer om selfstandig te wees en groot besluite te neem. Tegelykertyd is dit ’n tydperk soos elke ander waarin ons ons gawes en talente verantwoordelik moet bestuur tot eer van God. Die wêreld sal ons leer om net vir vooruitgang en gemak te werk, maar die Woord roep ons tot iets hoër. Ons optrede, werksetiek en verhoudings kan ’n getuienis wees wat die evangelie versier.
God se skeppingsopdrag om te bewoon, bewerk en bewaar is nie beperk tot landbou of fisiese arbeid nie. As werkendes word ons geroep om produktief te wees, reg te bestuur wat aan ons toevertrou is en ons verhoudings te onderhou in ooreenstemming met God se Woord.
### Bronnelys
- AROS 2017\. *Die Pentateug*
- de Bruyn P.J. 2007, *Die Gesonde Leer*
- Kleyn C 2005\. *Die verhouding by die werk moet beheers word deur jou verhouding tot God.* https://www.vgk.org.za/preke/24131\.
- van Alten H.H. 2009\. *Ons is nie slegs christene teenoor weduwees en ouderlinge in die kerk nie, maar ook teenoor base by die werk!* https://www.vgk.org.za/preke/23035.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Islam en Ons
URL: https://olielamp.vgk.org.za/islam-en-ons/
Last updated: 2025-09-18T20:00:04.000Z
> “*Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie*” – Filippense 1:27
“Aslim Taslam”. “Peace to whoever follows guidance”. Hierdie was die woorde van Osama bin Laden aan president George Bush na 11 September. Hy het gesê: “aanvaar goeie leiding, onderwerp jou (aan my) en jy sal vrede hê.” Hy het dit al ook vir ander wêreld leiers deur die jare gestuur, byvoorbeeld ook vir President Donald Trump. Hierdie uitspraak wat bin Laden gebruik, genoem Da’wah, is die basis vir Islam se ‘evangelie’. Ons het verlede Donderdag die 24e herdenking van 9/11 “gevier”. Veral op so ʼn dag kan ʼn mens nie anders as om te wonder hoekom die Moslems op daardie vliegtuie besluit het om in die Twin Towers in te vlieg nie. Verlede week Donderdag het ds. Christo Heiberg ook ʼn lesing aangebied oor Islam – die gevare daarvan, maar ook wat ons van hulle kan leer.
Fitna is 'n beproewing wat 'n Moslem se geloof bedreig. Dit veroorsaak skaamte en vernedering vir daardie Moslem. As iemand Fitna veroorsaak op ʼn Moslem, kan en mag die Moslem hulle doodmaak. Hierdie is ʼn direkte opdrag van die Koran af. Om hierdie Fitna te vergeld is om die voorbeeld van Mohammed te volg en Allah se wil te doen. Om die Fitna te vergeld is genoem die ‘slagoffersindroom’. So as die Moslem die Fitna vergeld en sterwe, is dit vir sy eer. Hierdie maak dit baie gevaarlik, want Moslems word eer gegee wanneer hulle sterwe as ʼn martelaar. Die Moslems leef met die doel: in alles wat jy doen moet jy Allah volg, al is dit na die dood toe. Hierdie klink bekend vir ons, nie waar nie? Dit is ook hoe ons as Christene moet lewe. Ons moet Jesus ook so naby volg - soos ons dit vind in Matthéüs 16:24-27\. Ons moet ons lewens opoffer vir die diens aan die Here:
> *“Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.”*
Ds Heiberg het genoem dat die tyd nou vir Moslems is om oor te neem. Die weste is geestelik moeg en moreel bankrot. Islam kan nou maklik mense kry, want mense weet nie meer waar om na toe te draai nie. Hierdie sal ʼn oorwinning wees vir die Moslems, om hulle skaamte vir eer te verruil. Dit sien ons deesdae meer en meer, 50% van Afrika is Moslem (Galal, 2024). Maar dit is net so ʼn goeie tyd, as dit nie beter is nie, vir ons as Christene om te evangeliseer. Filippense 1:27-30 noem dat die Filippense moet, en so ons ook, “*in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie*”. Hierdie teks verduidelik evangelisasie as ons grootste roeping, en so, dat ons nie “*afskrik (om te evangeliseer) deur die teëstanders*”. Die teks verduidelik verder dat dit vir ons redding is, al is ons redding deur Christus genadiglik aan ons gegee. Ons moet nie net in Christus glo nie maar ook vir Hom ly (Filippense 1:29).
Verder in Galasiërs 4:21-31 kan ons lees van die stryd tussen Isak en Ismael en hulle afstammelinge. Deur dit te lees, besef ons dat daar geen middelgrond is nie. Dit is óf vir God of vir mens. Maar omdat ons “*nie kinders van die slavin (is) nie, maar van die vrye*” (Gal 4:31) moet ons ook so leef. Ons woorde en dade moet Christus verkondig.
Hierdie stryd gaan moeilik wees (Matthéüs 5:11) maar ons kan dit doen deur die krag van God wat ons ondersteun en die wete dat die oorwinning gewaarborg is (Openbaring 12).
Ds. Christo Heiberg het met ʼn paar praktiese toepassings afgesluit (Heiberg, 2025):
- Luister weer nuut na die Here se stem
- Lees die Bybel met ʼn Nuwe Testamentiese perspektief
- Bid weer met jou hele hart
- Beywer jou vir Christelike eenheid
- Wees sterk in die Here en weier om aan vrees toe te gee
- Wees bedag op misleiding, en bly ingelig
- Reik uit na Moslems en almal anders om jou
- Raak betrokke in ons gemeenskap, in die kerk en die wêreldse gemeenskap om jou
- Bid en werk vir politieke verandering
Hierdie praktiese punte moet hand-aan-hand gaan met Bybellees en gebed. Lees die Woord van God, dit is waar ons ware vrede en krag kan vind (Johannes 14:25-31 en Psalm 73:26). Ons moet die Bybel bestudeer en ken. Ja, dagstukke en verklarings kan baie help maar ons moet die Woord deur en deur ken, want dit is ons wapen in die stryd, die swaard van die Gees (Efesiërs 6:17). So kan ons ook die ‘raad’ van Osama bin Laden volg: Aanvaar goeie leiding (die leiding van uit die Bybel), onderwerp jou (aan God en Sy Woord) en jy sal vrede hê!
### Gebed
HERE, U is almagtig en groot, Heerser van hemel en aarde. U weet alles wat in die wêreld aangaan en ook wat in my lewe aangaan. Help my om op te staan vir U naam. HERE, ek plaas my lewe in U hande. U is my krag en sterkte. Help my om U Woord te bestudeer en ook die wil om daaruit te leer. Gee my krag om dit van toepassing in my lewe te maak. Dat ek dit ook vir die evangelie van U Woord kan gebruik. Help my om soos U profeet Jesaja te sê “hier is ek, stuur my”. U is my Rots en Redder by Wie ek skuil, in U vertrou ek. Amen.
### Coram Deo
Ons kan leer uit die toewyding van die Moslems aan Allah – ons moet die HERE volg met ons hele hart, siel en gees. Dit kan ons doen net deur die Woord van God te lees en te leer.
### Verdere Bybelstudie
Filippense 1 | Matthéüs 16 | Galasiërs 4
### Bronne
- Galal, S. (2024, May 30). *Muslim population in Africa as of 2024, by country*. Herwin van Statista: https://www.statista.com/statistics/1368589/muslim-population-in-africa-by-country/
- Heiberg, C. (2025, September 11). Nine Eleven.
*Geskryf deur Cornel Begemann, VGK Maranata*
### Charlie Kirk doodgeskiet — hoe maak ons nou?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/charlie-kirk-doodgeskiet-hoe-maak-ons-nou/
Last updated: 2025-09-13T07:00:21.000Z
Skote klap, bloed vloei, en mense gil angsbevange... Afgelope Woensdag, 10 September 2025, is nuuskanale oorspoel deur een naam: *Charlie Kirk*. Hy is om 12:20 (MDT) doodgeskiet tydens ‘n spreekbeurt by Utah Valley Universiteit, waar hy met studente in gesprek besig was.
Charlie het in 2012 op die ouderdom van slegs 18 jaar ‘n organisasie gestig genaamd *Turning Point USA* wat fokus op konserwatiewe aktivisme. Sy naam het prominent geword deur sy debatte, toesprake, boeke en video’s op YouTube. In die volksmond was Charlie een van die grootste invloede wat die Amerikaanse verkiesing in 2024 in Trump se guns geswaai het. Soek gerus sy naam op Google. Daar is meer as genoeg bronne oor die moord te vinde. Dit sal gou sigbaar wees hoe swaar polities elke artikel weeg.
Alhoewel Die Olielamp nie polities wil wees nie, eerder Christelik, is hier tog baie om van te leer as ‘n gelowige. 1 Petrus 3:15 spreek boekdele: “eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek.” Eerstens kan ons kyk na Charlie Kirk as ‘n Christen wat nie teruggedeins het vir valshede nie, maar gestreef het om trou aan die waarheid te bly. Hy was protestants-evangelies en was uitgesproke oor dit wat hy glo. Hy was altyd gereed om te getuig oor die hoop waaraan hy klou. “Hoekom is jy ‘n Christen?” is Charlie ‘n keer deur ‘n satanis gevra. Sy antwoord: “Want Jesus het my gered en my lewe verander.”
Verder kan ons hieruit leer hoe goddeloos die samelewing is. Vandag heers die eie ek en my eie opinie. G’n mens kan en mag my manier van dink verander nie. Dit is duidelik deurdat iemand so ver kon gaan om Charlie te skiet vir dit wat hy sê. Waarheen is hierdie wêreld op pad? Kyk net hoe lyk Amerika – dit is sonder om eens na ons eie land te kyk. Paulus skryf in Romeine 8:20, “Want die skepping is onderwerp aan 'n sinlose bestaan.” Dit is wat die sonde doen. Die wêreld kort vir Jesus.
Charlie Kirk se moord is angswekkend. Ons as Christene mag – eerder, moet – hartseer wees. Iemand is immers vermoor. ‘n Pa laat sy vrou en twee kinders agter. ‘n Christen is vermoor omdat hy die waarheid gepraat het. Terwyl dit ons laat skrik, moet ons nie verbaas wees nie. Jesus sê in Johannes 15:18, “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.” As gelowiges dra ons die merk van Christus. En in Openbaring 12 staan dit duidelik dat Satan God se kinders soek om hulle te verteer. Satan “het weggegaan om oorlog te voer teen die res van \[die vrou se\] nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het” (Openbaring 12:17).
Ons hoef egter nie te vrees nie, want Christus het reeds die oorwinning behaal (Kolossense 2:15). En al kreun die gelowiges saam met die hele skepping, bly daar hoop waaraan ons as kinders van God mag vasklou. Ons “sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. Ons is immers verlos in hoop” (Romeine 8:23,24). Charlie Kirk is ons ‘n tree vooruit. Hy is alreeds van sy liggaamlike pyn verlos. Laat ons ook aan daardie hoop vasklou.
Paulus skryf verder in Romeine 8 oor die swaarkry van gelowiges: “Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”
Terwyl die wêreld woel, die bose aanval en die gelowige swaarkry, bemoedig Jesus ons wanneer Hy sê, “In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin” (Johannes 16:33).
### Verdere Studie
Romeine 8 | Psalm 83
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata*
### Die Woord Weerklink – 1 Thessalonicense 1
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-woord-weerklink/
Last updated: 2025-09-10T17:00:19.000Z
> “Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.”
> \- 1 Thessalonicense 1:8
Handelinge 17:1-10 vertel vir ons hoe Paulus en sy reisgenote tydens sy tweede sendingsreis die evangelie in Thessaloníka verkondig het. Ons lees in Handelinge 17:2-3, “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”
As gevolg van die ongelowige Jode se afgunstigheid het daar ‘n opskudding in die stad ontstaan wat Paulus verhinder het om langer in Thessaloníka te bly. Maar alhoewel Paulus slegs vir 3 Sabatte die evangelie aan hulle verkondig het, het die woord van die Here so groot impak op hulle gehad dat Paulus die volgende sê: “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid” (1 Thessalonicense 1:5) en verder: “julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Thessalonicense 1:6)
“Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan” (1 Thessalonicense 1:8). Die woord van die Here het weerklink, weergalm, ge-eggo. Thessaloníka was soos ‘n klankversterker wat die evangelie laat weergalm het deur die hele Griekeland. Dit is die onoplosbare eggo van die evangelie - die goeie nuus van wie God is en wat Hy alles in Christus en deur sy Gees vir gelowiges doen.
Ons het gehoor dat die evangelie ‘n baie groot impak op en ingang by die Thessalonicense gehad het. Die gelowiges het volgens vers 9 alreeds van die afgode bekeer tot God en hulle dien die lewende en waaragtige God. Maar wat doen Paulus in hierdie eerste hoofstuk en die res van die brief? Hy spel weer in duidelike taal die evangelie uit. Die gemeente in Thessaloníka en ons vandag het voortdurend nodig om die Woord van die Here te hoor.
Kyk hoe weerklink die evangelie in vers 10\. Jesus, wat uit die dode opgewek is, verlos ons van die toekomstige toorn. Ons word verlos van God se toekomstige toorn, want Christus het in die volheid van die tyd reeds die plaasvervangende en volmaakte offer vir gelowiges gebring en sodoende ons bevry van God se toorn. Hy het uitgeroep, “Dit is volbring” (Johannes 19:30). Dit is betaal, en daarom kan ons met hoop leef en die Seun vanuit die hemele verwag, want die Regter wat kom om te oordeel is reeds in ons plek geoordeel.
Dit is ook die rede waarom ons, as die Here wil, hierdie nuwe afdeling in die Olielamp sal begin en voortsit. Hierdie projek sal hoofsaaklik toegespits wees op oordenkings vanuit Skrifgedeeltes eerder as tematiese oordenkings. Die evangelie moet eggo in ons gedagtes en moet vanuit ons weerklink in hierdie wêreld.
Ons bede is dat hierdie afdeling in die Olielamp groei sal gee in ons kennis van God se Woord en ons verhouding met Hom. Die Here gebruik sy Woord en die verkondiging en oordenking daarvan op ‘n wonderbaarlike wyse deur sy Gees om ons te laat volhard op ons pelgrimsreis.
So bely ons in Dordtse Leerreëls 5:14: “Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente.”
### Gebed
O Here, soos die Psalmdigter wil ons bid: “Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne." (Psalm 119:17-24). Amen
### Coram Deo
Laat ons die Here se Woord voortdurend lees, hoor, bepeins en memoriseer en laat ons nie net hoorders van die Woord wees nie, maar ook daders van die Woord.
### Verdere Bybelstudie
Psalm 119 | Psalm 19 | 2 Timótheüs 3
*Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Annlin*
### EP14: Die Kerkgeskiedenis van die Vrye Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep14-die-kerkgeskiedenis-van-die-vrye-gereformeerde-kerk-van-suid-afrika/
Last updated: 2025-09-06T18:40:56.000Z
Hoe het die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ontstaan en oor die jare ontwikkel? **Ds. Erik van Alten** vertel die geskiedenis van die VGKSA: van sy stigting tot sy groei binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ons kyk na die kerk se oorspronklike visie, uitdagings oor die dekades, en hoe sy teologiese standpunte aangepas en gevestig is.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Seun van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-seun-van-god/
Last updated: 2025-09-06T07:00:36.000Z
*Geskryf deur Eben van den Bout, VGK Maranata*
Meeste gelowiges erken dat Jesus die Seun van God is. Dit is ‘n benaming wat redelik algemeen onder Christene gebruik word. Besef ons egter wat hierdie titel inhou en wat dit vir ons beteken?
Elke mens behoort opreg en in vryheid te kan bely dat die mens, Jesus, werklik God se Seun is. Daarom is Hy dus waarlik God en het Hy al die eienskappe wat die Vader ook het. Soos ons in Kolossense 2:9 (AFR53) lees: “In Hom (Jesus) woon al die volheid van die Godheid liggaamlik…”
Ons menslike verstand is te beperk om hierdie feit te begryp. Ons hoef egter nie alles te verstaan nie, maar moet sekere dinge oor God net in vertroue aanvaar en nie bevraagteken nie. Elke kind van God kan egter dankbaar wees vir die vleeswording van die Seun van God. Daarsonder sou ons nooit met God die Vader versoen wees nie en sou ons altyd in die sonde en verdoeming gebly het.
Die Seun van God is die volmaakte Middellaar omdat Hy volledig God en mens is. Hy het soos ‘n mens gely en menslike emosies ervaar. Deur sy menswording kan ons in vryheid tot Hom nader in gebed, dus het ons deur die Seun van God direkte toegang tot God verkry.
As volwaardige God, het die Seun van altyd af bestaan. Sy twee nature het nooit geskei nie - ook nie toe Hy aan die kruis gesterf het nie. Nou kan jy dalk vra: hoe is dit moontlik dat Jesus gesterf het as sy twee nature nie geskei was nie, God is mos onsterflik? Christus het as mens aan die kruis gesterf - Hy het nogsteeds al die Goddelike eienskappe gehad - maar die Man wat aan die kruis gehang het was volkome mens. Jesus kon daarom ook opstaan omdat Hy nogsteeds sy Goddelike eienskappe gehad het. As Hy net mens was, sou dit onmoontlik vir Hom wees om uit sy eie op te staan uit die dood.
Na Jesus se oorwinning oor die sonde en die dood is Hy verhoog en “’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.”(Filippense 2:9-11, AFR53) Hy is weer verhoog tot Sy oorspronlike ereposisie as Seun van God!
Nadat Christus sy werk op aarde voltooi het, is Hy nie bloot terug hemel toe om, met respek gesê, Homself op die troon gemaklik te maak nie. Hy het nie “afgetree” en sy werk is nog nie afgehandel nie. Hy is besig om vir ons plek voor te berei sodat ons nooit weer van God geskei sal wees nie. Hy is steeds met ons (Immanuel) en deur die Heilige Gees woon Hy in ons. Soos ons in Matthéüs 28:20 (AFR53) lees: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”
Christus se titel as Seun van God is ‘n magstitel. Dit wys sy gesag en sy posisie aan die regterhand van die Vader. Hy tree by Sy Vader in en ons kan in vertroue wag op Sy wederkoms. Die Seun van God sal weer kom en alle gelowiges opneem in heerlikheid!
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Doen dit in jou Jeug - Bewoon, Bewerk, Bewaar
URL: https://olielamp.vgk.org.za/doen-dit-in-jou-jeug-bewoon-bewerk-bewaar/
Last updated: 2025-08-30T12:43:39.000Z
*Geskryf deur Emile Burgers, VGK Maranata*
Rentmeesterskap verwys na die mens se verantwoordelikheid om die skepping van God te bewoon, te bewerk en te bewaar. Nie as eienaars van die skepping nie, maar as getroue bestuurders van wat aan God behoort. Hierdie roeping is gegrond in die skeppingsopdrag van Genesis.
*“En God het hulle geseën, en God het aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde en onderwerp dit; en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”* (Genesis 1:28, AFR53)
### **Bewoon**
Die mens is opgeroep om die aarde te bewoon. Nie passief nie, maar aktief, as verteenwoordiger van God. Psalm 8:5–7 (AFR53) beklemtoon hierdie rol: "Wat is die mens dat U aan hom dink... U het hom weinig minder gemaak as die engele en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande..."
Hierdie heerskappy is nie 'n lisensie tot uitbuiting nie, maar 'n verantwoordelikheid tot diens. Die hele skepping is immers daar om God se Naam te verheerlik. Soos Psalm 19:2 (AFR53) beskryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”
Hieruit leer ons: God sorg vir sy skepping, en ons behoort Sy sorg na te boots deur hoe ons met die aarde omgaan.
### **Bewerk**
Werk is ’n goddelike roeping. Dit is nie n straf as gevolg van die sondeval nie. Die opdrag om te werk is al voor die sondeval aan die mens gegee. Genesis 2:15 (AFR53) stel dit duidelik: "Toe neem die HERE God die mens en plaas hom in die tuin van Eden om dit te bewerk en te bewaak."
Werk is nie 'n vloek nie, maar ’n seën en roeping. Alle werk soos byvoorbeeld landbou, opvoeding, gesondheidsorg en tegnologie is ’n manier waarop die mens die skepping tot diens van God en sy medemens kan gebruik. Hierdie arbeid moet egter gedoen word met respek vir die Skepper en Sy orde.
### **Bewaar**
Bewaar die skepping as God se eiendom. Die aarde behoort aan God. Psalm 24:1 (AFR53) sê dit duidelik: "Aan die HERE behoort die aarde en die volheid daarvan." Hierdie benadering beklemtoon dat die skepping nie net 'n hulpbron is nie, maar ’n openbaring van God se heerlikheid. Tog is dit belangrik om hier ’n gebalanseerde perspektief te behou. Anders as sommige radikale ekologiese bewegings – soms genoem “greenies” – wat die aarde verafgod of mense as vyande van die natuur sien, leer die Bybel dat die skepping ’n gawe van God is aan die mens. Ons moet dit oppas, maar sonder om die skeppingsorde om te keer.
Ons weet ook uit die Skrif dat die skepping nie ewig sal bly soos dit is nie. 2 Petrus 3:10 (AFR53) leer dat die aarde eendag sal vergaan: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand."
Dit beteken egter nie dat ons roekeloos daarmee mag omgaan nie. Ons het steeds die verantwoordelikheid om dit te bewaar vir toekomstige geslagte en as 'n getuienis van God se goedheid.
### Die Opdrag in my Jonkheid
Nou, hoe kan ek as jongmens my skeppingsopdrag, of my taak as rentmeester uitvoer? Dit is belangrik om te verstaan dat God elkeen van ons met ander talente geseën het, en dat die vraag vir ons elkeen anders beantwoord kan word.
As jongmens kan ons die aarde bewoon deur gesonde verhoudings op te bou deur in liefde en respek met mekaar saam te leef, aktief te wees in die gemeenskap en om ander te dien. Ons het ook die verantwoordelikheid om ons talente te ontwikkel. Of dit nou musiek, sport, wetenskap ens. is - jou gawes moet bydra tot die wêreld se rykdom.
Ons skeppingsopdrag kan nie apart gehou word van ons daaglikse lewe nie. Ons moet elke dag ons werk doen met integriteit. Of jy nou studeer en moet leer vir ‘n toets, of by jou werksplek ‘n diens moet lewer, doen dit alles met toewyding en tot eer van God se naam. Ons behoort dit te doen deur te bid dat God ons wysheid sal gee om ons roeping te verstaan. Ons moet ook elke dag in God se Woord leiding soek oor hoe om volgens Sy wil te lewe.
In Christus sien ons die volmaakte beeld van rentmeesterskap: getrou, gehoorsaam en diensbaar. Romeine 8 wys ons daarop dat die skepping saam met ons sug in afwagting op volle verlossing. Ons verantwoordelikheid vandag is om as wedergebore mense reeds nou te leef in die lig van daardie komende herstel deur die aarde te bewoon, te bewerk, en te bewaar tot eer van God se groot Naam.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Charismatiese Kerk en hoe ons met hulle omgaan
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-charismatiese-kerk-en-hoe-ons-met-hulle-omgaan/
Last updated: 2025-08-23T07:00:31.000Z
*Geskryf deur Ewan Smit, VGK Pretoria*
> “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.”
> 2 Petrus 2:1-3, AFR53
Hierdie is ‘n baie kras boodskap oor die valse profete en moet nie ligtelik opgeneem word nie. Dit is belangrik om te onthou dat iemand nie outomaties ’n valse leraar is net omdat hulle nie op ’n Sondag binne ons kerk se mure sit nie. Ons moet ook raaksien dat ander kerke van ons kan verskil en nie noodwendig verkeerd is nie, dus is dit belangrik om die kerk se waardes te toets.
Ons kyk na die Heidelbergse Kategismus om die kenmerke van ‘n ware kerk waar te neem, naamlik:
- ‘n Ware en suiwere verkondiging van die Woord van God (V&A 65, 84)
- Regte bediening van die sakramente (Doop en nagmaal) (V&A 66-82)
- Die kerklike tug (V&A 85)
Deur na Charismatiese kerke te kyk, moet ons op die bogenoemde gronde toets of hulle ware kerke is.
### Wat is ‘n Charismatiese kerk?
Die *Charisma* is ‘n Griekse woord wat beteken ‘genadegawe’ of ‘geskenk’. Dit verwys na die gawes van die Heilige Gees wat aan gelowiges gegee word soos in Romeine 12:6-8 en 1 Korinthiërs 12 beskryf word. Hulle glo dus in ‘n meer ervaringsgebaseerde benadering tot geloof. Die volgende is kenmerke van die Charismatiese kerk:
- Plaas sterk klem op die gawes van die Gees, soos spreek van tale, profesieë en genesing.
- Aanbidding is ervaringsgerig en die Heilige Gees word as ‘n tasbare eenheid gesien.
- Doop deur die Heilige Gees - ‘n tweede geestelike ervaring na bekering, gekenmerk deur die spreek van geestelike tale.
- Drome en openbarings word gesien as geestelike boodskappe van God, indien dit nie teen die Bybel se leer ingaan nie.
### Buitengewone gawes en die spreek van tale
Die belangrikste Bybelstuk wat die spreek van tale behels vind ons in Handelinge 2 waar die Heilige Gees uitgestort word. Hier kan ons sien dat die Heilige Gees Homself verdeel het onder die mense en hulle toegerus het om in tale te kan spreek. Let wel op vers 6-11, waar daar genoem word dat hul in verstaanbare tale die groot dade van God verkondig het.
Dit staan in teenstelling met die Charismatiese “brabbeltaal” - siende dat hierdie taal nie deur enige persoon verstaan kan word nie. Daar word beweer dat iemand met die geestelike gawe van uitlegging wel die taal kan uitlê (1 Korinthiërs 12:10), alhoewel daar nie ‘n manier is om die uitgelegde boodskap na te gaan nie. Daar kan wel natuurlik gekyk word of die boodskap se inhoud met die Bybel ooreenstem.
### Geestelike ervaring of openbaring
Deur voor te stel dat daar ‘n geestelike belewenis moet plaasvind, wat in meeste gevalle aan gevoel gekoppel is, kan ‘n gevaarlike area wees om te betree. As jy dink dat daar dadelik iets spesiaals met jou moet gebeur wanneer jy jou tot die Christelike geloof wend, stel jy jouself oop vir teleurstelling of misleiding. Die Geestelike openbaring gebeur nie met almal nie, en kan verdeeldheid veroorsaak onder die lede wat nie die ervaring het nie. Dit kan gou gesien word as ‘n afmerklysie vir ‘n ‘ware’ gelowige. Ons saligheid hang nie af van ons ervarings en openbarings nie, maar dat ons glo en vertrou op God. Ons het nie nodig om dinge te sien om ons saligheid te verseker nie. “Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Johannes 20:29, AFR53)
### Genesing deur die Gees
Alhoewel gebed kragtig is (Jakobus 5:14–16), moet ons steeds die uiteinde van die siek persoon aan God se wil oorlaat. Genesing hang nie af van hoe groot jou geloof is of hoe goed jy as mens is nie. Dit is belangrik om dit te beklemtoon, omdat sommige Charismatiese gemeentes leer dat, as iemand nie gesond word nie, dit die gevolg is van 'n gebrek aan geloof by die sieke.
### Hoe moet ons met hulle omgaan?
Wanneer ons met ander kerke praat, moet ons dit altyd met respek en liefde doen. Die feit dat hulle nie soos ons glo nie, beteken nie dat ons beter is as hulle nie. Soos Paulus aan die gemeente van Efese skryf, moet ons dit doen omdat ons hulle wil help – nie om hulle af te kraak nie. “Met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.“ (Efesiërs 4:2-3, AFR53)
Ons moet in ag neem dat ons nie teen hulle moet baklei nie, maar eerder saam met hulle baklei na die groter doel: om God te dien op die regte manier en eenvormig te wees in geloof.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Moet ons volmaak wees?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moet-ons-volmaak-wees/
Last updated: 2025-08-21T06:56:33.000Z
*Geskryf deur Annemarie Antuma, VGK Bellville*
In Matthéüs 5:48 beveel Jesus Christus ons om volmaak te wees, net soos ons Vader in die hemel volmaak is. Nou kom die vraag: kan ons volmaak wees? Ons is sondig - waarom sal Jesus dit ons beveel?
Om die vers te verstaan, is dit belangrik om na die konteks te kyk waarin Jesus dit ons beveel. Die voorafgaande verse handel oor hoe ons ons vyande moet liefhê en goed moet doen aan die mense wat ons haat. Jesus gebruik die voorbeeld van ons Vader in die hemel wat sy goedheid uitstraal aan die gelowiges en ongelowiges in terme van sonskyn en reën wat Hy aan beide skenk. Jesus verduidelik verder dat, as ons net díé liefhet wat ons liefhet en ons ons vyande haat, is ons niks beter as die heidene en tollenaars nie (dink in vandag se tyd aan mense soos bendeleiers, ens.). Dit is dus hier waar Jesus vir ons sê dat ons na God die Vader moet kyk in hoe Hy handel en ook sό moet doen.
Ons moet volmaak wees deur goedheid te bewys aan almal rondom ons. Nie net teenoor ons medegelowiges of ons vriende nie. Dit kan deur eenvoudige dinge gedoen word, soos om ander te groet en vriendelikheid te bewys aan almal wat ons teëkom - al is nie almal noodwendig Christene nie. Net soos God son en reën gee aan goeie en slegte mense, moet ons ook ons gawes, soos geld, gebruik vir goeie doele en nie noodwendig net vir ons eie gemeenskap nie. Selfs vir dié wat ons haat moet ons altyd die geleentheid aangryp om liefde te bewys, al is dit hoe moeilik.
Vers 48 verwys dus nie na volmaaktheid in terme van dat ons sondeloos moet wees nie. Ons weet almal dat dit op hierdie aarde onmoontlik is. Daar staan immers in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3, dat *ons is in sonde ontvang en gebore is en self ons beste werke met sonde besmet is*. Ons lees ook verder in Matthéüs 6:12 dat Jesus Christus ons leer om God te vra om ons skuldes (ons sondes) te vergewe. Dit wys dus duidelik dat Hy weet dat ons met sonde bevlek is, en daarom sal ons nie volkome volmaak kan wees totdat Hy terugkom nie. Daarom beveel Hy ons om daagliks om vergewing te vra vir ons verkeerde dade.
Ons weet dus nou dat ons hierdie volmaaktheid nie self op aarde kan bereik nie. Beteken dit dan dat ons net moet ophou probeer? Dat ons kan sê: “Jesus Christus het tog vir al my sondes betaal en Hy het die volmaakte lewe gelei sodat ek nie hoef nie”? Nee, definitief nie. Dit is soortgelyk aan dit wat Paulus aan die Romeine skryf wanneer hy sê dat, waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword. Die vers beteken ook nie dat ons nou meer kan sondig, sodat die genade meer word nie. Ons het ons sondes afgesterf saam met Christus in sy dood sodat ons nou in ‘n nuwe lewe kan wandel saam met Hom. Daarom wil ons ook nie langer in die sonde bly nie en moet ons God daarvoor om vergewing vra.
Dit is waar dat dit onmoontlik is vir ons as mens om volmaak te wees. Ons het dus ‘n Middelaar nodig - iemand wat volmaak is. En so ‘n middelaar het God aan ons gegee. Jesus Christus het aarde toe gekom en Hy het in volkome volmaaktheid geleef. Hy was tot die dood toe gehoorsaam aan God. Hy is ons geregtigheid, en deur Hom word die onmoontlike moontlik. Ons moet op ons knieë gaan en God smeek om in ons te bly werk deur sy Gees en in genade. Ons moet in ons daaglikse lewe meer en meer soos Hy lyk, en daardeur ook aan ander wys wie ons Vader is en wie Jesus Christus is. Ons moet ons lewe aan God toewy soos Christus dit ook gedoen het.
Voordat Jesus se lewe, dood en opstanding nie ons s’n is nie, kan ons nie ons vyande liefhê nie. Ons moet ons sondes en gebrokenheid besef, en keer op keer vergifnis vra op grond van sy werk aan die kruis. Eers dán sal dit vir ons moontlik wees om deur Hom, die volmaaktheid na te streef.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### "Want baie is geroep, maar min uitverkies"
URL: https://olielamp.vgk.org.za/want-baie-is-geroep-maar-min-uitverkies/
Last updated: 2025-08-11T13:22:37.000Z
*Geskryf deur Aniek Moes, VGK Pretoria*
*“Want baie is geroep, maar min uitverkies”* (Matthéüs 22:14, AFR53). Soos alle verse in die Bybel moet jy die vers in konteks lees. Hierdie teks is aan die einde van die gelykenis van die bruilofsfees geplaas. In die gelykenis gaan dit oor die bruilofsmaal wat die Here vir ons gereed maak. Hy nooi baie mense, eers die Jode (sy uitverkore volk), maar nadat die genooides almal verskonings gehad het, gee Hy die opdrag om almal te roep. Hierdie is vir ons ‘n waarskuwing dat ons nie te besig met ons aardse dinge moet wees nie, maar gereed moet wees vir Jesus Christus se wederkoms. Ons moenie verskonings uitdink as die Here ons die opdrag gee om Hom te volg nie (Matthéüs 8:22). Met sy kruisiging het Hy die pad oopgemaak vir almal en daarom word almal uitgenooi na sy Bruilof. Die fout lê dus nie by die Here nie, Hy het almal geroep. Sy deure staan oop; dis ons wat Hom verwerp.
### Ons moet roep
Die feit dat daar min mense uitverkies is, beteken nie dat daar nie meer geroep moet word nie. God het ons die opdrag gegee om dissipels van alle nasies te maak (Matthéüs 28:19). Ons moet sy uitnodiging die wêreld instuur. Ons moet almal oproep om gereed te maak vir die Bruilof. Maar óns kan hulle nie laat kom nie, die Here sal dit in hulle harte werk om te kom. Hierdie gelykenis kan egter nie deur ons as ‘n verskoning misbruik word om te sê dat mense tog nie vir ons sal luister nie. Of dat, as die Here mense uitverkies het en belowe het dat hulle dan na sy Bruilof sal kom, Hy daarvoor sal sorg dat hulle sal kom en dat ons dus niks daarvoor hoef te doen nie.
### Maak min tevergeefs?
As daar min mense uitverkies is, maak dit Christus se sterwe minder werd? Ons moet onthou dat God se werk en sy planne nooit tevergeefs is nie. Hy gebruik ons om sy Naam te verkondig en Hy het ‘n plan. Jy kan nie kies of jy deel van sy plan wil wees nie, jy ís deel. Sonder God is alles tevergeefs en sou niks bestaan nie (Psalm 127). Ons kan ook wonder of dit nie tevergeefs was dat Jesus so erg moes ly as daar maar min is wat uitverkies is nie. Laat ek dit so vra: Is dit tevergeefs om vir vyf mense langs die pad kos te gee terwyl daar derduisende is wat nog honger ly?
In die gelykenis kan dit miskien voel of die Here hier sê dat Hy mense uitverkies het, ómdat hulle na sy Bruilof wil kom, maar dit is nie die geval nie. Die Here het ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:4). Gelukkig hoef ons nie te besluit wie uitverkies is of nie, ons moenie probeer inmeng in God se besluite nie.
### Is jy reg vir die Bruilof?
‘n Vraag wat ons onsself moet afvra, is: Is ons opgewonde vir die Bruilof van die Here? Net soos ons byvoorbeeld vir een van ons familielede of vriende se troues is? Of het ons “belangriker” dinge wat ons gedagtes en tyd in beslag neem? Berei ons ons voor vir die Bruilof van die Lam? Ons moet gereed wees, net soos die vyf wyse meisies (Matthéüs 25:1-13). Ons moet reg “aantrek”. ‘n Mens gaan nie na ‘n bruilof in ‘n kortbroek en plakkies nie, so moet ons nie soos die man in die gelykenis sonder ‘n bruilofskleed kom nie. Ons moet soos Christene leef en ons met die vrugte van die Gees beklee. Net soos die kleed in die gelykenis aan die gaste gegee is, het die Here ook die Heilige Gees vir ons gestuur sodat ons vrugte kan dra. In hierdie Bybelgedeelte hou die Here ‘n spieël voor ons en ons moet kyk of ons gereed is vir die Bruilof. Het ons die regte klere aan en maak ons tyd vir Hom? Is ons beklee met Christus se geregtigheid?
Die vers *“Want baie is geroep, maar min uitverkies”* is nie ‘n ontmoediging nie, maar juis ‘n aanmoediging om gereed te wees. Nóú - nie êrens later in jou lewe nie.
**Leef in dankbaarheid na die laaste dag**
Ons hoef ook nie bang te wees vir die oordeelsdag nie. Of bekommerd te wees of ons uitverkies is of nie, want as die Here ‘n goeie werk in ons begin het sal Hy dit voleindig (Filippense 1:6)
Die Griekse betekenis van die woord “uitverkiesing” in hierdie gedeelte beteken “om bevoorreg te wees”. Ons is bevoorreg om gered te wees, God is nie verplig nie. Hy is genadig. Sien ons dit nog as ‘n voorreg?
In die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 gaan dit oor die vraag of jy, as jy uitverkies is, weer afvallig kan word. Ons sien daar dat mense ’n roeping kan verstoot, maar dat ‘n mens nie jou uitverkiesing kan verwerp nie.
Die uitverkiesing kan baie keer onregverdig voel. Maar God weerhou nie sy Woord van mense nie. Almal het die geleentheid om na sy Bruilof te kom en die Bybel is vir almal beskikbaar. Baie mense wil net nie sy Woord aanvaar of glo nie. Ons moet onthou dat dit net genade is dat die Here sommige mense uitverkies het. Hy kon ook almal net so in die sonde gelos het, maar Hy is genadig. Ons moet dus eerder dankbaar as kwaad wees. Die punt bly: of daar nou baie of min uitverkies is, dit is net genade. As God ons nie gekies het nie, sou ons heeltemal verlore wees.
Mag hierdie vers ons almal bemoedig en ook aanspreek om die uitnodiging na die Bruilof bekend te maak aan die hele wêreld.
Bijzet, FJ. (2015, Januarie 01). *Baie is geroep, maar min is uitverkies*. \[Preek\] [https://www.vgk.org.za/preke/24641](https://www.vgk.org.za/preke/24641?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP13: Die Reformasie – Deel 2 (1500–1700 n.C.)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep13-die-reformasie-deel-2-1500-1700-n-c/
Last updated: 2025-08-05T07:00:37.000Z
In die tweede deel van ons gesprek oor die Reformasie fokus ons op die verspreiding van die beweging deur Europa, die rol van konings en politieke magte, en kerklike teenreaksies.
**Karina Ijlst** help ons verstaan hoe die Hervorming verskillende lande beïnvloed het en hoe die Rooms-Katolieke Kerk teruggeveg het met die Teen-Reformasie. Ons kyk ook na watter diepgaande gevolge hierdie tydperk gehad het op taal, kultuur en opvoeding.
Ons sluit af met ’n gesprek oor die relevantheid van die Reformasie vir vandag en hoekom ons steeds dankbaar moet wees vir hierdie geestelike hernuwing.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Groei in die Vrees van die Here!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/groei-in-die-vrees-van-die-here/
Last updated: 2025-08-22T10:00:57.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
Dink jy dat selfbeeld belangrik is? Vertel jy leuens om jouself te bevoordeel? Of is jy bang om op te staan vir Christus?
Dit is alles diep en persoonlike vrae, maar met een tema in gemeen: vrees. Mense rondom ons kan afgode vir ons wees. Hulle beheer hoe ons dink, hoe ons voel, en hoe ons reageer. Ons vertel leuens waar ons voel dis “nodig” of om ander mense se guns te wen. As Christus se naam in die publiek onteer word, is ons nie bereid om daarvoor op te staan nie.
Kan jy “vrees vir die mens” in jou eie lewe identifiseer? Is jy meer goedgunstig teenoor ryk of intelligente mense (mense met skynbaar meer “mag”) as “gewone” mense, net om hulle goedkeuring te kry? Kyk jy neer op mense en is jy dan dankbaar dat jy nie soos hulle is nie (Lukas 18:9-14)?
Wanneer ons die mens vrees, span dit vir ons ‘n strik (Spreuke 29:25). Petrus het vir Jesus drie maal verloën toe hy buite by die vuur gesit het. Hy het tot so ver gegaan om te sê *“ek ken die Man nie”* (Matthéüs 26:72). Petrus, die dissipel wie se naam “rots” beteken, verloën sy Verlosser voor ‘n diensmeisie wie waarskynlik onskuldige vrae gevra het. In retrospeksie skryf Petrus later in sy eie brief: *“Wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.”* (1 Petrus 3:13-14).
Die keuses van die lewe word in Jeremia 17 in twee kategorieë verdeel: die vertroue op die mens en die vertroue op God. Die Here vervloek die man wat op die mens vertrou, maar seën die man wat op die Here vertrou (Jeremia 17:5-8). Net soos die Here Jeremia stuur, stuur Jesus ook sy dissipels na die uithoeke van die wêreld en bemoedig hulle om nie te vrees vir die dood van die aardse liggaam nie (Matthéüs 10:28). As jy vertrou op God, wat kan ‘n mens doen (Psalm 56:12)?
Wat keer ons dan om slegs die Here te vrees en nie mense nie? Ons het drie doodsvyande: die bose geeste, die wêreld, en ons eie sondige vlees. Die weerstand teen die vrees van die Here begin by ons sondige vlees: ons fokus eerder op ons aksies as op ons houding. Jy het vandag redelik min sondes gedoen: jy het niemand spesifiek doodgeslaan of iets by iemand gesteel nie. Dit skep die indruk dat jy oor die algemeen *okay* is. Ja, van tyd tot tyd doen ons slegte dinge, maar daarvoor vra ons God om vergewing. As ons oor die algemeen ‘n goeie persoon is, dan word die vrees van die Here minder relevant.
### **Vrees van die Here in die Ou Testament**
In die Ou Testament sien ons hoe belangrik die vrees van die Here is: die sondvloed is ‘n vertoning van God se geregtigheid, die Here verwar mense wat ‘n toring tot in die hemel probeer bou, en Moses het sy gesig bedek uit vrees vir God se aangesig by die brandende doringbos (Exodus 3:6).
Nadat God aan Abram beloof het dat hy tot ‘n groot nasie gemaak sal word, was hy en Sarai oppad na Egipte vanweë hongersnood. Abram was bang dat sy lewe in gevaar sou wees omdat die Egiptenaars vir Sarai sou neem en hom doodmaak (Genesis 12). Later in sy lewe het Abraham weer Sara as sy vrou ontken omdat hy Abimeleg gevrees het (Genesis 20). Wanneer mense groot is vir Abraham, is die God van Abraham (Handelinge 3:13) klein. Toe Abraham op die punt was om Isak te offer, keer die Engel van die Here tot Abraham en sê “want nou weet Ek dat jy God vrees” (Genesis 22:12) — ‘n ware toets van Abraham se geloof.
Vrees vir die mens was ook duidelik in Jakob toe hy van Esau gevlug het, maar die Here laat hom nie in die steek nie. Hy openbaar sy wonderbaarlike glorie aan Jakob in ‘n droom en deur te worstel met hom (Genesis 28:21, 32:24-31). Ons ken ook die Stoeier in uiterse eerbied en ontsag, want elke knie sal buig in die Naam van Jesus (Filippense 2:10).
God het neergedaal op die berg Sinai met vuur, rook, bewing en die geluid van die basuin (Exodus 19:16-19). Die volk het gebeef. Wat was die uitkoms van dit alles? Twee kliptafels. Twee eenvoudige kliptafels mag dalk onderweldigend klink, maar dit vertoon God se heilige karakter. Hy beskerm bedruktes en armes, haat onregverdigheid, is vol van genade, en is vergewingsgesind. God red Israel, ‘n klein en verdrukte nasie, en sê vir hulle: *“Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig”* (Levitikus 11:44). Soos die Israeliete sidder ons uit vrees vir God en sy wette (Psalm 119:120).
### **Wat is die vrees van die Here?**
Die boek Spreuke laat die vrees van die Here aangenaam klink vir elke mens: diegene vrees niks anders (19:23), dit bring lewe (10:27), dit is ‘n toevlug (14:26), dit is ‘n fontein van die lewe (14:27), en dit bring eer (22:4). Hoe lyk die vrees van die Here? Die vrees van die Here haat wat sleg is (Spreuke 8:13). Om die Here te vrees beteken nie net om Hom te loof en te prys nie, maar ook om die sonde te haat, want daaruit leer ons eerbied en respek vir God.
Jesaja was eerbiedig onderdanig aan God, maar daarmee saam sou hy verwerp word deur sy eie volk en daagliks in die versoeking staan om eerder die mens te vrees as God. Die Here openbaar sy glorie aan Jesaja (Jesaja 6:1-2). Op die punt was Jesaja seker dat hy sou sterf vanweë sy onreinheid voor God se teenwoordigheid, maar God heilig hom — die vrees van die Here reinig en bring lig in die donker. Wanneer ons voor die Allerheiligste staan, voel ons skaam soos Adam en Eva en bang soos Moses en Jesaja, want ons sondige natuur word ontbloot. God ken ons sondige natuur en Hy deurgrond die diepste kamers van ons hart (Psalm 139), maar deur God se genade is sy teenwoordigheid vir ons gerustellend (Jesaja 40:11) en ‘n veilige skuilplek (Psalm 91).
Ons kan die vrees van die Here ook deur sy natuur leer ken. God het die aarde geskep en gesê dit was goed (Genesis 1:31). Die Drakensberge, die Tuinroete, die Wildtuin, en jou tuin: God het gesê dit is goed! Ons kan die glorie van God rondom ons vind: die wolke herinner ons aan sy teenwoordigheid (Exodus 19:9), die winde is sy boodskappers (Psalm 104:4), die sterrehemel verkondig die werk van sy hande (Psalm 8:4 en Psalm 19:2), en die hemele loof sy wondermag (Psalm 89:6). Kan jy die wolke beveel dat dit reën (Job 38:34)? Of, kan jy besluit wanneer die son opkom (Job 38:12-13)? God se skepping laat ons klein voel sodat ons saam met Job sê: *“Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond.”* (Job 39:37).
Net soos God se skepping wonderbaarlik is, is die boek Markus vol verwondering oor Jesus se werk op aarde. Die skare het hulle verwonder oor die baie tekens en wonders wat Jesus gedoen het, maar dit het nie altyd beteken dat hulle tot geloof gekom het nie. Verwondering is goed, maar verwondering moet lei tot geloof en geloof moet lei tot aksie. Die skepping en God se voorsienigheid is sigbaar vir beide gelowiges en ongelowiges oor die hele wêreld, maar sonder geloof is verwondering tydelik en oppervlakkig.
Wanneer ons meer tyd in die teenwoordigheid van God spandeer, bring dit ons lewe in perspektief, ‘n perspektief gevestig in die Woord. Bring die vrees van die Here jou op jou knieë? Sny die tien gebooie jou hart (Hebreërs 4:12) en bring dit troos terselfdertyd? Net soos ek en jy moes persone in die Bybelse tyd ook die vrees van die Here leer ken. Ons mag in gebed vra dat God ons sy vrees leer ken. Net dan kan ons die wêreld ingaan as oorwinnaars in Christus, vry van die vangnet wat die voëlvangers gespan het (Psalm 124:7), en oppad na die ewige weg (Psalm 139:24)!
*Geïnspireer deur hoofstuk 1-7 van “When People are Big and God is Small” deur Edward T. Welch.*
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ongemaklike tekste van Jesus: "Laat die dooies die dooies begrawe" (Lukas 9:60)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ongemaklike-tekste-van-jesus-laat-die-dooies-die-dooies-begrawe-lukas-9-60/
Last updated: 2025-07-26T07:00:38.000Z
*Geskryf deur Erik van Renssen, VGK Bellville*
Sommige van Jesus se woorde kan skokkend of selfs onsensitief klink. ’n Voorbeeld hiervan is Lukas 9:60 waar Jesus vir iemand sê: *“Laat die dooies hul eie dooies begrawe. Maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.”* Dit klink vreemd en hard. Hoekom sou Jesus nie toelaat dat iemand sy eie pa begrawe nie?
Om hierdie woorde reg te verstaan, moet ons besef dat Jesus nie teen die begrawing van en respek vir familielede is nie. Die Skrif leer juis dat kinders hul ouers moet eer (Eksodus 20:12 en Efesiërs 6:2). Hier wys Jesus op iets baie belangrik. Dit is dat wanneer Hy jou roep, dit belangriker is om te gehoorsaam. Dit kom bo alles anders, selfs familiepligte.
Die man in Lukas 9 wou Jesus volg, maar sê toe dat hy eers sy pa wil gaan begrawe. Volgens die oorspronklike teks was die pa waarskynlik nog nie dood nie. Met ander woorde, hy wou wag totdat dit hom pas om Jesus te volg. Jesus antwoord dan dat mense wat geestelik dood is (mense sonder die lewe van Christus in hulle) besig kan wees met aardse sake. Die wat egter aan Hom behoort, is geroep tot ’n hoër taak: die verkondiging van God se koninkryk.
In die Heidelbergse Kategismus, Sondag 1, bely ons dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Dit beteken dat Hy die hoogste gesag oor ons lewe het. Wanneer Hy roep, mag niks belangriker wees nie – nie werk, famile, vriende of selfs tradisies soos begrafnisse nie.
Jesus se woorde is nie koud of liefdeloos nie, maar dringend en reguit. Hy roep nie net tot 'n godsdienstige byvoeging tot ons lewens nie, maar tot 'n volledige verandering, tot ware dissipelskap. In Sondag 48 bid ons dat God se koninkryk sal kom. Ons bid dat ons onsself en alles anders ook aan Hom onderwerp.
Ja, hierdie teks is ongemaklik, want dit wys vir ons hoe maklik ons verskonings maak om nie vandag gehoorsaam te wees nie. Ons stel so maklik en so baie keer uit. Dit is juis in hierdie ongemak waar die Gees ons hart toets. Hier sien Hy of ons regtig vir Jesus volg of dit net doen wanneer dit gemaklik is.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Iran in die Eindtye
URL: https://olielamp.vgk.org.za/iran-in-die-eindtye/
Last updated: 2025-07-19T07:00:26.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Ek het Maandag 23 Junie aan hierdie artikel begin skryf. Die vorige dag het Amerika betrokke geraak by die oorlog tussen Israel en Iran. Dit het groot onsekerheid in die wêreld veroorsaak. Baie het sommer gemeen dit is die begin van die derde wêreld oorlog. Twee dae later is ‘n skietstilstand bereik en het ek maar moed opgegee met die artikel.
Tog was daar nog iets interessants wat gereeld sy verskyning op die internet gemaak het. Tussen al die besprekings oor hoe lank die “Iron-dome” nog beskerming sal bied, die effektiwiteit van die “bunkerbuster” bomme, en die supersoniese Fattah missiele, het iets anders ook gereeld tussen die nuusberigte opgeduik - ‘n menigte artikels en video’s wat probeer aantoon dat die Israel-Iran konflik ‘n teken van die eindtye is. Ons is in die laaste dae, binnekort sal die aarde vergaan en al die profesieë van Eségiël 38 en 39 voor ons oë afspeel.
Hoe gaan ons as Christene met sulke bewerings om? Ons lees in die Bybel dat daar oorloë sal wees voor die Here kom, maar ons besef ook dat die mense waarskynlik al die die afgelope 2000 jaar dieselfde bewerings maak met elke nuwe oorlog of vlaag van vervolging.
Hierdie artikel poog om agtergrond te gee oor die rol van Iran in die eindtye, en hoe ons met sulke voorspellings en teksuitlegte te werk kan gaan.
### Iran in die Bybel
Dit is duidelik vanuit die Bybel dat die volke wat in die huidige Iran geleef het, inderdaad ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die volk Israel gespeel het en ook ‘n rol speel in baie apokaliptiese profesieë.
In die tyd voor die ballingskap was Iran verdeel onder Meders, Perse en Elamiete. Mens lees gereeld in profesieë van hierdie volke. Nadat die Babiloniese Ryk die superkrag in die bekende wêreld geword het, het die Meders en Perse beheer oorgeneem.
Kores, die uitverkore kneg van die Here, wat sy volk weer terug sou stuur na Juda, was ‘n Pers – “So sê Kores, die koning van Persië” (Esra 1:2-3, AFR53). Ander bekende Medo-Persiese konings was Darius (Daniël 6:1) en Ahasvéros (Ester 1:1-3). Beide speel ‘n belangrike rol in Bybelverhale.
Ons kom ook die Elamiete meerdere kere in die Bybel teë, meestal as vyande van God se volk. Elam was in die suide van Iran net bo die Persiese golf geleë. Jeremia 49 is ‘n hoofstuk vol profesieë oor hoe God die volke rondom Israel gaan straf. Dit sluit profesieë oor die Ammoniete, Edomiete, Damaskus, Arabië en Elam in. God sê: “Ek sal my troon in Elam vestig, en sal koning en vorste daaruit tot niet maak, spreek die Here. Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander, spreek die Here.” (Jer 49:38-39, AFR53).
Die tweede helfte van Daniël, gedeeltes van Nehemia, asook die boek Ester speel af in die provinsie Elam van die Persiese Ryk (die vesting Susan was in Elam geleë).
### Geskiedenis van Iran
Met die agtergrond van Iran in die Bybel in gedagte, is dit nou nuttig om na die geskiedenis van Iran te kyk.
Soos reeds genoem, het Jeremia voorspel (597 v.C.) dat Elam verslaan en verstrooi sou word, maar later sou groei in mag (Jer 49:34-39). Die profesie is vervul toe Elam in 596 v.C. deur Babilon verslaan en verstrooi is. Kores die Grote het egter die Elamiete en Meders saam met die Perse verenig, en in 539 v.C. het hulle die Babiloniërs verslaan en die nuwe wêreldryk geword. Met hierdie oorwinning is ook Jesaja se profesie vervul: “Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek 'n einde.” (Jesaja 21:2, AFR53).
Uiteindelik het Alexander die Grote ‘n einde aan die Persiese Ryk gebring toe hy omstreeks 331 v.C. die Perse verslaan het. Daarmee saam is die profesie van Daniël 8 vervul. Hierna verdwyn Persië (Iran) vir ‘n tyd uit die Bybelgeskiedenis.
Van 312 v.C. tot 15 v.C. is hulle regeer deur die Seleukiede, 247 v.C. tot 224 n.C. deur die Parters, 224 n.C. tot 651 n.C. deur die Sassaniede. Gedurende die eerste eeu voor Christus tot die derde eeu na Christus was Persië onder Romeinse invloed en van die vierde tot die sewende eeu onder Bysantynse invloed. In 636 n.C. is die gebied oorgevat deur die Moslems, en tot vandag toe is Iran onder Moslem beheer. Die staat van Iran is in 1501 gestig. Tydens die 1979 Iranse rewolusie is die toenmalige regering, wat goeie bande met die Weste gehad het, omvergewerp en is die Islamitiese Republiek van Iran gestig. Iran is huidiglik ‘n Islamitiese Teokrasie met Ayatollah Ali Khamenei as die Opperleier.
Dit bring ons by vandag. Volgens die GFP indeks het Iran in 2025 die sestiende sterkste weermag (net na Israel en Duitsland). En Iran is bitter vyande van Israel. Al vir jare lewe die twee volke met baie spanning wat telkemale weer opvlam. Iran het Israel tot aartsvyande verklaar en Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het al herhaaldelik verklaar dat Iran Israel se grootste bedreiging is. Dit gee Israel dan ook volgens hom die reg om Iranse weermagsposte en uranium-verrykingsaanlegte aan te val, of wetenskaplikes en generaals te vermoor. Iran skiet op sy beurt gereeld missiele na Israel en ondersteun verskeie Jihadiste groepe, soos Hesbolah en Hamas, met finansiële en militêre hulp teen Israel.
In Junie 2025 het hierdie dekadelange konflik ‘n nuwe hoogtepunt bereik toe Israel verskeie Iranse teikens gebombardeer het en Iran met ‘n hewige vlaag missiele gereageer het.
### Eségiël 38 -39
Dit is in die lig van hierdie konflik wat heelwat voorspellings oor Iran en die eindtye na vore gekom het. Eségiël 38-39 is een van die gewildste tekste wat aangehaal word as ‘n profesie wat in vervulling gaan. Dit is die profesie van Gog en Magog wat met hulle bondgenote teen Israel in opstand sal kom.
Magog word gesien as Rusland. In vers 5 en 6 van Eségiël 38 lees mens wie Rusland se venote in die groot stryd sal wees: “**Perse**, Kusiete en Putéërs saam met hulle, almal met skild en helm; Gomer en al sy leërs, die huis van Togárma, in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs — baie volke saam met jou.” (AFR53) Dit is inderdaad ‘n klomp volke uit die Islamitiese lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika (sien kaart).

Figure 1: Tipiese voorstelling van die volke in Esegiel 38-39
Wat staan ons te doen met sulke voorspellings en profesieë? Dit is duidelik dat Iran ‘n rol speel in baie profesieë in die Bybel. Sommige van die profesieë kan nie verklaar word met geskiedkundige gebeurtenisse wat reeds in die Bybel vervul is nie. Dit is dus belangrik om dit nie dadelik af te wys of as onwaar te verklaar nie. Daar is egter ‘n paar belangrike dinge om in gedagte te hou:
1. Wanneer die Bybel oor die laaste dae praat, verwys dit dikwels nie na ‘n paar jaar voor Christus se terugkoms nie. Dit is meestal ‘n verwysing na die tyd tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms. Ons lewe nou al in die laaste dae/eindtyd.
2. Oorloë en aardbewings is tekens van die tye, maar dit kom gereeld voor. Vandag is oorloë dalk op ‘n groter skaal as voorheen, maar ons ervaar self dalk oor die algemeen meer vrede as ons voorgeslagte. Wie ookal die geskiedenis bestudeer, kom al gou agter dat die mensdom byna altyd nog in oorloë gewikkel was.
3. In Jesus se Profetiese rede is sy grootste waarskuwing nie om op te pas vir oorloë, vervolging of natuurrampe nie, maar eerder vir die baie valse Christusse (Mattéüs 24:1-28). Ons fokus moet dus nie op die tekens van die tye wees nie, maar eerder daarop om waaksaam te wees, gereed vir Sy koms met genoeg olie vir ons lampies (Mattéüs 25: 1-13).
4. Die wêreld hou ons dop. Ons is die eerste front van getuies van wié God is. Dit kan skadelik vir God se Naam wees as daar allerhande voorspellings gemaak word, oor die toekoms en wat God gaan doen, en dit dan nie gebeur nie. God het nie die fyn besonderhede aan ons bekend gemaak nie. As ons meer probeer sê as wat God aan ons geopenbaar het, staan ons die kans om totaal verkeerd te wees. Die wêreld sal kyk, die heidene sal lag en God se Naam sal skade ly.
5. Laastens, en dit sluit aan by die vorige punt, weet ons nie wanneer Jesus weer sal kom nie. Die Bybel is duidelik dat dit onverwags sal wees, net soos in die tyd van Noag (Mattéüs 24:37-39). Mense sal gewoon besig wees met hulle lewe. As die tekens solank vooruit baie duidelik sal wees, sal ons dit mos verwag. Daar is wel tekens, maar deur die hele geskiedenis wat ons waarsku dat ons altyd gereed moet wees om voor ons Maker te verskyn. “MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Mattéüs 24:36, AFR53)
Hierdie punte verklaar nog nie wanneer Eségiël 38 en 39 in vervulling sal gaan nie. Maar ons kan wel seker wees van die uitkoms. In Eségiël 39 vers 4 en 5 lees ons dat die Here beslis die oorwinning sal behaal: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee. Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE” (AFR53).
Ons lees nie net wat die uitkoms is nie, maar ook wat die doel hiervan is: “Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die Here is, die Heilige in Israel” (vers 7, AFR53). Wanneer hierdie ook al gebeur, is die doel dat God se Naam geheilig sal word en dat die hele wêreld sy Naam sal leer ken. Deur God se genade mag dit nou al gebeur. In Handelinge 2:9-11 lees ons alreeds dat “Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere” onder die eerste bekeerlinge was, na die uitstorting van die Gees. Dit gee nie om hoe die politieke speelveld lyk nie, ook in ons tyd versamel God vir Hom kinders uit alle volke, tale en nasies - Jode, Iranese, Chinese, Russe en Afrikaners.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Moet ons as Christene “Takealot”, of eerder eers deeglik dink voordat ons koop?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moet-ons-as-christene-takealot-of-eerder-eers-deeglik-dink-voordat-ons-koop/
Last updated: 2025-08-25T11:12:54.000Z
*Geskryf deur Junelle Miske, VGK Maranata*
As ‘n mens die definisie van ‘verbruikerswese’ oftewel “consumerism” opsoek, word dit beskryf as die “aanhoudende neiging om goedere aan te koop of dienste te bekom wat nie nodig of noodsaaklik is vir die voortbestaan van die individu nie.” Ons as individue het dus ‘n konstante behoefte aan, en soeke na, meer en beter dinge.
Vir die wêreld is ‘n verbruikerssamelewing ‘n goeie ding, want dit het baie ekonomiese voordele. Dink byvoorbeeld aan die suksesvolle wêreldwye aanlyn-verkope platform Amazon, of selfs Takealot, wat aansienlik baie werksgeleenthede skep en klein besighede die geleenthede gee om produkte te verkoop en die ekonomie aan te moedig. Net die naam “Takealot” sê alreeds baie van wat die mega-verkoopsreuse vir ons probeer aanmoedig om te doen.
Vir die hele wêreld, en dus vir ons as Christene, kan die verbruikerswese ons in die versoeking lei en vir ons gevaar inhou. Dinge soos *materialisme* en *gierigheid* word deur die verbruikersindustrie aangemoedig - iets waarvoor ons as kinders van die Here versigtig moet wees. Dit is nie so moeilik om in hierdie spiraal van die verbruikerswese ingesluk te word nie. Kom ons kyk eers na ‘n voorbeeld: wanneer jou vriend/vriendin ‘n nuwe kar ontvang, nuwe moderne klere koop, ‘n groter salaris as jy verdien of selfs op ‘n luukse vakansie mag gaan, kan dit dalk ‘n gevoel van jaloesie, ongelukkigheid of begeerte in jou hart wek. Aan die anderkant, kan die persoon wat die bogenoemde kan bekostig weer voel dat hulle beter is as ander mense en selfs hoogmoedig raak omdat hulle dalk meer of “beter” goedere kan koop. So kan daar maklik ongelukkigheid tussen mense ontstaan en verdeeldheid kom.
Die Woord van God waarsku ons egter teen materialisme en gierigheid. In Matthéüs 6:24 (AFR20) lees ons: “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal όf die een haat en die ander liefhê, όf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”
Met bemarkingsmetodes konsentreer die Verbruikerswese daarop om die begeerte by mens te wek dat hulle ‘n sekere produk of diens nodig het om gelukkig te wees. Hierdie advertensies kan oneerlik wees en valse inligting oordra, wat die verbruiker oortuig om die produkte te koop. Klink die liedjie van die spotgoedkoop Chinese handelsmerk “Temu” bekend: “Feels like a dream, feels like magic. Now I believe I can have it”? Of selfs hulle bekende slagspreuk: “Shop like a billionaire”?
As Christene moet ons hiervoor oppas, want dit kan selfs daartoe lei dat ons al ons geld op onsself spandeer en nie meer die behoeftes van mede Christene in nood raaksien of erken nie. Ons word opgeroep om die behoeftiges te ondersteun in Romeine 12:13 (AFR53): “Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid”.
En dan is daar ook nog die opdrag aan ons om rentmeesters van God se skepping te wees. Wanneer ‘n mens te veel goedere aankoop wat jy nie werklik nodig het nie, kan mens bydra tot die wanbestuur en onoordeelkundige gebruik van God se hulpbronne in die skepping. Ons moet bewustelik dink waarom ons iets koop en watter effek die vervaardiging daarvan op die natuur, en in party gevalle selfs op die produseerders daarvan, of hul gesondheid, het. Herwinning, hergebruik en die aankoop van organiese produkte is net enkele maniere hoe ons verantwoordelik met God se Skepping kan omgaan. God se opdrag in Genesis 2:15, om die aarde te bewerk en te bewaak, is steeds geldig. Wanneer ons dit gehoorsaam, bring ons eer aan Hom.
Dus, hoe kan ons as Christene dan onsself beskerm om nie onnadenkend goedere te koop nie? Hier volg drie basiese beginsels wat ons van vandag af kan toepas:
1. Wees dankbaar en tevrede met alles wat jy van God mag ontvang. Kom ons wees eerlik, ons sal nooit heeltemal tevrede wees met dit wat ons het nie. Daardie handelsmerk tekkies wat “almal dra” gaan regtig nie die laaste ding wees wat jou vir die res van jou lewe tevrede sal hou nie. Belê dus liewers in Christelike groei in plaas van in materialistiese groei.
2. Voordat jy iets koop, vra jouself eerlik af of jy dit werklik nodig het. En benadeel die vervaardiging daarvan dalk God se skepping of ondersteun dit moontlik onregverdige arbeid? Ons almal het al gehoor van die berigte dat kitsmode verkopers soos die bekende “Shein” dalk gebruik maak van onregverdige arbeidspraktyke. Of dit nou waar is of nie, vra eers jouself af of dit tog die moeite werd is om so ‘n besigheid, wat in elk geval plaaslike besighede vernietig, te ondersteun.
3. Onthou dat, om die beste en nuutste besittings te besit nie ware vreugde bring nie. Slegs ‘n verhouding met ons Vader bring volmaakte vreugde. ‘n T-hemp of pet met die nuutste, bekende handelsmerk sal nie jou verhouding met ons Vader laat groei nie; dit sal dalk heel eerder die teenoorgestelde doen.
Alhoewel die woord “Verbruikerswese” nie in die Bybel voorkom nie, word ons duidelik teen ontevredenheid en gierigheid gewaarsku. In Lukas 12:15 (AFR53) staan daar: “En Hy se vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” Laat ons dan gewaarsku wees om nie ons aandag van die Here en Sy Koninkryk af weg te skuif na die wêreld en al sy begeerlike besittings, wat hulle vir ons meestal onbewustelik adverteer, nie.
Volgende keer, voordat jy die “Add to cart” knoppie druk, onthou: “It’s not getting what you want, but wanting what you have got”.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Misverstand van Geloof en Intellek
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-misverstand-van-geloof-en-intellek/
Last updated: 2025-07-05T07:00:46.000Z
*Geskryf deur Wilbert Begemann, VGK Bellville*
Die stelling dat geloof nie vir intellektuele mense is nie, kan oppervlakkig ondersteun word deur verse soos Mattheüs 11:25 en Lukas 10:21\. In hierdie gedeeltes roep Jesus uit: “*Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het.”* As jy haastig lees, sou ‘n mens kon aflei dat intellek 'n struikelblok vir geloof kan wees.
‘n Meer deeglike ondersoek van die konteks werp 'n ander lig op hierdie uitsprake. In Mattheüs 11:20-24 word die stede veroordeel wat ten spyte van Jesus se kragtige wonders en prediking nie tot bekering gekom het nie. Die probleem lê nie in hulle intellektuele vermoë nie, maar eerder in hul arrogansie en selfgenoegsaamheid wat hulle verblind het vir die waarheid.
Lukas 10:21 beklemtoon Jesus se vreugde oor die feit dat God die waarhede van die koninkryk geopenbaar het aan diegene wat nederig en ontvanklik soos kinders is. Die fokus is hier op 'n ingesteldheid van nederigheid en 'n oop hart - eienskappe wat nie eksklusief behoort aan diegene wat minder intellektueel ontwikkel is nie.
Die Skrif bied selfs 'n teenargument vir die skeiding van geloof en intellek. Job 28:28 verklaar: *“Maar vir die mens het Hy gesê: ‘Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.’”* Hier word ontsag vir die Heer direk gekoppel aan wysheid en insig – eienskappe wat dikwels met intellektuele vermoëns geassosieer word. Ware intellek, vanuit 'n Bybelse perspektief, lei tot 'n diepe respek en eerbied vir God.
Ten slotte is dit duidelik dat geloof nie 'n eksklusiewe domein vir diegene met minder intellektuele vermoë is nie. Die sleutel lê nie in die afwesigheid van intellek nie, maar in die teenwoordigheid van 'n nederige en ontvanklike hart. Intellektuele mense wat die karakter ontwikkel om soos kinders oop en nederig te wees, kan die dieptes van geloof ten volle ervaar en verstaan. Geloof en intellek hoef nie teëstanders te wees nie; inteendeel, 'n nederige intellek kan 'n kragtige instrument wees in die soeke na en verstaan van God.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP12: Die Reformasie – Deel 1 (1500–1700 n.C.)
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep12-die-reformasie-deel-1-1500-1700-n-c/
Last updated: 2025-07-05T07:00:16.000Z
In hierdie eerste deel van ons gesprek oor die Reformasie delf ons saam met **Karina Ijlst** in die beginjare van een van die mees invloedryke bewegings in die geskiedenis van die kerk. Ons kyk na die oorsake van die Reformasie, die dapper optrede van Martin Luther, en hoe figure soos Calvyn en Zwingli ’n nuwe teologiese rigting gegee het aan ’n kerk in nood.
Ons ondersoek hoe leerstellige verskille misbruik binne in die kerk aan die lig gebring het, asook hoe die Hervorming die pad na ‘n groter toegang tot God se Woord oopgemaak het. Dit is ‘n fassinerende kyk na die begin van ’n tydperk wat die wêreld vir altyd verander het.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Name van Jesus: Messias en Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/name-van-jesus-messias-en-christus/
Last updated: 2025-06-30T07:10:21.000Z
*Geskryf deur Margo Drijfhout, VGK Pretoria*
Jesus het baie name, waarvan twee van hulle Christus en Messias is. Hierdie name word op verskillende plekke in die Bybel gebruik - in die Ou Testament en Nuwe Testament. Het hierdie name dan verskillende betekenisse? Nee, albei beteken ‘Gesalfde’, maar in verskillende tale - Christus is Grieks vir ‘gesalfde’ en Messias is Hebreeus vir ‘gesalfde’. Jesus word al in die eerste evangelies Christus of die Messias genoem en nie net altyd Jesus nie.
### **Waarom word Hy egter die ‘Gesalfde’ genoem? En wat beteken dit om gesalf te word?**
Salwing kom van die herders wat hulle skape gesalf het om luise en kewers van die wol af te hou om sodoende te keer dat dit in die skaap se ore kom en dit laat vrek. Salwing het op hierdie manier 'n simbool geword van seën, beskerming en bemagtiging. In die Bybel is die salwing ‘n teken van God se seën oor die mens. Byvoorbeeld, om tot 'n koning, priester, profeet of godsdienstige diens gesalf te word. Jesus is die vervulling van Jesaja se profesie, waar hy profeteer dat die Here ‘n gesalfde gaan stuur om aan die volk in ballingskap ‘n blye boodskap te bring, en hulle te verlos uit die ballingskap. Die vervulling van die profesie verwys natuurlik nie net na die ballingskap in Babel nie, maar ook na die verlossing van ons sondes en sondige natuur.
Jesaja 61:1 (AFR53) sê: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis.”
Jesus sê vir ons dat Hy die gesalfde Kneg is wat die blye Boodskap bring. Hier word vertel van ‘n nuwe blye tyding. Hierdie blye tyding word vergelyk of voorgestel deur ‘n jubeljaar. ‘n Jaar van bevryding, waar jy jou besittings en vryheid terugkry omdat jy dit moes verkoop as gevolg van armoede of skuld. Net so word ons van ons sondeskuld vrygekoop deur Jesus toe Hy aan die kruis gesterf het en ons sondes op Hom geneem het.
Jesus het die Christus en Messias geword toe Hy gesalf is met die Heilige Gees tydens sy doop in die Jordaan deur Johannes die Doper. Hy het die amp van Hoëpriester, Koning en Profeet op Hom geneem en met sy verlossingswerk begin. Jesus Christus is besig om vir ons die hemel voor te berei en om ons te bring na die finale oorwinning: die ewige jubeljaar.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-gaan-met-my-gebeur-wanneer-ek-sterf/
Last updated: 2025-08-22T10:05:43.000Z
*Geskryf deur Liani Miske, VGK Maranata*
“Wat gaan met my gebeur wanneer ek sterf?” Dit is ‘n vraag waaroor mens nogal kan nadink. Dalk vra jy jouself af wat ons alles in die Hemel gaan doen, hoe dit daar gaan wees en of jy jou gesin en vriende gaan herken? Kom ons staan stil by die groot geskenk wat God vir ons deur sy genade geskenk het - die ewige lewe - en wat ons daaroor uit die Bybel mag lees.
As Christene mag ons ons daarin berus dat, as een van ons geliefdes deur God na Hom geneem word, ons hulle weer eendag sal ontmoet in die hemel. Verder mag ons weet dat hulle in die beste plek is - in die teenwoordigheid van God. Soos Psalm 90 ons leer, bestaan ons as mens nie ewig soos ons nou is nie, maar God wel. Dus is “ons dae getel”. Ander denominasies of gelowe het nie hierdie voorreg om berusting in die dood te ontvang nie. Ateïste, byvoorbeeld, kry selde ware berusting oor ‘n geliefde se dood, en lede van die Rooms Katolieke-denominasie wonder tot die dood toe of hulle goeie werke hulle in die hemel sal kry. Ons mag egter weet dat ons deur God se genade, en deur die bloed van Jesus Christus, die ewige lewe mag ontvang. Nie omdat ons dit verdien nie - glad nie. Inteendeel, ons kan niks doen om ons saligheid te beërwe nie. Ons mag dit glo. Wanneer ons glo, sal daar ook vrugte van die geloof uit ons spruit as dankbaarheid vir die groot geskenk wat God ons gee. Ons bely ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat ons glo in die opstanding van die liggaam. Hierin vind ons die troos dat ons na ons dood onmiddellik by God opgeneem word en dat ons nooit meer van Hom geskei sal word nie.
Dit beantwoord egter steeds nie ons vraag nie. Kom ons kyk wat staan in die Bybel oor die ewige lewe. In die Ou Testament profeteer Jesaja al oor die belofte van die nuwe hemel en nuwe aarde (Jesaja 65 en 66). In die Nuwe Testament vind ons ook baie skrywers wat na die nuwe hemel en aarde verwys, soos Petrus, Johannes en Paulus. In die Openbaring van Johannes staan daar: “En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openbaring 21:5, AFR53). Hier word gepraat van die nuwe aarde, maar daar staan nie dat God sy skepping tot niet gaan maak nie. Nee, Hy gaan dit weer nuut maak, bevry van al die sondes, want Hy het met die skepping reeds alles goed geskape (Genesis 1:31). Gelowiges wat dan hemel toe gaan na hulle dood, wag vir hierdie nuwe aarde totdat Christus weer na die aarde toe kom om Sy volle koningskap te aanvaar. Hulle mag rus van die stryd en swaarkry wat hulle ervaar het as gevolg van die sonde op die aarde. Daar mag hulle ook God verheerlik en die eer gee wat Hom toekom (Openbaring 4:11). Daar pleit hulle ook by God dat die dag van die nuwe hemel en nuwe aarde sal aanbreek.
Die Bybel leer ons ook van die oordeelsdag. Die oordeel sal plaasvind na die wederkoms van Jesus Christus. Ons moet nie God se oordeel onderskat nie. God is Heilig en regverdig. Die sonde moet gestraf word en elkeen van ons gaan verantwoording moet doen vir ons aardse optrede. Hierdie hoef ons nie bang te maak nie, maar moet ons waarsku. Gelukkig mag ons weet dat daar vryspraak vir ons is, alleen deur geloof in Jesus Christus. Die laaste oordeel moet vir ons vertroosting gee dat alle kwaad en onreg volledig opgelos sal word.
Ons sien dalk partykeer op teen die dood of is dalk bang daarvoor, maar in sulke tye kan ons luister na wat Paulus in Filippense 1:21 sê: “[Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.](https://www.bible.com/af/bible/compare/PHP.1.21?ref=olielamp.vgk.org.za)” Paulus sien hier sy eie dood nie as ‘n verlies nie, maar as ‘n wins, omdat dit dan sou beteken dat hy by Christus mag wees. Daar staan wel nie dat Paulus begeer om te sterf nie, maar hy begeer om by Christus te wees, want die dood bly ons laaste vyand. Ons mag juis uitsien en verlang na die dag wanneer ons Christus in die Ewige lewe gaan ontmoet.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Geen pêrels vir die varke?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geen-perels-vir-die-varke/
Last updated: 2025-06-14T07:00:25.000Z
*Geskryf deur Henri Antonides, VGK Bellville*
Matthéüs 7:6 (AFR53) lees soos volg*: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.”*
Net soos die res van die Bybel, moet die verse gelees word binne die konteks waarin dit voorkom - anders verander die bedoeling van die teks na dit wat nie bedoel word nie. Om vers 6 beter te verstaan, moet ons vers 1- 5 daarby lees.
Verse 1 - 5 gaan daaroor dat jy nie ander moet oordeel voordat jy eers na jouself gekyk het nie. Jy self kan ‘n “groter” sonde hê waarmee jy sukkel en dan veroordeel jy jou broer oor ‘n “kleiner” sonde. Dit gaan nie daaroor dat jy nie jou broer / suster mag help nie, maar eerder dat jy hulle nie mag oordeel nie. Hulp word altyd waardeer as dit uit liefde kom.
Dit is maklik om in vers 6 vas te kyk teen die visuele beeld van honde en varke. Honde is diere wat baie gulsig is en nooit versadig is as kos voor hulle neergesit word nie. Soos dit staan in Jesaja 56:11 (AFR53): *“En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie.”* Honde sal aanhou eet totdat hulle oorvol is. Net so sal varke ook alles eet - en word boonop nie beskou as die skoonste diere nie. Varke word ook as onrein beskou. Die honde en varke kan dus vergelyk word met mense van die laagste stand in die beskawing. ‘n Mens se eerste indruk van die vers kan wees dat Jesus leer dat jy nie mense wat sleg van hart is, moet help nie. Hierdie is nie waar nie.
Spreuke 19:17 (AFR53): “*Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; …* “.
Jesus sê in Matthéüs 25:40 (AFR53): ”*En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.* “
Hierdie is net twee van baie verse waar God vir ons beveel om na die minstes om te sien. Wat word dus met hierdie vers bedoel?
Die honde en varke word gebruik as ‘n visuele beeld om dit makliker vir ons te maak om te verstaan wat bedoel word, in plaas daarvan om neerhalend te verwys na mense.
Hierdie vers is eintlik nie bedoel om gebruik te word as ‘n belediging nie, maar eerder om nie jou tyd of energie te gebruik op mense wat dit nie gaan waardeer nie. Hulle kan selfs kwaad word oor wat jy sê in plaas daarvan om dit te waardeer en toe te pas in hulle eie leefwyse.
Vers 6 volg eintlik op wat in verse 1-5 gesê word. As jy hulp wil aanbied aan mense wat dit kort, byvoorbeeld oor geloof, moeites of iets anders, en jy weet - en is aktief besig om teen jou eie sondes en moeites te stry (want anders oordeel jy sonder om na jouself te kyk) - dan moet jy ook wel weet wanneer dit reg is om jou hulp te onttrek. Jy moet besef dat nie almal hulp wil aanvaar nie. Baie mense wil nie hul eie foute raaksien nie, want dan hoef hul ook nie iets daaraan te verander nie.
Jesus vertel ook vir die apostels die volgende in Matthéüs 10:14 (AFR53): “*En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van hulle voete af.*” Jesus vertel hier dus direk vir die dissipels dat daar mense gaan wees wat nie na hulle wil luister nie, en dan is dit reg om verder te gaan na ‘n volgende dorp/huis. Jy hoef nie jou hele lewe te spandeer om mense te probeer oortuig terwyl hulle nie wil luister nie
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP11: Die Kerk van 1000-1500 n.C.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep11-die-kerk-van-1000-1500-n-c/
Last updated: 2025-06-07T07:00:58.000Z
Uitdagings en veranderinge is kenmerke van dié tyd vir die kerk. **Karina Ijlst** verduidelik hoe die skeuring tussen die Oosterse en Westerse kerk ontstaan het, watter invloed die kruistogte gehad het, en hoe die pousdom Europa se politiek beïnvloed het. Ons kyk ook na hoe die Renaissance die Christelike denke geraak het en hoe hierdie tydperk die weg gebaan het vir die Protestantse Hervorming.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Pinkster: 'n Blywende Effek
URL: https://olielamp.vgk.org.za/pinkster-n-blywende-effek/
Last updated: 2025-06-07T07:00:33.000Z
*Geskryf deur Marnix Boon, VGK Pretoria-Maranata*
Pinkster is een van die belangrikste feeste wat ons as Christene vier. Die woord “pentekostos” beteken *vyftigste.* Dit verwys na die vyftigste dag na die opstanding van Jesus Christus. In ons hedendaagse wêreld word Pinkster nie meer werklik gevier nie. Vir baie mense is Pinkstersondag net nόg ‘n Sondag in die jaar. Dit is daarom goed dat ons nadink oor waarom ons Pinkster vier, en waarom die Pinkstergebeurtenis wat in Handelinge 2 afspeel, vir ons vandag net so belangrik is as 2000 jaar gelede.
In die Ou Testament word hierdie gebeurtenis al op verskeie plekke voorspel. God sê dat Hy sy Heilige Gees in gelowiges se harte sal laat woon. In die Ou Testament het God sy Gees op profete, priesters en konings uitgestort. ‘n Mens kan dit ook so stel: die kraan wat God gebruik het om die Heilige Gees op mense uit te stort in die Ou Testament, het slegs gedrup. God het net op sekere persone of groepe die Heilige Gees uitgestort. In 1 Samuel 16:13 (AFR53) lees ons: “*Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan*.” Dawid het dus, as koning, die Heilige Gees van God ontvang. In die Ou Testament was die Heilige Gees slegs uitgestort op God se verbondsvolk, wat die volk Israel was. Elke gelowige, hetsy in die ou of nuwe verbond, het die Heilge Gees ontvang. Dit is onmoontlik om ‘n gelowige te wees sonder die Heilige Gees. Tog is die Heilige Gees slegs aan een volk geskenk in die ou verbond. Die Heilige Gees het as’t ware gedrup op profete, priesters en konings. Tydens Pinkster het hierin verandering gekom!
Die profeet Joël het Pinkster voorspel as volg: “*En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet*.” (Joël 2:28-29, AFR53). Petrus het ook met sy preek tydens Pinkster hierdie teks aangehaal in Handelinge 2:16-18\. Tydens die Pinksterdag wat in Handelinge 2 afspeel, het God die kraan waarmee Hy die Heilige Gees uitstort wyd oopgedraai. Die Heilige Gees word nou op gelowiges van alle volke, tale en nasies uitgestort. Die Heilige Gees, wat die evangelie in ons hart werk, is nou nie meer net bestem vir God se verbondsvolk, Israel, nie maar vir alle volke!
Die Pinksterdag was ‘n groot gebeurtenis. Lukas beskryf in Handelinge 2 hoe die Heilige Gees op die mense neergedaal het, soos volg: *“En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.”* (Handelinge 2:2-3, AFR53). Die Heilige Gees het dus met ‘n rukwind en tonge van vuur op die gelowiges neergedaal. Die feit dat God ‘vuur’ gebruik om sy teenwoordigheid uit te beeld sien ons ook op verskeie plekke in die Ou Testament. In Exodus 3 word God se teenwoordigheid uitgebeeld deur ‘n brandende doringbos, toe God met Moses gepraat het. In Exodus 13 lees ons dat God self in die vorm van ‘n **vuur**kolom voor sy volk getrek het tydens die uittog uit Egipte.
Vervolgens beskryf Lukas die gebeure in Handelinge 2:4: *“En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”* Die gelowiges het vervuld geraak met die Heilge Gees en die gawe van die ‘spreek in tale’ ontvang.
Die gelowiges wat die Heilige Gees tydens Pinkster as gawe van God ontvang het, is nou ten volle toegerus om Christus se sendingsopdrag uit te voer. Hulle moet dissipels maak van **alle** nasies. Christus het in Handelinge 1:8 gesê: *“maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde*.” Die ‘spreek in tale’ was ‘n gawe van die Heilige Gees wat die gelowiges destyds gehelp het om die evangelie te bring na alle volke.
Dit is belangrik om te weet dat die tale wat die gelowiges tydens Pinkster gepraat het gewone verstaanbare tale was. Die omstanders van hierdie gebeurtenis, wat self uit verskillende lande was en verskillende tale gepraat het, kon hulle verstaan. Dit was nie onverstaanbare klanke nie. Die gawe van die ‘spreek in tale’ is dus nie om onverstaanbare klanke te maak, soos wat baie Pinksterbewegings vandag glo, nie. Dit is om **bestaande** tale te begin praat soos wat met die gelowiges tydens Pinkster gebeur het.
Die gawe van die ‘spreek in tale’ vind ons nie net in Handelinge 2 nie. In Handelinge 10 lees ons dat bekeerde heidene, wat na Petrus se toespraak by die huis van Cornelius geluister het, die Heilige Gees ontvang het. Hulle het toe ook in tale begin praat. Ook in Handelinge 19 lees ons van ‘n groep dissipels van Johannes wat in Efese was, wat deur Paulus die hande opgelê is en toe die Heilige Gees ontvang het. Hulle het ook in tale begin praat.
Vandag sien ons nie meer hierdie verskynsel van die gawe van die ‘spreek in tale’ nie. Hoekom is dit so? Wel, die kerk in Handelinge was nog jonk en klein. Die evangelie moes vinnig na ander volke versprei word. Die gawe van die ‘spreek in tale’ was aan die eerste Christene geskenk, sodat hulle die vermoë gehad het om die evangelie te versprei na volke wat ander tale gepraat het. Die kerk kon dus as gevolg van hierdie gawe van die Gees vinnig groei. Die kerk het egter met verloop van tyd al hoe meer gevestig geraak sodat die gawe van die ‘spreek in tale’ nie meer so dringend nodig was nie. Alhoewel die sendingsopdrag vandag net so veel geld as 2000 jaar gelede, het ons vandag baie meer hulpbronne tot ons beskikking as die wat die eerste Christene gehad het. Ons het byvoorbeeld vandag die Bybel in sy volledige vorm - dit is iets wat die eerste Christene nie gehad het nie. Hulle het slegs die Ou Testament gehad en dele van die Nuwe Testament, maar dit was nog nie saamgestel nie.
Pinkster was ‘n eenmalige gebeurtenis, maar dit het ‘n blywende effek. Pinkster was die oomblik toe God die Heilige Gees op alle gelowiges van alle volke op aarde uitgestort het. Elke gelowige het die Heilige Gees van God ontvang. Ons, as Geesvervulde gelowiges, is toegerus om die evangelie uit te straal en uit te dra na ander toe. Elke nuwe gelowige sal die Heilige Gees ontvang. Ja, God stort sy Heilige Gees in oorvloed uit!
Op Pinksterdag vier ons hierdie ongelooflike gebeurtenis wat op daardie dag plaasgevind het, en tot vandag toe ‘n blywende effek in die geskiedenis het. Op Pinksterdag herdenk ons nie net wat destyds in Jerusalem gebeur het nie, maar ook vier ons wat die Heilge Gees deur die eeue heen en ook vandag doen in alle lande van die wêreld!
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Immanuel: God met ons
URL: https://olielamp.vgk.org.za/immanuel-god-met-ons/
Last updated: 2025-05-31T07:00:53.000Z
*Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria*
Daar is verskeie name in die Bybel vir Jesus. Ons wonder soms: Hoekom is die name van Jesus belangrik? Daar is baie redes daarvoor. Eerstens wys die name van Jesus vir ons wie Hy is. As ons nie weet wie Hy is nie, sal ons nie weet hoe om Hom as God te dien en eer nie. Uit Jesus se name weet ons ook wie ons is. Ons identiteit is in God gegrond. Ons weet wie ons is deur te weet wie God is. Jesus se name wys ons ook die gesag van God en sy oneindige, onmeetbare krag. Sy name wys ons sy grootheid en mag. God het ons in die wêreld gestuur om sy naam te verheerlik. Dit is belangrik dat ons weet wat hierdie name is, sodat ons Hom kan verheerlik vir wie Hy is. Ons kan God nader deur Jesus Christus. Jesus sê ook self dat alles wat ons van die Vader in sy naam vra, Hy aan ons sal gee.
### “Immanuel” in die Bybel
Die naam “Immanuel” kom net drie keer in die Bybel voor. Dit is in Jesaja 7:14 en 8:8, sowel as Mattheüs 1:23\. Jesaja 7:14 is die profetiese aankondiging van Jesus se geboorte, reeds 700 jaar daarvoor. Mattheüs haal hierdie profesie aan wanneer hy Jesus as Immanuel erken.
### Wat moet ons weet voordat ons delf?
Voordat ons kan delf in die dieper betekenis van ‘God met ons’, sal ons eers moet kyk na die doel daarvan. God het ons gemaak as skepsels wat volmaak voor Hom kon lewe. Hy het ons gemaak in sy beeld om voor Hom reg te kan lewe. Ons het in ‘n verhouding met Hom geleef. Hierdie verhouding is noodsaaklik vir ons lewe.
Toe Adam verbondshoof was, is die band met God verbreek. Sonder die band kan ons as mense nie lewe nie. Ons saligheid hang af van hierdie verhouding met God. Dit moes herstel word. Ons kan dit egter nie self herstel nie. Daarvoor het ons Jesus nodig gehad om aarde toe te kom. Hy moes “God met ons” word om ons te verlos.
### Wat beteken dit dat "God met ons" is?
As ons na die Ou Testament in geheel kyk, kan ons duidelik sien dat God altyd op ‘n manier teenwoordig was. Dink aan die vuur- en wolkkolom wat bo die volk deur die woestyn gereis het, die tabernakel, die tent van samekoms, die tempel, die profete, en vele meer. God was nooit nader aan sy volk as die tyd toe Jesus tussen ons kom wandel het nie.
Jesus was selfs meer as net ‘n simbool van God wat met ons is, soos wat die tempel, tabernakel, verbondsark, ens. was. Hy was God self. Hy het die aarde sy woning gemaak vir 33 jaar. Jesus was God wat in die vlees na die aarde gekom het. Hy het onder die mense gewandel, nes God met Adam en Eva. Die enigste verskil was dat Jesus ook volledig mens was. Volledig God en volledig mens. Sodoende kon Hy die prys betaal en ons verhouding met God herstel, soos God aan ons beloof het.
Jesus is nie net God met ons nie, Hy is ook God *in* ons. Jesus leef in ons deur sy Gees. So word ons God se tempel met Jesus in ons. Hy beloof ook om by ons te bly tot in ewigheid.
Jesus was nie vir altyd op aarde nie, hoe is Hy dan ewig by ons? Jesus het vir ons die Heilige Gees gestuur, wat ook God is. God het belowe om vir ewig by sy volk te wees en Hy is getrou! Jesus is God met ons vir altyd en ewig.
### Wat is die implikasies van "God met Ons"?
Ons geloof in Immanuel beteken vir ons niks as ons dit nie prakties kan uitleef nie. “Immanuel” is nie net ‘n naam wat ons sing tydens Kersfees nie. Dit is ‘n naam wat ons troos en ons hoop is.
### God is met ons as ons alleen voel
God se volk het soms ook gevoel asof Hy nie meer by hulle is nie. Veral tydens die Romeinse heerskappy. Tog was God by hulle, selfs as menslike vlees. Ons vergeet soms dat God ook emosies het - hy is werklik mens. Jesus het pyn gehad. Hy het gehuil. Hy was hartseer. Hy was kwaad. God ken ons emosies en Hy het deernis met ons. Deesdae, noudat ons nie meer Jesus by ons op aarde het nie, mag ons weet dat die Heilige Gees ons troos, ook wanneer ons alleen voel.
### God is met ons as ons glo Hy kan ons nie vergewe vir dit wat ons gedoen het nie – of Hy kan nie ons gebrokenheid heel nie
Voor Jesus gebore is, was God se volk vol sonde. Hulle het gesondig, maar God het hulle nie weggestoot van Hom af nie. Hy het na hulle toe gekom. Hy het die verlore skape van Israel gesoek en aan hulle die evangelie gebring. Hy het hulle verlossing en genesing aangebied. God is dieselfde as wat Hy in daardie tyd was. So, wanneer ons voel asof ons nie vergewe kan word nie, mag ons weet dat Hy nog steeds vandag na ons kom en vir ons vergewing bied. Ons mag weet dat Hy ons gebrokenheid kan genees. Al wat Hy vra, is geloof.
### God is met ons om ons te red
Jesus het na ons gekom. Dis soms waar ons stop as ons dink aan “Immanuel”. Hy het gekom en dis dit. Jesus het nie net gekom nie. Hy het gekom met ‘n doel en dit was om ons te verlos. Jesus het aarde toe gekom om in ons plek te sterf. Selfs vandag, as ons terugval in sonde, is dit Hy wat ons die krag gee om terug te keer na Hom.
### God is met ons om God en ander lief te hê
Om die ‘God met ons’-belydenis uit te leef, vra dit van ons om Jesus se voorbeeld na te volg. Net soos Jesus gekom het uit die hemel om vir ons sondaars verlossing te bring, so moet ons uit ons pad gaan om ander te help. Ons moet hulp verleen aan diegene wat gebroke is, wat in nood verkeer en wat vasgevang is in sonde. Soos God ons nie alleen gelos het in ons sonde en smart nie, so moet ons ook nie aan ons naaste doen nie.
God is met ons. Dis ons troos vir die lewe.
> “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”
> \- Matt. 1:23
### Bronnelys
- [https://www.oneplace.com/devotionals/bible-study-minute/what-does-immanuel-mean-your-daily-bible-verse-december-21-11802549.html#:\~:text=%22Immanuel%22%20is%20a%20Hebrew%20word,(John%201%3A14)](https://www.oneplace.com/devotionals/bible-study-minute/what-does-immanuel-mean-your-daily-bible-verse-december-21-11802549.html?ref=olielamp.vgk.org.za#:~:text=%22Immanuel%22%20is%20a%20Hebrew%20word,%28John%201%3A14%29)
- [https://www.gotquestions.org/what-does-Immanuel-mean.html](https://www.gotquestions.org/what-does-Immanuel-mean.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.gotquestions.org/God-with-us.html](https://www.gotquestions.org/God-with-us.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.askaboutmyfaith.com/blogs/what-emmanuel-god-with-us-means](https://www.askaboutmyfaith.com/blogs/what-emmanuel-god-with-us-means?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://beautifulinjesus.com/reflecting-on-immanuel/](https://beautifulinjesus.com/reflecting-on-immanuel/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [http://bible.com/r/BC6](http://bible.com/r/BC6?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Hemelvaart: ‘n Nuwe Begin
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-hemelvaart-n-nuwe-begin/
Last updated: 2025-05-29T07:01:03.000Z
*Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria*
Die hemelvaart van Jesus Christus is nie net ‘n stille einde aan sy verlossingswerk hier op aarde nie. Dit staan juis sentraal daarin en bevestig dat die Seun die taak wat die Vader aan hom gegee het, volbring het. Ons kan daarna kyk met die wete dat ons Verlosser nie net opgestaan het uit die dood nie, maar ook opgevaar het na die hemel waar Hy sit aan die regterhand van sy Vader. Daar regeer Hy oor alle dinge, dien Hy as voorspraak vir ons by die Vader en berei Hy vir elkeen van ons ‘n plek voor. Sy werk op aarde is dalk voltooi, maar dit is nie afgehandel nie. Ons Verlosser is nou in die Hemel besig om sy hemelse taak voort te sit, totdat Hy weer kom.
### Jesus se aardse werk is voltooi
*“Hierdie Jesus wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom sien weggaan het.”* (Handelinge 1:11) So het die twee mans in wit klere die dissipels bemoedig toe hulle verlangend na die hemel gestaar het. Hulle was hartseer, want Hy het hulle verlaat, maar hulle moes besef dat Hy nie na die aarde gekom het om vir ewig hier te bly nie. Hierdie woorde was juis vir hulle ‘n troos waarmee hulle kon terugkeer na Jerusalem. Jesus het na die aarde gekom met ‘n doel en Hy het dit voltooi. Hy het gely, gesterf en opgestaan. Nou kan Hy terugkeer na sy Vader om sy werk as middelaar te begin. Dit is nie meer nodig dat Hy op aarde moet werk nie. Hy kan nou in die hemel saam met sy Vader regeer as Koning. Sy werk hou dus nie op nie, dit neem nou ‘n nuwe vorm aan. Hy begin sy hemelse werk as middelaar en voorspraak. Hy sal nie vir ewig daar bly nie. Hy sal weer kom, net soos wat Hy gegaan het.
### Jesus is gekroon as Koning
Die doringkroon van lyding word ‘n koningskroon van heerlikheid. Jesus neem sy plek in aan die regterhand van die Vader, soos ons lees in Efesiërs 1:20\. Sy koningskap is nie iets wat net simbolies is nie. Hy is die Koning wat regeer oor alle magte en owerhede. Hy regeer oor die hemel en aarde. Geen aardse owerhede of magte kan bestaan sonder Hom nie. Dit is ‘n groot troos vir elkeen van ons, veral as ons sien hoe onseker en gebroke die wêreld om ons is. Ons moet nie vaskyk in dit wat rondom ons in die wêreld gebeur nie. Nee, ons mag opkyk na ons Koning wat in die hemel sit. Hy is in beheer en dit is waarom ons hier op aarde sy lof moet besing. Ons moet elke dag leef tot sy eer, want ons Koning regeer nou en tot in ewigheid.
### Wat beteken dit vir ons?
Die hemelvaart beteken nie dat Jesus ons vergeet en verlaat het toe Hy opgevaar het nie. Dit bevestig juis sy liefde vir ons. In Johannes 14:1-2 lees ons dat Hy in die Vader se huis vir ons ‘n plek voorberei, daar waar daar woonplek is vir baie. Intussen tree Hy vir ons in. Romeine 8:34 sê dat Hy aan die regterhand van sy Vader is en vir ons bid. Hy was self ook mens op aarde en verstaan daarom ons swakheid en stryd. Sonder Hom kan ons nie tot die Vader nader nie. Sonder Hom is daar geen ewige lewe nie. Deur Hom het ons toegang tot die Vader en Hy is ons voorspraak (1 Johannes 2:1). Wanneer ek en jy nie weet wat om self te bid nie, is Hy daar om ons te dra. Hy vra dat die Vader nie aan ons sondes sal dink nie, want Hy het die volle prys daarvoor aan die kruis betaal.
### Die belofte en opdrag
Jesus het belowe dat Hy weer sal kom, op die wolke, net soos Hy opgevaar het. As Hy kom sal ons saam met Hom regeer op die nuwe hemel en aarde. Dit is die groot verwagting van elke gelowige. Intussen het ons ‘n opdrag van Hom ontvang: alle volke, tale en nasies moet van Hom hoor. Dit is nie ‘n maklike opdrag nie en ons hoef dit gelukkig ook nie alleen te doen nie. Hy stuur sy Gees om in ons te woon, om ons te lei en om ons toe te rus vir die taak. Hy belowe dat Hy met ons sal wees tot aan die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Met vreugde en afwagting kan ons dus hier op aarde in Sy diens werk. Ons Koning self gee aan ons krag en leiding. Die boodskap van die Koning in die hemel moet gebring word, totdat elke knie sal buig en elke tong sal bely. Ons moet die erns van die opdrag besef en dit getrou in geloof uitvoer. Terwyl ons dit doen bly ons Hom soek in sy Woord en kan ons sy nabyheid in ons lewens ervaar, want Hy is nie op ‘n afstand in die hemel nie. Hy woon in ons met sy Gees.
Sy hemelvaart is nie ‘n afskeid nie, maar ‘n bevestiging van sy koningskap en teenwoordigheid in ons lewens - nou en tot in ewigheid. Terwyl ons wag en werk op aarde, kan ons leef met die vaste wete dat ons Verlosser leef en regeer. Hy is ons Koning in die hemel. Laat ons dan getrou bly aan Hom, van Hom getuig in ons lewe, en ons oë gevestig hou op Hom, want Hy kom weer.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe maak ek ‘n goeie besluit?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-maak-ek-n-goeie-besluit/
Last updated: 2025-05-24T07:00:10.000Z
*Geskryf deur Lise van Renssen, VGK Bellville*
Twee deure in lewe gaan oop. Watter een kies ek as altwee die Naam van die Here verheerlik?
