> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Ek is die Ware Wynstok
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is-die-ware-wynstok/
- Published: 2026-11-18T17:00:00.000Z
- Updated: 2026-11-18T17:00:00.000Z
- Author: Olielamp
- Tags: Ek is, Olielamp Oordenkings & Nuusflitse

> “Ek is die ware wynstok en julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (Johannes 15:5)

Liewe broer en suster

Ons kom nou by die laaste oordenking oor hoe Jesus Christus Homself beskryf: die sewe “Ek is” uitsprake, oftewel die sewe identiteitsname van Jesus Christus.

Christus identifiseer Homself laastens as die ware wynstok en ons as die lote. Kan ons enigiets sonder Christus doen? En wat sal die uitkoms wees as ons dinge sonder die Here se hulp aanpak?

Jesus Christus is ons bron van krag. Deur Hom kan ons soveel dinge doen. Hy is ons mees getroue en grootste Vriend (vers 14, 15). Hy wil ons help en by ons wees in moeilike sowel as goeie tye. Hy het sy lewe vir jou gegee, sodat jy in Hom en Hy in jou kan leef. As ons in Christus bly, sal Hy ook in ons bly (vers 4). As die die ware wynstok help Hy ons, die lote, om meer vrug te dra wanneer ons Hom liefhet, in Hom glo en in Hom bly. Hy lei ons te midde van ’n wêreld vol sonde en wêreldse dinge. Soveel mense kan nie vrug dra nie want hulle is nie deel van die wynstok nie.

Die mens leef volgens die vlees. Om volgens die vlees te leef, beteken dat jy daarna begeer om in sonde te leef en daarin genot te vind. “*En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie*” (Galasiërs 5:19–21). Dit is alles begeertes van die vlees.

Dit is nie volgens die wil van God nie. Ons wandel dan nie in die Gees nie, maar in die vlees (Galasiërs 5:16). Christus sê in Johannes 15 vers 6 dat elke loot wat nie in Hom bly nie, uitgewerp en verdroog word. Sulke lote word bymekaar gemaak, in die vuur gegooi en verbrand. Dit is ’n ernstige waarskuwing oor die oordeel wat op dié wag wat nie in Christus bly nie. Wie Christus haat, haat ook die Vader (vers 23). Hulle sal, soos lote wat nie vrug dra nie, in die vuur gegooi word. 

Ons moet Jesus nie as ’n vyand sien nie, maar as ons Vriend.

Wanneer ons as lote in die Gees wandel, leef ons nader aan die ware wynstok en kan ons vrug dra. Dit is baie belangrik om in die ware wynstok te bly en in die Gees te wandel. Daar is sewe gawes en seëninge wat ons ontvang en wat ons help om in die Here te volhard:

- “As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry” (Johannes 15:7).
- “Julle sal My dissipels wees” (Johannes 15:8).
- “As julle My gebooie bewaar, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die gebooie van My Vader bewaar en in sy liefde bly” (Johannes 15:10).
- “Julle is My vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie; maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van My Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:14–15).
- Ons sal die koninkryk van die hemel ingaan as ons in die Gees wandel en nie volgens die vlees leef nie. Dit lei tot die ewige lewe.
- Ons sal vrug dra wanneer ons deur Christus gereinig word (Johannes 15:2, 4, 5 , 8 & 16).“Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing” (Galasiërs 5:22).
- “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Galasiërs 5:24).

Glo in die Here Jesus Christus, ons ware wynstok, en wandel in die Gees sodat jy meer vrug kan dra.

### Coram Deo

Liewe broer en suster, wat ’n Vriend het ons in die Here Jesus Christus!

Hy is die Brood van die lewe (Johannes 6:35).

Hy is die Lig van die wêreld (Johannes 8:12).

Hy is die Deur (Johannes 10:9).

Hy is die Goeie Herder (Johannes 10:11, 14).

Hy is die Opstanding en die Lewe (Johannes 11:25).

Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6).

Hy is die Ware Wynstok (Johannes 15:1).

Deur hierdie sewe “Ek is” uitsprake het ons gesien hoe ons in Christus kan groei en volhard. Hoe meer ons in Christus groei, hoe meer vreugdevol sal ons onder sy Naam leef, met die ewige lewe as ons hoop.

### Gebed

Onse Vader wat in die hemel is,

Here, wat ’n groot voorreg is dit om U te kan ken! Ons is dankbaar vir u Seun, Jesus Christus, vir sy kruisiging en vir die openbaring van wie Hy is. Deur Hom kan ons U ken, in Hom glo en die lewe ontvang.

Ons vra dat U die oë van die mense in hierdie wêreld sal open sodat hulle U kan leer ken, en dat ons hulle meer van U sal vertel. Ons dank U vir u groot liefde, genade en gawes.

Help ons, Here, om na U te streef en om Jesus Christus die middelpunt van ons lewens te maak. Dit bid ons in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Amen.

### Bron

- [(1414) 26-10-2025 Aanddiens - Ds H.H. van Alten - YouTube](https://www.youtube.com/watch?v=0NhAIy-QYDU&ref=olielamp.vgk.org.za)

*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius*