> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Ek is die opstanding en die lewe
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is-die-opstanding-en-die-lewe/
- Published: 2026-11-04T19:15:00.000Z
- Updated: 2026-11-04T19:14:59.000Z
- Description: Jesus Christus is die opstanding en die lewe. As jy in Hom glo, sal jy nie vir ewig sterf nie, maar jy sal lewe. Wat het Christus bedoel toe Hy Homself op hierdie manier geïdentifiseer het?
- Author: Olielamp
- Tags: Ek is, Olielamp Oordenkings & Nuusflitse

> *“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.” (Johannes 11:25)*

Jesus Christus is die opstanding en die lewe. As jy in Hom glo, sal jy nie vir ewig sterf nie, maar jy sal lewe. Wat het Christus bedoel toe Hy Homself op hierdie manier geïdentifiseer het? Ons as mense weet dat ons eendag hierdie aarde sal verlaat. Elkeen van ons het ’n dag waarop ons sal sterf as die Here nie terugkom voor dan nie. Dit maak nie saak hoe of waar dit sal gebeur nie, of dit nou weens siekte, moord, ’n motorongeluk of iets anders is. God alleen weet hoe, waar en wanneer ons gaan sterf.

Ons dink nie altyd baie aan die dag van ons dood nie, want ons geniet die tyd wat die Here aan ons gegee het. Ons bring die meeste van ons tyd saam met vriende en familie deur en gebruik die talente en gawes wat die Here aan ons gegee het. Ons moet sterf, want die loon van die sonde is die dood (Romeine 6:23). Maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here. Uit hierdie vers sien ons dat daar, selfs deur die dood heen, ewige lewe vir ons wag. Deur na die verhaal van Lasarus se opwekking in Johannes 11 te kyk, sal ons verstaan wat Christus bedoel wanneer Hy sê dat Hy die opstanding en die lewe is.

As ons na die verhaal van Lasarus kyk, sien ons dat Jesus geweet het dat Lasarus siek is. Tog het Hy nog twee dae gebly waar Hy was (vers 6). Wanneer iemand baie siek is en nie betyds gesond word nie, kan hy sterf. Wat egter interessant is, is dat Christus nie haastig was nie. Alhoewel Hy Martha, haar suster Maria en Lasarus liefgehad het (vers 5), het Hy geweet dat hierdie siekte nie op die dood sou uitloop nie, maar tot die verheerliking van God sou dien, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kon word (vers 4).

Later, toe Jesus saam met sy dissipels oppad was na Lasarus, sien ons in verse 11–15 dat Jesus gesê het dat Lasarus slaap. Daarna het Hy dit duidelik gestel: Lasarus is dood. Hy wou hê dat die dissipels moes glo. Hy het geweet wat Hy gaan doen, en dat hulle getuies daarvan sou wees.

Hier sien ons die alwetendheid van Christus. Hy weet wat Hy doen; Hy is in beheer van die situasie. Wanneer ons verder lees, sien ons hoe baie mense deur hierdie wonderwerk in Hom begin glo het, omdat hulle kon sien wat Hy gedoen het.

Toe Jesus saam met sy dissipels in Betanië aankom, het Martha vir Jesus gesê dat Lasarus nie sou gesterf het nie as Hy vroeër daar was (vers 21). Martha was ’n gelowige. Nadat Christus vir haar gesê het dat Lasarus sal opstaan (vers 23), het sy geweet dat haar broer op die opstandingsdag, aan die einde van die tyd, sou opstaan (vers 24). Met ander woorde, sy het verwys na die wederkoms van ons Here Jesus Christus, wanneer die liggame van dié wat in die grafte is, opgewek sal word. Dit geld vir almal wat in Jesus Christus glo. Hieruit kan ons ook aflei dat Lasarus ’n gelowige was.

Martha het nie besef dat Christus bedoel het dat Lasarus reeds op daardie oomblik sou opstaan nie. **“Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe, al het hy ook gesterwe.”**(vers 25).Christus het mag oor lewe en dood. Dit is wat Hy bedoel wanneer Hy sê dat Hy die opstanding en die lewe is. Hy is nie bloot ’n mens nie; Hy is God. Hy het mag oor lewe en dood. Voordat Jesus Lasarus uit die graf laat opstaan het, het Hy in vers 41 tot die Vader gebid. In vers 42 verduidelik Hy dat Hy dit doen ter wille van die mense wat daar staan, sodat hulle kan glo dat die Vader Hom gestuur het.

Jesus Christus het gesterf (Johannes 19) en opgestaan (Johannes 20). Hy het die sonde, Satan en die dood oorwin. Almal wat in Hom glo, deel in hierdie oorwinning en ontvang die ewige lewe.

Baie mense het Jesus se wonderwerk gesien, en baie het geglo. Hierdie wonderwerk was so groot dat baie van die Jode wat saam met Maria was om haar te troos, in Jesus geglo het. Sommige van hulle het egter na die Fariseërs gegaan en vertel wat gebeur het (verse 45–46). Die Fariseërs was so bang dat hulle planne beraam het om Jesus dood te maak. Hulle was bang dat almal in Jesus sou glo en dat die Romeine hulle plek en volk sou wegneem (verse 47–48).

Jesus Christus wys vir ons hoe betekenisvol die lewe is. Die God wat aan jou die gawe van lewe gegee het, wil ook aan jou die ewige lewe gee. Jou lewe is so kosbaar dat Jesus Christus aan die kruis vir jou gesterf het. Hy het sy lewe gegee sodat jy en ek die ewige lewe kan hê. Wanneer jy jou vertroue in Christus stel, begin jy jou lewe op ’n nuwe manier waardeer.

### **Coram Deo**

“U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” (Psalm 16:11)

As gelowige hoef jy nie bang te wees vir die dood nie, want Christus belowe lewe — naamlik die ewige lewe.

Geliefde broer, geliefde suster: Glo jy dit?

### **Gebed**

Ons Vader wat in die hemel is, ons dank U vir u groot genade. Ons almal verdien die dood omdat ons gesondig het. Maar deur Jesus Christus, wat reeds die sonde, Satan en die dood oorwin het, is die dood nie die einde vir dié wat in Hom glo nie. Dit is die begin van die ewige lewe saam met U. Help ons, Here, om dit vas te glo, sodat ons saam met miljoene ander Christene tot u eer kan juig en lofsing. Dit bid ons alles in Christus se Naam. Amen.

### **Bronnelys en verder lees**

- Johannes 20
- Johannes 11
- Sondag 22
- [https://www.instagram.com/reel/DVrQEcvDYUY/?dlrf=MWpsdHBlanh2bWh4NA](https://www.instagram.com/reel/DVrQEcvDYUY/?dlrf=MWpsdHBlanh2bWh4NA&ref=olielamp.vgk.org.za)\==
- [https://learn.ligonier.org/sermons/death-lazarus](https://learn.ligonier.org/sermons/death-lazarus?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://learn.ligonier.org/qas/what-did-jesus-mean-when-he-said-i-am-the-resurrection](https://learn.ligonier.org/qas/what-did-jesus-mean-when-he-said-i-am-the-resurrection?ref=olielamp.vgk.org.za)

*Geskryf deur Theophilus Mnisi, VGK Nellmapius*