Ons almal het al voor moeilike keuses in die lewe gestaan. Dit kan veral moeilik wees as beide opsies die Here verheerlik. Die vraag is egter of beide opsies werklik die Here ewe veel verheerlik. Ons kan nadink oor watse opsie die Here die beste sal dien.
Om ʼn goeie keuse te maak, moet jy God se wil verstaan. God openbaar sy wil in sy Woord, deur die Heilige Gees (Johannes 16:13, Psalm 119:105). Die besluite wat ons neem is ʼn refleksie van ons hart se begeertes. ʼn Vraag wat jy jouself kan afvra, is: “Kies ek hierdie opsie om myself of om God te behaag?”
God sien ons prentjie in geheel. Hy ken ons verlede, hede en toekoms en Hy wil ons help om die regte besluit te maak (Psalm 32:8). God se wil gaan nie altyd die maklikste of lekkerste opsie wees nie, maar later sal ons besef dat dit tot ons voordeel strek (Psalm 119:67, Hebreërs 12:10-11).
God seën die keuses wat ons in sy naam maak (1 Korinthiërs 10:31). Ons moet altyd na Hom toe gaan as ons keuses het om te maak (Jakobus 1:5). Ons moet vertrou dat God ons gebede antwoord (Jakobus 1:6-7) en dit is belangrik om dan geduldig te wag vir Sy wil om te geskied (Hebreërs 6:15).
Prakties kan jy na jou belangstelling, gawes en talente kyk - balans en prioriteite is baie belangrik. Jy kan met mede gelowiges gesels en hulle menings vra of selfs jou ouderling nader en met hom daaroor gesels. Gebed is egter die belangrikste - soos wat jy deur die dinge worstel, sal die Here jou lei.
Kyk na God se Woord vir rigting en vind vrede in sy raadsplan (Fillipense 4:7). Vra vir wysheid en vertrou dat Hy jou die pad sal wys (Spreuke 3:5-6).
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Are We Leaving Gen Z to Their Devices?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/are-we-leaving-gen-z-to-their-devices/
Last updated: 2025-05-10T21:59:59.000Z
A Close-Up Look at the Last Letter in the Alphabet — Young Adults
*By Anna-Maria Roth – taken from Christian Renewal, 5 October 2024*
Many mainstream churches worldwide are experiencing a serious decline in congregational membership. Aging demographics primarily drive this; fewer young people are either joining or remaining in the church. The loss of critical mass threatens the viability of many congregations worldwide, presenting the challenge of meaningfully engaging a younger demographic. What might help turn the tide?
### **The Generation called Z**
Generally speaking, Gen Z finds itself at the head of a growing mental health crisis, with depression, anxiety disorders, and sleep deprivation on the rise. This generation is typically called "digital natives" — an age group that does not remember a time before smartphones or other digital technology. Gen Z's religiosity is seen to be declining in North America and Western Europe. While most of Gen Z is still considered nominally Christian, they do not retain a "private" faith as Millennials did. Among "deconstructing" members of Gen Z, faith has become "unbundled," such that people approach a wide range of sources for spiritual formation, including culture, family and friends, nature, and various spiritualities and philosophies; while not vitally subscribing to any given belief system, they suggest they could find a place in many. Gen Z's cautiousness is not limited to self-expression on the internet; they tend to be pragmatic and early to mature, possibly a consequence of the relatively chaotic times they grew up in - their surrounding culture. As a whole, those labeled as Generation Z in North America - those born in the late 1990s and early 2000s - are still fairly connected with spirituality but not necessarily with a doctrinally identified scripture, which includes those churches that teach, preach, and live the word of God. In recent years, there has been a shift away from Christianity to more individuals being drawn to Eastern religions such as Islam, Buddhism, and Hinduism. Of those who did not grow up attending religious services, 65% say they remain non-religious. Single-parent homes also appear to be connected to decreased church attendance, with 36% of individuals raised in single-parent homes attending, compared to 55% of individuals raised in two-parent households. With high divorce rates, this correlate with the decline in religious service attendance.
### **Leaving the Church**
According to recent statistics, 39% of Gen Z has left the church, ironically and sadly, due to loneliness and/or isolation from the people around them. Young people are "taste-testing" religions to chart a path to spirituality. It is thought that parents have done less in this generation to share their beliefs, even a generalized faith, than in previous ones. Churches are also doing less catechizing of children and teenagers. All of this presents a challenge and an opportunity that churches are now trying to address. Many think that social media podcasts and live streaming are the way to go. While attractive in terms of convenience, this can lead Gen Zers in the wrong direction and away from the household of faith.
### **Spiritual Needs**
The spiritual needs of Gen Z are characterized by challenges, which, although not unique, are compounded by current technology. Digital technology, when uncontrolled, has the ability to isolate, distract, disorient, and cause harm through addictive use. Gen Z, generally speaking, has been "spiritually starved" and desires identity, purpose, and belonging. The recent COVID pandemic magnified both present and potential issues, and as such, many Gen Zers desire personal peace in what is seen as an anxiety-ridden world. Moreover, the news media's constant fearmongering has turned Gen Zers to desiring vulnerability, humility, and transparency from the pulpit and the church. "Gen Z wants to keep it real." They need leaders who lead not only with their words but with their actions and how they live their faith. Gen Z needs community and a place of belonging in a world that preaches authenticity, self-actualization, and hyper-independence. However, Gen Z also seeks a new form of community as many are disinterested in traditional religious settings, seeing them as inauthentic, making other meeting contexts outside of traditional church walls seem more appealing. Culture is placing pressure on this generation to define their own identities. Christian Gen Zers desire a stable foundation to find their identity. What they truly need to flourish is to find their identity in Christ. In addition, Gen Zers desire more diverse religious settings, as the lack of diversity in past decades has resulted in them being more closed off to the gospel's message and attending churches in many settings.
### **Desire for Peace**
Gen Z is perhaps one of the most anxious and worried generations on record. This is due to a plethora of variables. It has resulted in Gen Z greatly needing spiritual peace, clarity, and a calm mind. Richter and Miller state, "The students want few things more than freedom from depression and anxiety. They're starved for a peace that surpasses all understanding and can still the waters of chronic anxiety." Gen Z needs holistic peace that covers the mental, emotional, physical, and spiritual sides. As the world promises freedom from anxiety through different avenues, it is the church's responsibility to offer the gift of Jesus and His gospel to Gen Z as the only trustworthy source of true peace.
### **Search for Identity**
Connected to Gen Z's need for spiritual peace is their desire and search for identity and purpose. The cultural context Gen Z has grown up in pushes the narrative that individuals must search for, discover, and identify who they are, primarily propagated by a hyper-individualistic worldview. This places immense pressure on this age group and can be attributed as one of the root causes of the rise in chronic anxiety. In light of this, a desperate spiritual need of Gen Z is identity, knowing what they can find instead of succumbing to the overwhelming pressure of self-identification. Reagan Scott's "Gen Z and Identity" article for Focus on the Family states, "By placing our identity in Christ, we receive the peace, joy, and rich reward of God's loving grace. Although this counteracts with what most of Generation Z is being led toward today, it is the answer for fulfillment in this life and the next."
### **Commentaries on Gen Z**
Some Gen Z members are afraid that they are too gullible. They are worried it will be the wrong kind of church and will end up being part of a cult or be misled. They fear not knowing what a church could be and where the doctrine of Christ is and comes from. Some of the younger generation do not like following what they consider to be hateful ideas, so churches that they consider to be "anti-gay rights" are less likely to attract this demographic. Another impediment is that this generation is so much more focused on self that church attendance can be considered unnecessary since they tend to rely on themselves. Churches can capitalize here to show Gen Zers the importance of community and what it means to be in Christian fellowship with one another.
### **Gen Z Affiliations**
According to statistics, 32% are Protestant, 18% are Catholic, 5% are other world religions, 11% are Atheist/Agnostic, and 24% have no affiliation. 35% represents a high number of people and a challenge for the church. It is also a disheartening number and raises the "why" question. Many members of Gen Z identify as Atheists or Agnostics. It is unclear whether the generational age gap is the prime cause of this shift or if it is simply a generation that does not find reason to believe. Statistically, the Catholic, Protestant, Mennonite, and Anabaptist churches are on the decline in terms of membership and attendance. Meanwhile, Buddhism, Hinduism, and the Jesuit Order are rising comparatively. Canada itself has undergone a significant decline in overall religious affiliation in recent decades, whereas the United States and other countries have seen increased religious diversity.
### **Connecting with Gen Z**
How can churches connect with Generation Z? Research shows that people in this age bracket want authenticity from the church since they do not get it from the social media platforms they are involved in. A way of facilitating this is through small groups made up of a variety of ages to develop community in the church. Any form of intentional community is something that Generation Z would appreciate. Being genuine and friendly is critical and helps make Gen Zers feel welcome and more willing to return. Along with these connections, mentoring and teaching are still essential. The bedrock is friendship development before any attempts are made to teach or mentor a person. Acting too quickly can make them feel forced into the church, especially if they are already skeptical. A church should aim to have young adult events for the local church community to take part in. This is an excellent way to get the younger generation involved. Young adult events help develop a stronger sense of community, encouraging growth in their faith with those around them. Overall, the primary way to better connect with the younger generation would be to love first, as God calls us to do. If young people come to the church and do not feel loved, they will be far less likely to return. Instead, they will likely stop coming. This will also give them a wrong impression of other churches, as one bad experience can ruin their view of the church. Since Generation Z's community is so strong, a poor church experience will likely be shared with others, creating a domino effect of negativity. So, the command to love is preeminent, showing them God's love and making them feel welcome and included.
### Practical Steps
1. Be more welcoming, maybe even more accepting of people's shortcomings (not to the point of ignoring sin, but that they know they are loved and what they do is sinful).
2. Plan more events run by youth for youth. Elders should encourage and aid as needed, but not be the drivers of such events.
3. Organize outreach events that are oriented toward youth.
4. Having events that are not necessarily church-related, such as community sports tournaments, might pique interest in the church or develop and strengthen relationships in the neighborhood.
5. Consider small groups and intentional communities. Utilize space for young adult events for the local church community. All of these ideas should be undergirded by biblically-based love.
Of course, desiring community and fellowship is not the sole need or desire of Gen Z. People of all ages are looking to connect, to be recognized, to be loved, to be included, and to become involved. What is said in connection with Gen Z will resonate with other age groups in either the church or the broader community. The bottom line is that people need the Lord. May our hearts be inclined toward that need, and toward those individuals who are longing, without necessarily realizing it, for a spiritual home with a Father who loves them.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP10: Meneer en Mevrou Dominee
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep10-meneer-en-mevrou-dominee/
Last updated: 2025-05-03T07:00:11.000Z
In hierdie hartlike en eerlike episode van *Die Olielamp* gesels ons met **Ds. Johan Bruintjes** oor die unieke dinamiek van ‘n dominee en sy gade in ‘n gemeentelike lewe. Ons kry ’n kykie agter die skerms van die pastorie en ontdek hoe “meneer en mevrou dominee” saam dien, ondersteun, lei en soms eenvoudig net luister.
Ons gesels oor die belang van ’n vaste herder in die gemeente, die rol van die domineesvrou – dikwels stil, maar kragtig – en hoe hulle as ‘n span die geloofsgemeenskap dien. Hierdie episode bied nie net insig in hulle roeping en verantwoordelikheid nie, maar ook in die menslikheid en vreugdes van die bediening.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ongemaklike tekste van Jesus: Draai die ander wang
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ongemaklike-tekste-van-jesus-draai-die-ander-wang/
Last updated: 2025-05-03T07:00:04.000Z
*Geskryf deur Lise-Carien Breyl, VGK Bellville*
In Lukas 6:29 (AFR20) leer Jesus Sy volgelinge die volgende: *“As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie.”* Op die oog af lyk dit of hierdie lering van Jesus passiwiteit aanmoedig – asof ons mense moet toelaat om bloot oor ons te loop. Is dit werklik wat Jesus met hierdie woorde van ons verwag?
Wanneer ons dieper na die agtergrond van hierdie verse in ‘n Bybelse konteks kyk, kom ons egter agter dat Jesus Sy volgelinge oproep tot ‘n nie-gewelddadige weerstand teen onreg, gegrond in liefde en waardigheid.
### Die betekenis van “draai die ander wang”
In Matthéüs 5:39 (AFR20) sê Jesus: *“Maar Ek sê vir julle dat julle nie ‘n slegte mens moet teengaan nie. Nee, as iemand jou op jou regterwang klap, draai ook die ander een vir hom.”* Om die ware betekenis van hierdie vers te verstaan, moet ons eers die kulturele konteks waarin dit geskryf is, ondersoek: die konteks van eerste-eeuse Judea. ‘n Klap op die regterwang, in ‘n regterhandse samelewing, sou gewoonlik, soos wat ons dit ken, ‘n “back-hand” klap wees – ‘n manier om iemand te verneder eerder as om werklik seer te maak. In die Joodse en Romeinse kultuur was so ‘n spesifieke klap gewoonlik gebruik om meerderwaardigheid te toon, om mag te bewys, soos ‘n meester aan ‘n slaaf.
Deur om die ander wang te draai, beteken dat die slagoffer nie reageer met geweld nie, maar die ander persoon die kans gee om ‘n besluit te maak: om weer te slaan met ‘n oop hand, of om ‘n tree terug te vat.
Dus wanneer Jesus sê dat ons die ander wang moet draai, leer Hy nie dat ons ander mense moet toelaat om oor ons te loop nie, maar voorsien Hy ons liewers met ‘n manier om onreg te konfronteer sonder om self onreg aan ander te pleeg. Deur die ander wang aan te bied, dwing jy die ander persoon om όf weer te slaan, όf om op te hou. Hierdie is nie ‘n teken van swakheid nie, maar liewers ‘n teken van moed en waardigheid.
### Om jou bokleed en onderkleed te gee
In Lukas 6:29 (AFR20) gaan Jesus verder en sê:*“As iemand jou bokleed vat, moet hom ook nie jou onderkleed nie weier nie.”* In die Joodse samelewing was die bokleed (die buitenste kleed) een van die belangrikste besittings van ‘n arm mens. Dit was sό belangrik geag dat dit selfs in die wet uiteengesit is: geen persoon se bokleed mag oornag as sekuriteit vir skuld gehou word nie (Eksodus 22:26-27). Die onderkleed (die binneste laag kledingstuk) was dikwels die enigste ander kledingstuk wat iemand besit het.
As iemand jou bokleed vat en jy gee hom ook jou onderkleed, beklemtoon jou vrygewigheid net verder die onreg en gierigheid van die ander persoon.
### Jesus se lering
Die boodskap wat Jesus aan ons probeer oordra gaan nie oor swakheid, of om eenvoudig onreg te aanvaar nie. Hy leer ons om boosheid op ‘n ander manier te beveg – nie deur wraak te neem nie, maar deur:
- nie kwaad met kwaad te vergeld nie (Romeine 12:17-21);
- onreg deur liefde en waarheid te ontbloot;
- om onreg met geregtigheid te konfronteer – nie deur geweld nie.
Jesus is self vir ons die grootste voorbeeld van hierdie beginsels regdeur Sy lewe hier op aarde - veral tydens sy lyding. Toe Jesus tydens sy verhoor geslaan is, het Hy nie teruggeslaan nie, maar kalm die onreg aangespreek (Johannes 18:22-23). En natuurlik was sy kruisiging die grootste voorbeeld van hoe die boosheid van hierdie wêreld, van ons eie sonde, oorwin is deur sy groot genade en liefde.
Deur te kyk na hoe Jesus geleef het, en dan Hom te volg, beteken dat ons keer op keer liefde bo vergelding moet kies in konflik- en onregverdige situasies. Dit vereis dat ons:
- eerder moet vergewe as om wraak te neem (Romeine 12:18-19);
- boosheid met goedheid moet oorwin (Matthéüs 5:44, Romeine 12:20-21);
- opstaan vir geregtigheid, sonder die gebruik van geweld.
Hierdie lering is moeilik in vandag se wêreld, en dit vat baie om die kwaad met goed te beveg. Maar dit is presies wat Jesus vir ons leer – ‘n manier van liefde, sy liefde, is uiteindelik sterker as enige onreg wat teen ons gepleeg kan word.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Praat ons nog met die jeug oor hoe dit regtig gaan?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/praat-ons-nog-met-die-jeug-oor-hoe-dit-regtig-gaan/
Last updated: 2025-04-26T09:00:12.000Z
*Geskryf deur Anneli Pouwels, VGK Maranata*
Persoon 1: “Hallo, hoe gaan dit?”
Persoon 2: “Goed dankie. En met jou?”
Persoon 1: “Goed dankie.”
Is dit, wat hierbo staan, nie maar net die algemene groet nie? Gebruik ons die woorde “goed dankie” nie te maklik nie? Hoeveel van ons is werklik eerlik oor hoe dit met ons gaan?
Is ons werklik bewus van wat ons vra, of vra ons bloot uit gewoonte of beleefdheid hoe dit gaan? Of leer die wêreld ons om die beste front voor te hou en voor die voet bloot te sê dat dit goed gaan? Is ons skaam om te erken hoe dit regtig gaan? As ons erken hoe dit gaan, gaan dit voel dat ons gefaal het? Of wil ons eerder nie by jeugvereniging of op die kerkplein sê hoe dit werklik gaan nie, want ons is bang ander mense hoor ons?
Ek weet ek sal makliker vir iemand, wat my nie so goed ken nie, sê dat dit goed gaan met my eerder as om my hele verhaal te moet vertel. Soek ek nou verskonings vir my en jou, liewe leser?
Die afgelope weke, nadat ek die versoek gekry het om ‘n artikel te skryf, het ek my voorgeneem om eerlik te wees teenoor die mense naaste aan my. Indien ek ‘n slegte dag gehad het, het ek dit genoem en indien ek ‘n goeie dag gehad, het ek dit ook genoem. Dit was egter bitter moeilik om eerlik te wees… hoekom? Omdat dit tyd vat om te vertel waarom dit gaan soos wat ek gesê het dit gaan.
Wel, nou kom ons uit by die konsep van tyd. In die gejaagde lewe van vandag is daar volgens die wêreld nie tyd om stil te staan en te luister nie. ‘n Vriendin van my het vir my ‘n *video* aangestuur wat handel oor ‘n gesprek tussen twee vriende. Die vriendin het vir haar vriend gevra of hy wil kom kuier. Die vriend het gedink dit is bloot om te kuier. Later toe hy haar weer sien en hoor hoe swaar sy gekry het, het hy gevra hoekom sy niks gesê het nie. Sy antwoord toe dat sy wel het. Hy het deur hulle boodskappe gegaan en gesien dat sy inderdaad gevra het of hy wil kom kuier, maar dit op dieselfde manier gevra het as toe dit goed gegaan het. Na die misverstand en onduidelike hulpkreet het die twee vriende afgespreek om ‘n kodewoord te gebruik indien hulle hulp nodig het. Die kodewoord is: 8-minute. Waarom 8-minute? Omdat dit 8-minute vat om by die kruks van die saak te kom. 8-minute om te hoor wat regtig aangaan.
Galasiёrs 6:2a roep ons as Christene op om mekaar se laste te dra. Vra mekaar hoe dit regtig gaan en hê die vrymoedigheid om eerlik te antwoord. Neem tyd om na jou medemens te luister.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Paasnaweek: Die ware betekenis van nuwe lewe in Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/paasnaweek-die-ware-betekenis-van-nuwe-lewe-in-christus/
Last updated: 2025-04-18T06:00:13.000Z
*Geskryf deur Hanneke Van Renssen, VGK Bellville*
Paasfees is een van die mees betekenisvolle feeste in die Christelike geloof, waar die opstanding van Jesus Christus gevier word. Oor die eeue heen is hierdie fees egter verweef met sekulêre tradisies, soos die paashaas en paaseiers, wat hul oorsprong het vanuit heidense feeste. Tog bly die kern van Paasfees vir Christene die oorwinning van Christus oor die dood en die nuwe lewe wat Hy bring.
### Waar kom die paashaas en paaseiers vandaan?
Die paashaas en paaseiers het geen Bybelse grondslag nie en word eerder geassosieer met die antieke heidense fees van Eostre. Sy was die godin van die lente (Noordelike Halfrond) en die mense het haar geëer vir die vrugbaarheid en nuwe lewe wat sy na die aarde gebring het. Een van haar simbole was die haas, wat vrugbaarheid simboliseer. In die fees wat aan haar gewy is, het mense ook eiers gebruik, wat ‘n simbool van nuwe lewe was. Hierdie fees is gevier wanneer die seisoene verander het en die wêreld weer tot lewe gekom het na die koue wintermaande. Met die verspreiding van die Christendom in Europa het sommige van hierdie gebruike hul weg gevind na sekere Paasvieringe, alhoewel dit nie die werklike betekenis van die fees weerspieël nie.
### Waarom vier ons as Christene Paasfees?
Vir Christene gaan Paasfees oor soveel meer as kulturele tradisies – dit is ‘n viering van Christus se oorwinning oor die sonde en die dood. Deur sy kruisdood het Hy die prys vir ons sondes betaal, en deur sy opstanding bring Hy nuwe lewe vir elkeen wat glo.
In een van Ds. PG Boon se preke beklemtoon hy dat Paasfees nie net 'n herdenking van 'n historiese gebeurtenis is nie, maar 'n lewende werklikheid vir elke gelowige is. Ds. Boon verduidelik dat Christus se opstanding die fondament van ons geloof is en dat ons deur Hom 'n nuwe lewe ontvang. Ons vier dus nie net 'n gebeurtenis vanuit die verlede nie, maar ons leef daagliks in die lig van sy oorwinning.
### Die verskil tussen wêreldse en Christelike Paasvieringe
Die wêreldse vieringe van Paasfees fokus dikwels op gesinsaktiwiteite soos paaseiers soek, sjokoladehase eet en ander kommersiële gebruike. Hierdie gebruike mag onskuldig lyk, maar hulle bring nie die ware boodskap van Paasfees na vore nie. Dit is belangrik vir Christene om ons kinders te leer dat Paasfees nie oor mites gaan nie, maar oor Christus se oorwinning oor die dood en ons nuwe lewe in Hom.
In ʼn preek deur Ds. C Kleyn word dit duidelik gestel dat Paasfees ons moet lei tot 'n lewe van dankbaarheid en heiligmaking. Dit is nie net 'n eenmalige feesdag nie, maar 'n oproep om daagliks in die oorwinning van Christus te leef.
### Die ware nuwe lewe in Christus
Paasfees herinner ons dat ons deur Christus se opstanding vergewe is en ‘n nuwe lewe ontvang het. Dit is ‘n oproep om in sy oorwinning te leef en in gehoorsaamheid aan God te wandel. Mag hierdie Paasfees ‘n tyd van dankbaarheid wees waarin ons fokus op die ware betekenis van Christus se opstanding!
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Dankdag vir gewas en arbeid
URL: https://olielamp.vgk.org.za/dankdag-vir-gewas-en-arbeid/
Last updated: 2025-04-10T06:00:27.000Z
*Geskryf deur Henri van den Bout, VGK Maranata*
Voedselsekerheid word deur die *Food and Agriculture Organization* (FAO) van die Verenigde Nasies gedefinieer as: "'n Situasie waar alle mense te alle tye fisiese, sosiale en ekonomiese toegang het tot voldoende, veilige en voedsame voedsel wat aan hul dieet-behoeftes en voedselvoorkeure vir 'n aktiewe en gesonde lewe voldoen." Die Verenigde Nasies het verder 17 doelwitte opgestel met die doel om die wêreld ‘n beter en meer volhoubare plek vir alle mense te maak. Van hierdie doelwitte sluit dinge in soos: "No poverty", "Quality education" en "Zero hunger". (Lees gerus meer hieroor: [https://openknowledge.fao.org/server/api/core/bitstreams/28b2fb42-a8f6-4274-91c7-ea10df6b43c8/content](https://openknowledge.fao.org/server/api/core/bitstreams/28b2fb42-a8f6-4274-91c7-ea10df6b43c8/content?ref=olielamp.vgk.org.za))
Volgens statistiek was daar in 2022 ongeveer 725 miljoen mense op aarde wat kroniese honger ervaar het, terwyl ongeveer 2.4 biljoen mense matig tot ernstig honger gely het. Hierdie getalle dui ‘n styging van 390 miljoen mense vanaf 2019 aan. Dit is skrikwekkend, maar verbaas dit ons? God het immers alreeds in die begin bepaal dat die gevolg van die sonde sal wees dat die mens sal swoeg en sweet om sy daaglikse brood te verdien (Genenis 3: 17-19) en dat hongersnood, natuurrampe en allerhande ellendes die mens se lewe op aarde swaar sal maak.
Die wêreldse leiers het egter ‘n ander siening en wend allerhande pogings aan om te voldoen aan voedselsekerheid. Sulke pogings sluit in alternatiewe vorme van boerdery en nuwe, meer volhoubare tegnologie. Planne word beraam, statistieke word uitgewerk en nuwe implemente word getoets. Hiermee is absoluut niks verkeerd nie – God het ons immers beveel om as verantwoordelike rentmeesters oor sy skepping te heers en die aarde te bewoon en te bewerk.
Dit sluit inderdaad ook in om meer volhoubaar met Sy skepping om te gaan. Verder moet ons ook die gawes en talente wat God ons gegee het ontwikkel en ten volle benut tot eer van sy naam (Matthéüs 25: 14-30). Maar, ten spyte van die mens se wanhopige pogings om die wêreld ‘n beter plek te maak, sien ons elke jaar weer hoe die hongersnood en ellende net toeneem.
Dit is omdat die mens op homself vertrou. Die mens dink dat hy op sy eie krag en kennis kan staatmaak en God word glad nie in die prentjie gereken nie. Juis daarom sal dit nooit volkome suksesvol wees nie. God herinner ons telkemale in Sy woord dat ons alleen van Hom alles kan verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het (Psalm 104: 27-30 ; Jeremia 31: 25). Alleen as dit sy wil is sal die sluise van die hemel geopen word. Alleen as dit sy wil is sal peste en siektes iets van die verlede wees. Alleen as dit sy wil is sal daar ‘n einde kom aan hongersnood, water tekorte, natuurrampe en allerhande ellendes.
Daarom mag ons as christene met alle blydskap Dankdag vir gewas en arbeid vier! Dit is ‘n dag afgesonder daarvoor om na te dink en te besef waar alles eintlik vandaan kom. Om weereens te besef Wie in beheer van alles is en Hom daarvoor te loof en te dank: ons Hemelse Vader. Van Hom alleen kan ons alles verwag. Hy het deur al die eeue heen, van die skepping af, nog altyd vir sy volk gesorg. Selfs toe hulle in die woestyn was het Hy manna uit die hemel laat reën sodat sy volk nooit gebrek gely het nie. Daarom mag ons ook vertrou dat Hy in die toekoms altyd vir Sy kinders sal sorg.
Matthéüs 7:11 (AFR53): “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” Ons mag vertroosting vind in hierdie beloftes, soos ook in Matthéüs 6: 25-34\. Ons mag God ook herinner aan hierdie beloftes van Hom. Ons doen dit daagliks as ons tot Hom bid, “gee ons vandag ons daaglikse brood” soos in die Onse Vader. Ons het egter ook ‘n dag spesiaal hiervoor afgesonder, bekend as Biddag vir gewas en arbeid. Maar op Dankdag vir gewas en arbeid mag ons Hom dank en loof vir alles wat Hy voorsien, nie net kos alleen nie, maar vir alles wat ons uit Sy hand ontvang.
Hierdie vreugde mag ons in volheid uitleef, veral ook op Dankdag vir gewas en arbeid. Die gewoonte in Suid-Afrika om Dankdag te vier is grotendeels eie aan die VGKSA kerkverband. Ons mag egter hierdie vreugde en blydskap nie vir onsself hou nie. Ons word juis opgedra om dit ook met ander te deel! (Hebreërs 13:16). Met dankbaarheid mag ons die gawes wat God ons skenk ook weer teruggee aan die minderbevoorregtes deur middel van kollektes, skenkings en soveel meer.
Met die viering van Dankdag mag ons verder ook uitsien na die dag wat God sal terugkeer op die wolke wanneer Hy ‘n einde aan alle ellende sal maak (Openbaring 7:16-17). Laat ons daarom elke dag, maar spesiaal ook op Dankdag vir gewas en arbeid, ons gawes met oorgawe gee, ons blydskap en vreugde deel en met alles God verheerlik vir sy voorsienigheid! “Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” (Psalm 106:1, AFR53)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP09: Die vrou se taak in die Huwelik
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep09-die-vrou-se-taak-in-die-huwelik/
Last updated: 2025-09-08T19:07:15.000Z
In hierdie episode van *Die Olielamp* gesels ons met **Alike Bijker** oor die Bybelse rol van die vrou in die huwelik. In ’n wêreld waar huweliksverhoudings dikwels deur sekulêre idees beïnvloed word, keer ons terug na die Skrif om te verstaan wat God se bedoeling vir die vrou se roeping as vrou en helper is.
Ons ondersoek hoe vroue met liefde en respek hul mans kan ondersteun, en hoe onderdanigheid – soos dit in die Bybel beskryf word – ’n Godgegewe seën is, eerder as ’n swaar las. Verder gesels ons oor die uitdaging om balans te vind tussen huweliksverantwoordelikhede, gesin, werk en persoonlike geestelike groei.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Jesus.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/jesus/
Last updated: 2025-04-05T07:00:29.000Z
*Geskryf deur Marissa Kerkhoff, VGK Pretoria*
Jesus. ‘n Naam van groot belangrikheid en gesag. ‘n Naam wat almagtig en reddend is. ‘n Naam wat as koning gekroon is en ‘n naam wat wêreldwyd bekend is.
God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus, elkeen wat in die hemel en op aarde is en onder die aarde is, die knie sal buig (Fillipense 2:9-10).
Hoekom is onse God se naam so wonderlik en almagtig? Wat beteken Jesus?
Die naam ‘Jesus’ is bekend gemaak aan Maria en Josef deur die engel wat aan Josef verskyn het in Mattheus 1: 21\. ‘Jesus’ is die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam ‘Josua’ of ‘Yeshua’ wat beteken: “Die Here is verlossing”. Met hierdie verlossing sal Hy sy volk van hulle sondes verlos. Die verlossing is nie net vir die Jode nie, maar vir almal wat besef dat hulle hulself nie kan red nie.
Die engel het gesê dat hulle Jesus ‘Emmánuel’ sal noem, wat beteken: God is met ons (net soos die profeet Jesaja voorspel het in Jesaja 7:14). Deur Jesus is God by ons teenwoordig. In Hom het God dus letterlik tussen ons kom woon.
Die naam Jesus was baie algemeen in die eerste eeue in en om Judea. Om hierdie rede word ons Heer gereeld “Jesus van Nasaret” genoem en word Hy uitgeken deur sy jeugdorp: Nasaret in Galilea (Matteus 21:11). Ten spyte van die feit dat dit so algemeen was, dra die naam ‘Jesus’ ’n diep en betekenisvolle boodskap. Jesus is deur God gestuur vir ’n spesifieke taak. Sy naam verwys na daardie sending. Net soos Josua, ook bekend as Yeshua, in die Ou Testament sy mense na oorwinning oor die Kanaäniete gelei het, het Jesus in die Nuwe Testament sy mense gelei na oorwinning oor sonde en hul geestelike teenstanders.
Daar kom verskillende name en beskrywings van Jesus in Johannes voor. Jesus het aan homself verskillende name gegee wat verband hou met die besonderse rol wat Hy as gestuurde van die Vader vervul het. Sommige van die name verwys na titels in die Ou Testament en ander was weer bedoel om mense beter te help verstaan wat sy identiteit en funksie was. Die name van Jesus gee ons ook ‘n beskrywende voorbeeld wat ons moet volg.
Jesus het meestal na Homself verwys as Seun van die mens. Volgens die evangelie verwys dié titel op Jesus se aardse bediening, lyding en vernedering, maar ook op sy koms in heerlikheid op wolke. Johannes verwys na Hom as die brug tussen hemel en aarde. Jesus word ook genoem die “brood van die lewe” en “ingang vir die skape”. Dit beteken Hy is die enigste bron van ewige lewe, en die enigste manier om die ewige lewe te ontvang. Jesus is die “lig vir die wêreld”. Die lig simboliseer sy geestelike insig en waarheid. Jesus is die universele antwoord op mense se behoefte aan geestelike waarheid.
Verlossing kom in die naam van Jesus alleen. Jesus is *“die klip wat deur die bouers geminag is, wat nou die hoeksteen geword het. Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie”* (Handelinge 4:11-12, AFR20). Vergewing van sonde word alleen verkry deur die naam ‘Jesus’.
Gelowiges moet gedoop word in die naam van Jesus. Petrus antwoord die apostels in Handelinge 2:38 met die woorde: *“Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”* (AFR20).
In alle opsigte doen Jesus sy naam gestand. Die naam van Jesus herinner ons aan die mag, teenwoordigheid en doel van die opgestane Christus. Dit bevestig dat God se genadige plan is om ons te red. Ons Here Jesus het God na die mensdom gebring en bring nou mense na God deur die verlossing wat Hy bewerk het. In die Skrif, wanneer mense in Jesus se naam gespreek of opgetree het, het hulle dit gedoen as God se verteenwoordigers met sy gesag.
Die lewe van die gelowige moet in die Naam van Jesus geleef word (Kolossense 3:17) en daardeur eer aan God te bring. Ons bid *“sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus”* (2 Thessalonisense 1:12, AFR53).
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Worship in a self-centered and lost world
URL: https://olielamp.vgk.org.za/worship-in-a-self-centered-and-lost-world-2/
Last updated: 2025-03-29T07:00:17.000Z
*Written by Christopher Hlongwane, FRCSA Soshanguve F4*
A girl was in a car with her mother driving, when she asked, “Mom, you say that God is everywhere. Is He in the car right now?”
“Yes, honey. God is always with us”, said the mother. In her innocence the little girl then took the candy she was sucking on and asked if she could share it with Him. This is just a beautiful little story that shows us how we are to live our lives: in the face of God. We should always realize that our lives are lived in His presence. When we understand this, our lives will not be the same. Everything we do will be done to please God and our worship will be more meaningful. But in today’s day and age, worship has become a thing that even Christians don’t really understand. It has been reduced to an activity. When you talk about “worship”, people think you are referring to singing Christian Hymns at Church. How did we get here? Worldview!
A worldview is a person’s framework for seeing the world around them and their place in it. It must answer some basic but important questions of life: Is there a God? What are human beings? What is the nature of the world? What happens to us when we die? And so forth. Everyone has it, because life demands that we answer these fundamental questions. Our worldview influences how we live, both as individuals and as societies. There are two prominent worldviews: postmodernism and existentialism. Yes, some of the other worldviews seem to be gaining prevalence these days like atheism, naturalism, humanism, etc., but postmodernism and existentialism are the dominant ones. Let us investigate them, shall we? In doing so, we will be laying some groundwork for how these came to influence our understanding of worship.
In the 20th century major shifts in perspective have occurred. During this time, humanism (the belief that science and technology were going to bring peace and prosperity for humanity) was the commonly held belief. But the very things that people had faith in, brought war, not peace. This led to a time of chaos and mass confusion. People were starting to doubt if the modern world was even going to survive. There was disillusionment and loss of faith in the science and technology “gods”. With this, there was the development of a new way of seeing the world: postmodernism. This is a worldview that holds that there are no absolutes. It is very dangerous because it takes some basic truths to the extreme. For example, it holds the view that no culture is better than the other (which is not a bad thing at all) but takes it to the extreme by rejecting anyone who claims to have the truth, especially concerning issues of faith. This means that Christianity is completely rejected. Christ is rejected because of His claim of truth (John 14:6). Postmodernists believe that truth is just a social construct, therefore it is subjective. In other words, truth has been reduced to the personal story that every person tells themselves and others. This worldview not only affects our thinking, but all of our life: including our worship. The other prominent worldview of our culture is existentialism. Its primary focus is on finding personal fulfillment in oneness, free will, and personal responsibility. Every person gets to choose who they want to be and should be searching for what can help them get closer to become their best self. It is of the view that life has no inherent meaning, but if we look deep enough, we can find meaning in the meaninglessness of life. Whether we see it or not, these two worldviews: postmodernism and existentialism, have a huge impact on us as Christians. We live in a world that says that there is no truth and all that matters is finding what makes us happy as individuals.
But how exactly do these worldviews affect our worship? Postmodernism affects Christians with regards to biblical interpretation. Since there is no absolute truth, the interpreter decides what a specific passage means to them. That is why the Bible is so misunderstood today. People are becoming more and more subjective in their interpretation and care less and less about the intended meaning of the Biblical author and how the original audience received and understood the passage. They go with their emotions and experiences and then decide the meaning of the text for themselves. In today’s world, people do all kinds of things, because the Bible has lost authority over their lives - since truth has been removed. Existentialism on the other hand, makes us see worship as an activity that is just meant to be conducted according to our emotions since this worldview’s primary concern is the “self” and personal experience. People want to sing only the songs that make them feel closer to God and read those texts that bring them to tears. The heart dictates the worship. There is a sense in which there must be a balance of the two. We are to worship God from our hearts, but then also not do so entirely based on how we feel, but we should worship according to Scripture.
Considering all this, let us now consider what true worship is. We must first know the nature and purpose of worship if we are to know the “how”. Why should we worship God? Does it make a difference to Him whether we do or do not worship Him? No! God does not need us to worship Him because He is self-sufficient. All He could ever need, He has in Him. We worship God because it is our duty: it is exactly what we were made for. The Heidelberg Catechism teaches this by stating that, “Man’s chief end is to glorify God and to enjoy Him forever” (WSC 1). It is all the marvelous grace of God. The fact that we can praise and worship God is all grace.
Let us explore worship in Psalm 100\. In verse 1, we get the “how” and “who” of true worship. “Make a joyful noise” or “shout for joy”, as found in Psalm 66:1, is a call to shout out joyfully in praising God. Singing can be an expression of this, and verse 2 makes it clear: “come into His presence with singing”. “All the earth”, not just Israel but literally all the nations on the Earth. Every person from every tribe or nation is charged with the duty of worshiping God. The call to worship is universal.
In verse 2, we find the word “serve”, which is a term that relates to specific acts of worship. The psalmist reminds us that worship is hard work. This is something that we need to hear daily because in a lot of ways worship has become a passive thing. People are not actively participating in the act. This is not true worship. Every member in the church is to actively “shout for joy” and “serve” God. When we go to work, we go prepared, having all the required skills and knowledge. It must be the same with worship. Most importantly, we should remember that this “work” is a service to God.
In verse 4, we find the place of worship. The psalmist tells us that we should enter God’s “gates”/ “courts” to praise Him. Worship is done in the presence of God. In the Old Testament it was the temple, but for us today, it is the local church building where we meet corporately to praise God. Even better, our temple, our place of worship is Jesus Christ (John 2:19). Some of us do not have the privilege of worshiping God in spectacular places like what was seen in Solomon’s temple. We have places that are not that glorious but we are still able to worship God, however, because our worship is not tied to a specific place but is in Jesus Christ. How exactly this happens is too lofty for us to grasp. As Christians gather with the sole purpose of praising God, God meets with them.
The main aim is to ascribe nothing but beauty to the name of the Lord. It should be an exciting and joyful experience, filled with joyous emotions. In our Reformed Churches this is not always the case. We must avoid the two common mistakes: having no emotion in our worship, being unmoved by being in the presence of God, and on the other hand having our emotions dictate our worship. We should rekindle the joy in our hearts for the worship service. When we worship God, we not only serve Him, but we come to have communion with Him. We come into God’s presence to know Him more, to spend time with Him, as His children. It is an opportunity for God to speak to us, through the public reading and preaching of His Word, through singing biblically rich hymns and songs, and through having conversations with Godly people in the Church. This brings the believers closer to God. Everything we do, from eating to working, should be done for the glory of God (1 Corinthians 10:31). We are to worship in every facet of our lives. There can’t be a separation of our “religious life” and our “secular life”. The Gospel should penetrate us in every area of our lives.
If we adopt the postmodern worldview, we will not be able to truly worship God. We will pick and choose, serving God half-heartedly or at worst, openly disobeying Him. Jesus Christ, while talking to the Samaritan woman, said that we are to worship the Father in truth and in Spirit (John 4:23). That idea is lost in the postmodern world because there is no ‘truth’ and belief in the “spirit” is foreign and sometimes imprudent. Again, if we adopt the existentialist worldview, mainly being concerned with what is best for self, we will be people who “worship” God for their own benefit. Worship then merely becomes a means to an end. God becomes a means to an end. We see a growing number of people coming to church with the hopes of getting the job, the spouse, the wealth that they have been dreaming about. God becomes nothing more than a genie that is expected to satisfy all the sinful lusts of their hearts. This is sad. In such a world, with such a worldview how can we worship God?
Do not be conformed to this world but be transformed by the renewal of your mind (Romans 12:2). That is the only hope for us, as Christians today. We should make sure that we establish a solid Biblical worldview, to avoid being swayed by the winds of doctrine in the world (Ephesians 4:14). If we do not have a Biblical worldview, we will not be able to live the life that God desires from His people. We will not be able to offer the worship that our God requires and delights in.
### References
- Johnson, T. L. 2005\. Worship from the heart. *In* Godfrey, S. R. *et al*. The worship of God: reformed concepts of biblical worship. Ross-shire: Christian Focus Publications.
- Old, O. H. 2002\. Worship: reformed according to scripture. Kentucky: Westminster John Knox.
- Pipa, J. A. 2005\. The purpose of worship. In Johnson, T. L. & Godfrey, S. R. *et al*. The worship of God: reformed concepts of biblical worship. Ross-shire: Christian Focus Publications.
- Ryken, P. G. 2013\. Christian worldview: a student’s guide. Illinois: Crossway.
- Sire, W. J. 1976\. The universe next door: a basic worldview catalogue. Nottingham: Inter-Varsity Press.
- Sunshine, G. S. 1958\. Why you think the way you do: a story of Western worldviews from Rome to home. Grand Rapids: Zondervan.
- Williams, G. 2024\. Christian Worldview. 2nd ed. KwaMhlanga: Mukhanyo Theological College. (Study Guide BBT3).
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe hanteer ek mense wat laster?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-hanteer-ek-mense-wat-laster-2/
Last updated: 2025-03-22T07:00:20.000Z
*Geskryf deur Klarize van Alten, VGK Kaapstad*
In ʼn wêreld waar slegs 31% van die populasie nog as Christene identifiseer, is dit amper onmoontlik om mense wat laster te vermy. Die kans is groot dat u dalk self al in so ʼn situasie geplaas is en onseker was oor hoe om dit op die regte wyse te hanteer.
Die vraag wat ons eerste moet vra is: Wat presies is laster? Die derde gebod, vanuit Exodus 20:7, is duidelik oor wat die wet sê – “*Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”* (AFR53). ʼn Verdere verklaring kan gevind word in Levítikus 22:32: “*En ontheilig my heilige Naam nie…*” (AFR53). Dit wys gevolglik vir ons dat laster nie bloot sekere woorde of terme is nie, maar enige spraak wat die Here se heilige Naam oneer aandoen. Daarom is die omvang van laster baie wyd en kan soms moeilik wees om te identifiseer. Om dit baie eenvoudig te stel, vra jouself af: “Word die Here se Naam hierdeur verheerlik of verneder?” Meestal weet ons wat die antwoord is, maar ons is nie bereid om dit te erken nie omdat dit ʼn verantwoordelikheid op ons plaas. Dus moet ons begin deur te erken wanneer iets nie ter ere van God se Naam is nie.
### Hoe behoort ons te reageer?
In die tweede plek is dit belangrik om te besef dat nie alle reaksies op mense wat laster ewe effektief sal wees nie. Vanuit ʼn konserwatiewe oogpunt mag u dalk dink dat dit ons plig is om die persoon oombliklik aan te spreek oor hierdie sonde. Dit is egter nie noodwendig altyd die geval nie. Daar is ʼn regte tyd en manier om so iets te doen. In sekere gevalle, waar dit dalk ʼn vriend is, kan dit noodsaaklik wees om te wag totdat die vriendskap ʼn meer persoonlike punt bereik het. Op daardie stadium het albei partye waarskynlik al meer respek vir mekaar opgebou, en is daar ʼn groter kans dat die vriend jou gevoelens en geloofsuitkyk in ag sal neem. In ander gevalle is dit dalk meer effektief om die persoon direk aan te spreek. In elk geval is dit belangrik om nie die tipe situasie as verskoning te gebruik om jou reaksie uit te stel nie. Wees eerlik met jouself oor wat werklik aangaan en hoe dit op die beste hanteer kan word.
### Die regte houding is noodsaaklik
Buiten vir die tydsberekening van jou reaksie, is dit ook uiters belangrik om mense met die regte houding aan te spreek. Deur aanvallend of neerhalend te wees, gaan die persoon heel waarskynlik hulle rug op jou draai. Dit is nie net ons plig om mense in daardie gevalle aan te spreek nie, maar ook om dit in liefde en respek te doen. Om dít te bereik is dit eerstens belangrik om te besef dat ons self ook sondige mense is. Net omdat ons dalk self nie laster nie, beteken dit nie ons is beter as díé wat wel laster nie. Ons moet dus nie iemand teregwys met die doel om beter te voel oor onsself nie, maar eerder uit liefde vir ons medemens. Dus, om dit vanuit daardie oogpunt te doen behoort ons reaksie van nature respekvol te wees.
Elkeen wat deur die genade van God in Christus besef wie hierdie God is, sal dit ook aan ander wil oordra. Dit vra wysheid vir elke situasie, want dit moet ons strewe bly om altyd eer aan God te gee.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Memorisering van tekste elke dag
URL: https://olielamp.vgk.org.za/memorisering-van-tekste-elke-dag/
Last updated: 2025-08-22T10:01:54.000Z
*Geskryf deur Heinrich Goodey, GK Pretoria-Annlin*
Baie van ons moes as kinders vir katkisasie tekste of gedeeltes van die belydenisskrifte memoriseer. Die memorisering van tekste is dus nie ‘n vreemde konsep vir die meeste van ons nie. Maar watter waarde het die memorisering van tekste? En daarmee saam, is dit vir jou ‘n vreugde om tekste te memoriseer?
In Ps 119 sê die digter: “*Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!*” (Psalm 119:11-12, AFR53). En later sê die digter: “*Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag*.” (Psalm 119:97, AFR53). Vir hierdie gelowige was die leer en bepeinsing van God se Woord nie ‘n koue en bloot akademiese teorie nie, maar dit was ‘n baie groot vreugde!
Ons kyk daarom in hierdie artikel na drie punte:
1. Die opdrag om die Here se Woord te bepeins
2. Waarom memorisering van tekste waardevol is
3. Hoe om te memoriseer
### 1 - Die opdrag om die Here se Woord te bepeins
Die woord *bepeins* beteken om op ‘n beskouende of ‘n noukeurige manier oor iets na te dink. Om die diepte van ‘n saak te probeer insien.
In Deuteronomium 6:6-9 kry God se verbondsvolk in die Ou Testament die opdrag dat die woorde wat die HERE beveel, in hulle hart moet wees. Prakties moes hulle dit inskerp by hul kinders en orals daaroor praat. Hulle moes dit as ‘n teken bind op hul hand en dit op die deurposte en poorte skrywe.
In die Nuwe Testament skryf Paulus: “*Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.*”(Filippense 4:8, AFR53). In ‘n ander brief skryf Paulus dat ons die dinge daarbo moet bedink waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie die dinge wat op aarde is nie (Kolossense 3:1-2). En bietjie later weer lees ons dat die woord van Christus ryklik in ons moet woon in alle wysheid (Kolossense 3:16).
Dit is duidelik dat die Here wil hê dat ons gedagtes vol moet wees van die Hom en sy Woord. Om tekste te memoriseer is ‘n praktiese manier om ons gedagtes te vul met sy Woord en dit te bepeins - om na te dink oor wat die teks beteken en watter implikasies dit vir ons lewens het. So kan ons ook ons gedagtewêreld onder die Koningskap van Christus plaas en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Korinthiërs 10:5).
### 2 - Waarom memorisering van tekste waardevol is
Daar is baie redes, maar in hierdie artikel kyk ons kortliks na drie redes:
Eerstens help die memorisering van tekste om versoekings te weerstaan. Toe Jesus in die woestyn deur die duiwel versoek is, het Hy eenvoudig elke keer geantwoord: “*Daar is geskrywe… daar is geskrywe… daar is geskrywe…*” (Matthéüs 4, AFR53).
As deel van die wapenrusting gee God vir ons die swaard van die Gees, dit is die woord van God (Efésiërs 6:17). Tydens ‘n oorlog is dit baie belangrik dat ‘n soldaat sy swaard heeltyd met hom saamdra en dat hy opleiding ontvang het oor hoe om ‘n swaard te hanteer. Hy moet gereed wees om enige tyd sy swaard te ontbloot en die stryd aan te pak, anders sal die vyand hom maklik kan oorrompel. Net so moet ons swaarde nie net in die boekrak of op ons bedkassies lê nie. Ons moet die Bybel in ons hart en verstand dra en weet hoe om die Bybel reg te gebruik om sodoende in die krag van die Gees weerstand te bied teen versoekings.
Tweedens verryk die memorisering van tekste jou gebedslewe. Ons sien dikwels in die Bybel hoe gelowiges ander gedeeltes van die Bybel in hul gebede aanhaal. Voorbeelde is Nehemia (Nehemia 1), Daniël (Daniël 9) en die kerk in die Nuwe Testament (Handelinge 4). Nog ‘n bekende voorbeeld is toe Jona in die vis was. As mens sy gebed in Jona 2 ontleed, sal mens agterkom dit bestaan uit ten minste 9 Psalms wat hy aanhaal.
Derdens is memorisering van tekste nodig vir ons gesprekke met ander mense. Indien jy vir ander mense bemoedig, vermaan of die evangelie verkondig, gaan jy nie na hulle met jou eie opinie of oorredende woorde van menslike wysheid nie. Nee, jy gaan na ander mense met die Woord van die Here - sy Woord wat gesag het oor ons lewens.
### 3 - Hoe om te memoriseer
Die manier om te memoriseer sal van persoon tot persoon afhang, en sal vir een persoon miskien makliker wees as vir ‘n ander. Maar die belangrikste is om te sien dat die menslike brein ontwerp is met die vermoë om te leer. Deur te leer word paadjies in jou brein gevorm (verbindings tussen neurone), en deur herhaling word die neuronverbindings versterk.
Deuteronomium 6 sê dat ouers die woorde van die HERE by hulle kinders moet inskerp. Die 2020-vertaling sê dat dit vir die kinders herhaal moet word. Dus: herhaling.
Jy moet egter vir jouself ‘n manier vind om effektief te memoriseer. Algemene raad of metodes is om die vers uit te skryf, om dit op flitskaarte te plaas of selfs om dit die agtergrond van jou selfoon te maak.
Maak ‘n lys van verse wat jy graag wil memoriseer, begin klein en bou dit stelselmatig op. ‘n Goeie metode is om byvoorbeeld Maandag tot Vrydag elke dag een vers te leer en dan die naweke te gebruik om die verse te hersien.
Om af te sluit: die Here wil hê dat ons gedagtes gevul moet wees met die rykdom van sy Woord. Dit gaan inspanning en konsentrasie verg, maar mag die Here gee dat ons met vreugde sy Woord bestudeer, Hom leer ken en dan ook daders van die Woord sal wees.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoeveel nut het lees vir ‘n kind van God?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoeveel-nut-het-lees-vir-n-kind-van-god/
Last updated: 2025-03-10T15:07:04.000Z
*Geskryf deur Arco Klapwijk, Providence Canadian Reformed Church*
Terwyl die titel nog in jou kop ronddraai, is hier ‘n paar statistieke oor leesvaardighede in Amerika van 2024\. 79% van volwassenes kan lees, terwyl 54% van die Amerikaanse bevolking se gemiddelde leesvaardighede onder die vlak van ‘n graad 6 leerling is. Indien die statistieke dieselfde lyk in die kerk, behoort daar alarms by ons af te gaan. Vrae sal opkom soos: gaan mense kan Bybellees? Gaan mense kan verstaan wat God vir hulle sê? Meer nog, hoe sal mense kan praat oor die evangelie as hulle nie die woorde daarvoor het nie?
Jy ken moontlik die bekende storieboek *Matilda*, ‘n storie van ‘n jong meisie wat mal is oor lees. Sy word deur haar gesin geboelie en geforseer om TV te kyk, eerder as om boek te lees. In hierdie fantasieverhaal kom Matilda agter dat sy objekte met haar intelligente boekebrein kan beweeg waarmee sy dus haar gesin pes en ‘n wrede skoolhoof uitoorlê. Hierdie boek is ook in ‘n 1996 fliek uitgebeeld, wat ironies genoeg die rede is waarom baie mense die storie ken, eerder as deur die boek. Hierdie storie is egter al oud en het die meeste mense se sienings oor lees verander.
*Instagram* of *Youtube* kry honderde meer voete (of kan ek sê oë) as biblioteke. Potgooie het ook ‘n groot aantrekkingskrag geword. Jy mag dalk wonder: “Wat maak dit saak? Mense kan mos inligting kry waar hulle wil? Ek kan eerder ‘n *Youtube Short* kyk as om my wiskunde handboek te raadpleeg?” Terwyl tegnologie baie nuttig is, wil ek jou graag ook wys op die nut van lees.
Eerstens verg video’s of potgooie minder aandag en word potgooie dikwels as agtergrondgeluide by ander take geluister. Die kuns van lees is dat jou volle aandag by die boek moet wees. Jy moet ‘n boek gaan haal. Jy moet dit oopmaak. Jou oë moet oor die woorde gly en jou brein moet dink oor wat jou oë observeer. Video’s bevat dikwels afleidings, of bloot die selfoon waarop dit gekyk word, lei die aandag af deur ‘n Whatsapp wat deurkom. Dit is baie maklik om net na die volgende video te blaai as jy in die huidige een belangstelling verloor.Terwyl video’s en potgooie natuurlik baie nuttig kan wees, moet lees steeds aandag kry - eintlik meer aandag. As mense nie kan lees nie, hoe gaan hulle persoonlike Bybelstudie doen?
Laat ons vervolgens kyk na die belangrikheid van woorde. God het die aarde geskape deur die spreek van woorde: “En God het gesê...”. Daardie woorde eggo deur die eerste hoofstuk van die Bybel. God het met die mens gepraat met woorde. Kyk na Noag, Abraham en Jakob as voorbeelde. Ons sien God se direkte gesprekke met mense stadigaan verdwyn, totdat God sy profete stuur wat sy Woord aan die volk moet gee. Dit begin by Moses en dan nog honderde ander profete soos Jona, Jesaja en Esegiël. Esegiël het selfs sy bediening ontvang deur ‘n boekrol op te eet wat die Here se boodskap bevat het. Die klem lê hier dus op die woorde.
> *'Daarna het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel. Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet*.' (Eségiël 3:1-2, AFR53)
Ons sien hoe die Jode die Ou Testament opskryf en deur die Skrifte leer. Vandaar ook die Skrifgeleerdes in die Nuwe Testament. Die profete en God wat direk praat was nie nodig nie, want Jesus was op pad.
> *In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.* (Johannes 1:1-5, AFR53)
Wanneer ons hierdie bekende verse lees, behoort dit ‘n besef by ons aan te wakker. Die evangelie draai om Jesus en in hierdie gedeelte dra Jesus die naam *Woord*. Dit herinner ons aan die begin toe God deur die Woord (dus Jesus) geskep het. Hier sien ons dan ook hoe belangrik God se Woord is. Nie net lees ons ‘n paar feite oor die geskiedenis nie, nee, ons lees van God self! Meer nog, Jesus Christus self is die Woord wat mens geword het. Nog ‘n gedeelte bevestig dit:
> *'Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.' (Hebreërs 1:1-2, AFR53)*
Nadat Christus na die Hemel opgevaar het, het die Woord gebly. Deur die werk van die Heilige Gees het ons vandag die Bybel, God se Woord:
> *'En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.' (2 Petrus 1:19-21, AFR53)*
Soos ons verder deur die geskiedenis blaai, is dit opvallend hoe besonders goed God sy Woord bewaar. Duisende manuskripte getuig van die getroue oorskryf van die Bybel en baie meer gedeeltes van die Bybel is behoue, in vergelyking met ander bekende geskrifte soos Homer se *Illiad* of bronne oor Julius Caeser.
God se Woord, die Bybel, het dus ‘n besonderse taak. God gebruik nie beelde van hout of klip nie. Hy werk nie deur vreemde rituele soos sterre lees of orakels deur priesters nie. Nee, hy praat met ons deur sy Woord. Kyk na hoe God met Elia gepraat het: nie met vuur of wind nie, maar met ‘n sagte stem (1 Konings 19). In teenstelling met ander afgode, gebruik God sy stem en praat die taal van mense om Homself te openbaar. Die enigste plek waar God vandag nog buiten woorde met ons kommunikeer, is die doop en nagmaal – aangesien ons as swak mense hierdie sigbare tekens en seëls van sekerheid nodig het (Sondag 25-29).
Dit is belangrik om te kan lees, anders kan ons God nie leer ken nie. As ons nie ons leesvaardighede oefen nie, sal ons ook sukkel om God se Woord reg te verstaan. Ons is geneig om daagliks ure op *Youtube* te spandeer, wat slegte fokus en swak geheue kweek. Wil ons onsself so breinspoel dat ons nie meer kan Bybel lees nie? Of wil jy graag groei in jou verhouding met die Here? Dan, liewe gelowige, stel ek voor dat jy ‘n koppie koffie gaan maak, jou Bybel oopmaak, en tyd in God se Woord met Hom spandeer.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP08: Die Kerk van 500-1000 n.C.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep08-die-kerk-van-500-1000-n-c/
Last updated: 2025-09-08T19:07:22.000Z
Hoe het die kerk na die val van die Romeinse Ryk oorleef en uitgebrei? **Ds. Pieter Boon** help ons om hierdie tydperk beter te verstaan. Ons bespreek die monastieke bewegings, die invloed van Islam, en hoe sendingwerk die Christendom in Europa gevestig het. Daarna kyk ons ook na belangrike teologiese ontwikkelinge van hierdie eeu.
Luister op [Spotify](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Praktiese Bybelstudie metodes
URL: https://olielamp.vgk.org.za/praktiese-bybelstudie-metodes/
Last updated: 2025-03-01T07:00:43.000Z
*Geskryf deur Tannie Lientjie Drijfhout, VGK Pretoria*
Tokichi Ishii was ’n berugte Japanse misdadiger wat aan die begin van die 1900’s geleef het. Hy was meer as 20 keer in die tronk en is beskryf as “so wreed soos ’n tier”. Terwyl hy in sy tronksel op die doodstraf gewag het, is hy besoek deur ’n sendeling wat vir hom ’n Bybel gegee het. ’n Enkele teksvers het hierdie geharde, wrede misdadiger in die hart getref.
Tokichi het God deur Sy Woord leer ken, en dit het hom ondersteun tot aan die einde toe. Vandag leer ons steeds God deur Sy Woord ken. Dit het die krag om ons harde harte te verander en te voed totdat ons die laaste lewensasem uitblaas. Daarom is dit van uiterste belang dat ons weet hoe om Bybelstudie te doen!
In hierdie artikel gaan ons eerstens kyk na ’n praktiese metode om ’n Bybelgedeelte te analiseer. Tweedens sal daar aandag gegee word aan hoe om raak te sien hoe die Bybelgedeelte in die groter prentjie van die Skrif pas.
### ’n Praktiese Metode om te Analiseer
In hierdie artikel wil ons spesifiek fokus op ’n metode waarmee jy kan bepaal *wat* in ’n Bybelgedeelte gebeur. Ander vrae, soos aan en deur *wie* dit geskryf is, *wanneer* en *waar* dit plaasgevind het, sowel as *waarom* die skrywer dit geskryf het, is natuurlik ook belangrik, maar kan dikwels maklik beantwoord word met behulp van betroubare Bybelverklarings of Bybelstudieboekies.
Ons breine is kragtige beeldverwerkers en patroonsoekers. Daarom is *thinking maps* ’n ideale manier om te bepaal wat in ’n Bybelgedeelte aangaan. *Thinking maps* is dinkkaarte wat ons help om inligting te analiseer, te organiseer en visueel voor te stel.
*Thinking maps* is gebaseer op agt kognitiewe prosesse wat vir ons breine bekend is. Eerstens moet ons bepaal watter kognitiewe proses die skrywer aanspreek. Is die skrywer besig om te:
- definieer?
- beskryf?
- klassifiseer (hoofgedagtes met ondersteunende gedagtes)?
- verskillende dele uit te lig?
- kontrasteer?
- die volgorde van gebeure aan te dui?
- oorsaak en gevolg te verduidelik?
- vergelyk met die bekende (analogieë)?
Sodra jy bepaal het wat die skrywer doen, kan jy dit visueel vir jouself in ’n kaart voorstel. In hierdie artikel kan ons nie elke kaart breedvoerig bespreek nie. Kliek op [hierdie skakel](https://www.dropbox.com/scl/fi/gexot2qu7eqpyqt6jkx3m/Voorbeeld-vir-dropbox-skakel.pdf?rlkey=fzuroekehqjrcogigoykmys7d&st=mmce8xig&dl=0&ref=olielamp.vgk.org.za) om meer inligting en ’n voorbeeld van elkeen te sien.
Omdat ons almal se breine verskillend werk, sal elkeen se dinkkaarte anders lyk. Ons is telkens verbaas om te sien hoe verskillende mense verskillende patrone in dieselfde Skrifgedeelte identifiseer.
### Sien die Groter Prentjie Raak
Ons kan maklik vasgevang raak in die detail van ’n Skrifgedeelte (die *wat*) en vergeet om die groter prentjie in ag te neem. Dan is ons soos ’n geoloog wat, te midde van ’n asemrowende landskap, slegs op ’n grondmonster fokus en nie die pragtige omgewing rondom hom raaksien nie.
Dis belangrik dat ons, ná ons analise, ook vir onsself vra:
- Wat sê dit oor God, sodat ek Hom kan aanbid?
- Wat wys dit oor my eie hart, sodat ek my kan bekeer?
- Wat wys dit oor Jesus Christus, sodat ek Hom kan dank vir wat Hy gedoen het?
God het Lukas 23:34 gebruik om Tokichi Ishii tot geloof te bring. Die woorde “*Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie*” het hom diep geraak. Hy het dit soos volg beskryf:
> *“I stopped: I was stabbed to the heart, as if by a five-inch nail. What did the verse reveal to me? Shall I call it the love of the heart of Christ? Shall I call it His compassion? I do not know what to call it. I only know that with an unspeakably grateful heart I believed.”*
Tokichi het in die Skrif die glorie van God gesien in die aangesig van Christus!
Gaan bestudeer God se Woord, sodat jy ook die diepte daarvan kan ontdek en ’n aanskouer mag wees van God se glorie. Mag God se Gees jou harde hart verander in ’n hart van vlees deur Sy onfeilbare Woord.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ons as Bruid van Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ons-as-bruid-van-christus/
Last updated: 2025-02-22T07:00:15.000Z
*Geskryf deur Saskia Moes, VGK Pretoria*
“Die kerk is die bruid van Christus”. ‘n Bekende uitdrukking wat ons al meerdere kere gehoor het. Verstaan ons werklik wat dit inhou, beteken en hoe ‘n groot impak dit op ons lewenswyse en lewensuitkyk het?
In 2022 is meer as 20 196 egskeidings in Suid Afrika toegestaan. Huwelike eindig, familiebande word verbreek, kinders ervaar trauma en eensaamheid. Dit bring verwoesting, pyn en hartseer.
Maar ek is mos nie geskei nie? Nee, maar die werklikheid is dat ELKEEN van ons die ware liefde verwerp het. Ons het deur die sondeval ons rug op God gedraai. Ons is ontevrede (soos die Israeliete met die uittog uit Egipte), terwyl Hy na ons bly soek het en ons verlos het uit die slawehuis van die sonde. Ons het ons bruidegom, Jesus Christus, aan ‘n kruis vasgespyker. Die Een wat ons so liefgehad het dat Hy selfs sy eie lewe vir ons gegee het! Ons het op Hom gespoeg en Hom verag, maar Hy het ondanks dit alles opgevaar na die hemel om vir ons ‘n plek in sy huis voor te berei.
In Matthéüs 22:37 lees ons: “*En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand*.” (AFR53)
Wat nou? Kan ek of jy beweer dat ons Hom werklik liefhet met alles wat ons is en het?
Nee, maar ons kan daarna streef. Jy kan Hom weer soek, en jy sál Hom vind. (*Jakobus 4:8* "*Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.*")(AFR53). Hy sal met ope arms vir jou, verlore seun, wag (Lukas 15:11-32). Hy berei ‘n bruilofsfees voor, want Hy wíl saam met jou en my vir ewig leef. Hy wíl jou beskerm en jou onder Sy vlerke neem. (Psalm 91:4)
Hierdie gedagtes behoort egter ook skuldgevoel, sondebesef en berou te bring, asook ‘n wil om te verander.
Maar hoe doen ons dit?
### Leef ‘n lewe van gebed
Maak gebed ‘n prioriteit. Begin en eindig jou dag met gebed. Wees eerlik en persoonlik in jou gesprek met God. Bid sonder ophou en leef bewustelik saam met God deur die loop van die dag (1 Thessalonicense 5:17)
### Lees die Woord van God
Doen daaglikse Bybelstudie. Spandeer tyd om die Bybel te lees en te verstaan. Dink diep na oor wat jy lees en hoe dit op jou lewe van toepassing is (Psalm 1:2).
### Leef in gehoorsaamheid aan God se wil
Wees ‘n doener van die Woord. Bring dit wat jy in die Bybel lees ook in die praktyk (Jakobus 1:22). Laat toe dat God jou hart daagliks deur die Heilige Gees lei en reinig (Psalm 139:23-24)
### Nader tot God deur lof en aanbidding
Sing lofliedere en aanbid God opreg vir wie Hy is (Johannes 4:24). Wees bewustelik dankbaar vir God se seëninge en werk in jou lewe (1 Thessalonicense 5:18).
### Dien God en ander mense
Wees nederig en gee van jou tyd en talente tot diens van ander. Jesus het gesê: "*vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringste van hierdie broers van My, het julle dit aan My gedoen.*" (Matthéüs 25:40, AFR53)
Wees 'n lig. Leef só dat ander God deur jou lewe kan sien (Matthéüs 5:16).
### Bou jou geloof
Vertrou op God, selfs in moeilike tye. Moet nie steun op jou eie insigte nie (Spreuke 3:5-6).
### Omring jouself met gelowiges
Sluit aan by 'n kerk waar jy geestelik kan groei en bemoedig word (Hebreërs 10:24-25). Bespreek en deel die Bybel en geloofservaringe met ander.
### Vermy wat jou verhouding met God kan vernietig/benadeel
Erken en bely jou sondes en vra God om jou te help om dit te oorkom (1 Johannes 1:9). Maak tyd vir God deur wêreldse afleidings te verminder.
### Streef na Heiligheid en vervulling deur die Heilige Gees
Laat die Heilige Gees jou lei (Galasiërs 5:22-25). Stel jou lewe in diens van God se Koninkryk.
### Volhard in jou pad met God
Wees geduldig. Groei in jou verhouding met God vat tyd. Moenie moed opgee nie. Volhard in jou geloof en hou aan om te soek en te streef na die wil van God, maak nie saak wat gebeur nie (Hebreërs 12:1-2).
Wanneer ons hierdie weg volg, sal ons ontdek dat ’n verhouding met God die kern van ons lewens behoort te wees. Hy het die huwelik ingestel as ’n simbool van sy verhouding met ons – ’n liefdevolle, intieme verbintenis. Soos Genesis 2:24 sê: “*Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees wees*.” (AFR53)
Ons mag dieselfde vreugde in ons verhouding met Christus ervaar. Openbaring 19:7-9 herinner ons: "*Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.*" (AFR53)
Jesus se liefde neem onsekerheid oor die toekoms, spyt oor die verlede en kommer oor die hede weg. Ons mag verseker weet dat Hy ons altyd sal liefhê, “*dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie*.” (Romeine 8:38-39, AFR53)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe gereeld dink ons aan die ewige lewe?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-gereeld-dink-ons-aan-die-ewige-lewe/
Last updated: 2025-06-08T18:17:17.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
Dis Maandag oggend vroeg. Jy het dalk bietjie verslaap en tot dusver was dit ‘n gejaagde oggend. Dalk het jy vinnig ‘n bekende Psalm uit die Bybel gelees sonder om goed aandag daaraan te spandeer. Jy sit jou kar se radio aan en op die radio word gesê: “Christus kan hierdie week terugkom, bekeer jouself!”. Die boodskap op die radio is baie onverwags. Jy het miskien as student jou week vooruit beplan. Donderdagaand skryf jy ‘n toets en jy het ‘n leerplan uitgesit om voorbereid te wees vir die toets, maar nou word jy eweskielik herinner daaraan dat Christus hierdie week kan terugkom. Jy word bietjie onkant gevang, nie waar nie? Hoe reageer jy daarop? Moet jy dit dalk op jou kalender sit, dat jy daagliks herinner kan word aan die moontlikheid? Voel jy skielik skuldig dat jy nie genoeg aandag spandeer het toe jy vanoggend uit die Bybel gelees het nie?
### **Die mens leef en dink op daaglikse basis**
Om te verstaan hoekom ons so onkant gevang word, moet ons eers kyk hoe die mens dink en leef, spesifiek ook onder die jongmense. Om “in die oomblik” te leef, is wanneer ons die verlede en toekoms uit die prentjie haal sodat ons die oomblik kan inneem en dit maksimaal geniet. Ons kan soms nie anders as om net op een ding te fokus nie. Dink maar: wanneer jy laat aande moet leer, dan kan jy nie dink hoe lekker ‘n nagrus kan wees nie - dit sal jou aandag heeltemal aflei van die leerwerk! ‘n Besige lewe vir ‘n Christen is dus niks anders as vir ‘n ongelowige nie - die mens leef en dink daagliks. Ons bid in die Onse Vader “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mattheus 6:11, AFR53). Daardeur vra ons dat die Here ons sal voorsien met als wat nodig is vir liggaam en siel vir die dag. Meer spesifiek nog sê die Prediker selfs in Prediker 3:1 dat alles sy bepaalde uur het!
### **Christus kan in jou leeftyd terugkom!**
Wanneer ons hoor van die Wederkoms, word dit dikwels as ‘n langtermyn saak vir die Christen gesien. Die engele het vir die dissipels meer as 2000 jaar gelede gesê: “*Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het*.” (Handelinge 1:11, AFR53). Christus kom spoedig soos ons in Openbaring 22:20 lees! Maar is dit nie nou al lankal nie meer “spoedig” in menslike terme nie? Is dit dan ooit iets waaraan ons daagliks moet dink?
Dit veroorsaak dalk dat so ‘n boodskap op die radio oor jou kop vlieg. Jy dink vir ‘n rukkie daaraan, maar dan leef jy weer verder. Mense word gebore, mense sterwe weer. *Lion King*, ‘n bekende tekenprent, se “circle of life”-filosofie vind dan dalk blyplek in ‘n Christen se gedagtegang: die lewe gaan sy gang en ons uiteinde is die dood. Wanneer ons begin werk, dra ons meestal maandeliks by tot ‘n pensioenfonds om vir onsself eendag ‘n goeie aftrede te waarborg. Na ons aftrede glo ons dat, wanneer ons te sterwe kom, ons hemel toe sal gaan. Die laaste dae van jou lewe kyk jy terug op ‘n dankbare lewe, maar iets meer nog, jy sien uit om hemel toe te gaan! Kort voor afsterwe sien sommiges selfs die hemele geopend staan vir hulle! (Handelinge 7:56)
Maar wat is die gevaar hiervan? Die gevaar lê in die “circle of life”-filosofie: ek en jy is ook op pad na die dood toe. Jy werk nou hard om iets vir jou nageslag agter te los, maar in jou agterkop sit dit dat jy eendag nie meer hier gaan wees nie. Die idee dryf jongmense daartoe dat jy eers later in jou lewe ‘n meer geestelike lewe kan lei. “Ek wil nou lekker leef, maar ek glo ek sal later in my lewe meer ernstig raak oor my geloof”, is iets wat jy nie vir die ouderling durf te sê nie, maar getuig jou lewe soms daarvan?
Vir ‘n Christen is dit ‘n goeie maatstaf om te dink “Wat as Christus langs jou gestaan het?”. Dit help hulle dan om te besluit of die situasie waarin hulle nou is, geskik is vir ‘n Christen of nie. Met die mentaliteit van “ek sal later in my lewe ‘n geestelike lewe lei”, wag daar slegte nuus vir jou, want die oomblik wat Christus langs jou staan, is dit klaar te laat. Christus kom net een keer terug, en dis wanneer Hy sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Vir die gelowiges sal dit ‘n dag van vreugde wees (Openbaring 21:1-7), maar vir die ongelowiges sal dit ‘n angsaanjaende dag wees (Openbaring 21:8). Meer nog, om jonk en sterk te wees laat ons as jeug soms onsterflik voel, ons dink nie vinnig aan die dood nie. Tog, die mens se lewe is kort van duur en die mens se vlees soos gras wat verdor (1 Petrus 1:24-25). Jou lewe kan enige oomblik geneem word, of jy ‘n geestelike lewe gelei het of nie.
> *📈 *‘n Klein bietjie statistiek vir nadenke**
> *Sou Christus in jou lewe terugkom, dan was die kans ±3% dat Hy in jou leeftyd sou terugkom (die jaar 2024 gedeel deur ‘n gemiddelde leeftyd van 65 jaar gebaseer op ‘n gelyke kansverspreiding). Dis eintlik ‘n groot kans, om te dink dat die kans ‘n geskatte 1% is, dat jy in ‘n motorongeluk tot sterwe kom. Dit wil sê dat, as Christus in jou leeftyd sou terugkom, die kans 3 keer groter is dat Christus sou terugkom as dat jy in ‘n motorongeluk tot sterwe sou kom.*
### **Die ewige lewe is genade en nie ‘n beloning nie**
Die paradys was God se volmaakte skepping (Genesis 1:31). God het die mens geskape om te heers oor die skepping, maar ook: om Hom te loof! Adam en Eva was, belangrik genoeg, sonder verdienste, in die paradys geplaas. Hulle was deel van God se skepping (Genesis 1:26-29).
Dieselfde geld vir ons vandag. Net soos Adam en Eva sonder verdienste in die paradys mog leef, is die verheerlikte Jerusalem nie iets wat ons verdien nie. God het van die sondeval af alreeds met die plan gewerk om nie net die mens te verlos van die sonde nie (Genesis 3:15), maar ook om die skepping te herstel! Ons getuig daarvan dat Christus vir ons aan die kruis gesterf het uit God se genade om sy kinders van die sondes te verlos (Johannes 3:16).
Deur sy dood mag ons die sonde aflê. Deur sy opstanding uit die dood mag ons ‘n nuwe lewe in Christus verkry. Deur sy hemelvaart mag ons afwagtend wag vir die dag wat Hy terugkom!
Die dag wanneer Christus terugkom op die wolke is die begin van God se verheerlikte paradys. Elke gelowige op aarde, van Adam af, sal gered word, verenig as die liggaam van Christus in die teenwoordigheid van God se heerlikheid! So vind ons ook ons troos in lewe en sterwe, wetende dat wanneer ons of ons geliefdes in die Here sterf, hulle ‘n rusplek mag vind onder die vleuels van God!
### **Bly toekomsgerig deur ‘n Geesvervulde lewe te lei**
Ons verwag al Christus se wederkoms vanaf die oomblik toe Hy opgevaar het na die Hemel. Die dissipels het direk na Christus se hemelvaart eendragtig volhard in gebed (Handelinge 1:12-14) met die oog op Christus se wederkoms. Dus, ‘n gebeurtenis wat ons saam met die Heiliges al amper 2000 jaar lank verwag, is nie aan ‘n tyd gekoppel nie. Ons kan onmoontlik tyd, statistiek, en getalle probeer koppel aan Christus se wederkoms. Maar God het ons ‘n ander Horlosie, die Heilige Gees, gegee om ons daaraan te herinner dat Hy terugkom (Heidelbergse Kategismus V&A 1). Die Heilige Gees woon in ons en lei ons lewe na ‘n toekomsgerigte lewe in Christus, of Hy in jou leeftyd terugkom of nie!
Ons as Christene mag, deur die krag van die Heilige Gees, daagliks[ vrugte van die Gees dra](https://olielamp.vgk.org.za/hoe-om-ons-christelike-waardes-uit-te-leef-in-ons-daaglikse-lewe/) en ‘n[ persoonlike verhouding met God](https://olielamp.vgk.org.za/n-persoonlike-verhouding-met-god/) bou, ook met die uitkyk op die ewige lewe! Ons toekomsvisie lê in ons Verlosser, nie in ‘n “circle of life”-filosofie nie. Wanneer ons bid “laat u koninkryk kom” (Onse Vader) en wanneer ons sing “ek glo aan … ‘n ewige lewe” (Apostoliese Geloofsbelydenis), mag ons doelbewus dink aan die ewige lewe, en daarna uitsien! Die ewige lewe is ‘n voltooiing van God se genade om ons as sondaars terug na die paradys te bring, en die keer selfs ‘n verheerlike paradys naamlik die nuwe Jerusalem!
> *Ek kom gou! Hou dan bestendig wat my mond aan jou beloof. Wees net waaksaam, en laat niemand jou die eerkroon ooit ontroof. Wie oorwin, hom sal'k bevestig: as 'n suil sal hy verrys, om daar nooit weer uit te gaan nie, in my God se pragpaleis. (Skryfberyming 43:5)*
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Gesamentlike Erediens as Gawe uit God se hand
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesamentlike-erediens-as-gawe-uit-god-se-hand-2/
Last updated: 2025-02-08T07:00:15.000Z
*Geskryf deur Cobus van den Linden, VGK Maranata*
In die wêreld rondom ons sien ons dikwels ‘n sfeer van selfaanbidding wat heers. Die mens is egoïsties en selfgesentreerd, gedryf deur wat gerieflik is en wat die meeste voordeel vir homself inhou. Is Christene dan soveel anders? Vang ons onsself nie maar ook van tyd tot tyd daarin dat ons toegee aan ons ou natuur en net vir onsself lewe nie? Hoe voel ons oor erediensbywoning? Is dit iets wat ons bloot uit gewoonte doen, terwyl ons egoïsties wens om dit eerder nie by te woon nie? Dalk wil ons eerder tuis na die erediens luister, omdat dit vir ons baie meer gerieflik is.
Dit is belangrik vir ons om te ondersoek hoe die Here die erediens ingestel het. Ons moet kyk hoe middele soos aanlyn eredienste vandag God se naam kan vereer, maar ook hoe dit so vinnig ‘n instrument van selfverering kan word.
### God se Vergaderende Werk
Ons sien dat God aan die begin van die heilsgeskiedenis vir Hom ‘n volk uitkies. Abraham en sy nageslag ontvang die verbond en word geroep om heilig voor die Here te wandel. Hierdie volk het die voorreg ontvang om eiendom van die Allerhoogste genoem word! Hulle is ‘n volk wat die lig van gemeenskap met die Here uitstraal te midde van ‘n wêreld wat verstik in die donker van selfverering.
Eeue later bring onse Here Jesus die opdrag om die evangelie baie wyer uit te dra as net die volk Israel. Die evangelie is nou vir alle mense oor die hele wêreld. Die Here bekeer sondaars met die doel om hulle vir Hom af te sonder en in sy diens te stel. Waarom is dit die Here se wil vir sy volk om bymekaar te kom in erediens, eerder as wat hulle Hom as individue vereer?
Om hierdie vraag te beantwoord moet ons teruggaan na wat die Ou Testament vir ons hieroor vertel. In Genesis 4:26b lees ons: *“Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.”* (AFR53)Hier vind ons die heel eerste melding van ‘n gesamentlike erediens. Set en sy gesin het nie maar net persoonlike Bybelstudie gedoen of die Here as individue vereer nie, maar hulle het saamgekom in gesamentlike erediens om Hom aan te roep. Verder kan ons in die Ou Testament lees dat die Here die volk beveel het om drie maal per jaar ‘n reis af te lê en op te gaan na die tempel om daar fees te vier voor sy aangesig (Exodus 23). Die Here roep sy volk bymekaar om voor sy aangesig fees te vier, omdat Hy vreugde daarin vind! Dit maak die Here bly om sy volk voor sy aangesig bymekaar te sien. Daarom gee Hy opdrag dat hulle, hoe ongerieflik dit ook al vir die mens mag voorkom, lang afstande moet aflê om na Jerusalem te gaan en daar in sy aanwesigheid saam te kom.
In die Nuwe Testament kan ons sien hoe die fisiese eenheid wat Israel ervaar het toe hulle as een volk bymekaar gekom het, nou in onse Here Jesus nog soveel ryker word. Gemeentes met Christene van verskillende afkoms, ras en taal word nou in Christus tot een geestelike eenheid verbind. Ons sien hoe gemeentes reg oor die wêreld vergader word, die Here gesamentlik vereer en Hom verbly deur hul erediens.
Net so kry ons in Openbaring 7:9-10 ‘n vooruitsig van die volmaakte vergadering. Ons sien dat daar in die hemel ‘n skare van verlostes voor die troon staan wat uitroep: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!”. Daar staan nie geskrywe dat daar maar net ‘n paar individue in die hemel is nie, maar ‘n groot menigte wat voor die troon vergader is en in een stem die Here verheerlik. Juis in die hemel, die plek van die volmaakte erediens, is daar ‘n sigbare gemeente wat saam vergader. Dit is die erediens waarheen ons op pad is!
God sien ons nie as ‘n klomp individue wat bymekaar is nie, maar as sy bruid, sy liggaam en sy huishouding. Die Bybel skryf hierdie begrippe doelbewus in enkelvoud. God groet ons nie in die erediens as individue nie, maar as ‘n liggaam waarvan elke lid ‘n deel vorm. Selfs die kinders deel in die erediens, omdat hulle deel vorm van die liggaam en dit die Here verheug.
Ons kan dus sien dat dit die Here verheug as sy kinders vergader om Hom te aanbid en eer. Ons kan egter ook deur die opdrag om te vergader sien dat die Here dit beveel met ‘n baie mooi doel in gedagte.
### God se Sorg deur die Gemeenskap van Sy Kerk
Ons sien dus dat dit die Here verheug as sy kinders vergader om Hom te aanbid en te eer. Ons kan egter deur die opdrag om te vergader ook sien dat wat die Here verheug, ook vir ons geestelike lewe goed is. Die Here het die gesamentlike erediens nie ingestel om die mens te benadeel nie, maar om daardeur ook sy sorg en liefde aan ons te bewys.
Wanneer ons saamkom in die erediens, is dit een van die min tye waar ons mekaar die evangelie direk toesing of toebid. Ons praat met die Here deur lofgesange, klaagliedere, boeteliedere of dankliedere, asook die belydenis wat ons hardop uitspreek. Daarin spreek ons mekaar ook aan. Ons lees in Kolossense 3:16b: *”Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.”* (AFR53) Hier sien ons duidelik dat ons in gesamentlike diens van God ook mekaar bemoedig of vermaan deur ons sang.
Ons sien ook hoe die Here spesiaal deur die erediens met ons praat. Ons ervaar sy teenwoordigheid deur sy Gees, maar ook deur die verkondiging van die Woord. Ons bely in Sondag 25 dat die Heilige Gees geloof in ons harte werk deur middel van die evangelie. Daarom is die prediking tydens die erediens so belangrik vir groei in ‘n Christen se lewe .
‘n Stuk steenkool brand baie goed as dit in ‘n hoop met ander steenkool lê. Sodra jy ‘n enkele stukkie uit die hoop verwyder, hou dit vinnig op brand en verkoel. So werk dit ook in die gemeenskap van die kerk. Sodra ons nie meer met ons broers en susters vergader in die aanwesigheid van ons almagtige God nie, sluip daar laksheid en louheid in ons geloofslewe in. Die Here het die gesamentlike erediens ingestel, sodat onderlinge toesig en bemoediging tussen mede broers en susters ons kan aanspoor tot ‘n vurige ywer vir Hom en vir ons naaste.
### Is dit jou begeerte om in die erediens bymekaar te kom?
Deesdae is daar deur aanlyn eredienste soveel verskonings en verleidings vir die Christen om nie die erediens by te woon nie. So dikwels sien of hoor ons rondom ons dat mense kies om eerder in die gemak van hul huise ‘n erediens te kyk of luister. Dit beteken egter nie dat aanlyn eredienste nie ‘n doel in die koninkryk van die Here het nie.
Tegnologie is ‘n middel wat God skenk en wat ons as rentmeesters op die regte manier moet gebruik. Soos met alle dinge probeer die duiwel baie hard om die Christene deur middel van tegnologie aan te val. Ons moet dus waak teen sy aanvalle, maar terselfdertyd identifiseer hoe tegnologie wel ons gemeente as een liggaam kan help.
Aanlyn eredienste kan byvoorbeeld baie waarde hê vir bejaardes of moeders met jong kinders wat weens hul omstandighede nie in staat is om die eredienste by te woon nie. Hulle kan dan tog inskakel en op so ‘n manier deel aan die evangelieverkondiging. Dit kan ook evangelisasiewerk bevorder deur die aanlyn verspreiding daarvan. Die Heilige Gees kan dit gebruik om mense regoor die wêreld tot bekering te bring en by sy gemeente te voeg. Die doel moet egter nie word om ‘n vertoning te lewer sodat ons meer mense kan lok nie.
Dit is dus duidelik dat aanlyn eredienste tog ‘n funksie in die koninkryk mag beklee, maar ons moet versigtig wees dat dit nie ons geloof verflou nie. Kyk maar hoe die Covid 19 pandemie regoor die wêreld Christene se getroue kerkbywoning aangetas en vervolgens hulle in ongeloof laat verval het.
Onse almagtige God vind vreugde daarin as sy kinders saam vergader om Hom te aanbid en verheerlik. Hy verbind as’t ware die vreugde en verering wat Hy ontvang in die erediens aan die mens se verlossing. Die gesamentlike erediens het so ‘n groot invloed op die Christen se geloof! In die gesamentlike erediens ervaar ons ten diepste die verbond met God. Ons kry ‘n voorsmaak van die ewige erediens waaraan ons eendag in die hemel mag deelneem. Laat ons daarom nie verswak in ons bywoning van die gesamentlike erediens nie, maar moedig teen die ou natuur stry, om daardeur ons Almagtige God te verheerlik en mekaar in die geloof te versterk!
> *“Watching church on a livestream is like watching a fireplace on a screen. You see it but you don’t feel the warmth” – Wes Bredenhof*
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP07: Die Kerk van 30-500 n.C.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep07-die-kerk-van-30-500-n-c/
Last updated: 2025-09-08T19:08:06.000Z
In hierdie episode van *Die Olielamp* gesels ons met **Ds. Pieter Boon** oor die eerste vyf eeue van die Christelike kerk. Ons ondersoek hoe die vroeë gelowiges Romeinse vervolging oorleef het, die invloed van Konstantyn se bekering, en die rol van kerkleiers soos Augustinus. Verder kyk ons na die groot leerstellige kwessies wat die kerk se teologiese rigting gevorm het.
EP07 - Die Kerk van 30-500 n.C.
0:00
/800
1×
Luister op Spotify: [https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3](https://open.spotify.com/show/7nIr1ouPmDy7r3o6l6oMU3?ref=olielamp.vgk.org.za)
Luister op Apple Podcasts: [https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe kan ek heilig lewe?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-kan-ek-heilig-lewe/
Last updated: 2025-02-01T07:00:16.000Z
*Geskryf deur Kristen Visser, VGK Pretoria*
Sondagoggend sit jy in die kerk en soos die wet van God gelees word, voel jy 'n diep inwerking daarvan in jou hart. Dit is nie net 'n teks wat jou herinner aan wat reg of verkeerd is nie; dit is 'n uitnodiging tot 'n lewe van heiligheid. Jy begin droom oor die veranderings wat jy in jou lewe kan aanbring om meer heilig en volgens God se Woord te lewe. Is dit hoe God wil hê ons ‘n heilige lewe moet betree?
Voordat ons aan ‘n heilige lewe kan dink, moet ons besef dat ons saligheid alleen in Jesus Christus te vinde is. Dit sluit nie net ons verlossing in nie, maar ook die proses van heiligmaking. Ons is nie in onsself heilig nie, maar word deur Christus heilig gemaak. *"Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een"* (Hebreërs 2:11, AFR53). Hierdie waarheid is die fondament waarop ons heiligheid gebou moet word.
Wat beteken dit om heilig te lewe? Heiligheid beteken om afgesonder te wees van sonde en boosheid. Dit beteken dat God, in sy volmaakte heiligheid, totaal anders as die wêreld rondom ons is. Wanneer Hy ons oproep om heilig te wees (Levitikus 20:7), is dit ‘n oproep om te lewe in ooreenstemming met sy wil en standaarde. God het Israel, sy uitverkore volk, spesifieke regulasies gegee om hulle van die ander nasies te onderskei. Hy wou hê hulle moes 'n lewende getuienis van sy heiligheid wees, sodat die wêreld kon sien dat hulle aan Hom behoort.
Wanneer Petrus ons aan hierdie roeping herinner in 1 Petrus 1:16, praat hy spesifiek met gelowiges. Ons moet afgesonder van die wêreld wees en ons lewens moet ‘n getuienis van God se genade en heiligheid wees. Dit beteken dat ons glad nie soos die wêreld kan lewe nie. Ons moet duidelik wys dat ons heilig en God se kinders is.
Wat is dan God se standaard? Dit is ‘n strewe na perfeksie. Ons, as sondige mense, verdien die ewige dood. Toe Christus egter ons sondes op Hom geneem het en aan ons sy saligheid gegee het, het ons ook heilig geword.
Uit dankbaarheid vir wat Christus vir ons gedoen het, streef ons daarna om sy insettinge te volg, al weet ons dat ons dit nie volkome kan regkry nie. Ons lewens moet 'n refleksie wees van ons dankbaarheid, 'n bewys dat ons God se wette nie net ken nie, maar dat ons daarvolgens leef. Soos ons hierdie pad van heiligheid stap, moet ons nie vergeet dat ons nie alleen is nie. Ons het die Heilige Gees om ons te lei en te ondersteun in elke stap wat ons neem.
Hoe kan ek dus 'n heilige lewe lei? As ons regtig heilig wil (en moet) lewe, is dit belangrik om te weet wat God van ons vra en verwag. Om dit te weet, moet ons God leer ken. Hoe doen ons dit? Deur die Bybel te bestudeer en in gebed in gesprek met Hom te bly. Die Bybel lei ons dikwels in hoe om te lewe. In 2 Korinthiërs 7:1 staan: *"Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring."* (AFR53)
Ons gaan struikel in ons pogings om 'n heilige lewe te lei, omdat ons sondige mense is. Ons kan egter vertroos word deur die wete dat God ons help in ons swakheid. Hy gee aan ons die Heilige Gees, wat Christus aan ons openbaar en ons bemagtig om sy wil te doen. Soos Filippense 2:13 sê: *"Want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae."* (AFR53) Wanneer ons aan die Gees oorgee, word ons vrugbare Christene wat 'n oes oplewer wat vir God aangenaam is (Galasiërs 5:22-23).
As gevolg van God se groot barmhartigheid, behoort ons onsself as lewende offers aan Hom op te offer. *"Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer "* (Romeine 12:1, AFR53). Eendag wanneer ons in die hemel is, sal ons vry wees van sonde en die gevolge daarvan. Tot daardie dag *"vestig ons ons oë op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof"* en volhard ons in die wedloop wat voor ons lê (Hebreërs 12:2, AFR53).
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### What is your relationship with God like?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/what-is-your-relationship-with-god-like/
Last updated: 2025-01-04T07:00:13.000Z
*Written by Matthew Griffioen, Free Reformed Church of Launceston, Tasmania, Australia*
A little while ago, I realised how central this question is to the Christian’s life. The more I think about it, the more I realise how important it is. It’s been said that Christianity is not a religion but a relationship – it’s not built on ceremonies, traditions or activities of any sort, but built on a personal relationship with God.
Maybe you’re able to say that you’re really happy with your relationship with God at the moment. You feel close to Him, see Him at work in your life, and have your life built around Him. Praise God for His work in your life and may you continue to encourage others in their walk! On the other hand, maybe you’ve never really felt a personal relationship with God. You feel that the Bible is all about rules: things you can and can’t do. For you, doing ‘Christian things’ is more of a duty than a passion. Or, maybe you believe in scripture and want to serve God, but He doesn’t really feel like your Father. Or you might feel as if you don’t know God in a personal way. This article will examine only a few aspects of this topic. This article will discuss:
1. What is the importance of a right relationship with God?
2. What is a relationship with God supposed to look like?
3. What are some ways to help grow my relationship with God?
### What is the importance of a right relationship with God?
The importance of growing a right relationship with God is evident throughout scripture. The whole bible is about our need for Jesus to make us right with God again in a relationship of fellowship. This relationship is more than just knowing about God or believing He exists. As James says in 2:19: “even the demons believe – and shudder!”. It says in Matthew 7:21: “Not everyone who says to me, ‘Lord, Lord,’ will enter the kingdom of heaven, but only the one who does the will of my Father who is in heaven.” This verse highlights the difference between knowing that God exists or doing things in God’s name and having a genuine relationship with him which shows itself in service. Jesus didn’t come to institute traditions and rules, but to restore man to a right relationship with God. We know that true faith involves personal assent along with knowledge and confidence of God and His promises (HC.Q/A.21). The bible is full of commands to love Him, and Jesus even calls this the summary of the law (Matt 22:37-38). Jesus came to earth to bring the kingdom of God, by which he restored the relationship between man and God. Indeed, that we call Him ‘Father’ is no small thing. He has called us to be His children and heirs of His kingdom. All this to say – a personal relationship with God is important not only because he has commanded it of us, but also because it is a mark of true faith.
### What is a relationship with God supposed to look like?
So, I get that having a relationship with God is important, but what do I do now? What are we aiming for? What is this supposed to look like?
A perfect example of a right relationship with God is given to us in the life of Jesus. In Christ we can see exactly what God wants from us in our walk with Him. The following list is by no means exhaustive, but I have chosen only two simple but challenging aspects of a healthy relationship with God as exemplified by Jesus. Firstly, what is a relationship without **communication**? Healthy relationships require interactions and communication. A relationship with God is no different. Thus, we address the two most important parts of our relationship with God. Yep, you guessed it – it’s reading the bible and praying. When we read the bible, God talks to us. He tells us who He is, what He’s done, what He wants for us and how much He loves us. Prayer is us talking to God and the Heidelberg Catechism calls this the most important part of our thankfulness (HC.Q/A.116). A relationship with God will suffocate without prayer just as a friendship dies if you never chat or see each other. Prayer teaches us humility, patience and dependence upon God. How is your communication with God? Are you insincerely praying as part of a routine, or reading the bible then forgetting five minutes later what you just read? Communication with our close friends is often genuine and heartfelt, but I suspect that these things are often lacking in our devotions.
Perhaps the greatest element in the relationship between Jesus and God was **love**. It was out of love that Christ was obedient, for in John 14:31 he says “but I do as the Father has commanded me, so that the world may know that I love the Father”. Similarly, we show Christ we love him when we obey him, as in John 14:15, where Jesus says: “if you love me, keep my commandments”. When we love our sin, we actively rebel against God. Our relationship with God suffers when we hold onto our sin. Yet we remember that “we love because \[God\] first loved us” (1 John 4:19), for we did not choose God, but He chose us. How thankful should we be that in His mercy He has brought to Himself believers elected for eternal life! When you contemplate the gospel – for it is most certainly ‘good news’ – do you get excited? When you hear about your new life in Christ, God’s mercy towards sinners and the love of Christ to suffer so much for *you*, are you not humbled and so thankful to God? Do you not rejoice and praise Him? Do you not love Him for this gospel that is totally undeserved? We can sometimes be sceptical of emotions, perhaps suspicious of ‘getting carried away’. Yet to remain indifferent or unmoved by the gospel makes me question whether the gospel is understood at all! Yes, emotions can be deceiving. Yes, to build a relationship with God on emotions is extremely dangerous to say the least. However, it is absurd to be in a relationship with God where there is no enthusiasm, joy or love for Him.
### What are some ways to help grow my relationship with God?
In saying this, I do not mean to imply that our relationship with God is entirely up to us, for it is God who regenerates the hearts of His people. Yet through the Holy Spirit’s enabling, we have some responsibility for our sanctification – that is, becoming more holy and Christlike. To live perfectly in a right relationship with God requires a re-assessment of lifestyle and priorities, and it’s not always easy to know where to start. So here are a few things that may assist in growing your relationship with God. Some of these will be no-brainers, some might be new, and there are most definitely more that are not on this list.
We mentioned before the importance of ***reading the bible and praying***. This cannot be overstated. Nevertheless, it continues to be one that is so easy to fall short with. Thoughtless routines and impersonal words are just two of the many traps we can fall into. That’s why ***talking about godly things with others*** is so important. This is a great way to make God present in your life and you grow from the interactions with others, too. Think about it; if your faith is important to you, why would you not talk about it with others. It also provides the opportunity to learn much from those who are more mature than we are, and the chances are high that things that you struggle against now are the same struggles that have been overcome by others. It’s easy enough to talk about our hobbies or our job or studies, so let’s continue to work towards building a culture where we love talking about God to those around us. Talking about God is one way to ***make your life about Him***, but there are many ways to do this. This doesn’t mean everyone has to be a minister, or lead bible study, but that each Christian exists to glorify God. Breaking out of routine and praying at any time is an awesome reminder that God is at work in the world and in us. Work, hobbies, friends and lifestyle should all be God-honouring.
In my (limited) experience, ***pet sins are often a barrier to having a good relationship with God***. These are sins we know about but refuse to get rid of them for one reason or another. Perhaps addiction, fear of social shame, or simply a refusal to put in the effort are common reasons why we tend to keep pursuing these sins. When we come to God in prayer, asking for forgiveness can seem insincere, and knowing that we are actively disobeying the one to whom we pray can leave us feeling uneasy. We distance ourselves from God because every time we pray, we are confronted with the reality that God wants us to stop, and we want to keep going. We easily deceive ourselves into thinking that if we don’t pray, we won’t have to deal with our sin. Praying for God’s help to hate our sin is a great strategy, but after a while this too can feel dishonest. God has blessed us with a church community that is able to provide encouragement, and another beneficial strategy is to seek an accountability partner and work together. As long as we are alive in this world we will be battling against sin, but we can be comforted that the Bible is clear that forgiveness is found through Christ to those who repent of their sins.
Sometimes Christians will point out the distinction between head and heart – knowledge and feelings. Yet there is something that trumps both head and heart: relationship. A relationship cannot exist without knowledge of the person, and it grows with an understanding of who that person is. However, even combined, knowledge and passion are not equal to a relationship. For example, you might *know* everything about your favourite athlete or sports team, be really *passionate* about them winning, but still not have a relationship with them.
When we have a relationship with God, we are involved in the most amazing thing that has ever happened; what we were created to do. We can be close to the maker of the universe, the King of kings, Lord of lords, the Triune God – and we get to call him our Father. When we are in a relationship with God, we try to make our life about Him. We communicate with Him through prayer and reading His word, we do our best to obey Him, and we love Him. If we have a right relationship with God, these things will follow, for from this relationship flows love, obedience, and a desire to learn more about our heavenly Father. Our focus ought to be not first on fine points of doctrine, church order or going to bible study, but on building a relationship with God through these and other means. It is indeed true that Christianity is first and foremost a relationship, not a religion.
So, what is your relationship with God like?
I hope and pray that you think about this question. Ask others this and learn from each other, encouraging one another. Most importantly, however, see what God has to say about this in His word.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Nuwe jaar - Leef doelgerig, dag vir dag!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/nuwe-jaar-leef-doelgerig-dag-vir-dag-2/
Last updated: 2024-12-28T07:00:09.000Z
*Geskryf deur Corbin de Jager, VGK Bellville*
Waaraan dink jy as ons praat van nuwe jaar? ‘n Nuwe kalenderjaar wat begin in Januarie? Dalk ‘n nuwe jaar met die viering van jou verjaarsdag? Dalk is dit vir jou so ‘n “awesome” jaar dat jy hoop dat dit net net so kan aangaan. Is jy dalk bly dat die jaar wat agter is, verby is? Dat soos met die nuwe jaar, jy op ‘n skoon en nuwe bladsy wil begin.
Wat was die datum van die nuwe jaar in die bybelse tyd? Met al die vrae en antwoorde, bly dit ‘n jaar met 365 dae. ‘n Lang tyd! Klomp dinge kan gebeur in ‘n jaar! Die begin van 'n nuwe jaar is 'n unieke geleentheid wat oor die wêreld heen gevier word. Dit is 'n tyd van refleksie, hoop en nuwe voornemens.
Hier is so paar vrae waaroor jy kan nadink as deel van refleksie. As jy terugdink oor die afgelope jaar, waaraan dink jy eerste? Die mooi en positiewe dinge, of die slegte en negatiewe dinge?
Het jy dalk ‘n kêrel of meisie? Gaan dit goed by die skool en presteer jy? Het jy dalk liefde teleurstelling? Sukkel jy dalk akademies? Voel dit of jy nie iewers inpas nie en dalk nie vriende het nie? Hoe voel jy in jou hart as jy dink aan jou geloofslewe? Kan jy met oorgawe bely dat die Here jou lief het en jy Hom lief het? Is jy bly om kerk toe te kan gaan? Is jy getrou met jou Bybel lees en stilte tyd hou? Voel jy dat jy groei in jou verhouding met die Here?Wat is nog nuus en wat is belangrik? Is jy darm ge”update” met almal se status en “posts” op die “gram”? As ek ongelukkig is oor dinge in my lewe of as ek wonder oor goed, met wie kan ek dit deel? Ek hoop jy het antwoorde op die eerste vrae, want dit is amper weer einde van die jaar. Dis amper vakansie!
Tyd vir refleksie. Om die ou jaar af te sluit bied 'n geleentheid om terug te kyk op die ervarings, prestasies en uitdagings van die afgelope jaar. Mense neem dikwels tyd om oor hul lewens na te dink, en dit kan selfs lei tot geestelike groei en verandering. Een van die mees algemene tradisies van Nuwejaar is die maak van voornemens.
Mense stel doelwitte vir hulself, soos om gesonder te leef, meer tyd met familie deur te bring of nuwe vaardighede aan te leer. Hierdie voornemens kan 'n groot motivering bied om positief die jaar te begin.
Die vraag is egter, word voornemens vir die regte doel gedoen en hoe lank word dit vol gehou? Wat sê die Bybel hieroor en hoe ervaar jy dit?
> *“Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die Here. Al die weë van ‘n man is suiwer in sy oë, maar die Here toets die geeste. Laat jou werke aan die Here oor, dan sal jou planne uitgevoer word.”*
> \- Spreuke 16:1-3
Lees ook gerus die boek Spreuke. Soveel wyshede word ons voorgehou. Ook Spreuke 3: 1-6\. Soek gerus nog tekste wat praat oor die mens wat planne het, maar die Here wat alles bepaal.
As ons kyk wat in die wêreld om ons gebeur, in ons land, in ons omgewing; by die skool; dan sien ons baie keer dat die meeste nuus oor slegte dinge gaan. Daar is oorloë, geweld, misdaad, siekte, wêreld gelykvormigheid, eie gemak, groepsdruk. Op sosiale media word net goeie dinge gewys. Hoekom?
Die gevaar in ons lewens is dat die mense regte so hoog gestel word, dat jy kan besluit wat reg is vir jou. Wat jy wil wees. Wie bepaal wat waarheid is? Wat reg en goed is? Wat is waarheid?
Wees waaksaam en weet dat tyd kosbaar is. Koop die tyd uit! Beplan en leef doelgerig. Bid oor jou planne. Bid dat die Here jou planne sal seen en dat dit onder leiding van die Here gebeur.
> “*Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”* Kyk ook na *Psalm 90: 12, “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!”*
> \- Jesaja 40:31
Bid ook dat die Here ons mag leer om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! Soek die Here en vra wat Sy wil is, as jy besluite moet maak. Leef in afhanklikheid van jou Koning. Vertrou die Here vir die nuwe jaar. Leef elke dag vir die Here en ervaar Sy seën vir jou!
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe vier jy Kersfees hierdie jaar?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-vier-jy-kersfees-hierdie-jaar/
Last updated: 2024-12-21T07:00:05.000Z
*Geskryf deur Nanette de Jong, VGK Maranata*
Die strate is versier met feestelike liggies. Die winkels is vol kranse en ornamente. En in die middel van dit alles staan ‘n groot kersboom met geskenkies en Kersvader wat elke kind se droom waar kom maak. Orals is mense wat gesellig saam kuier in hierdie vakansie-atmosfeer.
Dit klink vir ons bekend, nie waar nie? Dalk is hierdie spesifieke beeld nie te bekend in Suid-Afrika nie, maar ons ken hierdie tradisies al te goed. Hoe reageer ons hierop as Christene? Volg ons hierdie tradisies blindelings na of soek ons na wat God in sy Woord aan ons openbaar hieroor? Maak ons die ware Geskenk van Kersfees oop of bly ons net ons aardse geskenke oopmaak?
### Wat leer die Bybel ons oor feesviering?
Ons vind op verskeie plekke in die Bybel voorbeelde van geskenke gee en ook die opdrag daarvan. Een van hulle vind ons in Ester 9 : 22 “as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is — dat hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en aan die armes gawes te stuur.” Mordegai gee die opdrag aan die Jode, na die dag wat ingestel is om die Israeliete uit te roei en die Here hulle die oorwinning gegee het, om elke jaar 2 dae af te sonder om fees te vier en geskenke vir mekaar te gee. So kon hulle herdenk dat God hulle van die dood verlos het. En die geskenke gee is nie net aan jou naaste familie en vriende nie, maar veral aan die wat minder geseënd is, fisies maar ook geestelik. Ons vind hierdie opdrag ook weer in Jakobus 1 : 27 wanneer hy sê dat ‘n rein en onbesmette godsdiens voor God juis is om die wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos van die wêreld te bewaar. As ons goed kyk na Mordegai se opdrag sal ons sien dat die opdrag ook is om die fees doelbewus te beplan om so aan hulle feestelikheid ‘n Christelike karakter te gee. Dit was nie net sommer enige fees nie!
Mens sou ‘n parallel kan trek na wanneer ons Kersfees vier. Is dit iets waarvoor jy doelbewus beplan om seker te maak dat jou huis die Christelike karakter dra? Is dit iets waar jy fees vier omdat jy ook van die dood verlos is deur Christus wat na die aarde gestuur is net soos wat die Israeliete van die dood verlos is?
### Waaroor gaan Kersfees vir die gelowige?
Dis ‘n maklike vraag sou ons kon dink – Christus is na die aarde gestuur om ons te verlos en daarom moet ons fees vier. Maar besef ons werklik waaroor dit hier gaan? God stuur Sy Eniggebore Seun na die wêreld vol sonde en ellende, om mens te word en ons van al hierdie te verlos – ja, om ons te verlos van die ewige dood! Christus is die grootste Geskenk van God aan ons – Hy het arm geword sodat ons deur Hom ryk kan word. Ons is vrygemaak. Ons mag nou aangeneem word as Sy kinders en dan mag ons ook die ewige lewe beërwe net soos ‘n ware kind van Hom wat deel mag hê in Sy Vader se erfenis (1 Petrus 1:4). In Sy oorvloed van genade en barmhartigheid kom doen Hy wat ons nooit sou kon doen. Ons fokus moet wees op die grootste Geskenk wat aan ons op Kersfees gegee is en op die Gewer van hierdie groot Geskenk. Die doel van Kersfees is om Hom te aanbid en te dank vir hierdie genade.
### Mag ons dan ons kinders van Kersvader leer?
Daarop is ‘n duidelike antwoord : Nee. Die wêreld het Kersvader in die plek van Christus kom sit. Kersvader bied aardse geskenke aan met die voorwaarde dat jy ‘n goeie kind moes wees die afgelope jaar (goeie werke). Christus gee vir ons geskenke van ewige waarde, Hy bied ons die ewige lewe en dit alles uit genade. Kersvader is slegs ‘n opgemaakte storie, maar Christus is meer werklik as enigiets op aarde. Kersvader daag net een keer ‘n jaar op, maar Christus is altyd met ons soos Hy ons belowe in Mattheus 28 : 20\. Kersvader is net iets in ‘n paar kulture, maar Christus is Koning van die konings en Here van die here. Kersvader kan nie ons grootste probleme oplos nie terwyl Christus ons grootste probleem, die sonde, oorwin het dat ons skoon voor God kan staan. En laastens is Kersvader net tydelik, maar Christus is ewig. Hoe sal ons dan ons kinders van Kersvader leer as daar Iemand soveel groter en heerliker is vir hulle?
Ons moet ons kinders hierin begelei om hul blydskap in Christus te vind veral op Kersfees. Want wanneer ons hulle leer van Kersvader, word Christus as die bron van ons vreugde uit die prentjie gehaal. Ons huise moet die karakter hê van feestelikheid om so ook ons kinders te leer om hul harte gefokus te hê op Christus.
### Watter plek het die erediens op Kersfees in ons feesviering?
Die versoeking is egter werklik vir ons as Christene om die Kersseisoen op dieselfde manier as die wêreld te vier. Eugene Viljoen vra in sy artikel “Kersfees met ‘atmosfeer’” op Christelike Media of dit nie eintlik geestelike armoede is wanneer ons feesviering rondom Kersfees vorm kry in dit wat ons nie mag doen nie. Is ons nie juis ryk wanneer ons die Bron van ons vreugde in die middelpunt plaas nie (2 Korinthiërs 8:9)? Romeine 10:17 beskryf die geloof as iets wat uit die gehoor kom. En kersvreugde is iets wat uit die gehoor kom. Dink maar aan die herders in die veld waar die Engele die boodskap van groot vreugde kom bring het (Lukas 2:10). Dis uit die gehoor! Ons is geseënd om elke Kersfees ‘n erediens te mag hê om ons harte te fokus op die ware Geskenk van Kersfees, want ons feestelikheid by die huis word juis aangesteek deur die feestelikheid in die erediens. En net soos in die erediens, waar die boodskap en betekenis van Christus se geboorte sentraal is, so moet dit ook by die huis wees.
### Hoe kan ons dan as Christene Kersfees vier?
Ons moet eers onsself vra of Christus sentraal staan in ons tradisies en feestelikheid. Boots ons slegs die wêreld na met Kersfees liggies, geskenke, Kersliedere en ornamente of volg ons Christus na en vier ons met blydskap die geboorte van ons Verlosser? Ons tradisies moet alle eer aan God bring soos wat ons geleer word in 1 Korinthiërs 10 : 31 dat alles wat ons doen, tot verheerliking van God moet wees. In ander woorde moet dit wees uit dankbaarheid en om Hom alleen daardeur te dien. Ons moet Kersfees vier met die besef dat die ware Geskenk van Kersfees is dat God sy Seun gestuur het na die aarde. Ons mag by die huis ons kinders oplei in die besef van die ware Geskenk van Kersfees, ons mag by die kerk dit ook saam met ander gelowiges vier in ‘n erediens en ons mag ook uitreik na die wat minder geseënd is om almal saam fees te vier met die fokus op ons Verlosser.
Ons vier weer binnekort Kersfees, maar kom ons vra onsself weer hierdie Kersfees af of Christus sentraal staan in ons feesviering en feestelikheid. Of verlei ons tradisies ons van die ware waarde van Kersfees? Dalk is dit dan tyd om te herevalueer en te bekeer? Maak ons die ware geskenk van Kersfees oop?
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Vryspraak deur Sy bloed
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vryspraak-deur-sy-bloed/
Last updated: 2024-12-14T07:00:51.000Z
*Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria*
Ons skuld is nie weggeneem nie. Dis afbetaal. Toe Jesus op die kruis gehang het, het Hy gesê: “Dit is voltooi.” Dit is een woord in Grieks: *"Tetelestai"*. In 'n besigheidskonteks word dit gebruik om aan te dui dat skuld volledig afbetaal is. In 'n regterlike hof is dit gebruik om aan te dui dat 'n bepaalde vonnis volledig uitgedien is. In 'n militêre konteks het dit beteken dat 'n oorlog gewen is. Toe Jesus gesê het: “Tetelestai”, het Hy eintlik gesê: :Die sondeskuld is ten volle afbetaal, die vonnis is ten volle uitgedien en die stryd teen die sonde en die dood is heeltemal oorwin."
Dit is nie altyd maklik om te vergewe nie. Daarom het God Jesus Christus gegee as voorbeeld en as krag waarmee ons dit kan doen. Dit is dieselfde krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het wat ons daagliks uit God se hand ontvang.
As ambassadeurs van God in hierdie wêreld vra Hy ons om ons naaste te vergewe, soos Hy ons vergewe het (Mattheus 6:12 en Kolossense 3:13). Hoe vergewe ons? Vir vergewe is daar twee Griekse woorde wat ons moet verstaan. Die eerste is “aphiemi” (word gebruik in Mattheus 6:12 en 18:21), wat beteken om te laat gaan of te los. Die tweede is “charizomai” (dit word gebruik in Kolossense 3:13), waarvan die wortel “charis” is, wat "genade" beteken. As ons dus vergewe, laat ons eerstens die sonde wat teen ons gedoen is, gaan en tweedens bly ons steeds vol genade teenoor die persoon.
Ons kan seker sê: "Vergewe en vergeet", alhoewel dit nie die kern daarvan saamvat nie. Dit sou beter wees om te sê: "Ek hou geen aanstoot teen jou en ek bring dit nie meer op nie. Ek maak doelbewus 'n punt daarvan om nie meer hierdie wat jy teen my gedoen het, op te bring teen jou of ander nie. Ek dink ook nie meer in bitterheid daaraan nie. Ek laat nie toe dat dit tussen ons gaan staan nie.
Dit klink reg om te sê: "As iemand opreg berou het, sal 'n mens hom opreg kan vergewe." As jou broeder vir die soveelste keer teen jou gesondig het en duidelik nog steeds nie ware bekering toon nie, kan jy hom steeds vergewe?
In Mattheus 18:21-22 staan daar: “Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar sewentig maal sewe toe.” (AFR53)
Ja, ons kan. Ons kan en ons moet. Jesus verwys hier nie net na die hoeveelheid kere wat ons moet vergewe nie, maar Hy verwys ook na opregte vergewing, al toon ons broeder nie ware berou of bekering nie. Daarom kan ons nie net vergewe as iemand opreg berou het nie. Ons moet altyd vergewe, selfs al verander die persoon nie sy gedrag nie.
Dis die mooi van vergifnis in Jesus Christus. Ons kan niks aan Jesus bied nie, maar tog vergewe Hy ons. Daarom moet ons ook ons naaste vergewe, al word daar nie ware berou getoon nie.
Vergewing kan 'n lang proses wees. Vergewing is 'n keuse wat jy moet maak. Ek gaan kies om nie weer te dink oor hierdie onreg wat teenoor my gepleeg is nie. Ek kies om nie bitter teenoor die betrokke persoon te wees nie. Tydens vergewing kan daar ook 'n verlies gely word. As ek waarlik die betrokke persoon gaan vergewe, gaan ek ook kies om die verlies te ly.
'n Ander deel van vergewing is selfvergewing. Is dit Bybels? Wel, nee, nêrens in die Bybel staan dat byvoorbeeld Paulus homself vergewe het vir die sondes wat hy gedoen het nie. Ons dink dit is nodig om onsself te vergewe vir sondes wat ons gedoen het, maar wie is ons om onsself te vergewe? Is ons God, dat ons ons eie sondes moet vergewe? As jy in ware geloof vashou aan die vergewing van sondes wat ons in Jesus Christus het, sal jy ook nie sogenaamde selfvergewing nodig hê nie. Die verlossing in Jesus Christus is al vergewing wat ons nodig het. So vind ons rus in Christus met sy tweede laaste kruiswoord: *"Tetelestai."*
### Bronne
- Gale, S. D. (2016). *Finding Forgiveness: Discovering the Healing Power of the Gospel.* RHB.
- Nederveen, I. (2024). Christenlike Konflikhantering: Salig is die vredemakers. *Vrouesaamtrekdag.*
- *TETELESTAI-Paid in Full*. (s.j.). Herwin van Precept Austin: https://www.preceptaustin.org/tetelestai-paid\_in\_full
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP05: Die man se taak in die huwelik
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep05-die-man-se-taak-in-die-huwelik/
Last updated: 2025-09-08T19:07:59.000Z
In hierdie episode van Die Olielamp ondersoek ons die Bybelse riglyne vir die rol van die man in die huwelik. Ons bespreek hoe die Skrif ons leer om as man ’n leiersposisie in te neem wat nie oorheers nie, maar gekenmerk word deur diensbaarheid en liefde.
Ons praat met Coen Fourie oor hierdie belangrike onderwerp en vra hoe mans prakties hul Godgegewe rol kan uitleef.
Ons sluit af met ’n kykie na die volgende episode se tema, waar ons die uitdaging bespreek om ’n man se huwelikspligte met sy verantwoordelikhede in die kerk te versoen.
[](https://podcasts.apple.com/za/podcast/ep05-die-man-se-taak-in-die-huwelik/id1760225976?i=1000679555011&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### As God drie-enig is en nie geskei kan word nie, hoe is Christus op die kruis deur God verlaat?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/as-god-drie-enig-is-en-nie-geskei-kan-word-nie-hoe-is-christus-op-die-kruis-deur-god-verlaat/
Last updated: 2024-12-02T14:00:43.000Z
*Geskryf deur Mathys de Wit, VGK Pretoria*
Jesus Christus en sy lyde en sterwe aan die kruis staan sentraal in ons geloof. Sonder dit sou ons nie toegang tot die ewige lewe saam met God kon verkry nie. Een van die laaste woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het was: “Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” ([Markus 15:34, AFR53](https://www.bible.com/af/bible/5/Mrk.15.34.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit beklemtoon die ontsaglike lyding en angs wat ons Verlosser deurstaan het aan die kruishout, terwyl Hy die straf van ons sondes betaal het.
Die Here openbaar aan ons deur sy Heilige Woord dat Hy Drie-enig is. God is een wese wat Hom onderskei in drie Persone. God die Vader, Sy enige gebore seun, Jesus, en die Heilige Gees wat aan ons geopenbaar is en waarvan Jesus verkondig het net voor sy Hemelvaart in Handelinge 1\. Ons lees in Johannes 5:19 dat Jesus een in Wese is met sy Vader. Daar staan naamlik: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook netso.’’ (AFR53) Net so kan ons aflei dat die Heilige Gees van die Vader uitgaan om van Hom te getuig ([Johannes 15:26](https://www.bible.com/af/bible/5/Jhn.15.26.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
As ons dit in gedagte hou en dink aan Jesus se woorde aan die kruis, kan verskillende vrae in ons opduik. Wat beteken Jesus se woorde aan die kruis? Hoe moet ons dit verstaan met die gedagte van die Drie-eenheid? Het God hom regtig afgeskei van sy Seun toe Hy neergedaal het na die hel? Of moet ons dit uit ‘n ander perspektief lees?
### Die Drie-eenheid
Om die woorde van Jesus aan die kruis te verstaan moet ons eers tot ‘n mate verstaan hoe die Here Hom as Drie-enig openbaar. Die Heilige Skrif leer ons op verskeie plekke in die Ou en Nuwe Testament van die Drie-eenheid (NGB Artl 9). God sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” ([Genesis 1, AFR53](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.1.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) Die ‘Ons’ dui op meerdere Persone.
Ons word geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike wese is: Vader, Seun en Heilige Gees. Al drie Persone staan gelyk tot mekaar en is tot in ewigheid saam verenig in een Wese. Elke Persoon van die Drie-eenheid het wel verskillende rolle en ampte in die Goddelikheid:
- Die Vader is die oorsaak, begin en skepper van alle sigbare en onsigbare dinge. ([Genesis 1](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.1.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
- Die Seun is die woord, die wysheid, die beeld van die Vader en ons
saligmaker en verlosser deur sy bloed. ([Johannes 1:1-3, Kolossense 1:15](https://www.bible.com/af/bible/5/Joh.1.1-3,Kolossense1.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
- Die Heilige Gees is God se gees wat ewig krag en mag het tot in ewigheid. Hy gaan vanuit die Vader en die Seun en is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons harte. ([Johannes 14:26](https://www.bible.com/af/bible/5/JHN.14.26.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), [15:26-27](https://www.bible.com/af/bible/5/JHN.15.26-27.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
In die Drie-eenheid sien ons ‘n volmaakte eenheid van liefde tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees ([2 Korinthiërs 13:13](https://www.bible.com/af/bible/5/2CO.13.13.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit is noodsaaklik om hierdie liefdevolle verhouding te verstaan as jy die diepte van Jesus se woorde geestelik en emotioneel wil verstaan. Om Jesus se woorde te verstaan kyk ons eers na die konteks daarvan.
### Die konteks van Jesus se woorde aan die kruis
Jesus hang aan die kruis. Hy is deur die volk gekruisig as deel van God se raadsplan, om vir ons sondes te sterwe. Ons sien in Markus 15:33 dat daar staan: “En toe dit die sesde uur was, kom daar ‘n duisternis oor die hele aarde tot aan die negende uur toe.” (AFR53)
Die sesde tot die negende uur verwys na twaalfuur tot drieuur in die middag. In hierdie tyd is die son op sy hoogste en helderste in die hemel. Deur hierdie gebeurtenis, die duisternis oor die hele aarde, beklemtoon die Here iets. As ons na die Ou Testament kyk, sien ons in verskillende gedeeltes dat die Here totale duisternis met sy oordeel gepaard laat gaan. Neem as voorbeeld die woorde van oordeel wat God gespreek het deur Amos in Amos 8:9\. Hier sê Amos vir die volk dat die Here die son sal laat ondergaan in die middel van die dag. Dit sal duister word terwyl dit nog dag is. Terwyl dit gebeur sal die Here feeste verander na klaagsang en die oordeel sal ervaar word deur die volk. Hier word verwys na die oordeel op die dag van die Here.
In Eksodus lees ons van die negende plaag wat oor Egipte gekom het toe Farao nie die Israeliete wou laat gaan nie. Dit het gebeur net voor die tiende plaag en die instelling van die pasga. Die Here het die pasga ingestel om sy volk te beskerm, vir die wat op Hom vertrou het vir hul redding.
Dieselfde het gebeur toe ons Paaslam ([1 Korinthiërs 5:7](https://www.bible.com/af/bible/5/1CO.5.7.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) gedood is tydens die pasgaviering in Jerusalem. Op die helderste van die dag het dit donker geword. Die Here het sy toorn oor sy enige gebore seun laat kom en Jesus het die toorn van God vir sy volk gedra.
Ons sien dus dat duisternis oor die aarde ‘n teken van God se oordeel is. Maar in plaas daarvan dat ons die toorn van God ontvang en die straf moet dra vir wat ons verkeerd gedoen het, is die beker van God se toorn uitgegiet op ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Dit lei ons na die volgende punt.
### Die betekenis van Jesus se woorde aan die kruis: angs
Daar is ‘n paar dinge wat ons kan sê oor die uitroep van Jesus aan die kruis. Eerstens moet ons onthou in watter angs die Here Jesus verkeer het voor en tydens sy kruisiging. Hy het geweet wat voorlê. Hy het meerdere kere gepreek oor sy lyding, vir sy dissipels, maar ook vir die volk. In die tuin van Getsemane het Jesus die vorige aand angstig gebid, want Hy was bevrees oor die dinge wat voorgelê het ([Mark 14:32-36](https://www.bible.com/af/bible/5/Mrk.14.32-36.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Jesus het gevra of die beker van Hom af weggeneem mag word, die beker wat Hom uitermate bedroef gemaak het tot die dood toe. Jesus verwys hier na die beker van die toorn van God wat ook so genoem word in Jesaja 51:17: ‘Ontwaak, ontwaak, staan op Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid gedrink het.’ (AFR53)
Jesus het gepraat oor die toorn van God wat op Hom uitgegiet sou word. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het: ‘My God, my God waarom het U My Verlaat?’ het hy die ervaring beskryf van die toorn van God. Op hierdie oomblik het die Here sy Seun die straf laat dra. Oor sy Seun het Hy by sy doop gese: ‘Dit is my geliefde Seun in wie ek ‘n welbehae het.’ ([Mark 1:11, AFR53](https://www.bible.com/af/bible/5/Mrk.1.11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) Ons moet onthou dat die Here nog steeds lief is vir sy Seun oor wie hy die beker van toorn uitgegiet het. Jesus self was nog steeds lief vir sy Vader, want Hy was bereid om sy Vader se plan uit te voer.
Daardeur kan ons sekerlik sê dat Jesus angs ervaar het aan die kruis toe Hy die toorn van God ervaar het. Die Drie-eenheid is nie verbreek aan die kruis nie. Hy was selfs in wil nie geskei van die Vader nie, Hy het die Here bly dien deur na sy wil te luister. Die Vader was tevrede met sy Seun. Jesus was bereid om dit te doen deur God sy verlossingsplan te gehoorsaam. Dit neem ons na die volgende punt.
Die betekenis van Jesus Sy woorde aan die kruis: geloof
Ook al roep Jesus uit: ’Hoekom het u my verlaat?’, noem Hy God die Vader nog steeds ‘My God, my God’. Hy is nie geskei van Hom nie, maar bid tot Hom deur Hom as sy God aan te roep. Dit beklemtoon die geloof wat Jesus gehad het. Ja, selfs aan die kruis terwyl Hy die beker van God se toorn ervaar het. Hy het nog steeds ‘n liefdevolle verhouding met sy Vader gehad en Hy het nog steeds vertrou dat sy Vader besig was om sy plan te vervul. Deur dit te sê haal Jesus hier Psalm 22 aan, wat met presies dieselfde woorde begin.
Jesus het geroep uit angs aan die kruis, want sy Vader was nie daar om Hom te help nie. Hy moes die volle las alleen dra. As ons die res van Psalm 22 lees sien ons dat die Here homself nie verwyder het nie. God is nog steeds daar en dit is hoekom Jesus na hom roep. Die manier wat Jesus tot die Vader roep, bevestig dat Hy weet Hy is besig om sy plan te vervul. Hy het vertrou dat God die Vader hom gehoor het toe Hy aan die kruis gehang het. Dit word bevestig deur die laaste woorde wat Hy aan die kruis gesê het en wat opgeskryf is deur Lukas: ‘En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gese: Vader, in u hande gee ek my gees oor!’ Toe Jesus dit gesê het, het Hy sy laaste asem uitgeblaas. ([Lukas 23:46, AFR53](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.23.46,AFR53.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Dit verseker die vertroue en geloof wat Hy in sy Vader het. Om weer terug te val op Psalm 22, staan daar in vers 25: ‘Want hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe die Hom aangeroep het om hulp.’ (AFR53) Dit is uit dieselfde psalm as wat die Here Jesus die Vader aanroep. Al het Jesus doodsangste aan die kruis ervaar, het Hy nog steeds sy Vader verheerlik daardeur, want Hy het sy aangesig nie verberg vir Hom nie. Hy was tevrede met Hom soos Hy dit gedoen het. Net soos Jesaja dit geprofeteer het. ([Jes 53:10-12](https://www.bible.com/af/bible/5/ISA.53.10-12.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
### Konklusie
Ons kan die gevolgtrekking maak dat die Drie-eenheid nie aan die kruis verbreek is nie. Jesus het aan die kruis in sy menslike natuur die toorn van God alleen gedra, maar net deur sy Goddelike natuur kon hy dit dra (HK Sondag 6). Hy het God se plan ten volle vervul om ons straf vir die sondes te dra en verlossing te voorsien vir wie Hom liefhet. Dit is hoekom die wat waarlik in Hom glo nie hoef te vrees vir God se toorn nie, want die toorn is alreeds uitgegiet oor sy Seun. Ons kan ons troos met die woorde van 1 Petrus 2:24-25: ‘Hy het self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie julle wonde genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou is julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.’ (AFR53)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Christen en Hollywood
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-christen-en-hollywood/
Last updated: 2024-11-23T07:00:56.000Z
*Geskryf deur Junelle Miske, VGK Maranata*
Jou werk vir die dag is klaar. Jy kan uiteindelik net in die bed gaan lê en die nuwe seisoen van die Netflix-reeks waarvan almal deesdae so baie praat, begin kyk. Nou sal jy sien en verstaan waarvan almal die hele tyd praat en jouself ook daarmee kan vereenselwig. Hierdie is mos 'n ‘*must watch*’ reeks.
Dan oorreed jy jouself natuurlik dat dit nie die naam van die Here is wat hulle nounet onnadenkend gebruik het nie. Dalk is jy al so gewoond daaraan dat jy dit nie eers meer hoor nie. As daar ‘n gedeelte kom wat ‘n bietjie te erg is, beweeg jy net na 'n volgende gedeelte in die episode of na 'n nuwe episode. Kom ons wees eerlik: ons almal is hieraan skuldig.
Is dit hoe God vra dat ons as Christene moet omgaan met vandag se wêreldse Hollywoodfilms en -reekse? Dit is tog nie asof jy nou skielik saamstem met die feit dat hulle laster in die fliek as jy dit kyk nie? Jy weet mos wat reg en verkeerd is, solank as wat jy dit net nie self doen nie?
Ek is seker ons almal weet dat hoe meer jy met iets te doen kry, hoe meer gewoond raak jy daaraan en hoe minder pla dit jou. Die wêreld kry dit reg om, sonder dat ons dit besef of agterkom, ons tog te beïnvloed, of ons nou daarmee saamstem of nie. Dit is snaaks hoe ‘n mens maklik 'n sekstoneel sal oorslaan, maar as dit kom by ‘n gedeelte waar iemand die naam van die Here misbruik, maak ons maar net asof ons dit nie gehoor het nie en kyk verder. Dis nie wat God van ons vra en aan ons openbaar nie. Hy leer ons dat alle sonde ewe erg is en dat alle verkeerde gedrag of gedagtes gestraf moet word, al doen, sê of dink ons dit nie self nie. Lees maar 2 Johannes 1:10-11:
> *“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”* (AFR53)
God waarsku ons egter ook dat ons nie moet dink dat ons sterk genoeg is om weerstand te bied teen versoekings wat ons sien of hoor nie. Die bekende verse van Mattheus 18:7-9 leer ons dat ons weens ons sondige menslike natuur nie sterk genoeg is om versoekings te weerstaan nie en dus enige iets wat ons daartoe kan lei, moet vermy. *“Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.”* (AFR53)
Hoe kan ons steeds films geniet? God sê tog dat alles wat geskape is, goed is. Hoe ons daarmee omgaan, bepaal of dit sonde is, soos 1 Timotheus 4:4-5 leer: *“Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks daarvan is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die Woord van God en die gebed.” (AFR53)*
Hier is ‘n paar riglyne in lyn met ons roeping as Christene in verband met films en selfs boeke, musiek en sosiale media:
- Moenie iets begin kyk, lees of luister sonder dat jy eers behoorlike navraag gedoen het nie. Stel eers vas of daar nie iets in voorkom wat godsdienstig of sedelik aanstootlik is nie.
- 'n Basiese aanduiding of iets ongewenste en aanstootlike elemente bevat, is om na die ouderdomsbeperking te kyk.
- Indien daar wel aanstootlike of ongewenste elemente is, bly weg daarvan. Moenie jouself blootstel aan die versoeking en invloed nie. Dit is beter om dit glad nie te kyk nie as om halfpad met ‘n skuldgevoel te sit en net in elk geval aan te hou kyk, omdat jy so graag wil sien wat gaan gebeur.
Laat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie. Laat ek en jy in hierdie wêreld leef, maar nie van die wêreld wees nie. Ons almal weet tog van die beter wêreld waarna ons kan uitsien.
> *“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. \[16\] Want alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”*
> 1 Johannes 2:15-17 (AFR53)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Moderne wolwe in skaapskleding
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moderne-wolwe-in-skaapskleding/
Last updated: 2024-11-16T08:59:59.000Z
*Geskryf deur Phillizè de Jong, VGK Bellville*
Die skrifgedeelte 2 Petrus 2:1-3 waarsku ons teen die aanhoudende dreiging van valse leraars binne die Christelike gemeenskap. Hierdie leraars is bedrieglik en versprei leerstellings wat nie gegrond is op die waarheid van die Bybel nie, maar eerder op selfgemaakte idees en wêreldse denke. Hulle vermom hulself as herders, maar in werklikheid is hulle wolwe wat die kudde van God aanval met valse leringe. (Handelinge 20:29-30)
Petrus gee duidelike redes waarom ons moet waak teen hierdie valse leraars. Eerstens, hulle is ‘n direkte bedreiging vir die kinders van God. Hulle kom met versinde argumente en probeer wêreldse idees in die Bybel insmokkel, deur die ware betekenis van die Skrif te verdraai. Hulle verander die boodskap van liefde na ‘n boodskap van selfliefde en egoïsme, wat teenstrydig is met die ware leer van Christus.
Daarom is dit van kritieke belang dat elke gelowige die Bybel ken, verstaan, en dit in hulle lewens toepas. Dit is ons riglyn en beskerming teen dwaling. Deur vas te hou aan die onveranderlike waarheid van God se Woord, kan ons valse leer herken en weerstaan en sodoende, deur die werking van die Heilige Gees, onsself en ander beskerm teen die vernietigende invloed daarvan.
Die skrifgedeelte 2 Petrus 2:10-22 bied 'n indringende blik op die aard van valse leraars en ‘n waarskuwing om hulle te herken en te vermy. Hierdie individue is arrogant, wellustig en gierig. Hulle gebruik hul welsprekendheid en menslike begeertes om mense te mislei en hul dwaalweë te regverdig. Hulle minag God se gesag en huiwer selfs nie om teen geestelike wesens, soos engele, opstandig op te tree nie. Petrus beklemtoon dat selfs die sterkste engele nie lasterlike oordeel teen die duiwels voor God bring nie, terwyl valse leraars dit sonder skaamte doen. Net God kan oordeel.
Hierdie gedrag moet ernstig opgeneem word, want dit wys op ‘n hart wat God se gesag verag en sy heilige dinge misbruik. Gelowiges moet waaksaam wees teen hierdie innerlike verderf van ander, maar ook binne onsself, sodat ons nie ons dade probeer goedpraat nie. Ons moet vas staan in die waarheid van God se Woord. Ons moet nie toegee aan die verleiding van valse leraars nie, maar eerder volhard in gehoorsaamheid aan en vertroue op God.
God se Woord dien hier nie net as ‘n waarskuwing teen valse leraars nie, maar ook as ‘n herinnering aan sy regverdige oordeel oor hulle. In 2 Petrus 2:4-10 sien ons hoe God nie verdraaiing en rebellie teen sy gesag duld nie. Selfs die engele wat teen Hom in opstand gekom het, is veroordeel tot Tartarus (die hel vir engele wat teen God gedraai het). Hierdie voorvalle dien as herinnering dat God sy heiligheid handhaaf en geen sonde ongesien en ongestraf laat bly nie.
Tog, te midde van die oordeel, wys God ook sy genadevolle redding aan die regverdiges. Noag en sy gesin is bewaar deur die vloed deur gehoorsaamheid en vertroue op God. So ook is Lot gered, alhoewel hy in ‘n verdorwe stad gewoon het. Hierdie verhale getuig van God se vermoë om die regverdige te bewaar te midde van oordeel.
Vir gelowiges vandag is hierdie verhale ‘n herinnering aan God se karakter. Hy is regverdig in sy oordeel en genadig in sy redding. Ons word aangespoor om nie ligtelik oor sonde te dink nie, maar om eerder ernstig te wees oor die heiligheid van God. Ons kan met vertroue tot God nader, wetende dat Hy bereid is om ons te red en te bewaar, selfs in tye van beproewing en oordeel.
Mag hierdie jou aanmoedig om die heiligheid en genade van God diep te waardeer en ‘n lewe te lei wat sy liefde en regverdigheid weerspieël in 'n verdorwe wêreld. Mag ons almal deur die krag van die Heilige Gees standvastig bly en nie wankel in ons geloof nie, maar eerder vas staan in die waarheid van Christus.
*As bron gebruik: Ds. Vrey van die Gereformeerde Kerk Bellville se Whatsapp GBK Oordenkings groep.*
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Arend in die Bybel: 'n Simbool van Krag, Beskerming, Onsterflikheid en die Heilige Gees
URL: https://olielamp.vgk.org.za/arend/
Last updated: 2024-11-13T07:01:00.000Z
*Geskryf deur Jorienke van der Linden, VGK Bellville*
Die arend is een van die mees kragtige simbole in die Bybel. Hierdie majestueuse voël word gebruik om diep geestelike betekenis oor te dra, soos God se krag en beskerming, die ewige lewe, en selfs die werking van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges.
## **Krag en Oorwinning**
Een van die mees bekende beelde van die arend in die Bybel is dié van krag en volharding. In Jesaja 40 word die krag van God wat Hy aan hulle gee wat op Hom vertrou, uitgebeeld: *“Maar wie op die HERE wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”* Jesaja 40:31 (AFR20)
Gelowiges wat in hierdie wêreld leef het bonatuurlike krag nodig. Ons eie krag is nie genoeg om regop te bly staan in geloof terwyl daar allerlei aanvalle van buite (en soms ook van binne) is nie \[1\]. Ons het God se krag nodig om aan Hom gehoorsaam te bly en om ons oog op die eindstreep van die ewige lewe te hou. Ons kan dit slegs doen deur na sy stem te luister, deur sy Woord te lees. Eers wanneer ons verhouding met God so intiem is, word sy krag ons s’n.
Hierin sien ons die beeld van die arend op ‘n baie gepaste wyse: die arend gebruik nie sy eie krag en vlerke om ver bo die storms te vlieg nie, maar dit is die windstrome wat hom in die lug hou. Ons weet alreeds hoe die Bybel telkemale die Heilige Gees, God se krag, met die wind vergelyk.\[2\] Ons as gelowiges sweef soos ‘n arend op die krag van die Heilige Gees deur middel van Bybelstudie en gebed. Deur die Heilige Gees ontvang ons die krag om te volhard, om ons roeping as getuies van Christus te vervul en om te leef volgens God se wil.
## **Beskerming en Toevlug**
Nog ‘n belangrike simbool van die arend in die Bybel is een van beskerming. In Eksodus 19 word die beeld van ‘n arend gebruik om God se beskermende liefde vir Israel te beskryf. Soos ‘n arend haar kuikens dra en beskerm, só dra God ons deur moeilike tye. *“Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het.”* Eksodus 19:4 (AFR20).
Hierdie beeldspraak word op baie ander plekke in die Bybel ook gebruik, veral in die boek Psalms. In die skadu van sy vleuels bied Hy ‘n veilige skuilplek en beskerming vir sy volk.\[3\] Verder sien ons reeds in die Ou Testament hoe die Heilige Gees ‘n aktiewe rol in die lewens van gelowiges speel. *“Hy het sy volk in 'n woestynland gevind, in 'n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos 'n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra, het net die Here hom gelei; daar was geen vreemde god by hom nie.”* Deuteronomium 32:10-12 (AFR20).
Die Heilige Gees, die krag van God, lei ons deur die lewe. Hy moedig ons aan om te vlieg en om te groei in ons geloof, maar tog is Hy nooit te ver weg nie. Hy is altyd gereed om ons te vang wanneer ons in die moeilikheid kom of vir die versoeking van vleeslike begeertes val.
## **Onsterflikheid en Ewige Lewe**
Soos reeds genoem is die Psalms vol beeldspraak en metafore. Deur die invloed van oosterse volke het die arend ook die simbool van onsterflikheid en ewige jeug geword. Psalm 103 toon hierdie invloede deur te verwys na die oosterse spreekwoord waar die arend elke tien jaar in die see duik en al sy ou vere agterlaat, waarna hy jonk en met vernuwe kragte weer uitkom \[4\]\[5\].
> *“Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos 'n arend word jou jeug dan weer nuut.”*
> Psalms 103:3-5 (AFR20).
Die verlange na onsterflikheid is deel van die mens se natuur sedert die paradys. Die Bybel stel ons gerus dat daardie verlange na ewigheid nie verkeerd is nie, aangesien ons sterflik geword het na die sondeval. Maar, soos die arend nuut gemaak word, ontvang ons in Christus en deur die Heilige Gees die belofte van ewige lewe en vernuwing. Die arend as simbool van onsterflikheid herinner ons aan die opstanding en ewige lewe wat ons in Christus het. Hierdie belofte staan sentraal in ons geloof en word versterk deur die Heilige Gees.
## **Gevolgtrekking**
Die arend is ‘n diep simboliese beeld in die Bybel wat God se krag en beskerming, die ewige lewe en die werking van die Heilige Gees uitbeeld. Die arend se krag, beskermende natuur en beeld van vernuwing bied ‘n ryk prentjie van hoe God in ons lewens werk en hoe die Heilige Gees ons lei en versterk. Of dit nou gaan oor die oorwinnende krag van God, sy beskermende liefde, die vernuwing van ons jeug of die geestelike insig wat die Heilige Gees bring, die arend simboliseer die volheid van God se werk in ons lewens. Deur God se genade word ons verlos van die verderf en van die verdoemenis van die graf. Slegs deur volkome vertroue op Hom kan ons elke dag begin met ons oë gerig op die ewige lewe.
# Bronne:
1. Ds HH van Alten. 2012\. Die Skepper gee krag aan wie op Hom wag! *Jesaja 40:30-31*. VGKSA. [https://www.vgk.org.za/preke/24522](https://www.vgk.org.za/preke/24522?ref=olielamp.vgk.org.za)
2. Ds FJ Bijzet. 2000\. Die aanwesigheid van die Heilige Gees in ons lewe. *Heidelbergse Kategismus Sondag 20*. VGKSA. [https://www.frc.org.za/preke/23564](https://www.frc.org.za/preke/23564?ref=olielamp.vgk.org.za)
3. Ds PG Boon. 2021\. Hoog op die vaste rots van ons behoud. *Psalms 61*. VGKSA. [https://www.frc.org.za/node/25468](https://www.frc.org.za/node/25468?ref=olielamp.vgk.org.za)
4. FB Meyer. 1914\. Psalms 103:1-12 - The Lord’s abundant mercies. *Through the Bible Day by Day*. e-Sword® version 14.1.0\. [www.e-sword.net/support.html](https://www.e-sword.net/support.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
5. Ds PG Boon. 2013\. Om te lewe is om te loof. *Psalms 103*. VGKSA. [https://www.vgk.org.za/preke/24588](https://www.vgk.org.za/preke/24588?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP04: Straatevangelisasie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep04-straatevangelisasie/
Last updated: 2025-09-08T19:07:52.000Z
In vandag se episode gesels ons met Oom Jaco de Beer, ’n toegewyde straatevangelis wat sy passie vir die verspreiding van die evangelie met ons deel. Ons kyk na die belangrikheid van straatevangelisasie in vandag se tyd en hoe om dit met selfvertroue en deernis aan te pak. Ons kry ook waardevolle wenke van iemand wat eerstehandse ervaring het.
[](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?i=1000675424616&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die mooi van jou studentejare
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-mooi-van-jou-studentejare/
Last updated: 2024-11-02T07:00:15.000Z
*Geskryf deur Mariëtte de Jager, VGK Pretoria-Maranata*
Studentelewe word dikwels beskryf as een van die mees onvergeetlike en transformerende tydperke in 'n persoon se lewe. Dit is 'n tyd gevul met leer, groei en die smee van lewenslange vriendskappe. Die skoonheid van studentelewe lê in sy unieke mengsel van akademiese uitdagings, sosiale ervarings en persoonlike ontwikkeling.
### Akademiese groei
Een van die belangrikste aspekte van studentelewe is die geleentheid vir akademiese groei. Studente word blootgestel aan 'n magdom kennis oor verskeie vakke, wat hulle aanmoedig om krities te dink en hul intellektuele horisonne uit te brei. Die klaskameromgewing kweek nuuskierigheid en 'n liefde vir leer, wat passies kan aanblaas en toekomstige loopbane kan vorm.
### Sosiale verbindings
Die sosiale aspek van studentelewe is ewe belangrik. Universiteite en kolleges is smeltkroeë van uiteenlopende kulture en agtergronde, wat studente die kans bied om mense van alle vlakke van die lewe te ontmoet. Hierdie interaksies kan lei tot die vorming van diep en betekenisvolle vriendskappe. Deelname aan klubs, verenigings en buitemuurse aktiwiteite verryk die sosiale ervaring verder, wat studente in staat stel om nuwe belangstellings te verken en 'n gevoel van gemeenskap te ontwikkel.
### Persoonlike ontwikkeling
Die studentelewe is ook 'n tyd vir betekenisvolle persoonlike ontwikkeling. Om weg van die huis af te woon, finansies te bestuur en akademiese verantwoordelikhede met sosiale aktiwiteite te balanseer, leer studente waardevolle lewensvaardighede. Hierdie tydperk van onafhanklikheid help om veerkragtigheid, selfdissipline en 'n gevoel van verantwoordelikheid te bou. Boonop lei die uitdagings wat tydens studentelewe in die gesig gestaar word dikwels tot persoonlike groei en 'n beter begrip van jouself.
### Onvergeetlike ervarings
Die ervarings wat tydens die studentelewe opgedoen word, is dikwels onvergeetlik. Van laataand studiesessies en kampusgeleenthede tot spontane paduitstappies en kulturele feeste, hierdie oomblikke skep blywende herinneringe. Die gevoel van vryheid en avontuur wat gepaard gaan met studentwees is ongeëwenaard, wat hierdie lewensfase werklik spesiaal maak.
Kom ons kyk na 'n paar Bybelverse en ondersoek die betekenis daarvan:
- Spreuke 3:5-6 (AFR2020)
*“Vertrou op die Here met jou hele hart - op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.”*
Hierdie vers beklemtoon die belangrikheid daarvan om vertroue in God te plaas, eerder as om net op ons eie begrip staat te maak. Dit moedig gelowiges aan om God se leiding in alle aspekte van die lewe te soek, en belowe dat Hy hulle op die regte pad sal lei.
- Filippense 4:13 (AFR2020)
*“Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.”*
Hierdie vers beklemtoon die krag en bemagtiging wat uit geloof in Christus kom. Dit stel gelowiges gerus dat hulle met God se hulp enige uitdaging of struikelblok wat hulle in die gesig staar, kan oorkom.
- Jeremia 29:11 (AFR2020)
*“Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee.”*
Hierdie vers bied 'n boodskap van hoop en gerusstelling. Dit herinner gelowiges daaraan dat God 'n plan met hul lewens het, een wat gevul is met hoop en voorspoed. Dit moedig vertroue in God se welwillende bedoelings vir die toekoms aan.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Kan ek goed bid terwyl ek sleg lewe?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/kan-ek-goed-bid-terwyl-ek-sleg-lewe/
Last updated: 2024-10-26T07:00:12.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Het jy al ooit gevoel jy is te sleg om nou te bid, of dat die sonde waarin jy geval het jou heeltemal wegdryf van God? Of het jy dalk al gevoel jy worstel so met ‘n karaktersonde of verslawing en jy vra elke dag vir God in jou gebede om jou daarvan te verlos, maar jy kan net nie met die sonde breek nie?
In hierdie artikel wil ons kyk wat die Bybel oor die saak sê. Ek wil graag op drie aspekte fokus:
- Belemmerde gebede
- God beantwoord elke belydenis
- ‘n Gepaste gebed
Voor ons wegspring met hierdie drie punte is dit belangrik om dit van die begin af duidelik te stel dat God elke gebed hoor. God hoor ook valse gebede en gebede van ongelowiges. Daar is egter geen Bybelse grond om aan te neem dat Hy hierdie gebede sal verhoor nie. Dit kan dalk vreemd klink. Wat as ‘n ongelowige in die moeilikheid is en tot God bid, sonder om in Hom te glo, amper as ‘n noodoplossing? Miskien werk dit?
In die Bybel lees ons dat Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” ([Joh 14:6](https://www.bible.com/af/bible/5/Jhn.14.6.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Daar is geen manier hoe ons tot die Vader kan nader, behalwe deur Jesus Christus en sy offerbloed nie ([Heb 10:19-22](https://www.bible.com/af/bible/5/Heb.10.19-22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit geld definitief ook vir ons gebede. Dit is slegs Jesus se offer aan die kruis wat dit moontlik maak dat ons, sondige mense, in gesprek kan tree met die almagtige God. God het dus geen verpligting om na enige iemand te luister wat sy grootste daad van genade nie wil aanvaar nie.
### Belemmerde gebede
God hoor dus alle gebede, maar Hy hoor en sien baie meer. Ja, God hoor elke woord wat ons praat, sien alles wat ons doen en ken elke gedagte! Dit is waarskynlik juis die gedagte aan hierdie alwetendheid van God wat ons tot die vraag in die titel van hierdie artikel gebring het.
Sonde bring inderdaad skeiding tussen God en die mens. Die Bybel is duidelik daaroor: “maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” ([Jes 59:2](https://www.bible.com/af/bible/5/ISA.59.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). God sê selfs dat sy volk eerder heeltemal kan ophou met hulle godsdiens as wat hulle skynheilig offers bring, maar Hom nie gehoorsaam of die dank bring wat hulle verskuldig is nie ([Spr 15:8](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.15.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), [Psalm 50](https://www.bible.com/af/bible/5/psa.50.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
As ons besef hoe sondig ons is en hoe almagtig God is, word ons met dieselfde ontsag gevul wat Petrus sover gebring het om uit te roep: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!” ([Luk 5:8](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.5.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Hoe sal ons as sondige mense ooit met God ‘n verhouding kan hê? Wie van ons is dan rein genoeg om met God in gesprek te kan tree in gebed?
### God beantwoord elke belydenis
Ja inderdaad, as ons ons toestand besef, bely ons saam met Psalm 130:3: “As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Dit kan ons baie magteloos laat voel, want gelukkig het God gesorg dat ons ook ‘n gewete het. Ons gewete kla ons aan, selfs as ons van God af wegvlug sal ons altyd besef dat daar iets fout is. Dawid erken: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” ([Psalm 32:3-4](https://www.bible.com/af/bible/5/Psa.32.3-4.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
God laat ons nie alleen nie. God het nie ‘n behae daarin dat sondaars verlore gaan nie, maar eerder dat hulle hul bekeer ([Eseg 18:23](https://www.bible.com/af/bible/5/Ese.18.23.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Daarom belowe Hy om altyd na ‘n gebed van bekering en skuldbelydenis te luister. Soos die vader in die gelykenis van die verlore seun, staan Hy elke dag en wag dat sy verlore seun moet terug kom ([Luk 15:20](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.15.20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Wanneer ons terug kom, ontvang Hy ons met ope arms.
Eerder as om weg te vlug en op te hou bid wanneer ons vasgevang raak in sonde, moet ons juis na God toe vlug. Om een of ander rede is die mens se natuurlike reaksie na die sondeval om weg te kruip ([Gen 3:8](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.3.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), terwyl ons juis die teenoorgestelde nodig het. In Psalm 32:3-4 sien ons hoe die onbelyde sonde en skuldgevoel Dawid verteer het, maar hy gaan aan om in vers 5 te sing hoe God hom genadiglik vergewe het toe hy sy sondes bely het. Dit is wanneer die psalm verander in ‘n uitbundige loflied.
### 'n Gepaste Gebed
Dit is dus duidelik dat om te bid die belangrikste ding is om te doen wanneer ons in sonde geval het of vasgevang is in ‘n patroon van sonde. Tog is daar ’n regte en ’n verkeerde manier van bid. Ek wil graag die volgende punte uitlig:
In Mattheüs 5:23-24 lees ons: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” As jy jou godsdiens nie kan beoefen voordat jy nie vrede met jou naaste gemaak het nie, hoeveel te meer geld dit nie vir God nie. Vra God om jou te vergewe ter wille van die bloed van Jesus. Vra Hom ook vir ’n nuwe hart.
Hierdie gebed om vergewing en vernuwing moet eerlik en opreg wees. C.S. Lewis skryf dat ‘n Christen eenmaal vir hom vertel het dat hy sy hele jonkheidslewe met sy lippe gebid het: “Here maak my rein”, terwyl hy in sy hart heimlik bygevoeg het: “maar asseblief nog nie nou nie”. Dit is ‘n goeie illustrasie van wat so dikwels in ons hart gebeur. Ons weet wat reg is en vra dit van God, maar in ons hart is daar geen intensie om ons oor te gee aan die Heilige Gees se vernuwende werk nie.
Jesus gee ons in Lukas 18:9-14 ‘n goeie voorbeeld van hoe om wel en hoe om nie te bid nie. Die gepaste houding is om soos die tollenaar op die bors te slaan en uit te roep: “o God, wees my, sondaar, genadig!”
Ons hoef nie terneergedruk te bly oor ons sonde nie. Deur die bloed van Christus is daar nou al vergifnis. Die voorhangsel het geskeur en ons mag vrymoedig tot God nader. “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons 'n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met 'n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van 'n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” ([Heb 10:19-22](https://www.bible.com/af/bible/5/Heb.10.19-22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Daar kan sekerlik nog baie oor gebed, sondebelydenis en vergifnis gesê word, maar ons mag vir seker weet dat die Here elke eerlike gebed tot Hom nie onbeantwoord sal laat nie. Daar is vergifnis deur die bloed van Jesus. En ja, in hierdie lewe is ons nog sondig en val ons nog elke dag, maar dit is des te meer rede om tot God te vlug in gebed. Slegs in sy beskerming en deur die krag van die Heilige Gees is daar vir ons moontlikheid op lewe.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die waan van selfliefde
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-waan-van-selfliefde/
Last updated: 2024-10-19T07:00:33.000Z
*Geskryf deur Lonette de Vries, VGK Robertson*
Is dit nie skokkend om te lees en te beleef hoe die vlakke van angs, depressie, selfskending en selfdood besig is om toe te neem nie? Dit is net so skokkend om te sien hoe die wêreld hierdie probleme probeer beantwoord.
Dit word gewoonlik geblameer op swak selfbeelde, lae selfwaarde, geen liefde tot die self en selfverwerping. Die antwoord word dan ook verkoop dat die ‘self’ die probleem kan oplos: deur jouself meer lief te hê, deur die antwoord binne jouself te soek, deur jouself hoër te ag, en deur jou drome te volg - maak nie saak wat dit kos nie. Die idee word verkoop dat ons ons harte moet volg, in onsself moet glo en ons eie waarheid uitleef. Ons moet blykbaar ook net doen wat ons gelukkig maak, en om enigiets te *‘cancel’* wat ons vreugde en vrede steel.
Hierdie idee van ‘selfliefde’ word verkoop met die belofte dat jy uiteindelik innerlike vrede gaan hê, dat jy tevrede met jouself gaan wees en dat jy vry gaan wees van alles wat jou weerhou van jou ‘ideale self’.
Hierdie oplossing van selfliefde klink so aanloklik. Dit streel ons ore en dit sus ons harte… vas aan die slaap!
Is hierdie oplossing Bybels? Is dit die oplosssing wat Jesus aan ons gee in sy Woord? Of is hierdie selfliefde ‘n verskuilde verkoopsfoefie van Satan? Is dit dalk die wêreld se goeie nuus? Die wêreld se evangelie?
Wat is die werklike goeie nuus? Die werklike evangelie van ons Here Jesus Christus? Hoe vergelyk die twee uitkyke op die mens se hart met mekaar?
Volgens die oplossing wat selfliefde ons bied, is ons hart die antwoord tot ons probleme. Ons moet net dieper in ons eie hart delf om ons diepste behoeftes, begeertes en liefdes te ontdek. Ons moet na ons hart se begeertes luister en ons moet die krete vanuit ons hart volg. Volgens selfliefde het ons onsself nie genoeg lief nie. Selfliefde moedig ons aan om onsself meer lief te hê.
### Wat sê die Bybel?
Volgens die profeet Jeremia is ons harte egter bedriegliker as alles anders. Dit is ongeneeslik. Wie kan die hart ooit verstaan? (Jeremia 17:9)
Paulus skryf ook aan die jong Timotheüs dat daar in die laaste dae moeilike tye gaan kom, waar die mense liefhebbers van hulself sal wees, geldgierig, grootpraters, trotsaards … verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God. (2 Tim 3:1-5).
Dit is dus duidelik vanuit die Skrif dat ons in werklikheid baie lief vir onsself is. Ons beskerm onsself. Ons ag onsself hoër as ander. Ons is van nature geneig om ons eie behoeftes bo die van ander te stel en om God en ons naaste te haat. Ons natuurlike geneigdheid is tot onsself en weg van God en ons naaste. Dit is eintlik onnatuurlik om God en ons naaste lief te hê.
Ons natuurlike self is gebore in sonde en ons harte is dood in ons sonde en oortredinge (Ef 4:1). Die antwoord kan nie uit ‘n dooie hart kom nie. ‘n Dooie hart kan vanuit homself niks goeds vermag nie. Ons harte is ‘n fabriek van sonde en bedrieglikhede. Die oplossing moet dus van buite onsself kom. Die werklike goeie nuus is dat daar ‘n antwoord tot ons probleem is. Hierdie antwoord is nie in onsself te vinde nie. Dit is buite onsself. Dit kom vanaf Ons Vader.
> *“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit jul vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” (Esegiel 36:26)*
Jesus sê ook aan Nikodemus: *“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie *weer gebore* word nie, kan hy nie die koninkryk van God sien nie.’ (Joh 3:5)*
Ons lees ook in 2 Kor 5:17: *“Daarom, as iemand *in Christus is*, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”*
God gee aan ons nuwe harte. Hy verander ons harte van klip na harte van vlees. Hy maak ons nuwe skepsels. Die antwoord lê buite onsself. Dit lê by Jesus! As die antwoord dan vir ons so duidelik is, waarom word hierdie agenda so hard verkondig deur die wêreld en Satan? Belangriker as dit, waarom word dit so aangehang?
Paulus gee vir ons ‘n blik op die agenda van die wêreld en van Satan. Hy skryf die volgende aan die gemeente in Rome: *“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die *waarheid onderdruk…* omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hulle oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister... Hulle wat die *waarheid verruil het vir die leuen en die skepsel vereer* en gedien het bo die Skepper.’* (Romeine 1 :18-25)
Die wêreld onderdruk die waarheid. Hulle wil nie aan God die eer en dank gee nie. Hulle wil nie voor Hom buig nie. Hulle wil Hom nie erken as God en Heer nie. Dus onderdruk hul die waarheid en eer, en aanbid hulle eerder hulself as vir God. Hulle verafgod hulself.
Dit alles wys terug na wat in Genesis 3 gebeur het, waar Satan die vrou mislei het deur aan haar die idee te verkoop het dat sy soos God kan wees. Ja, ons almal wil god speel oor ons eie lewe. Satan verkoop daardie selfde leuen aan ons vandag. Ons val steeds daarvoor.
Die selfliefde oplossing lei tot ‘n mensdom wat homself dien. Dit veroorsaak mense vol selfsug, maar tog eensaam en leeg. Selfliefde verkoop die idee van vryheid, maar ons word slawe van onsself. Vasgevang in ons bedrieglike harte. Besig om ‘n belofte na te jaag wat nie bestaan nie.
Maar wat is die enigste Weg, Waarheid en Lewe? Dit is die verlossing en lewe van Jesus Christus, onse Heer.
Ons weet ons is skuldig en dood in ons sondes en oortredinge. Ons weet dat ons uit onsself tot niks goeds in staat is nie. Ons weet dat ons nie onsself kan red nie. Ons weet ons kort ‘n Redder en ons weet dat God vir ons die voldoende Redder gegee het. ‘n Redder wat vir ons geleef en gesterf het. ‘n Redder wat vir ons ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. ‘n Redder wat ons in staat stel om volgens sy wil te leef. ‘n Redder wat die onmoontlike moontlik maak. ‘n Redder wat ons in staat stel om God lief te kan hê bo alles en ons naaste soos onsself.
Paulus som dit vir ons op in sy brief aan die gemeente in Efese: *“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,*
*onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,*
*ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade is julle gered - en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;*
*nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”*(Ef 4:1-10)
Mag ons vanuit hierdie waarheid leef! Mag ons die antwoord buite onsself gaan soek.
Ons hoef nie te werk aan ons selfbeeld nie. Jesus is ons beeld.
Ons hoef nie te werk aan ons selfwaarde nie. Jesus is ons waarde.
Ons hoef nie te werk aan ons selfvertroue nie. Jesus is ons vertroue.
Ons moet nie selfliefde na jaag nie, maar ons moet God lief hê met alles, en ons naaste lief hê soos onsself.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe om ons christelike waardes uit te leef in ons daaglikse lewe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-om-ons-christelike-waardes-uit-te-leef-in-ons-daaglikse-lewe/
Last updated: 2024-10-12T20:30:19.000Z
*Geskryf deur Ronél Wibbelink, GK Die Kandelaar*
‘n Goeie boom dra goeie vrugte. Hoe is dit vir ons as Christene van toepassing in ons daaglikse doen en late? Doen ons dit elke dag? Jesus Christus sê in Mattheus 7:16-17: *“Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie. So dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.”* Hoe is dit van toepassing op ons?
Jesus het vrugte as ‘n eienskap van ons Christelike beeld gebruik. ‘n Beeld waaraan ander mense kan sien dat ek ‘n Christen is. ‘n Mens verwag tog ‘n appel van ‘n appelboom en nie ‘n suurlemoen nie? Net so moet mense rondom my nie twyfel of ek ‘n Christen is nie, maar aan my vrugte sien dat ek ‘n gelowige is.
### Wat is die vrugte wat ‘n gelowige dra?
Die vrugte van ‘n gelowige is die vrug van die Gees, soos beskryf in Galasiërs 5:22-23.
1. **Liefde**
Mattheus 22:37-39 leer ons dat die eerste en grootste gebod is dat jy die Here jou God moet liefhê met jou hele hart, siel en verstand. Jesus Christus stel die tweede groot gebod hieraan gelyk, naamlik dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself. Hoe lief het jy jouself? So lief dat jy enige iets sal doen om jouself teen seer en swaarkry te beskerm. Net so moet jy vir jou naaste lief wees. Onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde wat ander mense se welstand bo jou eie stel.
2. **Blydskap**
So maklik kan dit wat in ons lewens gebeur (persoonlike lewe of by die werk) bepaal hoe ons vandag voel. Met blydskap as ‘n vrug van die werking van die Heilige Gees in my lewe, mag ek met diep innerlike blydskap elke dag aanpak, ongeag die omstandighede.
3. **Vrede**
As jy na die definisie van vrede in die woordeboek gaan kyk, is dit ‘n toestand van stilte en harmonie. ‘n Toestand sonder gevegte of oorloë. Maar in Johannes 14:27 kom ons agter dat dit iets is wat God aan ons skenk. Wêreldse vrede is oppervlakkig en onbetroubaar, maar die vrede van God gaan dieper en is nie afhanklik van omstandighede nie. Dit beteken dat ek elke dag moet vertrou op die plan wat God vir my het en daarom kan ek met vrede elke dag tegemoetgaan.
4. **Lankmoedigheid**
Om lankmoedig te wees kan soms moeilik wees, veral as ons dink dat dit slegs beteken om geduldig en toegewend te wees, om baie te verdra en nie gou kwaad te word nie. Alhoewel dit alles waar is, mag ons nie toelaat dat dit waarin ons glo as niks afgemaak word onder die dekmantel van lankmoedigheid nie. Ons moet geduldig luister, alles in afhanklikheid van God beoordeel en ander rustig en sonder woede hanteer.
5. **Vriendelikheid**
Vriendelikheid sluit by Mattheus 22:39 aan, waar daar staan dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.
In teenstelling met die bitterheid, woede, geskreeu, lastering en boosheid van Efesiërs 4:31, leer vers 32: *“Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar, vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”* Dit sluit in om genadig en barmhartig te wees en om ander met liefde en respek te behandel.
6. **Goedheid**
Elkeen van ons wil graag hê dat ander ons as goeie mense moet sien. Goedheid is dat ons goeie sedelike waardes moet hê en sonder enige slegtheid moet wees. Tog sê Prediker 7:20 dat daar geen mens op aarde is wat regverdig is en nie sonde doen nie. Daarom moet ons elke dag bid vir die gawe van goedheid. ‘n Goeie persoon soek altyd na maniere om ander te help en goeie dinge vir hulle te doen.
7. **Getrouheid**
Van nature is getrouheid nie in ons nie. Ons is leuenagtig en onbetroubaar. Getrouheid in die Bybel is verbind met die gedagte van onwankelbaarheid en vastheid. Jou ‘ja’ moet ‘ja’ wees en jou ‘nee’, ‘nee’. Ander moet op jou kan staat maak en jy moet in alles wat jy doen eerlik en opreg wees.
8. **Sagmoedigheid**
Die betekenis van Bybelse sagmoedigheid word vir ons duidelik in die volgende aanhaling van W Barclay: “Iemand wat sagmoedig is, staan sterk waar God se belange aangetas word, maar weet ook om terug te staan wanneer dit oor sy eie belange gaan. Iemand is sagmoedig wanneer hy altyd op die regte tyd toornig raak, en nooit op die verkeerde oomblik nie.”
9. **Selfbeheersing**
Romeine 7:19 sê: *“want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”* Selfbeheersing kan beskryf word as ‘n mag of ‘n krag. ‘n Mag of krag waarmee jy jou emosies en begeertes kan beheer en waarmee jy jou gedagtes, woorde en dade bedwing. Dit gee jou immuniteit teen sonde in jouself en in die wêreld. Hierdie mag of krag in ons lewens kan niks anders as die werking van die Heilige Gees wees nie.
Ten slotte, uit onsself kan ons nie ons Christelike waardes uitleef in ons daaglikse lewe nie. Ons leef in totale afhanklikheid van God, wat deur die Gees vir ons die krag gee om goeie vrugte te dra. Daarom moet ons bid vir die vrug van die Gees.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP03: Gebed
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep03-gebed/
Last updated: 2025-09-08T19:07:44.000Z
In hierdie episode gesels ons met Ds. Jonker Venter oor gebed. Ons bespreek verskeie vrae daar rondom, soos hoe en hoekom ons bid. Luister saam en verdiep jou persoonlike verhouding met God deur te leer bid soos Jesus ons self geleer het.
[](https://podcasts.apple.com/za/podcast/ep03-gebed/id1760225976?i=1000671849468&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir on](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/)
### Sê my, wat kan u my vertel van die Wedergeboorte?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/se-my-wat-kan-u-my-vertel-van-die-wedergeboorte/
Last updated: 2024-10-05T14:00:41.000Z
*Geskryf deur Jonatan Boon, Providence Canadian Reformed Church*
Die dag het aangebreek. Die kersies is al in die koek gedruk, die stoele is reggesit vir die partytjie en nou word daar net gewag vir almal om te kom. Ons almal het ‘n dag een keer ‘n jaar waar ons hierdie beleef. Hoekom doen ons dit? Ons vier die dag waarop ons bestaan op aarde begin het (of eintlik nege maande na die ontstaan daarvan).
Miskien is dit voor die hand liggend, maar ons geboorte is een van die belangrikste oomblikke in ons lewens. Sonder om gebore te word, sou ons nooit hier gewees het nie. Dis nie net hierdie fisiese geboorte wat so belangrik is nie. Die Here Jesus vertel vir ons in Johannes 3 van ‘n ander geboorte wat net so belangrik is.
### Wat is die wedergeboorte?
In ‘n nag amper tweeduisend jaar gelede het ‘n nuuskierige Fariseër van Jesus geleer wat hierdie ander geboorte is. Oftewel, wat dit beteken om wedergebore te wees. Net soos wat ons nie die sonlig sou sien as ons nie gebore was nie, so sal niemand die koninkryk van God sien as hy nie weer gebore is nie (Joh 3:3).
As jy dit so lees, kan jy nie help om saam met Nikodemus te vra wat dit beteken nie. Hierdie wedergeboorte is duidelik anders as ons fisiese geboorte. Jesus vertel hom dat hierdie geboorte ‘n Geestelike geboorte is (Joh 3:6). Gees is met ‘n hoofletter, want dit is God die Heilige Gees wat geboorte gee aan ons geestelike lewe.
Enige iemand wat Jesus se woorde in die oorspronklike Grieks sou gelees, sou hier ‘n woordspeling opmerk. Jesus bedoel met ‘weer gebore’ ook ‘van bo gebore’. Ons moet raaksien dat hierdie Geestelike geboorte iets is wat God die Heilige Gees aan ons doen. Net soos wat ons self niks kon doen aan ons eie geboorte nie, net so is ons wedergeboorte slegs die werk van God.
Tydens hul nagtelike gesprek verwys Jesus na Esegiël 36 wanneer Hy sê dat iemand uit water en Gees gebore moet word (Joh 3:5). Esegiël help ons verstaan wat wedergeboorte is. Dit is as God ons skoon maak van ons onreinhede wanneer Hy water oor ons uitgiet, oftewel ons sonde van ons af wegneem. Wedergeboorte is wanneer God vir ons ‘n nuwe hart gee wat homself nie meer verhard teenoor God nie, maar eerder luister na wat God vir ons sê. Dit is wanneer die Heilige Gees in ons binneste kom woon en ons lewe omdraai sodat ons nou na God kyk, in plaas van na onsself (Eseg 36:25-27).
In die Dordtse Leerreëls bely ons dat die wedergeboorte die werk van die Heilige Gees is wanneer die evangelie tot in die binneste dele van die mens deurdring. Dit is wanneer Hy die geslote hart open, wanneer Hy versag wat hard is en besny wat onbesnede is (DL 3/4:11). Die wedergeboorte is wanneer die Heilige Gees ons harte oopsluit sodat ons die goeie nuus van redding in Jesus Christus nie langer verwerp nie, maar omarm. Wanneer die Heilige Gees ons sondige natuur omploeg sodat geloof in ons harte ontkiem. Hierdie is ‘n wonderlike wonder wat in ons harte plaasvind, maar ook ‘n wonder van groot betekenis.
Terwyl Jesus Nikodemus oor die wedergeboorte leer, sê Jesus van die mees bekende woorde ooit: *“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag hê (Joh 3:16).”* Jesus wys hier vir Nikodemus en vir ons hoe belangrik wedergeboorte en geloof is. Slegs deur geloof in Jesus mag ons die ewige lewe ingaan. As wedergeboorte aan die wieg van geloof staan, dan is dit duidelik hoe belangrik ons wedergeboorte is. Slegs omdat die Heilige Gees my hart deur die wedergeboorte verander het, glo ek nou in Christus as my Verlosser en daarom sal ek nie verlore gaan nie, maar die koninkryk van God binnetree.
### Twee definisies vir wedergeboorte
Die definisie wat mense vir wedergeboorte het het ietwat verander oor die afgelope eeue. Dit is goed om hiervan bewus te wees, anders mag ons dalk deurmekaar raak.
Tydens die Reformasie (en baie van ons in gereformeerde kringe gebruik nog hierdie definisie) is wedergeboorte gesien as die hele proses van die Heilige Gees wat in ons harte werk. Vanaf die oomblik toe die Gees iemand tot geloof gebring het tot die daaglikse heiligmaking waar die Gees ons meer en meer vernuwe om volgens die wil van God te leef. Dit is hoe die NGB Artikel 24 die woord ‘wedergeboorte’ gebruik: *“... dat die geloof hom weergebore laat word en tot ‘n nuwe mens maak, hom ‘n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry.”*
Die meer algemene verstaan van die woord ‘wedergeboorte’ in ons tyd is om slegs te dink aan die allereerste werk van die Heilige Gees in ons hart. Die oomblik toe die Heilige Gees ons hart van klip in ‘n hart van vlees verander het, sodat ons die evangelie aanvaar het.
Die punt hier is nie om te sê watter definisie die regte een is nie. Daar is goeie Bybelse argumente vir beide, maar die punt is eerder om verwarring te voorkom. Dit kan maklik gebeur dat ons ‘n geprek met ‘n persoon oor die wedergeboorte het, maar dan verby mekaar praat. In so ‘n geval kan dit help om op dieselfde bladsy te kom deur te verstaan wat die ander persoon met wedergeboorte bedoel.
### Wanneer en hoe was ek weergebore?
Ons vier ons geboorte elke jaar met ‘n verjaarsdagpartytije. Ons weet wat die plek en datum van ons geboorte is - dit staan in ons paspoort en in die kerkhandboekie. Nou mag jy wonder op watter dag jou wedergeboorte was en wanneer jy dit moet vier?
Miskien is dit goed om te onthou dat die enigste rede hoekom jy weet wanneer jy gebore is, is omdat iemand anders dit vir jou vertel het. In die verlede was daar baie mense op aarde wat nie geweet het wanneer hulle gebore is nie. God openbaar nie al die details van die werk wat Hy in ons doen nie, so dit is nie verbasend dat die meeste van ons nie ‘n datum kan opnoem vir ons wedergeboorte nie.
Soos wat ons geboortedag vir ons belangrik is, so is dit ook reg om waarde te heg aan ons wedergeboorte. Dit was die oomblik waar ons geloofslewe begin het. Tog moet ons nie vaskyk in ons wedergeboorte met die doel om uit die te pluis waar, wanneer en hoe dit gebeur het nie.
Ons lewens van elke dag word nie beheer deur hoe en waar ons gebore is nie. ‘n Geboorte is net die begin van ‘n lewe, daar is ‘n hele lewe wat wag om geleef te word. Ons groei, gaan skool toe, begin met ‘n werk, trou, koop ‘n huis, sien kleinkinders groot word, ensovoorts. Die lewe is baie meer as net ‘n geboorte. So is dit met ons wedergeboorte. Die wedergeboorte is net die begin, maar daar is nog ‘n hele lewe saam met God wat geleef moet word. ‘n Lewe waar ons ons vertroue in Christus plaas, waar ons hande vou om te bid, waar ons daagliks ‘n Bybel oopmaak. ‘n Lewe waar ons elke Sondag na God se stem in die kerk gaan luister, waar ons openbare geloofsbelydenis doen, waar ons deel word van die evangelisasiekommissie. Waar ons Bybelstudies bywoon en waar ons eendag oor die drempel van die nuwe Jerusalem gaan stap. Ons geloofslewe is veel meer as net ‘n wonderbaarlike wedergeboorte.
Alhoewel ons nie die fyner details van ons wedergeboorte kan en moet naspeur nie, kan ons dit wel raaksien as ‘n groot werk van God. Jesus vergelyk die wedergeboorte met die wind (Joh 3:8). Die wind is onsigbaar, maar ons almal hoor die sagte suis van ‘n briesie op ‘n somersaand. Net so kan ons nie die besonderhede van ons wedergeboorte sien nie, maar ons kan die vrugte daarvan, geloof en goeie werke, in onsself en in ander waarneem. Ons kan daarom God loof dat die Heilige Gees in ‘n geloofslewe ontwikkel het, alhoewel ons dalk nie weet waar en wanneer nie.
Daar is wel iets meer om te sê oor hoe die Heilige Gees werk om ons harte van klip om te ruil vir harte van vlees. God die Heilige Gees skenk ons wedergeboorte deur die lewende Woord van God (1 Pet 1:23). Die Heilige Gees gebruik die Bybel om nuwe lewe in ons te wek. Hier kan ons spesifiek dink aan hoe die evangelie elke Sondag vanuit die Skrif gepreek word. Die Woord en die prediking daarvan is die gereedskap waarmee die Gees ons harte vernuwe (DL 3/4:17). Dit is daarom so belangrik om die Woord van God te hoor, want dit is wanneer die Heilige Gees by uitstek in ons harte werk. Wedergeboorte is heeltemal die werk van die Heilige Gees, maar dit beteken nie dat ons moet wegkruip en wag vir die Gees om aan ons wedergeboorte te gee nie. Hierdie is eerder ‘n aansporing om die Bybel oop te maak en om jouself en ander aan te moedig om Sondag in die kerk te gaan sit. Dit is hoe die Heilige Gees geslote harte oop maak.
### Wat van jong kinders?
In die verlede, en nou ook, is daar baie mense wat wonder of jong kinders ook weergebore is. Wat van babas of ongebore babas? Hierdie is nie net ‘n goeie besprekingsvraag vir ‘n Bybelstudieaand nie. Vir ouers wat ‘n jong kind moes begrawe of die hartseer van ‘n miskraam ervaar het, dring hierdie vraag tot in hul binneste deur.
As iemand slegs die ewige lewe kan hê as hy wedergebore is en die Heilige Gees wedergeboorte skenk deur die lees en preek van God se Woord, hoe kan ‘n baba, wat na twee kort wekies op aarde sterf, gered word? Met vrae soos dié moet ons na die Bybel teruggaan en luister na wat God sê, in plaas daarvan om self antwoorde uit te dink.
Die Here beloof ons dat die belofte van redding in Jesus vir almal is wat in Hom glo, asook hulle kinders (Hand 2:39). God sluit die jong kinders van gelowiges by sy belofte in. Daarom mag gelowige ouers wat ‘n jong kind mis, omdat sy vroeg oorlede is, uitsien daarna om haar weer te sien (DL 1:17).
Hoe en wanneer die Heilige Gees ‘n wedergeboorte skenk in die lewens van hierdie jong kinders, weet ons nie. Dit is iets wat ons aan God moet oorlaat. Ons kan net vashou aan dit wat God ons in die Skrif vertel.
Tog kan ons sê dat die Heilige Gees net so kragtig in die hart van jong kinders kan werk as in die harte van tieners, middeljariges of bejaardes. Die Heilige Gees kan ook aan hulle geloof skenk, dalk wanneer die Bybel na ete gelees word of wanneer hulle twee reëltjies uit Sondag se preek verstaan of op ‘n ander wonderlike manier. Christus hou nie verniet die geloof van kinders vir ons tot ‘n voorbeeld nie (Mark 10:14-15).
### Afsluiting
Ons geboorte was ‘n groot wonder van God. Hy het alles so gelei dat jy in die wêreld sou kom. Miskien is ons wedergeboorte nog ‘n groter wonder van God. Net soos wat ons nie onsself kon laat gebore word nie, net so min kon ons op ons eie tot geloof in Christus kom. Ons sou Jesus altyd bly verwerp, want die evangelie sou nooit tot in ons verharde harte deurdring nie. Maar die Heilige Gees het ons harte kom verander sodat ons nou in Christus as ons Verlosser glo. Daarom kan ons die koninkryk van God sien en het ons die ewige lewe. Ons mag dalk ons geboorte met ‘n partytjie vier, maar ons kan elke dag ons wedergeboorte vier deur die nuwe lewe te leef wat God vir ons gegee het.
### Bronnelys
- Danker, F. W. (red), 2000\. *A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature*. Chicago: The University of Chicago Press.
- Dennis, L. T. (red) en Grudem, W. (red), 2008\. *The ESV Study Bible.* Wheaton: Crossway.
- Van Genderen, J. en Velema, W. H., 1992\. *Beknopte Gereformeerde Dogmatiek*. Apeldoorn: Uitgeverij Kok – Kampen.
- Van Houwelingen, P. H. R., 1997\. *Johannes.* Kampen. Uitgeverij Kok – Kampen.
- Van Vliet, J., 2016\. Growing in the Gospel. Hamilton: Lucerna Publications.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Trek God se wapenrusting aan – en gebruik dit!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/trek-god-se-wapenrusting-aan-en-gebruik-dit/
Last updated: 2024-09-28T18:01:22.000Z
*Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville*
In hoofstuk 6:10-20 van die boek Efesiërs lees ons dat ons besig is met oorlog. Nie ’n fisiese oorlog nie. Nee, baie erger: ons is in ’n geestelike oorlog. Efesiërs 6:12 sê: *“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”*
Eintlik moet dit jou glad nie verbaas nie. Op verskeie plekke in die Bybel lees jy van die stryd tussen God en die bose magte. Vroeër in Efesiërs staan daar dat ons, voor ons tot geloof gekom het, ons deur die Satan laat lei het (Efesiërs 2:2).
Ons dank God dat dit nie al is wat ons in Efesiërs hoor nie! Paulus skryf dat Christus juis gekom het om sondaars soos ons vry te maak. Hy het ons kom bevry van die slawerny van die sonde en die Satan. Dis hoekom Paulus die gedeelte geskryf het: sodat ons kan weet hoe om die wapenrusting van God aan te trek en kan leer om die geestelike oorlog te veg. Paulus sê ook dat ons nie sterk moet probeer wees deur onsself nie, maar juis kragtig moet wees in die Here (v. 10).
### *Trek die volle wapenrusting van God aan* (v. 11-17)
In vers 11 sien ons vier dinge van die wapenrusting. Eerstens vertel die apostel Paulus vir ons wie die aanvaller is, naamlik die duiwel. Dan leer ons waarteen ons veg: die liste van die duiwel. Derdens, wat die doel van die wapenrusting is: sodat ons in die geestelike oorloë kan staande bly. Laastens vertel Paulus vir ons hoe ons dit doen: deur die wapenrusting van God aan te trek.
In vers 13 beklemtoon Paulus die belangrikheid van vers 11 deur te begin met “daarom*”*. Hy herhaal dat ons die wapenrusting van God moet aantrek, sodat ons weerstand kan bied teen die geestelike oorloë en staande kan bly in Christus.
As ons dink waarteen ons veg, het ons geestelike wapens nodig vir die geestelike oorlog.
### *Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord* (v. 14)
As ons dink aan Romeinse soldate, het hulle belde gedra. Dit het dit vir hulle makliker gemaak om ander wapens te dra en die wapens by te kom tydens ʼn geveg. Dit het ook die swak plekke van die lyf beskerm. Soos die Romeinse soldaat moet ons ook die gordel van waarheid aantrek. Sonder God se waarheid is ons a maklike teiken vir die duiwel.
Ons lees in Psalm 18:31: *“Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter (gesuiwer en waar). Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.”* Daar is mag in God se Woord. So as ons dink dat God se waarheid om ons middel hang, kan ons ander instrumente van God ook daaraan hang. As ons nie in die waarheid van God glo nie, dan is daar niks om op te steun nie. Daarom begin Paulus ook met die waarheid. As jy nie in God se waarheid glo nie, het jy niks om op te steun nie.
Johannes 8: 32: *“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”* Die eerste ding wat ons moet doen om teen die vyand te veg, is om vas te hou aan God se waarheid.
### *Met die borswapen van die geregtigheid aan* (v. 14)
Die borswapen beskerm lewensbelangrike organe, spesifiek die hart en longe, en beskerm die soldaat teen dodelike wonde.
Paulus bedoel die borswapen van geregtigheid, sodat ons moet besef dat die geregtigheid nie ons eie is nie. Soos ons in die geestelike oorlog ingaan, moet ons besef dat die geregtigheid deur Jesus Christus kom.
Ons sien in 2 Kor. 5:21: *“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom*.” Deur Jesus se geregtigheid is ons nou geregverdig by God en die duiwel kan dit nie van af ons wegneem nie. Ons is nou die geregtigheid van God deur Jesus Christus. Die duiwel gaan sy bes probeer om ons te oortuig dat dit nie so is nie.
### *En as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede* (v. 15)
Dit is belangrik dat ons as Christene stewige skoene aan ons voete het. ‘n Stewige fondasie in die Evangelie sal ons help om in geestelike oorloë staande te bly. Die bereidheid om te getuig vir Jesus en te praat oor Jesus gaan ons sterker in ons geloof en vertroue maak.
### *Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus* (v. 16)
In Paulus se tyd was die meeste skilde van hout. Die vyand het pyle van vuur oorgeskiet en om die houtskild te beskerm, het hulle dit met leer oordek. In ons geval moet ons vuurpyle van die bose uitblus, soos sy leuens, verleiding ens. Hoe beskerm ons onsself teen die vuurpyle van die bose? Deur die geloof in God. Daarom is geloof in Christus so belangrik. Daardeur kan ons leuens raaksien en uitblus, sodat die Bose se aanvalle nutteloos is teen die gelowige wat sy of haar geloof in God stel. 1 Petrus 5: 9 sê: *“Hom (die bose) moet julle teëstaan, standvastig in die geloof.*” Deur geloof en deur te groei in geloof sal ons onsself teen hom kan beskerm.
### *En neem aan die helm van verlossing* (v. 17)
Die helm isʼn belangrike deel van die wapenrusting. Dit beskerm die hoof teen beserings wat dodelik kan wees. Hier kan ons aanneem dat Paulus die gedagtes van die Christen wil beskerm. Ons lees ook in 1 Thessalonicense 5:8: *“Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.”* Die helm dien as beskerming van ons hoop op die saligheid, terwyl die Bose probeer om die hoop af te breek. Sodra die hoop op ons saligheid laag is, verloor ons sig op die doel waarvoor ons lewe. Die helm beskerm ons teen die aanval. Dit help ons onthou van God se saligheid, ons doel in hierdie lewe en ons hoop vir die toekoms.
In Romeine 8:30 – 31 staan: *“en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”* Dit is die implikasie van ons saligheid: as God vir ons is, wie kan teen ons wees? Dra jou helm.
Die Christen wat teen die duiwel se aanvalle wil bly staan, moet hul gedagtes vul met God se belofte. Hulle is in staat om dit te doen, soos geskrywe is in 2 Timotheus 3:15: “*en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”*
### *En die swaard van die Gees* (v. 17)
Dit word dikwels uitgewys dat die swaard die enigste wapen in die wapenrusting is waarmee jy kan veg. Soms is die beste manier van verdediging om aan te val. Ons moet nie net onsself verdedig nie, maar ons moet hom oorwin.
Soos ons in die vers lees, is die swaard van die Gees die woord van God. God illustreer dit in die gedeelte waar Hy deur die satan versoek word in die wildernis. Hy gebruik die woord van God. Deur die Woord te bestudeer, kan ons ook die bose oorwin.
Trek nou die wapenrusting van God aan (v. 11). Maak dit jou eie. Weet wie jy in Christus is. Leef as verloste kind van God. Dit maak jou sterk teen die aanvalle van die duiwel.
### Hoe om die wapenrusting te gebruik (v. 18-20).
Dit is belangrik om by elke moontlike geleentheid vir Christus te bid (v. 18). Ons moet standvastig bly in sy geloof en in sy woord. Dit is belangrik om altyddeur te bid. As ons in ‘n geveg ingaan, is dit belangrik om voorbereid te wees. Jy moet oefen sodat jy gemakliker en meer selfversekerd is. Net so is dit belangrik om te oefen om te bid. Bid, al is dit ʼn klein skietgebed. Dit is moeilik om te bid, daarom is dit belangrik om te oefen. Dit is hoe jy jou verhouding met God bou. Maak ‘n lysie van dinge om voor te bid. Stel vir jou ‘n herinnering wanneer om te bid.
Ons moet ook ten alle tye waaksaam wees. Maar dit is moeilik om altyd waaksaam te wees en daarom kan ons dit ook vir mekaar noem as ons struikel, sodat ander ook vir jou kan bid. Selfs Paulus vra in vers 19 dat hulle ook vir hom moet bid. Ons moet ook onthou om dit weer vir ons naastes te doen. Vra hoe dit werklik gaan of vra hoe kan jy vir hulle bid. Ons is broers en susters in Christus en as familie moet ons ook na mekaar omsien.
Deel van waaksaam wees is dat ons *“vandag as (ons) sy stem hoor”* (Hebreërs 3:7) daarna moet luister. Dit is tyd vir ons om wakker te word. Ons lees in Rom 13:11: “*En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.”* God maak ons wakker!
Opgesom leer ons vyf belangrike punte van die gedeelte. Eerstens, die lewe is ‘n oorlogsveld met oorloë wat ons nie kan sien nie. Geestelike oorloë. Tweedens, die duiwel is magtig. Derdens, daar is baie wêreldse versoekinge rondom ons. Om elke hoek en draai moet ons versigtig wees. Vierdens, ons is swak mense. Ons kan ons nie onsself red nie. Laastens, Christus Jesus het vir ons sondes gesterf aan die kruis. Deur Christus is ons nou meer as oorwinnaars. Deur die wapenrusting van God en in Hom kan ons die geestelike oorloë oorwin.
> *“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!”*
> \- Jakobus 4:7-8
Die geestelike oorlog waarin ons is, is geweldig ernstig, maar ons hoef glad nie te vrees nie. God gee ons die krag en die wapenrusting wat ons nodig het. Wees daarom sterk in die Here en trek die volle wapenrusting aan. Dan sal jy staande kan bly in hierdie oorlog.

Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Getuienis van geloof in vriendskap
URL: https://olielamp.vgk.org.za/getuienis-van-geloof-in-vriendskap/
Last updated: 2024-09-21T07:00:45.000Z
*Geskryf deur Ewan Smit, VGK Pretoria*
Hoe getuig ons as gelowiges in vriendskap of ander alledaagse verhoudings? Of eerder, hoe moet ons getuig en optree teenoor die mense om ons?
In Matteus 5:16 word ons as gelowiges opgeroep om die lig van die lewe uit te straal deur hoe ons op ‘n daaglikse basis optree. Ons moet ons lig laat skyn deur ons goeie werke en gedrag, om sodoende ons Vader in die hemel te verheerlik.
### Hoe doen ons dit?
Die maklikste en eenvoudigste manier om God se lig uit te straal is om volgens sy wil te lewe. Mense sal hopelik opmerk dat jy jouself anders gedra as die res van die samelewing en dit sal die gedagte laat opkom wat sê: “Hoekom is die persoon so gaaf of bedagsaam?”
Soos ons kan lees in 1 Korinthiërs 9:14, moet die wat die evangelie verkondig ook volgens die evangelie leef. Ons as Christene moet lewende ligte vir ander wees. Ons moet vermy om hipokrities te wees deur ander aan te spreek uit liefde, in plaas van haat en afguns. Die meeste mense lees nie die Bybel nie. Ons moet reg optree teenoor ander, want ons is miskien die enigste Bybel wat hul ooit sal lees.
Ons as gelowiges moet meer en meer streef om nader aan God leef deur Bybel te lees, te bid en God te verheerlik, elke kans wat ons kry. Wanneer ons nader aan God is, spoel sy liefde deur ons uit na ander mense toe.
### Praktiese toepassing
Al die bogenoemde is in teorie baie maklik, maar die toepassing daarvan is waar die meeste mense hulself vasloop. Mense is verskillend gemaak en wat vir die een maklik kom, kom vir 'n ander baie moeilik. Dit geld ook vir evangelisasie of woordverkondiging.
Om oor die geloof te praat met onbekende mense (of selfs naasbestaandes) kan 'n moeilike taak wees. Om ‘n gesprek oor geloof te betree kan sommige mense verdedigend of selfs aanvallend maak. Dit is belangrik om te onthou dat jy nie met die persoon praat om hul argument te vermorsel nie, maar eerder net om hul kant van die saak te hoor en ook jou eie kant te verduidelik.
Probeer om vrae te vra wat die gesprek kan stuur na geloof toe, soos: “Dink jy die *Big Bang* het regtig gebeur?” of “Dink jy om 'n vegetariër te wees is die regte ding om te doen?” Met vrae soos die kan jy geloof maklik in die gesprek bring deur te verwys na hoe jy glo die aarde geskep is of wat die Bybel vir ons sê oor eetgewoontes.
As voorbeeld het ek en een van my vriende op kampus 'n gesprek gehad oor of dit verkeerd is om Monster energiedrankies te drink, omdat daar blykbaar satanistiese simbole op die blikkie verskyn. Hierdie gesprek het 'n derde persoon, wat agter ons was, betrek en dit het 'n bespreking van die Bybel tot gevolg gehad.
### Geduld
Daar is nie een gevestigde manier of metode om die woord te verkondig wat vir almal sal werk nie. Jy gaan self moet probeer om te sien wat werk en wat werk nie. Een van die grootste aspekte wat in ag geneem moet word is geduld. In 2 Tim 4:2 lees ons: *“Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.”* Ons moet dink daaraan as 'n stroom water wat oor 'n lang tydperk sy pad vorentoe uitkerf.
Evangelisasie is 'n langdurige proses. Dit gebeur nie net oornag nie. Ons moet die geloof na ander bring, maar net so belangrik is dat ons moet bid. Ons werk is nie om mense te forseer om gelowig te word nie, maar eerder om mense te wys wie God is en wat geloof alles behels.
### Samevatting
Om doeltreffend woordverkondiging te doen aan vriende, familie of vreemdelinge moet ons die Woord van God uitleef. Ons moet probeer om die Woord in ons alledaagse lewe in te werk en ons moet geduldig wees.
Ons moet vissers van mense wees, maar op die einde van die dag is ‘n persoon se saligheid in God se hande.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP02: Christelike Leierskap
URL: https://olielamp.vgk.org.za/potgooi-ep02/
Last updated: 2025-09-08T19:07:37.000Z
In hierdie episode bespreek ek, Cornèl Meyer, en ons gas, Ds. Erik van Alten, die kern van Christelike leierskap.
Ons kyk na wat dit beteken om ’n leier te wees wat Christelike waardes as uitgangspunt het. Ons praat ook oor hoe ons hierdie beginsels in ons alledaagse lewens en gemeenskappe kan toepas.
Luister saam na hierdie gesprek en ontdek hoe ware leierskap dienend en transformerend kan wees in ’n wêreld wat dikwels fokus op mag en invloed.
[](https://podcasts.apple.com/us/podcast/ep02-christelike-leierskap/id1760225976?i=1000668697686&itsct=podcast%5Fbox%5Fbadge&itscg=30200&ls=1&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Jou verhouding met jou ouers.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/jou-verhouding-met-jou-ouers/
Last updated: 2024-09-14T07:00:06.000Z
*Geskryf deur Irmari Venter, GK Die Kandelaar*
Is dit belangrik om ‘n goeie verhouding met jou ouers te hê? Wat beteken die vyfde gebod nou eintlik vir ons? In die alledaagse lewe dink ek ons mis baie keer die erns van die saak: hoe belangrik ‘n goeie verhouding met ons ouers is.
As ons kyk na die Drie-eenheid is daar ‘n goeie verhouding tussen die Vader en die Seun. Daarom is dit ook God se bedoeling dat daar mooi en gesonde verhoudings tussen ouers en kinders bestaan. Om ‘n goeie verhouding met jou ouers te hê, beteken nie noodwendig dat hulle jou maatjies moet wees nie. Jy moet respek vir hulle hê en gehoorsaam aan hulle wees, soos wat ons ook in die vyfde gebod lees: “eer jou vader en jou moeder”.
In die Drie-eenheid leef die Vader en die Seun in volmaakte harmonie. Die Vader verklaar: “dit is my geliefde seun” ([Mat 3:17](https://www.bible.com/af/bible/5/Mat.3.17.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en die Seun roep uit: “ek loof U, Vader, Here van die Hemel en aarde” ([Mat 11:25](https://www.bible.com/af/bible/5/Mat.11.25.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit moet ook in ons verhoudings weerspieël.
Dit is nie altyd maklik nie. Ons is sondig, daarom vra dit wysheid om goeie verhoudings met ons ouers te hê. Ons is geneig om die verkeerde te wil doen en nie na die gesag bo ons te luister nie, soos ons in Romeine 7:19 lees: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”
Goeie verhoudings kan slegs plaasvind wanneer ouers kinders in liefde grootmaak en kinders respek vir hulle ouers het. In Efesiers 6:4 staan daar: “en vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” Met ander woorde is dit ons ouers se plig om ons op te voed in die Naam van die Here, soos wat hulle in die doop belofte bely. Sonder ‘n verhouding met jou ouers gaan jy nie opvoeding in die Naam van die Here ontvang nie.
As jy ‘n goeie verhouding met jou ouers het, gaan jy hulle wil gehoorsaam en eer soos wat God van ons eis. In Efesiers 6:1-2 staan dat ons gehoorsaam moet wees: “Kinders julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder, dit is die eerste gebod met ‘n belofte.” Ons moet onthou dat ons kinders van God is en dat Hy ons Vader is. Ons moet die Here gehoorsaam en doen wat Hy van ons vra. As ons nie die gesag bo ons gehoorsaam nie, gehoorsaam ons ook nie vir God nie.
In Efesiers 4:1 lees ons: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.” Ons lewenswandel moet in ooreenstemming wees met die roeping wat ons van God ontvang het. Is die roeping wat ons ontvang het nie om ons ouers te eer en te gehoorsaam nie?
Natuurlik gaan ‘n goeie ouer-kind verhouding na beide kante toe en moet die ouers ook die opdrag van die Here uitvoer. Opvoeding moet gaan oor wat die Here wil, nie oor wat die ouers wil nie. Ouers, dit wat julle van julle kinders verwag, moet in lyn wees met wat God van julle verwag.
Kinders, die Here het ons ouers vir ‘n rede aan ons gegee. Die Here het vir hulle lewensondervinding gegee in sy Naam ([Spreuke 1: 7-9](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.1.7-9.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Daarom moet ons opkyk na ons ouers en hulle gehoorsaam wees en eer, sodat ons ook opvoeding in die Naam van die Here kan ontvang. Kinders mag ouers ook vra om hul ondervinding en wysheid met hulle te deel. Ouers kan kinders help as hulle twyfel of sukkel met iets soos geloof, sodat hulle nie onder groepsdruk val nie.
Ouers, die Here het ook kinders aan julle gegee met ‘n rede. Voer die opdrag van die Here uit soos wat Hy van julle vra. Die Here bring kinders oor jou pad en sal jou ook met wysheid en geduld toerus om die taak te verrig.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Watter musiek is veilig vir Christene? ’n Christelike perspektief op musiek.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/watter-musiek-is-veilig-vir-christene-n-christelike-perspektief-op-musiek/
Last updated: 2024-09-07T07:00:16.000Z
*Geskryf deur Christiaan Grobler, VGK Pretoria*
Nêrens in die Bybel sal jy ’n vers vind wat vir jou sê of jy wel of nie na Taylor Swift mag luister nie. Die Bybel het nie ‘n lys van elke enkele ding wat ons mag en nie mag doen nie, veral nie na watter musiek ons mag en nie mag luister nie. Die lys sal net te lank wees. Dus leer die Bybel ons konsepte en riglyne om Christelik te kan lewe. Dieselfde geld vir die musiek waarna ons luister. Ons moet deur ‘n Bybelse lens kyk na wat ons in ons lewens inbring en hoe ons daarmee omgaan.
Dalk moet ons eers die vrae vra: “Watter plek het musiek in ons lewens as mense? Meer spesifiek: as Christene?” Die impak van musiek in ons lewens is oral te vinde. Van in ons kultuur tot in ons godsdiens vorm musiek die hoeksteen van baie aspekte van ons lewens. Musiek kom voor in die natuur: die voëltjies sing in harmonie en die golwe slaan ritmies teen die rotse. Selfs die note van ons westerse musiek het hul oorsprong uit die natuur. Uit die Fibonacci kurwe, wat regdeur die natuur gevind gevind kan word (soos in skulpe), is elf unieke musikale note verkry wat die basis vorm van die melodieë wat die orrel elke Sondag speel. As musiek dus vanuit die natuur kom en die Here die natuur geskep het, kan ‘n mens tot die gevolgtrekking kom dat die Here musiek ook geskep het. Sy doel daarmee is dat die mens Hom moet eer met musiek en lofsang.
Die psalms en skrifberymings wat ons elke Sondag in die kerk sing en elke melodie wat ons in harmonie saam sing, is tot eer van God. Die Israeliete het na elke oorwinning en elke wonderwerk die Here geprys met lofsang and musiek. Dit wys dat musiek en lofsang ’n groot en belangrike deel van ons diens aan God is en dat dit ’n groot deel van ons eredienste moet wees. Die samesang is ’n geleentheid vir die gemeente om proaktief aan die erediens deel te neem, wanneer elke unieke stem in harmonie saamsmelt om eer aan God te bring.
Daar is verskillende tipes psalms, van klaagliedere tot lof- en jubelsange, wat toepaslik op ons lewens is. Dit is meestal ’n refleksie van die verskillende fases en situasies wat jy in jou lewe kan ervaar. Daar gaan tye wees wat jy bly is en lofsange wil sing en vrolik wees, maar daar gaan ook tye wees waar jou lewe soos ’n klaaglied voel. Onthou egter: elke klaaglied eindig en elke loflied het nog ’n vers om te sing.
Nou weet ons dat psalms en liedere tot eer van God goed is, maar wat van liedere of kunstenaars wat nie spesifiek met godsdiens te doen het nie? Is dit verkeerd om daarna te luister? Dis nie op sigself verkeerd nie, net soos wat kos nie op sigself verkeerd is nie. Dis egter die voedingswaarde en hoeveelheid van die kos wat jy inneem wat bepaal of dit goed of sleg vir jou is.
Efesiërs 5:19 sê: *“Spreek onder mekaar met psalms en lofsange in julle hart tot eer van die Here.”* Ons kan die redenasie volg dat die inhoud van liedere bepaal of ons daarna moet luister of nie.
Soms is dit nie so voor die hand liggend of sekere liedjies of kunstenaars teen Bybelse waardes en beginsels gaan nie, dus moet ‘n mens ’n bietjie fyner gaan luister. Daar is dalk niks fout met die inhoud van die musiek van ’n sekere kunstenaar nie, maar wel met die leefstyl wat hy/sy handhaaf. Mag ons dan nog na daardie kunstenaar luister? Waar trek ons die lyn?
’n Goeie maatstaf hiervoor is om te dink hoe dit gaan voorkom as jy vir ander mense sê dat jy na ’n sekere kunstenaar luister. As hulle geskok is dat jy as Christen daarna luister, moet jy nadink of jy op die regte spoor is. Die Here het ons almal gesonde verstande gee waarmee ons kan dink en differensieër tussen wat vir en teen Bybelse beginsels is. As jy onseker is, vra vir iemand wat jy vertrou en wat bekwaam is om ’n eerlike en objektiewe Bybelse opinie te lewer.
Soms is dit nie so swart en wit nie. Soms is die musiek waarna jy luister se inhoud neutraal, in die sin dat dit nie teen Bybelse beginsels druis nie. Dan moet jy kyk na die kunstenaar: wat is sy beginsels? Stem dit ooreen met ons beginsels as Christene? Voel jy gemaklik om na hul musiek te luister? Dit is vrae soos die wat jy jouself moet vra as jy selfondersoek doen oor jou keuse van musiek. Straal dit ’n goeie lig uit as jy na hierdie spesifieke musiek luister? Of doen dit skade aan die beeld van Christenskap?
Beteken dit dan dat ons net na musiek mag luister wat deur Christene gemaak is? Waar trek ons die lyn? Moet ons net kos eet wat deur Christene gemaak is? Mag ons net huise koop waarvan elke baksteen deur ’n Christen gepak is? Moet ek net met Christene praat? Mag ek net op paaie ry wat deur Christene gebou is? Nee, dis absurd om so te dink. Ons lewe in ’n sondige wêreld, maar ons moet nie deel van die sonde word nie. Ons is sondige mense. Ons is beslis nie perfek nie, maar ons moet streef daarna om die Bybelse beginsels toe te pas op elke aspek van ons lewens, insluitend watter musiek ons na luister. Doen ondersoek en vra mense rondom jou as jy onseker is. Markus 9:43 sê: *“En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan.”*
Hierdie is ’n baie komplekse gesprek en daar is baie opinies oor die saak. Kom ons help mekaar deur gesprekke te hê oor hierdie sake en mekaar te help om in harmonie met die wil van die Here te lewe.
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die verhouding tussen kerk en LGBTQ+ en hoe ons met mense in daardie gemeenskap omgaan.
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-verhouding-tussen-kerk-en-lgbtq-en-hoe-ons-met-mense-in-daardie-gemeenskap-omgaan/
Last updated: 2024-08-31T11:06:49.000Z
*Geskryf deur Wicus van der Linden, VGK Bellville*
> *Broers, as iemand deur een of ander sonde oorval word, moet julle wat met die Gees vervul is, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp; maar let op jouself, dat ook jy nie versoek word nie. Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.”* \- Galasiërs 6:1-2
Te midde van hedendaagse bewegings oor homoseksualiteit en die LGBTQ+ gemeenskap, word die kerk elke dag gevra hoe ons omgaan met seksualiteit en veral hoe ons in liefde die saak kan benader.
### God se plan vir seksualiteit
> *“Maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een.”* \- Markus 10:6-8
God het die mens, man en vrou, in sy beeld geskep, soos ons in [Genesis 1](https://www.bible.com/af/bible/5/GEN.1.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)\-[2](https://www.bible.com/af/bible/5/GEN.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) lees. Hy het hulle vir mekaar geskep, om saam in die huwelik sy heerlikheid en liefde uit te beeld. Ons sien veral in [Efesiërs 5](https://www.bible.com/af/bible/5/EPH.5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) hoe die huwelik ‘n refleksie is van Christus se liefde vir die kerk, en die kerk se eenheid met Christus.
Die sondeval het egter hierdie perfekte beeld van God versteur en verskeie kwale en gebreke in die mens se hart gesaai. Ons sien en hoor elke dag van gebroke verhoudings, egbreuk en skeidings, ontrou in die huwelik, en menigmaal ander sondes wat verhoudings tussen mense en tussen mens en God versuur.
Ons lees in Levitikus 18 en 20, sowel as Romeine 1, dat homoseksualiteit een van die soort verdraaiings van die Bybelse beeld van die huwelik en seksualiteit is. [Levitikus 18:22](https://www.bible.com/af/bible/5/LEV.8.22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) en [20:13](https://www.bible.com/af/bible/5/LEV.20.13.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) leer ons dat dit verbode is dat ‘n man met ‘n man te slaap soos met ‘n vrou. Dit is afstootlik vir God, ‘n ernstige sonde wat die straf van die dood moet dra. Die konteks van hierdie gebooie wys ook dat dit duidelik ‘n sonde teen die sewende gebod en dus ‘n verwronge beeld van seksuele gemeenskap is. Ons leer verder uit [Romeine 1:26-27](https://www.bible.com/af/bible/5/ROM.1.26-27.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) dat hierdie sonde ontaard uit verdraaide begeertes van die hart.
Die Skrif het dus ‘n duidelike uitspraak dat homoseksuele dade ‘n sonde is wat nes ander sonde in die gebroke hart begin. In 1 Korinthiërs 6 sien ons die somber uitkoms van sulke sondes, maar ons sien ook God se genade wat deur die donker skyn. Die doodstraf is gedra op die kruis, vir alle sondes. Vergifnis en versoening is vrylik beskikbaar vir almal wat bely.
> *“Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”* \- 1 Korinthiërs 6:9-11
### Homoseksualiteit
‘n Belangrike onderskeid om te maak in hierdie gesprek is tussen die versoeking van sonde en die sonde self. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 15) verwys na die erfsonde as die wortel waaruit allerhande sondes uitspruit. Daardie selfde wortel bring ook in sommige mense die versoeking tot homoseksuele gedagtes, woorde of selfs dade. In die Dordtse Leerreëls bely ons dat die wat na God roep, verlos word van die slawerny van sonde, maar nie volkome van die sondige natuur en bestaan bevry word in hierdie lewe nie. Ons word dus steeds by tye deur ons eie skuld en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei.
Dus moet ons verstaan dat die bestaan van versoekings en neigings tot homoseksualiteit in die hart nie insigself die mens van die koninkryk van God weerhou nie. Die Bybel verdoem nie die versoeking tot sonde nie, maar die sonde self. In dieselfde manier wat ‘n mens versoeking ervaar tot seksuele misdaad soos buite-egtelike gemeenskap of pornografie, is daar die onder ons wat met ‘n doring van homoseksualiteit belas is.
Ons kan redeneer oor die oorsprong van die homoseksuele neigings: of dit ‘n aangebore kwaal is, ‘n psigiese kondisie of die gevolge van sondige leefwyses. Die punt bly staan dat dit ‘n gevolg is van die sondeval en dat verlossing daarvan slegs deur Christus moontlik is. In [Johannes 9:3](https://www.bible.com/af/bible/5/JHN.9.3.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) sê Jesus van ‘n man wat blind gebore is dat nóg hy, nóg sy ouers gesondig het. Dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. As ons met homoseksualiteit gekonfronteer word, moet ons besef dat elke persoon se stryd en geskiedenis met hul sondige natuur uniek is. Dit kan selfs deel van God se plan wees.
### Hoe gaan ons dus daarmee om?
Soos met alle sonde, behoort daar ‘n balans te wees in die kerk se reaksie op homoseksualiteit binne die gemeente. Die kerklike tug is bedoel om die sonde te oordeel, maar tog die sondaar te ondersteun in liefde. Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons broers en susters in Christus om sonde in hul lewe uit te wys, maar juis in ‘n gees van sagmoedigheid, terwyl ons ook op onsself en ons eie versoekings let. Ons mag nie toelaat dat die afstootlikheid van die sonde ons liefde vir die sondaar oorweldig nie.
Deur die liefde van Christus is almal welkom om deel van sy liggaam te wees, ongeag van ons sondige geaardheid, geskiedenis of neigings. Ons word wel opgeroep om ons ou self af te sterf en die nuwe mens aan te trek. Ons word ook opgeroep om mekaar daarin te ondersteun en om mekaar se laste te dra in nederigheid en sagmoedigheid. Christus self leer ons in [Mattheus 7](https://www.bible.com/af/bible/5/MAT.7.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), en Paulus beaam dit in [Romeine 2](https://www.bible.com/af/bible/5/ROM.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), dat ons stryd met sonde altyd in onsself begin. As ons waarlik ons broer of suster wil ondersteun in hul stryd, moet ons eers die balk uit ons eie oog haal. Slegs dan kan die liefde van Christus waarlik deur ons skyn.
### Wat dan van die LGBTQ+ beweging?
As Christene word ons opgeroep om ons af te sonder vir God. Ons verantwoordelikheid is om ons broers en susters in die geloof tereg te wys en te ondersteun. Beteken dit dat ons niks kan sê oor sondes en euwels in die sekulêre wêreld nie? Ons vind weereens die antwoord hierop in die Skrif.
> *“Tree met wysheid teenoor buitestanders op, en koop die tyd uit. Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om 'n ieder en 'n elk te antwoord.”* – Kolossense 4:5-6
Die Grieks kan letterlik vertaal word as: “laat julle woorde altyd in genade wees”. Die kerk is die bron van lig in ‘n duister wêreld en as Christene verteenwoordig ons die liefde en genade van Christus in die wêreld. Ons moet in wysheid met ongelowiges handel, bereid om alles vir die ander persoon te wees om hul vir Christus te wen, sonder om die waarheid te verloën. Dit kan selfs beteken om in wysheid stil te bly, of om in wysheid na vore te kom met ‘n uitspraak. Ons kyk nie verby die sonde nie, maar nes Christus met die owerspelige vrou, veroordeel ons ook nie die sondaar nie.
Ons lewens moet ook getuig van die evangelie. Dit is die beginpunt van ons omgang met enige iemand buite die kerk. Petrus beveel in sy eerste brief dat ons alle mense respekteer, selfs dié buite die geloof. In alle gevalle wat ons met mense buite die Christengemeenskap omgaan, is ons hoofdoel nie om sondaars te kritiseer of om sonde te veroordeel nie. Ons hoofdoel is en bly altyd om in liefde en respek van Christus se genade te getuig en God se Naam te verheerlik.
### Bronnelys
1. [https://www.christianstudylibrary.org/article/gay-no-way](https://www.christianstudylibrary.org/article/gay-no-way?ref=olielamp.vgk.org.za)
2. [https://www.christianstudylibrary.org/article/pastoral-advice-homosexuality](https://www.christianstudylibrary.org/article/pastoral-advice-homosexuality?ref=olielamp.vgk.org.za)
3. [https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuals-congregation-plea-compassion](https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuals-congregation-plea-compassion?ref=olielamp.vgk.org.za)
4. [https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality](https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality?ref=olielamp.vgk.org.za)
5. [https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality-how-should-christians-respond](https://www.christianstudylibrary.org/article/homosexuality-how-should-christians-respond?ref=olielamp.vgk.org.za)
6. [https://www.christianstudylibrary.org/article/caring-those-struggling-homosexuality](https://www.christianstudylibrary.org/article/caring-those-struggling-homosexuality?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### EP01: Wie is die Olielamp Potgooi?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ep01-wie-is-die-olielamp-potgooi/
Last updated: 2025-09-08T19:07:30.000Z
Welkom by die Olielamp se potgooikanaal! Ons nooi julle hartlik uit om saam met ons oor die geloof te praat en leer. Skakel elke eerste Saterdag van die maand in om nie 'n episode te mis nie.
Luister gratis op Spotify:
Luister gratis op Apple Podcasts:
[Die Olielamp Potgooi: EP01 Wie is die Olielamp Potgooi on Apple PodcastsShow Die Olielamp Potgooi, Ep EP01 Wie is die Olielamp Potgooi - 2 Aug 2024Apple Podcasts](https://podcasts.apple.com/za/podcast/die-olielamp-potgooi/id1760225976?i=1000664206101&ref=olielamp.vgk.org.za)
Vind gerus meer inligting deur die volgende skakel te volg:
Indien jy enige vrae of onderwerp voorstelle het of self graag saam met ons praat op die podgooi, stuur gerus 'n epos na: olielamp.podcast@gmail.com
### Depressie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/depressie/
Last updated: 2024-08-25T12:00:16.000Z
*Geskryf deur Lydia Boon, VGK Maranata*
Dit is donker. Jy kan nie slaap nie. Dit was ‘n lang dag van niks doen. Jy moes eintlik werk en stort, maar jy het nie krag nie - alles vat so lank. Jy was selfs nie lus om met jou hond te gaan stap nie, wat jy vroeër baie geniet het. Jy tel gewig op en eintlik wil jy net nie meer lewe nie. Hierdie is depressie.
Teen die tyd wat jy die laaste woord van hierdie Olielampartikel gelees het, het 9 mense hul eie lewe geneem. (World Health Organisation, 2019)
Ek is gevra om ‘n artikel oor depressie te skryf. Om die waarheid te sê, hierdie taak maak my so ‘n bietjie benoud. Depressie is ‘n moeilike onderwerp met uiteenlopende opinies en filosofieë. Aan die een kant dat depressie net ‘n anatomiese of fisiologiese wanbalans in die brein is en aan die ander kant die ekstreem dat depressie nie bestaan nie en dat die persoon hulself net moet regruk. Verder tref hierdie onderwerp vir baie van ons na aan die hart. In hierdie artikel sal ek probeer om ‘n paar hoekies van hierdie saak af te breek. Dit is ‘n onderwerp waarin ek nog altyd belangstel en waarvan ek geleer het tydens ons psigiatrie klasse en psigiatrie rotasie, waar ek dit eerstehands kon ervaar.
### Kan ‘n Christen depressief wees?
In die Bybel word ons keer op keer opgeroep om vol van vreugde te wees (“Wees bly in die Here en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” Psalm, 32:11). Blydskap is ‘n vrug van die Gees. En hoekom nie? Daar is dan soveel rede tot vreugde? Kan ‘n Christen dan depressief wees? In die Bybel sien ons ook voorbeelde daarvan:
- Job. Job 30:16-20: “Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.”
- Elia. 1 Konings 19:4: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here.”
- Dawid. Psalm 6:5-7 “Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.”
- Heman seun van Korag. Psalm 88: 5-7: “U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.”
- Jeremia. Klaagliedere 2:11: “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering.”
Net soos die sondeval gelei het tot siektes in ons lyf, so ook in ons brein. Depressie is net nog ‘n kreun van die skepping wat wag tot die wederkoms om volmaak te word. Indien hierdie lewe net maanskyn en rose was, sou ons nooit verlang het na die ewige volmaakte lewe by God nie. In ons is verlangens wat nie op aarde gevul kan word nie. Slegs by God is ewige vreugde vir altyd! In die donker van depressie skyn God se lig net nog helderder.
### So, wanneer is depressief voel ‘n siekte?
Ons almal is van tyd tot tyd hartseer en neergeslaan deur die lewe. Dit is normaal om soms so te voel. Maar soms is dit so veel dat dit net nie meer normaal is nie. Die DSM 5 (Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesversteurings) is ‘n kriteria wat gebruik word om te onderskei tussen net “af” voel en depressie as siekte.
### DSM 5 Diagnostiese kriteria vir depressie
A: 5 (of meer) van die volgende simptome is ervaar gedurende 'n 2 week periode wat verskil van vorige funksionering.
*(Ten minste een van die volgende 2 moet teenwoordig wees)*
- ‘n Depressiewe gemoed vir die meeste van die dag, amper elke dag, soos aangedui deur jou eie subjektiewe ervaring asook ander mense om jou.
- Verlies aan belangstelling of genot in aktiwiteite vir die meeste van die dag, amper elke dag soos deur jou eie subjektiewe ervaring asook ander mense om jou.
- Betekenisvolle gewigsverlies of gewigstoename.
- Slapeloosheid of te veel slaap gedurende die dag, amper elke dag.
- Psigomotoriese gejaagheid of vertraging vir amper elke dag.
- Verlies aan energie amper elke dag.
- Gevoelens van waardeloosheid.
- Verminderde vermoë om te konsentreer, amper elke dag.
- Herhalende gedagtes aan dood of herhalende selfdoodgedagtes
B: Die simptome veroorsaak ongemak en belemmer normale funksionering.
C: Die episode is nie as gevolg van die effek van 'n middel (“substance”) of mediese toestand nie.
D: Die episode kan nie beter toegeskryf word aan 'n ander psigiatriese kondisie nie.
E: Daar was nog nooit 'n maniese episode of hipomaniese episode nie.
(American Psychiatric Association, 2013)
### Hoe werk depressie?
Oor die fisiologie van depressie is daar nog baie onsekerheid. Verskeie hipoteses word gemaak en ondersoek. Een teorie is dat daar te min neurotransmitters (serotonien, noradrenalien en dopamien) in die brein is. Om op te maak vir die verminderde neurotransmitters vermeerder die reseptore waarop hulle werk, om so veel as moontlik van die neurotransmitters wat daar nog is, op te vang. Antidepressante werk op hierdie reseptore. Ander teorieë is dat daar inflammasie in die liggaam is wat verskeie sisteme aantas, dat depressie ontwikkel as gevolg van oksidatiewe stres of dat daar spesifieke gene betrokke is. Daar is nog vele meer teorieë (Roos, 2016).
Risikofaktore vir depressie sluit in: gene (indien een van jou ouers, broer, suster of kind aan depressie ly is jou kans vir depressie drie keer meer as die gewone bevolking), stresvolle lewensgebeure (verlies van geliefde, werk), chroniese siekte, slapeloosheid, ontwrigting van verhoudings, sekere medikasie en middelgebruik (Roos, 2016).
Tog is daar steeds eie verantwoordelikheid. Voer ons nie gemorskos vir ons siele met ure se skermtyd totdat ons uitgeput aan die slaap raak vir ‘n nagrus van te min ure nie? Met wegneemetes, die gejaag van die een doelwit na die volgende, min sonlig, onopgeloste konflikte en konstante geluide in ons ore, met geen tyd om na te dink nie? Ons kan nie verwag dat ons breine optimaal moet funksioneer as ons heeltyd moeg is nie. Net soos jy jou liggaam moet oppas deur groentes te eet, nie te rook nie, te beweeg en genoeg water te drink, so moet ons ook kyk na ons geestesgesondheid. Beweeg, wees gesond, bid, spandeer tyd met familie, vriende, stokperdjies, slaap genoeg, hê stiltetyd en wees in die natuur. 150 minute se oefening per week is 1.5 keer meer effektief as enige antidepressant of psigoterapie. (University of Western Australia, 2023)
Kom ons hou ons liggaam en psige gesond sodat ons krag het om die taak wat die Here vir elkeen van ons op aarde gee, ten volle te kan verrig.
### Vir die wat aan depressie lei
Jy is nie alleen nie. ‘n Studie gedoen in 2022 wys dat 25,7% van Suid-Afrikaners depressief is (Wits University, 2022). Moet nie te lank wag voordat jy hulp gaan soek nie. Praat met jou familie, vriende, beraders, kenners en meeste van alles jou ware Geneesheer. Moenie moed opgee nie. Hou vas aan die Here. Hy laat jou nooit alleen nie. Hy het ‘n plan met jou lewe. Jy is waardevol vir Hom. Baie, baie kosbaar. Onthou ook dat depressie die mag het om jou persepsie van die waarheid te verdraai. Dit kan dalk voel of niemand meer lief is vir jou nie of dat God nie met jou is nie. Maar onthou dat dit nie waar is nie. Hou vas aan die waarheid van God se Woord: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” Mattheus 28:20.
> “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;” - 2 Korinthiërs 4:8-10
### Bronnelys
- American Psychiatric Association, 2013\. Diagnostic and statistical manual of mental disorders: DSM 5\. 5 red. Washington DC: American Psychiatric Association.
- Roos, J. B. a. L., 2016\. Textbook of psychiatry for Southern Africa. Cape Town: Oxford University Press Southern Africa.
- University of Western Australia, 2023\. Exercise more effective than medicines to manage mental health. \[Aanlyn\]
Beskikbaar by: [https://www.unisa.edu.au/media-centre/Releases/2023/exercise-more-effective-than-medicines-to-manage-mental-health/](https://www.unisa.edu.au/media-centre/Releases/2023/exercise-more-effective-than-medicines-to-manage-mental-health/?ref=olielamp.vgk.org.za)
\[Toegang tot 30 June 2024\].
- Wits University, 2022\. Mental health in SA is at shocking levels but people are not seeking help. \[Aanlyn\]
Beskikbaar by: [https://www.wits.ac.za/news/latest-news/research-news/2022/2022-11/mental-health-in-sa-is-at-shocking-levels-but-people-are-not-seeking-help-.html#:\~:text=“Our study shows that 25.7,of depression%2C” says Craig](https://www.wits.ac.za/news/latest-news/research-news/2022/2022-11/mental-health-in-sa-is-at-shocking-levels-but-people-are-not-seeking-help-.html?ref=olielamp.vgk.org.za#:~:text=%E2%80%9COur%20study%20shows%20that%2025.7,of%20depression%2C%E2%80%9D%20says%20Craig).
\[Toegang tot 30 June 2024\].
- World Health Organisation, 2019\. Suicide: One person dies every 40 seconds. \[Aanlyn\]
Beskikbaar by: [https://www.who.int/news/item/09-09-2019-suicide-one-person-dies-every-40-seconds](https://www.who.int/news/item/09-09-2019-suicide-one-person-dies-every-40-seconds?ref=olielamp.vgk.org.za)
\[Toegang tot 30 June 2024\].
Olielamp links: [Die Olielamp Potgooi](https://olielamp.vgk.org.za/die-olielamp-potgooi/) | [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### ‘n Verhouding met ‘n ongelowige – is dit moontlik?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/n-verhouding-met-n-ongelowige-is-dit-moontlik/
Last updated: 2024-08-10T07:00:07.000Z
*Geskryf deur Janet Feun, VGK Pretoria*
### Die huwelik as instelling van God
Wat is die primêre doel waarmee God die huwelik ingestel het? Ons lees in Genesis 2 dat God die vrou gevorm het en haar na die man gebring het om aan die man ‘n helper te gee. Sy moes hom help in die dinge wat op die diens van God betrekking het. Dit sluit ons werk in die wêreld, ons werk in God se koninkryk en ons werk in sy kerk in. Dit sluit ook in om kinders vir God voort te bring en hulle in die vrees van sy Naam groot te maak. Dit is duidelik dat bogenoemde slegs uitgevoer kan word as man en vrou dieselfde God ken, liefhet en aan Hom toegewyd is.
Reeds in Genesis 3:15, net na die sondeval, sê God vir die satan dat Hy vyandskap sal stel tussen die satan se saad en die vrou se saad. God het ‘n duidelike skeidingslyn tussen gelowiges en ongelowiges getrek, en ons kan sommer gou al in die Ou Testament sien wat gebeur as hierdie lyn oorskrei word. In Genesis 6 lees ons dat die seuns van God “vir hulle as vroue geneem het almal wat hulle verkies het,” en kort daarna volg die sondvloed. In Deuteronomium 7:3-4 verbied Moses die volk om met die Kanaäniete te trou omdat dit hulle “van My afvallig sal maak.” Dit is toe presies wat gebeur het, so lees ons in Rigters 3:6.
Die Nuwe Testament eggo die Ou Testament hierin. Natuurlik is die gelowiges nou nie meer net beperk tot een volk nie, maar God het mense van verskillende volke, nasies en tale verkies om sy heilige kinders te wees. 2 Korinthiërs 6:14 sê dan: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?” Die huwelik tussen gelowiges reflekteer die verhouding tussen Christus en sy kerk, sy bruid ([Efesiërs 5:22-33](https://www.bible.com/af/bible/5/Efe.5.22-33.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). As een van die twee nie glo nie, kom hierdie simboliese verhouding dus nooit tot sy reg nie. Selfs al sê die ongelowige dat hy nooit die gelowige se beginsels sal probeer verander nie, is daar verreikende gevolge. Kan daar regtig ware eenheid wees? Wat is die effek op finansiële besluite, etiese en morele invullings, die doel in die lewe, kinders, as die beginsels hemelsbreed verskil?
Ons as gelowiges stem dus saam dat ‘n gelowige glad nie met ‘n ongelowige in die huwelik behoort te tree nie.
Dit is nou maklik vir veral jongmense om te redeneer dat ‘n romantiese verhouding tog nog nie so ernstig soos die huwelik is nie, en dat dit daarom ‘nie so erg’ is om met ‘n ongelowige uit te gaan nie.
Geld bogenoemde beginsels vir die huwelik dan ook vir verhoudings? Dit is belangrik om te besef dat om in ‘n liefdesverhouding met iemand betrokke te wees die uiteindelike doel behoort te hê om in die toekoms met daardie persoon te trou. Vir ‘n gelowige kan ‘n verhouding eenvoudig geen ander doel hê nie. Dus geld bogenoemde beginsels definitief ook vir verhoudings.
### Wat as ek dan wel aangetrokke raak tot ‘n ongelowige?
Vir jong mense is dit ‘n aktuele vraag: wat dan as ek wel aangetrokke of verlief raak op ‘n ongelowige? Jongmense ontmoet ‘n groot verskeidenheid mense in hulle daaglikse gang: op staatskole, by die universiteit, by die werk, by die sportklub, by sosiale geleenthede. Daar word gereeld gewaarsku om nie te diep met ongelowiges betrokke te raak nie, maar soms gebeur dit sonder dat jy dit kan help: dalk moet jy elke dag langs dieselfde persoon in die klas sit of dalk is dit ‘n kollega by die werk. Dis nie noodwendig mense van wie jy net kan wegbly nie.
Wanneer jy jonk is, loop jou gevoelens en emosies hoog. Dit is dan moeilik om rasioneel te dink en die waarskuwings van jou ouers of ander aan te hoor of uit te voer. Dit is dan maklik om te redeneer: “Dalk is dit God se manier om hom/haar tot geloof te bring. Ek kan aan ‘n paar mense dink met wie dit so gebeur het; hoekom nie ook met my nie?”
Ek het myself in presies so ‘n situasie bevind. Ek en ‘n kollega het mekaar by die werk ontmoet en was dus elke dag in mekaar se geselskap. Ons het naderhand gevoelens vir mekaar begin ontwikkel. Maar hy was nie ‘n Christen nie; hy was agnosties. Alhoewel hy gesê het dat hy oop sou wees om meer van ‘ons’ geloof te leer, was dit ‘n baie moeilike situasie. Moet ek aanhou met hierdie vriendskap (en dalk in die toekoms ‘n vaste verhouding) in die hoop dat hy dalk tot geloof sal kom? Of moet ek die vriendskap dadelik verbreek om verdere en erger hartseer te vermy? Dit is baie moeilike besluite vir ‘n jongmens wie se gevoelens gewoonlik ‘n oorheersende rol speel.
### So, indien jy jouself in so ‘n situasie bevind, wat moet jy doen?
As ek terug dink besef ek hoe baie foute ek in daardie tyd gemaak het en hoe maklik dinge verkeerd kon loop. Hier volg ‘n aantal riglyne vir jongmense wat hulself in ‘n soortgelyke situasie bevind. Onthou, dis nie wenke om die verhouding te laat werk of om die persoon tot geloof te bring nie (dis immers slegs in God se hande!), maar eerder wenke om op ‘n meer verstandige manier met die situasie om te gaan. Dit is ook nie ‘n volledige en volmaakte lys nie – elke individuele situasie verskil natuurlik, maar dis riglyne wat van verskillende bronne ingesamel is: eie ervaring, ander se ervarings, Christelike literatuur, ens.
- Bid, bid, bid en spandeer báie tyd in God se Woord, selfs meer as voorheen!
- Moenie toelaat dat hierdie stadium jou verhouding met God negatief beïnvloed nie. Vra deurentyd vir sy leiding en dat Hy jou oopkop deur hierdie situasie sal laat gaan. God moet immers altyd die belangrikste in ons lewens wees. Ons moet gewillig wees om selfs die sterkste gevoelens vir ‘n ander persoon op te gee as dit indruis teen wat God van ons vra.
- Voordat jy jouself in so ‘n situasie begewe moet jy besef waarvoor jy jouself inlaat. Jy moet jouself behoorlik daarvoor voorberei, veral vir die moontlikheid dat hy/sy nié tot geloof kom nie, en dat jy dan die verhouding gaan moet stopsit. Moenie net van ‘n positiewe uitkoms droom nie, want so stel jy jouself op vir groter seer wanneer dit nie uitwerk nie.
- Maak dit dan ook van die begin af baie duidelik aan die vriend/vriendin dat as julle nie dieselfde glo nie, die verhouding nooit verder as slegs vriendskap sal kan gaan nie.
- Praat gereeld oor jou geloof; gee getuienis van wat Jesus vir jou beteken. Laat dit duidelik sigbaar wees dat God in jou lewe aanwesig is, deur aksies, woorde en dade. Maar moet dit nie afdwing of forseer nie.
- Laat hierdie vriend/vriendin sommer gou jou Christenvriende ontmoet. Dit is goed as hy/sy met verskillende Christene in aanraking kom. Dit kan wees dat jou vriende dalk meer soos hierdie vriend/vriendin dink en redeneer, of dalk met dieselfde vrae geworstel het en dit makliker kan beantwoord as jy.
- Neem jou vriend/vriendin saam kerk en Bybelstudie toe. Daar word hy/sy dan al hoe meer met verskillende Christelike onderwerpe en die teologie gekonfronteer, en ontmoet hy/sy al hoe meer Christene.
- Kry jou wyksouderling betrokke. Dit is belangrik dat ‘n leierfiguur van hierdie vriendskap weet sodat hy jou leiding kan gee, kan dophou hoe die situasie ontwikkel en vermaan of waarsku wanneer nodig.
- Dit is ‘n goeie idee om iemand as accountability partner aan te stel. Verduidelik vir hierdie persoon van die situasie waarin jy verkeer en dat jy gaan sien hoe dit ontwikkel voordat jy besluit om in ‘n vaste verhouding met die vriend/vriendin te gaan. Vra hom/haar om gereeld met jou op te volg hoe dinge verloop. Indien dit nie lyk asof daar enige vordering in die vriend/vriendin se geloofslewe is nie, vra vir jou accountability partner om jou te waarsku en af te raai om nog verder te gaan met die verhouding. Wanneer jy verlief is, staar jy jouself blind aan die goeie en hou aan hoop. Dit is meestal nodig om ‘n onafhanklike persoon te kry om oopkop na die situasie te kyk en raad te gee.
### Wenke vir vriende/familie/medegelowiges
- Bid vir God se leiding in hierdie vriendskap.
- Dit is maklik vir medegelowiges om sommer dadelik iemand wat van buite die kerk is af te keur en dadelik baie negatief op te tree teenoor die vriendskap. Dit is die verkeerdste ding om te doen – hoe straal ons dan enigsins Jesus se liefde en die genade wat ons van God ontvang het, uit? Alhoewel ek die bekommernis kan verstaan wat ontstaan wanneer ‘n gelowige betrokke raak by ‘n ongelowige, moet ons besef dat ‘n negatiewe/afkeurende houding daartoe sal lei dat daar geen vrymoedigheid van die twee sal wees om te praat oor dit wat in hulle harte en gedagtes aangaan nie. Dan gebeur dit dikwels dat hulle hulself al hoe meer onttrek. Probeer dus liefdevol omgaan met hulle, maar tog ook liefdevol vermanend. Bied vir hulle ‘n plek waar hulle die vrymoedigheid kan hê om te praat oor die geloof, hulle gevoelens, vrae, ens.
- Veral vir die jongmense: behou goeie kontak met ‘n medegelowige wat betrokke raak by ‘n ongelowige. Dit gebeur maklik dat hulle stadig maar seker kan begin onttrek van jeugaktiwiteite. Hou aan om hulle uit te nooi na sosiale- en bybelstudiegeleenthede. Julle hoef nie noodwendig altyd oor geloofsake te praat nie, maar dis belangrik vir die ongelowige om met Christenvriende omring te word met wie hy mettertyd die vrymoedigheid kan ontwikkel om geloofsvrae te begin vra, sonder om veroordeel te word.
- Ondersteun hulle, veral as die verhouding nie uitwerk nie.
### Hoe lank moet ek wag om te kyk of hy/sy tot geloof kom?
Dit is moeilik om te sê. Dit word ook nie noodwendig aangeraai om ‘n spesifieke tyd daaraan te koppel nie. Weereens gaan jy saam met God hierdie pad moet stap en dit in gebed aan Hom moet opdra.
Dit kan maklik gebeur dat die vriend/vriendin die geloof sommer ‘n goedkoop belofte maak sodat hy/sy in ‘n verhouding met jou kan wees. Dit is gevaarlik; moet dit nie sommer glo nie. Dit moet eerder duidelik word in sy/haar leefwyse dat hy/sy die geloof ernstig begin oorweeg: wanneer hy/sy begin nadink oor allerhande geloofsonderwerpe, wanneer hy/sy kom met allerhande vrae, wanneer hy/sy begin om sy/haar lewe te verander. Dis nogsteeds nie ‘n rede om dadelik met hom/haar in ‘n verhouding te gaan nie, maar dis meer oortuigende tekens dat die Heilige Gees regtig in hom/haar begin werk.
Wees dan geduldig en nie oorhaastig nie. Wees geduldig met al die vrae. Hy/sy gaan waarskynlik nog baie opstandig raak ook. Dit is eintlik selfs ‘n positiewe teken, want iemand wat erns neem met die geloof worstel met vrae wat menslik nie logies sin maak nie. Iemand wat net vir die liefdesverhouding ‘tot geloof kom’ is gewoonlik nie baie betrokke by gebed en skrifondersoek nie, en worstel nie met geloofsvrae nie.
Kry genoeg medegelowiges om te help om hierdie moeilike vrae te beantwoord. Iemand wat nie so emosioneel betrokke is nie, kan dalk meer rasioneel en geduldig antwoord.
Dit is regtig genade van God wanneer jy tekens van geloof by iemand anders sien ontwikkel. Maar dan beteken dit definitief nie dat jy maar net kan ontspan nie. Baie keer vat dit maande tot jare vir die persoon om oortuig te wees dat hy werklik uitverkies is. Groei in geloofsoortuiging gebeur ook nie eksponensieel nie: meestal gaan dit op en af. Dit kan ‘n mens moedeloos maak, maar bly vashou aan die Here en hou vas aan sy beloftes, “dat Hy wat ‘n goeie werk in \[iemand\] begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” ([Filippense 1:6](https://www.bible.com/af/bible/5/Fil.1.6.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
### So, is dit moontlik?
Ja, dit is inderdaad moontlik om ‘n ongelowige te ontmoet, verlief te raak op hom/haar, dat hy/sy tot geloof kom en dat julle op die ou einde gelukkig getroud is. Dit ís moontlik. Maar dit is die uitsondering. Ons mag nie ons liefdesverhoudings bou op waarskynlikhede (“dalk kom hy/sy eendag tot geloof”) nie, maar slegs op dit wat God se wil van ons vereis. Dit is nie wys om ‘n lewensmaat buite die geloof te gaan soek nie. Liefdesverhoudings moet definitief nie as sendingsveld gebruik word nie, want ons oorskat gewoonlik ons vermoëns om vas te staan in die geloof wanneer ons emosioneel te diep betrokke raak by ‘n ongelowige.
Dus, ook in ons liefdesverhoudings word ons opgeroep tot selfbeheersing. Die liefde het keuses en besluite waaroor ons beheer het en waarvoor ons verantwoordelikheid moet neem. Aangetrokkenheid tot ‘n persoon wat nie ons geloof en beginsels deel nie, kan onderdruk word. Die wêreld vind hierdie benadering onnatuurlik, maar dié wie die lewende God dien is bereid om alle begeertes wat met sy wil teenstrydig is, op te gee.
Tog werk God op verskillende maniere om skape by sy kudde te voeg en moet ons nie summier alle vriendskappe met ongelowiges afwys nie. Dit bly ‘n moeilike situasie waarin baie moeilike besluite geneem moet word en waarin baie duidelike grense gestel moet word. Dis ‘n pad wat jy slegs in afhanklikheid van God sal kan stap; nooit in jou eie krag nie. Dit raak ‘n baie gevaarlike situasie wanneer jy self gaan begin plannetjies maak en op jou eie insigte begin staatmaak.
### Afsluiting
Nadat ek en Sean mekaar in 2012 ontmoet het, het hy oop gestaan daarvoor om my Christenvriende te ontmoet en saam met ons kerk toe te gaan. Daar het hy al hoe meer Christene ontmoet en ‘n hele aantal gemeentelede het ‘n geweldige impak op die pad wat ons gestap het, gehad. Ons is werklik dankbaar teenoor hulle. Hulle was gasvry, vriendelik, geduldig en altyd bereid om leiding te bied in moeilike worstelinge en raad te gee, sonder om te oordeel. Dit het die moeilike en toe nog onbekende pad baie draagliker gemaak en God se liefde regtig duidelik sigbaar gemaak. Mettertyd het dit duidelik geword dat die Heilige Gees in Sean begin werk: hy het baie tyd in die Woord spandeer, gebid, gesmeek, verskillende bronne geraadpleeg en dit oordink, vrae gevra.
Maar dit was nie net easy going van daar af nie. Daar was dae, weke, maande wat worstelinge oor geloofskwessies die oorhand gekry het. Dan weer tye van rustigheid en aanvaarding. En dan kom die twyfels weer. Oor ‘n aantal jare het die tye van vrede en oortuiging van God se uitverkiesende werk in hom oorgeneem, en het die twyfels en worstelinge al hoe meer begin afneem.
In 2016 het Sean openbare belydenis van sy geloof gedoen. Einde 2017 is ons getroud. Wanneer ons terugkyk op die afgelope 12 jaar, is dit met groot dankbaarheid en verwondering. Dit is slegs God se genade dat Hy Sean op hierdie manier by sy kudde gevoeg het, en daarvoor kom Hy alle eer en dank toe.
🎙️
Die Olielamp het hul eie potgooi begin!
Skakel elke Saterdag in vir geloofsgesentreerde gesprekke, insigte uit die Skrif, en praktiese riglyne vir jou daaglikse wandel met God.
Vind gerus meer inligting deur die volgende skakel te volg:
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Brief aan ‘n Liefdesoeker
URL: https://olielamp.vgk.org.za/brief-aan-n-liefdesoeker/
Last updated: 2024-08-03T07:00:58.000Z
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata*
Liewe Soeker,
Verhoudings is ‘n tema wat ‘n baie groot rol speel in die jeug se fase van die lewe. Ons is jong mense wat klaar maak met skool of universiteit en soek graag iemand om ons lewens mee te deel - bewustelik of onbewustelik.
> “Daar is baie visse in die see!”
Klink dit bekend? Wel, die werklikheid is nie altyd so eenvoudig soos die bogenoemde stelling dit laat klink nie. As jy al vis gevang het (of net probeer het), weet dat die visse nie altyd byt nie. Jy kan dieselfde aas gebruik as die ou langs jou wat sopas ‘n pragtige vis uitgetrek het, maar jou emmertjie bly leeg. Geen vangs, geen vis, geen liefde.
Dit is belangrik om te noem dat ons nie dieselfde as almal anders rondom ons moet doen as dit kom by die soeke na ‘n lewensmaat nie. Sosiale media en Instagram trends het die verhoudingswêreld besoedel. Almal soek nou wat almal anders het, want hulle foto’s lyk so ideaal. Maar ons besef nie dat dit nie vir ons is nie. Jou lewe is uniek en baie anders as ander mense. Hoekom soek jy nou presies dieselfde tipe ou met dieselfde haarstyl of ook só ‘n meisie met sulke make-up? Die Here het man en vrou gemaak om bymekaar te pas: fisies, emosioneel en geestelik. Almal is verskillend, met verskillende rolle, take en gawes.
Ons en die wêreld is baie keer bekommerd oor looks of persoonlikheid, maar moet ons daarop fokus? Moet my nie verkeerd verstaan nie – ons moet aangetrokke wees tot ons tweede helfte en beide persoonlikheid en looks dra daartoe by.
Nou waarna kyk ons wel?
Kyk na Genesis 2, spesifiek vers 21\. God het vir Adam ‘n vrou gemaak en gegee. In hierdie ‘transaksie’, as ek dit so kan stel, staan God sentraal. Elkeen van ons, as ons na iemand soek of reeds iemand het, moet besef dat God sentraal moet staan. As Hy nie doen nie, gaan ‘n mens in ‘n verhouding op mekaar moet staat maak. Hoe betroubaar is ‘n sondige mens? Hy is mos nie vlekkeloos nie? Die Skrif is duidelik oor die sondige aard van die mens.
In Genesis 2 stel God die huwelik in. Dit is immers die doel van uitgaan, is dit nie? Hoekom gaan ons uit? Om na die huwelik heen te werk. Maar hoekom stel Hy nou juis die huwelik in? Hoekom trou ons? Hoekom woon ons nie net saam en sluit ‘n saamwoonkontrak soos deesdae begin gebeur nie? Wat maak die huwelik die huwelik? God is die een wat die huwelik sluit. Dit is hoe die huwelik met blote saam woon en saam slaap verskil. Waarom sal Hy dan nie sedert dag een sentraal in ‘n verhouding tussen man en vrou staan, as die huwelik juis oor Hom gaan nie?
Daar is ongelooflik baie om te sê oor verhoudings en biblioteke vol is daaroor geskryf – ek gaan onmoontlik alles kan sê wat gesê moet word. Daarom is die fokus van hierdie brief op God se plek in die verhouding, want dit is die belangrikste aspek van ware liefde.
In die boek, When sinners say I Do, word die beeld gegee van die huwelik as ‘n knopieshemp. Sodra die eerste knopie van ‘n hemp nie die regte gaatjie vind nie, gaan die res van die knopies nie oplyn nie en gaan die hemp lelik lyk. Bespotlik. As God nie sy plek in die verhouding het nie, gaan die res van die liefdesaspekte nie op hul plek wees nie. Die verhouding gaan nie kan funksioneer nie. Liefde gaan lelik wees, bespotlik. Is dit nie wat die sondige natuur van die mens deesdae daarvan maak nie? Ons hoef nie ver te kyk nie, want rondom ons in ons eie kringe breek verhoudings en huwelike as gevolg daarvan. Liefde is deesdae afgemat, lelik en bespotlik.
Elke deelgenoot van die verhouding (jy ook) moet ‘n persoonlike band met God hê. Wanneer beide man en vrou se geloof groei, groei hulle nader aan God en uiteindelik nader aan mekaar. Liefde vir God en liefde vir jou naaste loop hand aan hand. So vind die huwelik sy doel: om saam tot eer van God te lewe. Dít is hoekom God dit ingestel het. Reeds voor die sondeval was die huwelik daar met ‘n doel. God moet die fondasie wees. Dan bou jy jou huis en gesin op rots en nie op sand nie. In ‘n huis waar God sentraal staan, kan die mure nie ineenstort nie.
Nog ‘n vraag: Hoekom dra ‘n bruid ‘n wit rok op die bruilofsfees? Is dit net omdat dit mooi is? Daar is baie om te leer oor verhoudings in die Bybel. Die hele evangelie word uitgebeeld deur ‘n huwelik tussen Christus en sy kerk. So kan ons elkeen in ons eie verhoudings, op ons eie troudag of die troudag van iemand anders sien hoe Christus ons vuilheid met sy bloed kon reinig. Spierwit en skoon. Christus maak gebroke huwelike heel en maak huwelike juis ekstra mooi. Hy maak ons elkeen weer mooi en heilig vir die Vader.
Wanneer ‘n mens met die bril van die evangelie en ware insig na die verhouding en huwelik kyk, word tekste wat handel oor die rolle van mans en vrouens ([bv. 1 Kor 7: 1-8](https://www.bible.com/af/bible/5/bv..1Kor7.1-8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) pragtig, wat vir die wêreld miskien dom en verkeerd lyk.
Dus, wil jy ‘n meisie kry? Wil jy minder eensaam lyk op jou profielfoto? Gaan nooi daardie seun vir ‘n roomys by McDonald’s. Gaan vra daardie meisie vir ‘n koffie. Deel die Psalmboek. Staan jou man, wees ‘n man, en gaan op ‘n date. Wil jy die sonsak met iemand aan jou arm geniet, die warm gloed van die son op jou gesig voel en die vuur van liefde in jou hart voel opvlam? Wil jy ‘n man ontmoet wat oor jou waak en, soos Christus, jou liefhet? Gaan soek in die Woord - by God self - na raad. Bid tot jou Vader wat in die hemel is. Gaan praat met medegelowiges hieroor, miskien met jou ouers of jou mentor. God het die huwelik ingestel, Hy sal jou die pad ook wys.
Selfs wanneer jy bang is dat jy alleen gaan wees, gee God ook daarvoor sy raad en troos ([1 Kor 7: 8](https://www.bible.com/af/bible/5/1Kor.7.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Hou aan om jou dagtaak te doen en jou roeping uit te leef. Uitgaan en trou is waarlik nie als in die lewe nie. Ons primêre doel in die lewe (of ons in ‘n verhouding is of nie) is om die Here te prys. Dit bly altyd dieselfde. Fokus daarop.
Ek hoop jy kom reg, die Here hoor graag van jou.
Liefde in ons Here,
Die Christen
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ek is trots, maar op wat?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is-trots-maar-op-wat/
Last updated: 2024-07-27T07:00:54.000Z
*Geskryf deur Johann Snijder, VGK Maranata*
In hedendaagse gesprekke dra die konsep van trots dikwels 'n negatiewe konnotasie, veral binne ons eie Christelike kringe waar nederigheid hoog aangeskryf word. Tog is dit deel van ons daaglikse taalgebruik. Ons sê: “Ek is trots op my prestasies in sport.” of “Ek is trots op my goeie punte, want ek het so hard gewerk daarvoor.” ‘n Ouer sal sê dat hulle trots is op hul kind wat dit of dat bereik het. Wanneer ons dit hoor is dit nie vir ons vreemd nie, maar roem ek op hierdie manier op myself? Raak ek hoogmoedig? In ons geloof moet ons trots wees! Ek is versigtig om dit te sê, maar laat ek verduidelik. Geagte leser, hierdie gereformeerde siening van ‘Christelike trots’ gaan nie oor selfverheerliking nie, maar oor die erkenning, dankbaarheid en viering van die werk van God in en deur ons lewens.
Kom ons kyk vir ‘n oomblik na ‘n paar belangrike teologiese waarhede waaraan ons vashou. Ons beklemtoon die soewereiniteit van God en die totale verdorwenheid van die mens, wat ons volledige afhanklikheid van God se genade beklemtoon. In hierdie konteks wil ek graag ‘Christelike trots’ duidelik definieer nie as 'n persoonlike prestasie nie, maar as 'n erkenning van die werking van God se genade in ons lewe. Vir ons is ‘n meer verstaanbare woord dan miskien eerder ‘dankbaarheid’. In plaas daarvan om te sê: “Ek is trots op my punte” kan ek eerder sê: “Ek is dankbaar vir my punte.” Die apostel Paulus praat dikwels in sy briewe van roem, roem in die Here. In 1 Korintiërs 1:31 haal hy die profeet Jeremia aan wat sê: "Die wat roem, moet in die Here roem." Hierdie soort roem verskuif die fokus van onsself na God en erken dat alle goeie dinge wat ons in ons lewe ervaar, van Hom afkomstig is.
Wanneer ons dink aan ons nuwe identiteit in Christus en ons roeping, verander dit ook ons definisie van roem. Ons word geroep om trots (oftewel dankbaar) te wees, nie op ons eie prestasies of inherente kwaliteite nie, maar op ons identiteit as aangenome kinders van God. Hierdie trots is gewortel in die veranderende werk van Christus se versoening aan die kruis en die voortdurende heiligmaking deur die Heilige Gees. Efesiërs 2:10 sê vir ons: "Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel." Ons identiteit is te danke aan God en sý werk. Dit is wat aan ons waarde gee en dit is die enigste rede waarom ons wel kan roem, of kan trots wees.
Ons mag roem oor God se werk in die gemeenskap. Die kerk, as die liggaam van Christus, is 'n lewende getuienis van God se verlossende werk. As gemeenskap van Christus mag ons trots wees, nie weens ons eie menslike prestasies nie, maar weens die getuienis van God se werk wat daarin na vore kom. Diensbaarheid, gesamentlike geestelike groei en gemeenskaplike byeenkomste soos die erediens is alles getuienisse van die genadewerk wat God onder ons doen. In 1 Tessalonisense 1:2-3 spreek Paulus sy dankbaarheid uit oor die Thessalonicense se geloof, liefde en lydsaamheid, en beklemtoon ook dat al hierdie dinge die werk van God onder hulle is. Ons behoort ‘n baie duidelike onderskeid te tref wanneer dit kom by ons kerkgemeenskap. Laat ons ver daarvan bly om hoogmoedig te raak oor ons eie gemeenskap. Romeine 3:23 behoort in ons harte te wees in hierdie verband: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Ons waarde lê alleen in Jesus Christus, nie in die naam van die kerkverband wat ons dra nie. As ons hoogmoedig raak oor ons eie kerkverband verdraai dit die boodskap van die evangelie en breek dit die eenheid van die liggaam van Christus af. Ja, dit skep verdeeldheid. Dit beteken dat wanneer ‘n besoeker by ons op die kerkplein kom, voel hulle uitgesluit en onwelkom. ‘n Verdere gevaar vir ons as ons hoogmoedig raak oor ons kerkverband is dat ons eie geestelike lewe stagneer. Dis asof ons dink ons reeds by die eindbestemming van die pelgrimstog aangekom het. Dit veroorsaak dat ons nie meer geestelik groei of verbeter nie. Die Here het ons opgeroep tot heiligmaking in hierdie lewe. Laat ons dan elke dag smag om nader en nader te groei aan Christus van wie al hierdie dinge kom. Wanneer ons dan op onsself begin roem moet ons terugdraai na Paulus se vraag in 1 Kor 4:7: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”
Ons straal ook ‘n beeld uit na die wêreld. ‘n Gemeenskap wat hoogmoedig is beskadig sy getuienis aan die wêreld. In plaas daarvan om mense te trek na Christus, dryf ons hulle weg. Hoogmoed beskadig die naam van Christus wat ons dra. Wanneer ons verstaan dat ons identiteit en prestasies gewortel is in God se genade, kan ons ons geloof vol moed en nederigheid aan die wêreld uitstraal. Hierdie nederige vertroue word weerspieël in 2 Korintiërs 3:4-5, waar Paulus sê: "So ‘n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God”. Die Gees maak ons lewend, maar wanneer ons uit die letter van die wet leef dan is ons dood. Leef daarom in dankbaarheid in die Gees.
Ware ‘Christelike trots’ moet altyd lei tot groter nederigheid en dankbaarheid teenoor God. Dit is 'n voortdurende erkenning van ons afhanklikheid van Sy barmhartigheid en genade. Filippense 2:3-4 leer ons: "Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” Ek wil jou, leser, graag uitnooi om God se werk in jou lewe raak te sien en te vier, met nederigheid en dankbaarheid teenoor God wat dit in Christus aan ons gegee het. Daarom wees trots, nie op jouself nie, maar op die transformerende krag van God se genade in jou lewe, jou nuwe identiteit in Christus, en die gemeenskap van geloof wat deur Sy genade gebou word.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### ‘n Persoonlike verhouding met God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/n-persoonlike-verhouding-met-god/
Last updated: 2024-07-20T07:00:09.000Z
*Geskryf deur Mark Moes, VGK Pretoria*
Ons lewe in ‘n wêreld waar die gemiddelde persoon 10 000 advertensies per dag sien en ten minste 60 keer per dag onderbreek word as ons met iets besig is. Het jy al ooit die reuse vryheid gevoel wanneer jy in die natuur weg van al die gejaag is? Vandag wil ek kyk na hoe die duiwel ons probeer weg hou van ons Vader en hoe ons ons verhouding met Hom kan opbou.
Hoeveel mense ken jy? Hoeveel mense ken jy persoonlik? Heel waarskynlik is die antwoord op die eerste vraag baie hoër as op die tweede. Hoe ken jy God? Ken jy Hom deur jou ouers? Deur die dominee? Hierdie maniere waarop ons God leer ken is nie verkeerd nie, maar ons kan nie hierby bly nie. God soek meer vir sy kinders. Hy wil hê jy moet Hom persoonlik ken. Hy wil met jou praat en Hy wil hê jy moet met Hom praat. Maak jou Bybel oop en sê soos Psalm 25:5: “Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.” Die hele dag? Nee, ek het ‘n vaste Bybelstudie- en gebedstyd. Ek het struktuur in my lewe. Ons moenie nie so dink nie. God is ‘n jaloerse God. Hy wil hê jy moet met Hom praat. Oor Hom, maar ook met Hom. Selfs oor die klein dinge waaroor jy met jou vriende praat. Volle afhanklikheid het nie perke nie, praat met Hom oor die grootste probleme in jou lewe, maar ook oor die kleinste vreugdes.
Dit is nie verkeerd om saam met ander mense jou geloof uit te leef nie. Inteendeel, dis ook ons plig en roeping. Ons is een liggaam in Christus, maar die liggaam kan nie funksioneer as elke ledemaat verwag dat die ander een vir hom sy taak moet uitleef nie.
Ons kan so gewoond raak aan God se wonders dat ons dit mis kyk. Ek het ‘n vakansie deurgebring in ‘n huis wat minder as honderd meter van ‘n treinspoor af was. Eers het ek in die nagte wakker geword as die trein verby kom. Maar na net 2 maande het ek die trein nie eers meer gehoor nie. Ons moet in ons geloofs- en kerkgemeenskap nie vergeet met watter wonder ons te doen het nie. God het sy Eniggebore Seun vir ons na die aarde gestuur. Is ons nie dikwels te besig met die gejaagdheid van die lewe om hierdie geskenk vir onsself toe te eien nie? In Johannes 15:15 noem Jesus sy dissipels sy vriende, omdat Hy hulle sy Vader se leer geleer het. Net so noem God Abraham sy vriend. Hoekom? Want hy het persoonlik tot hulle gespreek en hulle het God se woorde hulle lewe laat vorm. Abraham verlaat sy familie en sy land en gaan na waar God hom lei. Ons kry elke dag ook persoonlike oproepe van God as ons Hom toelaat om deur sy Woord tot ons te spreek. Laat jy toe dat al die wêreldse afleidings jou verhinder om te verander?
Daar was ‘n vrou wat in ‘n bakkery gewerk het en na die werksdag dikwels gou inkopies gaan doen het. Sy het besef dat wanneer sy in die gange van die winkel loop, mense begin rond kyk en wonder wat so lekker na brood en ander gebak ruik. Dit was sy! Sy het soveel tyd in die nabyheid van vars gebakte brood deurgebring dat sy daarna begin ruik het. So werk dit ook in ons lewe: As jy baie tyd met God spandeer sal jy ‘n “geur” kry van God se goedheid en mense sal “ruik” dat jy anders is. Moenie deur die week ‘n vrot geur opbou in die wêreld en dan stinkend in die kerk inloop en daarna net weer met jou vrot reuk verder gaan nie. God roep jou! Hy het ‘n hoër doel vir jou en Hy sal eendag vir jou wit, rein klere gee. Openbaring 3:5: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” Dit sal volkome na Sy goedheid, genade, regverdigheid en liefde “ruik”.
Wanneer die duiwel, jou eie sondige natuur en die wêreld in jou oor kom skree, druk jou ore toe en luister na die HERE. Word stil voor God. Job 37:4-5 sê: “Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie. God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.” Moenie hierdie groot God wegskuif na ‘n plekkie op jou rak of na die preekstoel in die kerk nie. Soek na ‘n lewende band met Hom. Dan kan ons sonder skynheiligheid sê: “Die weg van God is volmaak; die Woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Want wie is God buiten die HERE, en wie 'n rots buiten onse God? Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my 'n weg volkome uitgesoek. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.” 2 Samuel 22:31-33
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Rol van die Vrou in die Kerk, Huishouding en Samelewing
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-rol-van-die-vrou-in-die-kerk-huishouding-en-samelewing/
Last updated: 2024-07-13T07:00:49.000Z
*Geskryf deur Kirsten de Beer, VGK Bellville*
In God se soewereine ontwerp is mans en vrouens verskillend geskape, maar met unieke rolle wat mekaar aanvul net soos God die kerk aanvul. Alhoewel dit verskil in funksie en verantwoordelikheid, is die vrou se rol in die kerk, huishouding en samelewing nie minder belangrik of minder waardevol nie. Die moderne feministiese beweging vertel ‘n verhaal van onderdrukking, maar God het die rol van ‘n vrou so gemaak om haar waardevolle talente te beskerm, sodat sy mag floreer in sy goddelike plan. Inteendeel, die Bybel verhef die vrou wat haar Godgegewe rol aantrek en Hom verheerlik daarin ([Spreuke 31:10-31](https://www.bible.com/af/bible/5/Pro.31.10-31.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Christenvroue word hartlik aangemoedig om honger te wees vir die lering van die Woord. In die kerk word vrouens aangemoedig om te groei in kennis en begrip en om wysheid te deel met jonger susters in die geloof.
Alhoewel daar ‘n beperking bestaan wat vroue verbied om gesag oor die kerk uit te oefen, is dit nie ‘n ontkenning van hulle geestelike waarde nie. Dié konsep vir die bediening is deur God ingestel. Die manlike geslag is aangestel oor die gesin, soos God oor sy bruid (die kerk), dus is dit die man se taak om sy gesin geestelik te lei in die weë van die Here.
Vrouens kan beslis in die kerk lering gee, maar net in bedienings wat nie gesag uitoefen oor mans nie ([Titus 2:3-4](https://www.bible.com/af/bible/5/Tit.2.3-4.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Paulus het aangeneem dat die vrouens in Korinthe sal profeteer ([1 Kor. 11:4–5](https://www.bible.com/af/bible/5/1CO.11.4-5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en deur die hele Skrif is vrouens medewerkers in diens van die koninkryk ([Eks. 15:20–21](https://www.bible.com/af/bible/5/EXO.15.20-21.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), [Kol. 3:16](https://www.bible.com/af/bible/5/COL.3.16.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit is nie 'n beperking nie, maar 'n roeping tot ‘n ander soort diens - een wat ‘n kritieke rol speel in die lewe en gesondheid van God se kerk.
Die huishouding is ‘n mikrokosmos van die samelewing waarin die rol van die vrou en moeder noodsaaklik is. Die vrou se rol is om onderdanig te wees aan haar man in die gesin, net soos die kerk onderdanig is aan Christus. Sy is gemaak om kinders te dra en saam met haar man hulle groot te maak in die weë van die Here.
Die kerk het moeders nodig om vir die familie van God te sorg. Ons moet ons verantwoordelikheid aanvaar en gretig soek na wie die Here wil hê ons moet koester. Daar is geen onvrugbaarheid onder gelowige vrouens nie. Deur die evangelie word almal moeders op verskeie maniere. Anders as biologiese moederskap, kan geestelike moederskap vir honderde, selfs duisende, geslagte geweldige waarde in hou.
Aan die ouer vrouens in die geloof, sien jy die belangrikheid van jou wysheid en voorbeeld? Geestelike babas het hulp nodig om God se Woord oop te maak, om in vrede met God en ander te lewe en om die lig te wees in die donker wêreld. Babas het moeders nodig.
Om medeskeppers te wees met die God van die heelal deur nuwe lewe te kan verwek en te dra, is ‘n geweldige seën. In hierdie samelewing het die rol van moederskap in groot oneer en verwaarloosheid verval. As Christene moet ons onthou: die duiwel is altyd daarop uit om die beeld van God in die wêreld af te breek. So het hy ook gesonde vrouwees afgebreek. Die beeld van die vrou word afgebreek deur pornografie, egskeidings wat ongeveer 20 000 keer per jaar in Suid-Afrika plaas vind en aborsies wat ongeveer 200 000 keer per dag wêreldwyd gebeur.
Eva se rol was om haar Godgegewe vroulikheid te aanvaar. Ons is gemaak om God se instrumente te wees. Hoe kan jy die sout van die wêreld wees as jy nooit uit die soutpot kom nie? Hoe kan jy die lig van die wêreld wees as jy bedek word met 'n mandjie? Hoe kan jy die suurdeeg wees as jy nooit deur die deeg versprei nie? Dit is tyd dat ons, as Christendogters, vrouens en moeders ons lewens absoluut oorgee vir die wil en plan van ons Here God.
Ons samelewing het die invloed en optrede van Christenvroue dringend nodig. Dit is ons plig as Christenvroue om die helder lig van God en sy karakter aan die wêreld te reflekteer.
### Bronne
- Reformasie Studie Bybel (ESV)
- [https://www.ligonier.org/learn/qas/what-ministry-roles-can-women-fill-in-the-church](https://www.ligonier.org/learn/qas/what-ministry-roles-can-women-fill-in-the-church?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.desiringgod.org/books/recovering-biblical-manhood-and-womanhood](https://www.desiringgod.org/books/recovering-biblical-manhood-and-womanhood?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/articles/let-me-be-woman](https://www.ligonier.org/learn/articles/let-me-be-woman?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/posts/motherhood-marriage-and-living-coram-deo](https://www.ligonier.org/posts/motherhood-marriage-and-living-coram-deo?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.scriptura.co.za/2024/05/1-tim-21-15-se-toepassing-vir-vandag/](https://www.scriptura.co.za/2024/05/1-tim-21-15-se-toepassing-vir-vandag/?ref=olielamp.vgk.org.za) (vanaf 25:20)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ontdekkingsreisiger in die kunswerk van alle kunswerke
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ontdekkingsreisiger-in-die-kunswerk-van-alle-kunswerke/
Last updated: 2024-07-06T19:00:25.000Z
*Geskryf deur Arjan Boon, VGK Maranata*
Rembrandt, beroemde meester, begin met 'n voorbereidende houtskoolskets op sy doek van fyn linne. Sy palet bevat handgemaakte verf, vakkundig saamgestel uit olie en pigmente. Met 'n paletmes meng hy die verf tot die gewenste kleure. Sy verskeidenheid kwaste is van egte varkhare, elk van verskillende groottes en vorms. Daar is fyn kwaste vir detailwerk en breër kwaste vir groter oppervlaktes en agtergronde. Met sy paletmes voeg hy tekstuur en diepte by. Laag vir laag bou hy sy skildery op, met elke instrument wat sy rol vervul in die skepping van die finale meesterstuk.
Nou, eeue later, word Rembrandt se skilderye met intense belangstelling deur kunskritici ondersoek. Een van hulle doen navorsing oor hoe die verf so treffend op die doek aangebring is. In sy notaboekie skryf hy dat daar iets agter die kwashale, vorms en vlakke moet wees. En na jare se ondersoek en toetse konkludeer hy dat die skildery sonder twyfel geskep is deur houtskool, verf, kwaste en paletmesse. Hierdie dinge het die kunswerk gemaak. Die navorser het duidelike bewyse daarvan, want met sy mikroskoop het hy iets harigs op die doek ontdek, wat na ondersoek geblyk het ’n varkhaar te wees. Met gesofistikeerde eksperimente en die wiskundige berekening van ‘n 3D-model kom hy tot die gevolgtrekking dat daar ook ‘n paletmes betrokke was. Die bewyse is waterdig en met volledige sekerheid maak hy sy gevolgtrekking: Die maker van hierdie skildery is ’n kwas en paletmes!
Enige nugter persoon sal natuurlik weet dat hierdie kunskritikus nie volledig by sy verstand is nie. Al is daar ’n kwas en paletmes gebruik, is dit mos vanselfsprekend dat hierdie instrumente op hulle eie nie skeppingskragtig is nie, maar dat daar ’n kunstenaar was wat hulle vasgehou het en dat hy alle eer moet kry.
Tog kyk baie ‘nugter’ mense nie vreemd as soortgelyke bevindings gemaak word oor die grootste kunswerk van alle kunswerke nie. Die Skepper word misgekyk in sy skepping. Die aarde is 4.543 miljard jaar oud of dalk ‘n 100 miljoen meer of minder. Deur ’n groot ontploffing het alles uit niks ontstaan. Deur die beginsel van oorlewing van die sterkste en verloop van ongekende lang tydperke moes die prehistoriese vis tot ‘n mens ontwikkel het. In die heelal met sy drie dimensies het die sterre en planete ontstaan deur biljoene jare. En met die spoed van lig is die heelal besig om groter te word. Dit alles kom daarop neer dat die Big Bang die dryfkrag van ewolusie is. Die ‘wetenskap’ bewys dit oor en oor. Baie meer dollars as die aarde se jare word jaarliks gespandeer aan ingewikkelde eksperimente. Die bewyse is waterdig en met vasberadenheid kom hulle tot die gevolgtrekking.
Maar wie bereid is om nugter te dink, kyk verder. Die moderne mens vereer die kwaste en nie die Kunstenaar nie. God het op ’n skilderdoek (die heelal) ’n kunswerk geskep; en dit met verf wat Hy self gemeng het (die materie) en kwaste wat Hy self gemaak het (die tyd). Sy kunswerk vertoon ‘n ongeëwenaarde harmonie van kleure (die natuurwette wat Hy ingestel het). Is die kunsgereedskap – natuurwette, materie en tyd – groter as die kunstenaar? Waarom word hulle dan vereer?
Dis ironies hoe hedendaagse mense hulleself verhewe ag bo die ‘primitiewe’ mense van vroeër. Daardie mense het nog gode en tempels nodig gehad. Ironies genoeg het die hedendaagse mens ook tempels, soos wetenskaplike geboue. Elke paar dae gaan ’n raket in offerrook omhoog aan die groot god van die wetenskap.
Is dit verkeerd om verwonderd te wees oor die wetenskap en dit wat hulle uitvind oor die natuurwette, materie en tyd? Moet ons hierdie kunsgereedskap weggooi? Nee, juis dít is ook deel van die ongelooflike skepping. Deur die studie van die kunswerk leer ons ook om die kunsinstrumente raak te sien en hoe dit ook fantasties goed geskep is. Des te meer sal ons die Meesterbrein daaragter vereer. Ons mag leer hoe sy skepping inmekaarsit en ons verstand gebruik om wonderlike toepassings uit te dink wat in die skepping beslote is. Deur die verstaan van wiskunde en wetenskap leer ons iets van die kwas in God se hand en hoe Hy dit hanteer.
’n Motorkar is ’n indrukwekkende uitvinding en as jy leer verstaan hoe dit werk is dit net nog soveel meer besonder. So mag ons steeds beter leer verstaan hoe God se skepping inmekaarsit. Dit maak ons soveel meer verwonderd daaroor.
> “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” ([Psalm 8:4-10](https://www.bible.com/af/bible/5/PSA.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Lig van die Gelowige Vrou - Karakter bou tot eer van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-lig-van-die-gelowige-vrou-karakter-bou-tot-eer-van-god/
Last updated: 2024-06-29T18:00:28.000Z
*Geskryf deur Lianne van Renssen, VGK Bellville*
> Artikel gebaseer op Spreuke 31:10-31
Baie gedeeltes in die Bybel handel oor die lig wat ‘n Christen uitstraal en hoe hul karakter die beeld van God na buite reflekteer. Een van hierdie gedeeltes is Spreuke 31:10-31, wat die gelowige vrou aanspreek.
Die moderne verwagting van die vrou is om vereer te word. Sy plaas dikwels haarself op die voorgrond. Sy wil erkenning hê vir hoe waardevol sy is, watter loopbaan sy volg en dat sy nie afhanklik is van ‘n man om haar te help nie. Sy streef nie daarna om in 'n Christelike huwelik te wees waar sy vir haar gesin kan sorg nie. Haar skoonheid word op hierdie manier met sonde besmeer en bevlek. In teenstelling hiermee sê die Bybel dat ‘n deugsame vrou se waarde ver bo korale is ([Spreuke 31:10](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.31.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), dat sy voel dat haar wins goed is ([Spreuke 31:18](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.31.18.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en dat sy van ver af haar brood inbring ([Spreuke 31:14b](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.31.14.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). So waarom is dit so verkeerd dat hierdie vrou haarself so sien?
Mag die vrou dan nie werk en vir haarself sorg nie? Natuurlik wel. In werklikheid is daar baie vrouens wat nie getroud is nie en vir hulself moet sorg. Die probleem is egter wanneer die vrou se siening net oor haarself en haar eie eer begin gaan en van die waarheid van God begin afdwaal. Daarom is dit belangrik dat vrouens na die Bybel moet kyk om hulle te laat lei om soos 'n ware Christen in die lig van God te lewe.
Spreuke 31:10 sê: “Wie sal ’n deugsame vrou vind, want haar waarde is ver bo korale”. Hierdie vers dui op die waarde van vrouens en die rol wat hulle in die samelewing speel as vrou vir hulle man, moeder van die gesin, versorgsters en ander rolle wat die vrou vervul. Die bedoeling van hierdie teks is nie om hoogmoed te wek nie, maar eerder om haar te herinner dat sy in die beeld van God geskape is. Dit kom baie voor dat vrouens onderdruk of verneder word omdat hulle fisies swakker as mans is en daarom as die ‘swakker geslag’ beskryf word. Die teks bedoel egter dat sy ’n goeie selfbeeld moet hê. Sy is steeds in God se beeld geskape en sy toon dankbaarheid teenoor hoe Hy haar geskape het.
“Die hart van haar man vertrou op haar” om vir haar gesin te sorg soos in vers 13, 15 en 21 staan. Hoe sy die huis en plaas onderhou staan in verse 16, 18 en 19\. Die vrou werk van vroeg oggend voor die son opkom (v15), maak klere (v19, 21, 22, 24) en bring voedsel van ver af en berei dit vir dié in haar huis voor (v14, 15). Dit wil sê dat die vrou hardwerkend is en soos vers 27 sê, dat sy nie van die brood van luiheid eet nie. Sy sorg vir haar gesin, wat ook een van die take is wat God vir die vrou gegee het in die huwelik. As moeder versorg sy haar kinders en leer sy hulle wyshede en maak hulle groot in die lig van God (v26). Sy laat nie haar kinders by 'n versorgster of dagsorg om te kan gaan werk as dit nie noodsaaklik is nie. Nee, haar prioriteit lê by haar kinders en sy sal enige iets doen om hulle te beskerm, te versorg en op te voed. As vrou sorg sy vir haar man. Dit is juis waarom die digteres skryf dat die man se hart op haar vertrou. Sy is lief vir hom en wil hom daarom ondersteun en help. Sy kom ook die behoeftes van ander agter en sien dit as haar taak om vir hulle ook te sorg, asook vir die armes en ellendiges (v20). Sy is besorg oor die welsyn van ander, sal moeite doen om ander te help en verseker dat sy hulle kan help.
Ten spyte van al die voorsorg wat sy tref, is dit steeds duidelik dat sy al haar bekommernisse by die Here laat en alleenlik op Hom vertrou, soos dit in vers 25 aangehaal word.
Vers 29 spreek die ongunstige gedrag van jong meisies aan wat hulself aantrekliker laat lyk om aandag te trek. Jong mans sien ’n mooi meisie raak en dikwels speel dit ’n groot rol in die keuse van 'n huweliksmaat. Tog sê die teks in vers 30 dat uiterlike skoonheid net nietigheid en bedrog is. Waarde kan slegs gevind word in die vrou wat die Here vrees. Hierdie eienskap is groter en van ewige waarde. Dit is wat by ’n vrou gesoek en geprys moet word. Spreuke 18:22 sê: “Wie ’n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ’n welgevalle van die Here verkry”, want haar waarde is ver bo dié van korale. Sy is ’n seën vir haar man, van God ontvang. Sy doen goed aan haar man ([Spreuke 31:12](https://www.bible.com/af/bible/5/Spr.31.12.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en werk fluks om haar huisgesin te versorg met voedsel en klere ([Spreuke 31: 15](https://www.bible.com/af/bible/5/pro.31.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Hierdie tekste verwys na die rol van die vrou in die huwelik, wat ook genoem word in Efesiërs 5:22-24 en Genesis 2:18b waar daar staan: “Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas”. Beteken dit dan dat vrouens as bediendes vir hul mans moet optree en al hul behoeftes sonder vraagteken bevredig? Nee, die woord ‘hulp’ word eerder gesien as een persoon wat die ander as vriend of bondgenoot bystaan en ondersteun. Dikwels word die woord ook gebruik om na God te verwys ([Psalm 46:2](https://www.bible.com/af/bible/5/Psa.46.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). God het vrouens nie geskep om as slawe behandel te word nie, maar eerder om as ’n maat, op haar man se vlak, hom aan te vul en by te staan. Net so word die woord ‘onderdanig’ in vandag se konteks as ’n negatiewe en vernederende term beskou. Dit word ook so gebruik, daarom verander baie mense se siening oor die teks in Efesiërs 5:22, veral nou met feministiese bewegings wat die moderne vrou wil bekragtig en verhoog. Die vryheid waarmee die digteres van Spreuke 31 dink, praat en optree, sowel as die lof en bewondering wat sy van haar man en kinders ontvang, is ’n aanduiding dat die vrou nie bloot die besitting en dienares van haar man is nie. Die rol van die man in Efesiërs 5:22 word beskryf as ’n geestelike leier, iemand wat sy vrou moet liefhê en geestelik moet lei. So ook moet die vrou toelaat dat haar man dit doen en sodoende die leier kan wees wat God hom roep om te wees. Die vrou is dus op hierdie manier onderdanig aan sy geestelike leiding. Sy moet haar man ondersteun en aanvul in sy taak as onderkoning van God. Daarom het God haar geskape en aan Adam gegee - nie om sy eensaamheid weg te neem nie, maar om hom te help in die diens van God. Dit is wat die keuse van ’n huweliksmaat bepaal: ’n vrou wat die Here vrees.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe moet 'n Christen leef in die wêreld? Kan Christene “kuier” soos die wêreld?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-moet-n-christen-leef-in-die-wereld-kan-christene-kuier-soos-die-wereld/
Last updated: 2024-06-15T07:00:57.000Z
*Geskryf deur Brendan Aartsma, VGK Bellville*
In ’n wêreld wat vol van verskillende kulture en oortuigings is, kan dit soms moeilik wees vir ’n Christen om sy/haar pad te vind tussen al die verskillende waardes en verwagtinge. Een vraag wat dikwels voorkom, veral soos wat ‘n mens deur hoërskool en universiteit begin beweeg, is of ‘n Christen kan deelneem aan die feesvieringe en samekomste van die sekulêre wêreld. Kan 'n Christen “kuier” soos die wêreld?
Jesus sê vir ons dat ons die Here ons God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand. Wat hiermee gelykstaan is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Hy sê ook vir ons dat ons moet lewe volgens die leringe wat Hy vir ons gegee het in die Bybel. Met hierdie fondasie gee God vir ons ’n lig wat die pad vir ons sal wys oor hoe om om te gaan met jou keuses wanneer jy gekonfronteer word met die sekulêre samelewing.
Alhoewel die Bybel nie spesifiek “kuier” veroordeel nie, bied dit wel riglyne oor hoe ’n Christen homself in alle aspekte van die lewe moet gedra. In 1 Korintiërs 10:31 sê God vir ons: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” Hierdie vers beklemtoon die belangrikheid van ’n lewe lei wat God verheerlik en eer met elke aksie wat jy doen en elke besluit wat jy neem. Ons word aangemoedig om ons gedagtes, woorde en dade te laat ooreenstem met God se wil.
Ons moet die dinge vermy wat in kontras is met Christus se leringe, soos buitensporige drankgebruik en immorele gedrag. Beteken dit dat ons glad nie mag kuier en na kuierplekke saam met al jou vriende gaan nie? Nee, stellig nie. God sê dat ons saam mag kuier en van drank geniet, solank dit nie teen die Christelike waardes is wat God vir ons in die Bybel leer nie.
Tog is ‘n mens in kuierplekke omring met ’n klomp dronk mense wie se gedrag nie ooreenstem met die Bybel nie. Hoekom sal jy jouself dan omring met sulke sondige dade? Word ons nie gesê om weg te bly van die sonde nie ([Spreuke 4:15](https://www.bible.com/af/bible/5/PRO.4.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))?
As dissipels van Christus kan ons aksies en keuses ’n groot impak hê op die mense rondom ons. ‘n Mens sien net ’n Christen se lig skyn in die donker. Ons harte moet reg wees vir wanneer ons die sonde gaan teëkom, sodat ons in die oomblik die regte keuse kan maak wat aan God die eer sal gee.
Ons moet lewens leef wat die beeld van God reflekteer. Of dit by die kuier is en of dit by die huis is, waar jy ook al mag wees, moet jy streef daarna om God te verheerlik in alles wat jy doen. Dit beteken dat opofferings gemaak moet word, maar die beloning daarvoor is ewig. Paulus skryf in Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### “Entertainment” met ‘n Christelike insig
URL: https://olielamp.vgk.org.za/entertainment-met-n-christelike-insig/
Last updated: 2024-06-08T09:00:45.000Z
*Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata*
Sê nou jy wil ‘n vrug eet, maar jy sien ‘n deel daarvan is vrot. Wat sal jy doen? Sal jy dit in elk geval eet? Sal jy dit weggooi? Of sal jy die vrot deel uitsny en die goeie deel eet?
Ons kan vermaak met hierdie vrug vergelyk. ‘n Deel daarvan is miskien goed, maar ‘n groot deel daarvan is “vrot”, omdat dit dalk onsedelik of gewelddadig is. Sal jy dan sê: “Dis my besluit. Ek kan enige vermaak kies wat ek wil.” of sal jy sê: “Alle vermaak is sleg?” Gaan jy versigtig kies sodat jy slegte vermaak kan vermy en die goeie kan geniet?
Ons almal het vermaak nodig, maar hoe maak ons wyse besluite daaromtrent?
1 Korinthiërs 10: 31 sê: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” Ons moet dus daaraan dink hoe ons keuse van vermaak ons aanbidding van en verhouding met God gaan beïnvloed. Is dit waarna jy kyk, wat jy lees of wat jy doen, tot eer van God? Of doen jy dit maar net vir jou eie plesier?
Hoe kies ons dan ons vermaak wys? God gee immers nie vir ons ‘n duidelike lys van dinge wat ons wel en nie mag kyk, lees of onsself mee besig hou nie.
Ons kry vandag baie verskillende vorme van vermaak. Sommige daarvan is aanvaarbaar vir Christene, maar baie daarvan is nie toepaslik nie. Daar is baie flieks, televisieprogramme, webwerwe, liedjies en videospeletjies wat vol onsedelikheid, geweld of demone is. Slegte dinge word dikwels as onskuldig of selfs snaaks uitgebeeld. Kan ons as Christene onsself hiermee assosieer of moet ons daarvan wegbly? Sommige mense mag dalk sê: “Maar ek sal nooit self die dinge doen wat ek op die skerm sien nie.” Wanneer ‘n mens so redeneer bedrieg jy net jouself. Want hoe meer jy jouself blootstel aan sulke dinge, hoe meer sal jy dit as normaal beskou. Dis miskien so dat jy die dinge waarna jy kyk nie self sal doen nie, maar dit wys jou dalk iets oor die persoon wat jy reeds is.
Alhoewel God nie vir ons ‘n duidelike lys gee van wat ons wel na mag kyk, lees of luister nie, kan ons nog steeds Bybelse beginsels gebruik om besluite rondom vermaak te neem.
1 Petrus 1:15-16 sê: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” God beveel ons dus om ‘n heilige lewe te lei en daarom moet ons dit wat sleg is, haat. Moenie jouself besig hou met dinge wat jy weet verkeerd is nie. God het ons almal immers met ‘n gesonde gewete geskape en jy sal weet wanneer dit wat jy doen verkeerd is.
Maar wat nou gemaak as jy nie duidelik kan onderskei wat goed of sleg is nie? Dink hieraan: Sê nou jy loop hoog teen ‘n berg op ‘n paadjie. Sal jy kyk hoe naby jy aan die rand kan loop en so jou lewe in gevaar stel? Nee, as jou lewe vir jou kosbaar is, sal jy ver van die gevaar af wegbly. Dis presies dieselfde in ons keuse van vermaak. Moet daarom nie net die vermaak wat jy weet sleg is, vermy nie, maar bly weg van enige vermaak wat jy dink sleg is vir jou en wat jou verhouding met God kan benadeel.
As ons eerlik is met onsself, sal ons almal erken dat ons meestal vermaak gebruik om die realiteit te ontsnap. Dit laat ons vir ‘n oomblik vergeet van al ons probleme en sorge. Vermaak bied egter net ‘n tydelike oplossing vir ons probleme. Wanneer jy die oggend wakker word nadat jy die vorige aand ure op sosiale media spandeer het, wag jou probleme nog steeds om gekonfronteer te word. Al wat jy gedoen het, is om dit uit te stel.
Ons moet daarom mooi kyk na hoeveel tyd ons aan vermaak bestee. Het dit jou grootste prioriteit geword? Het jy dalk ‘n slaaf daarvan geword en is dit al waarom jou lewe draai?
Mattheus 6:24 sê “Niemand kan twee here dien nie, want of hy sal die een haat en die ander liefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” Volgende keer wanneer jy weer ‘n fliek kyk of ontspan terwyl jy op sosiale media ‘scroll’, vra jouself af: “Waarmee vul ek my verstand? Waaraan dink ek nadat ek ‘n fliek of televisieprogram gekyk het? Dink ek aan goeie, opbouende dinge of beskuldig my gewete my alweer daarvan dat dit wat ek gekyk het, verkeerd was? Is die vermaak wat ek kies besig om my te vorm om soos die wêreld te wees?” Wanneer jy hierdie vrae eerlik beantwoord, kan dit jou help om te sien of jy enige veranderinge moet maak ten opsigte van dit waarmee jy jouself besig hou.
Laat ons in alles wat ons doen God se naam verheerlik, selfs wanneer ons ontspan, sodat ons ‘n voorbeeld is vir ander en Sy lig laat straal in ‘n wêreld waar ons slawe geword het van vermaak!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wat kan ons uit die boek Ester leer in vandag se tyd?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-kan-ons-uit-die-boek-ester-leer-in-vandag-se-tyd/
Last updated: 2024-06-01T07:00:05.000Z
*Geskryf deur Ineke Bijker, VKG Pretoria*
Daar is baie mense wat glo dat die boek Ester nie in die Bybel hoort nie, omdat God se Naam, Jahweh, nie in die boek genoem word nie. Ons weet egter dat God se hand sigbaar is in al die gebeure wat rondom sy volk plaasvind. God werk agter die skerms.
‘n Voorbeeld hiervan is wanneer Mordegai vir Ester sê: *“Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom”* (Ester 4:14a). As Mordegai verwys na “'n ander kant” waarvan daar “verligting en redding” gaan kom, verwys hy na God. God is agter die skerms besig om verlossing vir ons te bewerkstellig, soos wat Hy regdeur die hele Bybel besig is om te doen en vandag steeds doen.
So wat kan ons vandag uit Ester leer?
God voorsien. God het geweet dat sy volk in gevaar was, as gevolg van die duiwel se plan om hulle uit te roei. Hy het op sy tyd redding gebring. Hy het voorsien dat Mordegai op die regte tyd op die regte plek was om die sameswering teen koning Ahasveros te hore te kom. Hy het ook vir Ester die vrymoedigheid gegee om na koning Ahasveros te gaan. God voorsien vir elkeen van ons wat ons nodig het. Hy gee vir ons die krag om ons daaglikse arbeid te verrig. Hy maak seker dat ons genoeg kry om te eet. Hy sal vir ons voorsien in alles wat ons nodig het.
God is altyd aan die werk, selfs al kan ons dit nie sien nie. In donker en swaar tye kan ons daaraan vashou dat God ‘n plan en doel met ons lewens het. Ons mag weet dat ons deel is van God se agenda vir die wêreld. Ons lewens is deel van 'n groter plan - 'n veel groter plan as wat die menslike brein kan verstaan. Alles wat met ons gebeur, werk uiteindelik uit tot ons beswil. God gebruik al ons omstandighede, goed of sleg, om ons op die regte spoor te hou.
God gebruik alledaagse mense sowel as invloedryke mense. Hy gebruik ook sondige mense soos Ester en Mordegai, wat gekies het om in Babel te bly eerder as om saam met die volk terug te gaan na God se beloofde land en tempel. God gebruik ons ook as sy beeld om te wys dat alles gebeur soos wat Hy wil.
Ons leer ook, soos dit in Spreuke 21:1 staan, dat *“die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”* God het koning Ahasveros daartoe gelei om in die nag wakker te lê en die kronieke te laat lees, terwyl Haman beplan het om Mordegai te vermoor. God het koning Ahasveros se hart geopen om aan Ester en Mordegai se behoeftes te voldoen. Dieselfde geld vir vandag se heersers. God werk ook deur hulle, daarom mag ons glo en vertrou dat selfs as hulle verkeerde keuses maak wat in stryd is met wat ons glo, God hulle gebruik tot eer en verheerliking van sy Naam.
Daar is baie meer wat ons kan leer uit die boek Ester. Een van die belangrikste goed wat ons deur die hele boek Ester kan sien en leer, is dat God in beheer is van alle dinge. Soos Paulus dit duidelik stel in Romeine 8:28*: “Ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”*
### **Bronne**
[https://www.olivetree.com/blog/god-book-of-esther/](https://www.olivetree.com/blog/god-book-of-esther/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.gotquestions.org/Book-of-Esther.html](https://www.gotquestions.org/Book-of-Esther.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://studyandobey.com/character-studies/esther-charater-study/](https://studyandobey.com/character-studies/esther-charater-study/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### God se liefde: ‘n Onveranderlike waarheid in ‘n veranderende wêreld
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-se-liefde-n-onveranderlike-waarheid-in-n-veranderende-wereld/
Last updated: 2024-05-26T20:01:51.000Z
*Geskryf deur Danielle van den Bout, VGK Maranata*
Verandering. Mense hou oor die algemeen nie van verandering nie. Ons is gemaklik daarmee as alles net bly soos wat dit is. Maar dis nou maar eenmaal so dat ons in ‘n wêreld leef waar verandering konstant plaasvind. Soos wat ‘n mens ouer word ervaar jy dit eerstehands. Dit is nie altyd lekker vir ons as mense om te sien hoe ons liggame agteruit gaan nie. Die plooie raak meer en jy is nie meer in staat om alles te doen wat jy ‘n paar jaar gelede nog reggekry het nie.
Verhoudings verander ook. Mense raak lief vir mekaar en trou, maar na ‘n rukkie water die liefde maar af en mense groei van mekaar af weg. Vriende of familie trek weg of gaan dood. Jou kinders word groot en trek uit die huis uit. Jou werk, wat jy eers geniet het, is nie meer so opwindend nie en word eerder ‘n las as iets waarna jy uitsien. Verandering kan ons onseker laat voel en ons kan maar net wonder wat die volgende dag, week of jaar vir ons gaan inhou. Ons kan seker wees dat solank as wat die wêreld bestaan, die jare net meer verandering sal bring, want die wêreld waarin ons leef, is ‘n wêreld van sonde, dood en duisternis.
In hierdie chaotiese wêreld waar verandering heeltyd plaasvind, mag ons rus vind in ons God, want Hy is onveranderlik. Jakobus 1:17 stel dit so mooi: “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Nou mag jy dalk vra: “Wat behels die onveranderlikheid van God nou eintlik?” Die woord ‘onveranderlik’ is in die verlede uitgelê as iets wat onbeweeglik is. ‘n Mens kan byvoorbeeld dink aan die hemelliggame, maan, sterre en planete as onveranderlik. Of rotse wat onbeweeglik op dieselfde plek bly lê. Hulle lyk en bly altyd dieselfde. Ons moenie aan God dink as ‘n dooie stuk materie wat altyd op dieselfde plek bly nie.
In Exodus 3:14 verduidelik God aan Moses wat sy naam beteken. “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”
In hierdie teks word God se onveranderlikheid en daarom ook sy betroubaarheid duidelik uitgelig. Ons kan op God vertrou, want hier sê God duidelik vir die volk (en ook vir ons) dat Hy nie is soos ander wisselvallige gode nie. Hy is ‘n betroubare God op wie ons kan staatmaak. As jy vasgevang is in die storms van die lewe, is Hy daar om jou te ondersteun. As jy Christus as jou fondasie het, sal jy staande bly. Maar wanneer jy jou lewe gaan bou op die veranderlikheid van die wêreld, dan is jy soos die dwase man wat sy huis op die sand bou. Wanneer moeilike tye kom, gaan jou huis baie vining inmekaarstort.
Dis egter nie waar die onveranderlikheid van God ophou nie. God se onveranderlikheid beteken ook dat Hy standvastig is. Hier op aarde is die raad van die mens maar wisselvallig. Wat sestig jaar gelede belangrik was vir mense is nou al vergete en oor ‘n paar jaar gaan mense hulle nie meer bemoei met die dinge wat vandag vir ons belangrik is of waarmee ons onsself besig hou nie. God is nie so nie. “Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” ([Psalm 33:11](https://www.bible.com/af/bible/5/Psa.33.11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Die Woord van die Here hou vir ewig stand en sal nie vergaan nie.
Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat sê: “Adapt or die.” Dit wys daarop dat enige lewende wese op die aarde geskik moet wees om te leef in ‘n sekere omgewing. Wanneer hierdie omgewing verander, is oorlewing afhanklik van die vermoë om in lyn met hierdie veranderinge aan te pas. So kan ‘n mens redeneer dat jy moet aanpas by die wêreldse beginsels, anders gaan jy dit nie oorleef nie. Maar kan ons as Christene dit ook as ons lewensmotto aanvaar? Het ons geen ander keuse as om maar net met die wêreldse veranderinge meegesleur te word nie? Wel, ons het vir seker ‘n keuse! Selfs in die voortdurend veranderende wêreld mag ons vrede, vreugde en hoop vind wanneer ons steun op God se onveranderlike goedheid en liefde. Hy moet ons skuilplek wees in gevare. Al woed die lewe rondom ons, mag ons weet dat alles in God se hande lê en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk.
Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Dit bring ons uiteindelik by God se liefde in terme van sy onveranderlikheid. Met die skepping van die aarde het God die mens na sy beeld gemaak en dit was goed. Hy het die mens voorsien met alles wat nodig is. Maar ten spyte daarvan val die mens in sonde en rebelleer teen God. Wat doen God toe? Het Hy die mens toe maar net gelos om verder in sonde te leef en die ewige verderf binne te gaan? Nee, God se liefde het nie in die minste verander nie. Ja, Hy haat die sonde, maar Hy het ons steeds lief. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” ([Johannes 3:16](https://www.bible.com/af/bible/5/Jhn.3.16.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Jesus Christus is die sigbare gestalte van God se liefde vir ons sondige mense.
God se liefde vir sy kinders is ewig en onvernietigbaar en niemand sal dit ooit van jou weg kan neem nie. “Wie sal ons kan skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” ([Romeine 8:35](https://www.bible.com/af/bible/5/Rom.8.35.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
In hierdie sondige wêreld is alles aan die verganklikheid onderworpe en niks het meer ewigheidswaarde nie. God se liefde is egter van ewigheid tot in ewigheid en ons mag troos daarin vind. God se liefde is ook grensloos. Ons kan nie grense of beperkinge op die liefde van God stel nie. Ons kan bewus wees van die rykdom van sy liefde, maar ons sal dit nooit ten volle kan begryp nie. Ons kan God daarvoor dank en in verwondering staan oor Sy oneindige liefde.
God wys vir ons wat ware liefde in ‘n gebroke wêreld is. God is liefde en daarom moet daar ook liefde vanuit ons lewens na buite uitstraal. Ware, egte liefde verdryf alle vrees. As jy daarom só liefhet, sal daar nie plek in jou lewe wees vir vrees nie. Dan hoef ons ook nie bang te wees vir al die veranderinge wat gaan plaasvind nie, maar ons mag dit eenvoudig in die onveranderlike God se hande plaas en weet dat alles in Sy beheer is en dat niks sonder sy wil gebeur nie!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Is 'scrolling' a sin?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-scrolling-a-sin/
Last updated: 2024-05-18T12:00:38.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria*
> ‘Scrolling’ is die aksie wat ‘n persoon verrig wanneer hy op sosiale media soos Instagram, Tiktok of Youtube ‘reels’ opwaarts of afwaarts trek oor die skerm, sodat hy die volgende video-opname kan sien.
Hierdie is ‘n vraag met ‘n komplekse geaardheid. Daarmee bedoel ek dat dit moeilik is om die vraag te beantwoord, omdat almal se ‘content’ waardeur hulle gaan, verskil. Met dit in gedagte sal die artikel baie gepas wees vir party mense, maar vir ander weer glad nie.
Wanneer ons na die vraag kyk, moet ons besef dat ‘scrolling’ opsigself nie ‘n sonde is nie, behalwe as jy te veel doen. Wat klassifiseer as te veel? Jy ‘scroll’ te veel as dit jou lewe oorheers, soos as jy vir ure ‘scroll’, maar skaars tyd het vir Bybel lees. Hierdie gedagte word bevestig deur 1 Korinthiërs 6:12 *“Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.”* Hierdie teksvers herinner ons dat nie alles nuttig is nie. Ons moet die tyd wat ons spandeer aan sekere goed in gedagte hou. As ons te veel tyd daaraan spandeer, is dit noodsaaklik dat ons dit regstel.
‘Scrolling’ kan wel goed wees as jy goeie goed kyk wat behulpsaam is tot jou geloof en wat feitlik korrek is. In 1 Thes 5:21-22 staan daar: “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad.” Ons moet alles beproef of dit reg is, die goeie behou en die kwaad vermy.
Nog ‘n aspek wat in gedagte gehou moet word, is om ons gewete te bewaar. Jou gewete kan beseer word as jy menigmaal dieselfde sonde verrig. Dit kan selfs die mense rondom jou beseer. Volgens Mat 6:22-23 is die oog die lamp van die liggaam: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” As jou oog dus die verkeerde inligting inkry, sal dit die liggaam beseer. Nog ‘n belangrike vers is Spr 4:23: “Bewaak jou hart met alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Dit lê geweldig klem op die feit dat ons ons hart moet bewaak, omdat dit die oorsprong van die lewe is.
Verder is ons op die aarde geplaas deur God om Hom te loof en dien. Dit is die mens se hoofdoel. Ons ander doele moet so verrig word dat dit nie ons hoofdoel onderbreek of teenwerk nie. Inteendeel, dit moet ons hoofdoel ondersteun en ons help daarin. ‘n Mooi herinnering is Heb 12:28: “Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” Dit plaas die klem daarop dat God vir ons soveel gegee het. Ons moet dankbaar wees en Hom loof en gehoorsaam.
‘Scrolling’ is dus nie ‘n sonde nie, mits dit godvresend gedoen word. Ons moet versigtig wees oor hoe ons met sosiale media oor die algemeen omgaan, sodat dit nie ons hoofdoel onderbreek nie, maar daarop bou en ons help om God te dien en te loof. Dit is immers ons ware doel op die aarde.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe dien ek God met my geld?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-dien-ek-god-met-my-geld/
Last updated: 2024-05-11T14:45:20.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Ek stap laatmiddag by my kantoor op kampus uit en sien hoe rye en rye Moslems op die universiteit se gras kniel om te bid, voor hulle die dag se vas met ‘n gesamentlike ete gaan beëindig. Dit is Ramadan, die negende en heiligste maand van ‘n Moslem se jaar. Vas en die viering van Ramadan is een van die vyf pilare van die Islam geloof. Waarom is vas so belangrik? Daar is verskeie redes, byvoorbeeld dat dit jou nader aan Allah bring en jou help om te breek met aardse begeertes. Daar is egter nog ‘n interessante rede: om te vas maak jou bewus van die omstandighede waarin soveel armes moet oorleef. Miljoene mense het nie daagliks genoeg kos om te eet nie. Wanneer jy vas en met jou eie liggaam voel hoe dit is om honger te ly, sal jy meer gewillig wees om te gee vir die mense wat daagliks nie genoeg het nie. Zakat (die gee van gawes) is immers ook een van die vyf pilare van hulle geloof. Volgens ‘n artikel oor Ramadan op die webtuiste van Islamic Relief South Africa (2024) word jou beloning vir enige goeie werk wat jy in die Ramadanmaand doen, sewentig keer vermenigvuldig. Enige regverdige of goeie daad wat jy gedurende Laylatul Qadr doen, word selfs gesien as gelykstaande aan daardie daad daagliks vir 83 jaar doen.
In dieselfde week het ons ‘n gemeentevergadering. Ons bespreek verskeie kwessies, insluitend die tekort op die begroting. Daar word sterk aangedring op ‘n verhoging in VVB (vaste vrywillige bydrae). Dit laat my wonder: hoe groot is die kontras tussen ons en gelowe soos Islam? Raak finansiële gawes in ons gedagtes dalk maar net een van die boksies wat ons moet afmerk om hemel toe te gaan? Hoe gee ons van ons geld vir God? Is die kollektes maar net lidmaadskapsfooie? Of kan ons dalk selfs ‘n beskamende voorbeeld aan Moslems neem wat bereid is om in oorvloed te gee? Dalk gee hulle vir die verkeerde redes, maar het ons afgeleer om regtig te gee?
Sodra jy in die Bybel begin rondspeur na wat God oor geld sê, kom jy agter dat daar nogal baie oor geld, gierigheid, armoede en besittings genoem word. Daar is voorbeelde van beide uiterstes. In hierdie artikel wil ek spesifiek fokus op wat die Bybel oor finansiële gawes vir die kerk sê.
### **Tiendes**
Ons is almal bekend met die idee van tiendes, maar waar kom dit nou eintlik vandaan? Levitikus 27: 30-33 is een van die eerste duidelike opdragte aan die volk Israel om tiendes te gee. Hulle moes 10% van hulle totale graan- en vrugteoes aan die Here gee. Hulle moes ook al hulle vee by hulle laat verby loop en elke tiende dier wat verby kom moes uitgekeer word vir die Here. Ek dink dit is die tradisionele tiende waarmee die meeste van ons goed bekend is. In Numeri 18:23-32 lees ons wat met hierdie tiendes gebeur het. God het naamlik die Leviete aangestel vir die tabernakeldiens. Die tiendes wat die volk gebring het moes in hulle lewensonderhoud voorsien. Hulle moes dan weer op hulle beurt ‘n tiende van die tiendes aan die priesters as offergawe afstaan.
Deuteronomium 14:22-29 gee ‘n interessante perspektief op die tiendes. In hierdie paragraaf gee die Here sy volk die opdrag om ‘n tiende van hulle opbrengs na die tabernakel te bring. Hulle moes dan almal saam ‘n groot fees hou en vrolik wees oor die seëning wat God hulle gegee het. Elke derde jaar moes hulle ‘n tiende by die poort neersit vir die wees, weduwees en Leviete. Dit is nie duidelik of hierdie ‘n ekstra gawe was of deel uitgemaak het van die tiendes wat in Numeri en Levitikus bespreek word nie. Sommige skrifkenners meen dat die Israeliete 10% vaste bydrae tot voorsiening van die Leviete moes maak, nog 10% moes uitsit vir die fees en elke 3 jaar ‘n addisionele 10% vir die armes moes gee. Die totaal sal dan 23% per jaar wees. Bo-op hierdie wette oor die tiendes kom daar natuurlik nog baie wette oor offers en al die eerstelinge wat ook aan God behoort het.
My doel is nie om te probeer uitwerk dat ons eintlik 23% van ons inkomste aan die Here moet afstaan nie, maar eerder dat 10% nie ‘n limiet is nie. Ons is geneig om die minimum te wil gee en voel baie keer dat 10% al veel gevra is. Dink net wat ons alles daarmee kon doen! God is egter die Gewer van jou totale salaris. ‘n Goeie vraag wat ons onsself dalk eerlik moet afvra is eerder: “Hoeveel mag ons hou?” in plaas van “Hoeveel moet ek gee?” Ons behoort nie te probeer wegkom met ‘n presiese 10% nie, want dan is Jesus se boodskap vir ons: *“Wee julle, Skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.”* (Mat. 23:23)
### **Diakonale hulp**
Dit was vir my interessant om te sien dat die doel van tiendes in die Ou Testament nie hoofsaaklik was om vir die armes te sorg nie. In die Ou Testament word daar op ‘n ander manier vir armes gesorg; dit word in Deuteronomium 15:7-11 beskryf. Die volk kry die opdrag om gewillig en ruimhartig aan die arme te leen, soveel as wat hulle nodig het. As die arme nie voor die sewende jaar, die Sabbatsjaar, al die skuld kon afbetaal nie, moes hulle dit vryskeld.
In die Nuwe Testament kry ons ‘n hele nuwe perspektief op ruimhartige sorg in die gemeente. In Handelinge 2:44-45 staan daar: *“En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.”*
Die eerste gemeente in Jerusalem is ‘n pragtige voorbeeld vir ons. Wanneer ons werklik besef hoe groot God se liefde vir ons is, sal ons bereid wees om ander in liefde en met blydskap te help. As ons besef hoeveel Hy vir ons opgeoffer het toe Hy die hemelse heerlikheid vir ‘n kruis verruil het, sal ons ook bereid wees om meer op te offer vir die eer van sy Naam.
### **Vrywillig**
2 Korinthiërs 9 is ‘n baie belangrike hoofstuk wat handel oor die gee van gawes. Paulus roep die gemeente in Korinthe op om geld in te samel om die gelowiges in Jerusalem te help. Daar is twee sake in sy oproep wat vir my baie uitgestaan het.
Die eerste is die sterk klaarblyklike oorsaak en gevolg van sy oproep: “*Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.”* (vers 6). Dit klink waarskynlik vir die meeste van ons na ernstige voorspoedsteologie. Die konteks is egter baie belangrik en ons kry heelwat meer insig uit vers 10: “*En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem”*. God gee ons die saad (finansiële middele) en ons mag vrygewig daarvan uitdeel in die vertroue dat Hy in ons lewensonderhoud sal voorsien. Terloops, vers 10 maak dit ook duidelik dat ons nie in die eerste plek finansiële rykdom gaan maai as ons vrygewig is nie, maar iets veel beters: die vrug van geregtigheid.
Die tweede gedagte, en hiermee wil ek afsluit, is dat Paulus baie klem daarop plaas dat hierdie kollekte ‘n dankoffer moet wees. Alhoewel hy hulle baie dringend aanmoedig, moet niemand uit dwang gee nie. Die baie indringende boodskap is:“*Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief*.” (vers 7). Op die ou end moet elkeen van ons eerstens ons harte ondersoek. Waaroor gaan die lewe vir jou? Aan wie behoort jou geld? Aan wie behoort jou tyd? Ek glo as ons werklik besef wie ons is, wie God is en hoeveel Hy vir ons gee, kan ons nie anders as om uit dankbaarheid, vrywillig en met ons hart te wil help waar ons kan nie.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Waarom laat ’n goeie God slegte dinge toe?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/waarom-laat-n-goeie-god-slegte-dinge-toe/
Last updated: 2024-05-04T07:00:50.000Z
*Geskryf deur Cornèl Meyer, VGK Pretoria*
Wat het die vrye wil, God se plan, beproewing en dankbaarheid vir lyding te doen met waarom ’n goeie God slegte dinge toelaat? Om die vrae te beantwoord gaan ons kyk na elkeen.
### Die vrye wil
God het vir die mens sy eie vrye wil gegee sodat ons ons eie besluite kan maak. Ons kan heel aan die begin van Genesis sien dat die mens die besluit gemaak het om tog van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet. Dit was ongelukkig waar die sonde begin het. Waarom het God dit dan toegelaat dat die mens in die eerste plek die besluit kon maak? As God ons as mense so geskape het dat ons altyd sy wil gehoorsaam, is daar dan steeds vrye wil? Ons het vrye wil binne God se wil, maar tog laat Hy ons toe om besluite op ons eie te maak, sodat ons nie net soos robotte funksioneer nie. Die vrye wil is soos om op jou pa se skoot in die wildtuin te bestuur: as kind glo jy dat jy die kar bestuur en beheer. Solank jy op die pad bly is alles goed, maar jou pa sal die stuurwiel gryp sodra daar gevaar kom en jy van die pad afdwaal. Net so beskerm God ons teen die Bose en dinge wat ons nie kan teenstaan nie. Dit bring ons nou by die volgende punt.
### God se plan is nie ons plan nie
> “Ja, my planne is nie julle planne nie, en julle paaie is nie my paaie nie,” is die uitspraak van die Here. “ Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my paaie hoër as julle paaie, en my planne as julle planne.”
> \- Jesaja 55:8-9
> “Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee.”
> \- Jeremia 29:11
> Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
> \- Job 42:2
God se eindpunt is wel by ons bekend - dit is tot verheerliking van Sy naam en dat ons Hom dien - maar die pad/roete daarheen is slegs by God bekend. Soms is daardie pad vol slaggate, sagte sand, modder en klippe. Ons gly of val hier en daar, maar dit bring ons terug na Hom. Dit help ons om op Hom en Hom alleen te vertrou. Is jy reg aangetrek vir daardie pad? Wanneer alles in ons lewens uitmekaarval, verstaan jy nie altyd hoekom God hierdie dinge in jou lewe toelaat nie. In Psalm 121:1-3 lees ons: “'n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: Waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie; jou Beskermer sal nie insluimer nie.” en in Lukas 12:34: “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
God doen dinge sodat ons weer op ons knieë moet gaan, want al ons aardse skatte, vertroue en hoop is weg. Dan bly net Hy oor! Ons daaglikse lewe moet so wees. God moet ons fondasie wees. Ons is die heeltyd geneig om aardse skatte na te jaag en elke keer skuif ons God maar net weer ’n trappie na onder. Hy wil nie dit laat gebeur nie, daarom beproef Hy ons in die geloof.
### Beproewing en karaktervorming
> Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is.
> \- Romeine 8:28
> Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer. Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer. Hulle sal aan die Here behoort, en offers in geregtigheid bring.
> \- Maleagi 3:3
God vorm ons deur beproewings en maak ons daardeur sterker. Hy louter ons soos goud om ons puur te maak. ’n Bybelstudiegroep het een keer Maleagi 3 behandel en hulle wonder toe hoe goud gelouter word. Een van hulle maak ’n afspraak by ’n goudsmit en kyk hoe die goudsmit die stuk goud met die flam gloeiend warm maak. Hy vra toe of dit nodig is om heeltyd by te wees en of hy nie net die flam daar kan hou en kan aangaan met ander werk nie. Die goudsmit antwoord toe dat hy die heeltyd moet kyk, want as die goud te lank in die vlam gehou word, kan dit brand en beskadig. Die man vra toe: “Maar hoe weet jy as die goud puur en skoon is?” Die goudsmit antwoord en sê: “Wanneer ek my beeld daarin kan sien.”
Ons is die goud. Ons word soms in hierdie warm vlamme gehou en beproef. Dit is soms hartseer of pynlik. God beproef ons deur “slegte” ding in ons lewe toe te laat, soos om mense vir wie ons lief is uit ons lewens weg te neem. Dit alles doen God egter om ons puur te maak, sodat Hy sy beeld in ons kan sien! Die mooi daarvan is dat God altyd daar is, deur die hele proses. Hy laat ons nie alleen nie. Hy doen dit sodat ons sy mooi beeld ook na die wêreld kan uitstraal.
### Dankbaarheid vir ons lyding
Nou mag jy dalk dink: “Hoe kan ons dankbaar wees vir ons lyding?” Ons kan en moet eintlik wees. God gebruik nie altyd ‘n lekker proses nie; die vormingsproses is soms hard. As ‘n mens na ’n beeldmaker kyk wat iets uit hout kerf, gebruik hy soms ’n byl wat groot stukke hout afkap. Soms gebruik hy die klein handskaaf om dit te vorm, maar op die ou end is die beeld baie mooi. Die proses laat ons groei in die geloof en dit help ons om op Hom te vertrou.
Nog iets om voor dankbaar te wees is die gemeenskap van heiliges. As alles goed gaan, vertrou jy baie op jouself en het jy hulle nie nodig nie. Dan leef jy vir jouself. Daar is niks wat die krag van die gemeenskap van die heiliges laat uitblink soos tye van nood nie. Dan staan ons saam en ondersteun mekaar. Uit ervaring kan ek sê dat wanneer jou lewe op sy slegste lyk en alles onderstebo gegooi is, is dit juis wanneer God hulle stuur om jou te ondersteun. Ons is geseënd met ‘n sterk en mooi gemeenskap van heiliges wat mekaar se laste dra en ook kan deel in mekaar se blydskap. Deel alles van jou lewe met hulle, nie net die slegte nie, maar laat hulle saam met jou ook in jou blydskap deel!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die krag van gebed
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-krag-van-gebed/
Last updated: 2024-04-27T07:00:47.000Z
*Geskryf deur Christiaan van Vondel, VGK Bellville*
Gebed is 'n algemene praktyk onder Christene. Dit is ons manier om met die Here te praat en om so ons verhouding met Hom te versterk. Deur gebed kan ons die Here vra vir vergifnis, ons sonde bely, vra vir sterkte, ensovoorts. Daarom sal gebed ook ‘n tipe krag hê. Die Here weet waarvoor ons bid en kan besluit of Hy ons gebede wil verhoor. Daarom is dit wonderlik dat gebed dinge in ons alledaagse lewe kan verander.
### Wat sê die Bybel oor gebed?
Daar is verskeie voorbeelde wat handel oor die effek of krag wat gebed op ons het. In Filippense 4:6 staan: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.” Hiermee wil die Here vir ons sê dat ons nie oor goed moet bly bekommer nie, maar eerder daaroor moet bid as ons onseker is. Die Here sal besluit of Hy ons gebed gaan verhoor as ons na Hom kom. As die Here nie die gebed verhoor nie, moet ons weet dat Hy 'n ander plan in gedagte het. Hy het ‘n plan met almal van ons se lewens en weet klaar waarvoor ons wil bid, selfs nog voordat ons bid.
### Die krag van gebed
In Matt. 18:18-20 praat die Here oor hoe Hy ons gebed sal verhoor en dat Hy teenwoordig sal wees tydens gebed. Voorbeelde van die krag van gebed kom voor op 'n klomp plekke in die Bybel:
- Moses en die skeiding van die Rooisee.
- Elia wat gevra het vir drie jaar sonder reën.
- Lasarus wat uit die dood opgewek is.
Dit wys dat gebed krag het, maar beteken nie jy sal alles sal kry waarvoor jy bid nie. As jy byvoorbeeld vir die Here vra om vir jou 100% vir 'n toets te gee, sal dit moontlik nie gebeur as jy nie self ook jou kant bring nie. 'n Mens kan wel klein begin en vra dat Hy jou krag kan gee om te leer, sodat jy jou doelwit kan bereik. Soos reeds genoem, het die Here 'n plan met ons lewens en daarom kan ons weet dat alles volgens Sy wil is, al is dit nie wat ons wil hê nie. Daarom is dit 'n goeie beginsel om vir die Here te vra om jou te beskerm in alles wat jy doen. Ons gebed het regtig baie krag en ons besef nie hoe sterk dit is nie. Gebed is 'n aksie van aanbidding wat Hom verheerlik en ons behoefte aan Hom versterk. Deur 'n goeie gebedslewe te lei, praat ons met die bron van ons lewe en ons rede om te lewe. Dit is die Here. Gebed is ons grootste wapen teen al die vyande in hierdie wêreld.
### God is almagtig
Die Here is almagtig. In Luk. 1:37 staan: “Want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie”. Hy wil hê ons moet met Hom praat in geloof ([Jak 1:5](https://www.bible.com/af/bible/5/Jak.1.5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en met danksegging ([Fil. 4:6](https://www.bible.com/af/bible/5/Fil.4.6.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). In Luk. 18:1 lees ons: “Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om te bid en nie moed te verloor nie”. Daarna volg die gelykenis van die weduwee en die regter.
So as enige van ons oor iets stres of bekommerd is, moet ons eerder bid tot die Here, soos wat ons hoor in Fil. 4:6: *“Moet oor niks bekommer nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend”*.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe stem ek as ‘n Christen?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-stem-ek-as-n-christen/
Last updated: 2024-06-08T08:34:05.000Z
*Geskryf deur Ruan Snijder, VGK Maranata*
> Stem ons vir ‘n groot party wat verandering kan bring of volgens Christelike beginsels?
Oor minder as twee maande gaan Suid-Afrika DV vir die sewende keer ‘n regering demokraties verkies. Baie mense reken dat hierdie verkiesing dalk ‘n keerpunt in ons land se geskiedenis kan bring. Hulle hoop dat ‘n DA-geleide koalisieregering ‘n nuwe era in ons land sal inlei. Een met goeie dienslewering, ekonomiese groei, lae vlakke van kriminaliteit en vrede tussen al ons uiteenlopende kultuurgroepe.
Ongelukkig is ons sondige mense se hoop soms so naarstig desperaat vir verandering of vernuwing dat ons vergeet dat die hoop wat ons op mense stel sekerlik sal faal. Histories sien ons ook presies dit: politici misluk altyd om die utopiese samelewing tot stand te bring wat hulle beloof het.
Baie keer wonder ons tog as Christene of ons nie maar vir die DA moet stem nie. Hulle is immers die enigste party wat groot genoeg is om die kanse te kniehalter dat die ANC herverkies word. Hulle het immers in die Wes-Kaap bewys dat hulle die vermoë het om goeie diens te lewer.
Dit is juis wanneer ons vanuit ons aardse begeertes redeneer dat ons begin wonder of ons nie Christelike beginsels moet prysgee ter wille van *verandering* in die land nie.
My mening is dat ons ‘n aksentverskuiwing nodig het in wat ons dink ons stem as Christene teweeg moet bring, voordat ons besluit vir watter party om te stem.
God se eie Seun, Jesus Christus, het immers reeds 2 000 jaar gelede die ewige regeringspos as koning van die heelal ingeneem. Hy is ook die enigste regeerder wat werklik ware hoop vir sy mense gebring het en geen van sy beloftes onvervuld gelaat het nie ([Dan. 7:13-14](https://www.bible.com/bible/5/DAN.7.13-14?ref=olielamp.vgk.org.za)). God se Seun is by die Vader om daagliks ook na ons aardse belange om te sien.
Ons stemme as burgers is dus nie om ‘n ander heerser op die troon te bring nie. Christus is reeds op die troon en Hy is ‘n volmaakte Koning. As ons bid “laat U koninkryk kom” wil ons hê dat hierdie koninkryk elke dag nóg meer sigbaar moet word. Ons wil hê die evangelie moet verder vesprei en meer mense moet die knie buig voor ons Heiland, tot op die dag van die Here wanneer Hy “kom met die wolke, en elke oog Hom \[sal\] sien” ([Openb. 1:7](https://www.bible.com/bible/5/REV.1.7?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit moet ons eerste prioriteit met ons stemme wees.
Kom ons vra onsself dan: “Sal dit God se koninkryk bevorder as beurtkrag tot ‘n einde kom en ons asblikke weekliks leeg gemaak word? As daar stabiele groei in die ekonomie is en ons binne tien jaar almal hoër middelklas burgers word?” Dit is moontlik dat die Here sulke stabiliteit kan gebruik, maar Hy is geensins daarvan afhanklik nie. Die Bybel waarsku juis dat hierdie tipe welstand gevare vir Christene inhou ([1 Tim. 6:9](https://www.bible.com/bible/5/1TI.6.9?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Dit beteken nie dat ons as Christene doelbewus ekonomiese of sosiale agteruitgang moet gaan opsoek om te waak teen die gevare van welvaart nie. Nee, die Here verhef ons tot ‘n selfs edeler vlak as sy koningskinders, waar ons met ons stemme sy koninklike ideaal kan nastreef.
Petrus sê ons is “'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” Kom ons gebruik dan ook ons stemme om te verkondig van Hom, Jesus Christus, wat ons uit hierdie aardse duisternis gered het.
Dit is belangrik dat ons so ons aardse teen hemelse ideale opweeg, want daar is nie een party wat én ons aardse welstand sal kan bevorder én ons koninkryklike ideale sal nastreef nie. Die Christelike partye is meestal juis klein partye met beperkte mag om nasionale verandering aan te bring, maar hulle is groot genoeg om Christus se Woord te laat hoor.
Ons stemme in Suid-Afrika is daarom meer “óf óf”. Óf ons stem vir ‘n party wat moontlik sosiale en maatskaplike welstand sal kan bewerkstellig, wat Christelike waardes sal opoffer ten gunste van burgerlike vrede of rykdom; óf ons stem vir ‘n party wat nie sal skroom om Christus te verkondig nie, ongeag van die omstandighede of die gevolge.
Maar hier sien ons dan die wonder daarvan as ons kinders van God is: Christus verander ons soeke na Hom van ““óf óf” terug na “én én” wanneer Hy sê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” ([Matt. 6:33](https://www.bible.com/bible/5/MAT.6.33?ref=olielamp.vgk.org.za)) Hy sê dit as antwoord op ons mense se bekommernisse net bietjie vroeër in v. 31: “moet julle … nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” Christus ken ons harte - Hy weet ons is meer gefokus op die hier en nou, op ons omstandighede. Ek gaan stem vir ‘n party wat sal sorg dat ek ‘n werk het, genoeg het om te eet, om te drink, om klere te kan bekostig om sekuriteit te hê, om my toekoms te kan bekostig. “Nee,” sê Christus, “stem eers vir die Koninkryk en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Ek is in beheer van julle ekonomiese welstand, julle veiligheid, nie aardse partye nie - Ek is op die troon en alle heerskappy is aan my gegee.”
Die Here toets ons geloof met ons stemme. Gaan ons ons hoop bou op aardse leiers of op Hom?
Ek reken dus dat ons ‘n party kan soek vir die parlement wat, al het hulle net ‘n handjievol setels, nie beskaamd sal staan om Jesus Christus te verkondig nie. Een wat bereid sal wees om op te staan teen die moord op ongebore babas, wat nie sal huiwer om rassediskriminasie teen te staan nie. ‘n Party wat bereid sal wees om die aftakeling van alle sosiale strukture deur die “woke*”* kultuur teen te staan, wat bereid sal wees om op te staan vir God se patroon vir gesonde huwelike, ouers se gesag oor kinders, gesonde gesinne. ‘n Party wat individualisme teenstaan.
Die vraag is: is daar sulke partye? Elke party was al ten minste een keer in die nuus oor iets opspraakwekkend. Dit is immers ons geneigheid as sondige mense om foute te maak. As ons egter holisties na elke party se beleid volgens Christelike waardes kyk, gee dit ons wel ‘n goeie idee van watter partye waardig is om voor te stem:

Die ACDP en VF+ is die enigste partye wat hulself Christelik noem en wat groot genoeg is om op nasionale vlak verteenwoordiging te hê. Die ACDP is ten gunste van meeste wesenlike Christelike kwessies wat op die politiek afspeel en is na my mening ‘n goeie party om voor te stem.
Die VF+ het voorheen die meeste van hierdie selfde Christelike standpunte ondersteun, maar sedert die 2019-verkiesing is dié party se beleide al hoe meer vaag oor hul standpunt rondom sekere onderwerpe, bv. oor selfdegeslag-huwelike. Dit sou nie help om te bespiegel wat hul motiewe is nie en daarom stel ek voor dat Christene wat oorweeg om vir hierdie party te stem ook self hul beleide en manifes gaan lees (skakels hieronder).
Kom ons bid saam dat die Here hierdie verkiesing sal gebruik om sy wil te laat geskied en sy koninkryk tot voleinding te laat kom.
### **Partykonstitusies en -beleide**
- ACDP - [https://acdp.org.za/wp-content/uploads/2023/11/ACDP-Constitution-03-11-2022.pdf](https://acdp.org.za/wp-content/uploads/2023/11/ACDP-Constitution-03-11-2022.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- VF+ - [https://www.vfplus.org.za/wp-content/uploads/2024/01/VF-GW01-VF-PLUS-GRONDWET-FF-PLUS-CONSTITUTION-\_2020-03-14-1.3.1-1.pdf](https://www.vfplus.org.za/wp-content/uploads/2024/01/VF-GW01-VF-PLUS-GRONDWET-FF-PLUS-CONSTITUTION-%5F2020-03-14-1.3.1-1.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- DA - [https://cdn.da.org.za/wp-content/uploads/2023/04/19132045/DA-Constitution-As-Adopted-on-1-April-2023.pdf](https://cdn.da.org.za/wp-content/uploads/2023/04/19132045/DA-Constitution-As-Adopted-on-1-April-2023.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za) en [https://www.da.org.za/why-the-da/policies](https://www.da.org.za/why-the-da/policies?ref=olielamp.vgk.org.za)
- ActionSA - [https://www.actionsa.org.za/wp-content/uploads/2023/09/Summary-of-Approved-ActionSA-Policies-DIGITAL.pdf](https://www.actionsa.org.za/wp-content/uploads/2023/09/Summary-of-Approved-ActionSA-Policies-DIGITAL.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- EFF - [https://effonline.org/wp-content/uploads/2024/01/Constitution.pdf](https://effonline.org/wp-content/uploads/2024/01/Constitution.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- ANC - [https://www.anc1912.org.za/wp-content/uploads/2021/01/ANC-Constitution-2017.pdf](https://www.anc1912.org.za/wp-content/uploads/2021/01/ANC-Constitution-2017.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
### **Partymanifeste**
- ACDP - [https://www.acdp.org.za/Manifesto2024.pdf](https://www.acdp.org.za/Manifesto2024.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- VF+ - [https://www.vfplus.org.za/af/beleid/vf-plus-manifes-2024/](https://www.vfplus.org.za/af/beleid/vf-plus-manifes-2024/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- DA - [https://cdn.da.org.za/wp-content/uploads/2024/02/16143750/DA-Election-Manifesto-2024.pdf](https://cdn.da.org.za/wp-content/uploads/2024/02/16143750/DA-Election-Manifesto-2024.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- ActionSA - [https://www.actionsa.org.za/wp-content/uploads/2021/09/ActionSA-LGE-Manifesto-2021.pdf](https://www.actionsa.org.za/wp-content/uploads/2021/09/ActionSA-LGE-Manifesto-2021.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- EFF - [https://effonline.org/eff-2024-election-manifesto/](https://effonline.org/eff-2024-election-manifesto/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- ANC - [https://www.anc1912.org.za/wp-content/uploads/2024/02/ANC-2024-Elections-Manifesto.pdf](https://www.anc1912.org.za/wp-content/uploads/2024/02/ANC-2024-Elections-Manifesto.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe onderskei ek leuen van waarheid?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-onderskei-ek-leuen-van-waarheid/
Last updated: 2024-04-13T14:49:56.000Z
*Geskryf deur Charles Bron, VGK Maranata*
Almal van ons is mense. As mense sukkel ons om te onderskei tussen leuen en waarheid, aangesien ons van nature die waarheid haat. Om tussen die twee te kan onderskei, moet ons eers weet wat albei beteken.
So wat is die waarheid dan? Ons lees van die waarheid in ‘n verskeidenheid van verse in die Bybel. In Johannes 17:17 lees ons: *“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid”* en in Psalm 119:151 lees ons: *“U, o Here, is naby en al u gebooie is waarheid.”* Dan lees ons ook in die bekende vers 6 van Johannes 14 waar Jesus sê: *“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”* Daar is nog baie verse wat genoem kan word, maar selfs uit net hierdie paar is dit duidelik dat God Drie-Enig die waarheid is. Hy deel ook sy waarheid met ons deur middel van sy Skrif.
Aangesien ons nou weet dat God die enigste waarheid is, kan ons aanneem dat alles wat teen God en teen dit wat Hy in sy Woord aan ons openbaar is, nie die waarheid is nie. Dit is ‘n baie breë stelling om te maak, maar dus sê God ook presies wat dit behels om teen sy waarheid in te gaan.
Die negende gebod sê: *“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”.* Soos die meeste van ons geleer het toe ons jonk was, beteken dit dat jy nie mag jok of ‘n leuen vertel nie. Dit is egter veel dieper as net leuens vertel. Sondag 43 van die Heidelbergse Kategismus leer ons presies wat die negende gebod behels. Vraag en Antwoord 112 vra: *“Wat eis die negende gebod?”* Die antwoord is dan: *“Ek mag teen niemand valse getuienis aflê, niemand se woorde verdraai, nie ’n kwaadsteker of lasteraar wees nie, niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie. Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely. My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder.”* Al dié voorbeelde gaan duidelik teen die Woord en teen die wil van God in, dus gaan dit ook teen sy waarheid in. Dit is nie altyd so maklik om te weet wanneer ons teen die waarheid van God ingaan nie. Ons kan ook nie elke keer wat ons die negende gebod in ons daaglikse lewe oortree, in die Skrif of in die kategismus vind nie. Daarom gee God ook vir ons ander middele wat ons kan gebruik om makliker tussen die leuen en die waarheid te kan onderskei.
**1\. Ons gewete**
Ons gewete is waarskynlik die maklikste manier waarmee ons kan onderskei tussen die leuen en die waarheid. Romeine 2:15-16: *“Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig”.* So as jy ‘n leuen vertel of iets doen wat nie volgens God se wil is nie, sal jy dit weet, want jou gewete sal jou pla en jy sal skuldig daaroor voel. Verder sê Romeine 9:1 ook: *“Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie — my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees.”* Die vers maak dit vir ons baie duidelik dat ons gewete ‘n middel is wat God aan ons gegee het om ons te help onderskei tussen die leuen en die waarheid.
**2\. Gebed**
Vir ons as sondige mense is dit makliker om ‘n leuen te vertel as die waarheid. Wat erger is, ons kom dit nie eens altyd agter nie! ‘n Maklike voorbeeld is as jy vir iemand sê dat dit wat hulle aan het baie mooi lyk, terwyl jy eintlik dink dat hul klere baie lelik is. Dit klink dalk heel onskuldig, maar tog klassifiseer dit as ‘n leuen. Vir so ‘n klein wit leuen sal ons gewete ons nie noodwendig aankla nie (self al moet dit), daarom gee God ons nog ‘n middel om ons te help onderskei tussen die waarheid en die leuen. Dit is gebed. In Jakobus 5:16 lees ons: *“Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.*” Ons moet dus tot God met eerbied nader en Hom vra of Hy vir ons sal duidelik maak wat die waarheid is. Ons moet Hom ook nederig vra of Hy ons sal vergewe vir al die kere wat ons wel teen sy waarheid ingegaan het en gekies het om ‘n leuen te vertel of te glo.
**3\. Die Heilige Gees**
Die laaste (maar vir seker die belangrikste) middel wat God aan ons gee, is die Heilige Gees wat in ons harte werk. Soos reeds genoem, het ons as sondige mens die leuen lief en nie die waarheid nie. Uit sy genade het God vir ons die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees is ons lewensvernuwer en Hy gee vir ons die wil en die krag om hoe langer hoe meer teen die leuens van die wêreld te stry. Ons lees in Romeine 8:26: *“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge”.* Ons sien dit is juis deur die Heilige Gees wat ons die vorige twee middele kan toepas.
As opsomming: God is die enigste waarheid. Hy gee aan ons middele om makliker te kan onderskei tussen leuen en waarheid. Die middele is: sy skrif (waarin Hy Homself openbaar), ons gewete (wat ons aankla as ons besig is om die leuen bo-oor die waarheid te kies), en die gebed (waar ons Hom kan vra om vir ons die lyn tussen waarheid en leuen duidelik te maak). God wek dan ook by ons die behoefte om vir sy waarheid te kies deur middel van die Heilige Gees.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ons word vervolg!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ons-word-vervolg/
Last updated: 2024-04-10T10:12:53.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Maranata*
Ons karre en huise is verseker teen diefstal. ‘n Erediens vanuit die gemak van jou sitkamer klink ook nie meer na ‘n slegte idee nie. Die samelewing is konstant gedrewe om nuwe hoogtes van gemak en sekuriteit te verskaf. Hoe gereeld dink ons nog oor die vraag of die wêreld regtig ons tuiste is? Het Christus nie gesê dat ons “nie van die wereld is nie, maar in die wêreld”? ([Johannes 17:14-16](https://www.bible.com/af/bible/5/Jhn.17.14-16.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) Dryf die gemak ons nie juis weg van ‘n vertrouensvolle lewe met God nie?
In die tye van die vroeë kerk het die kerkvader Tertullianus gesê dat die “bloed van die martelare” die “saad van die kerk” is. Christene was in daardie tye hewig vervolg, maar tog het dit nie die kerk se groei gekeer nie. Wêreldwyd vandag is daar lande waar mense vervolg word vir hulle geloof.
Tog sien ons ook ‘n ander kant in die moderne samelewing. [Studies](https://blog.oup.com/2020/12/why-is-religion-suddenly-declining/?ref=olielamp.vgk.org.za) het bewys dat hoër-inkomste lande geneig is om minder religieus te wees. Die gesondheidsorg, lewensverwagting, voedselsekuriteit en algemene lewensgemak word op hoë standaarde gehandhaaf in sulke lande, maar daarteenoor is die bevolking ook minder religieus.
Dit is maklik om die vinger te wys na sulke lande en te dink dat die probleme nie op ons van toepassing is nie. Dalk kry jy goeie punte op skool of universiteit; dalk kry jy ‘n goeie inkomste en mag jy geniet van goeie “job security”, of dalk is dit gesondheid waarvan jy mag geniet. Raak jy dan soms gerig op jouself, in plaas van op God?
Daniël, iemand wat hoog in die rang van Koning Belsasar aangestel is, het drie maal daagliks God gedank ([Daniël 6:11](https://www.bible.com/af/bible/5/Dan.6.11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Daniël het “koninklik” geleef, maar dit het nie sy geloof geaffekteer nie. Job was ook ryklik geseën met welvaart: baie landerye en ‘n oorvloed kos ([Job 1:1-3](https://www.bible.com/af/bible/5/Job.1.1-3.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit het ook nie sy geloof geaffekteer nie. Met beide hierdie voorbeelde het die duiwel op die ou end objektief probeer om Job en Daniël van God af weg te kry. ([Job 1:6-12](https://www.bible.com/af/bible/5/Job.1.6-12.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) en [Daniël 6:10-17](https://www.bible.com/af/bible/5/Dan.6.10-17.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
In ons daaglikse lewe, laat ons nog ons lig skyn? Dank ons God elke oggend dat ons gesond mag wees, ‘n werk mag hê, die voorreg mag hê om skool toe te mag gaan, of selfs net vir nog ‘n dag uit Sy hand? Dit is so maklik om van die klein goed in die lewe te vergeet. Word ons geloof dan net gebruik vir die ‘grensgevalle’? As iemand sterf, as iemand siek is, as iemand gebore word, of na ‘n stresvolle tyd? ‘n Klein vuurtjie kan lei tot ‘n veldbrand. Wanneer ons God nie in ons daaglikse lewe sien nie, is dit moontlik dat God ook uit die groot prentjie kan verdwyn. Die duiwel is op soek na Christene wat hulle vertroue nie volledig op God stel nie. Christene wat nie alles uit God se hand verwag nie.
Christene wat vervolg word se geloof staan juis sterk, omdat hulle God in elke voetstap van hulle lewe raaksien. Na ‘n donker nag is hulle weer dankbaar dat die son opkom en dat God hulle deur die nag bewaar het teen die gevare. Christene word wêreldwyd vervolg, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Ons is deel van die geestelike vervolging! Laat ons nie die onmeetbare voorreg wat ons het om ons geloof openlik te kan bely, deur ons hande laat gly nie, want daar word daagliks swak plekke in ons geloof gesoek. Die duiwel laat nie ‘n enkele Christen in rus en vrede nie - jou ook nie.
As Christene sal die lewe op aarde nie maklik wees nie ([Johannes 15:18-20](https://www.bible.com/af/bible/5/JHN.15.18-20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Wanneer ons tuis voel in die wêreld, moet ons onsself begin afvra of ons fokus steeds op Christus gerig is, en of die duiwel nie dalk vatplek in ons lewe begin kry het nie. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu ([1 Petrus 5:8](https://www.bible.com/af/bible/5/1Pe.5.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Laat ons geloof sterk staan, laat ons “waaksaam wees” en “laat niemand die eerkroon ons ontroof” nie! (Skrifberyming 43:5 berymd).
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Global Warming - Moet Christene bekommerd wees?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/global-warming-moet-christene-bekommerd-wees/
Last updated: 2024-03-30T07:00:57.000Z
*Geskryf deur Stefan Koning, Calvary Baptist Church*
Dit is duidelik dat ons die opdrag gekry het om die aarde te bewerk en te bewaar vanuit Genesis, maar hoe gemaak met aardverwarming of die sogenaamde klimaatsverandering? Is dit ooit waar dat die klimaat besig is om te verander? En word dit werklik deur ons veroorsaak? As dit deur ons veroorsaak word, hoe vêr gaan ons om dit teen te werk?
God het aan die mens beveel: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” ([Gen 1:28](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.1.28.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) En, “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” ([Gen 2:15](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.2.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) Hiervan leer ons dat dit van die begin af die plan was dat die mens oor die aarde heers en dit bewerk, en dat die aarde duidelik gemaak is om gevul te word. Herken u die benoude gevoel as u sien dat daar nog ’n mooi oop veld toegebou is? Ek dink nie ons hoef benoud te word nie. Dit is naamlik die idee dat die aarde bewerk word. Ons moet ook versigtig wees met uitsprake dat daar genoeg of te veel mense op die aarde is. Dit is nog altyd die plan dat die aarde gevul word. Kortom, dit is mooi en goed as die mens die aarde gebruik om te skep en te vermenigvuldig.
Dit is presies hieroor waar die groot verskil lê tussen Christene en hedendaagse klimaataktiviste. Laasgenoemde sien die mens as ’n plaag wat Moeder Aarde infekteer. Die oorsprong hiervan is natuurlik die leuen van evolusie: dat die mens eintlik maar ’n bietjie laat gekom het op die aarde wat al miljoene jare voor hom hier was. Hierdie wêreldsbeskouing verhef die skepping en ontken die Skepper.
Maar laat ons nie te haastig wees nie. ‘n ‘Environmentalist’ is nie per definisie sleg nie. Dit is juis goed as daar mense is wat voltyds hulle aandag daaraan kan bestee om die omgewing se gesondheid dop te hou. Ongelukkig is baie van hulle mense met ’n anti-Christelike wêreldsbeskouing. Hierdeur is daar dan die gevaar dat ons so gekant raak teen die omgewingsaktiviste dat ons nie gewillig is om enige sorg vir die aarde te erken nie. Omgewingsbewustheid kan onder ons so ’n swaarbelaaide term word dat ‘n mens skeef aangekyk word as jy ‘n voorstander is vir die omgewing bewaar. As Christene moet ons dus bepaal watter tipe skeppingsorg toepaslik is. As dit so is dat die mens bydra tot klimaatsverandering, moet ons as Christene dit proaktief benader. Ons moet dan ’n oplossing vind wat minder skadelik is as die probleem.
U kan dalk ook wonder oor hoe ons moet sorg vir ’n aarde wat tog eendag in sy geheel verbrand sal word? ([2 Petrus 3:10](https://www.bible.com/af/bible/5/2Pet.3.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) Ek dink op dieselfde manier as wat ons vir ons liggame sorg. Ons liggame gaan ook eendag begrawe word en vergaan, maar tog moet ons mooi daarvoor sorg terwyl ons nog in die lewe is. Die uiteindelike vernietiging van die aarde en die uiteindelike vergaan van ons liggaam maak nie die aarde en ons liggaam waardeloos nie. Die feit dat beide vergaan voorkom hopelik wel dat ons dit verafgod.
Voordat ons kyk of klimaatsverandering wel deur die mens veroorsaak word of nie, laat ons eers kyk wat die Bybel hieroor sê. Ons het naamlik goeie Bybelse rede om te glo dat die aarde oor die algemeen stabiel sal wees. Gen 8:22 sê: “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” Met dit gesê, is dit ook nodig om te onthou dat die skepping onderworpe is aan nietigheid ([Rom 8:20](https://www.bible.com/af/bible/5/Rom.8.20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Ons kan nie ’n ‘utopia’ verwag hier op aarde nie. Kyk ook na die sewe voorspoedige jare en die sewe maer jare in die tyd van Josef. Eintlik kan ons hier al stop en weet dat ons nie bekommerd hoef te wees nie, omdat God dit vir seker onder beheer het.
Kom ons kyk nou na ’n paar feite. Twee belangrike punte om te oorweeg is:
1. Die atmosferiese CO2 het toegeneem sedert 1860 vanaf ’n beraamde 285 ppm (‘parts per million’) of 0.029% van die atmosfeer tot 410 ppm of 0.041% in 2020\. Die tempo van toename is sowat 2 ppm per jaar of ‘n 50% toename oor 160 jaar.
Die planeet het sowat 0.8°C warmer geword sedert 1880 en die helfte van hierdie verwarming het geskied nog voor daar noemenswaardige veranderinge in CO2 vlakke was. Dus kan ten minste die helfte van die verwarming nie deur die mens se toedoen wees nie!
Neem kennis dat die menslike bydrae van CO2 deur verbranding van fossielbrandstowwe minder as 5% van die aarde se CO2 vrystelling is. Ander bronne sluit in: ontbossing, volkane, verweer van rotse, die oseane en die afbreek van organiese oorblyfsels.
Kweekhuis gasse is - glo dit of nie - belangrik vir die leefbaarheid van die aarde. Daarsonder sou die gemiddelde temperatuur van die aarde ’n beraamde 33°C laer wees, wat die aarde vir seker onleefbaar sou maak. Verder is hierdie 33°C verwarming hoofsaaklik te danke aan waterdamp. Slegs sowat 3.3°C van die 33°C kan toegeskryf word aan CO2.
Nog ’n detail wat nie onbelangrik is nie, is dat CO2 slegs ‘n klein deel van die infrarooispektrum absorbeer. Dit sorg dat die verwarmende effek van CO2 afneem met hoër konsentrasies. Met hoër konsentrasies CO2 word al die radiasie in daardie klein venster van die spektrum opgeneem en geen verdere hitte kan opgeneem word nie, ongeag of die CO2 konsentrasie toeneem. Hierdie effek is heel gerieflik uitgelaat in die opsomming van die IPCC (‘International Panel on Climate Change’) wat aan owerhede se beleidmakers verskaf is.
Die bewering dat 97% van wetenskaplikes saamstem dat mensgegenereerde CO2 katastrofiese aardverwarming sal veroorsaak is nie waar nie. Wat die studie eintlik bevind het, is dat van ’n poel van twaalfduisend klimaatgerigde artikels van 1991 tot 2011, waar mense wel hul menings lug, 97% van die artikels die mening het dat die mens aardverwarming veroorsaak. Hulle sê dus nie dat dit katastrofiese gevolge sal hê nie. Slegs 64 van die 12 000 beweer dat die meeste van die verwarming deur die mens veroorsaak is. Ons moet ook rekening daarmee hou dat hierdie slegs gaan oor artikels waar daar ’n opinie gelug word. Twee derdes het nie ’n opinie gelug nie. In 2016 is daar 500 artikels in wetenskapsjoernale gepubliseer wat die sogenaamde ‘konsensus’ oor klimaatsverandering ernstig bevraagteken.
Om jou op konsensus te beroep is nie ’n argument nie. As dit gaan oor wat die meerderheid se mening is, dan is dit nie meer wetenskap nie. As dit werklik wetenskap is, dan hoef ‘n mens nie ’n argument op konsensus te bou nie.
Mislukte voorspellings regverdig dit ook om skepties te wees oor klimaatsverandering. So te sê alle doemvoorspellings sedert die 1970s is verkeerd bewys. Een van die voor spellings was dat getal ysbere sou afneem en hulle selfs gedreig sou word met uitsterwing, maar sedert 2005 is die getalle stabiel. Dit is ’n voorbeeld van waar daar op die emosies van mense ingespeel word om radikale aksie te neem vir klimaatsverandering. Hoekom maak dit vir hulle saak dat die ysbere uitsterf? Iets anders sal mos in hulle plek ontwikkel deur evolusie? Of dalk nie? Dit maak in elk geval nie saak nie – die lewe het tog mos net perongeluk ontstaan. Die feit dat hulle morele argumente maak wanneer hulle geen basis daarvoor het nie, wys dat dit meer gaan oor manipulasie as wetenskap.
Slegs vanuit hierdie enkele stukkies inligting is dit duidelik dat die bydrae van die mens nie so klinkklaar helder is nie. Dit is dus ook nie geregverdig om sulke radikale aksie te neem soos wat deur die doem profete van ons tyd gepreek word nie. Ons rede om nie bekommerd te wees nie is dus tweevoudig – ons Vader in die hemel, wat alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, het ook die weer in Sy hande, en daar is baie rede om skepties te wees oor dit wat die klimaatprofete alles kwyt raak.
Om meer uitgebreid hieroor te lees verwys ek u na ’n artikel gepubliseer deur Creation.com met die titel “Anthropogenic Global Warming – a biblical and scientific approach to climate change”.
Inligting verkry deur: Anthropogenic Global Warming – a biblical and scientific approach to climate change – [Creation.com](https://creation.com/climate-change?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe bestuur ek my tyd?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-bestuur-ek-my-tyd/
Last updated: 2024-05-11T14:47:55.000Z
*Geskryf deur Imáney Janse van Rensburg en Wicus van der Linden, VGK Bellville*
Soos ek hierdie sit en skryf, is dit 20:04, die aand voor die inhandiginsdatum. Ironies, né? Ek het toe gou Wicus se hulp ingeroep om hierdie artikel vinnig en deeglik te doen.
As ons bereid is om tyd te maak om ʼn film te gaan kyk, waarvoor anders sal ons bereid wees om tyd te maak? As ons lewens so gevul word met ander dinge, hoe lyk ons gebedslewe? Tussen al die hokkieproewe, kooroefeninge, RTT-take, eet en ʼn gesonde 8 ure slaap, is ons doelbewus besig om ook tyd uiteen te sit om ons geloof te versterk? Hiermee praat ek nie net van Sondag kerk toe gaan of Woensdagmiddag se Bybelstudie of selfs Vrydagoggende se gebedskring nie. Ek praat van tyd alleen. Net jy en jou gebede, in die teenwoordigheid van God. Stiltetyd.
As ek nou doodeerlik moet wees, bestaan my gebedslewe die afgelope tyd uit skietgebedjies. Gou-gou vinnig voor ons ry of voor ek eet, of wanneer my rekenaar ʼn blou skerm gooi en ek nie seker is of my dokument gesave is nie. Maar God wil nie net van jou hoor wanneer jy in ʼn penarie is nie. Hy wil hê ons moet alles wat ons doen, tot sy eer doen ([1 Kor 10:31](https://www.bible.com/af/bible/5/1Co.10.31.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit beteken dat wanneer jy ʼn drie druk in rugby, jou Afrikaanse mondeling opsê of jou BigMac eet, jy vir God eerste sit.
Hoe pas ʼn mens dit alles in, veral in ʼn samelewing wat rondom jou jaag? Dit is nie ʼn probleem wat ons net in die kerk ervaar nie – ʼn vinnige Google Search sal vir jou ʼn dosyn artikels en blogposts gee oor hoe om jou tyd te bestuur, hoe om die meeste van elke dag te maak, en nog meer. Daar steek ʼn greintjie waarheid daar agter: ʼn mens kan nuttige metodes oor beplanning, roetine en balans leer. Tog is dit nie net ʼn moderne probleem nie – jy kan net soveel wyse woorde en raad in Bybelverse vind oor die belangrikheid van tydsbestuur. Ons kyk dus na metodes en tegnieke vir tydsbeplanning met ʼn Bybelse perspektief.
Die beginpunt van die meeste raad is ʼn magdom kalenders, alarms en reminders, gepaard met to-do lyste en skedules. Daar is waarde in beplanning - om jou planne neer te lê op papier kan die afskoppunt wees om daardie planne te realiseer. Spreuke 16:3 vat dit ʼn stappie verder: lê jou planne nie net op papier neer nie, maar by God se voete. “Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou.” (AFR 2020)
Tydsbeplanning is egter nie ʼn eenvoudige formule om te volg nie. Elke persoon se skedules en roetines sal verskil. Dit kan tyd en beproewing vat om jou eie balans te vind. Dit kan ʼn mens hulpeloos of magteloos laat voel. Selfs hier kan ons troos by God vind, want soos Prediker 3 ons leer, is daar ʼn tyd vir elke saak. Efesiërs 5 stel dit mooi: “Koop die tyd uit” ([v16a](https://www.bible.com/af/bible/5/ECC.3.16.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), maar tog “probeer eerder om te verstaan wat die wil van die Here is” ([v17b](https://www.bible.com/af/bible/5/ECC.3.17.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Die tweede groot punt is om jou prioriteite te stel. Sekulêre raadsartikels het heelwat om te sê hieroor: fokus op die take wat die belangrikste is en as jy vassit, kry eers die klein vinnige take uit die pad uit en maak tyd vir jouself en jou gemoed. Die Bybel leer ons egter ʼn belangriker punt: “Bedink die dinge daarbo” ([Kol 3:2](https://www.bible.com/af/bible/5/Col.3.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en “soek eers die Koninkryk van God” ([Matt 6:33](https://www.bible.com/af/bible/5/Mat.6.33.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). As jou prioriteite by Hom begin, sal al die ander dinge vir jou bygevoeg word.
Ja, makliker gesê as gedaan. Dit sal steeds harde werk verg. Paulus beaam dat ons alles wat ons doen, geesdriftig en toegewyd moet doen ([Rom 12:11](https://www.bible.com/af/bible/5/Rom.12.11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), [Kol 3:23](https://www.bible.com/af/bible/5/Col.3.23.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Ons kan net volhou in harde werk met die wete dat daar voordeel in alle harde werk is ([Spr 14:23](https://www.bible.com/af/bible/5/Pro.14.23.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Ons staan in diens van die Here Christus en ons sal ʼn erfdeel as beloning van die Here ontvang ([Kol 3:24](https://www.bible.com/af/bible/5/Col.3.24.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Selfs op aarde is ons nie alleen hierin nie. Christus het ons tog sy kerk gegee, ʼn gemeente om ons te ondersteun (soos Wicus wat my, sonder om ʼn oog te knip, hiermee gehelp het). Immers, met baie raadgewers hou planne in stand ([Spr 15:22](https://www.bible.com/af/bible/5/Pro.15.22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), en ʼn driedubbele koord word nie maklik gebreek nie ([Pred 4:12](https://www.bible.com/af/bible/5/Ecc.4.12.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Steun dus op jou broeders en susters in nood en ondersteun hulle wanneer hulle dit nodig het. Beplan jou dae, stel kalenders en roetines op, maar sê altyd weer: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” ([Jak 4:15](https://www.bible.com/af/bible/5/Jas.4.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Begin elke keer weer met gebed. Soos Paulus in Kolossense 4:2 sê: volhard, wees waaksaam, en wees dankbaar.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe doen ek Bybelstudie?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-doen-ek-bybelstudie/
Last updated: 2024-03-17T06:04:12.000Z
*Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria*
Bybelstudie is een van die belangrikste dinge in ons verhouding met God. Deur Bybelstudie leer ons meer van God, die Evangelie en hoe Hy geloof en geprys wil word. Deur die Skrif leer God ons meer van Homself.
God het ons op aarde geplaas om Hom te verheerlik. Om Hom te verheerlik soos Hy verheerlik wil word, bestudeer ons die Skrif. Die Skrif leer ons hoe ons meer en meer na die beeld van God kan en moet leef. Dit vind ons nie net in God se wet nie, maar reg deur die Skrif.
Bybelstudie is om na God te kyk en Hom te leer ken. In gehoorsaamheid aan God se Wet, moet ons nie net luister na wat die Skrif van ons vra nie. Bybelstudie moet ʼn hartsverandering in jou bewerkstellig.
ʼn Hartsverandering kan nie plaasvind sonder die werk van die Heilige Gees nie. Daarom is gebed ook ʼn belangrike aspek van ons Bybelstudie. Bid dat die Heilige Gees kragtig in jou sal werk, jou hart sal oopmaak om jou te verander en, indien jy afgedwaal het, weer terug na Hom te bring.
Daar is baie metodes en studieplanne om die Woord te bestudeer. Soek maar net: ‘*how to study the Bible’* en jy sal talle webblaaie vind. Ek deel graag ʼn paar metodes:
- Karakterstudie: Hier fokus ‘n mens op spesifieke karakters in die Bybel, soos byvoorbeeld Ester, Dawid of Jona. Ons kan baie lesse uit hulle lewens leer en dit toepas op ons eie lewens.
- Bybelboekstudie: Dit is een van die mees bekende studiemetodes, waar ons soek na die hooftema, subtemas, lesse, herhalings, die doel van die Bybelboek, ens.
- Tema- of Onderwerpstudie: Dit sluit temas oor uitverkiesing, aborsie, “LGBT++” beweging ens. in.
- Woordstudie: Hier bedoel ek spesifieke woorde, soos die woord “liefde” wat drie verskillende woorde in Grieks is.
Kommentare en preke is baie nuttig vir Bybelstudie. Voordat ‘n mens egter na verskeie mense se kommentare kyk, is dit belangrik om eers te vra: “Wat sê die Bybel? Wat sê die vers in die konteks van die hele hoofstuk, die hele Bybelboek en die hele Bybel?”
Baie keer as ons nie verstaan wat die skrywer bedoel nie, sal ons vinnig gaan kyk na kommentare en hoe ander mense dit verstaan, in plaas van om dieper te delf en te vra: “Wat beteken hierdie vir my?” Ons is bang dat ons die Bybel verkeerd gaan verstaan en op ʼn dwaalspoor sal kom. Ons moet besef dat alhoewel dit ʼn realiteit is, die Heilige Gees ons sal lei in ons Bybelstudie.
Induktiewe Bybelstudie is ʼn studiemetode waar ons eers kyk wat die Skrif sê, voordat ons iemand anders se werk gaan opsoek en sien hoe hulle die stuk benader. Induktiewe Bybelstudie word verdeel in drie dele, naamlik: observasie, interpretasie en toepassing. Die drie vrae wat ons vra is: “Wat?”, “So wat?” en “Wat nou?”
### **Observasie**
Ons kyk na die groter prentjie en kry ‘n oorsig van waaroor ‘n spesifieke teks gaan. Dan vra ons: “Wat?” Dit is ʼn soeke na feite. Ons kyk na die agtergrond inligting, soos wie dit geskryf het, wat die omstandighede was, waar dit geskryf en gelees is, belangrike plekke waarna verwys word, die historiese konteks en die doel waarmee dit geskryf is.
Deel van observasie is om te “*slow down*”. Hierdie vrae help ons om dinge raak te sien wat ons gewoonlik miskyk, en konneksies te maak met ander dele in die skrif.
‘n Nuttige taktiek kan wees om sleutelwoorde uit te lig. Dit help ons om te fokus op die belangrikste punte. Verwysings na God kan amper orals in die Bybel as sleutelwoorde uitgelig word. Die doel van Bybelstudie is immers om meer van God te leer.
Lysies is ook ʼn manier om Bybelstudie makliker te maak. As jy byvoorbeeld 1 Korintiërs 13 lees, waar liefde ʼn sleutelwoord in die teks is, kan jy ʼn lysie maak van dit wat die liefde is en nie is nie. Dit kan jou help om dit op te som. In elke stuk in die Bybel is dit baie belangrik om te vra: “Wat leer ek van God in hierdie stuk?”
### **Interpretasie**
So wat? (In Engels: “*So what*?” ) Wat beteken dit vir my? Vir my lewe? Die ding wat interpretasie so interessant maak is die feit dat niemand presies dieselfde dink oor ʼn spesifieke stuk nie. Dit is nie ʼn “*one size fits all*” nie. Vir elkeen van ons in ons eie omstandighede, beteken dit iets anders.
Dit is baie belangrik om die skrywer se vloei van sy gedagtes te verstaan, voordat ons dit kan interpreteer. Dit is moeiliker om Paulus se lang sinne te verstaan as om die verhaal van Dawid en Goliat te verstaan. As ons sukkel om sinne te verstaan, kan ons dit opbreek. Dit sal dit makliker maak om te verstaan wat die skrywer se bedoeling is.
Kruisverwysings in die Skrif kan jou ook help om dit te verstaan. Daar is nie altyd so baie Skrifverwysings in ons Bybels nie. Die *Treasury of Scripture Knowledge* ([https://tsk-online.com/](https://tsk-online.com/?ref=olielamp.vgk.org.za)) het meer kruisverwysings en wys presies watter woorde kruisverwys word.
Buiten kruisverwysings help Griekse en Hebreeuse woordstudies ook, soos *Strong\`s Exhaustive Concordance of the Bible* ([https://www.eliyah.com/lexicon.html](https://www.eliyah.com/lexicon.html?ref=olielamp.vgk.org.za)). Hier kan jy die woord in ʼn spesifieke teks in die konkordansie opsoek. Elke woord is genommer volgens die Hebreeuse of Griekse woord wat gebruik word in die grondteks. Die woord “liefde” in Genesis 29: 32 se nommer is byvoorbeeld H157\. In die leksikon word die betekenis van die woord verduidelik.
As die teks nog steeds vir jou moeilik is om te verstaan, is dit ʼn goeie idee om tog kommentare te lees. Maak net seker dat jy Skrifgetroue kommentare lees.
### **Toepassing**
ʼn Mens kan nie stop by wat die Skrif jou leer nie. God wil jou hart verander. So wat nou? Hoe moet ek my lewe verander? Dit is die algemene vraag.
ʼn Mens kan maklik ʼn verkeerde toepassing maak. Ons is geneig om ʼn les of ‘n gebod te soek, maar ons bestudeer nie in die eerste plek die Bybel om die wette na te kom nie. Ons kan ook nie die verse uit konteks haal om iets te beteken wat ons wil hê dit moet beteken nie.
Die Bybel gaan nie oor ons nie, dit gaan oor God. Hy is die protagonis in die Bybel. Ons is nie eens die antagoniste in die Bybel nie. Ons is niemand nie. Daarom, as ons ʼn toepassing maak, moet die toepassing nie oor ons gaan nie. Die toepassing het te doen met ons, maar dit gaan nie oor ons nie.
Die toepassing begin by God. Jy kan eerder vra: “Wat het ek van God geleer?” en “Hoe kan ek meer na die beeld van God leef?” Die hart van toepassing is: Laat die Woord toe om die manier waarop jy dink, voel en leef te verander om meer na God se beeld te streef.
Die belangrikste van Bybelstudie is om jou oë op God gerig te hou. Laat die Heilige Gees jou lei om uit liefde vir God Bybelstudie te wil doen, om Hom nog meer te verheerlik in jou lewe.
“Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie getuienis voor baie getuies afgelê het.” 1 Tim. 6: 12
### Bronne
- Erickson, C. K. (2020, February 23). *The Important Skill Your Students Need: How to Love God Through Studying His Word*. Retrieved from [Rooted Ministry](https://rootedministry.com/podcasts/the-important-skill-your-students-need-how-to-love-god-through-studying-his-word-with-chelsea-kingston-erickson-rooted-2020-conference-workshop/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Forster, K. (2019). *Transformed by Truth: Why and How to Study the Bible for Yourself as a Teen.* Crossway.
- Kim, D. (2022, December 26). *11 Ways to Study the Bible: Methods, Techniques & Tips*. Retrieved from [Pursuit Bible](https://pursuitbible.com/ways-to-study-the-bible/?ref=olielamp.vgk.org.za)
*Ander aanbevole bronne*
- *Bible Study A Student\`s Guide* deur Jon Nielson
- [https://faithpro.org/how-to-study-the-bible-more-effectively-10-easy-steps/](https://faithpro.org/how-to-study-the-bible-more-effectively-10-easy-steps/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://tsk-online.com/](https://tsk-online.com/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.eliyah.com/lexicon.html](https://www.eliyah.com/lexicon.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Vriendskap: 'n Geskenk van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vriendskap-n-geskenk-van-god/
Last updated: 2024-03-13T07:00:05.000Z
*Geskryf deur Danelle van der Meer, VGK Pretoria-Maranata*
In die begin van die Bybel lees ons dat God gesê het dat ‘dit nie goed is dat die mens alleen is nie.’ Daarom het God Eva as vrou vir Adam gegee. Die huwelik is die mees intieme vriendskap. Maar vriendskappe is meer as net ‘n lewensmaat. God het ons as sosiale wesens geskep. Ons is gemaak om vriendskappe te soek. Dit is ‘n kosbare juweel in ons lewens hier op aarde.
In die boek Spreuke sien ons wat ‘n ware vriend is:
- ‘n Ware vriend toon liefde, maak nie saak in watter situasie jy is nie. (Spreuke 17:17)
- ‘n Ware vriend gee opregte raad (Spreuke 27:9)
- ‘n Ware vriend bestraf, in liefde, wanneer nodig. (Spreuke 27:5-6)
- ‘n Ware vriend vergewe en koester geen wrok nie. (Spreuke 17:9)
- ‘n Ware vriend is lojaal (Spreuke 18: 24)
Dawid en Jonathan is ‘n bekende Bybelse vriendskap waar lojaliteit hoog geag is. Na die dood van Jonathan het Dawid vir hom ‘n lied geskryf as huldeblyk aan sy vriendskap.
Die keuse van jou vriende is baie belangrik, want dit het ‘n groot invloed op jou lewe. Vra jouself af: is hierdie mense besig om my te help groei in my geloof? Soek hulle die beste vir my? Kies jou vriende reg!
Vriendskappe vereis harde werk, maar ook geduld en vergewing. Vra om vergewing, maar wees ook bereid om te vergewe, soos Jesus ons vergewe (Kolossense 3:13). Moet nie ou koeie uit die sloot haal nie.
Eerlikheid en openhartigheid is noodsaaklik in ‘n vriendskap. Om mekaar te vermaan in liefde wanneer die waarheid vertel word, is nie maklik nie. Dit maak seer, maar vriende is daar om mekaar te help en saam te groei as kinders van die Here.
‘n Mens kan nie met almal ware vriendskappe sluit nie. Dieselfde tyd en energie kan nie aan elke verhouding bestee word nie, maar dit keer ons nie om vriendelik te wees teenoor mekaar en ander nie. Soek diepte in vriendskappe, ondersteun mekaar, luister na mekaar en gee raad. Bid vir mekaar in goeie en slegte tye. Wees ondersteunend. Ons kan ‘n voorbeeld kry uit Jesus se lewe hier op aarde. Hy het 12 dissipels uitgekies en liefgehad, maar met drie het Hy ‘n baie noue band gehad. Volg Sy voorbeeld.
In Johannes 15:13-15 gee die Here Jesus vir ons die definisie van ‘n ware vriend: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat diensknegte nie weet wat sy heer doen nie. Maar ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
Jesus het sy lewe gegee, sodat ons weer in ‘n diepe, eerbiedige vriendskap met God kan lewe. Met groot eerbied vir ons Verlosser, kan ons sê dat Jesus Christus ons getroue en grootste Vriend is. Hy sal ons nooit verlaat nie. In jou alleenheid, blydskap, droefheid of grootste vreugde is Hy daar vir jou.
Ons het almal vriende nodig, kies daarom jou vriende reg.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die mag van die tong
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-mag-van-die-tong/
Last updated: 2024-03-09T07:00:23.000Z
> **“Maar die tong kan geen mens tem nie, dit is ‘n onbedwingbare kwaad vol dodelike gif.” (Jakobus 3:8) Oordryf hierdie vers nie te veel nie? Het die tong dan so baie mag? Is die tong so dodelik en gevaarlik soos wat ons hier lees?**
*Geskryf deur Saskia Moes, VGK Pretoria*
### **Boosheid van die tong**
“Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.” (Spreuke 13:3) Die tong het die mag om ons weg te ruk van die ewige lewe saam met God. Ons moet besef dat die gebruik van ons tonge baie ernstige gevolge vir ons toekoms inhou. Dit is ‘n saak van lewe of dood. Ons lees in Mattheus 15:18: “Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.” Dit wat ons sê en hoe ons iets sê, weerspieël wat in ons harte aangaan. Dit dui aan hoe ons in ons verhouding met God staan. Die gebruik van ons tonge kan ons werklik onrein en vuil voor God laat staan. Dat ons self die verantwoordelikheid moet neem vir ons woorde, blyk duidelik uit Spreuke 18:21: “Dood en lewe is in die mag van die tong, en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet”. God sal op die laaste dag oordeel oor elke woord wat ons gespreek het.
“Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.” (Jakobus 3:6)
In hierdie vers word ons gekonfronteer met die onaangename waarheid. Wanneer jy met iemand baklei of lelik van iemand praat, voel jy dalk vir ‘n kort tydjie beter oor jouself, maar op die ou end voel jy net meer skuldig en verwyderd van God. Net soos die spoed waarteen droë gras deur vuur verbrand en vernietig word, so vinnig vernietig die tong ons verhoudings. Jou woorde beskadig nie net die persoon waarmee of waaroor jy praat nie, maar ook jouself. Die tong neem jou hele liggaam oor. Dit het so baie mag dat dit die hele lewensloop besoedel! Baie van die probleme in vandag se lewe het ontstaan as gevolg van slegte kommunikasie en bedrog. Jakobus gaan selfs so ver om te sê dat ons tonge uit die hel aan die brand gesteek word. Dit is baie duidelik dat die Bose juis hierdie geskape liggaamsdeel gebruik om ons in sy mag te kry. Ons moet egter besef dat dit die teenoorgestelde is van wat God wil hê. Hy het op Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, tonge van vuur laat verskyn as simbool van Sy teenwoordigheid. Is dit nie ironies nie? Die keuse lê tussen tonge van vuur wat uit die hel aan die brand gesteek word, of tonge van vuur wat die teenwoordigheid van die Heilige Gees aandui.
Die boosheid van die tong is egter nie net ‘n probleem in die hedendaagse wêreld nie, maar dit was al vanaf die sondeval ‘n struikelblok vir die mens. God sê in Mattheus 15:8: “Hierdie volk nader My met hulle monde en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van my af.” By baie van ons Christene heers die gevaar van skynheiligheid. Ons gaan getrou kerk toe en ons sing psalms. As ons sing, is dit net uit gewoonte? Of let ons werklik op na wat ons sing? As ons met ons medegelowiges oor God praat, bedoel ons dit werklik uit ons hart uit? Of is dit maar net oppervlakkig?
### **Maar hoe moet ons dan wel die tong gebruik?**
“So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Ons moet voordat ons met ander mense praat, eers goed nadink oor wat ons gaan sê, hoe ons dit gaan sê, en of dit ooit nodig is om te sê. “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29). Ons moet onsself weerhou van kras woorde en laster. Ons moet nie onder die wêreld se druk val en die soort taal gebruik wat hulle as “cool” sien nie. “Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie” (1 Petrus 3:10). As ons volgens God se wil wil leef, moet ons onsself weerhou van leuens, kwaadpratery, verkleinering en skinder, asook neerhalende boodskappe op sosiale media.
Ons as Christene is deel van die liggaam van Christus. Ons moet dus in liefde en gemeenskap met mekaar lewe. Dit beteken dat ons ons tonge moet gebruik om ander in die gemeente te bemoedig en te ondersteun. Ons moet mekaar kan vertrou as ons ons bekommernisse of pyn deel, met die wete dat die ander lid nie daaroor sal skinder of ‘n grap daarvan sal maak nie. Ons moet ons tonge gebruik om te vergewe en vrede te maak. Ons moet die waarheid teenoor mekaar spreek. Ons is deesdae geneig om te veel oor die negatiewe probleme van die lewe te kla, wat so aansteeklik vir die mense om ons is. As ons egter weer besef waaroor ons lewe hier op aarde gaan en hoe groot die onverdienstelike genade van ons verlossing is, dan moet ons die negatiwiteit aflê en ons lewe met positiewe gesprekke vul. Ons moet ons woorde so kies dat dit ander sal opbou. Probeer om die mooi in jou naaste raak te sien en hulle oor hul talente te komplimenteer.
Die belangrikste van alles is dat ons die Skepper van hierdie klein, maar magtige, liggaamsdeel die eer toesing. Elke Sondag in die kerk, maar ook in ons daaglikse lewe. Ons moet Hom prys met lofgesange en liedere. God het ons tonge van vuur geskenk om die Evangelie in die wêreld uit te dra. Laat ons God vra om ons lippe ook soos Jesaja s’n te reinig met vuur (Jesaja 6), sodat ons van Hom en Sy ongelooflike liefde en almag kan getuig. Ons moet ons lewe vul met gebede tot God, waardeur ons met ons tonge persoonlik nader aan God kan groei. Mag ons dan ook naspreek wat Dawid in Psalm 19:15 tot God bid: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”, asook “HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3).
Laat ons die groot en moeilike verantwoordelikheid van hoe ons praat ernstig opneem, soos wat ons lees in 1 Petrus 4:11: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God…”. Ons wat na Sy Beeld geskape is, moet ook Sy voorbeeld navolg in hoe ons kommunikeer en praat. Om hierdie verantwoordelikheid na te kom moet ons begin by ons harte, “want uit die oorvloed van die hart spreek die mond.” (Lukas 6:45)
Laat ons leef met die bewustheid van die mag van die tong en onsself voorneem om ook te bely: “Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie, ek wil my mond in toom hou solank as diegoddelose nog voor my is” (Psalm 39:2).
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### My Christelike Lewe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/my-christelike-lewe/
Last updated: 2024-03-05T07:00:05.000Z
*Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata*
Baie van ons is bekend met die storie van “Alice in Wonderland”. Op ‘n gegewe tyd in die verhaal bevind Alice haarself op ‘n pad waarvan sy nie die eindbestemming ken nie. Op hierdie reis kom sy dan op ‘n stadium by ‘n vurk in die pad. Verbouereerd en effens gefrustreerd wonder Alice waarheen sy nou moet gaan. Sy kyk op en gewaar ‘n kat wat in ‘n boom sit met ‘n vreeslike misterieuse grynslag op sy gesig. Met ‘n sug van verligting roep Alice uit na die kat vir raad: “Meneer, waarheen moet ek gaan?” Die kat kyk Alice aan en vra dan: “Dit hang af…waarheen is jy oppad?” Deurmekaar antwoord sy dan: “Ek weet nie.” Dan volg die kat se antwoord: “Wel, dan maak dit nie eintlik saak nie.”
Sonder ‘n doel of ‘n eindbestemming voor oë maak dit werklikwaar nie saak watter pad Alice daarna sou volg nie. En dieselfde geld ook vir my en jou. Op die pelgrimspad in my Christelike Lewe is dit belangrik om te weet waarheen ek oppad is: die ewige heerlikheid saam met Christus! En daarmee kan ons die volgende vraag aanpak: “Watter pad moet ek dan volg en hoe lyk daardie pad dan vir my as gelowige?”
My Christelike Lewe / Christian Living is ‘n ongelooflike wye onderwerp. Dit raak al die sfere van my lewe aan. Francis Schaeffer was ‘n Amerikaanse teoloog wat in die 20ste eeu bekend gestaan het as een van die mees invloedryke van sy tyd. Hy was bekend daarvoor dat hy invloedryke interaksies met ‘n sekulêre kultuur gehad het, terwyl hy steeds by die grondslag en die kern van sy Christelike waardes bly staan het. Hy het die Christene/gelowiges aangemoedig om die waarheid van die Skrif toe te laat om elke sfeer van hulle lewe te vorm en om met die kultuur rondom hulle in waarheid en liefde te handel. Dit is hy wat hierdie onderwerp van my Christelike Lewe / Christian Living goed benader het deur die vraag te stel: “How then shall we live?” / “Hoe sal ons dan lewe?”
Wel, hoe sál ons dan lewe? Die woord Christen beskryf iemand wat “...\[verlos is\] uit die mag van die duisternis en oorgebring \[is\] in die koninkryk van die Seun van sy liefde…” ([Kolossense 1:13](https://www.bible.com/af/bible/5/Col.1.13.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Dit is ‘n onverstaanbare en onverdiende daad van genade wat die Here sonder enige menslike bydrae in gelowiges bewerk. Die woord lewe het te make met die gelowiges se reaksie op hierdie genade, in alle sfere van ons lewens.
Ons lees in Johannes 17 vers 3 dat Jesus bid dat Christene “\[die Here\] ken, die enigste ware God, en Hom wat \[Hy\] gestuur het - naamlik Jesus Christus.” Dit is dus die Here se wens vir elke wedergebore Christen om die Here meer en beter en dieper te ken en te groei in liefde vir Hom. My Christelike Lewe / Christian Living is ‘n lewe van konstante groei. Dit sou teen die wet van die Here en van die natuur wees as ek ‘n spreekwoordelike baba bly in geloof en geestelik as ‘n dwergie bly lewe. Die Heilige Gees vorm my en laat my groei in heiligmaking om ‘n geestelike volwassene te word. Ons lees in 2 Petrus 3 dat ons moet “\[sorg dat ons\] aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”
Die Here se Woord leer my ook hoe hierdie progressie in my lewe lyk:
Ten eerste moet ek verstaan wat die effek van die wet en die Evangelie is op my lewe.
Dit begin alles by die goeie nuus van Christus. Maar dit is alleen maar goeie nuus as ek ten eerste verstaan en ten volle daarvan oortuig is dat ek voor God die Vader deur die wet skuldig staan tot die dood toe. Ek is ‘n sondaar in dringende nood vir ‘n verlosser. Eers as die wet my ten volle hiervan oortuig het, dan wys die evangelie vir my die oplossing daarvoor: naamlik Jesus Christus. Die saligheid wat ek in Jesus Christus ontvang is ‘n lewendmakende gebeurtenis ([Kolossense 1:13](https://www.bible.com/af/bible/5/COL.1.13.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) en [Johannes 3](https://www.bible.com/af/bible/5/JHN.3.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Hierdie nuwe lewe verander hoe ek teen die wet en teenoor Christus staan. Die wet beskuldig my nie meer nie, maar dien nou in Christus as ‘n tipe gids vir my lewe.
Tweedens is dit noodsaaklik dat ek in kennis van God moet groei ([2 Petrus 3](https://www.bible.com/af/bible/5/2Pe.3.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
My Christelike Lewe / Christian Living behels die toepassing van die Woord van die Here, op baie praktiese maniere in al die sfere waarin ek in my lewe funksioneer. Dit is dus nodig vir my om te groei in kennis van God. Ten eerste moet ek die betekenis van God se Woord verstaan sodat ek ten tweede die toepassing van daardie waarheid in my lewe kan raaksien. Dit gaan oor van Lees en Verstaan na Toepassing in my lewe. Andersins, as ek dit eerstens verkeerd verstaan pas ek dit verkeerd toe en gaan ek agteruit in my Christelike Lewe.
Derdens sal ek dan groei in my persoonlike verhouding met die Drie-Enige God wat my geskape en verlos het.
Hierdie kennis waarin ek groei het direk te make met my persoonlike verhouding en my kennis van God. Deur die Woord te ken leer ons die Vader, Seun en Heilige Gees op ‘n baie dieper, intieme vlak ken. Die Gees lei ons in hierdie groeiproses. Hoe meer ek Hom ken, hoe meer sal ek Hom ook liefhê. Hoe meer ek Hom lief het, hoe meer sal ek dan ook word soos Hy.
Vierdens groei ek dan ook in my verhoudings met ander mense rondom my. (Familie, vriende, die medelidmate in die kerk, die wêreld).
Vanuit hierdie intieme liefde en kennis van wie God is kom daar dan ook ‘n beter begrip van wie my naaste is en hoe ek teenoor hulle staan, en hoe hulle teenoor God staan. My Christelike Lewe is ‘n lewe van liefde; eerstens ‘n diepe liefde vir God en daarna ook ‘n liefde vir my naaste. Ek kan liefhê, omdat God my eerste liefgehad het. Deur die Gees leer ek hoe om in liefde teenoor my vriende, familie, kerklidmate en ander mense in die wêreld op te tree.
Laastens groei my eie persoonlike karakter dat ek meer en meer soos Christus sal word.
Ons lees in Efesiërs 4:23-24: “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” As ek deur die Gees gelei word en arbei om hierdie groeproses aan te pak sal ek vooruit beweeg. En so kry my persoonlike Christelike karakter dan sy vorm. So sterf ek my ou, dooie mens/karakter af en trek ek die nuwe mens aan, waarin ek groei en geestelik “groot word” in Jesus Christus.
Die doel van my Christelike Lewe op die uiteinde is die verheerliking van God in wie ek nou is en in alles wat ek doen. Sy eer en heerlikheid staan voor alles anders. Hy is die Gewer van nuwe lewe en Hy hou dit ook in stand en laat dit groei. Mag ek en jy arbei vanaf ‘n geestelike baba opgroei om geestelik volwasse te word, sodat ons God in alle sfere van ons lewe mag verheerlik!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Sangoma en Voorvaders in Suid-Afrika - ‘n eerstehandse perspektief
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-sangoma-en-voorvaders-in-suid-afrika-n-eerstehandse-perspektief/
Last updated: 2024-03-05T09:51:28.000Z
*Geskryf deur Theophilus Mnisi, Free Reformed Church, Nellmapius*
In ons samelewing is die verering van voorvaders en die raadpleging van ‘sangomas’ nog nie iets van die verlede nie. Veral op die sendingsveld is dit ‘n struikelblok wat nog voor vele mense staan.
Die verering van voorvaders is ‘n godsdiens waarby baie mense betrokke raak. Dit gebeur wanneer iemand sy oorlede geliefdes aanbid en vir hulle vra vir leiding in verskeie sake, soos byvoorbeeld hoe om te trou of watter kos hy spesifiek moet eet. Om geliefdes te vereer vind nie net buite die kerk plaas nie, maar ongelukkig ook in ons eie kerke. Dit is al lankal so en raak mettertyd erger. Baie van die mense gee geskenke aan die oorlede voorvader, sodat hy dit kan aanvaar en hulle lewens kan lei.

Die tweede godsdiens wat baie sterk teenwoordig is onder ons susterkerke, sangomas (ook bekend as toordokters). Sangomas glo in ander gode. Hulle glo veral in bose geeste. Daar is ‘n paar mense van ons kerke wat hulle besoek, maar daar is ook ander mense ook buite die gemeentes wat op sangomas vertrou. Wanneer ‘n man of vrou byvoorbeeld siek is, gaan hy/sy nie na God toe en bid daaroor nie, Nee, hulle gaan na die sangomas. Hulle glo dat die sangomas hulle sal gesond maak, nie God nie.
Wanneer mense in ons gemeente hierin wil glo, d.w.s. hul voorvaders wil vereer of hul vertoue op sangomas sit, kan ons dit glad nie toelaat nie. Dit is verkeerd om na beide die kerk en die sangomas te gaan. Jy moet óf God kies en by Hom bly, óf dwaas wees en jou voorvaders of sangomas vereer. Ons kan maklik sulke dubbele godsdienste in ons gemeente raaksien, soos wanneer iemand ‘n bokvel om hulle arm aantrek. Dan weet ons dat dit van sangomas af kom.

Baie mense word as gevolg hiervan afgesny van die kerk, omdat hulle glo dat jy nog in die Here en ander gode kan glo. Dit is die leuen wat die duiwel vir sangomas vertel. Ons verloor baie lidmate in ons kerk en dit is dus nog steeds ‘n baie groot probleem. Ons moet aanhou bid dat God ons kan help om sy Woord vir ander te preek om nog mense in ons gemeente kan kry.

Ons sien dat hierdie twee verkeerde godsdienste albei geskenke vir hulle gode bring. Die mense wat hierdie gode vereer, gee geskenke soos borde vol geld. In ruil daarvoor gee die sangomas goed soos bokvel-armbande of bene om aan te trek, sodat jy die bose geeste kan vind. Baie keer motiveer hulle jou ook om meer as een godsdiens aan te leer en te beoefen. Hulle sê jy kan die God waarin ons as Christene glo, en vele meer, gelyktydig dien.
Maar het julle al gedink wat God die Vader se geskenk vir ons is?
Die Here het Christus vir ons gegee, sodat Hy vir ons sondes kon sterf, dat ons in Hom kan glo en die ewige lewe mag hê. Verder gee God vir ons Sy geskenk van ‘n nuwe gees, vrede, wysheid en die vrug van die Gees. Hierdie geskenk moet ons kan uitleef in ‘n sondige wêreld en teenoor almal daarin. Deel hierdie geskenk met almal wat dit nodig het. Deel hierdie geskenk met sangomas, die mense wat hulle voorvaders vereer en almal wat geestelik verlore is. Jy kan nie, soos die duiwel sê, in alles glo nie. Jy kan nie meer as een godsdiens bywoon, soos President Ramaphosa, nie. Hy is in 1971 verkies as die hoof van die Student Christian Movement by sy hoërskool in Venda.

God vra dat ons in Hom moet glo. Ons moet die vrug van die Gees uitleef in die wêreld. Ons moet aanhou bid dat God die mense wat geestelik verlore is, se harte sal verander en al die mense wat van ons kerk afgedwaal het, weer terug sal bring. Ons bid dat die Heilige Gees in hulle harte sal werk wanneer ons vir hulle die Woord van God wys. Ons glo dat die hele Skrif deur die Heilige Gees geïnspireer is. Dus, glo, bid en onthou dat die Here die enigste een is wat jou red en jou gesond kan maak as jy siek is, nie sangomas of jou voorvaders nie. Net God alleen.

Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die nommer ‘twaalf’ in die Bybel
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-besonderheid-van-getalle-in-die-bybel/
Last updated: 2024-01-06T20:02:39.000Z
*Geskryf deur Emily Snyman, VGK Bellville*
Sekere getalle in die Bybel dra baie betekenis. Die nommer 12 is een wat gereeld voorkom. Deur na ‘n paar voorbeelde van die nommer 12 in die Bybel te kyk, gaan ons begin om die simboliek daaragter te ondersoek.
Neem wel kennis dat selfs al gaan ons dieper na hierdie nommer in die Bybel kyk, is dit baie belangrik om te besef dat dit nie die nommer 12 self spesiaal maak nie. Nommers self het nie enige krag nie; God gebruik hulle slegs in Sy Woord om betekenisryke verbande in plek te stel sodat ons ‘n dieper verstaan van Sy Woord mag kry. Dit word aangeraai om baie versigtig te wees wanneer jy hierdie onderwerp navors en om alles met ‘n knippie sout te neem. Soos met enige Bybelse onderwerp is dit die beste om die Here se Woord te raadpleeg, daaroor te bid en om die Heilige Gees te hê wat jou help om te onderskei tussen lig en duisternis, sodat jy in Sy waarheid kan leef.
In Genesis 35:22-26 kom ons die 12 nakomelinge van Jakob teë: Ruben, Símeon, Levi, Juda, Íssaskar, Sébulon, Dan, Náftali, Gad, Aser, Josef en Benjamin. Uit hierdie twaalf seuns het die 12 stamme van Israel ontstaan.
In Hebreers 13:8 lees ons: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Ons leer hier dat God altyd dieselfde is en nooit verander nie. Daarom kan ons die geskiedenis in Sy Woord gebruik om Sy Goddelike ontwerp vir regering te sien. Hierdie stamme wys ons die manier waarop die Here gesag en regering instel het.
Daar het nie net uit die seuns van Jakob 12 stamme ontstaan nie. Genesis 25:11-18 vertel ons dat die nakomelinge van Ismael ook 12 stamme of prinse gevorm het: Nébajot, Kedar, Ádbeël, Mibsam, Misma, Duma, Massa, Hadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Weens die verbond wat God met Abraham gemaak het, het Hy nie net die beloofde seun, Isak, geseën nie, maar vir Ismael ook. Daarom het Ismael ook 12 seuns gehad, net soos Jakob, die seun van Isak. Ons kan sien dat twee koninkryke vanuit Abraham gekom het. Die een wat die koninkryk van God verteenwoordig en die ander een, die koninkryk van die wêreld. Selfs hierdeur kan ons sien dat dit God se perfekte ontwerp vir gesag en regering is, want dit is nie per toeval dat God beide hierdie koninkryke uit 12 broers laat ontstaan het nie.
‘n Mens kan sien hoe, al was die twee koninkryke amper presiese teenoorgesteldes, dat daar ‘n koninklike bloudruk is wat God saam met die fondasies van die aarde neergelê het. Dit is hoe Hy koninkryke geskep het om te funksioneer. Wanneer die Here iets so verordineer en dit in Sy wil is, dan raak dit ‘n sterk koninkryk. Die koninkryk van die wêreld het altyd verdeeld gebly en teen mekaar geveg – hulle was konstant op soek na meer mag. So kan ons sien dat die uiteensetting van die wêreldse koninkryk reg was, maar hulle het nie hulle gesag reg uitgeoefen nie en dus het hulle nie gefunksioneer soos God dit gemaak het nie. Ongelukkig kan ons deur die geskiedenis sien hoe hulle later uitgewis word.
Om verder te beklemtoon hoe die Here gesag ontwerp het, lees ons in Numeri 13:1-25 oor die 12 spioene. Toe Israel vir die eerste keer by Kanaän, die beloofde land, aankom het hulle 12 spioene, een uit elke stam, gestuur om die area te verken. Hier kan die nommer 12 verwys na autoriteit. Hierdie spioene is in Kanaan ingestuur om te sien hoe die beloofde land lyk en of die land goed was. Hulle was soos voorlopers van die volk en was in ‘n posisie van leierskap aangestel weens hulle taak om die land te verken. Hulle het die gesag gedra en was vertrou met die werk om die volk te vertel, maar sommige van hulle het die situasie deur vleeslike oë gesien en toe met vrees vasgekyk in die fisiese en nie op God en Sy belofte vertrou nie. Omdat hulle bang was en deur hulle autoriteit die res van die volk in onvertroue gelei het, het God hulle en die res van die volk gestraf sodat hulle nie die land kon ingaan nie. ‘n Mens kan sien dat daar ook met autoriteit ‘n groot verantwoordelikheid kom en hoe belangrik dit is om in alle situasies op God te vertrou en Hom te raadpleeg.
Die 12 offisiere wat koning Salomo oor Israel aangestel het, waarvan ons lees in 1 Konings 4:7-19, verwys weer na God se ontwerp vir gesag en regring. God het vir Salomo soveel wysheid gegee en Salomo het geweet wat God se koninklike bloudruk was. Dit wys ons nog ‘n keer hoe die Here wou hê Israel beheer moes word en hoe hulle gesag moes uitoefen.
Weereens kan ons sien hoe die Here autoriteit in plek stel met die nommer 12 as ons dink aan die dissipels: Simon Petrus, Andréas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartholoméüs, Thomas, Matthéüs, Jakobus, Thaddéüs, Simon en Judas Iskáriot. Selfs toe Judas vir Jesus verraai het en later gesterf het, het die Here nog ‘n dissipel gekies. Handelinge 1:15-26 vertel ons van Matthías se verkiesing as dissipel. Hierdie gebeurtenis is eintlik merkwaardig, want deur die feit dat daardie 12 voltooi moes word, sien ons hoe die Here klem lê op Sy perfekte ontwerp. Die Here het Sy getal weer vol gemaak. Dit bevestig weer ‘n keer hoe God baie doelbewus werk, net soos toe Hy die 12 stamme opgerig het.
‘n Ander plek in die Bybel waar die nommer 12 in verband staan met regering is in die boek Openbaring. Met verwysing na die Nuwe Jerusalem lees ons in Openbaring 21:12 die volgende: “En dit het ‘n groot en hoë muur met 12 poorte gehad, en by die poorte 12 engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die 12 stamme van die kinders van Israel.” Dan verder in vers 14: “En die muur van die stad het 12 fondamente gehad, en daarop was die name van die 12 apostels van die Lam.” Die Here wys weer vir ons dat daardie 12 stamme en 12 dissipels baie belangrik is - dit is selfs geïntegreer in Sy ontwerp vir ‘n perfekte stad.
Bietjie verder in hoofstuk 21, vers 19-21, lees ons van die 12 edelgesteentes waaruit die fondamente van die Nuwe Jerusalem gemaak is: Jaspis, saffier, chalcedoon, smarag, sardoniks, sardius, chrisoliet, beril, topaas, chrisopraas, hiasint en ametis. Hier gaan dit ook oor die fondasies. Suksesvolle regering word gebou op sterk fondasies en sisteme. Net soos wat die 12 stene hier ideaal is vir goeie fondasies, was die 12 stamme die fondasies van God se Koninkryk.
Die nommer 12 kan ook die koms van God se Koninkryk beteken. Ons sien in die Ou Testament dat daar 12 klein profete is, naamlik: Hoséa, Joël, Amos, Obádja, Jona, Miga, Nahum, Hábakuk, Sefánja, Haggai, Sagaría en Maleági. Die Here het hulle en hulle profesië gebruik om die koms van Sy Koninkryk en die koms van sy Seun, Jesus Christus, aan te kondig. Op dieselfde wyse het die Here die dissipels gebruik. Hulle was manne wat saam met Jesus gewandel het, by Hom geleer het en later uitgegaan het om Sy Woord te verkondig. Ons kan sien hoe die Here hier die nommer gebruik – eers het Hy het 12 profete in die Ou Testament gebruik om te profeteer oor Sy eerste en tweede koms, en toe het Hy die 12 dissipels aangestel om die toekomstige aankoms van Sy Koninkryk te verkondig!
In hoofstuk 12 van sy evangelie, vertel Matthéüs die verhaal van Jesus wat die 5000 manne voed. Nadat almal geëet het, het die dissipels die orige kos bymekaar gemaak en daar was 12 mandjies vol. Dit kon gewees het sodat die 12 dissipels elk een kon saamvat, maar in die konteks van hoe die Here die nommer 12 gebruik, kan dit wys na Sy bonatuurlike voorsiening. Jesus het, deur Sy Goddelike krag, voorsiening gemaak vir al hierdie mense. Genoeg kos dat daar selfs ekstra was! Ons kan hierin ook Jesus se gesag oor die skepping waarneem.
Nog ‘n gedeelte waar die nommer 12 bonatuurlike voorsiening kan beteken, vind ons in Openbaring 22:1-5\. Dit praat daar van die boom van die lewe. Hierdie boom gaan in die Nuwe Jerusalem staan en dit sal elke maand, d.w.s. 12 keer ‘n jaar, vrug dra. Daar sal regdeur die jaar vir ons voorsiening gemaak word deur die boom van die lewe! So sluit dit aan by die verhaal waar Jesus die 5000 manne gevoed het - voedsel en voorsiening in oorvloed. Die Here sal altyd vir ons sorg, hier op die aarde en ook eendag in die Nuwe Jerusalem.
Deur te kyk na die plekke in die Bybel waar die nommer 12 voorkom, kan ons sien dat dit drie dinge kan beteken:
1. God se perfekte ontwerp vir regering en gesag.
2. Die koms van God se Koninkryk.
3. Bonatuurlike voorsiening.
Dit is egter belangrik om te onthou dat nie alle verwysings na die nommer 12 in die Bybel hierdie betekenis dra nie. Partykeer is die nommer net ‘n nommer, en moet dit so hanteer word, of afhangende van die konteks, kan dit dalk ‘n ander betekenis dra. Maar deur dieper na God se Woord te kyk, kan ons ‘n paar van die mees algemene betekenisse van die nommer 12 ontdek.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ere aan God en vrede op aarde!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/kersfees/
Last updated: 2023-12-29T20:14:37.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Probeer vir ‘n oomblik die wêreld van die afgelope jaar in een woord opsom. Ek is seker daar sal heelwat verskillende gevoelens wees, tog is ek redelik seker niemand sal ons huidige wêreldstaat met die woord “vrede” beskryf nie.
Die oorlog in Oekraine is nou al ongeveer 670 dae aan die gang. Volgens bewerings is daar al ongeveer 315 000 Russiese soldate en 70 000 Oekraïners oorlede. Die VN beraam dat daar ongeveer 10 000 siviele burgers oorlede is.
Hierdie jaar het die konflik tussen Israel en Hamas ‘n nuwe dieptepunt bereik. Meer as 20 000 Palestyne is al oorlede. Die konflik is een van die bloedigstes nog, met ‘n gemiddelde sterftesyfer van 300 mense per dag.
55 000 mense is oorlede in Turkye se aardbewings, ‘n verdere 100 000 mense is beseer.
In Manipur, Indië, het Hindo extremiste bykans 350 kerke afgebrand. Meer as 41 500 Kuki Christene moes vir hulle geloof vlug as gevolg van die vervolging in Manipur, baie van hulle bly nou in moeilike omstandighede in kampe.
Die wêreld is aan die brand. Bogenoemde is maar enkele voorbeelde van oorlog en onrus. Wêreldwyd lyk dit asof mense God verlaat en reg in eie hande neem. Dit is in hierdie donker wêreld waar daar ‘n onverwagte lig skyn, die Lig van die wêreld. Sy koms is in ‘n ewe donker tyd 2000 jaar gelede met ‘n ongelooflike boodskap aangekondig:
Vrede op aarde? Ja, dit is die woorde waarmee die engele ons wêreld beskryf. Is dit nie ongelooflik nie? Daar is hoop vir ons sondige aarde. Te midde van moord, onsekerheid, oorloë, natuurrampe, vervolging en goddeloosheid is daar hoop.
Skielik raak die donker nag helder verlig. Want, vir ons is gebore die Christus, die Lig van die wêreld. Dit is Hy by wie ons vrede kan vind. Nie noodwendig aardse vrede nie, maar definitief iets ver beter: Vrede met God. Besef ons nog die waarde van vrede met God? Besef ons dat onvrede met God die oorsaak is van al die ellende wat ons in die wêreld teenkom?
Dink jouself vir ‘n oomblik in: God het alles perfek geskape, maar ons het teen Hom gedraai en nie net ons self nie, maar die hele skepping in verganklikheid gestort. Dis ons wat gekies het vir ‘n wêreld vol dood en onvrede. Ons is vasgevang in ‘n bose sirkel van haat en wraak. Dit is vir ons byna logies dat daar nou, as gevolg van die huidige konflik in Gaza, ‘n volgende generasie palestynse jihadiste sal opgroei wie se groot lewensdoel sal wees om soveel as moontlik Jode te vermoor in wraak op wat hulle in hul jeug meegemaak het. Vir dieselfde rede hou bendegeweld op die Kaapse vlakte oneindig aan. Ons is in ‘n nimmereindigende siklus van verderf vasgevang en ons kan nie daaruit ontsnap nie.
God sy dank het Hy ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Vir onverstaanbare redes het God besluit om ons nie te vernietig vir al die skade wat ons aanrig nie. In Sy oneindige genade het God besluit om eerder sy eie Seun, die enigste mens wat ooit onskuldig was, in ons plek te straf.
Werklik, wat daardie nag 2000 jaar gelede gebeur het is onbegryplik. God het sy welbehae in die mense getoon deur self mens te word en ons sondeskuld te kom betaal. Die almagtige God het ‘n mens geword, Hy is gebore as ‘n magtelose baba. God die Seun was vir ‘n tydperk total afhanklik van sy menslike ouers se versorging. Hy was as mens gebind aan tyd. Hy was as mens blootgestel aan hartseer, dood, versoekings, spot en lyding. Hy het dit alles kom doen met een groot doel voor oë: Eer aan God en vrede op aarde!
Net meer as 30 jaar nadat die donker nag van Betlehem helder verlig is, het die helder dag vir drie ure donker geword. Toe is God die Seun deur die Vader verlaat, toe het Hy helse angs en smart deurgegaan vir ons. “*Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom*” (Jesaja 53:5).
Al lewe ons in ‘n stukkende wêreld, ons het hoop. Al lewe ons in ‘n donker wêreld, ons het die Lig. Want te midde van soveel onvrede het ons vrede, vrede met God! Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!
> *“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”*
Vrede op aarde? Ja, dit is die woorde waarmee die engele ons wêreld beskryf. Is dit nie ongelooflik nie? Daar is hoop vir ons sondige aarde. Te midde van moord, onsekerheid, oorloë, natuurrampe, vervolging en goddeloosheid is daar hoop.
Skielik raak die donker nag helder verlig. Want, vir ons is gebore die Christus, die Lig van die wêreld. Dit is Hy by wie ons vrede kan vind. Nie noodwendig aardse vrede nie, maar definitief iets ver beter: Vrede met God. Besef ons nog die waarde van vrede met God? Besef ons dat onvrede met God die oorsaak is van al die ellende wat ons in die wêreld teenkom?
Dink jouself vir ‘n oomblik in: God het alles perfek geskape, maar ons het teen Hom gedraai en nie net ons self nie, maar die hele skepping in verganklikheid gestort. Dis ons wat gekies het vir ‘n wêreld vol dood en onvrede. Ons is vasgevang in ‘n bose sirkel van haat en wraak. Dit is vir ons byna logies dat daar nou, as gevolg van die huidige konflik in Gaza, ‘n volgende generasie palestynse jihadiste sal opgroei wie se groot lewensdoel sal wees om soveel as moontlik Jode te vermoor in wraak op wat hulle in hul jeug meegemaak het. Vir dieselfde rede hou bendegeweld op die Kaapse vlakte oneindig aan. Ons is in ‘n nimmereindigende siklus van verderf vasgevang en ons kan nie daaruit ontsnap nie.
God sy dank het Hy ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Vir onverstaanbare redes het God besluit om ons nie te vernietig vir al die skade wat ons aanrig nie. In Sy oneindige genade het God besluit om eerder sy eie Seun, die enigste mens wat ooit onskuldig was, in ons plek te straf.
Werklik, wat daardie nag 2000 jaar gelede gebeur het is onbegryplik. God het sy welbehae in die mense getoon deur self mens te word en ons sondeskuld te kom betaal. Die almagtige God het ‘n mens geword, Hy is gebore as ‘n magtelose baba. God die Seun was vir ‘n tydperk total afhanklik van sy menslike ouers se versorging. Hy was as mens gebind aan tyd. Hy was as mens blootgestel aan hartseer, dood, versoekings, spot en lyding. Hy het dit alles kom doen met een groot doel voor oë: Eer aan God en vrede op aarde!
Net meer as 30 jaar nadat die donker nag van Betlehem helder verlig is, het die helder dag vir drie ure donker geword. Toe is God die Seun deur die Vader verlaat, toe het Hy helse angs en smart deurgegaan vir ons. “*Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom*” (Jesaja 53:5).
Al lewe ons in ‘n stukkende wêreld, ons het hoop. Al lewe ons in ‘n donker wêreld, ons het die Lig. Want te midde van soveel onvrede het ons vrede, vrede met God! Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Desember, die komma in ons gejaagde jaar
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-gaan-ek-2024-in/
Last updated: 2023-12-20T07:00:02.000Z
*Geskryf deur Lydia Boon, VGK Maranata*
Desember, die tyd van die jaar wanneer ons uiteindelik kans kry om rustig te word. Ons oorlaaide breine kan afskakel, en kry weer kans om na te dink.
> “If the devil cannot make us bad, he will make us busy” (Corrie ten Boom)
Die lewe is dikwels so gejaagd. Elke minuut word gevul met konstante stimulasie.
Nog vas aan die slaap na gisternag se “binge watching” raas jou wekker jou wakker. Moedeloos moeg pak jy die nuwe dag aan. Vinnig trek jy klere aan en eet ontbyt met die radio se nuusberig wat in die agtergrond klink. Jy ry na die werk of universiteit terwyl jy musiek luister. Jy vind ‘n parkering en hardloop na die kantoor of klas. Die volgende ure is gevul met werk, mense en stres. Kom jy tuis, ontspan jy gou op die bank en blaai deur sosiale media. Ongelukkig is daar nóg werk om af te handel. Bekommerd oor of jy alles klaar kan kry spring jy aan die werk. Uiteindelik klaar en uitgeput, kyk jy YouTube films tot die slaap jou oorval.
So is ‘n dag verby sonder dat jy ‘n oomblik kon sit en nadink. Ja, jy lees dalk jou Bybelgedeelte en bid – maar ons gedagtes is selfs dan eintlik nog op ‘n ander plek. Ons lewe in ‘n spiraal van skyn besig wees. Want elke stilte is ‘n ongemaklike stilte, en om besig te wees is iets om op trots te wees. Dag in dag uit, week in week uit, maand in en maand uit, tot jy by Desember kom en verbaas staan dat die jaar al klaar verby is! Ek moet net skool klaar maak maal deur ons kop, of: laat ek net deur die studies kom, of ‘n goeie werk kry, en voor jy dit besef is jou hare grys.
Gebruik die kans wat Desember bied en raak weer stil. Neem tyd om jou koppie koffie rustig te geniet, sonder enige selfoon in die nabye omtrek. Wees in die natuur, wees alleen, kom tot rus.
> “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Mattheus 11:28)
Herfokus: Tyd is deur die HERE gegee, elke sekond daarvan is genadetyd. Die feit dat elkeen van ons nog lewe is ‘n wonderwerk. Elkeen van ons is nie meer as ‘n millimeter van die dood af weg nie, indien dit nie was vir God se troue sorg nie. Tyd is nie aan ons gewaarborg nie, volgende jaar is nie vir jou gewaarborg nie. Al jou planne het DV ([as die Here wil en ons lewe, Jakobus 4:15](https://www.bible.com/af/bible/5/as%20.dieHerewilenonslewe,Jakobus4.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) as voorwaarde by. Dink na, besef dat jy klein en nietig is. Die feit dat jy nog lewe beteken dat die HERE nog ‘n doel vir jou hier op aarde het. Ons is hier op aarde om die HERE te loof en te prys. Om te lewe tot eer van die Here in alles wat ons doen. Doen dit, dan hoef jy nie bekommerd te wees oor die res nie.
> “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Mattheus 11: 29,30)
Dus: groet die nuwe jaar toe. Lewe doelbewus. Dink net hoe baie jy sal kan groei indien jy die nuwe jaar se tyd laat tel. Indien jy daagliks ‘n halfuur Bybel lees en stil raak (i.p.v. deur sosiale media blaai tot jou oë toeval), het jy in ‘n jaar 10950 minute spandeer om nader aan Hom te groei. Om hierdie meer visueel voor te stel: dink net hoe groot iemand se arms sou wees indien hul daagliks vir ‘n halfuur push-ups doen. Dieselfde groei, en nog so veel meer kan in jou hart plaasvind. Dink net hoe ‘n helder lig ons op aarde sal wees indien elkeen van ons sy tyd nuttig tot eer van die HERE en uitbouing van Sy koninkryk!
Elke jaar is ‘n jaar minder van ons lewe.
Elke week is ‘n week nader aan die wederkoms.
Elke dag uit God se hand is genadetyd.
Koop die tyd uit. Lewe doelbewus.
En dan nog iets prakties om uit te probeer:
Ons het die gewoonte begin om op ouejaarsaand êrens rustig te raak en na te dink.
Kyk terug na die afgelope jaar: skryf twee moeilike gebeurtenisse van die afgelope jaar neer, asook twee seëninge.
Kyk voorentoe na die nuwe jaar: skryf twee uitdagings waarna jy opsien vir die jaar wat kom, en ook twee gebeurtenisse waarna jy uitsien vir die nuwe jaar.
Bid oor die lysie, dank die HERE vir die seëninge, vra Hom vir Sy leiding in die nuwe jaar. Sodat jy die nuwe jaar – met sy moeilike uitdagins en opwindende vooruitsigte saam met die Here kan nader groet. Gefokus op dit wat belangrik is. En wanneer jy volgende ouejaarsaand weer na hierdie lysie kyk, sal dit ‘n getuie wees van God se werk.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Christen, Afrikaner en Geloftedag
URL: https://olielamp.vgk.org.za/geloftedag/
Last updated: 2023-12-16T07:00:08.000Z
*Geskryf deur Erik van Renssen, VGK Bellville*
Op 16 Desember 1838, 185 jaar gelede, is die eerste Geloftefees gehou op die slagveld, direk na afloop van die Slag van Bloedrivier. Al was die Voortrekkers uitgeput na hierdie oorweldigende veldslag, was die eerste ding wat hulle gedoen het nadat die Zoeloes op die vlug geslaan het, om soos hulle beloof het, die Here vir die oorwinning te dank - wat hulle teen alle verwagtinge in behaal het. Baie Afrikaners gedenk Gelofte dag op 16 December deur hulself te herinner aan God se sorg vir sy kinders.
’n Gelofte is ’n belofte wat aan die Here gemaak word en by verhoring van die gebed nagekom word. In die dae voor die groot slag, het die Voortrekkers God gesmeek om hulle te help in die stryd. Vanaf 26 November het hulle elke aand God bly vra vir hulp omdat hulle besef het dat die Zoeloes ’n oormag van soldate was met meer krygservaring. Dit is toe dat hulle die gelofte afgelê het om jaarliks die dag van God se redding te herdenk.
Die hele doel van Geloftedag is om herinner te word aan hoe magtig God is en hoe baie Hy vir sy mense omgee. By die slag van Bloedrivier was die Voortrekkers baie minder as die Zoeloes. As ’n mens gaan kyk na die getalle, dan was die Voortrekkers nie veronderstel om te wen nie, maar God het die stryd so gelei dat die Zoeloes verslaan is.
Daar is ook nadele aan ‘n dag soos Geloftedag. Baie mense wat daarna kyk dink dadelik aan hoe goed en sterk die voortrekkers was. Hierdie mense besef nie dat al hoekom hulle gewen het, is as gevolg van die Here se genade en beskerming nie. As dit nie vir die Voortrekkers se geloof in God was nie sou die zoeloes hulle oorweldig het en hulle almal gesterf het.
Geloftedag gaan nie oor ons wat vier dat ons die Zoeloes oorwin het nie. Dis nie die punt nie. Die Geloftefees was ’n belofte aan God, wat die Voortrekkers gemaak het en omdat Hy hulle gehelp het, sal die voortrekkers die Gelofte (belofte aan God) nakom. So, die Gelofte is om vir God te dank, dat Hy die voortrekkers gered het. Dit is nie ’n feesviering dat ons mense doodgemaak het nie, maar ‘n fees om dankie te sê vir God se besondere hulp by die Slag van Bloedrivier.
In Suid Afrika vier ons vanaf 1994 af nie meer die vakansie dag op 16 Desember as geloftedag nie, maar vier eerder 16 Desember as die Dag van Versoening. Hierdie dag herinner die mens nie net aan die Slag van Bloedrivier nie, maar dit dien ook as 'n geleentheid vir nasionale refleksie en versoening tussen die verskeie kulture en gemeenskappe in die land.
Ongelukkig is dit die realiteit vir baie Afrikaners dat hulle vergeet dat alles uit die hand van die Here kom. Ons as mense is geneig om baie gou te begin dink dat dinge goed gaan as gevolg van ons eie aksies en dade. Dit is hoekom dit so belangrik is om na die woord van die Here te luister. Sodat jy herinner kan word aan hoe goed God is en waar alles wat jy het vandaan kom. Ons moet as Christene mekaar en ander mense help om te verstaan dat ons as mense sondig is en dat as jy op God vertrou, Hy vir jou sal sorg.
Geloftedag is veronderstel om ‘n pragtige dag te wees, waar ons kan terugdink en herinner word aan die krag van God, selfs al is dit nie meer ‘n publieke vakansiedag nie. ‘n Mens moet altyd versigtig wees om nie op die goedheid of krag van mense te fokus nie, maar raak te sien dat alles van God af kom.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Can we as Christians support the endeavour to colonise Mars?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/sal-n-christen-op-mars-mag-leef-leefbaar-perspektief-etc/
Last updated: 2023-12-09T07:00:56.000Z
*Written by Cornel Begemann, Free Reformed Church of Byford*
Mars, as you all know, is the fourth planet of our solar system. Mars is believed by scientists to have been formed roughly 4.5 billion years ago, where gas and dust mixed to form it. It is the 2nd smallest planet in the solar system with its surface area assumed to be like the total area of all the continents together on earth. The surface of Mars is dense and rocky. It is assumed that it has a core which is composed of iron, nickel, and sulphur, which is believed to have formed a protective magnetic field around the planet in its earlier years. There is also a mantle made of silicate minerals as well as a crust high in iron. Mars is known as the “Red Planet”, this is due to the iron oxides which forms on the crust due to the iron in the crust reacting to the oxygen in the atmosphere.
So why are nations and companies, scientists and astronomers investing so much money and time into Mars? In the United States, National Aeronautics and Space Administration (NASA) have proposed four goals which they are hoping to attain during the Mars Exploration Program:
- The first goal is to determine whether life is supported on Mars, both in the past and now. This is due to the prediction that Earth and Mars may have been quite similar in their early history. This goal has two objectives, firstly to investigate if the environment has potential for prior life and secondly, whether it has potential for habitability.
- The second goal is to understand the processes and history of the climate on Mars. This goal has three further objectives: firstly, understanding the current climate on and around Mars, second, determining the climate in the recent past and finally characterising the ancient climate on Mars.
- The third goal is comprehending the origin and evolution of Mars. This is split into three objectives, the first, document and interpret the geologic record of Mars crust, secondly, to determine how Mars and its geometric structure has evolved, and lastly, to determine its evolution as recorded by its moons.
- The fourth and final goal is to prepare for human exploration, this includes human exploration missions reaching Mars orbit, surface, moons, and sustained human presence on Mars.
The question for us today is: What are we as Christians supposed to think of the exploration and habitation of Mars? This is a difficult question as there are two sides to this.
The first Christian point of view offered on the colonization of other planets is that we as Christians are not to fear the effects of colonizing Mars. It approaches the topic from the fact that the Bible tells us that everything in God’s creation, including planets, are created for God's glory, and so exploring further into space and trying to colonise it is part of our glorification of God. With this it is stated that Christians will be required at the start of the habitation of Mars to help establish good Christian laws and practices.
However, on the other hand the question can be asked, what is the true motive behind the investigation of Mars? Is it truly a search for a place to help sustain the earth and the human population, or is it a lack of trust in God and His provision? Or is it a misunderstanding of the meaning of life? Is it not rather man looking to fill a God-size hole in his heart?
Our cultural mandate states that we ought to “be fruitful and multiply, fill the earth and subdue it; have dominion over the fish of the sea, the birds of the earth and over every living thing that moves on the earth” ([Genesis 1:28](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.1.28.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Here we read of earth. The Hebrew word, êrets (אֶרֶצ), means ground upon which life can thrive. This definition means we ought to have stewardship over the earth, looking after it and cultivating it. This cannot be done without land and living creatures, both of which are missing in the harsh environment on Mars. This includes the very thin atmosphere layer as well as very low atmospheric pressure, meaning nothing can survive there. Mars is very cold and radioactive and has a lack of fresh running water - this causes nothing to grow there. The axis of rotation of Mars also further causes less chance of allowing anything to live or survive there. The extent of this inability to contain life is further emphasised by how astrophysicists expect to be able to attain the capability of turning Mars into a liveable planet. This process is named terraforming - basically a hypothetical process by which scientists try to produce oxygen, water, and plant life, producing an engineered human habitat. To terraform a planet, essential building blocks oxygen, water, and carbon ought to be there. It is estimated to take 100 – 200 years before the atmosphere would be dense enough and the planet temperature high enough to melt the water on the planet. Once this occurs it will be hundreds of years before microbes and algae start growing. This is all theoretical, untested, and uncertain.
In conclusion, the colonisation of Mars is a difficult topic as there are two sides given for it from a Christian point of view. But, with all this in mind we are not to forget God, our Creator and Sustainer. God is omnipotent and in control of everything, meaning that every fear and every problem is still in His almighty Hand. We are not to forget Him, because - as seen multiple times throughout the Bible -once His people left God, they were unable to do anything for themselves until God, by His grace and mercy comes back to them ([Jeremiah 29:10-14](https://www.bible.com/af/bible/5/Jer.29.10-14.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Through all the troubles and tribulations in this life we may find comfort that God is there guiding and protecting as portrayed in Psalm 23:1-4:
> The Lord is my shepherd; I shall not want. He makes me to lie down in green pastures; He leads me beside the still waters. He restores my soul; He leads me in the paths of righteousness For His name’s sake. Yea, though I walk through the valley of the shadow of death, I will fear no evil; For You are with me; Your rod and Your staff, they comfort me.
- [https://www.bing.com/videos/riverview/relatedvideo?&q=elon+musk+view+on+mars&&mid=B1FD92A6547A62936FB7B1FD92A6547A62936FB7&&FORM=VRDGAR](https://www.bing.com/videos/riverview/relatedvideo?&q=elon+musk+view+on+mars&&mid=B1FD92A6547A62936FB7B1FD92A6547A62936FB7&&FORM=VRDGAR&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.youtube.com/watch?v=D8pnmwOXhoY&t=199s](https://www.youtube.com/watch?v=D8pnmwOXhoY&t=199s&ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://mars.nasa.gov/#red\_planet/1](https://mars.nasa.gov/?ref=olielamp.vgk.org.za#red%5Fplanet/1)
- [https://www.gotquestions.org/Mars-colonization.html](https://www.gotquestions.org/Mars-colonization.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.grisda.org/origins-08013#:\~:text=At%20this%20point%20%C3%89eres%20receives%20a%20meaning%20akin,life%20can%20thrive%20%28Genesis%201%3A11f%3B%2027%3A28%3B%20Deuteronomy%201%3A25%29.](https://www.grisda.org/origins-08013?ref=olielamp.vgk.org.za#:~:text=At%20this%20point%20%C3%89eres%20receives%20a%20meaning%20akin,life%20can%20thrive%20%28Genesis%201%3A11f%3B%2027%3A28%3B%20Deuteronomy%201%3A25%29.)
- [https://science.howstuffworks.com/terraform.htm](https://science.howstuffworks.com/terraform.htm?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe kan ons los van die wêreld leef?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-kan-ons-los-van-die-wereld-leef/
Last updated: 2023-12-02T07:00:36.000Z
*Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville*
Ons as Christene word opgeroep om anders as die wêreld te leef. Maar wat beteken dit regtig? Om afgesonder te leef soos ‘n monnik in ‘n klooster - of kan ons ook gewoon in die samelewing betrokke wees? Voordat ons hierdie vraag kan beantwoord, moet ons eers ‘n paar dinge weet. Eerstens wat die Kerk is, wat die wêreld is en wat dit beteken om wêreldgesind te wees.
### Wat is die kerk?
In die Heidelbergse Kategismus vraag-en-antwoord 54 lees ons dat die kerk bestaan uit God se uitverkore kinders en dat hulle van die begin van die wêreld af tot die einde toe sal vergader in die eenheid van die geloof. Met ander woorde God se Kerk is die versameling van gelowiges van alle eeue en plekke.
### Wat is die wêreld?
Dit is nog ‘n belangrike vraag. Wat is die wêreld? Is dit die plek waar ons bly en al sy mense of is dit die teenoorgestelde van die Kerk? Die Bybel gee vir ons ‘n beeld in Openbaring 17-18\. Wanneer ons die twee hoofstukke lees, stel God die wêreld en die Kerk as teenoorgesteldes. Maar ons word ook deur Jesus geleer dat ons die sout van die wêreld is. En in Johannes 17:15 en 18 lees ons dat Jesus ons juis nie uit die wêreld neem nie, maar daarin uitstuur. In die Bybel is die wêreld dus ‘n plek, maar ook ‘n gesindheid. Ons, as gelowiges, word afgesonder deur God om in die wêreld, die plek, te lewe, maar tot eer van Hom. Met ander woorde met die gesindheid van die Koninkryk van God.
### Wat beteken dit om wêreldgesind te wees?
Ons laaste vraag is wat dit beteken om wêreldgesind te wees. Om wêreldsgesind te wees, beteken jy leef teen God se wet. Jy het ‘n wêreldse manier van doen en denke opgedoen. Jy leef in so ‘n wyse dat jy nie meer God voor oë het nie. In 1 Johannes 2:16 sê Johannes dit mooi: “Want alles wat in die wêreld is- die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Dit beteken dat die mens deur die wêreld verlei word om sulke dinge te doen. Ons bly tans in ‘n wêreld wat mens maklik manipuleer om wêrelds te dink en te doen. En dikwels vind dit ‘n plek in ons harte.
### Hoe ontsnap ons hierdie lewenstyl?
Die Bybel leer ons hoe om daarvan te ontsnap.
Eerstens moet ons ‘n nuwe manier van denke opbou. Paulus skryf in Romeine 12:2 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” Dit kan ‘n toets in ons lewens wees. As ons denke nie verander nie, is dit moontlik dat ons te veel aards is. Daarom kan ons by die basiese en mees fundamentele punt begin: ‘deur julle denke te verander.’ ‘n Paar basiese stappe om in jou lewe by te voeg om van hierdie sondige natuur te ontsnap: eerstens moet ons uit Sy Woord lees, daaroor dink en met ander daaroor praat. Tweedens kan ons na Sy prediking luister en laastens mag ons met Hom praat deur middel van gebed en psalms sing tot eer van Sy Naam! Met dit alles mag ons ‘n vaste vertroue op God, ons Vader hê! Hy sal vir ons die krag gee om dit ook tot eer van Sy Naam te doen.
Volgende is om God se wil na te volg. Dit kan nog ‘n toets wees vir die mens wat struikel. Johannes skryf hieroor in 1 Johannes 2\. Let veral op vers 17: “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid,” en dan sê hy, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Johannes gebruik hierdie twee gedeeltes om die kontras te skep tussen die wat vir die wêreld en al sy dinge lief het met die wat dit nie lief het nie. Die wat dit nie lief het nie, is die wat God se wil doen. Wanneer ons God se wil getrou doen en op Hom vertrou, sal ons gou agter kom dat die wêreld geen mag oor ons het nie!
Verder moet ons die sout van die wêreld wees. In Matteus 5:13-14 gebruik die Here twee metafore om die Christen se lewe hier op aarde te illustreer. Jesus sê in vers 13 “Julle is die sout vir die aarde.” Sout het drie belangrike funksies. Eerstens gee dit kos smaak, maak dit lekker en bring dit al die geure uit. Hierdeur leer God ons dat die wêreld smaakloos is. Die wêreld leef in so ‘n wyse, dat hulle nie eer aan God gee nie. Hulle lewe is alles behalwe smaakvol vir God. Tweedens bewaar die sout vleis produkte. Alhoewel dit nie meer so algemeen is in hierdie tydperk nie, het dit baie voorgekom in die Bybel se tydperk. Hulle het vars vleis in sout bewaar, sodat hulle dit later kan eet. Wat Jesus hiermee bedoel, is dat die wêreld besig is om te vergaan as daar nie sout is nie. Derdens ontsmet sout! Net die evangelie kan ons skoon maak voor God. En juis dit is wat die wêreld nodig het om die sonde raak te sien en na God te draai.
Laastens moet ons die lig van hierdie wêreld wees! Ons lees in vers 16 : “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” Hy sê nie net hoe ons in hierdie lewe moet leef nie, maar vertel ons ook hoe hierdie wêreld is. Donker! Aangesien die Heilige Gees in ons woon, sal daar twee dinge gebeur as ons lig in die donker skyn. Eerstens sal ons lig die duisternis verklap. Dit wys dat die wêreld in duisternis lewe en in sirkels ronddwaal. En tweedens, wys dit ‘n pad uit die duisternis uit. God se woord is ‘n lamp vir ons voet en ‘n lig vir ons pad ([Ps 119:105](https://www.bible.com/af/bible/5/Psa.119.105.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). In Johannes 8:12 lees ons “Ek is die lig van die wêreld, wie My met volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
### Bronnelys
1. *Overduin, J. (n.d) How to Flee Worldliness. Christian Study Library.* [https://www.christianstudylibrary.org/article/how-flee-worldliness \[2020](https://www.christianstudylibrary.org/article/how-flee-worldliness%20%5b2020?ref=olielamp.vgk.org.za), April 13\]
2. *Barrett, M.P.V (n.d) How We Live as Salt and Light in the World. Christian Study Library.* [https://www.christianstudylibrary.org/article/how-we-live-salt-and-light-world](https://www.christianstudylibrary.org/article/how-we-live-salt-and-light-world?ref=olielamp.vgk.org.za)\[2020, April 14\]
3. *Van der Wal, G.W. (n.d) Don’t Waste Your Life (Part 5): Salt and Light.* *Christian Study Library.* [https://www.christianstudylibrary.org/article/don%E2%80%99t-waste-your-life-part-5-salt-and-light](https://www.christianstudylibrary.org/article/don%E2%80%99t-waste-your-life-part-5-salt-and-light?ref=olielamp.vgk.org.za) \[2020, April 15\]
4. Die Bybel en die Heidelbergse Kategismus.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wie aan God se volk raak, raak aan Hom
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wie-aan-god-se-volk-raak-raak-aan-hom/
Last updated: 2023-11-25T08:17:12.000Z
*Geskryf deur Lynette Bouwman, VGK Pretoria*
Vandag sien ons dat die wêreld al hoe meer aggressief word as Christene hulle standpunte gee. Dit lyk asof alles geduld word, behalwe Christene en hulle sienings. Die wêreld geniet eintlik as daar probleme in die kerk is, of as Christene swaarkry. Ons begin ook al iets hiervan ervaar in Suid-Afrika. 'n Mens kan bang raak oor wat dit vir Christene gaan beteken in die toekoms. Gaan ons vervolg word? Gaan die wêreld (en Satan) daarop uit wees om ons lewe al hoe swaarder te maak?
Obadja wys vir ons dat God die Vader in beheer is van alle dinge. Hy is die een wat elkeen van Sy kinders se lewens in Sy hand hou. Hy is ook die een wat magtige aardse volke tot ‘n val kan bring.
’n Ou familietwis vorm die agtergrond vir die profeet Obadja se profesie. Obadja se profesie teen Edom vir sy behandeling van Juda moet gesien word in die konteks van die wedywering tussen hierdie twee nasies. Edom, die afstammelinge van Esau, en Israel, die afstammelinge van Jakob, se lot is al van voor hul geboorte deur God bepaal. Rebekka se twee seuns sou gedurig met mekaar in stryd wees. “Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien” ([Genesis 25:23](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.25.23.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
Inderdaad, Jakob en Esau het gereeld geveg: die jonger, skelm broer het gereeld voordeel getrek uit die ouer broer, wie se hartstogte beheer is deur sy eetlus en nie die vrees van die Here nie ([Genesis 25:29–34](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.25.29%E2%80%9334.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za); [27:1–45](https://www.bible.com/af/bible/5/Gen.27.1%E2%80%9345.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Alhoewel Jakob en Esau uiteindelik 'n soort versoening bereik het (hfst. 33), het hulle nageslag nooit heeltemal oor die weg gekom nie.
Edom, wat uit Esau se nageslag bestaan het, was besonder verbitterd teenoor Israel en Juda, die afstammelinge van Jakob. Die Edomiete het selfs die swerwende Israeliete die reg geweier om ná die uittog deur hulle land te trek ([Numeri 20:14–21](https://www.bible.com/af/bible/5/Num.20.14%E2%80%9321.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Ongelukkig het twee nasies wat veronderstel was om broers te wees, mekaar gehaat. Die geweld teen sy broer Jakob, asook Edom se weiering om empatie te toon of om sy broer Juda by te staan tydens ’n inval in Jerusalem, was vir die Here gruwelik ([Obadja 1:10-11](https://www.bible.com/af/bible/5/Oba.1.10-11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Israel is aangeval deur 'n vyand en het gevlug. Terwyl hulle gevlug het, het Edom reggestaan om nog 'n ekstra hou in te kry teen God se volk. Hulle verlekker hulle in die pyn en ellende van God se volk, en vererger dit nog meer.
Edom was ‘n groot en sterk nasie wat baie wysheid, rykdom en mag gehad het. Weens Edom se geografiese ligging bo-op ‘n berg was dit menslik gesproke onmoontlik om hulle aan te val. Die volk Israel het moedeloos gevoel teenoor die groot en magtige volk. Die Here openbaar dan aan Obadja in ‘n gesig dat Hy Edom tot ‘n val sal bring en dat hulle gehaat sal word onder die nasies. Hy sal alles van hulle af wegvat, sodat hulle geen rykdom, mag of wysheid oor sal hê nie. Niemand kon Edom aanraak nie, niemand nie behalwe Een.
Wanneer ons, net soos Israel, na die wêreld rondom ons kyk raak ons ook soms moedeloos. Ons wonder ook hoekom dit so goed gaan met die ongelowiges en daar slegte dinge met ons gebeur. God se oordeel oor Edom wys vir ons dat Hy altyd met Sy kinders is. Hy is ‘n regverdige God wat reg sal laat geskied. Dit is inderdaad so dat die wêreld teen ons is, maar ons moet besef dat God alle dinge ten goede laat meewerk en dat sondaars geoordeel sal word.
Soos in die geskiedenis van Obadja kan God sy volk straf, maar agter hierdie straf is sy groot liefde vir hulle. Deur die straf wil Hy hulle terugroep tot Hom. God vind geen vreugde daarin om sy volk te straf nie. Hy soek die lewe vir sy volk, en wil hulle seën. Om dit te bereik, sal Hy hulle selfs straf. As die volke rondom Israel dan vreugde vind in hierdie straf, en dit selfs erger maak, dan moet hulle weet: 'n baie swaarder straf wag vir hulle. Niemand vind vreugde in die ellende van God se oogappel en kom daarmee weg nie. In vers 15 van dieselfde hoofstuk lees ons: “Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom”.
Moet ons as sondige mense dan bang wees vir God se finale oordeel? Ja verseker! God laat nie met Hom spot nie. God duld dit ook nie as daar met sy volk gespot word nie. Daar is slegs redding teen God se toorn vir wie vergifnis soek deur Jesus Christus. God se beker van oordeel sal verseker uitgaan oor hierdie wêreld wat in opstand is teen God en sy volk. En wat dan van die sondes van God se kinders? Vir hulle het Jesus Christus daardie beker van toorn geneem, en dit Self gedrink - in ons plek. Beteken dit dan dat as ek swaarkry ervaar, ek nie gered is van Sy oordeel nie? Nee, God bring die swaarkry op ons pad om ons geloof te laat groei. Ons moet groei om gelyk te word aan die beeld van Sy Seun ([Romeine 8:29](https://www.bible.com/af/bible/5/Rom.8.29.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Hy is ten volle in beheer van ons lewens en doen alles tot ons beswil.
God gee die Heilige Gees aan ons om ons te help verstaan dat Hy ons lewens in Sy hande hou. Hy gebruik ons as instrumente in sy raadsplan. Die vuur van die Gees wat in ons brand dui God se krag aan. Edom en die wêreld daarbuite gebruik swaarde om hul krag te wys, maar God gebruik Sy kinders wat gevul is met die vuur van die Heilige Gees. Die vuur sal die nasies verteer en hulle brand soos stoppels. Bid daarom dat jy die Gees in jou hart sal ontvang, sodat daar ‘n vuur van liefde deur jou in die kerk sal brand.
Die kerk van Christus hier op aarde is nie die mens se ewige woonplek nie ([Hebreërs 11:13](https://www.bible.com/af/bible/5/Heb.11.13.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Die misdaad, vervolging, armoede en siekte is net tydelik. Ons mag met vertroue verby hierdie dinge kyk met die wete dat God in beheer is van alle dinge. Ons mag hoop op die wederkoms wanneer alles nuut gemaak sal word en al die swaarkry weggeneem sal word. Obadja help ons om te onthou dat die Here die spot en vyandskap van die wêreld teen sy kinders baie ernstig opneem, en dat die dag sal kom wanneer God se toorn hieroor baie sigbaar sal wees. Mag God nog baie mense uit hierdie wêreld roep, tot versoening en vrede met Hom voordat hierdie skrikwekkende dag kom!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Christ is changing the game – Logan Paul, KSI, Jidion, George Janko
URL: https://olielamp.vgk.org.za/christ-is-changing-the-game-logan-paul-ksi-jidion-george-janko/
Last updated: 2023-11-18T07:00:41.000Z
*Written by Arco Klapwijk, VGK Maranata*
If you have been on YouTube anywhere in the last 10 years, you would know one of these names: KSI, Logan Paul, Jidion, George Janko, Impaulsive. These names have built platforms with millions of followers – collectively around 100 million people watch them.
Now, most of these names are famous because of their entertainment through podcasts, pranks, jokes, sport, video games and comedy. Very big and popular, yet the content is not God-fearing at all. Through temptation of worldly sin is how they have amassed these millions of followers. Money and fame are centre of attention. Over the last year things have started to change. All of them have been in dark places in their lives, some turned to therapists and others turned to Christ, as He is the way of Life and Truth. Christ came into their lives – just like he came into this world – to bring salvation and freedom.
George Janko and Jidion turned to Christ but received backlash from friends like Logan Paul and KSI. In the Impaulsive podcast Logan said the following to George: “You should go and see a therapist – Jesus is not doing it for you.” Supposedly being George’s best friend, it is not something very friendly to say. The same Logan said to Jidion on his podcast: “God only gave you subscribers, was it not yourself who did it?”
George left the Impaulsive show and started his own podcast, where He can speak openly about God without being censored. Jidion posted on his own channel (8 million subscribers) a video testifying about Christ and sharing the gospel. KSI called it ‘random’. Jidion stated that he won’t be posting on that channel anymore, as he wants to follow Christ and spend his time with Christ. He is starting a channel where he can share the Gospel. He quotes from Mark 8 verse 35-37: “For whoever would save his life will lose it, but whoever loses his life for my sake and the gospel’s will save it. For what does it profit a man to gain the whole world and forfeit his soul? For what can a man give in return for his soul?” He said, that so many people want his life, yet his life has been empty without Christ. By believing in Christ, he gained his soul, which he hopes many of his followers will do too.
People like KSI and Logan Paul are still chasing after money and fame. While the other two found the most valuable thing there is to find: Christ. By quoting from Matthew 6, Jidion gives a reason for quitting mainstream YouTube: “No one can serve two masters, for either he will hate the one and love the other, or he will be devoted to the one and despise the other. You cannot serve God and money.”
Christ is hammering on the door of pop culture; He calls out to everyone to believe in Him. When we look at pop culture as a Christian, you might ask: Where is God? With what is happening right now, it is important to see Christ working through the Holy Spirit in the hearts of these men. He uses anyone He wants to spread His message. We should therefor celebrate the work of Christ in Jidion and George.
While it seems that these rich and famous people may lead the best of lives, it is still empty without Christ. We shouldn’t be chasing after fame and wealth but look towards Christ. He is the Alpha and Omega – the beginning and the end of all things. Christ died on the cross for our sins and it has set us free. We have been bought by His precious blood. Thanks to His work we are clean and without sin before God. By His blood our heavenly Father sees us as His own children – saved from eternal death. Through Christ we may live forever and ever to the glory of God.
Jidion's Video
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Tydlose wysheid van Amos: Relevansie vandag
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-tydlose-wysheid-van-amos-relevansie-vandag/
Last updated: 2023-11-11T07:00:16.000Z
*Geskryf deur Lourens Ros, VGK Pretoria*
Amos was maar ‘n eenvoudige herder uit Tekoa, hy het rondom die 8ste eeu voor Christus gelewe. Maar tog is sy lewe relevant vir ons vandag. Met al vandag se tegnologiese bevordering en vinnige verandering mag dit dalk vir ons moeilik wees om verbindings te maak met die ou profete. Daar is egter baie merkwaardige oomblikke waarin die boodskap van die profete verskriklik relevant is. Terwyl dit oorspronklik bedoel was vir sy tydsgenote, weerklink Amos se woorde en leefwyse met tydlose waarheid vir ons in vandag se wêreld en ook vir ons nageslag.
### Sosiale Geregtigheid en Gelykheid
Amos was, soos baie mense in die moderne wêreld, self ‘n voorstander van sosiale geregtigheid en gelykheid. Amos se geskrifte beklemtoon die skerp verskille tussen ryk en arm. Dit veroordeel ook die uitbuiting van swakkes. Amos het gewaarsku teen ‘n samelewing waarin die ryk en magtiges die armes en behoeftiges onderdruk het. Sy woorde het diep ingesny in die harte van mense wat met ongelykheid en sosiale onreg gekonfronteer word. Hy het ‘n beroep gedoen op ‘n samelewing wat verandering nodig gehad het, ‘n samelewing wat eerder na die belange van die bevoorregtes as na die welstand van al sy mense gekyk het.
Nou kom ons by vandag, in ‘n wêreld waar die gapende kloof tussen ryk en arm steeds bestaan en waar sosiale onreg steeds die norm is, bly Amos se boodskap ‘n liggie van hoop en ‘n kreet vir geregtigheid. Sy oproep tot eerlikheid, medelye, en die beskerming van die kwesbares dien as ‘n herinnering aan ons verantwoordelikheid om op te staan teen die misbruik van mag en om ‘n samelewing te bou wat gegrond is op regverdigheid en gelykheid. Amos se nalatenskap leef voort as ‘n kragtige getuienis van die konstante stryd vir ‘n regverdige en eerlike samelewing.
### Die Krag van Die Waarheid Spreek Teenoor Magsmisbruik
Amos, die gewone herder, het sonder vrees die magtiges gekonfronteer en die waarheid teenoor hulle magsmisbruik aangespreek. In ‘n wêreld waar verskille van mening dikwels met teenstand ontmoet word, dien Amos se moed as ‘n tydlose herinnering dat individue ‘n verskil kan maak deur op te staan teen onreg en ongelykheid.
Amos se lewe is ‘n inspirerende getuienis van die krag van ‘n enkele stem om verandering te bewerkstellig. Hy het nie oor rykdom, mag, of invloed beskik nie, maar sy passie vir geregtigheid het hom gedryf om die status quo te bevraagteken en die misbruik van magsfigure te ontbloot. Sy daad van openlikheid en sy onverskrokke optrede teenoor die onderdrukkers van sy tyd het ‘n uitwerking gehad wat deur die eeue heen voortduur.
In ‘n tyd waarin die reg om die waarheid te spreek en om teen onreg te veg dikwels onderdruk word, kan Amos se verhaal ‘n inspirasie wees vir diegene wat durf om die stem van geregtigheid te laat hoor. Amos herinner ons dat selfs die nederigste individue die vermoë het om ander te beïnvloed deur die waardes van waarheid, regverdigheid en medelye te verdedig.
Amos se nalatenskap behoort ons aan te moedig om nie die ongeregtighede en magsmisbruik in die wêreld te aanvaar nie, maar om deur die evangelie vas daarteen te kan staan. Amos se moed het ‘n verskil gemaak in sy era. Netso kan ons die Woord van God laat klink in die tyd en samelewing waarin ons lewe.
### Slotsom
Amos se nalatenskap dien dus as ‘n oproep tot aksie en herinnering dat selfs ‘n enkele stem die vermoë het om die wêreld te verander. Laat ons, geïnspireer deur sy moed en visie, deur God se evangelie, voortgaan om geregtigheid en waarheid te bevorder in ‘n samelewing waar dit ontbreek.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Vriendskap en eensaamheid in ʼn kitswêreld
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vriendskap-en-eensaamheid-in-n-kitswereld/
Last updated: 2023-11-04T07:00:50.000Z
*Geskryf deur Dalene de Vente, VGK Pretoria*
Die emosionele uitdagings wat jongmense beleef word dikwels onderskat. Om jonk te wees word ingesien as ʼn sorgvrye seisoen in ons lewens, maar niemand berei jou voor vir die laste wat voorlê nie. Hoe hanteer jy verlies, verwerping of eensaamheid as ʼn jongmens? Hoe bly mens ʼn goeie vriend?
Ek het vir ʼn paar van my vriende gevra wat sou hulle sê is die tien grootste uitdagings wat ʼn jongmens in die gesig staar? Sommige van die dinge wat genoem is, lui soos volg*: Finansiële laste; spanning om te presteer; emosionele pyn; groepsdruk; egbreuk (jyself of ouers); die begeerte om in te pas by sekere groepe; liefdesdramas; eensaamheid; om studies, sport en vriende en godsdiens te balanseer; jou verantwoordelikheid wat groter word; verhouding met God; met mense te praat oor geloof; nuwe vriende te maak en oues te verloor.*
Ek skryf graag oor die volgende: vriendskap en eensaamheid.
### Vriendskap
Binne die wêreld waarin ons lewe is vriendskap soms baie goedkoop. Sosiale media is oorvol met gesegdes oor vriendskap en wyshede oor die hantering van verhoudings. Jy lees dinge soos “*Don’t cross oceans for people who wouldn’t even jump puddles for you.” “Never push a loyal person to the point they no longer care,”* en *“Two things you should never chase, true friends and true love.”*
Sommige wyshede is dalk waar en in sekere situasies het mense nodig om dit te hoor. Maar gee mense vandag nie te gou moed op met verhoudings en vriendskap nie? Ons druk ʼn paar knoppies en dan staan die pizza voor ons hek en Checkers kom laai binne 60 minute jou inkopies by die hek af. Alles gebeur vinnig.
In Kolossense 3:13 en 14 lees ons: *“soos Christus julle vergewe het, so moet julle ook doen.”* In boeke wat ons lees, of in televisiereekse wat ons kyk, word ons beïnvloed (sonder dat ons dit altyd besef) om te dink dat dit jou reg is om nie te vergewe nie. Christus vra egter van ons hier: “*vergewe mekaar, soos wat Ek julle vergewe het!”*
Deur gelowige vriende word ons gevorm. Hulle help ons om weer op te staan. Hulle deel in ons lewe: die seerkry en die vreugde. Ons leer om lief te hê soos Christus: ons vergewe mekaar weer en weer! Bid vir jou vriende, dra hulle op, waardeer hulle. Veg vir hulle wanneer hulle wil wegloop, wees daar vir hulle wanneer hulle dit nodig het, wees geduldig in hulle swakheid, wees bereid om opofferings te maak.
Nog wenke:
- Bring vir jou vriendin ʼn kaartjie of ʼn blom in plaas van ʼn Whatsapp-boodskap.
- Indien jou lewe werklik besig raak, stuur ten minste eenkeer per week ʼn boodskap aan jou vriende net om te laat weet dat jy aan hulle dink.
- Sit ʼn *reminder* op jou foon vir hulle verjaarsdae
- Onthou om jammer te sê
- Moenie net vriendskap meet aan dit wat jy ontvang nie
- Kommunikeer saam oor julle verwagtinge van vriendskap.
### Eensaamheid
Wat doen ʼn mens wanneer jy eensaam voel?
- Vermy sosiale media-netwerke: wanneer jy eensaam is wil jy nie sien hoe daardie meisie wat saam met jou op skool was in Hawaii vakansie hou nie. Dit vererger net jou eensaamheid en lê meer klem op die alleenheid. Ek het self in sommige tye van my lewe my Facebook-rekening gedeaktiveer.
- Reël ʼn kuier saam met jou vriende, miskien kan dit nie onmiddellik nie, maar net om te weet dat jy kan uitsien daarna om tussen mense te wees, kan jou help om die eensaamheid te hanteer.
- As jou vriende nie beskikbaar is nie, nooi iemand wat jy nog nie so goed ken nie, maar met wie jy gemaklik kan wees.
- Gaan kuier by iemand wat jy weet deur ʼn moeilike tyd gaan. Om na ander mense se stories van pyn te luister, help jou om verder te kyk as jouself.
- Reël ʼn uitstappie saam met mense in jou kerk. Pak ʼn staproete aan, vang vis, hou ʼn speletjiesaand. Selfs al kom daar nie baie mense saam nie, is dit nog steeds die moeite werd.
- Kry ʼn stokperdjie bv. Kaartjies maak, foto’s neem, maak vir jouself ʼn tuin, skryf.
Ek onthou die een van die mees bemoedigende boodskappe wat ek al ooit gehoor het, was dat Jesus as mens ook al die emosies wat oor ons pad kom, self beleef het. Woede, hartseer, verlies, verwerping – dit is alles emosies wat Jesus moes verwerk. Daarom kan ons as mense by Jesus gaan skuil. Hy sê self in Matteus 11:28: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en ek sal vir julle rus gee.”
Corrie ten Boom het geskryf, alles wat jy beleef maak jou die mens wat jy moet wees: *“This is what the past is for! Every experience God gives us, every person He puts in our lives is the perfect preparation for the future that only He can see.” (― Corrie ten Boom, The Hiding Place)*
> Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Kerk Spook op Halloween
URL: https://olielamp.vgk.org.za/reformasie-en-halloween/
Last updated: 2023-10-31T04:00:38.000Z
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata*
Wat is die eerste gedagte wat by jou opkom wanneer jy 31 Oktober hoor? Vir meeste van ons is dit Halloween, want dit is wat ons orals op sosiale media en in winkels raaksien. Pampoene, kostuums, en lekker eetgoed vier hooggety.
Meeste geleerdes stem ooreen dat Halloween sy oorsprong ongeveer 2000 jaar gelede vanuit die Celte vind wat die einde van die oestydperk gevier het deur die fees genaamd ‘Samhain’. Tydens hierdie fees is die skans wat die lewendes en dooies skei, verdun, en kon die lewendes met afgestorwe geliefdes kommunikeer. Offers is aan die godedom gebring, en mense het diere-koppe na hierdie fees gedra (vandaar die Halloween kostuums). Verder het die Romeine ook ‘n soortgelyke fees gehad waar die godin van vrugbaarheid aanbid is (daar kom die appel-hap speletjie vandaan), hierdie fees was egter losbandig. Die Rooms Katolieke Kerk wou hierdie heidense feeste vervang met hul eie feeste. Op 1 November is die dag ingehuldig om die ‘Heiliges’ – of ‘Hallows’ te vereer en dus het 31 Oktober ‘ou-hallows-aand’ geword. Dit is waar die naam Halloween vandaan kom. Ten spyte van die pouse se “Christelike” benadering, het die heidense gewoontes bly voortleef tot vandag.
As dit 31 Oktober is moet ons dus nie gaan kyk na spoke en monsters nie, want dit is nie iets vir die Christen nie. Die naaste wat ons aan spoke kom, is om na die kerkgeskiedenis te kyk en God se genade daarin te sien. Die Bybel waarsku ons teen dinge soos Halloween. Eerstens, kan ons nie met spoke kommunikeer nie, en hulle nie met ons nie. Neem die gelykenis van Lasarus en die ryk man wat onderskeidelik in die hemel en die hel is. Die ryk man vra vir Abraham of Lasarus sy 5 broers kan gaan waarsku en dat hulle sekerlik na Lasarus sal luister, waarop Abraham antwoord: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.” ([Lukas 16: 31](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.16.31.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Verder nog moet ons versigtig wees as dit kom by spoke en monsters, want al lyk dit na pret, skuil daar gevare agter. Die mens moet versigtig wees met horror-flieks of soortgelyke dinge. Sulke films of stories rondom hekse skep die idee dat bose geeste en bonatuurlike kragte slegs ‘n idee of konsep is wat vir ontspanning (soos flieks) gebruik word. Nie net is dit vanuit die Bybel duidelik dat bose geeste bestaan nie. Ons lees daar van mense wat besete is en hulleself of ander seermaak, dit is ernstige sake. Dit kom nie net voor in verhale in die Bybel nie, maar ons sien vandag die werk van bose geeste om ons. Neem as voorbeeld, Heath Ledger, die akteur van die Joker in die bekende fliek The Dark Knight. Hy het homself vir ‘n maand in ‘n hotelkamer toegesluit om homself vir die rol voor te berei. Die rol van die skisofreniese moordenaar en psigopaat het so deel van homself geword, dat hy klaarblyklik as gevolg daarvan mal geword en selfmoord gepleeg het. Hierdie demoniese karakter (lees gerus daaroor op die internet) het duidelik hierdie akteur verwoes. Ons moet dus wegbly van demoniese gedrag en nie die duiwel en sy onderdane kans gee om vatplek in ons lewens te kry nie.
Dit is belangrik om by te voeg dat ons as Christene nie bang hoef te wees dat bose geeste oor ons beheer sal kry nie. Christus het ons van die bose bevry en bewaar ons daarteen. Christus het ons nie verniet geleer om te bid dat ons van die bose verlos moet word nie. Dit is deel van die evangelie. Ons is vrygekoop, ons is God se eiendom. Ons moet dus wel waaksaam wees en nie die duiwel uitdaag nie. Die kick uit horror-flieks wil ons weer terugbring dat ons dit weer opsoek. Netso is speletjies soos charlie-charlie ewe gevaarlik. Laat ons Christus navolg en vreugde en vryheid daarin vind, en nie op die randjie van die afgrond na satan vra nie. Al is hierdie dinge deesdae nie op die voorgrond van Halloween nie, vorm dit dikwels deel daarvan en moet ons dit in gedagte hou as ons na Halloween kyk. Dit kom immers vanaf ‘n fees waar geeste opgeroep is.
Dikwels is dit nie verkeerd om aan aktiwiteite deel te neem en pret te hê deur soos karakters te verklee nie, maar jy moet jouself tog afvra: “Wat vier ek hier? Wie dien ek hiermee?” Dus, as dit by Halloween kom, moet ons twee keer nadink. Dien ons God deur Halloween te vier? Die antwoord word ons alreeds vir ons gegee.
31 Oktober is ‘n dag wanneer ons aan iets anders kan dink: Reformasie. Dit klink vervelig en iets waaraan ons nie gou aandag wil gee nie, maar dit is ‘n dag waarop ons God se instandhouding van sy kerk herdenk. Op 31 Oktober 1517 het die reformasie begin toe Martin Luther, een van die reformeerders, sy 95 stellings bekendgestel het. Die kerk was besig om op ‘n dwaalspoor te gaan en die Reformasie was die manier waarop Christus sy kerk weer na Homself gebring het.
Hierdie dag is dus ‘n baie belangrike dag, want ons mag weer besef hoe groot Christus se genade is. Die Reformasie het erken dat die mens slegs deur genade gered word, nie deur goeie werke nie. Dit het kerkgang drasties verander, en die gelowige was weer afhanklik van God i.p.v. hulself.
Ja, die woord ‘reformasie’ kom nie in die Bybel voor nie, maar die Reformasie gaan na die Bybel terug en bou op God se Woord. Danksy die Reformasie kan ons almal Bybellees, hang ons saligheid nie van ons goeie werke af nie en is ons almal dieselfde voor God. Almal het Christus nodig, want net Hy alleen kan ons red. Dit is wat ons herdenk as ons reformasie-dag vier. Wat ‘n groot vreugde om so iets te mag vier!
Ons het dus op 31 Oktober ‘n keuse om te maak: Herdenk ons Halloween of herdenk ons Christus se instandhouding van sy kerk?
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### ‘n Resensie van die YouVersion Bible App
URL: https://olielamp.vgk.org.za/youversion-bible-app/
Last updated: 2023-10-30T09:24:21.000Z
*Anonieme Skrywer*
Die “YouVersion Bible App” is 'n waardevolle hulpbron en toepassing op jou slimfoon. Dit bevat die Bybel, sowel as ander bykomende funksies. Hierdie toepassing is beskikbaar in verskillende tale, insluitend Afrikaans, Dit maak dit maklik vir die gebruiker om verskillende vertalings van die Skrif te vergelyk. Die resensie fokus op ‘n paar punte; van gemaksgebruik, tot die verskillende funksies wat die toepassing aanbied vir die gebruiker.
### Gebruiksgemak
Die " YouVersion Bible App" is ‘n maklike toepassing om te gebruik. Dit het ‘n eenvoudige uitleg en die gebruiker kan maklik deur die toepassing navigeer, selfs iemand wat nie gemaklik is met 'n slimfoon of tablet nie. Dit is eenvoudig om tussen die verskillende Bybelvertalings te navigeer en verskillende Bybelboeke te soek.
### Funksies
Hierdie Bybel Toepassing het 'n hele paar verskillende funksies wat dit ‘n gemaklike en handige toepassing maak. Die funksies sluit o.a. die volgende in:
- Verskeidenheid Bybelvertalings: Jy kan tussen verskillende Bybelvertalings kies om die Skrif te lees. Dit sluit ou- en nuwe vertalings in, wat jou die geleentheid gee om sekere verse in die Bybel vanuit verskillende perspektiewe te bestudeer. Van die vertalings het die moontlikheid om na geluister te word. In vandag se tyd waar mense nie altyd tyd maak vir lees nie, is dit ‘n handige funksie om byderhand te hê.
- Leesplanne en dagstukkies: Die toepassing het ‘n groot verskeidenheid leesplanne en dagstukkies beskikbaar vir die gebruiker. Jy kan maklik ‘n plan soek oor ‘n spesifieke onderwerp. Elke plan bestaan uit ‘n inleiding gepaard met ‘n paar Bybeltekste. Dit is ‘n lekker manier om jou daaglikse Bybelstudie in jou lewe in te werk. Elke plan word meestal verdeel oor 3, 5 of 7 dae, maar kan selfs langer duur. Jy kan vir jouself ‘n herinnering stel, wat jou sal help om die daaglikse stukkie te voltooi.
- Soek-funksie: Die soek-funksie op die toepassing is eenvoudig en laat jou toe om maklik spesifieke verse of temas in die Bybel te soek. Dit is 'n waardevolle hulpbron vir Bybelstudie en navorsing. Die toepassing gee die leser ook die vermoë om Bybelverse te ‘highlight’ en notas te maak op die vers. Dit laat die leser toe om maklik terug te gaan na wat hulle voorheen gelees en ontdek het tydens die studie van spesifieke verse.
- Gemeenskap en deelname: Jy kan die toepassing gebruik om jou gedagtes en insigte met vriende en familie te deel. Dit laat jou toe om mekaar te ondersteun in die geloof. Die toepassing het ook ‘n funksie waar jy leesplanne saam met iemand aan kan pak. Dit kan help om verantwoording aan mekaar te doen. So kan jy 'n gemeenskap van gelowiges vorm wat mekaar ondersteun en aanmoedig in hulle geloof.
Die “YouVersion Bible App” is 'n handige toepassing om op jou slimfoon te hê. Dit maak die Bybel maklik bekombaar in jou alledaagse lewe en laat die leser toe om verder te groei in die geloof. Dit is maklik om te gebruik, het 'n ryk verskeidenheid van funksies, en bied toegang tot 'n gemeenskap van gelowiges wat hulle geloofsontdekkings met mekaar kan deel. Die leesplanne laat jou toe om jou daaglikse Bybelstudie in te werk en die vertalings wat voorgelees word, laat die gebruiker toe om na Bybelgedeeltes te luister terwyl hy/sy ander daaglikse take verrig.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Nuus: 3500+ Dood in die Midde-Ooste – Wat gebeur nou regtig? ‘n Christelike perspektief
URL: https://olielamp.vgk.org.za/nuus-3500-dood-in-die-midde-ooste-wat-gebeur-nou-regtig-n-christelike-perspektief/
Last updated: 2023-10-18T18:00:20.000Z
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Maranata*
Die feesdag van Shemini Atzeret op 7 Oktober 2023 was toe nie so feestelik nie. Hierdie Joodse feesdag is onderbreek deur Hamas, ‘n terroristegroep, wat ‘n aanval op Israel geloods het. Honde is geskiet, mense vermoor, vrouens verkrag en baba’s is onthoof. Meer as 1300 Jode het hul lewens verloor, en die naskok gaan katastrofies wees... dit is oorlog. Hezbollah het nou ook ‘n aanval op Israel vanuit die noorde geloods en Iran is ook reg vir oorlog... oorlog is ‘n ding waar niemand wen nie. Hoe het ons in hierdie situasie beland?
Palestina – of Kanaän - is die area wat aan Abraham gegee is as plek om sy nageslag te vestig. ‘n Paar honderd jaar later vertrek die volk Israel, sy afstammelinge, vanaf Egipte na Kanaän – die beloofde land. Ons ken hierdie stuk geskiedenis vanuit die Bybel. Ook weet ons van die ballingskap en die terugkeer – nog konflik van volke met die Jode. In buite-Bybelse bronne lees ons ook baie oor die inter-Testamentêre era en die konflik van Jode onder mekaar en dan natuurlik nog met die Griekse en Romeinse owerhede. In 70 n.C. is Jerusalem en die tempel deur die Romeine verwoes. Die oorblywende Jode het vervolgens oor die wêreld heen versprei.
Islam het in 610 begin. Waar kom hul belangstelling in Israel vandaan? Wel Mohammed was ‘n afstammeling van Ismael, die seun van Abraham. Dus, sien Islam die land van Kanaän, die land Israel, as hul eie erfporsie. Daarom is daar belangstelling van beide die Jode en Islam in hierdie area.
Deur die eeue was daar verskillende argumente oor wie die land mag kry. Die area was ‘n Britse kolonie, en die Britte wou die Jode vergoed na die TWO en hulle hul land gee. In 1947 het Britse Mandaat probeer om die area in Arabiese (Islam) en Joodse state te verdeel. Die Arabiere het gevoel dat hulle te na gekom is en op 14 Mei 1948 breek daar die eerste oorlog tussen die Jode (Israel) en die Arabiere (Islam) uit, wat Israel toe in 1949 gewen het. 750 000 Arabiere het gevlug en die area is in 3 dele verdeel: Israel, Gasa Strook en Westerse Bank. Spanning tussen Israel en die Arabiese lande het verhoog, en in 1967 breek die 6-dag oorlog uit waar Israel teen Egipte en Sirië gereageer het en beheer oor al 3 dele en meer gekry het. Daar was verder nog oor en weer konflik, maar uiteindelik is daar vrede gesluit in 1979.

1\. Credit: SkyNews ([https://news.sky.com/story/israel-hamas-war-the-latest-conflict-in-maps-12980904](https://news.sky.com/story/israel-hamas-war-the-latest-conflict-in-maps-12980904?ref=olielamp.vgk.org.za))
Dit was egter van korte duur, want in 1987 het die Palestyne in opstand gekom. Konflik en tydelike vredesverdrae het gevolg. Hamas het in 2006 die verkiesing gewen en beheer gekry oor die Gasa-strook. Hamas is ‘n militante groep Moslems. Konflik bly voortduur met verskeie aanvalle oor die jare. In die latere 2010’s het Israel voordeel gekry uit ander lande en baie verdrae is gesluit. Die Palestyne was ongelukkig en het in opstand gekom wat nog teenreaksie van Israel uitgelok het. Uiteindelik is daar weer vrede gemaak in 2021.
Soos vroeër genoem het Hamas Israel onverwags binnegeval en daar is nog terroristegroepe en Iran wat Israel dreig. Teen die tyd wat ek hierdie artikel geskryf het (Donderdag 12 Oktober), het Israel die Gasa-strook met 6 000 bomme gebombardeer – ongeveer 1600 mense het gesterf. Israel dreig om Hamas totaal te vernietig. Amerika kies Israel se kant en ander mense soos Pakistan en Iran kies Hamas se kant. Wat maak ons? Waar staan ons in hierdie saak?
Ons is geneig om saam met Israel te staan, die Jode is immers nader aan Christendom as Islam. Hamas tree wreedaardig op en dit wat hulle doen, laat mens walg. As Christene moet ons versigtig wees om kant te kies. Hierdie moord en doodslag lei tot niks. Waarom is dit daar? Want elkeen soek hul eie koninkryk.
Uit die Joodse geskiedenis, en wat Christus in die Evangelies leer, is dit duidelik dat die Jode die konsep van die Messiaanse ryk verkeerd verstaan. Hulle glo dat hulle deur hul wettisisme en tradisies moreel reg is, en dat hulle dus vooruitgang moet ervaar. Hulle soek weer die Dawidiese ryk terug. Christus is nie die Messias wat hulle soek nie, en daarom fokus hulle so erg op hierdie stuk grond. Hulle vertrou op hul eie mag en krag en soek hul eie koninkryk. Net so soek die Islam hul eie land, eie koninkryk en volg hul eie wette en wreedaardige oorlogswette. Geeneen van hierdie twee groepe volg die regte benadering nie. Hulle soek hul eie mag en eer - hul eie koninkryke – in plaas van Christus.
Ons moet bid vir ons naaste in die Midde-Ooste – bid vir vrede. Hierdie groepe moet die lig sien en besef dat Christus die koning is en dat Hy regeer. Die terreur van die militante groepe moet nie ondersteun word nie. Geen mag of krag kan hulle – of onsself – van die sonde en die dood verlos nie. Dit is duidelik: die een aksie lei tot die volgende reaksie en alles lei tot moord en doodslag. Dit is ‘n gejaag na wind – Christus is die enigste oplossing.
*Cover Photo Credit: [https://abcnews.go.com/International/wireStory/live-updates-day-5-latest-israel-palestinian-war-103883496](https://abcnews.go.com/International/wireStory/live-updates-day-5-latest-israel-palestinian-war-103883496?ref=olielamp.vgk.org.za)*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe benader gelowiges aandeelmarkte en beleggings?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-benader-christene-aandeelmarkte-en/
Last updated: 2023-10-14T20:19:12.000Z
*Geskryf deur Gerhard Burger, Gereformeerde Kerk Wonderboom*
Die aandelemark, effektebeurs, JSE en Forex (of “Foreign Exchange”) is terme waarmee baie van ons bekend is. Aandele verhandeling is immers ‘n hoogs gesogte besigheidsvaardigheid in die korporatiewe wêreld, en die opkoms van kripto-geldeenhede soos Bitcoin en Ethereum het gesorg vir ‘n groot toename in belangstelling in aandelemarkte en aandele verhandeling.
Hoe benader Christene egter die ooglopende “get rich quick”-skemas, en wat is die risiko’s verbonde aan die aandelemarkte?
### Wat is aandelemarkte en die JSE?
Met enige beredenering, is dit belangrik om te verstaan waaroor beredeneer word. Daarom die vraag: “Wat is die aandelemark en die JSE?”.
Eenvoudig gestel is die JSE (Johannesburgse effektebeurs) ‘n gereguleerde platform waarop mense finansiële produkte kan verruil. Die finansiële produkte sluit in maatskappye se aandele, Futures kontrakte, Opsie kontrakte asook allerlei (meer ingewikkelde) finansiële instrumente en produkte. Aandele verwys na ‘n persentasie of deel van ‘n maatskappy wat die aandeelhouer besit. Dus, as jy ‘n meerderheid aandeelhouer is, beteken dit dat jy 51 persent of meer van die maatskappy besit.
Deur middel van die JSE kan ‘n handelaar ‘n posisie inneem om geld te maak deur die finansiële produkte te verruil, en die samekoms van al die handelaars oor die wêreld heen vorm die aandelemark. Die aandelemarkte is daar as ‘n hulpmiddel vir besighede en maatskappye om kapitaal in te samel.
Soos genoem, as jy ‘n aandeel koop besit jy ‘n deel van die maatskappy, maar dit beteken ook dat die maatskappy die geld wat jy betaal het tot hul beskikking het. Maatskappye gebruik die fondse van hul aandeelhouers om die organisasie se doele te bereik en dit sluit in navorsing, uitbreiding en ontwikkeling van nuwe produkte en dienste. Hoe meer suksesvol die maatskappy is hoe meer gesog raak hul aandele en hoe meer geld kan mense vra daarvoor. ‘n Koper sal byvoorbeeld ‘n aandeel vir R20 koop en dit teen ‘n latere tyd verkoop vir R25 en R5 se wins maak.
Daar is egter geweldige risiko’s betrokke by hierdie transaksies. Die mark kan teen jou draai en die aandeel wat jy vir R20 gekoop het, kan sy waarde verloor en kan jy potensiële verlies ly. In realiteit is dit selde dat bedrae so klein is soos die bogenoemde voorbeeld en meeste transaksies word gesluit met miljoene of selfs miljarde rande se verliese of winste.
Die aandelemark, in kort, bied dus onbeperkte winste in ruil vir die risiko van onbeperkte verliese.
### Die Christelike benadering
Dit is egter hier waar ons as Christene moet anker slaan en eers die kat uit die boom kyk, want dobbelhuise bied dieselfde “great risk, great reward”-ingesteldheid. Al hierdie vinnige winsskemas is egter nie ‘n nuwe konsep nie en is so oud soos die Bybel self. Dink byvoorbeeld aan Spreuke 13:11 wat waarsku: *“Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer”*.
Hoe nou gemaak? Kan Christene dan deelneem aan die aandelemark?
Die aandelemark kan onderskei word van dobbel deur 2 aspekte in gedagte te hou:
Eerstens dat dit gegrond is op aandele in maatskappye of kommoditeite wat werklik bestaan en dat die waarde van die aandele afhang, tot ‘n groot mate, van die maatskappy se verrigtinge deur die finansiële jaar. Dit is dus ‘n werklike produk wat gekoop word en nie geld wat blootgestel word aan kans en toeval alleen nie.
Tweedens is die waarde van aandele en die neigings van die aandelemarkte voorspelbaar met behulp van statistiek en dus nie net blote geluk nie. Daar is rede gekoppel aan die bewegings in die mark.
Ons as Christene moet egter ook verstaan hoekom ons die aandelemark gebruik. ‘n Christen handelaar se benadering lyk anders as die van ‘n wêreldse handelaar.
Die Bybel leer ons in Hebreërs 13:5 dat ons nie gierig moet wees nie, maar op God moet vertrou vir wat ons nodig het. Dit beteken nie dat ons net moet laat gaan en ophou werk nie, maar dat ons steeds moet voorberei vir die toekoms en als wat op ons wag. Die aandelemark kan ‘n geoefende oog help om dit reg te kry. Talle besigheidsmanne en veral boere gebruik die instrumente wat die aandelemark bied om pryse vooraf vas te maak en hulself te beskerm teen die seisoenale verskille in markpryse.
Ons glo egter ook dat ons volle vertroue op God is en ons nie onsself willens en wetens in gevaar moet stel nie. Maar in dieselfde asem beteken dit nie dat ons glad nie risiko’s mag neem nie. Ons vertrou en hoop dat die Here ons veilig sal hou gedurende ‘n lang reis, maar die risiko is steeds daar dat ons kan verongeluk en dus sit ons, ons sitplekgordels aan. Dieselfde beginsel geld vir aandelemarkte. ‘n Christen handelaar is dus een wat die risiko verstaan en verminder so vêr hy kan, en deur ‘n goeie verstaan van sy omgewing is daar instrumente tot sy beskikking om die risiko so na aan nul te maak as moontlik.
Een van die grootste gevare van die aandelemark is die emosionele tol wat dit eis. Baie mense swig voor die bevrediging van ‘n vinnige wins en raak roekeloos. Hulle waag meer kanse in toenemende riskante transaksies. ‘n Christen daarteenoor is tevrede met sy wins, al is dit hoe klein, en besef dat selfs dit uit God se hand gegee is.
1 Timotheus 6: 17 waarsku ons teen die einste liefde vir geld en riskante gedrag, en herinner ons dat ons vertroue op Hom moet wees en nie op geluk nie: *“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.”*
Christene weet wanneer om op te hou, gee hulself nie oor aan die aanloklikheid van geld nie, en raak nie verslaaf aan die opwinding wat die risikogedrag inhou nie.
Die aandelemark is nietemin ‘n gevaarlike en uitdagende ekskursie om aan deel te neem en alhoewel baie mense al baie geld gemaak het daaruit, het baie meer mense al baie meer geld verloor.
Dus as u risiko-sku is, u winsbejag is tot ‘n ongesonde mate, of u nie die aandelemark en statistieke daaragter verstaan nie, vermy liefs eerder die platvorms of gebruik “demo”-rekeninge om eers te oefen. Aandele verhandeling is nie ‘n aktiwiteit wat self aangeleer kan word oor Youtube of vinnige aanlyn-kursusse nie en goeie mentorskap, datahantering, basiese statistiese vaardigheid en sterk selfbeheersing is krities.
Ons as gelowiges en Christene moet wel bly besef dat dit ‘n mensgemaakte sisteem is, en soos enige ander mensgemaakte sisteem is dit nie perfek nie. Daarom plaas ons steeds ons vertroue in God en Sy voorsienigheid en gebruik Sy Woord om ons voor te berei en te begelei in ons verantwoordelike hantering van geld en finansies.
Matteus 6:20: *“want waar julle skatte is, daar sal julle hart ook wees.”*
> Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Pikke of swaarde - die boodskap van Joël
URL: https://olielamp.vgk.org.za/untitled-2/
Last updated: 2023-10-07T07:00:21.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Baie van ons is bekend met die vertroostende profesie in Jesaja 2:4 –
> “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”
Dis pragtig. ‘n Tyd waarna ons definitief kan uitsien, ‘n tyd waarin daar vrede en geluk sal wees. Maar is ons bewus dat daar ook ‘n Bybelgedeelte is wat oor presies die teenoorgestelde praat?
> “Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk! Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is 'n held.” ([Joël 3:9-10](https://www.bible.com/af/bible/5/Jol.3.9-10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Voordat die stryd-byl begrawe gaan word, is daar nog ‘n groot oorlog om te voer. Joël profeteer oor die dag van die Here. Ons lees dat selfs die swakkes van die wêreld meen hulle is heldhaftig genoeg om God teen te staan. Vir sulke mense sal die dag van die Here verskriklik wees.
Maar wat van ons? Joël roep ons op om presies die teenoorgestelde as die wêreldse nasies te doen. Vir Christene is diepe besef van ons tekorte die gepaste reaksie. In hoofstuk 2:13 staan: “skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil”.
Om jou klere te skeur was in daardie tyd ‘n teken van berou, skok of groot hartseer. Die gevaar is egter dat dit net ‘n uiterlike simbool word. God sien die harte. Ons skeur meesal nie ons klere as ons berou oor iets het nie, tog het ons ook verskeie tekens van berou. Een van die duidelikstes is seker die nagmaal. Wanneer ons dit vier, bely ons in wese keer op keer dat ons afhanklik is van Jesus se offer vir vergifnis, omdat ons self net sondig en swak is. Die vraag is, hoe vier ons nagmaal, of selfs hoe vra ons vergifnis in ons persoonlike gebede? Is dit iets wat ons net doen, want dis wat Christene doen? Het ons nog werklik berou? Die werklikheid is dat God inderdaad genadig, barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid is, maar Hy eis wel ware berou. Gebed en nagmaal is nie sommer ‘n vinnige manier om die vergifnistransaksie te laat plaasvind nie. God wil verskeurde harte sien. Hy wil sien dat ons besef hoe ons Hom beledig het met ons sondes, hoe ons Hom verloën het toe ons stil gebly het terwyl mense om ons gelaster het, en hoe ons Hom verlaat het deur agter moderne afgode aan te loop.
Ons kan slegs in vrede met God lewe as ons ons harte skeur en berou oor ons sonde toon.
Maar ons is swak. So baie keer wil ons saam met Paulus in frustrasie sug “wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek” ([Romeine 7:15](https://www.bible.com/af/bible/5/Rom.7.15.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Wanneer jy besef hoe swak jy is, wil jy soms amper moedeloos word. Dit is egter nie nodig nie. Joël se profesie eindig nie met ‘n volk wat in sak en as treur nie. Nee, daar is wonderlike beloftes van herstel. In Joël 2:28 en 29 vind ons een van die mooiste beloftes:
> “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.”
Die Here gee self die oplossing. Hy weet ons het harte van klip. Hy sal sy Gees in ons stort, sodat ons harte van vlees kan kry ([Esegiël 11:19-20](https://www.bible.com/af/bible/5/Ezk.11.19-20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), [Psalm 51:12](https://www.bible.com/af/bible/5/Psa.51.12.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).Hierdie belofte is die groot belofte van die Bybel. Dit is hierdie belofte wat ons vrede met God gee. Dit gaan nie in die eerste plek oor aardse diktators of militêre leiers wat gestop gaan word en aardse vrede nie, maar oor God wat in ons harte wil kom woon.
Ons kan slegs in vrede met God lewe as ons Gees-vervulde harte gekry het.
Solank as wat ons nog hier op die eerste aarde is, sal daar oorlog wees. Ons kan selfs verwag dat die oorlog met die bose erger sal raak. Die heidene sal hulle pikke omsmelt in swaarde om die Christendom aan te val. Maar ons kan hier en nou al vrede hê, omdat God sy Gees in alle gelowiges stort. Ons veg nie alleen nie. God is aan ons kant en die beslissing van “die dag van die Here” is klaar bepaal, daarom sien ons uit na die dag wat die swaarde in pikke omgesmelt sal word.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Simboliek, genade en 'n verlore volk - Hosea
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hosea/
Last updated: 2023-10-07T09:44:47.000Z
*Geskryf deur Kirsten de Beer, VGK Kaapstad*
Die profeet Hosea was 'n belangrike figuur in die Ou Testament. Die boek van Hosea bevat nie net profetiese openbarings nie, dit vertel ook van 'n persoonlike verhaal wat 'n kragtige boodskap van die vergifnis, genade en die liefde van God dra.
Hosea se bediening het begin in 'n onstuimige tydperk van die Israelitiese geskiedenis, ongeveer in die 8ste eeu vC. Tydens daardie tyd was die koninkryk van Israel verdeel en verswak deur politieke konflik en afgodery. Om ʼn prentjie te skets: binne een jaar het die volk verwissel tussen drie konings, as gevolg van moord en oorlog.
Hosea het geleef en geprofeteer in die noordelike koninkryk van Israel en het 'n boodskap van waarskuwing en vermaning aan die mense van Israel gebring. Sy profetiese bediening het nie net uit woorde van veroordeling bestaan nie, maar ook uit 'n lewende demonstrasie van die verhouding tussen God en die mense van Israel.
God het aan Hosea opdrag gegee om met 'n vrou met die naam Gomer te trou, ʼn kultiese prostituut. Hierdie huwelik en Gomer se ontrouheid, was simbolies van die ontrouheid van die Israelitiese volk teenoor God.
Die verhaal van Hosea en Gomer se huwelik is 'n aangrypende en dramatiese een. Gomer was herhaaldelik ontrou aan Hosea en het hoereer en afgodery beoefen. Maar selfs in die aangesig van hierdie ontrouheid het Hosea 'n onvoorwaardelike liefde vir haar behou, wat 'n simbool van God se liefde vir die ontroue Israel was.
Hierdie deel van Hosea se lewe het 'n magtige beeld van God se geduld, genade en bereidwilligheid om sy volk terug te neem selfs na hul rebellie. Net soos Hosea vir Gomer vergewe het vir haar ontrouheid, bied God ook vergifnis vir die sonde van die mensdom deur Jesus Christus. Christus se kruisiging en opstanding bied 'n weg vir mense om vergifnis en verlossing te ontvang, ongeag hulle verlede of sonde.
Hosea se kinders is ook gebruik as 'n simboliese beeld van Israel se verhouding met God. Gomer het drie seuns gebaar met die name Jisreël, Lo-Rugáma en Lo-Ammi. Jisreël beteken “God saai”. Dit verwys na die oordeel wat oor die huis van koning Jehu gekom het, en dit dui ook op die oordeel wat oor die mense van Israel sou kom as gevolg van hulle afvalligheid en sonde. Lo-Rugáma beteken "nie-geliefde" of "geen genade.” Dit simboliseer God se verklaring dat Hy nie meer barmhartigheid en genade teenoor Israel sou toon nie. Lo-Ammi beteken "nie my volk nie." Dit dra die boodskap dat God die verhouding tussen Homself en Israel verbreek het, en dat Hy nie meer hulle God en Vader sal wees nie.
Deur hierdie name aan sy kinders te gee, het Hosea 'n simboliese beeld geskep van die verhouding tussen God en Israel.
Die boek Hosea bevat ook 'n reeks profetiese boodskappe wat die skynheiligheid van Israel aan die kaak stel. Hosea het die volk gewaarsku teen die gevolge van hulle afgodery en ongehoorsaamheid teenoor God. Hy het ook 'n boodskap van hoop aangebied, waarin hy voorspel het dat, alhoewel God streng sou straf, daar uiteindelik 'n tyd van herstel en vergifnis sou kom.
In 'n wêreld waarin mense dikwels verval in sonde en ontrouheid, bied die verhaal van Hosea 'n aangrypende herinnering aan die onvoorwaardelike liefde van God. Dit herinner ons daaraan dat selfs in ons swakheid en rebellie, God se liefde en genade nog steeds beskikbaar is vir diegene wat Hom soek. Hosea herinner ons ook van die transformerende aard van God se liefde. Die verbondsvolk van God was ontrou en het gedwaal. Net so kan die kerk van vandag ontrou raak en dwaal, maar God jaag Sy kerk na en Sy liefde verander haar om mooier te wees vir Sy verheerliking.
Kortom, die boek Hosea dien as 'n afbeelding van die Christelike geloof se kernbeginsels van liefde, genade, vergifnis en die herstel van die verhouding tussen God en die mens deur Jesus Christus.
Bronne:
[https://enterthebible.org/courses/hosea/lessons/background-of-hosea](https://enterthebible.org/courses/hosea/lessons/background-of-hosea?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.apostolicfaith.org/daybreak-and-discovery/the-message-of-hosea](https://www.apostolicfaith.org/daybreak-and-discovery/the-message-of-hosea?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.oxfordbibliographies.com/display/document/obo-9780195393361/obo-9780195393361-0248.xml#:\~:text=The collection of prophetic proclamations,and poverty of his day](https://www.oxfordbibliographies.com/display/document/obo-9780195393361/obo-9780195393361-0248.xml?ref=olielamp.vgk.org.za#:~:text=The%20collection%20of%20prophetic%20proclamations,and%20poverty%20of%20his%20day)
[https://gracestillamazes.blog/2019/01/12/hosea-and-his-children-hosea-14-9/#:\~:text=So three children were born,communicate judgment to God's people](https://gracestillamazes.blog/2019/01/12/hosea-and-his-children-hosea-14-9/?ref=olielamp.vgk.org.za#:~:text=So%20three%20children%20were%20born,communicate%20judgment%20to%20God%27s%20people).
[https://www.crossway.org/articles/the-gospel-in-hosea/](https://www.crossway.org/articles/the-gospel-in-hosea/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wat is Engele?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-engele-van-nature-goed-of-sleg/
Last updated: 2023-10-07T09:45:33.000Z
*Geskryf deur Marnix Boon, VGK Maranata*
Ons lees die woord ‘’engel’’ 250 keer in die Bybel. Wat is engele, en wat is hulle doel? In die wêreld van vandag word engele afgemaak as fabels en mites. Mense glo nie meer in die bestaan van engele nie, en niemand hou enige rekening met hulle nie. Is ons self nie ook soms skuldig daaraan nie?
Engele is skepsels deur God geskape, nes mense. Die groot verskil met die mense is dat engele almal gelyk geskape is en dat hulle aantal konstant bly. Ook het hulle nie fisiese liggame soos mense nie, maar hulle is geestelike wesens, wat onsterfbaar is. Daar is ook verskillende soorte engele, naamlik gerubs ([Hebreërs 9:5](https://www.bible.com/af/bible/5/Heb.9.5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en serafs ([Jesaja 6:2](https://www.bible.com/af/bible/5/ISA.6.2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). In die Bybel word daar verskeie eienskappe van engele vir ons genoem. Hulle het ‘n selfbewussyn ([Lukas 1:19](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.1.19.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), hulle het gevoelens ([Lukas 15:10](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.15.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)), hulle kan praat ([1 Korintiërs 13: 1](https://www.bible.com/af/bible/5/1Co.13.1.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)) en hulle aanbid God ([Hebreërs 1:6](https://www.bible.com/af/bible/5/Heb.1.6.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)).
So sien ons dat die engele heelwat gemeenskaplike eienskappe met mense deel, alhoewel ons hulle as ‘n voorbeeld kan sien vir hoe ons God moet dien soos Jesus in die Onse Vader gesê het: ‘’laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” ([Matteus 6:10](https://www.bible.com/af/bible/5/Mat.6.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Ons moet dus God se wil op aarde doen soos die engele in die hemel God se wil laat geskied.
### Take van engele
Engele is almal geskape met verskillende doele. Hulle is gehoorsaam en gewillig om te doen wat God van hulle vra. Hulle verskillende take behels om boodskappers te wees, te bewaak, God se oordele uit te voer, hulle moet God loof en prys en hulle moet beskerm.
Die woord ‘engel’ kom van die Griekse woord ‘angello’ wat beteken om ‘n boodskap oor te bring. Die Here gebruik engele dikwels om sy boodskap aan mense oor te bring, soos toe die engel Gabriël vir Maria die boodskap gebring het dat sy die moeder van die Messias sal wees. ([Lukas 1:26-38](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.1.26-38.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Die engele moet ook bewaak. Hulle moes die paradys bewaak na die sondeval. Verder het hulle die ark op aarde bewaak. Hulle bewaak ook God se troon in die hemel.
Hulle moet God se oordele uitvoer. Bv. die engel van die dood in Egipte.
Hulle het ‘n liturgiese taak. Hulle moet in die hemel God loof en prys. Dink aan die herders van Betlehem, toe die engele ‘n loflied vir die geboorte van die Messias gesing het. ([Lukas 2:8-20](https://www.bible.com/af/bible/5/Luk.2.8-20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Hulle moet beskerm. Hulle moet God se kinders beskerm. Dink aan Psalm 91:11-12\. “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
### Engele se natuurlike geaardheid
Nou is dit so dat nie alle engele God gehoorsaam het nie. Daar is sogenaamde gevalle engele en die bekendste een is Satan. Wat is die engele se natuurlike geaardheid as van hulle in opstand teen God gekom het? Daar moes ‘n tydperk gewees het waar alle engele God gedien het, vergelykbaar met die tyd toe Adam en Eva in die paradys gebly het. Iewers waarskynlik voor God die aarde geskape het, het van die engele in opstand teen God gekom. Satan is deur God uit die hemel verwerp, saam met al die ander engele wat hom gevolg het in sy opstand. Van toe af is Satan se enigste doel om God teen te werk. Dit is hy wat die mens verlei het om ook in sonde te val. Die engele wat Satan gevolg het, het onreine geeste geword. ([Markus 1:23](https://www.bible.com/af/bible/5/Mar.1.23.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Die engele wat nie in opstand gekom het nie, word in die Bybel na verwys as “die heilige engele” ([Markus 8:38](https://www.bible.com/af/bible/5/Mar.8.38.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Heilig beteken dat hulle steeds aan God toegewyd is. Hulle vrye wil is nie besmet deur sonde soos die mens se vrye wil nie. Hulle kan dus deur die genade van God vir die regte dinge kies en God se wil voorop stel.
In Openbaring 21:27 staan dat niks wat sondig en onrein is, in die nuwe Jerusalem sal ingaan nie. Die engele vertoef in die die Heilige Stad van God en moet dus daarvoor sondeloos wees.
Engele is diensknegte van God en kyk hoe gehoorsaam voer hulle hul opdragte uit. Ons is kinders van God, maar tog voer ons nie so gehoorsaam sy bevele uit nie. Laat ons ‘n voorbeeld neem aan die engele!
> “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so op die aarde.”
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Bloed en doodslag in Oekraïne
URL: https://olielamp.vgk.org.za/oorlog-in-ukraine/
Last updated: 2023-09-16T07:00:02.000Z
*Geskryf deur Juhan van Alten, VGK Pretoria*
Almal het in die afgelope jaar en 'n half gehoor van die oorlog in Oekraïne, maar nie almal is op hoogte van die huidige oorlogsgebeure nie.
### Die kerk in Oekraïne
Die meeste Christene het vanaf die ooste van Oekraïne na die weste van Oekraïne, of na Europa, gevlug. Dit het veroorsaak dat die kerke in die weste van Oekraïne volgestroom het met gelowiges. Die oorblywende kerke in die ooste speel 'n groot rol in die samelewing. Mense gaan daarheen om óf kos óf elektrisiteit te ontvang omdat die kerke kragopwekkers het. Die kerke in die weste van Oekraïne het laat weet dat hulle nie genoeg Bybels het nie, en die Westerse samelewing probeer daarom om meer Bybels (en ander literatuur) in Oekraïens te vertaal.
'n Groot rede vir die oorlog in Oekraïne is dat Poetin voel dat Oekraïne regtens deel van Rusland moet wees. En 'n groot deel van die Oekraïense en Russiese kultuur is gesentreer rondom die Oosters-Ortodokse kerk. Maar nadat die oorlog – eers in 2014 en later in 2022 – begin het, het die Oosters-Ortodokse kerke in Oekraïne hulself van die kerke in Rusland begin afskei. Wat Poetin in wese probeer doen, is om die ou Sowjetunie te herstel.
### Wagner-rebellie
Op 23 Junie 2023 het die Wagner-groep, 'n privaat Russiese huursoldaatmag, 'n rebellie teen Rusland uitgevoer waar hulle na die hoofstad, Moskou, opgeruk het. Die rebellie het net ’n dag geduur. Danksy die president van Belarus kon die Wagner-leier en Poetin ’n ooreenkoms bereik waarvolgens die Wagner-leier in Belarus ‘n heenkome kon vind. Hierdie rebellie het groot skokgolwe oor die wêreld gestuur en het die kwesbaarheid van Poetin se regime getoon.
### Oekraïense teenaanval
Sedert die oorlog begin het, het Oekraïne hoofsaaklik op die verdediging gebly. Vroeg in Junie het Oekraïne egter met hulle langverwagte teenaanval begin, maar hul suksesse was tot dusver nog nie so groot soos wat die meeste mense gehoop het nie. Daar was egter 'n paar klein oorwinnings vir Oekraïne.
### Graanooreenkoms
Rusland het onlangs die graanooreenkoms beëindig, waarvolgens Oekraïne toegelaat is om graan via die Swart See en die Bosporus uit te voer. Poetin het te kenne gegee dat hy bereid is om na die ooreenkoms terug te keer as daar aan sy eise voldoen word. Maar die onlangse missiel-aanvalle op die hawe van Odessa laat mens wonder of hy regtig bereid is om terug te keer na die ooreenkoms. Dit is dalk eerder so dat hy met sy woorde probeer om 'n potensiële verlies aan politieke steun vanuit Afrika teen te gaan, want Afrika-lande word veral geraak deur hierdie gebrek aan graan-uitvoere.
Na die Russiese aanvalle op Oekraïne se hawens is daar ‘n opeenhoping van skepe op belangrike sytakke van die Donau-rivier. Data toon dat ten minste 30 skepe by Musura Baai in die Swart See anker uitgegooi het – hierdie baai lei weer na 'n kanaal wat met Izmail verbind is. Daar was ten minste 20 skepe geanker op die waterweg wat na Izmail lei. Hierdie rivier en sy uitmonding is Oekraïne se laaste oorblywende waterweg vir graan-uitvoere.
### Mislukte sluipmoordpoging op die Oekraïense president
'n Vermeende vroulike informant vir Rusland is gearresteer in verband met 'n komplot om die Oekraïense president Volodymyr Zelensky te vermoor. Die Oekraïense Veiligheidsdiens (SBU) het gesê hulle het “intelligensie bekom” oor Zelensky se beplande besoek aan Mykolaiv aan die einde van Julie, waarby die Russe ‘n lugaanval beplan het om die president dood te maak. SBU-agente het egter inligting oor die “ondermynende aktiwiteite van die verdagte” bekom en bykomende veiligheidsmaatreëls ingestel, waardeur die komplot in die wiele gery is. Deurdat hulle die kommunikasie van hierdie vrou gemonitor het, het die SBU vasgestel dat sy ook die taak gehad het om die ligging van elektroniese oorlogvoeringstelsels en pakhuise met ammunisie van die Oekraïense leër te identifiseer. Sy het na bewering na die betrokke gebiede gereis en die ligging van Oekraïense teikens verfilm.
Die oorlog in Oekraïne is nog ernstig aan die gang, met geen duidelike oorwinnaar of einde in sig nie. Net die Here is in beheer en Hy sal bepaal wie die oorwinnaar sal wees.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Lies Women Believe: and the truth that sets them free
URL: https://olielamp.vgk.org.za/lies-women-believe-and-the-truth-that-sets-them-free/
Last updated: 2023-09-09T07:00:33.000Z
*Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville*
Meeste van julle het al van die boek gehoor "Lies Women Believe", geskryf deur Nancy DeMoss Wolgemuth. Sy is ‘n Christelike skrywer. Die boek bespreek nege verskillende onderwerpe, met verskillende leuens wat verwant is aan elke onderwerp. Daar is baie onderwerpe wat sy in die boek kon plaas, maar DeMoss het besluit om op die nege te fokus wat die meeste vroue as die grootste waarhede beskou.
Regdeur die boek, illustreer Nancy elke leuen deur die oogpunt van Eva. Dit gee die boek ‘n nuwe dimensie en laat mens dieper dink. Dit gee jou die geleentheid om jouself in die skoene te plaas van Eva, en hoe elke leuen ontstaan het deur die sondeval. Met deernis en insig ontleed die skrywer elke leuen wat dikwels in vroue se gedagtes binnedring en verskaf 'n padkaart van die Christelike waarheid, vir die vrou wat die waarheid wil leer ken.
Die boek, wat ongeveer 40 algemene wanopvattings beskryf, daag lesers uit om hulself te konfronteer daarmee. DeMoss se skryfstyl is toeganklik en deernisvol, wat dit maklik maak vir lesers om op 'n persoonlike vlak met die onderwerp te assosieer. Die skrywer put uit persoonlike anekdotes, Bybelse verwysings en verwante werklike scenario's om elke leuen te illustreer. Dit verseker dat die inhoud herkenbaar en boeiend bly.
Een van die sterk punte van hierdie boek is haar vermoë om sensitiewe onderwerpe met grasie en wysheid aan te pak. Daar word elke keer weer teruggekeer na God se Woord om die waarheid vas te stel. DeMoss spreek die reeks leuens aan waarmee vroue dikwels in die samelewing gekonfronteer word, soos dinge wat ons glo oor God, onsself, emosies, kinders, prioriteite en ons omstandighede. Deur hierdie leuens te erken, nooi sy lesers uit om die waarheid te vind in God se Woord en hulself daardeur te bevry van die kettings van die druk in ons samelewing, asook van die onrealistiese verwagtings wat die wêreld skep. Daardeur stel sy die waarhede weer terug in fokus op God en Sy Woord.
Alhoewel die boek ongetwyfeld bemagtigend is, is dit nie sonder sy beperkings nie. Sommige lesers sal dink dat van die leuens nie van toepassing is op hulself nie. Maar êrens in jou lewe sal jy dalk ‘n vriendin ontmoet wat wel die leuen glo. Dit skep dan ‘n basis waarna ‘n vrou kan terugkeer om die Waarheid aan ‘n ander te leer.
"Lies Women Believe" bied aan lesers 'n kragtige Christelike basis. Die boek is geskik vir jonger dames en ook vir ouer vroue wat wil groei in kennis van God. Deur elke leuen wat in hul lewens posgevat het, te identifiseer, word lesers aangemoedig om terug te keer na God se Woord. Soos daar geskrywe is in Johannes 8:32: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” En in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
"Lies Women Believe" is boeiend geskryf en kan ‘n goeie impak maak op die lewens van die lesers. Nancy DeMoss Wolgemuth se verkenning van algemene wanopvattings bied 'n platform vir vroue om hul self-persepsies te heroorweeg, skadelike leuens weg te gooi en 'n meer Christelike lewenstyl te omhels.
*Ons as klein dames Bybelstudiegroepie het die boek saam behandel, en het baie daaruit geleer. Soms tydens voorstudie het ek gedink die hoofstuk is nie so veel op my van toepassing nie, maar by verdere deurdink en bespreking kon mens wel jouself daarin herken.*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Van stof tot heerlikheid!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-het-ons-ongelooflik-goed-geskep/
Last updated: 2023-09-03T06:25:20.000Z
*Geskryf deur Lydia Boon, VGK Pretoria-Maranata*
Die menslike liggaam is onsettend interessant. Ons is uit stof van die aarde gevorm, God het sy lewensasem in ons ingeblaas en ons liggaam het ‘n lewende wese geword (Genesis 2:7). Eendag sal ons weer terugkeer tot stof (Prediker 12:7). Maar tussen die stof tot stof is daar ‘n groot wonderwerk: Die menslike liggaam - ek en jy wat die lewe met ons liggame beleef.
God het die menslike liggaam wonderbaarlik geskape! Geskape in sy beeld, die kroon van Sy skepping. In die vier jaar wat ek al die menslike liggaam bestudeer, bly ek verwonderd staan oor hoe ongelooflik perfek ons liggame geskape is. ‘n Tempel van God. Ek wil graag ‘n paar voorbeelde noem om julle ook verwondered te laat staan oor die kroon van God se skepping.
Dawid skryf in Psalm 139 oor hoe wonderbaar die HERE hom geweef het in sy Moeder se skoot. Ontwikkeling begin as een sel, wat dan verder ontwikkel in meer selle en verskillende soorte selle. Rondom die vierde week na bevrugting is die embrio net ‘n plat skyf, maar begin dan vou. Hierna kan jy direk sien dat dit ‘n babatjie word! Binne 8 weke is al die organe gevorm, selfs al is die fetus net nog die grootte van ‘n framboos. Vir nog 32 weke groei en ontwikkel die babatjie, en is dan reg vir die buitewêreld.
Indien jy al die bloedvate in jou lyf in ‘n lyn sou pak, sou dit so lank wees dat dit meer as 2 keer om die aarde kan gaan. En hierdie is nie net eenvoudige waterpype nie. Bloedvate is verantwoordelik om jou liggaam se temperatuur te beheer. Daar is ook selle aan die wand van jou bloedvate om infeksies te bestry. Daar is komplekse prosesse wat voorkom dat jy aanhou bloei indien jy seerkry.
Deur neurone (senuweeselle) word inligting wat jy waarneem na jou brein gestuur, die inligting geïnterpreteer en dan teruggestuur na jou lyf vir aksie. Ons het ongeveer 85 biljoen neurone in ons brein. Maar, laat ek bietjie beskryf hoe ‘n neuron van binne lyk! ‘n Neuron is ‘n baie komplekse stad. Daar is ‘n stadsaal (nukleus) wat al die inligting van die stad (genetiese material) bevat en besluite neem wat met die stad (neuron) moet gebeur. Daar is ook ‘n poskantoor (akson), wat inligting in die sel inbring, en daarna ‘n ingewikkelde padnetwerk (dendriete) wat die stad soos ‘n spinnekopweb bedek. Hierdie paaie gaan weg van die kern na die omliggende neurone. Op hierdie paaie ry boodskappers wat pakkies aflaai na die volgende neuron se poskantoor. So versprei die inligting van die brein na waar die aksie nodig is. Om die paaie is daar hekke (mielienomhulsel) gebou om die paaie te beskerm sodat die inligting vining versprei kan word. In die stad is daar ook ‘n fabriek (endoplasmiese retikulum) wat alles maak wat die sel nodig het. Daar is ook herwinningsmanne (lysosome) wat alle ongewenste stowwe opruim. Die kragstasie (Mitochondria) verskaf krag aan die sel (wat meer effektief is as Eskom). ‘n Stadspatrollie (microglia) patroleer die stad om enige tekens van gevaar, soos infeksies of beskadiging aan te spreek. ‘n Neuron is inderdaad ‘n piepklein effektiewe stad in die kontinent van die senuwees.
Neurologie is ongelooflik. ‘n Brein wat slegs 1,5kg weeg, grys en wit van binne is, bevat soveel inligting: hoe jou Ouma se huis geruik het, die graad 1 ‘Lin se vis’-leesboek en al die ander stapels boeke van jou opleiding se inhoud. Jou brein bevat die instruksies om blitsvinnig te kan tik op jou selfoon, of te hardloop en ‘n bal te skop. Jou taal, jou persoonlikheid, jou seerkry en jou drome is alles opgebondel in jou brein. Jou brein interpreteer al die inligting wat inkom, maak dit moontlik dat jy gesigte kan herken, sit frekwensies in geluide om – sodat jy die wonder van die skepping rondom ons kan waarneem.
Ek het pas besef hoe ongelooflik die brein is toe ek gesien het hoe iemand sukkel as daar slegs ‘n klein deeltjie van hul brein aangetas is. Skielik is doodnormale bewegings nie meer vanselfsprekend nie. Dit is nie meer moontlik om tande te borsel nie, of om woorde te vorm wat sin maak nie.
Die vernuwingsvermoë van ons liggaam is ongelooflik. Indien jou kar se venster ‘n kraak kry, kan die kar nie self die kraak regmaak nie, selfs al is ‘n kar se venster soveel eenvoudiger as ‘n mens. Indien jy die helfte van jou lewer sou skenk, sal dit weer binne ‘n jaar teruggroei tot die oorspronklike grootte. Jou vel word elke twee weke vervang. Jou liggaam produseer 3,8 miljoen nuwe selle elke sekonde om ou selle te vervang. En elke sel funksioneer soos ‘n stadjie, soos ek vroeër verduidelik het.
Indien jy die menslike liggaam so bestudeer kan jy nie anders as om in bewondering te wees van jou Skepper nie, om sy ewige krag en goddelikheid te besef nie (Romeine 1: 20, 21). Die liggaam is so ingewikkeld, en nie een stukkie van hierdie kompleksiteit kan net weggehaal word nie.
Ongelukkig is nie alles in ons liggame volmaak nie, en werk al die prosesse nie altyd soos wat dit moet nie. Ons sien die invloed van die sonde ook op ons liggame. Ons raak oud, grys, kry rimpels, kroniese siektes, kanker... Dit is belangrik om te onthou dat ons nie so geskape is nie, en eendag sal God ook dit weer heel maak. Eendag sal ons met ‘n verheerlikte liggaam opstaan uit die stof. Verheerlik - hoe ongelooflik sal so ‘n liggaam nie wees nie?!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoekom is ons geskape?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/god-het-ons-perfek-geskape/
Last updated: 2023-08-26T07:00:05.000Z
*Geskryf deur Annemyn de Wit, VGK Pretoria*
Wat is jou doel in jou lewe? Vir wat werk jy? As ‘n mens hierdie vraag stel aan enige persoon sal die meeste mense iets antwoord soos “om ‘n suksesvolle lewe te lei”. Ons moet ons nie misgis nie – ons as Christene is ook vinnig geneig om so ‘n antwoord te gee. Ons kan so vinnig te besig raak in ons daaglikse lewens dat ons *vergeet* waarvoor ons nou regtig lewe. En kom ons wees eerlik, wie staan in die oggende op met die duidelike doel om God te loof en te prys en alles tot Sy eer te volbring?
Met watter doel is ons nou werklik geskep?
Kom ons kyk terug na Genesis toe God die mens geskape het. Met watter doel het Adam en Eva daagliks mee opgestaan? Slegs om vir God te lewe! Ons moet ook probeer lewe soos wat Adam en Eva in die paradys gelewe het. Hulle het nie heel eerste daaraan gedink om vir hulself hard te werk nie. Dit was nie hulle eerste prioriteit nie – nee, hulle het eenvoudig gelewe om God te loof en om alles wat hulle doen tot Sy eer te doen!
God het ons geskep met verskillende doele/riglyne waarvolgens ons moet lewe. Kom ons breek dit op in ‘n paar punte. Ten eerste moet ons God dien en ‘n verhouding met Hom hê. Die Bybel beklemtoon dat dit baie belangrik is om God te ken, Hom lief te hê en Hom te dien. Ons moet Sy gebooie gehoorsaam en Hom erken as ons Skepper. Ons is mos immers na Sy beeld geskape.
Maar wat beteken dit presies dat ons na sy beeld geskape is? Ons lees dit in die Heidelbergse Kategismus v/a 6; dat God die mens in ‘n regte verhouding geplaas het tot Homself sodat Hy ons (as mense) in staat stel om onsself te kan toewy aan Hom, waarin ons Hom vervolgens kan lief hê en saam met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en prys.
Ons moet ander liefhê en dien. Dit lees ons in die tien gebooie, waarvan die belangrikste gebod is: "Ons moet die Here ons God lief hê met ons hele hart, ons hele siel en al ons verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede wat hieraan gelyk staan is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself."
Ook moet ons God se plan vervul. God het ‘n doel met elkeen van ons. Ons moet ons talente gebruik tot eer van God. Ook moet ons talente ‘n positiewe impak bring in die wêreld – om byvoorbeeld ander mense te help. Solank ons nog lewe, is God se doel met elkeen van ons nog nie voltooi nie.
Ons moet die evangelie van God versprei regoor die wêreld. Dit lees ons in [Handelinge 1:8](https://www.bible.com/af/bible/5/ACT.1.8.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za): "maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde." Ons as Christene word opgeroep om die goeie nuus van God se verlossing te verkondig regoor die wêreld.
Bogenoemde is maar net ‘n paar punte waarna ons as Christene moet streef om te lewe. Natuurlik is dit baie moeiliker gesê as gedaan. Maar ons moet probeer streef daarna om ons lewens te fokus op God. Ons moenie dat ons lewensdoel bepaal word deur aardse dinge nie.
Vra nou weer hierdie vraag vir jouself. Wat is jou doel in jou lewe? Dink weer daaroor en probeer ‘n bietjie anders na jou daaglikse lewe te kyk. Lewe met die bewussyn dat jy nie vir jouself lewe nie, maar om alles te doen tot eer van die Here en om Hom te loof en te prys! Praat en bid tot God dat HY jou daarby sal help. Kom ons probeer lewe soos Adam en Eva!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe weet ons dat Genesis werklik geskiedenis is?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-genesis-history/
Last updated: 2023-08-19T07:00:23.000Z
*Geskryf deur Marlies van Renssen, VGK Kaapstad*
**DOKUMENTER RESENSIE: Is Genesis History?**
In ‘n 105-minute video met dieselfde titel onderneem Del Tackett, DM om te bewys dat Genesis inderdaad geskiedenis is – die enigste ware geskiedenis. Hy identifiseer ‘n klomp aannames wat die wêreld oor die geskiedenis van die aarde en die geskiedenis van die mens maak, en bevraagteken dan hoe hierdie aannames ons Christelike siening oor die geskiedenis affekteer. Hoe beïnvloed dit die manier waarop ons oor wetenskap en die Bybel dink?
Tackett pak drie groot vrae in hierdie video aan:
1. Is die wêreld deur God geskape in ‘n paar dae of het dit ontstaan oor ‘n biljoen jare?
2. Is die mens van ape afkomstig of het God ons oombliklik volgens sy beeld geskape?
3. Was daar ‘n globale vloed wat die aarde verwoes het of is dit maar net ‘n storie?
In die video vat Tackett die “viewer” (kyker) op ‘n avontuur oor die Verenigde State van Amerika en raadpleeg meer as 10 akademici en kenners op hulle afsonderlike gebiede om antwoorde op hierdie vrae te bekom.
Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2 ken ons God deur twee middele: die skepping en Sy Woord. Dit is in hierdie video duidelik wanneer Tackett die natuur invaar en antwoorde vind in die rotsformasies, fossiele, genetika, diere en selfs die sterre. Verder raadpleeg hy ook ‘n kenner van die Hebreeuse taal en ‘n pastoor om antwoorde in die Woord van God te vind.
Tackett tree ook in ‘n gesprek met Paul Nelson, ‘n filosoof, waaruit ons leer dat daar twee hoof paradigmas is met betrekking tot die geskiedenis van lewe en die geskiedenis van die heelal. Deur die video word daar herhaaldelik na hierdie paradigmas verwys. ‘n Paradigma is ‘n raamwerk waarbinne jy bewyse interpreteer. Wetenskap is dus nie net bewyse nie, maar hoe jy daardie bewyse interpreteer.
Nelson verduidelik die twee paradigmas as die konvensionele paradigma wat gevorm word en behels dat alle kompleksiteit van onder af opgebou moet word deur fisiese prosesse oor ‘n lang periode van tyd. En die Genesis-paradigma wat ontvang word behels dat alles deur die Skepper uitgedink en geskape is. Die geskiedenis van lewe op aarde is dus ‘n stel data en afhangende van jou paradigma kan hierdie data verskillend geïnterpreteer word.
Tackett sluit hierdie video af met myns insiens die belangrikste vraag: Hoekom is dit belangrik dat Christene Genesis as die ware geskiedenis aanvaar? Hoekom is die historisiteit van Genesis belangrik vir ‘n Christen se geloof?
As die hoofstukke 3-11 van Genesis as histories onakkuraat of onwaar gesien word, dan beteken die res van die Bybel, wat aanneem dat dit waar is, dit behandel asof dit histories korrek is en konstant daarna terug verwys, niks nie. Dan kan jy netsowel van die hele Bybel ontslae raak.
In die video bewys Tackett en al die mense wat hy raadpleeg keer op keer dat die Woord van God, die geskiedenis wat Hy in Genesis vir ons uitlê, waar is. Dit mag vir ons ‘n troos en ‘n rots wees. As jy jou vertroue plaas in wetenskap, onder andere die ewolusie teorie, sal jou lewensuitkyk onstabiel wees aangesien dit konstant verander na aanleiding van nuwe ontdekkings.
Die 105-minute video “Is genesis history?” kan op Youtube gevind word deur die volgende skakel te volg [Is Genesis History? - Watch the Full Film - YouTube](https://www.youtube.com/watch?v=UM82qxxskZE&ref=olielamp.vgk.org.za) of hier onder te kyk:
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Pornografie - Die sonde waaroor niemand praat nie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesinslewe-pornografie/
Last updated: 2023-08-19T10:52:55.000Z
*Hierdie artikel is ‘n verwerking van ‘n sprekersaand gelei deur Ds. Pieter Boon.*
Die meeste terme in Google se soekenjin het te doen met pornografie. Pornografie het ons samelewing diep binne gedring en dit is seker een van die duidelikste maniere hoe die Satan in ons tyd dit regkry om God se gawe van seksualiteit met sonde te bevlek.
### Die gevaar
Pornografie is nie ‘n onbekende term nie, maar besef ons nog wat dit werklik is?
As ons pornografie as ‘n sonde volgens die tien gebooie moet klassifiseer, sal die meeste van ons sê dis sonde teen die sewende of tiende gebod. Tog dink ek vir baie mense voel dit soos ‘n “laer klas” sonde. Pornografie is in baie gevalle ‘n geheime sonde, een waarvan niemand anders as net jyself weet nie. Dit voel minder erg as byvoorbeeld verkragting of buite egtelike verhoudings. Hierdie ander seksuele sondes het moontlik swaar implikasies, byvoorbeeld ongewenste swangerskap of seksueel oordraagbare siektes. Pornografie kan, in teenstelling, soos ‘n “veilige” sonde voel. Maar besef ons die werklike implikasies?
In [Kolossense 3:5](https://www.bible.com/af/bible/5/COL.3.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) lees ons: *“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is”.* Die woord wat in Grieks vir hoerery gebruik word is “porneia”. Pornografie en die seksuele begeertes wat dit ontlok is direkte hoerery. Die Here Jesus self leer immers vir ons:
> “*Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”* ([Matteus 5:27-28](https://www.bible.com/bible/5/MAT.5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Dit is belangrik om te besef dat sonde nie net sonde is wanneer dit alreeds gedoen is nie. Nee, ons weet God sien ons hart en lees ons gedagtes. Voor God is dit net so veel hoerery om ‘n vrou te begeer as om werklik die daad te doen. Jesus is baie ernstig oor hierdie saak, lees maar sy oproep in die verband:
> *“As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.”* ([Matteus 5:29](https://www.bible.com/bible/5/MAT.5.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Pornografie se doel is om seksuele gevoelens en begeertes te stimuleer en te prikkel. Dit is uiters gevaarlik en kan selfs ons ewige lewe kos. Ruk liewer jou oog uit, as om in hierdie sonde te val, dis beter om met een oog in die Koninkryk in te gaan as met beide oë in die hel.
Dit is belangrik om te besef dat alhoewel pornografie hoofsaaklik visueel uitgebeeld word, dit ons ook in ander vorme kan bereik. Dink aan musiek en boeke. Woorde kan so eksplisiet wees dat dit dieselfde begeertes in ‘n mens kan ontlok. Dit is nie net sonde om pornografie te kyk nie, maar ook om “pornografie” te luister of te lees. Kortom waak teen enige impulse wat se doel is om seksuele begeertes buite die huwelik aan te wakker.
Laastens is pornografie verslawend. Net soos dwelms en alkohol ‘n uitwerking op die liggaam het, het pornografie ook ‘n uitwerking op die liggaam en gees. As gevolg van ons sondige natuur begeer ons keer op keer weer die uitwerking daarvan. Net soos met enige ander verslawing, kort jy meer gereeld ‘n sterker dosis om weer die “high” te beleef. Petrus waarsku ons in [2 Petrus 2: 19b](https://www.bible.com/af/bible/5/2PE.2.19-20.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) dat “*waar 'n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook 'n slaaf geword”.* Jesus het Sy bloed gestort om ons vry te koop van die slawerny van die sonde, ons mag onsself nie aan die slawerny van pornografie verkoop nie.
Wat as ek ingesuig is?
Dit is belangrik om te besef dat pornografie nie net verkeerd is wanneer jy verslaaf is nie. Die daad en begeerte is verkeerd. Tog kom die ernstige konsekwensies meestal eers saam met verslawing. Jy sal weet dat jy verslaaf is wanneer jy afhanklikheidspatrone of gedragspatrone begin ontwikkel.
Wat gemaak as jy in die kloue van pornografie vasgevang is? Jou geheue bly steeds by jou, dit wat gesien is kan nie ongesien gemaak word nie. Dit kan selfs die lewe in die toekoms ernstig kompliseer en ‘n ernstige impak op verhoudings hê.
Die eerste stap van genesing is om te besef dat jy iets makeer. Erken dat dit wat jy doen sonde is en dat dit jou verhoudings beskadig. Dit is die kritiese beginpunt van herstel.
Vra vergewing vir bewuste en onbewuste sondes. Herinner jouself dat die HERE ook werklik vergewe. As jy besef dat jy in die eerste plek voor God staan en val, sal jy bewus wees dat selfs al weet niemand van jou binnekamer sondes nie, God sien alles. Jy het in die eerste plek teen Hom gesondig - vra Hom om jou te vergewe.
Ook al is jy vergewe, bly jy dikwels wel die gevolge van sondes uit die verlede dra – dis ’n onderdeel van die gebrokenheid van die lewe. Jy sal daarmee moet leer lewe. Iemand wat sy een been in ‘n ongeluk verloor het, kan nie bly lewe asof hy nog steeds twee bene het nie, dan sal hy aanhoudend bly val. Iemand wat deur pornografie ingesuig is en ‘n fase in sy lewe gehad het dat hy/sy daaraan verslaaf was, sal aanpassings moet maak.
Iemand met een been moet leer vorentoe kom met slegs een been, dalk met hulpmiddels soos ‘n kruk of ‘n kunsbeen. Iemand met ‘n pornografie-verlede sal veral mentale oefening moet doen, om te sorg dat die geheue van daardie verlede nie meer die hede en toekoms beïnvloed nie. Dink aan [Efesiërs 4:17-24](https://www.bible.com/af/bible/5/EPH.4.17-24.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) en [Romeine 12:1-2](https://www.bible.com/af/bible/5/ROM.12.1-2.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za).
Vir hierdie kognitiewe herprogrammering sal jy hulp moet vra, dis nie maklik nie. Vra hulp om te voorkom dat jy in die toekoms weer terugval in pornografiese gewoontes. Bou “checks and balances” in jou lewe in, juis omdat pornografie so vrylik beskikbaar is. Ook al soek jy nie daarvoor nie, een of ander tyd gaan dit weer aan jou opgedring word.
Identifiseer en benoem potensiële risiko situasies, risiko plekke, risiko mense/vriendskappe. Werk konkreet, moontlik met ander se advies, ‘n stappeplan/protokol uit vir elkeen van hierdie risiko situasies in jou lewe.
Dra jou probleem op aan die Here. Bid vir krag om die verslawing te oorkom. Hy is getrou en kan uitkoms gee:
> *“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”* ([1 Korintiërs 10:13-14](https://www.bible.com/af/bible/5/1CO.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
‘n Paar links na hulpbronne word ook hieronder gelys:
- Herstel programme: [www.X3pure.com](http://www.x3pure.com/?ref=olielamp.vgk.org.za) en [www.PornAddiction.com](http://www.pornaddiction.com/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Verantwoordelikheid sagteware: [www.X3Watch.com](http://www.x3watch.com/?ref=olielamp.vgk.org.za) en [Covenant Eyes](http://www.covenanteyes.com/services/internet-filtering/?ref=olielamp.vgk.org.za) (deel internet soek inligting met ‘n “accountability partner”)
- Boeke: [Every Man's Battle: Winning the War on Sexual Temptation One Victory at a Time](https://www.christianbook.com/temptation-victory-revised-updated-anniversary-edition/stephen-arterburn/9780525653516/pd/653511?event=EBRN&ref=olielamp.vgk.org.za) en [The Game Plan by Joe Dallas](https://www.christianbook.com/the-game-plan-joe-dallas/9780849906336/pd/906334?event=ESRCG&AFF&p=1011693&ref=olielamp.vgk.org.za)
Hierdie hulpbronne is verkry van ‘n eksterne bron. Die Redaksie van die Olielamp het dit nie uitgetoets of die boeke gelees nie en kan nie waarborg daarvoor staan nie.
> Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Oupa en Ouma – wat is hulle rol in die gesin?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesinslewe-oupa-en-ouma/
Last updated: 2023-08-05T07:00:16.000Z
*Geskryf deur Arjan van der Meer, VGK Pretoria-Maranata*
Wat sê die Bybel oor oupas en oumas? Die antwoord is: baie min.
Die Bybel praat nie spesifiek oor die rol van grootouers in die gesin nie. Die woord oupa, ouma, of grootouers kom nie eenkeer voor in die Bybel nie. Maar dit beteken nie dat hulle geen rol of plek het in die gesinslewe nie. Hulle is belangrike instrumente in God se hand, ook in die gesin en die vorming van kinders.
As mens gaan soek na die woord “kindskinders”, wat ons verstaan as kleinkinders, dan is daar wel verse wat grootouers aanspreek oor hulle kleinkinders.
In die eerste plek wil ek wel noem dat die primêre rol van opvoeding van kinders by hulle ouers lê. Ouers het die taak om hulle kinders op te voed in die vrees van die Here. Hulle het die gesag oor hulle kinders. Grootouers is nie direk oor hulle kleinkinders aangestel om ‘n soort van gesagsposisie te beklee nie. Dit lê by die ouers. Maar grootouers speel wel ‘n rol in die opvoeding van kinders, al is dit nie op ‘n direkte manier soos ouers nie. So wat is die rol van grootouers in die lewe van hulle kleinkinders?
Deuteronomium 4:9: “Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak”.
Hier het ons ‘n duidelike voorbeeld van grootouers en hul kleinkinders. Die grootouers het die taak om die dade van die Here aan hulle kinders en kleinkinders bekend te maak. Die taak eindig nie as hulle dit aan hulle kinders vertel het nie. Nee, dit gaan voort ook aan hulle kleinkinders. Grootouers kan hulle kleinkinders leer oor die dade van die Here. Hulle speel ‘n rol in die geloofsopvoeding van hulle kleinkinders. Grootouers wat die Here vrees het meer kennis en ervaring oor die lewe wat hulle met hulle kleinkinders kan deel. So word die dade van die Here verkondig van geslag tot geslag. Deur die getuienis van grootouers leer kinders oor die geloof.
Nog ‘n vers wat ons hierby kan betrek is Spreuke 13:22 “ ’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.”
Ons is geneig om dadelik te dink aan finansiële en materiële erfporsies. Dit kan dit wees, maar dit is nie die primêre bedoeling van hierdie vers nie. Dit gaan in die eerste plek nie oor geld en goed nie. Dit gaan hier eerder oor ‘n geestelike erfporsie, wat die kinders en kleinkinders ontvang en saam met hulle neem deur die lewe. Die goeie man kan ons verstaan as die regverdige waarvan daar net bietjie later in die vers gepraat word. Hierdie regverdige mens is iemand wat ‘n verhouding met God het, wat deel het aan die verlossing van Jesus Christus. Die grootouer wat ‘n goeie of regverdige mens is, deel in die verlossing van Jesus Christus. As grootouers deel hulle dan daardie verlossing en weldade van Jesus Christus met hulle kinders en kleinkinders.
Hiermee saam kan ons ook die opdrag sien vir grootouers om ‘n Christelike voorbeeld te wees vir hulle kleinkinders. Dit gaan hier dus nie oor direkte onderrig nie, maar ‘n algemene voorbeeld deur ‘n Godvresende lewe te lei. Hulle moet wys wat dit beteken om ‘n lewende offer te wees vir Christus. Die roeping vir alle Christene bly dieselfde, maak nie saak wat jou ouderdom is nie. Daarom het grootouers daardie selfde roeping, en kan hulle ‘n voorbeeld wees vir hulle kleinkinders. Dit sluit in om vir hulle kleinkinders te bid, self te groei in heiligmaking, die kerk en die Hoof van die Kerk lief te hê, en ook om te belê in hulle kleinkinders. Dit kan op verskillende maniere gedoen word, soos om weekliks te kuier met jou kleinkinders, of om hulle op hulle verjaardae uit te vat vir ete. Wat ook al gedoen word, grootouers moet ‘n verhouding bou met hulle kleinkinders.
Grootouers het ‘n belangrike plek in die familie. Hulle het lewenservaring en wysheid wat hulle met hulle kinders en kleinkinders moet deel. Hulle moet ‘n voorbeeld wees vir hulle kleinkinders en hulle vertel van die wonderdade van God, vir hulle bid en betrokke wees in hulle lewens.
> *Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Om ‘n Christen tiener te wees
URL: https://olielamp.vgk.org.za/christen-tiener/
Last updated: 2023-08-01T13:47:27.000Z
*Geskryf deur Salomien van der Linden, VGK Bellville*
Tiener wees is ‘n ingewikkelde tyd van groei en ontwikkeling in ‘n jongmens se lewe. As tiener begin jy jou eie mens raak, met jou eie idees en opinies. Jy begin weg beweeg van hoe jy dink jy moet wees (in verband met wie jou ouers is) en vorm jou eie identiteit. Tieners word oor die algemeen gekonfronteer met baie dinge, baie opsies en invloede. Vir beide Christelike en nie-Christelike tieners kan dit moeilik wees om hierdie stadium van hulle lewe te navigeer. Dit is egter ekstra moeilik vir Christelike tieners, aangesien ons as Christene ernstiger kyk na hierdie invloede en hoe dit ons, sowel as ons verhouding met die Here, beïnvloed.
In Prediker 11:9-10 staan daar, *“Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen.”* Die Here vra dus nie van tieners om niks wat lekker is te doen en jouself af te sluit van die wêreld nie. Inteendeel, Hy sê jy moet die lewe en dit wat dit jou bied, geniet. Hy waarsku egter wel dat jy dinge wat jou liggaam negatief gaan beïnvloed vermy en onthou dat Hy jou verantwoordelik sal hou vir dit wat jy doen.
Dit kan vir tieners soms moeilik wees om te verstaan hoekom hulle sekere dinge nie mag doen nie en dan voel Christendom soms soos tralies wat jou inperk en keer dat jy jou lewe werklik kan uitleef en geniet. Dit is egter nie die geval nie. As Christene word daar sekere beperkings vir ons gestel, maar dit is nie om ons vas te keer nie. Dit is eerder om ons vry te laat om ons verhouding met die Here te laat groei en te beskerm.
Soos voorheen genoem is die tienerfase die stadium van jou lewe wat jy begin om jou eie mens te raak – dit handel dus baie oor die soeke en vind van jou identiteit. Dit is ongelooflik belangrik om jou identiteit in die Here te vind en nie in die vriende wat jy maak, die loopbaan wat jy kies of die aktiwiteite waarin jy deelneem nie, aangesien dit alles kan verander en net so onder jou kan weg val. As kinders van God vind ons ons identiteit in die Here, want Hy verander nooit.
Wanneer ons dan kyk na die rol van ‘n tiener in ‘n gesin, sien ons dat tieners hulle ouers moet gehoorsaam. *“Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder - dit is die eerste gebod met ‘n belofte - sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:1-3).*
Dit is belangrik om raak te sien dat meeste van die konflik tussen tieners en hulle ouers handel oor reëls wat gestel word en dan nie nagekom word nie, of deur die kind as beperkend beskou word. Hierdie reëls word nie opgestel om ons vas te keer of terug te hou nie, maar juis om ons te beskerm. Ouers wat reëls vir hulle kinders neerlê of hulle kinders op ‘n Christelike wyse tugtig doen dit nie om hulle seer te maak nie. Net soos wat God ons teregwys, so doen ouers dit ook om hulle kinders te beskerm en leer.
Dit is verder ook ‘n tiener se verantwoordelikheid om onderdanig te wees en te leer by die mense rondom hulle, om so kennis op te doen wat hulle dan self in die koninkryk van God kan gebruik, nou en in die toekoms.
As gevolg van die blootstelling en onsekerhede wat tydens hierdie fase van ‘n jongmens se lewe voorkom is dit belangrik om dan ook jouself met die regte mense te omring sodat die invloede wat jy ontvang en dit wat jy leer van beide jou portuurgroep en ouer mense die regte invloed is.
*“Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:5-7).*
> *Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### ‘n Goddelike ontwerp vir seksualiteit
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesinslewe-2/
Last updated: 2023-08-05T13:06:25.000Z
*Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata*
Seksualiteit is 'n onderwerp wat dikwels met kontroversie omhul is, veral in die laaste paar dekades. Hierdie onderwerp sien verskeie perspektiewe en sienings. As mense moet ons eerlik erken dat ons nie die wonderlike realiteit van ons eie biologie uitgedink het nie. Dit is egter wel wat die trotsaards van die *pride-*beweging sê.
Dit sou ‘n gruwelike skande wees as ons daarvoor krediet neem. Ons moet eerder nederig na die Maker van hierdie wonderlike biologie gaan en in vertroue en gehoorsaamheid vra: “Here, hoe het U dit geskape? Wat is U wil daarmee?”
Vanuit hierdie oogpunt is seksualiteit 'n Godgegewe gawe wat binne die raamwerk van die Bybel en die Goddelike ontwerp geleef moet word. Daarom gaan raadpleeg ons ook God se woord.
Die Goddelike ontwerp vir seksualiteit vind sy grondslag in die skepping van die mens as man en vrou. In Genesis 1:27 lees ons: "God het die mens geskep na Sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep." Reeds hier in die begin het God in sy heerlike wysheid die mens as twee geslagte (*sexes*) geskape. Dit is die Here wat die biologie bepaal het en elke sel in ons liggaam geskape het om uiteindelik sy heerlikheid en wysheid daarin te openbaar. Die hele LGBTQ (*pride*) -beweging in vandag se samelewing probeer ons wysmaak dat ons as mense die biologie uitgedink het en daarom kan ons ook self bepaal watter geslag ons is.
Die geskape seksualiteit wat die Here aan ons gee is pragtig en heilig. Net so is die verdraaiing daarvan ‘n gruwel. In die Romeinse ryk alreeds was daar geen skaamte oor die naaktheid van die mens nie. Dit is openlik in kuns en selfs in die atletiek voorgehou. En dit is vandag ook steeds so. Met moderne kuns, pornografie, die LGBTQ-beweging, platvorms soos *OnlyFans* en selfs die manier hoe mense hulleself ontbloot op sosiale media, sien ons hoe die samelewing die seksualiteit wat die Here geskape het ontheilig en verafgod.
Vanuit die skepping spruit die begrip voort dat seksualiteit 'n intieme en heilige eenheid is tussen 'n man en 'n vrou binne die huwelik. Jou seksualiteit is heilig omdat dit sy betekenis in Jesus Christus vind. Dus: pas dit op!
Binne hierdie konteks het seksualiteit verskeie belangrike aspekte. Eerstens, dit is 'n uitdrukking van liefde en eenheid tussen die eggenote. Dit is ‘n heilige band wat die Here gebruik om twee siele inmekaar te weef (Markus 10:8, Efesiërs 5:31, Genesis 2:24). In die Bybel leer ons dat die man sy vrou moet liefhê soos Christus die kerk liefgehad het (Efesiërs 5:25). Seksualiteit is dus nie bloot 'n fisiese handeling nie, maar 'n manier om 'n dieper verhouding van liefde, vertroue en eenheid te bevestig tussen ‘n man en vrou, binne die konteks van ‘n huwelik.
Tweedens, seksualiteit is 'n middel tot voortplanting. In Genesis 1:28 word ons opdrag gegee om vrugbaar te wees en die aarde te vul. Die Here het dit in sy wysheid besluit om die voortbestaan van die mensdom op hierdie manier te bewerkstellig. Dit moet ons uitleef in vertroue en gehoorsaamheid aan hom in die konteks van die huwelik, soos God dit geskape het.
Derdens, seksualiteit behoort binne die raamwerk van moraliteit en reinheid plaas te vind. Die Bybel waarsku teen onsedelike optrede en verduidelik dat die liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is (1 Korintiërs 6:18-20). Seksuele losbandigheid, pornografie, *OnlyFans*, moderne kuns en selfs die manier hoe jy jou voorhou op sosiale media word beskou as 'n afwyking van die Goddelike ontwerp vir seksualiteit.
Ons moet daarvan bewus wees dat die seksualiteit wat die Here geskape het nie beskou word as iets om oor skaam te wees of verkeerd en sondig nie. Die wêreld is vol van die verdraaiing daarvan en daarom kry ons ‘n stroom van negatiewe sienings daaroor. Maar God se skepping is pragtig. Jou seksualiteit erken die Godgegewe aard binne die regte konteks. Jou seksualiteit is iets intiem en heilig en iets wat binne die grense van die huwelik beoefen behoort te word. En binne hierdie raamwerk kan dit 'n bron van vreugde, vervulling en geestelike groei wees.
Laat dit ook duidelik wees dat die Bybel en die Evangelie van Christus hoop bring vir diegene wat met seksuele identeit of versoekings worstel. Daar is genade ook vir ons wat elke dag versoek word en vir seker ook val in seksuele sondes, waarvan pornografie vir seker die mees algemeen is. Laat ons wat daarmee worstel, in nederigheid voor die Vader kniel en ons lewe in sy hande oorlaat. Vertrou op Christus se verlossende werk en soek in gehoorsaamheid sy wil op vir jou lewe. Bring jou sonde na die lig, want dit is waar die oorwinning lê!
In 'n samelewing waar seksualiteit dikwels verdraai en verminder word tot 'n oppervlakkige, selfsugtige aktiwiteit, bied Christus ons in die grense van die evanglie 'n uitnodiging om ons heilige seksualiteit in sy volheid en betekenis te verstaan. Dit is 'n oproep om seksualiteit te benader met respek, liefde en baie diepe verantwoordelikheid teenoor God en ons medemens.
Laat ons daarom geanker wees in die Goddelike ontwerp vir ons seksualiteit en in gehoorsaamheid na die Bybelse riglyne luister om sodoende 'n vervulde en geestelik gesonde benadering tot ons seksualiteit kan geniet. Dit is 'n uitnodiging tot heiligmaking, groei en getrouheid binne die grense wat deur God gestel is. Moenie trots (*Pride Month*) wees nie, maar vertrou op Christus alleen en leef in ‘n soekende gehoorsaamheid na sy wil.
> Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Moenie die garing van God se weefsel knip nie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesinslewe/
Last updated: 2023-07-15T07:00:48.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
Ek dink enigiemand wat al ‘n pasgebore baba vasgehou het, weet hoe spesiaal dit is. Twee selle wat gegroei het tot ‘n volledige miniatuur mens. Wanneer jy na daardie klein skepseltjie se vingertjies kyk en sien hoe perfek dit is, wanneer jy die klein voetjies sien, dan borrel groot respek op in jou hart vir God die Skepper en Beheerder van lewe.
Tog is die nuus van swangerskap nie vir almal goeie nuus nie. Ons lewe in ‘n wêreld waarin die reg om oor daardie ongebore lewe te besluit, deur sommige as ‘n basiese mensereg beskou word.
### Waarom aborsie?
Waarom sal ‘n paartjie/swanger vrou die beëindiging van ongebore lewe oorweeg? Sommige Pro-choice aanhangers voer verkragtings, gesondheid en tienerswangerskappe as die hoofredes vir aborsies aan. Sulke gevalle maak die afkeur van aborsies inderdaad meer kompleks, maar is dit regtig hoekom aborsies gepleeg word?
Die Wêreld Gesondheid Organisasie reken daar vind per jaar ongeveer 73 miljoen aborsies wêreldwyd plaas. 29 % van alle swangeskappe word met ‘n aborsie beëindig (WHO, 2021). ‘n Studie wat in 2013 in Amerika gedoen is (Foster, 2013), het bevind dat slegs 12% abosies gepleeg word as gevolg van gesondheidsredes. 6% hiervan was egter as gevolg van die moeder se gebruik van alkohol of dwelms en is dus die moeder se eie lewensstyl keuse. Die studie bevat nie inligting oor verkragtings nie, maar 3% het gesê hulle het “abusive partners”. Meeste vroue het meer as een rede gegee, die hoofredes was: Finansies (40%), nie die regte tyd nie (36%), lewensmaat verwante oorsake (31%), ander kinders (29%), die baba sal toekomsplanne omverwerp (20%), en nie emosioneel of geestelik gereed vir ‘n baba nie (19%).
Die oorsaak vir aborsies is hoofsaaklik selfgesentreerd. Mense wil net lewe vir hier en nou, sonder om verantwoordelikheid te dra vir dit wat hulle doen. ‘n Onskuldige lewe moet opgeoffer word vir loopbane, plesier en toekomsdrome.
‘n Moeiliker probleem is dalk wanneer verkragting inderdaad die oorsaak van ‘n swangerskap is. Maar is aborsie die oplossing vir ‘n seksueel gevrotte samelewing?
Kom ons bekyk die saak van ‘n minder ernstige oogpunt: 29 miljoen Suid-Afrikaners ontvang sosiale toelaes van die regering terwyl net 7.4 miljoen belasting betaal (Daily Investor, 2023). Ek vermoed dat die meerderheid lesers hulle koppe skud, wanneer hulle sulke statistiek hoor. Meeste van u sal waarskynlik meen dat dit die domste ding is om te doen. Eerder as om daardie 29 miljoen persone afhanklik van die staat te maak, kan die regering eerder die geld in werkskepping investeer.
Die einste argument is ook van toepassing op aborsie. Is moord van onskuldige babas die oplossing vir seksuele losbandigheid? Spreek dit die groter probleem enigsins aan? Vanuit ‘n Christelike perspektief moet ons onsself afvra waar dinge verkeerd gegaan het dat verkragting en tienerswangerskappe hoegenaamd plaasvind.
Die kerk se doel is egter nie om te droom oor hoe mooi ‘n teokratiese samelewing sou kon wees nie. Ons is nou in die wêreld om nou ‘n verskil te maak. Hoe gaan ons om met tienerswangerskappe en verkragtings. Miskien is ons taak om daardie mense op te vang. Om hulp te bied. Om alleenstaande moeders te help. Om vaders te wees vir kinders wat nog nooit hulle pa ontmoet het nie. Dit is ‘n swaar taak. Baie moeliker as om Pro-life optogte te hou, of om krities kommentaar te lewer. Onthou Jesus het self die hoere en tollenaars op gesoek. Die gesondes het immers nie ‘n dokter nodig nie, maar die siekes (Lukas 5:31).
### Hoe het dit algemeen geword?
Die groot aantal aborsies laat mens wonder hoe dit so algemeen geraak het. Ek dink oor die afgelope jare is baie moeite gedoen om die moord van onskuldige kinders baie sag en aanvaarbaar te stel. Frases soos “swangerskap beëindiging” en “aborsie” word nie gekoppel aan moord of doodmaak nie.
‘n Algemene argument is dat die fetus nog nie ‘n mens is nie. Dit bring ons voor ‘n ingewikkelde vraag. Wanneer klassifiseer daardie selle in die baarmoeder as ‘n lewende mens? As dit nie ‘n mens is nie, kan ek myself indink dat daar nie soveel morele rede is om aborsie teen te staan nie. Kom ons dink daarom na oor ‘n paar moontlike stadiums in die menslike ontwikkeling wat as die begin van mens-wees kan klassifiseer:
- Eerste asemhaling: Eerstens is dit vir my ‘n gruwelike gedagte dat sommige pro-choice aanhangers durf om asemhaling as die kriteria vir menswees te gee. Die implikasie is dat ‘n baba nog reg voor geboorte geaborteer kan word. As ons daardie gruwelike gedagte uit ons breine skuif en net logies argumenteer sal ons gou tot die konklusie kom dat ‘n persoon wat KPR nodig het nie meer mens is nie en dat enigiemand daarom die vryheid het om daardie persoon the vermoor.
- Eerste hartklop: Almal sal saamstem dat iemand wie se hartklop gereguleer word deur ‘n pas-aangeër, steeds ‘n mens is. ‘n Menslike embrio se hart begin al klop na 5-6 weke (Haghighi, 2023).
- Kommunikasie en selfstandig lewend onderhoudend: As ‘n geliefde in ‘n koma is en die dokter verseker die familie dat, alhoewel die pasiënt op die oomblik deur mediese masjienerie in die lewe gehou word, die persoon na 9 maande weer by sy volle verstand sal wees, sal niemand vir daardie dokter sê om die masjienerie af te skakel nie.
Al wat oorbly is om te erken dat die baba al ‘n menslike persoon is van die oomblik van bevrugting af. As die embrio of fetus inderdaad ‘n menslike persoon is, is aborsie niks minder as moord nie.
In Suid-Afrika moet ‘n vrou wat gekies het om haar swangerskap te beëindig, dit doen voor die dertiende week (Suid-Afrikaanse Regering, 2023).
Figuur 1 is ‘n foto van ‘n werklike 12 weke oue baba. Vir my is dit duidelik dat die veronderstelde bondel selle al ‘n mens is.

*Figure 1: 12 weke, (Flanders, 2015)*
### Wat is ons verantwoordelikheid?
Ek hoop van harte dat aborsies nie ‘n algemene probleem in ons kerk is nie. Tog lewe ons almal in ‘n samelewing waar dit aan die orde van die dag is. Dalk ken van ons mense vir wie dit normaa; is. Hoe hanteer ons dit? Ek dink dit is belangrik om nie uit die middel van nêrens sulke mense van moord te begin beskuldig nie. Onthou meeste van hierdie mense is waarskynlik ook gebreinspoel dat aborsie nie moord is nie en dat dit wat in die baarmoeder groei net ‘n bol selle is. Miskien kan ‘n mens eerder begin deur met die persoon oor die mooi van nuwe lewe te praat, om te verduidelik hoe groot die wonder van elke gesonde baba is. Vir baie mense mag dit dalk net nodig wees om die groter voldoening van ouerskap in te sien om oortuig te word om vir lewe te kies.
Indien die persoon ‘n Christen is, het ons natuurlik Bybelse gronde om op terug te val. As Christene bely ons dat God die Skepper en Onderhouder van lewe is. In Psalm 139 lees ons so mooi:
> *Want Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!*
God was al betrokke by ons lewens toe ons nog ‘n ongevormde klomp selle was. God gee lewe, God neem lewe. Ons as mense het nie daardie mag ontvang nie. Waardeer opnuut elke nuwe lewe, wat so wonderlik deur God geweef is.
### Bronne
Baker, F. (2015, September 1). *Powerful photos of a loved baby born at 19 weeks*. Retrieved from kidspot.com.au: [https://www.kidspot.com.au/birth/pregnancy/pregnancy-galleries/powerful-photos-of-a-loved-baby-born-at-19-weeks/image-gallery/a53aa56f2385a92d1b7406150a133676](https://www.kidspot.com.au/birth/pregnancy/pregnancy-galleries/powerful-photos-of-a-loved-baby-born-at-19-weeks/image-gallery/a53aa56f2385a92d1b7406150a133676?ref=olielamp.vgk.org.za)
Daily Investor. (2023, Januarie 9). *29 million South Africans receive grants – with only 7.4 million taxpayers*. Retrieved from Daily Investor: [https://dailyinvestor.com/south-africa/7135/29-million-south-africans-receive-grants-with-only-7-4-million-taxpayers/](https://dailyinvestor.com/south-africa/7135/29-million-south-africans-receive-grants-with-only-7-4-million-taxpayers/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Flanders, N. (2015, March 19). *Stunning photo of Noah, miscarried at 12 weeks, will amaze you*. Retrieved from Live Action: [https://www.liveaction.org/news//stunning-photo-of-noah-miscarried-at-12-weeks-will-amaze-you/](https://www.liveaction.org/news//stunning-photo-of-noah-miscarried-at-12-weeks-will-amaze-you/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Foster, M. A. (2013). Understanding why women seek abortions in the US. *BMC Women's Health, 13*. Retrieved February 23, 2023, from [https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29](https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29?ref=olielamp.vgk.org.za)
Haghighi, A. S. (2023, Januarie 6). *When does a fetus have a heartbeat?* Retrieved from Medical News Today: [https://www.medicalnewstoday.com/articles/when-does-a-fetus-have-a-heartbeat](https://www.medicalnewstoday.com/articles/when-does-a-fetus-have-a-heartbeat?ref=olielamp.vgk.org.za)
Suid-Afrikaanse Regering. (2023). *Beëindig ’n swangerskap*. Retrieved from www.gov.za: [https://www.gov.za/af/services/birth/terminate-pregnancy](https://www.gov.za/af/services/birth/terminate-pregnancy?ref=olielamp.vgk.org.za)
WHO. (2021, November 25). *Abortion*. Retrieved from World Health Organization:[ https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion](https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion?ref=olielamp.vgk.org.za)
> Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die rol van die man en vrou in die gesin
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gesinslewe-man-en-vrou/
Last updated: 2023-07-08T07:00:46.000Z
*Geskryf deur Hanna Klapwijk, VGK Bellville*
In die wêreld waarin ons leef is die idee van ‘n gesin gebroke. Daar bestaan ‘n klomp variasies en moontlikhede van hoe ‘n gesin saamgestel word. Kinders moet dikwels in twee verskillende huise grootword vanweë geskeide ouers. Twee pa’s of ma’s word ook nie meer as vreemd beskou in die wêreld daar buite nie. Dan sien ons ook gesinne waarin ouers meer skade aanrig as om goed te doen – bewustelik of nie. Dikwels sien kinders meer haat tussen ouers as liefde.
Ons sien gesinne wat uitmekaar val vanweë die gevolge van die sonde. Wat ek hiermee bedoel is dat wanneer ‘n ouer (of kind) sterf, word die struktuur van die gesin gebreek. Dit bring groot swaarkry en seer, en nie almal kan aanvaar en verder loop in die lewe nie en die gesin word uitmekaar geskeur.
In die meeste gevalle is hierdie gebrokenheid ‘n kenmerk van ‘n lewe sonder Christus.
In Genesis 2 lees ons van die skepping van die man wat gevolg word deur die skepping van sy vrou. Eers word die man geskape, dan die vrou. Duidelik is die vrou as pasmaat vir die man gemaak. Soos Lonette de Vries (Kongres 2022) so mooi verduidelik het: God het ‘n spesifieke orde ingestel wat reg deur die geskiedenis in stand gehou word. Ons kan die piramiede gebruik om dit te illustreer: aan die bo-punt is die man. In die vlak onder hom, is die vrou en onder haar is die kinders. Ons kan hierdie beeld gebruik in verskillende ruimtes – soos bv. Christus en sy kerk, om net een te noem.
Die Here wys ons baie duidelik hoe Hy die gesin saamgestel het. Hy het spesifieke take vir die man en vrou saam, maar ook onderskeidelik gegee.
As ons kyk na die rol van die man in sy gesin, sien ons dat hy die hoof van sy gesin is (Efesiërs 5:23). Dis ‘n groot taak – hy vat verantwoordelikheid vir die mense onder sy sorg. Hy gee leiding, raad en onderrig, nie net oor die praktiese lewe nie, maar die lewe as Christene. ‘n Pa is ‘n rolmodel – vir sy seuns, maar ook sy dogters. Vir sy seuns is hy ‘n voorbeeld van ‘n goeie (of slegte) eggenoot en pa. Vir sy dogters skep hy ‘n beeld van dit waarvoor sy soek (of nie soek nie) in ‘n man. Ek glo die swaarste las van ‘n pa is die wete dat hy ‘n beeld moet wees van ons Hemelse Vader – volmaak en sonder gebrek, iets wat hy nooit sal kan wees nie. Kinders se beeld van hulle Hemelse Vader word gegrond op die kennis van hul aardse vader. Die wonderlike wete wat ons het, is dat God, deur sy Heilige Gees, die wysheid skenk om kinders groot te maak.
Die rol van die ma is uitdagend, en tog so mooi. Die liefde van ‘n ma hardloop baie diep in haar menswees. Dis immers hoe sy geskape is – om kinders in die wêreld te bring en groot te maak. Tog is dié taak vol smarte: “…met smart sal jy kinders in die wêreld bring.” – Gen. 3:16b. en die lewe daarna is vol bekommernis en angs oor haar kinders. Maar tog kry die vrou die mooi taak van ma-wees. Om kinders van God groot te maak is ‘n verantwoordelikheid van groot erns. ‘n Ma moet die kennis van God reg oordra aan haar kinders en hulle, saam met haar man, lei op die regte pad.
Die man en vrou in die gesin moet as ‘n span werk. Soos Ds. Bijzet skryf: Ongelyk, maar nie ongelykwaardig nie. Hulle taak is om saam kinders in die weë van Here op te voed en te lei. Hulle vervul die rol in die beeld van Christus en sy Kerk. Hulle leef in liefde, nie net tydelike aardse liefde nie, maar die liefde van Christus. Hulle stel saam ‘n voorbeeld van die huwelik, wat God ingestel het, vir hulle kinders. Die indruk wat hulle maak, bly by hulle kinders.
Die rol van die man en vrou in die gesin is ‘n pragtige instelling van God. Hy gee die geskenk van ‘n gesin en aan die mense daarin, hul eie rolle. Ons mag dit as ‘n voorreg beskou wanneer God jou kies om een van die rolle te vervul.
> Hierdie artikel vorm deel van die Gesinslewe-reeks wat oor die volgende paar weke gaan strek. Teken gratis aan om die artikels deur epos te ontvang!
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Wat is tyd?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wat-is-tyd/
Last updated: 2023-07-01T07:00:06.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria-Maranata*
Elke sekonde wat verbygaan, beskryf ’n nuwe dimensie van tyd; partykeer is ons bewus daarvan, maar ander kere word ons met skok gevang dat tyd so vinnig verbygegaan het. Tyd is dus ’n dimensie in ons lewens. Ons raak ouer as gevolg van tyd. Gister is nie dieselfde as vandag nie, en môre ook nie – oomblikke wat jy nou beleef gaan jy nooit weer presies dieselfde beleef nie. Vir die meeste van ons begin tyd in die oggend wanneer ons opstaan. ’n Goeie nagrus voel nie soos 8 ure nie, maar ’n slapelose nag kan oneindig lank voel. Tog kan ons nie die persepsie (gevoel) van tyd beheer nie. Wanneer ons iets geniet, kan ons nie die tyd “stadig” laat verbygaan nie, en wanneer ons teen iets opsien, kan ons ook nie die tyd “vinnig” laat verbygaan nie. Hoe gereeld wens ons nie ons kon “tyd terugdraai” of “*time travel*” soos in party films uitgebeeld word nie?
Dikwels as ons wonder waar tyd beheer word, dink ons aan die *Big Ben* in Londen, maar selfs die *Big Ben* moet ook gereeld gereguleer word om die regte tyd weer te gee (net soos jou horlosie of karradio). Hoe werk tyd dan?
Die internasionale koördinasie van tyd op aarde word beheer deur die *International Earth Rotation and Reference Systems Service* (IERS). Hulle is verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat ons tyd reg meet, deur 'n oog te hou op die aarde se rotasie wat nie altyd konstant is nie. Die bekende aardbewing in Japan (11 Maart 2011) het veroorsaak dat die IERS ’n dag op aarde 1.8 mikrosekondes korter moes verklaar. Die tydsones wat ons vandag ken, word deur atomiese klokke regoor die wêreld beheer. Deur ’n elektromagnetiese veld wat ossilleer wanneer ’n spesifieke atoom gebruik word, kan die klokke tyd akkuraat weergee (só goed dat die beste onder hulle tot ’n maksimum van 1 sekonde uit kan wees oor 5 biljoen jaar!). Maar dit alles is instrumente om tyd te meet. Tyd is steeds nie in beheer van enigiemand op aarde nie, dit word slegs waargeneem deur mense, net soos die weer en natuur rondom ons. So wat is tyd?
In die 17de eeu het Isaac Newton tyd beskryf as “’n pyl wat geskiet word van ’n boog, wat in ’n reguit lyn beweeg en nooit afwyk van sy pad nie.” Maar Newton het aangeneem dat lig teen ’n konstante snelheid beweeg, en die heelal dus ook. In 1905 het Albert Einstein beweer dat die spoed van lig nie konstant is nie omdat dit fluktueer as gevolg van gravitasiekrag. Verskillende liggame in die heelal het verskillende massa en snelheid, wat beteken dat tyd op aarde anders is as op ’n ander planeet in die heelal. Dus beweeg tyd ook in sy eie ruimte of dimensie. Dekades later kon wetenskaplikes vir die eerste keer Einstein se teorie bewys deur atomiese klokke regoor die breedte van die aarde te plaas. Tot vandag toe word ons tyd deur atomiese klokke gemeet.
Verskillende gelowe regoor die wêreld het elkeen ’n ander begrip van tyd, selfs al erken almal dat tyd wetenskaplik bewys is. Die Grieke het twee woorde vir tyd: *chronos* (chronologiese tyd) en *kairos* (subjektiewe tyd) – waar *chronos* die wetenskaplike tyd is en *kairos* die gevoel van tyd weergee. Ander gelowe soos Hindoeïsme en Boeddhisme hang egter die konsep van “*a wheel of time*” aan wat bestaan uit die herhaling van siklusse – dink maar aan die konsep van reïnkarnasie waar jy ’n koei kan word na jou sterwe as jy ’n goeie lewe gely het. Ons as Christene glo weer dat God tyd geskep het, maar dat tyd ook tot ’n einde sal kom (die “eindtyd”).
Die tyd is dus deur die wetenskap en filosofie gedefinieer, maar die geluid van ’n sekonde, die slag van elke uur op die *Big Ben* en die wêreldwyd eenvormige tydstandaard gee tog die indruk dat tyd niks anders as **orde** is nie. God is tog ook die “God van **orde**” (1 Korinthiërs 14:33)!
God is ten volle in beheer van tyd. Tyd sou nie sonder God kon bestaan nie en tog het God nie tyd nodig nie. Tyd is deur God geskape. Om dit te verstaan, moet ons na Genesis 1 gaan kyk. Die eerste ding wat God geskep het, is lig (daarom maak dit sin dat Newton en Einstein tyd kon aflei van die spoed van lig). Daarmee saam het God ook dag en nag geskape. Tyd en verandering gaan hand aan hand, maar God verander nooit. Ons as mense beleef daagliks verandering (dink maar aan ouderdom of om iets aan te leer). Elke sekonde is ’n ander, nuwe hartklop vir ons, maar God bly onveranderlik vir ewig. Die besef van God se ewigheid is vir die mens moeilik om te plaas. Om dit ’n bietjie beter te verstaan, moet ons die verskil tussen eindeloos en ewig verstaan. Eindeloos sou vir ons wees soos nou, die tipe tyd wat ons nou beleef, maar net sonder einde. Ewig is iets anders, iets sonder begin en einde. Al sou ons graag ’n begin en einde daaraan wou plaas, is God alreeds die begin en die einde (Openbaring 1:8).
God gebruik self tyd in die Bybel. Dit is egter soms steeds onverstaanbaar hoe God “tydloos” bestaan, maar steeds bepaalde tye het vir sy verlossingsplan. Christus se koms op aarde word beskryf as die “volheid van die tyd” (Galasiërs 4:4)! Sy koms na die wêreld was nie net ’n sekere tyd deur God bepaal nie, dit was die “volheid” daarvan. Die “volheid” van iets beteken dat dit vervul is, God se tydsberekening was perfek. Christus se koms was die belangrikste oomblik in die geskiedenis. Die tyd toe Israel God se volk was en die wette onderhou is, is nou vervul in Christus. Na Christus se koms het die hele wêreld ’n nuwe tyd ingegaan, vir almal tot aan die eindes van die aarde is daar dieselfde genadevolle boodskap van die uitsien na die koms van die nuwe hemel en aarde! God het die eerste koms van die Messias nie ’n oomblik vertraag nie. Hy sal dit ook nie doen wanneer Christus weer kom op die wolke nie!
Ons sien gereeld dat God se raadsplan tyd bevat. Ons mag die lewe wat God vir ons gegee het, voluit lewe, al is ons lewe so onvoorspelbaar. Die eeu is in ons hart gelê (Prediker 3:11), want ons word gebore op ’n sekere tydstip en ons sterf weer op ’n ander tydstip, sonder dat ons die werk van God (sy skepping) van begin tot einde sal beleef. God bepaal tyd. Prediker 3:1-8 sê:
> *“ALLES het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe,*
> *’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te roei wat geplant is,*
> *’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak,*
> *’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou,*
> *’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag,*
> *’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring,*
> *’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak,*
> *’n tyd om te omhels en ’n tyd om ver te wees van omhelsing,*
> *’n tyd om te soek en ’n tyd om verlore te laat gaan,*
> *’n tyd om te bewaar en ’n tyd om weg te gooi,*
> *’n tyd om te skeur en ’n tyd om aanmekaar te werk,*
> *’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek,*
> *’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat,*
> *’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.”*
Dit alles word deur God bepaal! Ons kan nie bepaal of ons môre bly of hartseer gaan wees nie, selfs al beplan ons iets opwindends. Dit alles is in God se beheer. God het ook sy standaarde vir ons gestel met die skepping. Ses dae het Hy gearbei en op die sewende dag het Hy gerus van al sy werk. Daarom is daar ook “ *’n tyd om te rus en ’n tyd om te werk.*”
Eendag sal Christus terugkom! Spoedig, soos Christus sê in Openbaring 22:20: “Kyk, Ek kom gou!” Maar God se tyd is anders as ons tyd. God het sekere tye en geleenthede bepaal, maar in plaas daarvan om vir ons te sê wanneer Hy sal terugkom, het Hy vir ons die Heilige Gees gegee (Handelinge 1:6-8). Die Heilige Gees wat by ons sal wees tot die einde toe! Soos ons elke dag deur ’n horlosie herinner word hoe laat dit is, herinner die Heilige Gees ons elke dag aan die “eindtyd” en berei ons daarop voor.
Maar wat is die “eindtyd” dan? Johannes word in Openbaring vermaan om dit wat hy gesien het, nie vir homself te hou nie, maar dit te versprei, want die “eindtyd” is naby (Openbaring 22:10). Ons mag eendag in die hemel ewig lewe, nie eindeloos nie. Daar gaan ’n einde aan tyd wees (Openbaring 21:25) daarom sal die ewigheid nie eindeloos voel nie, maar dit sal onbeskryflik wees - iets waarna ons mag uitsien! Eendag wanneer ons hemel toe gaan, sal alles vir ons openbaar word. Ons gaan nie meer lewe in ’n eeu nie. Iets soos ouderdom gaan nie deel van ons wees in die ewigheid nie, ons verheerlikte liggame gaan tydloos en ewig wees! Ons sal nie meer net in ’n klein deel van die geskiedenis wees nie, maar ons mag dan God se skepping van begin tot einde beleef en deel wees daarvan! God, wat die God van orde is, het alles in sy beheer, en al mag sekere “sake” op aarde vir ons nie sin maak nie, is daar “vir elke saak onder die hemel ’n tyd”, tot so ’n mate dat God dit ten volle beheer tot die einde toe. Tyd gaan dan nie meer vir ons ’n dimensie wees – iets wat elke sekonde verander nie, maar iets ewigs – iets wat vir ons geopenbaar word in God se heerlikheid!
### Bronne
[https://www.pressreader.com/australia/science-illustrated/20211001/281895891389289](https://www.pressreader.com/australia/science-illustrated/20211001/281895891389289?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.space.com/time-how-it-works](https://www.space.com/time-how-it-works?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.abc.net.au/science/articles/2011/11/15/3364432.htm](https://www.abc.net.au/science/articles/2011/11/15/3364432.htm?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.travelchinaguide.com/intro/focus/calendar.htm](https://www.travelchinaguide.com/intro/focus/calendar.htm?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://en.wikipedia.org/wiki/Time\_perception](https://en.wikipedia.org/wiki/Time%5Fperception?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://en.wikipedia.org/wiki/Time](https://en.wikipedia.org/wiki/Time?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://faithequip.co.za/die-volheid-van/](https://faithequip.co.za/die-volheid-van/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://youtu.be/7P3Ous2IjiQ](https://youtu.be/7P3Ous2IjiQ?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://youtu.be/5vzymaIabWI](https://youtu.be/5vzymaIabWI?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.livescience.com/32660-how-does-an-atomic-clock-work.html](https://www.livescience.com/32660-how-does-an-atomic-clock-work.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.youtube.com/watch?v=wwvkdqDoqdM](https://www.youtube.com/watch?v=wwvkdqDoqdM&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Die Nuwe Jerusalem
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-nuwe-jerusalem/
Last updated: 2023-06-24T07:00:06.000Z
*Geskryf deur Nanette de Jong, VGK Pretoria-Maranata*
> “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel.” (Openbaring 21 : 2)
Watter betekenis het die Nuwe Jerusalem vir jou? Daar word dikwels geskryf en gepraat van Jerusalem en die Nuwe Jerusalem deur die Ou en Nuwe Testament. Hierdie stad het baie betekenis gehad vir die Israeliete in die Ou Testamentiese dae en so is die Nuwe Jerusalem ook baie belangrik en iets waarna ons baie kan uitsien.
### Jerusalem in die Ou Testament
Ons weet redelik baie van Jerusalem in die Ou Testament af. Daar vind ons die troon van Dawid en die belofte van die ewige Koning, die Seun van Dawid wat tot in ewigheid op die troon sal sit. Daar vind ons ook die tempel waar God te midde van sy volk woon. En daar vergader Hy ook sy kinders saam.
### Jerusalem as Bruid van Christus
In Openbaring 21 vind ons ‘n paar illustrasies wat Johannes vir ons gee oor die Nuwe Jerusalem. Die eerste is waar Jerusalem, wat uit die hemel neerdaal, as die Bruid van Christus voorgestel word. En die Bruid van Christus is sy kerk. Die kerk is dieselfde kerk nog steeds deur al die eeue, maar is nuut in terme van haar volkome herstel en dat sy geheilig sal word in volmaaktheid en heerlikheid. Die Bruid is hemelse werk wat Christus vandag al vanuit die hemel bou. Hy sal sy Bruid beskerm teen gevare soos ‘n vurige muur rondom sy volk.
### Jerusalem as die ewige Paradys
Die tweede illustrasie wat ons vind in die Bybel is waar die Nuwe Jerusalem voorgestel word as die ewige Paradys binne die stad, binne die mure waar God se troon staan met die rivier van die lewe wat daaruit vloei en die boom van die lewe wat ook daar groei. Die troon van God staan in die middel van die stad. Die troon van Dawid en die troon van God het een geword in Christus en nou sit die Seun van Dawid aan die regterhand van God. Uit die troon vloei die rivier van die lewe – van Hom af kom alle seeninge en so stort Hy ook sy Heilige Gees uit oor die Kerk met Pinkster, nou word die belofte heeltemaal vervul in die nuwe Jerusalem. Verder aan met die rivier vind ons die boom van die lewe net soos in die Paradys. Die boom dra 12 keer ‘n jaar vrug. Hierdie is die getal van volheid vir die kerk. Die vrugte sal wees tot genesing vir alle nasies in Jerusalem en daarbuite, want buite die kerk is geen verlossing nie (nie dat die kerk ons red nie!). Hierdie rivier en bome is ‘n vervulling van wat Esegiel geprofeteer het wanneer hy in Esegiel 47 profeteer oor die water van die lewe wat vloei uit die tempel en aan beide kante bome sal hê wat vrugte dra.
### Eerste vs laaste Paradys
Die eerste voorstelling van die Paradys was in Genesis. Nou die tweede voorstelling in Openbaring. Dis nie ‘n herstel van die een in Genesis nie, maar die Paradys in Genesis was slegs ‘n skadu van die ewige Paradys wat kom. Tog is daar vooruitgang van die eerste Paradys na die ewige Paradys : die tuin word nou ‘n hele stad, die riviere stroom nie meer uit die aarde nie, maar nou stroom dit uit die troon van God uit, en waar daar een boom van die lewe was is daar nou baie bome. In die Paradys in Genesis was die fokuspunt van God se skepping die mens as beeld van God gewees, in Openbaring is die fokus op die Nuwe Jerusalem en die Tabernakel van God te midde van sy volk.
### Jerusalem se fisiese beskrywing
In Openbaring 21 vanaf vers 9 vind ons ‘n baie fisiese beskrywing van die nuwe Jerusalem – dis ‘n stad met ‘n hoë en groot muur om die stad as ‘n stad te kenmerk. Dis duidelik afgebaken as ‘n woonplek vir die mense en dit bied veiligheid vir die mense. Die Here sal ‘n vurige muur rondom sy volk wees en sy heerlikheid sal daar binne-in wees (Sagaria 2:5). Die stad het 12 poorte en by die poorte 12 engele. Dink aan die gerubs in die Paradys – die engele hier het dieselfde funksie : om te keer dat die sonde inkom maar tog word die poorte wyd oopgehou sondat ‘n hele stroom mense deur die poorte kan inkom. Op die poorte is name geskryf – die van die 12 stamme van Israel. Die poorte is so gerangskik, 3 poorte in elke windrigting – aan die ooste, noorde, suide en westekant. Hierdie is omdat die inwoners van hierdie die stad uit alle windrigtings vergader word. Inwoners van alle volke, nasies en tale. Dan die 12 fondamente met die name van die 12 apostels van die Lam daarop geskrywe. Die 12 stamme(OT) en 12 apostels(NT) gaan diensbaar wees in die stad – dit wys die eenheid tussen die NT en OT. Die apostoliese leer is ook die fondament onder die vergadering van die NT kerk.
Die stad word gemeet met ‘n goue meetroede wat dui dat die uitkoms betroubaar sal wees (goud) en sodat dit inpas by die heerlikheid van die stad. Die engel by Johannes het dit gemeet en die uitkoms is ‘n baie groot kubus – ja daar is genoeg plek vir al die inwoners. Net soos die stad was die allerheiligste ook ‘n kubus – dit dui God se aanwesigheid in sy volheid aan. Kyk na die goud in die allerheiligste teenoor al die goud in die stad. Die stad is dus ‘n ongelooflike groot vergroting van die allerheiligste waar vroeer slegs die hoëpriester in mog kom – nou so groot dat dit God se permanente woonplek by sy volk geword het.
Die stad is vol van die heerlikheid van God wat weerkaats – die fondamente van die apostels, die verkondiging van die evangelie straal God se heerlikheid en al sy skoonheid en skittering uit. Die inwoners sal lewe in daardie heerlikheid van God en vandag deur die Gees van die verhoogde Christus mag ons God se heerlikheid weerkaats in die wêreld.
### Bronnelys
[https://theseed.info/sermon.php?id=968](https://theseed.info/sermon.php?id=968&ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://theseed.info/sermon.php?id=967](https://theseed.info/sermon.php?id=967&ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://theseed.info/sermon.php?id=783](https://theseed.info/sermon.php?id=783&ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://theseed.info/sermon.php?id=969](https://theseed.info/sermon.php?id=969&ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://studyandobey.com/wpcontent/uploads/woocommerce\_uploads/2022/06/Revelation-Study-and-Obey.pdf](https://studyandobey.com/wp-content/uploads/woocommerce%5Fuploads/2022/06/Revelation-Study-and-Obey.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.vgk.org.za/preke/24564](https://www.vgk.org.za/preke/24564?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.vgk.org.za/preke/23469](https://www.vgk.org.za/preke/23469?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Beroep: Vlieenier
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vlieenier/
Last updated: 2025-02-18T07:48:21.000Z
*Geskryf deur Oom Charles Bron, VGK Pretoria-Maranata*
Jy staan by die venster en kyk uit tot binne in die stuurkajuit van die straler wat jou binnekort na Nederland toe gaan neem om by familie te gaan kuier. Binne die kajuit kan jy die vlieëniers sien werskaf om die navigasie- en vlugrekenaars te programmeer en die vliegtuig se stelsels en lugvaardigheid na te gaan.
Jy dink jy wil dalk ook ‘n vlieënier word? Indien jy wil vlieg omdat dit vir jou na ‘n interessante en maklike “joppie” lyk om die wêreld te sien en geld te verdien, dink weer! Dit is ‘n lang en moeilike pad voordat jy vlugkaptein op ‘n interkontinale straler word, en die pad is vol opdraendes en slaggate.
### Kinderlike droom
Toe Die Olielamp my vra om te skryf oor dié beroep het ek gewonder hoe ek 40 jaar in die lugvaartbedryf neer moet pen? Ek het besluit om my eie pad kortliks te beskryf.
Ek het van kleins af gedroom om te vlieg. My kamer se dak het vol modelvliegtuigies gehang en ek het vliegboeke en -tydskrifte verslind. Ek het aansoek gedoen by die SA Lugmag om as vlieënier opgelei te word. Die keuring was gedurende my matriekvakansie en het 2 weke geduur, en wonder bo wonder word ek gekeur!
### Die Suid-Afrikaanse Lugmag
Die Lugmag se opleiding was taai en intens. Dit het 2 jaar geduur en die swaard het heeltyd oor jou kop gehang. Een van die kandidate saam met my het sy laaste vliegtoets (*wings test*) nie goed genoeg geslaag nie en is na 2 jaar afgegooi! Uit ongeveer 1500 aanvanklik gekeurdes (op hul matriekuitslae en mediese verslae van hul huisdokters (goeie wiskunde- en wetenskappunte is ‘n vereiste), het slegs 19 van ons as Lugmagvlieëniers gekwalifiseer. Die vlerkies op jou bors is dan ook nog net die begin, maar jy is darem op die onderste trap van die leer.
Die beste vlugte van my lewe was in die Lugmag. Interessante en opwindende vlieg, gepaardgaande met kameraderie uit die boonste rakke. Die Lugmag het sy eie identiteit en karakter, en sy eie reëls en kultuur. Anders as by ‘n lugredery (waar senioriteit byna alles bepaal), word uitnemendheid beloon met vinnige bevordering.
Dit is ook die enigste plek waar jy die geleentheid gaan kry om bv. vegvliegtuie en gevegshelikopters te kan vlieg. Jy gaan lid word van ‘n groepie mense met wie jy noue bande opbou wat eers met jou afsterwe sal ophou. Ek het nou nog gereeld Lugmagfunksies, byeenkomste en Zoom vergaderings met mense van reg oor die wêreld; trouens van my kursus is daar nog net 2 mense in Suid-Afrika oor, die res is regoor die wêreld verspreid. Dit is dan ook een van die voordele van die bedryf: goeie geleenthede is vir goed gekwalifiseerde vlieëniers regoor die wêreld beskikbaar.
Daar is wel ook nadele om deur ‘n lugmag te leer vlieg. Die opleiding is baie duur, en die lugmag wat jou oplei gaan sy pond vleis daarvoor vereis. Jy gaan jouself moet vasteken vir ongeveer 15 jaar – ek dink die tydperk is tans dieselfde bykans regoor die wêreld. Van ons kerklede het Nederlandse burgerskap en sou in die Nederlandse Lugmag (KLu) kon aansoek doen. Ek weet ook van mense sonder Europese paspoorte wat in die Britse Lugmag (RAF) vlieëniers is omdat SA deel van die Britse Statebond is en as sulks kon hulle aansoek doen.
As Lugmagvlieënier dien jy ook in die gewapende magte, en indien nodig gaan jy in gevaar moet invlieg. Ek self het bv. nog 4 jaar in die Bosoorlog gevlieg en daar is op my geskiet. Een van my 19 mede kursuslede is in dié oorlog afgeskiet en het gesterf.
Dit is iets om in gedagte te hou: wie weet wat gaan bv. in Europa gebeur? NAVO is dalk binnekort direk in ‘n oorlog betrek. Nederland en Engeland staan juis nou saam aan die voorpunt van die poging om F16 vegvliegtuie aan Ukraïne te verskaf.
### Millitêre opleiding is waardevol
Die hooftoevoer van lugrederye regoor die wêreld is van vlieëniers uit die militêre omgewing, trouens hulle kry gewoonlik voorkeur juis vanweë hulle opleiding. Deesdae met die Koue Oorlog agter die rug en lugmagte wat krimp, en tesame met die hoë koste om op jou eie ‘n lisensie te verwerf, het lugrederye gewoonlik ‘n kadetskema om geskikte kandidate wat wil vlieg op te lei. Iemand wat dus passievol is oor vlieg kan aansoek doen vir so ‘n kadetskap. Piers Kampman het nou onlangs na sy graad in regte aansoek gedoen en het die keuring geslaag. Hy is tans in Amerika besig met die fisiese vliegfase om as vlieënier vir Easyjet in Europa te kwalifiseer.
### Privaat-opleiding
Daar is ook die private roete om te probeer om in die lugvaart te kom. Die individu doen self sy/haar leerlingvlieënierslisensie, dan sy/haar privaat vlieënierslisensie. Hul bou dan ure op totdat hy/sy hul kommersiële vlieglisensie kan verwerf en kan begin geld verdien vir sy/haar kundigheid. Dan volg ‘n lang proses van ure opbou totdat hy/sy genoeg het om die hoogste lisensie (ATP) te verwerf, wat noodsaaklik is om eendag gesagvoerder op ‘n straler te wees. Dit is ‘n lang en harde pad, en net diegene met passie en vasbyt sal die einddoel bereik. Ek het respek vir diegene wat hierdie lang en moeilike roete volg. Ek sou dink dit is grootliks die roete wat Christiaan Haak sou gevolg het om sy lisensie te verwerf. Hy vlieg nie groot stralers nie, maar die humanitêre werk wat hulle doen (MAF) is van onskatbare waarde, en ek dink die tipe “bosvlieg” wat hulle doen is altyd interessant en uitdagend.
### Die werksomgewing
Lugdiens vlieg is verseker nie so opwindend soos militêre vlieg nie, maar het voordele soos gestruktureerde roosters, goeie salarisse, pensioenskemas en versekering indien jy sou medies ongeskik raak en jou lisensie verloor. Dit is verseker steeds lekker werk, al neem dit jou soms vir lang tye van die huis weg; veral lang oos of wes vlugte vereis dat jy lank oorbly in dié lande om jou kans te gee om aan te pas. Dit gaan alles oor rus, sodat die vlieënier nie vermoeid is op die vlug terug nie. Jy gaan tyd kry om groot stede en ander lande te verken, en gaan hulle beter ken as jou eie land en voorstad.
Elke opstyging en landing bly opwindend (en landings ook altyd bietjie stresvol), en by tye is daar genoeg stres om ‘n week te hou. Voorbeeld: jy styg in Johannesburg op, dit is 30 grade Celcius. Na 11 ure se vlieg waar jy konstant navigeer (soms rondom groot donderstorms), en kommunikeer met lugvaartbeheer nader jy Munich, dit is -10 grade Celcius met ‘n sneestorm oor die vliegveld. Die sig is bykans niks en orals is slegte weer... Kan jy die landingsminima nog haal en ‘n outomatiese landing uitvoer? Gaan jy een nadering probeer en kosbare brandstof gebruik? Hoe lyk die weer by die uitwykvliegveld en jou brandstofsituasie? As kaptein is jy eindverantwoordelik vir die vliegtuig en die sowat 300 mense se welstand en behoeftes. Stresvolle besluite!
### ‘n Christen-vlieënier
Aangesien hierdie ‘n publikasie van die kerkjeug is, wat sou die implikasie van vlieënier op die Christen wees? My ervaring is as volg:
1. Lugmagvlieënier: Christene het ook die reg op beskerming van lewe, selfs die neem van lewe om ander te beskerm. Militêre vlieg sluit ook reddingsvlugte in, en ondersteuningsvlugte in tyd van rampe, bv. soek en redding oor die see as ‘n skip gesink het. As militêre vlieënier is jy wel in diens van die regering en aan diens 7 dae van die week. Ek was grootendeels in die SALM in die ou bedeling, en werk op Sondae kon slegs gebeur met die hoof van die lugmag se toestemming, en dit het slegs gebeur vir oorlog of noodvlugte. Ek het wel later vir 3 jaar op 21 Eskader gevlieg in die “nuwe” SA. 21 Eskader is die BBP eskader en ek kon die toename van vlieg op die rusdag waarneem. Dié toename was nie noodsaaklik nie, maar was bloot om die ministers se lewe gemakliker te maak.
2. Die lewe van ‘n lugdiensvlieënier is grootliks gereguleer volgens die rooster wat hy moet vlieg. Hoe meer senior jy is, hoe meer insette het jy in jou rooster. Dit is belangrik indien jy bv. nie op Sondae wil vlieg nie. Ek het self probeer om nie op Sondae te vlieg nie, en indien ek wel oorsee moes wees, het ek probeer om die Sondae af te hê en probeer kerk bywoon in Australië, Amerika en Engeland. Daar gaan wel wroeging wees; is dit regtig vir almal noodsaaklik om op die Sondag te vlieg? Verseker nie! Almal is egter verantwoordelik vir hulle eie dade en besluite, en jy hoef nie verantwoording te doen vir diegene wat wel hulle vlug sou kon uitstel nie. Jy moet wel in jou onderhandelings met bestuur en met jou voorbeeld op die vlugdek uitstaan as iemand wat aan Jesus Christus behoort en Hom wil navolg.
Die vliegbedryf is die mees gereguleerde beroep in die wêreld. As vlieënier vir ‘n groot redery gaan jy 2 maal per jaar getoets word en ook 2 maal per jaar 2 dae in die nabootser deurbring om jouself te bewys. Jaarliks moet jy ook ‘n omvattende mediese ondersoek slaag. Die regulasies het ook voordele om die vlieënier self te beskerm; jy mag maksimum 100 uur per maand fisies in vlugbeheer van die vliegtuig deurbring en moet minimum 10 dae per maand heeltemal diensvry wees. Binnelands is 100 uur nog wel ‘n vol maand, fisies vlieg mens in 40 minute Durban toe teenoor bv. 14 uur Hong Kong toe. Die langafstand vlieëniers is dus baie meer af met baie vrye tyd. Vlieëniers is wel meer af as gewone 8-5 kantoorwerkers. Jy gaan as vlieënier soms verjaardae en ander belangrike datums mis, maar jy gaan verseker meer tyd saam met jou gesin kan deurbring. Nog ‘n voordeel vir my van die hele klomp dae af is dat jy as kerkraadslid besoeke by veral die ouer kerklede deur die dag kon doen, wat hul soms beter gepas het as laat in die aand.
Ek hoop hierdie artikel gee so klein bietjie insae en antwoorde. Indien jy dit as beroep oorweeg wens ek jou alle sterkte op hierdie lang maar opwindende pad toe.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Deur die lens van buite – Nuwe lidmate se ervaring van die VGK-gemeenskap
URL: https://olielamp.vgk.org.za/deur-die-lens-van-buite-nuwe-lidmate-se-ervaring-van-die-vgk-gemeenskap/
Last updated: 2023-06-14T12:00:26.000Z
*Geskryf deur Imaney Janse Van Rensburg, VGK Bellville*
Hoe anders sou die lewe wees as ek saam met my broers en susters in Christus op skool was? Hoe sou my lewe gelyk het as my ouers grootgeword het, en familievriende was, met die mense wat in ons in die kerkbanke sien sit? Hoe sou die kerk gelyk het as daar geen buitestaanders ingekyk het in, en uiteindelik deel geword het van die gemeente nie? Dié prentjies is amper ondenkbaar. En tog beter so, of hoe?
Daar is soveel mense in die gemeente vandag wat as jong volwassene lidmaat geword het, wat mens sou kon misgis vir iemand wat gedoop is by die einste doopvont wat nog altyd voor die preekstoel staan. Iemand wie as baba by die oppasdiens afgelaai is, wat hul graad 5 Engels-juffrou in die kerkbank gesien het op Sondae, wat deelgeneem het aan aktiwiteite by die Jeugvereniging (JV), en vandag ‘n betrokke lidmaat is, moontlik selfs ouderling, of sameroeper van die Hulpfondskomitee.
Is dit nie ‘n goeie ding dat ons nie die “inheemse” kerkgangers kan onderskei van dié wat met die wind ingewaai het nie? Immers sê die boek van Levitikus al:
*“Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God.”* – Lev. 19:34
Dit is presies so vir die *inheemse* lidmate van die VGK, wie se voorouers oorspronklik vanuit Nederland gekom het, vier of selfs vyf geslagte terug! Hulle was self vreemdelinge in Suid-Afrika, en kan dus nie die verantwoordelikheid van liefde en gasvryheid teenoor ‘n ander vermy nie. Maar hoe ervaar die *inkomelinge* hierdie gasvryheid? Ek het myself en ses ander *inkomelinge* (deelnemers 1 tot 7) ‘n stel vrae gevra oor hul ervarings in die kerk aan die begin van hul bywoning, tot hoe hul nou hul eie plekkie in die kerkbanke het.
Meeste van die deelnemers het die dienste begin bywoon deur ‘n beter helfte wat ek sou ag as ‘n *inheemse* lidmaat. Van die vroeër *nuwelinge* (2, 3, 5, 7) noem dat van die dienste vóór Ds. Bruintjes se koms in die Kaap, moeilik was om te verstaan as gevolg van ‘n swaar Nederlandse aksent tydens bediening, asook hoë formele taalgebruik (waaraan hulle intussen meer gewoond geraak het).
Deelnemers 6 en 7 het hulself as ongelowig of skepties geag toe hulle aan die begin kerk toe gekom het. Nommer 7 sê veral dat as gevolg daarvan, het hulle gevoel asof hul al een was wat nie geweet het wanneer om op te staan of te sing nie, en dat hul gevoel het asof die manier hoe hulle aantrek verkeerd was en dat daar op hulle neergesien is. Vir hulle het die aanlyndienste tydens Covid egter ‘n unieke kans gegee om in gemak na die Woord van God te luister en daardeur aangeraak te word.
Die meeste ander deelnemers getuig dat hulle van die begin af gemaklik en welkom gevoel het, ten spyte van die vreemde Nederlandse kultuur en die hegte gemeenskap wat reeds gevestig was.
Deelnemers 4 en 5 het albei genoem van ‘n gevoel van eksklusiwiteit van die geslote nagmaalstafel, asook hoe tydens JV gesprekke daar soms ‘n tipe van neerhalende houding teenoor ander kerkverbande was. Deelnemer 1 eggo dit ook, en het ervaar dat hulle ‘n meer opregte belangstelling sien by sending-gemeentes, wat ook eintlik *inkomelinge* is. Hierdie deelnemer stel voor dat dit iets is waaraan ons hier in die VGK kan werk. Dit wil sê, meer aanvaarding vir die mense daar buite, en ‘n liefde en meelewing vir ons mede-Christen.
Maar dis nie alles slegte terugvoer nie. Inteendeel! Al die deelnemers getuig van die vriendskappe wat gevorm het, die bande wat gebou is, en die liefde vir God wat gegroei het om dit alles in staat te stel.
Deelnemers 5 en 7 sê verder dat dit wel afhang van hoe jy jouself laat voel in die gemeente, en hoe betrokke jy is, want sonder die ondersteuning van die gemeenskap is ons alleen. Die Bybel sê telkens dat ons nie alleen die pad van geregtigheid moet stap nie – dat ons saam met ons mede-Christene deel is van een liggaam waar elkeen sy eie roeping het (1 Kor. 12:12). Tog leer ons ook om mekaar te dien soos wat Christus gekom het om te dien (Mar. 10:45).
Die kerk is ‘n unieke gemeenskap van gebroke mense, mense wat foute maak, en mense wat sondig. Maar terselfdertyd is dit ‘n familie wat mekaar ondersteun, vir mekaar bid, en mekaar dien tot die bou van God se koninkryk. Hoe kan ons dan wil onderskeid tref, of iemand vooroordeel omdat hulle paadjie anders as ons eie lyk?
> Jy kan oor enigiets skryf vir ons! Gebruik gerus die volgende skakel vir meer inligting: [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Evangelisasie onder die Jode – Erken vir Christus!
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-volk-israel/
Last updated: 2023-06-10T06:00:08.000Z
*Geskryf deur Ruben Agema, VGK Pretoria*
Die Jode is ‘n besondere volk wat ‘n belangrike rol speel in die geskiedenis van die wêreld en in God se verlossingsplan vir die mensdom.
Volgens 1 Korinthiërs 10:32, kan ons in Nuwe Testamentiese tye die wêreldbevolking in drie groepe verdeel naamlik Jode, heidene en Christene. Maar wie is ‘n Jood, wie is ‘n heiden, en wie is ‘n Christen? Hoe kan ‘n Jood Bybels gedefinieer word? Hierdie kwessies is veral belangrik vir mense wat betrokke is by Joodse evangelisasie, want vandag word die vraag dikwels gevra: “Hoe is dit moontlik dat iemand beide ‘n Jood en ‘n Christen kan wees?”
### Wie is ‘n Jood?
‘n Jood is ‘n lid van die 12 stamme van Israel, ‘n Israeliet, ‘n lid van ‘n volk wat in Palestina bestaan het vanaf die 6de eeu voor Christus tot die eerste eeu na Christus. ‘n Persoon wat as gevolg van herkoms of bekering aan die voortsetting van die antieke Joodse mense behoort, is iemand wie se godsdiens bekend staan as Judaïsme.
### Wie is ‘n heiden?
In vandag se tyd beskryf die woord heiden, goddelose optredes in die algemeen, veral onbeskaafde en barbaarse gedrag waaraan agterlike mense hulle maklik skuldig maak. In ‘n geestelike sin dui die woord ‘heiden’ egter op almal wat buite die Christelike geloof staan en dinge leer wat teen die Bybel ingaan. Dit het baie ooreenstemming met die Ou Testament – almal wat buite die Joodse geloof staan en hulle besig hou met dinge wat teen die leer ingegaan het is as heidene geag.
### Wie is ‘n Christen?
‘n Mens kan nie fisies as ‘n Christen gebore word nie. Kenmerke van ‘n ware Christen is wel dat jy glo in Christus as jou Verlosser, jy wys jou geloof in jou werke en dat jy nie volmaak is nie en bly vlug na Christus toe.
### Hoe verskil dan die Christen se geloof met die van die Judaïsme?
Die grootste verskil is dat hulle nie in Jesus Christus se verlossingswerk vir ons glo nie, en is dit juis dan nie die belangrikste nie?
Christene glo dat hulle nie deur hul werke gered word nie, maar deur geloof alleen! So is die Christendom die ware en ewige Godsdiens en die Judaïsme ‘n afwykende sekte. Daar is talle Jode regoor die wêreld wat hulleself tot die Christendom bekeer.
Die Bybel leer nie dat alle verskille tussen Jode en heidene uitgewis word wanneer hulle gelowiges word nie. Hoewel dit waar is dat die weg tot redding dieselfde is vir beide Jood en heiden, beteken dit nie dat alle ander verskille tussen hulle terselfdertyd daardeur opgehef word nie, net so min as wat die verskille tussen vryman en slaaf, man en vrou, opgehou het om te bestaan (vgl. Galasiërs 3:28). Die weg tot redding, lidmaatskap van die Liggaam van Christus en geestelike volwassenheid is dieselfde vir beide Joodse gelowiges en heidengelowiges, maar op ander terreine bestaan daar steeds verskille tussen hulle.
Die skeiding tussen Israel en die volke is weggeneem. Die Ou Testamentiese Israel word vervang met ’n Nuwe Testamentiese volk wat bestaan uit bekeerde Jode en gelowiges uit die heidendom. Israel is die erenaam van die gemeente van Christus. Ware gelowiges het tog vir Abraham as vader. Paulus betoog dit uitvoerig in sy briewe aan die Galasiërs en veral ook aan die gemeente in Rome. Is dit nie deel van die evangelie waarvoor hy hom as apostel nie hoef te skaam nie (Romeine 1:16–17)? Die evangelie is ’n krag van God eerste vir die Jode, maar sekerlik ook vir die heidene wat saam met die Jode daarop mag roem dat hulle saam vir Abraham as vader het. Vader van alle gelowiges – Jood en nie-Jood. In Christus het die onderskeid tussen Jode en nie-Jode finaal verdwyn – in Christus is daar nie meer Jood en nie-Jood nie (Galasiërs. 3:28).
By ons behoort daar egter wel die opregte en ernstige begeerte te wees vir die bekering van die Jode. Dit vra van ons ’n lewe vanuit die evangelie en ’n liefdevolle verkondiging daarvan aan die Jode, sodat hulle jaloers gemaak sal word (Romeine 11). Hulle moet besef dat hulle hul erfporsie verspeel wanneer hulle nie glo in en leef vanuit die trou van die Here wat in die evangelie bekend gemaak word nie.
Ons het dus vandag ‘n belangrike taak as ons evangeliseer onder die Jode wat Judaïsme aanhang, om hulle te oortuig van Christus se verlossingswerk en dat ons redding afhang van ons geloof daarin. Almal wat die woord hoor en Jesus as die Messias aanvaar, het die ewige lewe. Dit het die taak van die kerk geword:
> *“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mattheus 28:19).*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Koop Jou Verlossing! – Moderne Aflate
URL: https://olielamp.vgk.org.za/moderne-aflate/
Last updated: 2023-06-05T11:50:24.000Z
*Geskryf deur Wian Bouwmeester, VGK Pretoria-Maranata*
Ons is alreeds bekend met die tydperk van die aflaatverkope. Dit het sy bestaan gekry in die Rooms-Katolieke Kerk rondom die middeleeue. ‘n Aflaat behels die vrywaring van tydelike straf in die vaevuur asook vergifnis van sondes. Johann Tetzel was onder andere ‘n groot naam wat betref die aflaatverkope, met sy bekende woorde: “sodra geld in die kas klingel, spring ‘n siel van die vaevuur in die hemel.”

Die doel van die aflaatverkope was nie net om mense tot die Roomse Kerk te bekeer nie, maar meer tot finansiering van die nuwe *Sint Pieterskerk te Rome*. Martin Luther het in hierdie tyd geleef. Hy het sy bekende 95 stellings as antwoord op die aflaatverkope saamgestel, laat druk en gepubliseer. Die groot fout van die aflate was die feit dat jy vir jou sondes self kan betaal. Selfverlossing dus. Maar wat ook uitstaan is dat, as aflate enigsins sin gehad het, waarom het die mense nie kort kort ‘n aflaat gekoop nie? Een vandag, en een môre is as goed genoeg aanvaar. Ons is elke oomblik van die dag sondig. Dus benodig ons elke oomblik van die dag, en elke nuwe sondige gedagte, ’n aflaat. Want soos dit destyds bestuur is, kon jy mos nou een koop, en dan eers weer aan die einde van jou lewe, oftewel oor ‘n hele aantal jare. So, die hele idee wat betref die aflate is maar moeilik om te deursien.
Maar gelukkig weet ons dat vergifnis slegs deur Christus moontlik is, deur genade alleen: Sola Gratia. Ons benodig ‘n Verlosser, nie ‘n aflaat nie.
Maar nou is die vraag: is die aflate net iets van die verlede? Of het ons vandag ook te doen met tipes aflate? Wel die antwoord is ja, ons het ook te doen met moderne aflate.
Ons is dikwels besig met goeie werke (‘n voorbeeld van aflate), maar tog knibbel daardie heilige gevoel en selfgesentreerde houding by ons gedagtes op. Dink dalk aan die geld wat vir kollekte gegee word - voel jy bietjie selfverrykend nadat jy van jou geld gegee het? Wanneer jy die boemelaar langs die straat help, voel jy dat jy nou iets verdien? Dieselfde met die klere wat jy vir die armes gee, donasies en skenkings wat jy bied.
Doen jy sulke werke, en dan gaan vertel jy almal direk daarna?
Doen ons nog goeie werke uit dankbaarheid? Dankbaarheid is ‘n kenmerk van ons geloof, ons verlossing. Wat gee ons vir Christus terug? ‘n Hoogmoedige hart na kollekte? ‘n Selfgesentreerde goeie werk?
Dit is belangrik vir ons om onsself daaraan te herinner hoekom ons goeie werke doen. Ons verdien om verbrand te word soos die martelaars in die vroeë kerk, niks meer nie. Maar ons ag onsself hoër as die mense van daardie tyd. Ons loop nie meer die lang pad vir Christus nie. Ons wil Christus leer ken soos ons self wil.
Daar is nog tipes aflate vandag. Sosiale media kan aan ‘n mens gou verkeerde inligting verkoop, wat meen dat jy so en so moet wees, en in baie gevalle lyk, om *in* te wees en deel te wees van almal anders. Daar word ‘n sekere beeld geskep waaraan jy moet voldoen.
Ons moet onthou: Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Die duiwel gaan ons dreig met sonde wat ons met elke gedagte gaan uitdaag, en wat ons dikwels ‘n moeilke pad gaan gee met moeilike keuses.
Die aflaatverkope, antiek of modern, moet gesien word as ‘n steeds-dreigende gevaar wat ons verseker moet analiseer in ons daaglikse lewe. Ons kan elke dag onsself vra: wat het ek vandag gedoen wat nie myself en my waardes verteenwoordig nie, maar dié van die wêreld? Watter goeie werk het ek vir my naaste of vir Christus gedoen vandag, maar met ‘n selfsugtige hart? Is ek dankbaar vir Christus en sy werke vir my, en hoe God my gemaak het?
Kom ons werk aan ons dankbaarheid en stap die ekstra myl vir Christus. Hy het immers ons sondes van ons afgewas met sy lewe, ‘n groter genadegawe as dit kry ‘n mens nie. Verder eindig dit nie by sy dood en opstanding nie, dit begin reeds daar, en ons mag dankbaar deel daarvan wees. Ons mag Hom vir sy liefde dank en vir vrede en godsdiensvryheid. Kom ons gryp die tyd aan om Hom te leer ken! Christus het vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8).
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Gaan ons in die hemel net sing?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/gaan-ons-net-heeldag-sing/
Last updated: 2023-05-29T17:43:33.000Z
*Geskryf deur Biance de Beer, VGK Bellville*
Waaraan dink ons as ons oor die Hemel dink? Dink ons aan ‘n plek daarbo iewers in die ruimte buite bereik van ons menslike verstand? Die Bybel sê dit gaan ‘n fisiese plek wees wat bestaan uit ‘n nuwe aarde en Hemel (Openbaring 21:16-18). Die ou aarde en Hemel gaan vernuwe word met die tweede koms van Jesus Christus, die Seun van God. Die skepping – waaraan ons ook behoort – sal vrygemaak word van die vloek wat oor ons geplaas was na die sondeval (Romeine 8:19-21, 23).
Daar sal nie meer dood, hartseer of lyding wees nie. Ons sal nuwe verheerlikte liggame ontvang wat perfek sal wees (Filippense 3:20-21). Daar sal geen sonde meer wees nie. Dit is amper ondenkbaar vir die menslike verbeelding. Maar wat gaan ons doen in die Hemel? Gaan ons net heeldag sing? Ons sal definitief sing, maar dit is nie al nie.
### In die teenwoordigheid van God
Jesus het gesê dat ons by Hom sal wees (Johannes 14:3). Dit is waarna ons smag wanneer ons tot God bid, of wanneer ons Hom loof en prys en weer herinner word aan Sy beloftes. Ons sal in die teenwoordigheid van die Skepper van die heelal, die drie-enige God, die Verlosser en die Heerser oor alle magte – goed of kwaad – wees. Daar is nie ander woorde om te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Dit sal groot vreugde tot gevolg tevoorskyn bring. ‘n Vreugde wat ons nog nooit beleef het nie. ‘n Vreugde wat ons nog net ‘n klein deel van ken, omdat ons die genade van God het. Die vreugde van ‘n ewige lewe saam met God (Psalm 16:11).
### Daar sal ‘n fees wees
Ons sal almal rondom een tafel feesvier saam met Christus. Al die heiliges sal in goddelike gemeenskap saamvier op die manier waarop God dit so bestem het. In Jesaja 25 was dit al geprofeteer:
> *“Die Here, Heerser oor alle magte, sal op hierdie berg vir al die volke ‘n feesmaal van ryk geregte voorberei.”*
Dit is nie net feesviering oor die oorwinning van sonde en dood nie, maar ook die feesviering van die huwelik tussen die bruid en die Lam. Die bruid, wat die kerk simboliseer, is nou waardig vir haar man, wie Christus is (Openbaring 19:7-8). Die redding van die kerk is net as gevolg van die werke van die Lam (Efesiërs 2:8-10).
### Daar sal rus wees
In die Hemel sal ons rus vind (Openbaring 14:13) terwyl ons in diens van God is (Openbaring 7:14-15). Rus vir ‘n Christen beteken rus van die ewige stryd wat ons elke dag voer teen die sondige natuur. Ons rus vind ons in Christus en dus wanneer ons in die Hemel kom, sal ons rus in sy teenwoordigheid. Om in diens van God te wees kan nooit vermoeiend wees vir die Christen nie. So sal dit ook nie werk of moeite wees om God te aanbid in die Hemel nie. In die Hemel sal daar ook nie kerkdienste wees soos wat ons op die ou aarde het nie. Dit sal nie nodig wees nie, want ons sal konstant in aanbidding wees. Verder, wanneer ons die Hemel bereik, sal ons heilig gemaak word. Dus sal ons ook rus in die genade van ons liewe Vader.
### Ons sal sing!
Wanneer ons sing in die Hemel, sal dit ‘n nuwe loflied wees. Dit sal ‘n loflied wees wat vertel van die terugkoms van Christus en die glorieryke feesviering van die huwelik tussen die Lam en sy bruid. Dit sal so gaan:
> *“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.”* (Openbaring 5:13-14)
Ons sal juig, want dit is volbring! Die Here Jesus Christus sit op sy troon en Hy regeer. Ons sal sing van die oordeel van die bose (Openbaring 18:20). Uit dankbaarheid sal ons sing oor God se regverdigheid, want Hy is onwrikbaar. Hy bly by sy beloftes. Hy sorg vir sy kinders. Hy neem wraak oor die sonde, maar hy bewys ook liefde aan die wat Hom liefhet. As ons al hierdie dinge weet, wat anders kan ons doen as om te sing?
Halleluja, prys die Heer!
### Bronne
- [https://www.thegospelcoalition.org/article/looking-forward-to-a-heaven-we-can-imagine/](https://www.thegospelcoalition.org/article/looking-forward-to-a-heaven-we-can-imagine/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/qas/do-christians-go-immediately-to-heaven-when-they-die](https://www.ligonier.org/learn/qas/do-christians-go-immediately-to-heaven-when-they-die?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.biblicalstudies.org.uk/pdf/ref-rev/06-2/6-2\_blanchard.pdf](https://www.biblicalstudies.org.uk/pdf/ref-rev/06-2/6-2%5Fblanchard.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.9marks.org/article/hallelujah-over-hell-how-gods-people-rejoice-while-their-enemies-perish/](https://www.9marks.org/article/hallelujah-over-hell-how-gods-people-rejoice-while-their-enemies-perish/?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/qas/what-will-gods-people-be-doing-in-the-new-heavens-and-new-earth](https://www.ligonier.org/learn/qas/what-will-gods-people-be-doing-in-the-new-heavens-and-new-earth?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/qas/what-will-normal-life-look-like-in-the-new-heavens-and-new-earth](https://www.ligonier.org/learn/qas/what-will-normal-life-look-like-in-the-new-heavens-and-new-earth?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/podcasts/ultimately-with-rc-sproul/the-song-of-heaven](https://www.ligonier.org/podcasts/ultimately-with-rc-sproul/the-song-of-heaven?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://www.ligonier.org/learn/devotionals/the-marriage-supper-of-the-lamb](https://www.ligonier.org/learn/devotionals/the-marriage-supper-of-the-lamb?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe beplan ek my dag Christelik?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-beplan-ek-my-dag-christelik-2/
Last updated: 2023-05-13T13:00:01.000Z
*Geskryf deur Christiaan van Vondel, VGK Bellville*
Ons het almal besige lewens. Van ons moet daarom ons dag deeglik beplan. Maak nie saak wat jy die dag gaan doen nie, jy moet jou dag beplan. So sal die meeste mense se dae min of meer dieselfde lyk. As jy byvoorbeeld ‘n student is, sal jou dag min of meer soos myne lyk. Maar die eintlike vraag is, hoe beplan jy jou dag as ‘n Christen? Want as jy daaroor gaan nadink, lyk Christene se dae baie dieselfde as ander mense s’n, of jy ‘n ateïs of Moslem is of enige ander geloof het.
Kom ons vat my dag as ‘n voorbeeld. Ek staan op, eet ontbyt, gaan klas toe, kom terug by die huis, leer, eet dan en gaan slaap. Voordat ek gaan slaap, bid ek eers en lees my *devotional* vir die dag. Dit is hoe ek my dag normaalweg beplan. Is dit nie al hoe ons ons dag op ‘n Christelike manier kan beplan nie? Nee, daar is nog baie ander maniere hoe ‘n Christen sy dag kan beplan en ek wil vandag verduidelik hoe.
### Goeie dade
Maar **hoe** moet ons ons dag Christelik beplan? Om gereeld te bid en Bybel te lees is miskien ‘n goeie weg om te volg. Maar ‘n ander ding waaroor ons miskien kan dink, is goeie dade wat ons in ons daaglikse lewe doen. Dit is nie sommer iets wat jy vooruit beplan nie, maar wanneer die oomblik aanbreek om ‘n goeie daad te doen, sal jy dus besluit om te help of nie. In **Galasiërs 6:9-10** staan daar: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van geloof”. In eenvoudige woorde, wees vriendelik en bied hulp aan, jy sal daaruit baat. Ek kan aan ‘n paar voorbeelde dink wat jy op ‘n daaglikse basis kan toepas as ‘n jong mens. Praat ‘n bietjie met die persoon wat eenkant sit in jou klas, hulle het hul eie bekommernisse en sal daaruit baat om dit met iemand te deel. Wees vriendelik met jou onderwysers, lektore of kollegas. Wees oor die algemeen respekvol teenoor ander, soos ons geleer is. Een ding wat ons almal ignoreer is bedelaars by die kruising. Al is dit ‘n sekuriteitsrisiko, gee vir hulle van jou kleingeld as dit lyk asof hulle dit regtig nodig het. Jy kan ook by groepe aansluit wat sulke tipe dade doen. Soos die mense wat die rivier skoonmaak om die Here se skepping te bewaar. Goeie dade kan regtig ‘n verskil maak. En al is jy besig, kan jy nog steeds iets kleins doen. Soos dit in die teks staan – ons sal die vrugte pluk van goeie dade.
### Bid
Ons almal bid ten minste een keer per dag, op een of ander manier. Baie van ons bid net vir ‘n paar goed en dink nie regtig daaraan nie. Maak ‘n lysie van goed waarvoor jy kan bid, en gaan daardeur voordat jy gaan slaap. My Jeugvereniging-groep stel byvoorbeeld elke week ‘n lys op waar hulle die lede vra vir gebedsversoeke. Al het jy nie tyd deur die dag nie, probeer om dit iewers in te pas, dit sal maksimum 3 minute van jou dag vat.
### Hoe beplan jy jou Sondag?
In die tien gebooie staan daar dat jy op die Sabbat (Sondag) moet rus, en geen werk doen nie. Ons moet die dag aan die Here toewy, en dus kerk toe gaan. As ‘n mens sowat 30 jaar teruggaan, was alles toe op ‘n Sondag. In die moderne wêreld is ‘n Sondag net nog ‘n dag van die naweek. Nou hoe moet ‘n Christen rondom hierdie ingesteldheid sy dag beplan? Dit is belangrik om op ‘n Sondag kerk toe te gaan, aangesien ons na die huis van die Here gaan waar sy Woord verkondig word. Maar wat van die res van die dag? Probeer om nie iets te doen wat sal veroorsaak dat iemand anders moet werk nie. Dit wil sê dat jy nie plekke soos winkels of restaurante besoek nie. Probeer om ook nie jou huiswerk te los vir ‘n Sondag nie. Ek kan uit my eie ervaring sê dat dit nie altyd so maklik is om nie op ‘n Sondag te leer nie, maar probeer om nie alles te los vir Sondag nie (op ‘n akademiese vlak is dit ook ‘n goeie idee). Verder is ‘n Sondag ‘n dag om te ontspan en om van jou daaglikse probleme te vergeet. Ek weet dat die meeste huishoudings se roetines op ‘n Sondag verskil, maar ons s’n bestaan gewoonlik uit kuier met familie, kerk toe gaan en van God se natuur geniet. Ek het net die bodem geskraap van die Sabbatdag en kan nog baie verder uitbrei, maar wat ek nou genoem het, is die basiese eienskappe.
### Slot
Beplanning van jou dag is eintlik so ‘n belangrike ding. Party mense beplan nie so baie nie, terwyl iemand soos ek my dag fyn beplan. Ek hoop jy het geleer hoe om jou dag te beplan, en op ‘n Christelike manier. Begin sommer môre met die dinge wat ek genoem het. Jy kan iemand se dag maak, jouself gelukkig maak, dit kan jou ‘n gesonde geloofslewe bied en jy sal sommer ook nader aan God voel.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Sal God hierdie sonde vergeef?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/sal-god-hierdie-sonde-vergeef/
Last updated: 2023-10-07T09:47:09.000Z
*Geskryf deur Mark Moes, VGK Pretoria*
Het jy al ooit gewonder: “Sal God my vir hierdie sonde ook vergeef?” Of miskien meer spesifiek: “Het ek al sonde teen die Heilige Gees gedoen?” In hierdie vraag lê daar troos vir ons as God se kinders, maar ook ’n waarskuwing. In hierdie artikel hoop ek om deur middel van Bybeltekste hierdie troos en waarskuwing uiteen te sit.
### Troos
Baie mense sal Hebreërs 6:4-6 aanhaal en sê: “Kyk, as ’n kind van God sy rug op God draai, dan is daar geen terugkeer vir so ’n kind moontlik nie.” As ons egter na die Bybel in geheel kyk, sien ons dat dit nie waar is nie. Ons sien dit duidelik in die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Ook in verse soos Johannes 10:28-29 kan ons lees dat God van sy kinders sê: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie...” Ons kry dus ’n baie mooi troos en sekerheid hierdeur dat niks ons, as kinders van God, sal kan skei van God en sy liefde nie.
As ons dan weer na Hebreërs 6:4-6 kyk, kan ons weet dat sulke mense dus nie kinders van God is nie, maar is soos die saad in Lukas 8:13 - mense wat wel die Woord hoor en dit ’n indruk laat maak in hulle lewe, maar dan vir God verwerp. Soms werk die Gees selfs eers deur en in sulke mense, kyk byvoorbeeld maar na Saul (Rensburg, 1988).
### Sonde teen die Gees
Daar is baie verskillende sienings oor wat die sonde teen die Heilige Gees presies is. Dieselfde verhaal word in drie Evangeliebeskrywings gevind: Matteus 12:31-32, Markus 3:28-30 en Lukas 12:9-12\. ’n Mens kan die vinnige afleiding maak en sê dat die sonde teen die Heilige Gees bewustelike ongeloof is, maar wat dan van bekering? Dink maar aan Paulus. God sê self aan Paulus dat hy doelbewus teen God ingegaan en daardeur seergekry het (Handelinge 9:3-5 en 26:14). As ’n mens kyk na die teksgedeeltes, sien ons duidelik dat dié sonde daarmee te doen het om Christus aan die duiwel te koppel en daardeur Christus en die Gees los te maak van mekaar. Die Heilige Gees getuig altyd van Christus. Die Fariseërs stel dus die werk van Christus deur die Gees direk gelyk aan demone. Kan dit vandag nog gedoen word? Sommige bronne beweer dat dit net tydens Christus se tyd op aarde gedoen kon word en grond dit op Markus 3:30 (Breaker, 2015). Dit bring my by die volgende punt.
### Net Christus kan oordeel
Nêrens anders in die Bybel sien ons dat iemand beskuldig word van lastering van die Gees nie. Christus is die enigste Een wat daardie oordeel gemaak het en ek dink dit is ook net reg so. Ons as mense kan nie die saligheid van ander beoordeel nie en moet ook nie probeer om die rol van God as Regter oor te neem nie. Christus sal met sy wederkoms die oordeel oor almal fel (Openbaring 20:11-15).
### Die waarskuwing
Ons, as kinders van God, moet gewaarsku word deur dit wat ons uit die Woord oor sondes leer. Sonde lei uiteindelik altyd tot die dood (Romeine 6: 23, Jakobus 1:14-15 en 1 Johannes 5:16).
Ons kan egter wel die leiding van die Gees teenstaan (1 Tessalonisense 5:19) en as ons dit aanhoudend doen, bedroef ons ook die Gees (Efesiërs 4:30). Dit beteken dat ons die Gees teleurstel en hartseer maak, maar dit beteken nie dat Hy sy kinders sal verlaat nie. Elke kind stel op die een of ander stadium sy ouers teleur en tog verwerp of verlaat ouers nie hul kinders nie. Ons wil in ons aardse lewe al so na as moontlik aan God leef. Niks bring God nader aan ons as Hyself deur sy Gees nie. Moet dus nie Christus se Gees weerstaan om in jou te werk nie.
### Ons taak
Eerstens vra God vertroue, Hy het dit in die tuin van Eden al geëis, maar eis dit nou nog net so konkreet. Hy vra ook getuienis en liefde. As ons ons naaste liefhet, dan sal ons hulle bestraf of selfs onder die tug plaas as hulle teen God se wil ingaan en die Gees bedroef. Ons moet dit vir hierdie gelowiges duidelik maak dat daar terugkeer moontlik is en ons moet vir hulle bid. Ons moet ongelowiges ook waarsku, want wie weet het God die persoon ook al as een van sy kinders uitverkies voor die grondlegging van die wêreld af (Efesiërs 1:4,5). Leef soos verlostes en laat God se lig skyn.
### Buite-Bybelse Bronne
Breaker, R., 2015\. *Youtube.* \[Online\]
Available at: [https://www.youtube.com/watch?v=XeIjxbqC12o](https://www.youtube.com/watch?v=XeIjxbqC12o&ref=olielamp.vgk.org.za)
\[Accessed 9 April 2023\].
Rensburg, J. V., 1988\. *Kan ’n Kind van God Verlore Gaan?.* \[Online\]
Available at: [https://www.christelikemedia.org/article/kan-n-kind-van-god-verlore-gaan](https://www.christelikemedia.org/article/kan-n-kind-van-god-verlore-gaan?ref=olielamp.vgk.org.za)
\[Accessed 09 April 2023\].
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Globale Resessie - maak dit saak?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/globale-resessie/
Last updated: 2023-04-29T16:48:44.000Z
*Geskryf deur Albert van der Linden (ajvdlinden144@gmail.com), VGK Kaapstad*
Die term ‘globale ekonomiese resessie’ is een waarmee ons weer bekend geword het in die begin van die 21ste eeu. Wanneer ons nuus hoor van ’n globale resessie is dit slegte nuus – die wêreld word armer. Dikwels dink ons dit hoort in dieselfde asem as wat Jesus ons leer in Matteus 24 oor die eindtyd: “en julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.” Maar wat is ’n globale ekonomiese resessie eintlik?
Die definisie van ’n ekonomiese resessie is: die afname in die waarde van ekonomiese produksie vir twee opeenvolgende kwartale¹. Met ander woorde is dit wanneer fabrieke minder produseer, besighede minder produkte en dienste verskaf, beleggers minder investeer, verbruikers minder geld bestee, en regerings minder projekte loots. Vir ’n ekonomiese resessie om globaal te wees, moet die totale waarde van ekonomiese produksie in die wêreld afneem vir ’n periode van ten minste 6 maande. ’n Resessie is nie noodwendig globaal nie, dit is meestal op ’n nasionale vlak.
Die grafiek hieronder dui aan wat oor die jare gebeur het met die verandering in globale ekonomiese produksie sedert 1990\. Rooi kolomme dui aan wanneer daar globale resessies was: in 2009 en in 2020\. In 2009 was dit as gevolg van die bankwesekrisis wat ontstaan het in die VSA en versprei het na die res van die wêreld. Dit het veroorsaak dat minder geld vir investering beskikbaar was, wat gelei het na laer produksie. In 2020 het regerings regoor die wêreld ‘n beleid van fisiese inperking geïmplementeer om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Die inperkings het verhoed dat mense werk toe kon gaan om goedere te produseer en dienste te verskaf.

So hoekom maak dit saak? Wat is die werklike implikasies van ’n globale resessie? Verlaagde ekonomiese produksie lei (tipies) tot ’n afname in winste en rykdom. Besighede het minder of kleiner ekonomiese geleenthede om hul produkte of dienste te verkoop. En daarom is daar ook minder werksgeleenthede. Dit is moeiliker vir jongmense om die werksmag te betree en mense met gevestigde loopbane – soos ons ouers – word dikwels afgedank.
In die hedendaagse strewe na die maksimalisering van welvaart is die afname in ekonomiese produksie ’n krisis. Die mens meet sy sosiale waarde aan hoeveel geld hy relatief tot sy naaste het. Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie. Ons swakheid vir Mammon se verleiding was nog altyd daar. Wat wel besonders van ons tyd is, is hoe baie krediet individue uitneem om verbruikersgoedere te koop. Die Nasionale Kredietreguleerder van Suid-Afrika beraam dat 42% van die 23 miljoen kredietaktiewe Suid-Afrikaners nie hul krediet op ’n volhoubare basis sal kan terugbetaal nie. Goedkoop krediet gedurende tye van ekonomiese welvaart kan ’n groot versoeking wees om te leen om verbruikersgoedere te koop – goedere soos TVs, meubels, karre, huishoudelike toestelle en digitale produkte. Wanneer daar dan ’n tyd van ekonomiese resessie volg, kan dit moeilik word om daardie skuld terug te betaal.
Wat beteken dit vir ons as Christene? Ons mag lewe in die sekerheid dat ons Hemelse Vader vir ons sal sorg. Jesus leer ons dit met die bekende woorde van Matteus 6 vers 25: “Moenie julle kwel oor jul lewe nie – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie.” Al hoor ons nuus oor ekonomiese resessies en krisisse, mag ons weet dat die Here vir ons sal sorg. Maar in daardie selfde hoofstuk leer Jesus ons ook in vers 19 en 20: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, sal julle hart ook wees.” Ons moet tevrede wees met die daaglikse brood wat ons van ons Hemelse Vader ontvang, en dankbaar wees vir die hulpbronne en goedere wat Hy vir ons skenk.
*¹ - Ekonomiese produksie word deur middle van Bruto Binnelandse Produk (BBP) gemeet.*
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### What is a Woman? - Matt Walsh
URL: https://olielamp.vgk.org.za/what-is-a-woman/
Last updated: 2023-04-22T16:00:29.000Z
*Geskryf deur Arco Klapwijk, VGK Pretoria-Maranata*
“Wat is ‘n vrou?” Hierdie vraag klink baie eenvoudig, maar hoe beantwoord ons dit? In ons eie kringe sou mens daarmee kon worstel. Is ‘n vrou iemand wat kinders grootmaak? Iemand wat ‘n tuiste skep? Iemand wat in liggaam en siel so geskape is? Is dit iemand wat identifiseer as ‘n vrou? Laasgenoemde is meeste mense – selfs professore - se antwoord wat gegee word in die dokumentêr, die probleem egter is dat dit ‘n sirkeldefinisie is. ‘n Mens kan nie ‘n ding definieer met die ding self nie, of wel? Matt Walsh gaan kyk in sy dokumentêr – WHAT IS A WOMAN - na hierdie vraag en kyk hoe die “woke” kultuur dit beantwoord, maar ook hoe ‘n mens uit ‘n normale, logiese manier daarna kan kyk.
Die dokumentêr is ongelooflik goed aanmekaar gesit. Ten spyte van die moeilike dinge wat aangespreek word en die hartseer van die wêreldse verval, kry ‘n mens ‘n lekker lag af en toe in om die kyk van die film lekkerder te maak. Nie net bevat dit goeie argumentering nie, ook bind dit die kyker met spanning. Hierdie film bied ‘n baie goeie leerskool van hoe die “woke” kultuur dink oor sulke dinge en hoe mens dit kan aanspreek. Deur verskeie aspekte aan te raak en op verskillende maniere te fokus op die “woke” kultuur en wat ‘n vrou nou wel is, bring Matt Walsh ‘n baie goeie boodskap oor.
Matt Walsh is ‘n konserwatiewe politieke kommentator wat werk vir die “Daily Wire”. Die “Daily wire” bied konserwatiewe kommentaar op Amerikaanse gebeure en politiek, waar Matt Walsh in sy video’s spesifiek op mense se manier van lewe ingaan. Op sy YouTube kanaal kan daar baie verskeidenheid van video’s gesien word. Ook doen hy dit op ‘n komieklike manier. Matt is ‘n Rooms Katolieke Christen en is baie lief vir sy land. Hy wy homself daaraan toe om vir sy land en waardes op te kom. Ten spyte van sy Katolieke agtergrond, kan mens baie waardering kry dat hy vir miljoene mense Christelike waardes verdedig. Matt is dus ‘n goeie persoon om hierdie dokumentêr aan te bied, juis omdat ons as Christene - Rooms OF Gereformeerd - beide glo dat God die mens as man en vrou geskape het, ook dat God die wêreld steeds regeer en onderhou. God het ook die standaard van moraliteit geskape en in die wet aan die mens gegee.
Ek kan min kritiek lewer op die film. Dit is werklik uitstekend. Ek sou graag ‘n meer Christelike benadering wou sien, of ten minste ‘n Christelike perspektief. Dis te verstane dat dit vir wêreldse mense en konserwatiewe kringe gemik is en nie spesifiek vir Christene gemik is nie, maar die Bybel is die perfekte bron om ‘n antwoord te kry op die groot vraag en ook is dit dan ‘n groot geleentheid om die Evangelie te kan deel.
Die film is gemik vir jeug en ouer mense. So ‘n gesprek en tema is nie vir klein kinders bedoel nie, alhoewel die ouers deur die dokumentêr ook kan leer en besef dat kinders geleer moet word van wat ‘n man of vrou wel werklik is.
“What Is a Woman?” se film is 94 minute lank en kan hoofsaaklik op Daily Wire+ gevind word. Vind aangeheg die voorprent.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Is Christenskap voldoende sonder die Gemeenskap van Heiliges?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-christenskap-voldoende-sonder-die-gemeenskap-van-heiliges/
Last updated: 2023-04-15T17:00:47.000Z
*Geskryf deur Ineke Bijker, VGK Pretoria*
Is dit moontlik om ‘n Christen te wees sonder om deel te wees van die gemeenskap van die heiliges?
> *“Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.*
> *en God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.*
> *Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal het tog nie kragte nie?*
> *Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale kan almal dit uitlê?” - 1 Korintiërs 12:27-30*
### Ons is almal lede van dieselfde liggaam
Ons weet ook dat die kerk die liggaam van Jesus Christus, met Christus as die Hoof. Soos [Romeine 12](https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=&cad=rja&uact=8&ved=2ahUKEwjt%5F-T%5FwpX-AhVROcAKHW8HD7wQFnoECBcQAQ&url=https%3A%2F%2Fwww.bible.com%2Faf%2Fbible%2F5%2FROM.12.AFR53&usg=AOvVaw1iCVhBiGTuBsLiFzOH0%5Fo3) en [1 Korinthiërs 12](https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=&cad=rja&uact=8&ved=2ahUKEwiJlaSGw5X-AhXWNsAKHRjRDcEQFnoECBcQAQ&url=https%3A%2F%2Fwww.bible.com%2Faf%2Fbible%2F5%2F1CO.12.AFR53&usg=AOvVaw3Osyjz%5FpRPPiX-WC5Jjwz1) dit duidelik stel, is ons ‘n eenheid in die veelheid van al die lede. Christus is die Hoof van die liggaam ([Kolossense 1:18](https://www.google.com/url?sa=t&rct=j&q=&esrc=s&source=web&cd=&cad=rja&uact=8&ved=2ahUKEwjZ2%5F6Lw5X-AhVKTEEAHU0JDKAQFnoECBQQAQ&url=https%3A%2F%2Fwww.bible.com%2Faf%2Fbible%2F5%2FCOL.1.AFR53&usg=AOvVaw0C0BSlza9s59s4AJ1UO-Lv)), daarom mag ons nie onsself bo ons naaste ag nie en daarom lewe ons nie soos wat ons wil nie, maar soos wat God wil.
Ons het elkeen uit genade sekere gawes en talente ontvang en daarmee saam het ons ‘n belangrike taak in die kerk gekry: om ons gawes te gebruik om die gemeente dien.
### Gemeenskap van die heiliges is ‘n opdrag
Met Christus as die Hoof van die liggaam het ons ‘n volle verantwoordelikheid teenoor mekaar. Ons moet diensbaar wees in die gemeenskap van die heiliges.
Ons het deel aan die skatte en gawes van Jesus Christus. Ons almal het talente gekry. Die skatte en gawes het ons s'n geword deur die werking van die Heilige Gees in ons harte.
As Hoof van die liggaam vra die Here Jesus Christus van ons om ons naaste te dien. Daarom is dit ‘n voorreg om deel te wees van die gemeenskap van die heiliges, maar ook ‘n opdrag. Met Jesus Christus as die Hoof van die kerk is ons elkeen verplig om ons gawes met ander te deel. Ons moet ons gawes gebruik tot nut en saligheid van ons naaste.
Almal wat bely dat hulle deel van die gemeenskap van die heiliges is, moet ‘n lewende lid in die gemeente wees. Jesus Christus verplig ons om deel te wees van die gemeenskap van die heiliges om ons naaste te help en om Hom daardeur te loof en te prys.
Die Hoof van die kerk verplig ons om deel te wees van die gemeenskap van die heiliges.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Is ons die enigste Ware kerk? - NGB Artikel 28
URL: https://olielamp.vgk.org.za/is-ons-die-enigste-ware-kerk/
Last updated: 2023-04-10T05:00:08.000Z
*Geskryf deur Kirsten de Beer, VGK Kaapstad*
Daar is baie verskillende kerke. Net so was daar in die tyd van die Reformasie Rooms-Katolieke, Ortodokse, Gereformeerde en baie ander kerke. In vandag se tyd is ons situasie baie meer ingewikkeld - met teologiese kultusse tot nie-kerklike organisasies, en alles tussenin. So watter een is die ware kerk?
Die Woord van God is die Bron van ons lewe as Christen, en die Gids waarvolgens ons moet leef. So wat sê die Bybel oor die kerk? In Handelinge 2:38-40 lees ons dat Petrus die Jode oproep tot geloof en bekering in Christus: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word”. God wou hê dat Sy volk onderskei moes word van die wêreld en nie deel raak van wêreldse dinge nie. Daarom word ons gedoop as verbondskinders. Verder in Handelinge lees ons dat die kerk volhard het in verskeie dinge: lering, nagmaal, gebed, verbondenheid aan mekaar, lofprysing en bywoning van die eredienste, wat aansluit by NGB 28 en 29\. Dit stel vir ons ‘n voorbeeld van hoe die ware kerk moet lyk.
NGB 28 sê dat alle gelowiges verplig is om deel te wees van ‘n “heilige vergadering”. As lede van die liggaam van Christus moet ons onsself onderwerp aan God, ons medegelowiges dien, en onsself onderskei van die wêreld. Die Apostoliese Geloofsbelydenis praat nêrens van verskillende kerke nie, maar slegs van die een “heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”. In hierdie verband lees ons in NGB 29 dat die ware kerk onderskei kan word van die valse kerk deur middel van verskeie eienskappe.
Daar is drie kenmerke van die ware kerk: suiwere prediking van die Woord van God, die gebruik van die sakramente soos God dit ingestel het en kerkdissipline.
- Suiwer prediking behels dat ons as sondaars net gered en verlos kan word deur die genade van God alleen, deur geloof in Christus alleen, vir die verheerliking van ons God, die Almagtige, alleen, soos geopenbaar in die Skrif.
- Daar is net twee sakramente: die doop en die nagmaal. Die doop word bedien aan die kinders van gelowige ouers in die Naam van die drie-enige God, terwyl die nagmaal net bedien word aan belydende lidmate deur die gebruik van brood en wyn wat in die Naam van Christus geseën word.
- Toesig oor die prediking van die Woord en dissipline in die kerk word deur die ouderlinge gehandhaaf sodat die kerk God se heiligheid en die waarheid van die Woord reflekteer. Dit beskerm die kerk teen valse leer, beskerm en voed die kudde en bewaar die suiwerheid van die evangelie.
Ten slotte, om die vraag te antwoord: Nee, ons is nie die enigste ware kerk nie. Die heilige, algemene, Christelike kerk ter sprake, is die eenheid van al die ware kerke volgens die drie kenmerke van NGB 29\. Die kerk van Christus bestaan dus uit verskillende gemeentes regoor die wêreld wat aan die eienskappe van die ware kerk voldoen. Hierdie gemeentes mag dalk in verskillende denominasies buite ons eie wees, maar hulle is nog steeds deel van die ware kerk. Ons is almal broers en susters in die liggaam van Christus en moet mekaar dien en opbou in ons heilige geloof deur die gemeenskap van die heiliges wat God aan ons gegee het.
### Bronne
Die Bybel (2020 vertaling):[https://biblesa.co.za](https://biblesa.co.za/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Ligonier Ministries: [https://www.ligonier.org/posts/what-biblical-church](https://www.ligonier.org/posts/what-biblical-church?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-signs-or-marks-of-the-true-church](https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-signs-or-marks-of-the-true-church?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-essential-ingredients-of-a-true-church](https://www.ligonier.org/learn/qas/what-are-the-essential-ingredients-of-a-true-church?ref=olielamp.vgk.org.za)
VGK.co.za – Ds. C Kleyn: [https://www.vgk.org.za/preke/24174](https://www.vgk.org.za/preke/24174?ref=olielamp.vgk.org.za)
R.C. Sproul: [https://www.youtube.com/watch?v=9QmeBPHOXLY](https://www.youtube.com/watch?v=9QmeBPHOXLY&ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Vrees ons God of vrees ons AI?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/vrees-ons-god-of-vrees-ons-ai/
Last updated: 2023-04-05T05:00:42.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria-Maranata*
*AI*, ‘n term wat ‘n groot rol in ons lewens speel sonder dat ons dit noodwendig agterkom. In kort is *AI* (kunsmatige intelligensie) ‘n stel algoritmes wat gebruik maak van ‘n groot datastel om patrone te vind daarin. Dit word dan gebruik om voorspellings en aannames van die datastel te maak.
In vandag se lewe word *AI* reg rondom ons gebruik om ons lewens te vergemaklik of selfs om ons besluite te beïnvloed: die ideale hoogte waarop die tandepastabuisie op die winkelrak staan sodat jy dit vinniger kan raaksien, die advertensie wat jou tog maar weer oortuig om ‘n fortuin te spandeer op die nuutste selfoon, jou “99% match”-film op Netflix, die weervoorspelling vir môre of selfs om verknog te word aan sosiale media sonder dat jy dit agterkom, is alles voorbeelde van hoe *AI* ‘n rol in ons lewens speel.
Maar tog kan *AI* soveel gevaarliker word as net die bogenoemde voorbeelde. Wanneer jy aan *AI* dink, dink jy skielik anders. As iemand vir jou vra: “Wat is *AI*?”, dan dink jy aan karre wat self kan ry, robotte wat mense vervang in fabrieke, robotiese bene wat mense weer kan laat loop, *AI* wat die wêreld gaan oorneem, dalk selfs my werk eendag wat vervang kan word deur *AI* en die nuwe ChatGPT ([https://youtu.be/8jhspHdXGBQ](https://youtu.be/8jhspHdXGBQ?ref=olielamp.vgk.org.za) – ‘n 2-minuut video wat ChatGPT verduidelik). En hoe meer mens hieroor dink, hoe meer vrae vra ons oor ons bestaan en dit bring onsekerheid en twyfel in ons lewens, veral wanneer dit voel asof *AI* die wêreld kan oorneem.
Maar enige gelowige (en selfs ongelowiges) kan op ‘n punt kom waar ons vra: “Kan *AI* God vervang?” Of: “Wat is die verhouding tussen God en *AI*?” En by daardie punt wil ek graag stilstaan en in hierdie artikel ontrafel.
“Waar is God?”
Dis ‘n vraag wat die mensdom vir eeue al besig hou. Vir gelowiges wat begrip het van geloof (HK V&A 21) kan die vraag ook soms moeilik wees om te antwoord (selfs Dawid het dieselfde in [Psalm 22](https://www.bible.com/af/bible/5/PSA.22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) gevra).
In vandag se lewe is antwoorde soveel makliker verkrygbaar as voorheen. Ons kan vinnig ‘n soektog op Google doen en binne enkele sekondes kry jy ‘n antwoord. Ons vertroue in masjiene en rekenaars is dalk meer as wat ons dink. Dink maar daaraan hoe gereeld jy regtig wonder of Word se autocorrect reg was of om sonder ‘n geligte wenkbrou te aanvaar dat die sakrekenaar se resultate akkuraat is. Dit gee ons die indruk dat masjiene (en dus ook *AI*) nie kan sondig nie en dit kan meer betroubaar voorkom as mense. Waar *AI* gevaarlik raak is waar dit, met statistiek, die toekoms kan voorspel. So maak dit die sondige mens in ‘n mate vatbaar om verder te gaan as die perke wat God vir ons ingestel het. Ons begin dan vrae vra soos Dawid in [Psalm 22](https://www.bible.com/af/bible/5/PSA.22.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za), maar hierdie keer kry ons ‘n antwoord van ‘n *AI*\-model.
In Japan het sekere Boeddhistiese gemeenskappe begin om robotte te implimenteer as hulle priesters. Die robot kan bid, preek en die lede seën. Mense vertrou die robot omdat hy akkuraat is en kennis besit wat geen priester ooit sou kon besit nie. Selfs al kan ‘n robot vir my preek oor God en bid tot God, wie vereer ek anders as die robot wat meer akkuraat is as enigiets anders? Dis die vraag wat by die agterdeur insluip wanneer ons ‘n rekenaar as middellaar tussen ons en God het. God sal verdwyn. Wanneer ons vir ChatGPT kan vra: “bestaan God?”, en of ChatGPT sê dat God bestaan of nie, wie sal ons volgende keer vra as ons twyfel oor iets? Natuurlik ChatGPT! Ons sal eerder die rekenaar vereer as vir God omdat ons ons antwoorde by die rekenaar kan kry (of die antwoorde waar is of nie, ons vertrou dit net soos ons ‘n sakrekenaar vertrou).
Ons soek na antwoorde, net soos Adam en Eva in die paradys. Die mens streef altyd na sy eie wil en soek self-versekerdheid, maar God het ons anders geskep. God het ons uniek geskep, nie om ons oor te laat aan die wêreld saam met die hele mensdom nie, maar om ‘n spesiale verhouding met God te hê. God het ‘n hiërargie ingestel: God bo die mens. Hy is in beheer van alles. Wanneer ons ‘n antwoord op alles kan kry, is ons nie aan God ondergeskik nie, maar vereer ons onsself deur *AI*. Wanneer ons *AI* vereer, is ons besig om ‘n moderne toring van Babel te bou ([Genesis 11:4](https://www.bible.com/af/bible/5/GEN.11.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za)). Die oppergesag van die mensdom neem dan oor om ‘n toring te bou om die hemel te bereik (antwoorde te kry) en om ‘n naam vir onsself te maak in plaas daarvan om God te soek (selfvereering). God is immers in beheer van alles. Hy was in beheer toe hulle die toring van Babel begin bou het en hoeveel te meer dan nie vandag nie? Wanneer ons aan ons toekoms begin twyfel, byvoorbeeld: “Sal *AI* veroorsaak dat ek my werk verloor?” Dan kan ons onsself afvra: “Kan *AI* ‘n oorstroming of ‘n aardbewing voorkom?”, dan sal ons weet Wie in beheer is.
Daarby kom die vraag ook aan ons as Christene vir die wat hulle graag wil bekwaam om eendag in die veld van *AI* te gaan werk, of *AI* dan reg en eties is? God het in [Genesis 1:28](https://www.bible.com/af/bible/5/GEN.1.28.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za) vir ons gesê om te heers oor die aarde, om dit te bewaar. God het Christus as Middelaar na die wêreld gestuur om vir ons sondes te sterf. God weet as ons byvoorbeeld geld (en dus ook *AI*) plaas tussen God en ons, dat ons van God sal vergeet. Slegs deur Christus kom ons na God toe. As ons dit onthou, dan kan ons *AI* gebruik as ‘n werktuig om die aarde te bewaar, wat ook deel is van ons skeppingsopdrag. Dit kan vooruitgang in so baie areas beteken: dink maar byvoorbeeld aan statistiek-gerigte navorsing in die wêreld van medici. Kyk maar gerus by “ekstra links” onderaan die artikel. *AI* is ‘n realiteit, en ons word as Christene beveel om ook *AI* te gebruik tot opbou van God se koninkryk en nie tot opbou van die moderne toring van Babel nie. So kan ons *AI* met wysheid betree, naamlik met die vrees van die Here. ([Psalm 111:10](https://www.bible.com/af/bible/5/PSA.111.10.AFR53?ref=olielamp.vgk.org.za))
Soos ons vorentoe beweeg, laat ons nie terugkyk na die “ou tyd”, toe die lewe eenvoudiger gelyk het nie. God se Woord is onveranderd van die begin van die Skepping af. *AI* verander elke dag en word beter, maar sal nooit perfek wees nie. Soos die *AI*\-robot Sophia nasionale burgerskap in Saudi Arabië gekry het, mag ons ons burgerskap in die hemel by God vind en God ken deur die Skrif en die natuur (NGB Artikel 2) en nie deur *AI-bots* nie. So mag ons die volle wapenrusting op ons neem en besef dat “in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” ([Romeine 8:37](https://www.bible.com/bible/5/rom.8.37.afr53?ref=olielamp.vgk.org.za))
### Ekstra links
Wat is ChatGPT? [https://youtu.be/8jhspHdXGBQ](https://youtu.be/8jhspHdXGBQ?ref=olielamp.vgk.org.za)
Boeddhistiese robot: [https://youtu.be/JE85PTDXARM](https://youtu.be/JE85PTDXARM?ref=olielamp.vgk.org.za)
Toepassings van *AI*: [https://www.simplilearn.com/tutorials/artificial-intelligence-tutorial/artificial-intelligence-applications](https://www.simplilearn.com/tutorials/artificial-intelligence-tutorial/artificial-intelligence-applications?ref=olielamp.vgk.org.za)
Vir interessantheid: [https://www.amazon.com/Non-Computable-You-Artificial-Intelligence-Never/dp/163712015X](https://www.amazon.com/Non-Computable-You-Artificial-Intelligence-Never/dp/163712015X?ref=olielamp.vgk.org.za) & die resensie van die boek: [https://www.discovery.org/b/non-computable-you/](https://www.discovery.org/b/non-computable-you/?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Ander bronne
[https://www.theatlantic.com/technology/archive/2017/02/artificial-intelligence-christianity/515463/](https://www.theatlantic.com/technology/archive/2017/02/artificial-intelligence-christianity/515463/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianitytoday.com/ct/2022/august-web-only/artificial-intelligence-praise-worship-body-carbon.html](https://www.christianitytoday.com/ct/2022/august-web-only/artificial-intelligence-praise-worship-body-carbon.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianitytoday.com/news/2019/april/ai-artificial-intelligence-technology-statement-evangelical.html](https://www.christianitytoday.com/news/2019/april/ai-artificial-intelligence-technology-statement-evangelical.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianitytoday.com/ct/2020/june-web-only/artificial-intelligence-todays-tower-of-babel-ai-ethics.html](https://www.christianitytoday.com/ct/2020/june-web-only/artificial-intelligence-todays-tower-of-babel-ai-ethics.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://christiantoday.com.au/news/a-christian-response-to-artificial-intelligence.html](https://christiantoday.com.au/news/a-christian-response-to-artificial-intelligence.html?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://radical.net/article/why-christians-should-care-about-artificial-intelligence/](https://radical.net/article/why-christians-should-care-about-artificial-intelligence/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Black Lives Matter
URL: https://olielamp.vgk.org.za/black-lives-matter/
Last updated: 2023-04-03T12:34:06.000Z
*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*
“In 2013 begin drie radikale swart organiseerders – Alicia Gaza, Patrisse Cullors en Opal Tometi – ‘n swart-gesentreerde politieke beweging, #BlackLivesMatter. Dit was ‘n reaksie op die onskuldigbevinding van Trayvon Martin se moordenaar, George Zimmerman” (BlackLivesMatter, n.d.)
Dit is hoe die BlackLivesMatter-beweging hulle eie oorsprong beskryf. Intussen het hulle gegroei tot ‘n globale organisasie, wat hulle beywer vir veel meer as net swart lewens.
Dit is nie die doel van hierdie artikel om die beweging in detail te analiseer nie. Daar sal eerder gekyk word na ‘n paar stellings wat BlackLivesMatter oor hulleself maak en wat ons as Christene hieroor glo.
Die aangehaalde teks in ***Italics*** is direk afkomstig van hulle webtuiste.
> **We are working* *for a world where Black lives are no longer systematically targeted for demise.**
Navorsing in Amerika het gewys dat Christene meer rassisties is as die gemiddelde bevolking. Protestante het ‘n mediaanpunt van om en by 70% op die rassisme-indeks gekry, terwyl Amerikaners wat nie religieus is nie, 42% kry op hierdie indeks (Jones, 2020).
Indien dit soortgelyk sou wees in Suid-Afrika, is dit belangrik dat ons introspeksie doen en kyk wat die Bybel oor rasse te sê het.
**“God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”** Gen 1:27
Die mens is na die beeld van God geskape. God het die mens goed gemaak. Voor God is ons almal gelyk. Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.
Die vroeë kerk het met ‘n soortgelyke probleem gesukkel. Vir baie van die Joodse Christene was dit moeilik om die bekeerlinge uit die heidendom as broers en susters te aanvaar. In hierdie verband skryf Paulus in Galasiërs 3: 28 (lees gerus ook die res van die hoofstuk):
“**Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus**.”
In Christus is Arabier, Europeër, Asiaat, Amerikaan, en Afrikaan almal deel van die een liggaam so lank as wat hulle glo en deur die bloed van Christus gewas is.
Die probleem met die BlackLivesMatter beweging is dat hulle hierdie waarhede verdraai om ‘n (goddelose) politieke agenda te dryf.
> **We affirm the lives* *of Black queer and trans folks, disabled folks, undocumented folks, folks with records, women, and all Black lives along the gender spectrum*.*
BlackLivesMatter is baie duidelik daaroor dat hulle die LGBTQIA+-beweging ondersteun. Hulle spreek spesifiek ook hulle ondersteuning vir swart trans vroue uit.
As Christene glo ons dat God die mens heteroseksueel geskape het en dat dit is hoe Hy wil hê ons moet lewe. In die Skrif kry ons verskeie kere te doen met hierdie probleem (dit is nie iets nuuts nie). Telkens is God se uitspraak hieroor baie duidelik. In Romeine 1 lees ons dat God nie net dié wat self sulke dinge doen nie, maar ook dié wat hulle goedkeuring daaraan gee (vers 32), sal oorgee aan hulle eie verwerplike denkwyse (vers 28 ).
As Christene veroordeel ons dus hierdie beweging ten sterkste. Dit is egter belangrik om te besef dat dit nie beteken dat ons hierdie mense verwerp nie. Is hulle nie juis ‘n vrugbare akker vir die evangelie nie? Dink aan Paulus wat gaan evangeliseer het in Korinthe, die stad waar, volgens Strabo (20 n.C), ongeveer 1 000 tempelprostitute deel was van die diens aan die stad se hoofgodin Afrodite (PERROTTET, 2007). Ons behoort mense wat sukkel met geslagsidentiteit te hanteer met nederigheid en ‘n besef van ons eie sondige aard, maar nooit mag ons God se wil en waarheid onder die mat vee nie.
> **By achieving liberation, we envision a future that is fully divested from police, prisons, and all punishment paradigms to be replaced with investment into justice, joy, and culture.**
Behalwe dat ‘n wêreld sonder polisie, tronke en strawwe onrealisties is, is dit ook nie in lyn met die Bybel nie. Ons glo in ‘n toekoms waar dit inderdaad nie meer nodig sal wees nie, maar dit sal eers realiseer as Christus teruggekom het en ons op die nuwe aarde lewe.
Terwyl ons nog op Aarde nommer 1 lewe, het God in sy wysheid regerings aangestel om die sondige menslike ras in toom te hou. Romeine 13: 1-5 stel dit baie duidelik:
**“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”**
Ek dink hierdie Bybelgedeelte is baie duidelik. Die regering en die instellings wat daarmee saamgaan, soos die polisie, is in diens van God. Ons behoort dit te respekteer en ons samewerking te gee, solank as wat dit nie teen die wil van God ingaan nie. Christene kan nie deel wees van ‘n organisasie wat ronduit verklaar dat hulle die gesag van die regering wil ondermyn nie.
> **We have a long history of support for abortion access and activism within the Black community.**
In 2022 was die Roe v. Wade saak een van die groot onderwerpe vir BlackLivesMatter. Hulle beywer hulself vir “reproduktiewe gesondheid” en een van die belangrikste maatreëls, volgens hulle, is vrye toegang tot aborsieklinieke. Wat maak in die eerste plek dat daardie ongebore *black lives* skielik nie *matter* nie? Teenoor BlackLivesMatter se pro-aborsie, is ons pro-lewe. Ons glo dat God lewe gee en God lewe neem. Die mens het nie die outoriteit om te besluit oor enie van die bogenoemde nie. Elke lewe is ‘n skeppingswonder. Baie kritici voer verkragtings, gesondheid en tienerswangerskappe aan as ‘n bewys dat Christene net wreed is deur aborsie teen te staan. Sulke gevalle maak die afkeur van aborsies inderdaad meer kompleks, maar is dit regtig hoekom aborsies gepleeg word?
Die Wêreld Gesondheid Organisasie reken daar vind ongeveer 73 miljoen aborsies wêreldwyd plaas per jaar. Nege-en-twintig persent van alle swangeskappe word met ‘n aborsie beëindig (WHO, 2021). ‘n Studie wat in 2013 in Amerika gedoen is (Foster, 2013), het bevind dat slegs 12% van abosies gepleeg word as gevolg van gesondheidsredes. 6% hiervan was egter as gevolg van die moeder se gebruik van alkohol of dwelms en is dus die moeder se eie lewenstylkeuse. Die studie bevat nie inligting oor verkragtings nie, maar 3% het gesê hulle het “abusive partners”. Meeste vroue het meer as een rede gegee. Die hoofredes was: finansies (40%), ongeleë (36%), lewensmaat-verwante oorsake (31%), ander kinders (29%), die baba sal toekomsplanne omverwerp (20%), nie emosioneel of mentaal gereed vir ‘n baba nie (19%).
Die oorsaak van aborsies is hoofsaaklik mensgesentreerd. Mense wil net lewe vir die hier en nou, sonder om verantwoordelikheid te dra vir dit wat hulle doen.
As Christene kan ons nie net op ‘n afstand staan en veroordeel nie. God het ons as ‘n lig in hierdie wêreld geplaas om die uitgeworpenes te ondersteun. Is ons daar vir tieners wat wel swanger raak? Wat as iemand verkrag is? Ons moet nie ons oë toe hou hiervoor nie. Sulke mense het daadwerklik hulp nodig.
Daar kan nog baie meer gesê word oor BlackLivesMatter en oor elke stelling kan daar boeke geskryf word. Die uitdaging wat daar egter voor ons, as Christene, lê, is om nie net op teoretiese grond sulke organisasies te veroordeel nie, maar ook na daadwerklike Bybelse oplossings te soek. Laat ons getrou bly aan God se Woord en dit wat Hy vir ons leer oor die lewe hier op aarde, totdat Hy kom om alle gevolge van die sonde te vernietig.
### Bronne
BlackLivesMatter. (n.d.). *Herstory*. Retrieved from Black Lives Matter: [https://blacklivesmatter.com/herstory/](https://blacklivesmatter.com/herstory/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Foster, M. A. (2013). Understanding why women seek abortions in the US. *BMC Women's Health, 13*. Retrieved February 23, 2023, from [https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29](https://bmcwomenshealth.biomedcentral.com/articles/10.1186/1472-6874-13-29?ref=olielamp.vgk.org.za)
Jones, R. P. (2020, Julie 28). *Racism among white Christians is higher than among the nonreligious. That's no coincidence.* Retrieved from NBC News: [https://www.nbcnews.com/think/opinion/racism-among-white-christians-higher-among-nonreligious-s-no-coincidence-ncna1235045](https://www.nbcnews.com/think/opinion/racism-among-white-christians-higher-among-nonreligious-s-no-coincidence-ncna1235045?ref=olielamp.vgk.org.za)
PERROTTET, T. (2007, November 21). *Ancient Greek temples of sex*. Retrieved from The Smart Set: [https://www.thesmartset.com/article11210701/](https://www.thesmartset.com/article11210701/?ref=olielamp.vgk.org.za)
WHO. (2021, November 25). *Abortion*. Retrieved from World Health Organization: [https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion](https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/abortion?ref=olielamp.vgk.org.za)
Die Bybel (1953 & 2020)
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Hoe praat die Gees met ons?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-praat-die-gees-met-ons/
Last updated: 2023-03-24T19:37:20.000Z
*Geskryf deur Wilbert Begemann, VGK Bellville*
Hoe praat die Gees met ons?
Die vraag wat hier in die titel lê, is een wat baie Christene, en soms ongelowiges, vra. Die vraag kan ook lei na die volgende vraag: “Waar is die Heilige Gees geleë?”
Om konteks te skep, sal ons eers die vraag “Waar is die Heilige Gees geleë?” beantwoord.
Ons is ʼn tempel vir die Heilige Gees (1 Korintiërs 6:19 en 20). Dit beteken dat ons ‘n woonplek vir die Heilige Gees is en dat ons sy eiendom is, want Jesus Christus het ons met sy bloed duur gekoop. Dit beteken dat die Heilige Gees ons nie net besoek en dan weer vertrek nie, maar dat Hy in ons kom woon. Die idee wat die Bybel vir ons skep, sal ʼn figuur in die prentjie skep na die hoofvraag:
### “Hoe praat die Heilige Gees in en met ons?”
Daar is twee maniere waarop die Heilige Gees met ons praat. Eerstens deur die Skrif en tweedens deur die hart.
Dit is duidelik in die Bybel dat die Skrif die manier is waarop die Heilige Gees met ons “praat”. Die hoofrede vir die Skrif: dis vir ons ‘n manier om te leer oor God. Dit is ook neergelê deur God self, soos geskrywe in 2 Timotheüs 3:16 en 17\. Die feit is dat die Heilige Gees die Begeleier is. Ons lees dit in 1 Petrus 1:11, 12\. Dit wys daarop dat die wat glo, dus die mense in wie die Heilige Gees woon, nie deur hulself profeteer nie, maar deur die Heilige Gees (2 Petrus 1:21).
Die Heilige Gees praat ook met ons, deur die hart wat geskep is, deur die gelykenis in Mattheüs 13, dat ons hart soos ʼn plant moet vrugte dra. Die vrug se saad moet ook eers geplant word en dit gaan weer terug na die primêre manier van hoe die Heilige Gees met ons “praat”. In Psalm 119:11, “Ek het u woord in my hart gebêre”, sien ons dat ons God se Woord in ons harte kan vaslê deur die werking van die Heilige Gees. Ons kan daardeur sien dat ons ‘n gesprek met God kan voer - soos Jesus ook die dissipels in sy laaste onderrig geleer het (Johannes 15: 7).
Met die gesprek van die Heilige Gees, wat met ons “praat”, vind ek as skrywer troos dat God met ons ʼn gesprek voer en dat dit nie eensydig is nie. Daarmee kan ons sien dat God se liefde vir ons en al drie Persone (die Vader, die Seun en die Heilige Gees) ‘n rol speel in ons geloof.
### Verwysings:
Die Bybel
[https://bybelskool.com/hoe-praat-die-heilige-gees/](https://bybelskool.com/hoe-praat-die-heilige-gees/?ref=olielamp.vgk.org.za) deur Chris van Wyk, 24 Mei, 2018.
[https://www.vgk.org.za/preke/24016](https://www.vgk.org.za/preke/24016?ref=olielamp.vgk.org.za) deur Ds. C Kleyn 15 Junie 2003.
Olielamp links: [Instagram](https://www.instagram.com/die%5Folielamp/?ref=olielamp.vgk.org.za) | [Facebook](https://www.facebook.com/profile.php?id=100090955115440) | [Skryf vir ons!](https://olielamp.vgk.org.za/skryf-vir-ons/) | [Meer oor die Olielamp](https://olielamp.vgk.org.za/about/)
### Ontmoet die Heilige Gees in die Ou Testament
URL: https://olielamp.vgk.org.za/ontmoet-die-heilige-gees-in-die-ou-testament/
Last updated: 2023-03-11T12:17:05.000Z
*Geskryf deur Arjan Boon, VGK Pretoria-Maranata*
Wanneer ‘n mens aan die werk van die Heilige Gees dink, dink ‘n mens baie keer net aan die Nuwe Testament waar die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag en sedertdien mense uit alle nasies tot geloof in Christus gekom het. Die Heilige Gees was egter ewe aktief in die Ou en die Nuwe Testament. God Drie-enig is ewig en ‘n mens kan sy werke regdeur die geskiedenis waarneem.
In die Ou Testament word daar na die Heilige Gees verwys as “die Gees van God” of “die Gees van die Here”. Die Gees van die Here was, is en bly deel van die Drie-eenheid. Dis die Gees van die Here wat mense in staat stel om Godgegewe opdragte uit te voer.
Die Gees van die Here was deel van die skepping. In **Genesis 1:2** staan daar dat die Gees van God oor die waters van ’n woeste en leë aarde gesweef het. Hier dui die Bybel aan dat die Heilige Gees ook teenwoordig was by die skepping as die “uitvoerende arm” van die Drie-eenheid. Wanneer daar in **Genesis 1:26** staan “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”, word die Drie-eenheid geïmpliseer. Oor hierdie vers is daar egter onenigheid. Sommige mense wat nie in die Drie-eenheid glo nie, sê dat hierdie “Ons” nie die Drie-eenheid impliseer nie. Skynbaar is hierdie voornaamwoord slegs gebruik om die belangrikheid of grootheid van God uit te wys, net soos dit die gewoonte is om vandag koninklikes in die meervoud aan te spreek. Daarteen is egter tereg ingebring dat die Hebreeuse taal nie so ‘n “majesteitsmeervoud” gehad het nie. Ook is dit nog nie ’n rede om die Drie-eenheidsleer te verwerp nie. Die Skrif getuig van Homself. Ons ken talle ander teksgedeeltes wat van die Drie-eenheid getuig. In **Job 33:4** getuig Job dat die Gees van God hom geskape het en dat die asem van die Almagtige hom lewend maak. Die asem van die Almagtige wys na die Heilige Gees. Wat ’n mooi getuienis! Job getuig dat die Heilige Gees in hom woon en werk.
Deur die loop van die Ou Testament sien ons die werk van die Heilige Gees. God se uitverkore volk is soos ’n skip wat op die regte pad gestuur moet word. God stuur leiers om sy volk op die regte pad te hou. God stuur vir Moses. Moses het die werking van die Heilige Gees geken en ervaar. Die HERE het neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie (**Numeri 11:25**). Hierdie Ou Testamentiese uitstorting van die Heilige Gees is baie soos die uitstorting van die Heilige Gees in die Nuwe Testament, maar verskil in die opsig dat net Moses en ’n geselekteerde 70 manne die Heilige Gees ontvang het. In die Nuwe Testament ontvang mense uit alle volke en nasies die Heilige Gees. In die Ou Testament was slegs God se volk Israel deel van die verbond, maar in die Nuwe Testament mag mense uit alle volke, tale en nasies deel hê aan God se verbond, waarin hulle die Heilige Gees ontvang.
Wanneer dit sleg gegaan het met God se volk Israel, het God rigters gestuur om hulle te lei. Die Gees van God het oor hulle gekom en hierdie leiers krag gegee om die volk te lei. ’n Voorbeeld van so ’n leier is Gideon. Dit gaan nie goed met die volk Israel nie, hulle dien God nie meer nie. Hulle aanbid boomstamme en kniel voor Baäl. God stuur ’n rigter om sy volk te lei. Die Gees van die Here het Gideon vervul en hy het op die ramshoring geblaas en ’n leër agter hom aangeroep. Deur die geskiedenis van die Rigtertydperk het die Gees van die Here verskeie persone vervul wat die volk van die Here gelei het. Die Heilige Gees het wedergeboorte, vervulling, weerhouding en bekragtiging vir diens in mense se harte gewerk. Wanneer die Gees van die Here oor die volk van die Here vaardig was, het dit goed gegaan met hulle.
Die profete het die heiligheid van die Heilige Gees verkondig. Hierdie heiligheid troos nie net nie, maar vermaan ook. In **Jesaja 4:4** staan daar dat die Here die onreinheid van die dogters van Sion afwas en die bloedskulde uit Jerusalem wegspoel deur “die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging”. Die Heilige Gees is God en het daarom Goddelike kwaliteite. “Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?” (**Jesaja 40:13**) Jesaja voel klein en is onder die indruk van die Gees van die HERE
Joël was ‘n Ou Testamentiese profeet wat oor die koms van die Heilige Gees op Pinkster geprofeteer het (**Joël 2:28-29**). Joël profeteer van ‘n nuwe era wat gaan kom met die koms van die Messias. Deur die koms van die Leraar, Christus, sal die straf van die volk afgeweer word. Die koms van die Leraar en die uitstorting van sy Gees sal die begin van God se heilstyd aandui. Esegiël profeteer ook oor die koms van die Heilige Gees. “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe Gees in julle binneste gee en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en aan julle ‘n hart van vlees gee.” Die Heilige Gees sal oor alle nasies gestort word sodat ons almal vir God kan verheerlik en deel van sy koninkryk mag word.
Ons mag in die werk van die Heilige Gees deur al die eeue waarneem hoe God sy raadsplan uitvoer. In die Ou Testament sien ons hoe die bediening van die Heilige Gees heengewys het na Jesus Christus. Toe Hy gekom het in die volheid van die tyd, is die Heilige Gees oor die gelowiges van alle volke, tale en nasies uitgestort.
### Nagmaal en die wyse waarop ons Nagmaal vier
URL: https://olielamp.vgk.org.za/nagmaal-en-die-wyse-waarop-ons-nagmaal-vier/
Last updated: 2023-03-05T20:36:15.000Z
*Geskryf deur Mariaan Smit, VGK Pretoria*
Die Nagmaal is ‘n maaltyd wat ons herinner aan die kruisdood van Christus as ‘n versoening vir ons sondes. Die Nagmaal is ook ‘n maaltyd wat ons telkens met verwagting en verlange laat uitsien na die wederkoms van Christus en die bruilofsmaal van die Lam. Die Nagmaal verbind ons met die gekruisigde, verhoogde en komende Christus.
## ****Wat beteken die Nagmaal vir ons?**
As ons as Christene die Nagmaal vier moet ons dit doen tot Sy gedagtenis. Met die tekens van die brood en wyn in die hand, dink ons terug en vooruit – terug aan lyde en vooruit na verlossing; terug aan dood en vooruit na lewe; terug aan ‘n oop graf en vooruit na ‘n gedekte tafel.
Die Nagmaal beloof ons ‘n egte dankbare lewe tussen die veilige mure van ‘n Vaderhuis, met harte wat opwaarts in die hemel verhef is en gesigte wat straal van ware blydskap aan die bruilof tafel van die Lam.
Soos ‘n verloofring ‘n pand van trou is, so is die Nagmaal God se seël en pand van trou aan sondaars, sodat ons kan weet dat Hy ons lief het. Die nagmaal is ‘n teken en seël van die vergewing van sonde deur die bloed van Christus vir almal wat in Hom glo.
## ****Die wyse van Nagmaalsviering**
### ****Voorbereiding**
Ons moet onthou dat die nagmaal ‘n gemeente-maaltyd is. Wanneer mense hulleself soos ongelowiges gedra, word die verbond van God ontheilig en die toorn van God oor die hele gemeente verwek. Daarom moet die ouderlinge saam voor God verantwoording doen van elke lidmaat se lewe. (Jesaja 1, 1 Korintiërs 11, Psalm 50)
‘n Ouderling kan nie ‘n persoon se hart lees nie, maar hulle het die gesag van Christus gekry om elke lidmaat voor die Here te konfronteer oor sy leer en lewenstyl. Die ouderlinge moet dus die lidmate toerus om self sy/haar lewe te ondersoek.
Elke persoon wat die nagmaal wil vier moet nadink oor sy/haar sonde en dit eerlik opneem in gebed teenoor die Here. Elkeen moet dan vasstel of hy/sy glo dat die sonde vergewe en weg gewas is, omdat Christus vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Elkeen moet dan ook sy gewete ondersoek of dit sy/haar voorneme is om van nou af met sy hele lewe aan God dankbaarheid te bewys.
Wanneer die nagmaal gevier word, sal die bedienaar van die Woord begin deur die formulier van die Heilige Nagmaal aan die gemeente voor te lees. Die formulier het die volgende indelings naamlik:
- Instelling
- Selfondersoek
- Uitnodiging & teregwysing
- Soek jou lewe in Christus
- Ons gedenk Christus
- Christus voed ons tot die ewige lewe
- Ons word in broederlike liefde saamgebind
- Ons verwag Christus se wederkoms
- Verootmoediging & gebed om oorgawe aan Christus
- Belydenis van geloof
- Viering van die nagmaal
- Lofverheffing
- Dankgebed
## ****Maniere van die Nagmaalviering**
Die Nagmaalviering moet sodanig plaasvind dat die aksent val op die versoeningsdood van Christus en gemeenskap met Hom en mekaar. Daarom moet eerstens gekyk word na die manier waarop Christus die Nagmaal ingestel het.
## ****Soos Christus die Nagmaal ingestel het**
Die Nagmaalviering het in die nag plaasgevind, die vorm van ‘n maaltyd aangeneem en het aan ‘n tafel plaasgevind waarby al die dissipels aangelê het, gesigte na mekaar gekeer; daar is ongesuurde brood gebruik wat ten aanskoue van die dissipels gebreek is; gegiste wyn is bedien en almal het uit een beker gedrink. (Matt 26, Mark 14, Luk 22, 1 Korintiërs 10 & 11)
## ****Die wyse hoe die Vrye Gereformeerde Kerke die Nagmaal vier**
Die formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal word deur die Woord bedienaar aan die gemeente voorgelees. Die diakens sal die tafel wat met wit linne bedek is in gereedheid bring en daarna sal die ouderlinge die gemeentelede wat geregtig is om die Nagmaal te vier uitnooi na die nagmaal tafel waar Christus die eregas aan die tafel is.
Die Woord bedienaar sal die “hartverheffing” gedeelte uit die formulier van die Heilige Nagmaal lees en dan daarna sal die brood gebreek word en aan al die gemeentelede wat aan die tafel sit uitgedeel word. (Die brood dui op die liggaam van Jesus Christus)
Die beker sal ook aan die gemeentelede wat aan die nagmaal tafel sit aangegee word. (Die wyn dui op die bloed van Jesus Christus)
Die Woord bedienaar sal die nagmaal tafel afsluit en dan sal die gemeentelede weer hulle sitplekke inneem.
Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Daar moet egter verstaan word dat die Nagmaal ingestel is deur Christus en dat die Nagmaal ordelik gevier moet word. Alle bygeloof moet vermy word en die formulier van die Heilige Nagmaal moet voorgelees word waarna daar ook ‘n gebed moet volg.
As ons Nagmaal reg gebruik, sal ons groei in die geloof, vaster gebind word aan Christus, aan mekaar en vol moed voortbeweeg op pad na die land van die belofte!
### Dood vir die sonde, lewend in Christus
URL: https://olielamp.vgk.org.za/dood-vir-die-sonde-lewend-in-christus/
Last updated: 2023-03-05T20:33:51.000Z
*Geskryf deur Iwan de Jong, VGK Pretoria-Maranata*
Waarom word die Seun van God **Jesus*, wat Verlosser beteken, genoem?
Só word vraag 29 van die Heidelbergse Kategismus gestel. Jesus Christus is ons Verlosser, maar wat beteken dit eintlik? Ek wil graag die aandag rig op die boek Rut, ‘n boek in die Ou Testament wat stilweg die verstaan van Jesus Christus se roeping op aarde vir ons baie mooi uiteensit.
# ****Dood vir die sonde**
Die verhaal van Rut is vir ons baie bekend. Elimeleg se gesin het vertrek na Moab uit kleingeloof om tydelik verblyf te soek te midde van die hongersnood in Israel. Sy twee seuns, Maglon en Giljon, het met Moabitiese vroue getrou. Vir Elimeleg en Naomi was die verblyf dalk tydelik, maar die Here het dit nie toegelaat nie. Die Here het vir Elimeleg uit die lewe geneem en kort daarna vir Naomi se twee seuns ook. Daar sou vir Elimeleg geen nakomelinge gebore word nie, ‘n groot jammerte. Naomi het verlang na haar tuiste, na mense wie sy ken, na ‘n kultuur waaraan sy gewoond was. Rut het ook saamgekom, nie net om Naomi by te staan nie, maar om die God van Israel te dien (Rut 1:16).
Die eerste hoofstuk van Rut 1 kan vergelyk word met die geskiedenis van die mensdom. Die mens het beter geweet as God. Hy wou sy eie pad kies. Ons het in sonde geval en die Here straf ons ook met die dood (Genesis 3:19b). Soos Elimeleg sy eie pad gekies het, so het ons ook ons eie pad, die sonde, gekies. Deur die sonde is ons ook dood, ons het geen toekoms nie, want ons sterwe beteken die einde van ons lewe.
# ****Lewend in Christus**
Die verhaal van Rut vervolg dan met ‘n baie belangrike konsep van ‘n losser. Die Here het die lossingsreg in Levitikus 25 ingestel. Wanneer die pa van ‘n gesin sterf en daar vir hom geen nageslag agtergelaat is nie, mag die naasbestaande as losser intree vir die gesin. Die aand toe Rut terugkom van die koringlande van Boas, het Naomi vir Rut vertel van die lossingsreg en dat Boas die naasbestaande aan Elimeleg was. Boas het toe, nadat hy toestemming gekry het van die naasbestaande losser van Elimeleg, die lossingsreg aanvaar. Daar is toe vir Rut en Boas ‘n seun met die naam van Obed gebore. Obed het die vader van Dawid geword uit wie die Christus gebore sou word.
Die verantwoordelikheid wat Boas op hom geneem het om die lossingsreg te aanvaar kan ons vergelyk met die moederbelofte wat God in Genesis 3:15 vir ons gegee het. Die Here het nadat ons in sonde geval het, ons ‘n nuwe toekoms gegee, ‘n helder Lig wat tot in ewigheid by ons sal wees. Ons, wat anders die ewige dood moes verdien, het Hy deur sy genade vir ons Sy Seun gestuur om as Losser vir ons op te tree. Ons mag deur sy verlossingsdaad die ewige lewe in Hom ontvang. Soos die Here die bittere Mara se toekoms in ‘n blye nageslag verander het, so het Hy ook ons lewe verander deur sy eie Seun te verlaat, sodat ons nooit weer deur Hom verlaat sou word nie (Johannes 3:16).
Die blydskap wat daar in Naomi was dat daar vir haar en haar man ‘n nageslag mog wees, is dieselfde blydskap wat ons daagliks mag uitleef dat ons uit die ewige dood opgerig is tot ‘n nuwe lewe in Christus, ‘n lewendige Fontein waarvan ons nooit meer dors sal kry nie!
### Wanneer eksamen stres te veel word
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wanneer-eksamen-stres-te-veel-word/
Last updated: 2023-03-05T20:32:35.000Z
*Geskryf deur Marna Potgieter, VGK Bellville*
Almal moes al in hulle lewe ‘n toets aflê. Dit begin al in laerskool en vir sommige mense gaan dit aan tot ver in hulle volwasse lewe. Almal weet hoe dit voel voor jy die lokaal betree vir eksamen, voor jy in die motor klim om jou bestuurslisensie te haal of op pad na ‘n saal om toelatingseksamens af te lê vir tersiêre opleiding. Dit is op die beste van tye nie ‘n lekker gevoel nie.
Dit is natuurlik ‘n voorreg om eksamen te kan aflê of om die geleentheid te hê om aansoek te kan doen vir verdere studies, maar, net voor jy jou pen optel, dink ‘n mens meestal nie daaraan nie. En dit is menslik. Stres is deel van die lewe – hoe jy dit hanteer wat die verskil maak. Maak dit van jou ‘n ongelowige as jy ‘n knop in jou keel het of as jou hande bewe? Nee, glad nie, maar jy kan dit vir jouself makliker te maak deur (i) die regte ding te doen, (ii)op die Here te vertrou, (iii) in Hom te rus en (iv) perspektief te behou.
### Doen die regte ding
Almal sal saamstem dat as jy nie getrou jou werk doen nie, jy nie seën daarop kan verwag nie. Aan die ander kant is dit ook nie geval van “do your best and God will do the rest” nie. Alles in die lewe is een – jy kan nie jou geloof losmaak van enige iets wat jy in die lewe doen nie. Jou geloof in God is deel van jou gaan slaap en opstaan… jou alledaagse lewe. Dit moet dus ook ‘n rol speel in jou studies en eksamens. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat jy in alles wat jy doen, ‘n kind van God is en jy daarom jou werk tot Sy eer moet doen.
**“En wat julle ook al doen, doen dit van harte, soos vir die Here en nie vir mense nie…”*
**Kolossense 3:23*
### Vertrou op die Here
As jy dan voorberei vir jou eksamen, moenie op jou eie kragte of kalmte staatmaak nie. Ons weet tog dat ons tot alles in staat is deur God wat ons krag gee. Ons is nie, soos die wêreld ons wil wysmaak, tot alles in staat as ons hard genoeg werk of dit graag genoeg wil hê nie. Alles is gawes van God af: die geleentheid om te leer en te kan eksamen skryf, die verstandelike vermoëns om te kan studeer, die vermoë om te kan fokus en te konsentreer – en selfs vrede en kalmte terwyl ons dit doen.
Daarom – as ons vir eksamens voorberei of enige spanningsvolle situasie tegemoet gaan, laat ons eers tyd saam met ons Here spandeer.
“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:6-7)
### Rus in die Here
As ons ons vertroue in God stel, moet ons ook in Hom rus. Ons kan so erg op ons eie kragte staatmaak of onsself wysmaak dat ons net nog harder moet werk as ons seën wil verwag op ons studies. Beplan jou studies, doen jou werk, maar rus in die Here. Vertroue bring rus. As jy tot die Here gebid het vir kalmte en sukses in jou studies, gaan werk dan en rus. Moenie saans leer tot jy gaan slaap nie – maak tyd om die Bybel te lees en te bid, om rustig te raak voor jy gaan slaap. Buiten die feit dat dit goed vir jou is om so te gaan slaap, kan God enige iets vir jou gee in jou slaap gee.
Rus in die Here op Sondae, tydens Bybelstudie en katkisasie – moenie sonder ophou studeer nie. Gee aan God die eer wat Hom toekom. Hy bepaal die gang van jou lewe. Geen haar sal van jou hoof val sonder dat Hy daarvan weet nie. Hy is met jou tot die voleinding van die wêreld.
Kyk na geloofshelde soos Dawid en Daniël. Dawid het vir sy lewe gevrees en Daniël was besorgd oor sy volk in ballingskap. Beide het nie opgehou om God te aanbid nie – geen aardse magte of kragte het hulle van God kon skei nie. Die Psalms is vol van Dawid wat uit vrees na God gaan en dan rus vind – in dieselfde Psalm. Van Daniël is gesê dat hy voortreflik en nougeset was in alles wat hy gedoen het, en steeds het hy God aangeroep en op Hom gewag. Hy het nie sy eie planne gemaak nie. Die twee manne het baie groter angste en bekommernisse gehad as bloot ‘n eksamen, maar ons kan baie leer uit hoe hulle met hulle vrese en spanning na God gegaan het.
“Ek sal gerus gaan slaap in vrede en ongestoord lê ek my neer, want U alleen verhoor by bede, U waak oor my in teënhede.” (Psalm 4 – berymd)
### Behou perspektief
As ‘n mens Dawid en Daniël se psalms en lewensverhale lees, kan jy nie anders as om te besef dat jy perspektief moet behou nie. Eksamens is net ‘n onderdeel van ons lewe, moontlik ‘n belangrike onderdeel, maar nogtans net ‘n onderdeel. Eksamens is belangrik, want ons as Christene moet ons plek vol staan in die samelewing – ook sodat ons ander mense tot seën kan wees. Eksamens bepaal nie of jy ‘n suksesvolle lewe het nie. Net soos jou aardse besittings, kan jy ook nie jou geleerdheid saam met jou neem as jy sterf nie. ‘n Suksesvolle lewe is ‘n lewe saam met God – om kennis van ons Redder, Jesus, te versamel en uit dankbaarheid en vreugde te lewe – al is jou lewe hoe eenvoudig.
“Wat het ek in die Hemel Heer? Wat kan ek newens U begeer? Wat het ek waar my hart onrustig hom in die aarde kan verlustig?” (Psalm 73 berymd)
So, as die eksamenstres te veel word, word stil, bid, gaan werk en gaan rus – in die Here! Ervaar hoe waar Dawid se woorde is in Psalm 94:19 waar hy bid en vir die Here sê dat wanneer sy gedagtes te veel en te deurmekaar word, versterk die Here se trooswoorde sy siel. Niks in ons lewe is te onbelangrik om oor te bid nie. Jy is in ‘n verhouding met God, praat dan ook met hom as dit minder goed gaan en die eksamenstres te veel word. Luister dan ook na Sy liefdevolle raad en vertrou Hom, want op Hom kan jy staatmaak.
### ****Bronne:**
- Die Bybel
- Die Vox Viva Toep
- www.vgk.org.za
- www.gkwonderboompoort.org
- www.christianstudylibrary.org
### Een Middelaar tussen God en mens
URL: https://olielamp.vgk.org.za/een-middelaar-tussen-god-en-mens/
Last updated: 2023-03-05T20:30:34.000Z
**Geskryf deur Martha de Winter, VGK Pretoria*
In die brief aan Hebreërs word Christus as ons Middelaar aangedui. Die uitdrukking ‘Middelaar van die verbond’ vind ons in Hebreërs 8:6 en 9:15.
‘n Middelaar is ‘n tussenganger wat as ‘n skakel tussen twee partye optree. Die middelaar help die twee partye om hulle met hul verskille te versoen. “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Timotheüs 2:5). Ons is besmet met sonde en daarom het ons Christus as Middelaar nodig om vrede tussen God en ons te bevestig.
Die mens se sonde is so oorweldigend, dat geen goeie werke van ons of die navolging van ‘n stel godsdienstige reëls ons regverdig by God maak nie. Artikel 26 van die Nederlandse Geloofsbelydenis handel oor Christus se voorspraak wat hy vir ons by God is. Daar is dus geen ander toegang tot God nie as deur Jesus Christus. Ons ontvang vergewing as ons, ons sonde bely. Dit vind slegs plaas omdat ons ‘n “helper” het wat vrede met God het (Efesiërs 2:14: “Want Hy is ons vrede”). Die mens kan nie op hul eie hul met God versoen nie. God kan ook nie sonde vergewe sonder dat geregtigheid plaasvind nie.
’n Middelaar was nodig om dinge reg te maak, iemand wat volkome sondeloos was, maar tog volkome mens ook was. Jesus was volkome in staat om die sondes van die wêreld op hom te neem. Gelukkig hoef ons as sondige mense nie op ons eie optrede staat te maak nie.
Christus, ons Voorspraak, verstaan ook presies wat in ons lewe aangaan. Hy is nie ver van hierdie lewe van ons verwyder nie. Hy het self ook op hierdie aarde geleef en gely, daarom het Hy ook volkome begrip vir ons huidige situasie op aarde. Slegs die offer van die sondelose, vlekkelose Seun van God kan ten volle die losprys betaal wat nodig is om mense vry te maak van sonde en die ewige dood. Jesus het ons straf op Homself geneem, wat dit vir ons moontlik maak om vergifnis van sonde en vryheid van die vernietigende beheer daarvan te ervaar.
Christus is ons enigste volmaakte Middelaar. Geen mens kan ooit in Christus se plek staan nie. Hy alleen staan in die gaping tussen God en mens. Hy alleen voldoen aan die regverdige vereistes van die wet, wat die weg oopmaak na God se teenwoordigheid vir eens en vir altyd deur Sy kruisdood en opstanding tot lewe. Ons moet ons aandag rig op Christus. Ons moet ons besig hou met die Woord van die Here, want dan bly jou aandag op jou enigste Middelaar. Soos ons herinner word in Johannes 16:23: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.” Hy is die verskil tussen ewige redding en ewige dood. Daar is uiteindelik net Een aan wie ons behoort: aan Jesus Christus (1 Korintiërs 3:23: “maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God”)!
In Christus lê die oproepe en die beloftes van die HERE God in hulle volle krag by ons op die tafel. Christus staan in die middel van die verhouding tussen God en die sondige mens. Dit is Hy in wie God se versoening na ons kom. Christus is ons Middelaar van die verbond van Genade.
Christus het namens die mens gewerk en ‘n nuwe en beter verbond gebring met die versekering van die ewige lewe vir almal wat op Hom vertrou.
### ****Bronne:**
**Got Questions. 2020\.* https://www.gotquestions.org/one-mediator-between-God-and-man.html**Datum van toegang: 22 September 2022*
Ds. C Kleijn. 2006\. Christus is ons enigste en volmaakte Voorspraak.
Ds PG Boon. 2010\. Christus is ons enigste Middelaar en Voorspraak.
Ds. HH van Alten. 2011\. Ek deel nie my Christus nie.
Ds. PG Boon. 2021\. Christus is ons Voorspraak.
N. Hendriks. Daar Word vir Ons Gebid! https://www.christelikemedia.org/article/daar-word-vir-ons-gebid Datum van toegang: 22 September 2022
T Brienen. 2018\. Die Middelaar van die Verbond.
### Calvary Chapel Ontario Resensie
URL: https://olielamp.vgk.org.za/calvary-chapel-ontario-resensie/
Last updated: 2023-03-05T20:27:53.000Z
*Geskryf deur Marlouise van der Meer, VGK Pretoria-Maranata*
Ons lewe in ‘n tyd waar sosiale media nie ongewoon of vreemd is nie. Ons word daagliks gebombardeer met inligting van gebeure regoor die wêreld. Dit is soms moeilik om te onderskei wat waarheid is en wat nie, veral as dit kom by **channels, websites,* en **Instagram accounts* wat sê dat hulle christelik is.
Die **channel* wat ek hier **review* is “Calvary Chapel Ontario.” Dit is die Youtube-**channel* van die Calvary Chapel kerk in Ontario in Kanada. Pastoor is Paul LeBoutillier. Inligting oor hom en sy opleiding ontbreek.
### Beskrywing
Die **channel* bestaan uit **live streams*, vraag en antwoord video’s asook preke oor elke boek uit die Bybel. Oor die algemeen word hoofstukke vers vir vers behandel, terwyl sekere hoofstukke gekombineer word. Daar is ook Bybelstudies spesifiek vir vrouens wat deur Paul se vrou, Sue, aangebied word. Die preke is gewoonlik tussen ‘n halfuur en ‘n uur lank. Die preke word eenvoudig aangebied met diepte, maar maklik te verstaan. Die pastoor praat baie passievol oor die Woord van die Here — maklik om na te luister.
Op die kerk se **website* word hulle geloofstandpunte beskryf. Hulle glo ook soos ons Gereformeerdes dat die Bybel geïnspireerd is deur die Heilige Gees, dat dit die Woord van God is, dat God drie Persone is maar een Wese en in verlossing deur genade alleen.
Ongelukkig glo hulle in die 1000 jaar vrederyk en nêrens word iets van die belydenisskrifte genoem nie. Dit hoef ons nie te ontmoedig om die video’s te kyk nie, maar ons behoort wel versigtig en oplettend te wees as daar oor die wederkoms gepraat word. Hierdie kerk se oortuigings is soortgelyk aan die Gereformeerde Baptiste. Prediking oor die boek Openbaring moet ook versigtig benader word.
### Gevolgtrekking
Ek dink dit is ‘n goeie bron van informasie om die Bybel beter te verstaan en diepgaande te bestudeer. In die preke word woorde en frases, wat mens maklik mis lees of as onbelangrik beskou, uitgelig. Aktuele onderwerpe, krisisse en sondes van ons tyd word ook na vore gebring en bespreek.
Die **channel* het ‘n hele projek gehad, **Through the Bible with Pastor Paul*, waarin hulle die hele Bybel deurgewerk het. Omdat die meeste Bybelgedeeltes vers vir vers behandel word, kan mens ook maklik die video’s opdeel vir ‘n paar dae, veral omdat van die video’s nogal lank is. Mens kan dit gebruik as daar voorstudie gemaak moet word of selfs tydens Bybelstudie-ure. Die preke is ook in die vorm van ‘n klankbaan beskikbaar op hulle **website.*
Om meer inligting te verkry oor hierdie kerk en hulle preke, volg gerus hierdie skakel: [https://www.ccontario.com/](https://www.ccontario.com/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Hier is een van hulle preke:
### Die opstanding van Jesus is die gelowige se bron van lewe
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-opstanding-van-jesus-is-die-gelowige-se-bron-van-lewe/
Last updated: 2023-03-05T20:25:37.000Z
**Geskryf deur Biance De Beer, VGK Kaapstad*
### Inleiding
Die hiernamaals is ‘n skrikwekkende gedagte. Elke mens verstaan dat die dood ‘n onvermydelike gedeelte van die lewe is. Meeste is bang daarvoor. Dit is ‘n misterie, want daar is so baie teorieë van wat met ons gebeur as ons dood gaan. Wanneer dit kom by gesprekke oor die dood, gaan dit meestal oor die dinge wat agtergelaat word: jou familie, jou goed, jou nalatenskap.
Maar wat dan van na die dood? Wat is die doel van lewe, as alles maar net eendag gaan vernietig word deur een of ander natuurlike ramp? Hoe leef mens doelgerig met die wete dat jou liggaam elke dag ouer en sieker word, en eendag sterf?
### 1\. Deur Jesus se opstanding het ons oorwinning oor die dood
God het die mens geskep om Hom te aanbid en Sy heerlikheid uit te straal. Ons was goed in God se oë en heeltemal perfek.
Adam en Eva was egter ongehoorsaam aan die wet van God en het in sonde geval. Skaamte het die mens oorval. Sonde het korrupsie van die natuur en die menslike hart veroorsaak. En deur die sonde het verval en die dood in die wêreld gekom.
Die dood het die natuur en die mensdom binnegedring, wat orals sigbaar is. In die natuur hang als af van oorlewing. Diere verskeur en verslind mekaar om bo ander in die voedselketting te bly. In die wêreld, maak mense hoe hulle wil en elkeen dra net sy eie belang op sy hart. Bowenal het die mens geestelik gesterf en kontak met sy Skepper verloor.
Maar God het van ewigheid af beskik dat Jesus sou kom om te sterf. Deur Sy bloed kan ons weer met God versoen word. Want deur Sy opstanding sou Hy die fisiese en die geestelike dood vernietig.
Jesus het die oordeel wat ons toekom op Hom geneem en daarvoor betaal. Deur Sy dood is ons vergewe en deur Sy opstanding staan ons nou heilig voor God (Rom 4:25). Nou kan ons deur Sy opstanding uit die geestelike en fisiese dood opgewek word.
Daardeur kan ons nou ʼn lewendige verhouding met God hê. En ook ‘n lewende hoop om eendag uit die dood opgewek te word. Deur Jesus se opstanding het sonde en die dood nie meer ‘n houvas op ons nie.
### 2\. Deur Jesus se opstanding het ons ‘n nuwe lewe
As nageslag van Adam, word almal in sonde gebore en ontvang.
Dit beteken die mens is geestelik dood vir die dinge van God. Ons het geen begeerte na die Woord van God en om Hom te gehoorsaam nie. In ons diepste wese het ons sleg geword. Ons harte was verrot.
Dit het ons verhouding met God en mekaar beskadig. Ons het ander dinge buiten God begin aanhang. Selfsug, afgodery en seksuele sondes.
Kyk byvoorbeeld hoeveel haat en nyd daar in ons wêreld is. Identiteitlose mense probeer identiteit vind in hul sondes, soos byvoorbeeld die LGBTQ+ gemeenskap.
Die definisie van menslike lewe is deesdae so afgewater, dat aborsie op amper enige fase van ‘n baba se lewe moontlik is.
Goddank vir die dood en opstanding van Jesus. Daardeur kan mense gered en verander word.
Kyk byvoorbeeld na Paulus. Iemand wat Jesus gehaat en die kerk vervolg het. God het hom verander na iemand wat Jesus passievol liefgehad het.
Deur die Gees verenig God ons met die opstanding van Jesus. Daardeur verlos Hy ons van ons ou sondige bestaan, om in ‘n nuwe lewe te wandel. Deur Jesus se dood kan ons ou, sondige mens, wat lief is vir die sonde, sterf. En deur Sy opstanding, kan ons as nuwe mense opstaan, wat lewe vir die dinge van God (1 Pet 4:1-2; Kol 3:1-4). Iemand wat die lewe en liefde van God uitstraal rondom hom/haar. Iemand wat nederig en Godvresend is, en die Woord van God liefhet en gehoorsaam. En ook sy naaste liefhet soos wat Jesus ons liefgehad het.
Ons fokus moet wees om God se wil te verstaan. Dit vind ons net deur daaglikse Bybelstudie, oordenking van God se Woord, gebed en die samekoms van die heiliges.
### 3\. Deur Jesus se opstanding het ons die ewige lewe
Nie net gee Jesus se opstanding ons ‘n nuwe lewe hier en nou nie, maar ook die vaste hoop op ‘n ewige lewe, wanneer Hy weer terugkom. As gevolg van die hoop, het ons ‘n passie vir die goeie nuus dat ons gered is. Dit word die enigste rede waarom die lyding hier op aarde die moeite werd is.
Hy het liggaamlik gesterf sodat Hy met ‘n nuwe verheerlikte liggaam kon opstaan. Hy het ook met dieselfde liggaam opgevaar na die hemel, waar Hy aan die regterhand van God sit. Sy liggaamlike verheerliking beteken dat ons ook met ‘n verheerlikte liggaam opgewek sal word. Ons siel sal weer met ons eie liggaam verenig word, maar hierdie liggaam sal ‘n verheerlikte liggaam wees. Ons weet nog nie hoe dit sal lyk nie, maar ons kan verseker wees dat dit vêr beter sal wees as ons aardse liggaam.
As versekering daarvan, het Hy die Heilige Gees as ‘deposito’ gestuur om in ons te woon. Deur die Gees ontvang ons die krag om God te dien in ons roeping as beelddraers (1 Kor 15:58).
Daardeur word ons hemelse burgers, wat die terugkeer van ons Koning verwag. In ‘n oogwink sal die wat lewe verander word, en die wat reeds dood is, verenig word met ‘n nuwe verheerlikte liggaam. Ons gaan dan op die nuwe hemel en aarde saam met ons geliefdes, wat in Christus gesterf het, woon.
Daar gaan geen dood wees nie, want Jesus gaan self ons trane afdroog en alle pyn en smart wegvat. Ons nuwe liggaam sal geen sonde ken nie, maar slegs liefde en aanbidding van ons Here Jesus Christus.
### Ten slotte
Ons kan ons hoop vind in die kruising en opstanding van Jesus, want deur Hom is ons vergewe. Die opstanding gun ons die moontlikheid om gered te word deur die genade wat God ons skenk. Ons word eenmalig geheilig deur die werk van Jesus. En dan word ons daagliks deur die Heilige Gees gely in ‘n heilige lewe om God te verheerlik.
Deur Jesus Christus is ons erfgename van die ewige lewe, ‘n geskenk wat net moontlik is deur die opstanding. Ons word ook deel van God se bruid, sy kerk. Ons word geroep om te dien, om ‘n lig en sout in die wêreld te wees, selfs deur die bespotting en veragting van die wêreld. En deur dit alles, leef ons met die vaste hoop dat ons Here Jesus Christus weer gaan terugkeer om sy uitverkorenes, sy bruid, te kom haal.
### Word die nature van Christus geskei?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/word-die-nature-van-christus-geskei/
Last updated: 2023-03-05T20:24:04.000Z
**Geskryf deur Johan Bunk, VGK Pretoria*
Ons sien reeds in Genesis 3:15, na die sondeval van die mensdom, dat God belowe om ‘n Verlosser te stuur. Die Verlosser wat gestuur is, is Jesus Christus, wie die Seun van God is. Hy is deur die werking van die Heilige Gees, in die maagd Maria sonder die toedoen van ‘n man, verwek. Ons bely dat Christus volkome mens geword het en ‘n liggaam van vlees en bloed aangeneem het. Hy is gebore onder die Jode uit die afstammelinge van Juda (Hebreërs 7:14) en uit die geslag van Dawid (Romeine 1:3-4). Hy het gelyk geword aan die mens, behalwe in die opsig van sonde, want Hy was sondeloos. Daarom kan ons Hom ook bely as Immánuel, dit beteken: God met ons (Matthéüs 1:23).
### Erfsonde
Om te verstaan hoekom Christus aarde toe moes kyk ons nou eers na wat erfsonde is. Ons glo dat die erfsonde deur Adam, ‘n mens, se ongehoorsaamheid in die wêreld ingebring is en dat almal, selfs die kindertjies in die moederskoot, daarmee besmet is. Dit is waarin al die ander sonde hul oorsprong vind. Hierdie sonde is vir God so erg dat Hy die hele menslike geslag sal verdoem, maar dit word genadiglik nie aan die mens toegereken nie. In plaas daarvan vergewe God dit deur sy ewige barmhartigheid. Dit is die sondes van die mense waarvoor Christus moes sterf.
### Christus se twee nature
Maar hoe kan Christus vir ‘n hele mensdom se sonde sterf? Om dit te verstaan gaan ons nou kyk na die twee nature van Christus.
Ten eerste moes Hy ‘n volkome menslike natuur hê omdat die sonde deur ‘n mens in die wêreld ingebring is en dus moet ‘n mens ook daarvoor sterf. Hy moes ook die menslike siel en liggaam red, aangesien beide verlore was (Hebreërs 2:14-15). Daarom het Hy ook die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en gelyk geword aan die mens, maar sonder sonde (Filipense 2:6-8, dit is die gedeelte van die twee nature wat geskape is en wat ‘n begin en ‘n einde het.)
Ten tweede moes Hy ook ten volle God wees, want die toorn van God is te swaar vir ‘n mens om te dra. Dit is ook dié natuur wat nie geskep is nie en nie verbind aan tyd is nie, dus sonder begin en einde. Hy kon net deur sy Goddelike krag die dood oorwin.
Hy moes dus ware God wees sodat Hy die sonde kon oorwin en sodat Hy by sy sterwe sy waarlike menslike Gees aan die Vader kon oorgee. So was dit dan noodsaaklik dat Hy as mens, in sy menslike natuur, ten volle vir ons sonde betaal deur die krag van sy Goddelike natuur. Daarom kan Hy nou as Middelaar vir ons, mense, voor God die Vader staan.
### Hillsong
URL: https://olielamp.vgk.org.za/untitled/
Last updated: 2023-03-05T20:22:10.000Z
*Geskryf deur Johann Snijder, VGK Pretoria-Maranata*
### Wie is Hillsong?
“’n Gesonde kerk wat lewens verander deur Christus.” “Hillsong is ‘n kontemporêre Christelike kerk. Oorweldig deur die gawe van verlossing wat ons in Jesus gevind het, het ons ‘n hart vir outentieke aanbidding, is ons passievol oor die plaaslike kerk en is ons op ‘n missie om te sien hoe God se koninkryk regoor die aarde gevestig word.” So vind ons die Visie en die beskrywing van wie Hillsong is op hulle webtuiste. Gaan snuffel gerus en lees hulle stellings oor wat hulle glo op hulle webtuiste. Met die oogopslag dink ons miskien: “klink onskuldig genoeg?” Maar dit is nodig om dieper as die oppervlakte te grawe om werklik te verstaan waaroor dit gaan.
### Hillsong en God
Diep, Bybelse waarheid maak saak. In Johannes 4:24 lees ons (2020 vertaling): “God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees **en waarheid** aanbid.” Om God te aanbid op ‘n manier wat Hom behaag is dit nodig dat ons weet wie Hy is! Die aanbidding van Hillsong mik om ‘n gemaklike en ontspanne atmosfeer te skep. Dit maak sondaars gemaklik met die idee van ‘n regverdige en heilige God en alle vrees en eerbied word verwyder. Die god wat hulle aanbid deur hul liedere is ‘n passiewe, oulike, snoesige god. In hul geloofstelling op hul webblad lees ons dat hulle glo dat “God wil ons genees en transformeer sodat ons gesonde en geseënde lewens kan lei om ander meer effektief te help.” Hierdie god wat hulle aanbid is passief. Mens hoor telkens die taalgebruik “nooi God in om jou te help en lei” of “laat God in jou hart in”. Maar Jahweh, die Skepper van hemel en aarde, word nie gekeer deur jou wil nie. Jahweh is die God wat “alles doen wat Hom behaag” (Psalm 115:3) en wie se “koninkryk heers oor alles” (Psalm 103:19). As Hy, soos met Paulus, jou roep het jy geen sê in die saak nie.
Verder nog maak hulle God af om baie een-dimensioneel te wees. Die een eienskap van God wat altyd verreweg bo-aan staan is sy liefde. John MacArthur het pragtig gesê: “Jy kan nie een eienskap van God – enige eienskap van God – neem en dit isoleer asof dit God alleen definieer nie. God moet in al die totaliteit van al Sy eienskappe verstaan word.” God se liefde, ja! Maar net soveel sy regverdigheid, sy barmhartigheid, sy ewigheid ens.
Hulle aanbidding lyk miskien of dit baie opreg is. Sommige van ons sal miskien dink dat God enige vorm van opregte aanbidding aanvaar, maar dit is eenvoudig nie wat die Here ons leer nie. Dink maar aan Nadab en Abihu wat vreemde offers aan die Here gebring het, of aan Ussa wat eenvoudig maar die Ark wou stabilliseer. Of selfs aan die volk wat ‘n kalf gemaak het aan die voet van Sinai om die Here te probeer behaag. Maar die boodskap wat die Skrif ons leer is duidelik. Eiewillige godsdiens is nie vir die Here aanvaarbaar nie, ongeag die “goeie of opregte bedoelings” van die mens.
### Hillsong en die mens
Laat ons daarmee dan vir ‘n oomblik ook stilstaan by die mens. Ek sou argumenteer dat die een leer van die Christelike geloof wat deur mense die meeste misverstaan, die meeste afgewater of die meeste afgeskeep word is die totale verdorwenheid van die mens. Wanneer die mens probeer om sy eie gewete te sus deur hierdie leer te ignoreer of te verminder op een of ander manier, dan lei dit daartoe dat ons die Evangelie ook verkeerd verstaan. Die Bybel leer ons dat die mens se hart “bedrieglik is bo alle dinge” (Jer 17:9) en “dood is vanweë die sonde” en ook deur God alleen lewend gemaak kan word (Ef 2:1).
In die Hillsong aanbidding staan die mens sentraal. Vir hulle het die mens ongelooflike bydraende waarde. Die mens vervang Christus in die middelpunt van God se verlossingsplan. In die vierde “We Believe”-stelling op hul webblad sê hulle dat die punt van Christus se menswording was “om Sy oorwinning te bewys en ons lewenslank te bemagtig.” Sy doel was dus om ons ons volle potensiaal te toon. Dit is een van die groot dinge wat ons sien met die Hillsong kerk. **Die mens hoef nie te verander nie.* Die liedere beklemtoon maar net dat die Here jou volle potensiaal te voorskyn wil bring, en dat Hy nooit gekom het om jou te verander nie maar juis om net aan jou duidelik te maak wie jy nog altyd was. Tog lees ons in Johannes 3 van **wedergeboorte** en 2 Kor 5:19 dat “Christus die wêreld met Homself versoen het”. Die mens staan vir hulle byna onskuldig.
Vele male word die mens ook as die slagoffer voorgehou. Die woorde wat mens in hul liedere vind is menige male woorde soos **“trapped, enslaved, wounded, broken-hearted, hurting”.* Hoewel daardie woorde nie vreemd aan die bybelse leer is nie, is die oplossing wat hulle daarvoor gee nooit die versoening met God en die ontkoming van Sy wraak nie. Eerder word ons ore gestreel met stellings soos “God is lief vir jou nes jy is” of “God verstaan hoe moeilik jou lewe is” of “God het so ‘n wonderlike plan vir jou lewe”. Ons kan nie ontken dat daar werklik mense is wat ware slagoffers is nie, maar wanneer ons met die ewigheid te make het, moet selfs so ‘n persoon net soveel die diepte van sy eie skuld erken en sy nood vir ‘n Verlosser besef
### Ten Slotte
Hoewel dit duidelik is dat nie alles wat in Hillsong se liedere geskryf is en dit wat in hul geloofstellings staan noodwendig blatante kettery is nie, word die waarhede wat soms wel verskyn so ongelooflik onderbeklemtoon dat dit afbreek doen aan die rykdom van die Evangelie. Die doel van hierdie artikel was nie om afbreek te doen aan enige opregte gelowiges wat in die kringe van Hillsong beweeg nie. Maar die realiteit is dat die Hillsong bediening ongelukkig ‘n swak en oppervlakkige bediening is waar diep, Christusgesentreerde teologie skaars is. Kom ons versuim nie om aan te hou bid vir gelowiges wat onder hierdie bediening staan nie. Mag ons ook verstaan hoe diep en swaar ons skuld is en hoeveel ons tekort skiet aan God se eis vir heiligheid. Hoeveel ryker is die waarheid van ‘n ewige Verlosser, Jesus Christus, dan nie? ‘n Verlosser wat mens geword het om sondaars te red en hul harte te verander sodat ons Hom juis mag loof en aanbid soos wat Hy van ons vra.
### Sielkunde
URL: https://olielamp.vgk.org.za/sielkunde/
Last updated: 2023-03-05T20:18:56.000Z
**Geskryf deur Armand Luijk, BHons in Sielkunde en Kriminologie, besig met Meesters in Navorsingsielkunde en doseer in* **Sielkunde by die UP.*
### Inleiding
Die volgende gedeelte handel oor die veld van sielkunde en spesifiek of daar ‘n plek vir gelowiges in sielkunde is. Dit is ‘n lang pad om te stap om ‘n sielkundige te word. In Suid-Afrika is ‘n baccalaureusgraad in sielkunde die eerste stap na registrasie by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) in een van die professionele sielkundekategorieë. ‘n Persoon kan in die volgende nege kategorieë by die HPCSA registreer:
1. Kliniese sielkundige
2. Beradings sielkundige
3. Opvoedkundige sielkundige
4. Bedryfs- of organisasiesielkundige
5. Navorsingsielkundige
6. Neurosielkundige
7. Forensiese sielkundige
8. Geregistreerde berader
9. Psigometris
### Wat is sielkunde?
Dit is noodsaaklik om te weet wat sielkunde behels voor iemand die besluit maak om ‘n sielkunde beroep na te volg. Ek haal my eerstejaars handboek aan in ‘n poging om ‘n definisie van die vakgebied van sielkunde te gee. Maar vir eers, veronderstel die volgende geval van ‘n man wat verslaaf is aan dobbel. Patologiese dobbelary kan allerhande smarte en lyding veroorsaak, tog kan die verslaafde nie ophou dobbel nie. Luister maar na die bekommernis van ‘n dobbelaar genaamd Justin: “Ek het in die afgelope twee jaar duisende rande verloor. Ek het al keer op keer probeer ophou om te dobbel, maar ek kry dit net nie reg nie. Die skuld wat ek gemaak het terwyl ek dobbel is tans besig om my en my gesin se lewens te verwoes. Al wat ek wil hê is ‘n lig wat aangaan wat sê: ‘Dit was jou ou lewe, Justin’.” Wat is die beste manier om vir Justin te help? Moet hy by ‘n ondersteuningsgroep aansluit? Sal berading werk? Wat van medikasie?
Deur die redes te ondersoek vir menslike gedrag kan sielkunde ons help om vrae soos hierbo te beantwoord. Dus, die veld van sielkunde is prakties. Sielkundiges probeer vrae antwoord oor menslike gedrag, op ‘n wetenskaplike manier. Vir ‘n lang tyd al is die dissipline van sielkunde nuuskierig oor die raaisels van die menslike verstand. Uit my handboek kry ek die volgende definiesie van sielkunde: **Sielkunde is die wetenskap wat gedrag bestudeer asook die onderliggende fisiologiese en kognitiewe prosesse betrokke in menslike gedrag. Verder, sielkunde is prakties, want die geleerde kennis van die wetenskap word toegepas op probleme*. Maar is dit alles nie baie Humanisties nie? Die mens staan in die sentrum, waar is dan nog plek vir God in die veld van sielkunde? Is alles wat ons van menslike verstand kan weet nie net te vinde in die Bybel nie?
### Sielkunde en die Woord
Eerstens is dit belangrik om te verstaan dat sielkunde fokus op die brein as sentrum van menslike bestaan terwyl die Bybel die hart aanspreek. Volgens die Woord, kan my verhouding met die Here nie deur een of ander teorie verduidelik of verstaan word nie. Verder is elke dimensie van ons menslike bestaan en persoonlikheid onder volle beheer van Christus. Jesus is dus die Heer oor intellektuele, emosionele, morele en spirituele aspekte van ons persoonlikhede. Baie wysheid oor menslike gedrag en motiverings kan gevind word in die boek van die Spreuke en in die profetiese boeke. Die woord leer ons, net soos sielkunde, dat daar iets groot fout is met die mens. Ons sien dit in Justin – die vernietigende, maar tog aanhoudende gedrag asook gekwelde geestelike lewe. Sielkundiges mag dalk hierdie as ‘n siekte beskou, terwyl ons in die Woord leer dat dit eintlik vervreemding van God en sonde is.
Sielkunde leer ons dat die mens uiters kompleks en uniek is. As ‘n Christen wat in die bedryf van sielkunde werk en as ek na al die inligting oor menslikheid lees in handboeke en joernale, is ek verplig om uit te roep: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Die wete is te hoog vir my, dit is te hoog vir my begrip… Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering” (Ps 139: 5-6, 14). Alhoewel sielkunde baie antwoorde kan bied op probleme, dink ek nie die veld van sielkunde kan ware verandering van die mens se hart bring nie, en dus ook nie waarlik die behoeftes van mense vervul nie. Jesus het aan die behoeftes, al die behoeftes van die mense voldoen deur die krag van die Heilige Gees, en ek glo Hy beoog dat sy kerk dieselfde moet doen. Mense hoef nie te vertrek en na die wêreld te gaan om aan hul emosionele behoeftes te voldoen nie. Hulle moet na Jesus gebring word, dit is die hoof taak van enige gelowige sielkundige of berader (Matt. 14:16-18). Hoe kan ons vir Justin die lig wys waarna hy so op soek is? Deur hom na die voete van Jesus te bring waar ware lewensverandering – hartsverandering – moontlik is.
### So kan ‘n Christen regtig ‘n sielkundige word?
‘n Christen kan ‘n sielkundige word ten spyte van die feit dat daar baie min sielkundiges is wat die Here as hulle Verlosser erken. Jesus het vir ons ‘n hele aantal modelle gegee vir ons rol in Sy koninkryk: die van ‘n mosterdsaadjie, ‘n skat wat weg gebêre word in ‘n veld, ‘n net wat allerande visse vang. Een van die modelle wat my interesseer is die volgende: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was” (Matt 13:33). Jesus wil hê dat sy dissipels moet meng met die “deeg” en om dit ten diepste te beïnvloed. Om hierdie beginsel op ons beroepe toe te pas, behoort daar Christene in alle moontlike beroepe te wees, behalwe dié wat inherent oneties of immoreel is. Gelowiges behoort “deur die deeg” van die samelewing te werk in alle wettige, respekvolle beroepe wat bestaan, insluitend dié van sielkunde. Inderdaad, ‘n toegewyde Christen kan ‘n sielkundige wees!
### Verwysings
Da Silva, S. (2011). **Can a Christian really be a psychologist? Misconceptions not only prevent believers in Christ from entering the profession, but also from receiving needed help*. The Banner. [https://www.thebanner.org/features/2011/01/can-a-christian-really-be-a-psychologist](https://www.thebanner.org/features/2011/01/can-a-christian-really-be-a-psychologist?ref=olielamp.vgk.org.za)
Santrec, S. A. (2016). Towards the possible integration of Psychology and Christian faith: Faculties of human personality and the Lordship of Christ. **OASIS*, 1-8\. [http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.1908](http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.1908?ref=olielamp.vgk.org.za)
Van den Berg, A. (2018). How to qualify and practice as a psychologist in SA. **Solidariteit*. [https://jouloopbaan.solidariteit.co.za/hoe-om-sa-n-sielkundige-te-kwalifiseer-en-praktiseer/](https://jouloopbaan.solidariteit.co.za/hoe-om-sa-n-sielkundige-te-kwalifiseer-en-praktiseer/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Warren, J. (2014). **Psychology and Christianity: Friends or foes?* **Canadian Scientific & Christian Affiliation*. [https://www.csca.ca/2014/03/25/psychology-christianity/](https://www.csca.ca/2014/03/25/psychology-christianity/?ref=olielamp.vgk.org.za)
Weiten, W. (2014). **Psychology – Themes and variations*. Cengage Learning.
### Wegraping
URL: https://olielamp.vgk.org.za/wegraping/
Last updated: 2023-01-30T12:43:08.000Z
**Geskryf deur Henri Antonides, VGK Kaapstad*
Die woord wegraping beteken om weggeneem te word van waar jy op daardie oomblik is (weg te ruk). Sekere mense glo dat Christus in twee fases sal terugkom, die eerste fase is wanneer die wegraping gebeur en in die tweede fase sal Christus ‘n duisend jarige ryk op aarde regeer. Daar sal ‘n sewe jaar verskil tussen die begin van die eerste fase en die tweede fase wees. Die eerste fase van die wegraping gebeur volgens hulle wanneer Christus eendag terugkom na die aarde toe, dan sal Hy al die Christene wegneem tot Hom – mense sal net ewe skielik verdwyn. Al die ongelowiges sal op aarde agter bly. Die gelowiges gaan in die hemel wees en fees vier saam met God, terwyl die ongelowiges op aarde verdrukking sal ondergaan vir sewe jaar. In die sewe jaar waarin die mense op aarde verdrukking ondergaan, sal hulle nog ‘n kans kry om hulself te bekeer en tot God terug te draai. Al die magte van die duiwel, konings op aarde en valse profete sal teen diegene veg wat hulself na God toe wil terugdraai. Hierdie poging om hulle weg van God te probeer hou vermeerder met die verdrukking. Nadat die sewe jaar verby is gaan Jesus weer kom met al sy heiliges: “…by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” **(1 Thessalonicense 3:13)** en die duisend jarige ryk op aarde sal begin.
Die wegraping word gebaseer op tekste soos **Mattheus 24:40-41:** “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” Hier word gewys dat Christus die gelowiges sal opneem terwyl Hy die ongelowige agter laat op hulle eie.
‘n Rede hoekom hulle praat van die twee verskillende fases is omdat daar geargumenteer word dat die kerk nie die verdrukkinge sal deurgaan wat verwag word in die 7 jaar na die wegraping nie. Hierdie is nie waar nie, want Christus praat in **Mattheus 24** oor die verdrukkinge wat die kerk sal deurgaan. Dit impliseer dat die gelowiges nie eers deur die wegraping weggevat sal word en dan die verdrukkinge kom nie, maar dat gelowiges eerstehands die verdrukkinge gaan ervaar. In **Mattheus 24:29, 30** word daar gepraat van “En dadelik na die verdrukking…” en in **Mattheus 24:31** staan daar: “En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompet geluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” Dit verwys na **1 Thessalonicense 4:16-17**: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” As **Mattheus 24:31** na die wegraping verwys, sal die gebeurtenis na die verdrukking geplaas moet word.
Die wegraping en die wederkoms het ooreenkomstes. Albei verwys na Christus wat sal terugkom om die gelowiges saam met Hom te vat, maar die wederkoms gebeur net een keer en bring al die gelowiges, die wat lewendig is en die wat dood is, saam met Hom na die nuwe aarde om vir ewig saam met Hom te lewe. Die Bybel wys vir ons dat die wederkoms gaan gebeur en nie die wegraping nie.
**1 Thessalonicense 4: 13- 18**: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Hierdie 6 verse gaan oor die terugkoms van Jesus Christus en die wederkoms. Jesus gaan terugkom met die geroep van ‘n aartsengel en die geluid van ‘n trompet van God. Dan sal die dooies opstaan; en ook die wat lewendig is, gaan saam met hulle weggevoer word om die Here te ontmoet in die lug. Hierso wys dit dat die wederkoms met baie geraas gaan gebeur, terwyl daar gesê word oor die wegraping dat dit saggies gaan gebeur en sonder dat mense dit agterkom. Geen gelowige, of enige persoon, sal die wederkoms kan mis nie, of jy nou dood is of nog lewe.
### **Bronne:**
[https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20The%20Rapture%20of%20the%20Believers.pdf](https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20The%20Rapture%20of%20the%20Believers.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.suiderkruis.co.za/die-waarheid-oor-die-wegraping/](https://www.suiderkruis.co.za/die-waarheid-oor-die-wegraping/?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20Attention%20for%20the%20Rapture.pdf](https://www.christianstudylibrary.org/files/pub/articles/Klaas%20Stam%20-%20Attention%20for%20the%20Rapture.pdf?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.christianstudylibrary.org/article/christs-return-and-rapture-evaluating-dispensationalism](https://www.christianstudylibrary.org/article/christs-return-and-rapture-evaluating-dispensationalism?ref=olielamp.vgk.org.za)
[https://www.evangelical-times.org/eschatology/](https://www.evangelical-times.org/eschatology/?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Die regsaak van God
URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-regsaak-van-god/
Last updated: 2023-01-24T14:50:22.000Z
**Geskryf deur Marillie Pouwels, VGK Pretoria-Maranata*
Wat is ‘n regsaak nou eintlik? Wel, in ons aardse lewe is dit ‘n saak waar twee partye teenwoordig is en daar dan, op ‘n wettige manier, besluit word watter party skuldig is of vrygespreek word. Ons weet egter dat korrupte en oneerlike hofsake dikwels voorkom. Leuens, omkopery en voortrekkery is dikwels aan die orde van die dag.
God se regsaak werk min of meer dieselfde, maar daar is ‘n belangrike verskil…
### ****God is die hoogste gesag**
“In die begin het God die Hemel en aarde geskape.”(Genesis 1:1) So begin die Woord van God. Reeds in die eerste vers kan ons agterkom dat Hy ‘n groot en Almagtige God is. Hy het alles gemaak en dit is Syne. Dit was baie goed. Daarom ook is Hy die hoogste Regter wat oor alles regeer en oor alle sake beslis. Ja, God se regsaak werk dieselfde as die hof, maar ons kan onsself daaraan troos dat Hy ‘n regverdige, liefdevolle en getroue God is. Hy het ‘n persoonlike band met sy kinders en ken elke een van ons deur en deur. Hy weet wat goed is vir ons en sal ons in liefde hanteer.
In die paradys was alles perfek en sonder sonde, maar die Here het die mens geskape met ‘n vrye wil en hulle het gekies om in sonde te val. Hulle eet van die vrug van die boom van goed en kwaad. Regsake was dus eers na die sondeval nodig.
‘n Regsaak gebeur wanneer iemand verkeerd doen in die oë van die Here. Dit is vir Hom ‘n gruwel en moet reggestel word. Die Here se regsaak is nie vernietigend nie, dit is tot elkeen van Sy kinders se beswil. So begin die eerste regsaak van God. Hy straf Adam en Eva vir hulle optrede. Hulle word die paradys belet. Eva sal met smart kinders baar en Adam sal in die sweet van sy aangesig vir hulle kos voorsien (Genesis 3). Hy vervloek die slang.
### ****Die Wet as riglyn**
In die wêreld se hof word verdagtes op grond van spesifieke landswette skuldig bevind of vrygespreek. Hierdie landswette verskil oor die wêreld heen. In party wêrelddele word aborsie byvoorbeeld gewettig, terwyl dit in ander lande ‘n ernstige oortreding is en daarom strafbaar.
Die Here maak Sy wette vir ons bekend in Eksodus 20 en Deuteronomium 5, waar Hy dit vir Moses op kliptafels geskryf het om vir Sy volk voor te lees. Die 10 Gebooie is vir die gelowige ‘n rigtingwyser vir sy/haar lewe. Die Here het die 10 gebooie ingestel om ons vas te hou en teen onsself en ons sondige aard te bewaar.
God het alles en almal geskape. Daarom geld sy wette vir almal. Hy regeer oor die hele wêreld. Hy is die enigste ware Regter en Sy Regspraak is bo alles en almal verhewe. Hy eis van ons volkome gehoorsaamheid.
Die Here weet egter dat ons nie daartoe in staat is om ons eie sondige laste te dra nie, daarom stuur Hy Sy eie eersgebore Seun om ons van die lewenslange tronkstraf te verlos.
God het ‘n regsaak teen ons omdat ons gesondig het en ons kan net vrygespreek word deur Jesus Christus. Ons moet tot die volle besef kom dat ons verlore mense is sonder God. Dat sonder God se genade ons eendag vir ons eie sondes moet betaal. Hy het ons gered van die bose en daarvoor moet ons daagliks dankbaar wees. Leer elke dag uit Sy woord. Die 10 gebooie is vaste wette wat Hy vir ons gegee het as riglyn, maar die hele Bybel is vol voorbeelde van regsake van God en daaruit kan ons Hom ook leer ken. Hy straf die sonde en bring verlore skape weer terug op die pad. Soek na dit wat God van jou verwag en streef daarna om uit dankbaarheid vir Hom te lewe, sodat jy nie soos ‘n verlore skapie van die pad af dwaal nie. Hy het nie nodig gehad om vir ons sondes te sterf nie, maar Hy is ‘n regverdige liefdevolle God en ons is Sy kinders.
Doen wat GOD reg ag, nie wat reg lyk in die sosiale situasie waar jy nou is nie. Streef daarna om ‘n pad saam met Hom te stap en jou verhouding met jou Vader op te bou. Hy het vir jou, Sy kind, die ewige lewe bewerk. Lewe dan so dat wanneer die groot Oordeelsdag kom, jy met ‘n vrymoedige hart rekenskap kan gee van jou sondes voor die Regter, die Skepper van Hemel en aarde.
### ****Bronnelys:**
- **Alten, H. H. v., 2007\. *VGKSA.* \[Online\] Beskikbaar by:** [https://www.vgk.org.za/preke/24322](https://www.vgk.org.za/preke/24322?ref=olielamp.vgk.org.za)
- Buys, W., n.d. *Christelike media.* \[Online\] Beskikbaar by: [https://www.christelikemedia.org/article/die-reg-n-saak-van-god](https://www.christelikemedia.org/article/die-reg-n-saak-van-god?ref=olielamp.vgk.org.za)
### Jesus > Religion
URL: https://olielamp.vgk.org.za/jesus-religion/
Last updated: 2023-01-24T14:42:43.000Z
**Geskryf deur Wicus van der Linden, VGK Kaapstad*
##### ****“The Bible isn’t a rule book. It’s a love letter. I’m not an employee. I’m a child. It’s not about my performance. It’s about Jesus’ performance for me.”***
Gebaseer op sy gedig met dieselfde titel, **Jesus > Religion,* spreek Bethke ‘n algemene vergissing teë wat hy in sy universiteitslewe raakgeloop het. Mense – Christen of ateïs – beskou Christenskap net as ‘n lys take, ‘n lewensstyl, reëls wat jy moet volg om in ‘n goeie verhouding met God te bou. Sodra ‘n mens só begin dink, word Christenskap weg gedraai van die genade van God, na die vermoëns van die mens.
Bethke betrek hierby sy eie lewensverhaal – sy gesprekke met medestudente van verskeie agtergronde, sy ervarings met geloof en die kerk, asook wat hy self geleer het langs die pad.
Jefferson Bethke het op universiteit gespesialiseer in sosiale wetenskappe – politiek en regering. Hy is heel bewus van sy tekortkominge en sê nederig dat hy self geen kwalifikasies het om teologiese boeke te skryf nie – geen graad, opleiding, of kennis van antieke tale nie. Wat hy wel het, is ‘n verhaal van struikel en val, waardeur hy geleer het tot watter mate die wêreld Jesus en Christenskap misverstaan – en hoe verkeerd ons as Christene dit soms uitbeeld.
Tydens die skryf van hierdie boek is Jefferson getroud met Alyssa. Hul verhouding, verlowing en troue is ‘n deurlopende tema in die boek, waar Bethke dit gereeld as spieëlbeeld gebruik van die huweliksverhouding tussen die kerk en Christus.
Een manier om die boek te beskryf is ‘kort en kragtig’, met 10 kort hoofstukke van om en by 20 bladsye elk. Die skryfstyl is vloeiend en eenvoudig, maar dra tog die boodskap goed oor.
Die kern van die boek is Bethke se verhaal – sy ervarings op hoërskool en universiteit, en wat hy daaruit geleer het. Tog staaf hy sy argumente met die Skrif, asook ander liturgie en gebeurtenisse. Daar is ook duidelike onderskeid tussen die argumente wat direk uit die Skrif kom, en die stellings wat uit ervaring gemaak word. Elke hoofstuk word ook aangevul met ‘n handvol vrae wat die deur oopmaak vir bespreking, nadenke en (self)ondersoek.
Dit is noemenswaardig dat die argumente in die boek Jefferson Bethke se eie ervaring is – en dit is goed moontlik dat elke leser nie met alles sal saamstem nie. Bethke moedig sy lesers aan om na te dink, self die verwysings te bestudeer en te bespreek. Verder kan dit ook voel asof sekere punte herhaal word, aangesien baie van die ervarings wat Bethke wil deel, eenderse boodskappe oordra.
##### ****“Thinking you can earn eternal life by just reading the Bible a lot is like staring at the wind shield while driving, hoping you’ll get where you want to go. The windshield isn’t there to be looked at; it is designed to be looked through.”***
Hierdie boek is geskik vir jongmense en volwassenes, en kan aanlyn gevind word in e-boek of harde kopie formaat, asook by boekwinkels soos CUM boeke. Die uitleg, tema en aanvullende vrae en verwysings maak dit goeie leesstof vir persoonlike of gesamentlike Bybelstudie.
### Hoe kan ons uitsien na die oordeel?
URL: https://olielamp.vgk.org.za/hoe-kan-ons-uitsien-na-die-oordeel/
Last updated: 2023-01-23T20:21:23.000Z
*Geskryf deur Christiaan Bijker, VGK Pretoria*
In die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37, wat handel oor die oordeelsdag, se heel laaste sin staan daar: “Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.” Dit klink bietjie vreemd om die opdrag te kry dat ons die laaste oordeelsdag moet geniet en daarvoor uitsien. Hoe kan ons uitsien na die dag waarop God al ons woorde, dade en selfs ons diepste gedagtes gaan oordeel?
Om te sien hoekom ons na ons eie oordeel moet uitsien, moet ons eerstens kyk na wie ons regter gaan wees. In 2 Timotheus 4:1 skryf Paulus ” Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk.” Hier staan dit duidelik dat ons deur die Here Jesus Christus geoordeel sal word. Dit is dieselfde Here Jesus Christus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het en deur God verlaat is om versoening te doen vir ons sondes by die Vader. As jy kan bely dat jy in lewe en in sterwe aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus behoort, dan hoef jy nie te vrees vir die oordeel nie, want Jesus Christus sal ons Middelaar wees, soos genoem word in Sondag 1\. Dus sal ons Regter vir ons ‘n bekende wees. Hy sal Regter wees nadat Hy vantevore in ons plek veroordeel was. Hy kom om ons vry te spreek van ons sondes en ons te verlos van ons sondige natuur. Daarna sal Hy ons saam met alle ander uitverkorenes na die hemelse blydskap en ewigheid neem. Is dit nie iets om waarlik na uit te sien nie? Ons as gelowiges moet vir die oordeel wag met gespanne afwagting.
Is daar nou gespanne afwagting by ons as christene?
Ja daar moet gespanne afwagting wees in die konteks en verstaan van die oordeel. Hy kom om ons te oordeel, en ons hoef dit nie te vrees nie. Ons leef as christene, nie uit ons eie krag nie, maar vanuit die geloof in Christus, ons Verlosser. Ons is Sy kinders en ons weet dat Hy eendag sal terugkeer om ons regverdig te oordeel. Ons weet nie wanneer Hy terugkom nie, maar ons weet dis wanneer die getal van die uitverkorenes volbring is. Verder weet ons dit sal soos ‘n dief in die nag wees. Hierdie onsekerheid van wanneer Christus sal terugkom moet egter nie vir ons bevrees maak nie, want net God weet wanneer dit sal gebeur en ons moet eerder fokus op die taak wat Christus vir ons hier op aarde gegee het.
Christus sal terugkom om te oordeel wanneer die tyd, wat deur Hom bepaal is, reg is. Dan sal ons as christene reg wees vir sy oordeel en ons vryspraak van die sonde en Christus sal op hierdie dag al sy vyande in die ewige verdoemenis werp.