> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Ek is die Goeie Herder en die Deur
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/ek-is-die-goeie-herder-en-die-deur/
- Published: 2026-10-21T17:00:00.000Z
- Updated: 2026-10-21T17:00:00.000Z
- Author: Olielamp
- Tags: Ek is, Olielamp Oordenkings & Nuusflitse

> “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.” (Johannes 10:9)

> “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Johannes 10:11)

Die Here Jesus Christus het, soos ons in Johannes 9 lees, op die Sabbatdag ’n blinde man gesond gemaak. Die Fariseërs was baie streng oor die wet. Hulle het ’n probleem daarmee gehad dat Christus mense op die Sabbatdag gesond gemaak het. Hulle het dit as werk beskou.

Soos ons hier sien, het die blinde man geglo en Christus aanbid toe hy Hom herken het. Hy kon nie net weer sien nie, maar hy het ook besef wie Jesus werklik is. Dit wys die grootheid van Christus, want die blinde man het erken dat Jesus van God gekom het. Die man het Jesus se stem gehoor en Hom aanbid. Die Fariseërs het Christus ook gevra of hulle blind was (Johannes 9:40). In vers 41 antwoord Jesus: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.”

Alle eer behoort aan God alleen. Uit Johannes 9 kom ons tot die gevolgtrekking dat Jesus die aanbidding van die blinde man aanvaar het. Hy het met die blinde man gepraat, maar die Fariseërs het steeds nie verstaan wie Hy is nie. Die Blinde man kon nie sien nie, maar toe Hy die stem van Christus hoor het Hy voor Hom neergebuig en Hom geëer. So sal ons verder sien in die oordenking dat die skape die herder se stem hoor. Ons as die skape hoor die stem van ons Verlosser, Jesus Christus.

In Johannes 10:1–2 spreek Jesus verder oor die herders wat na die skape moet omsien. Hy kontrasteer die ware herder met mense wat op ’n ander manier as deur die deur by die skaapstal ingaan. Hulle is diewe en rowers. Die poortwagter se taak is om oor die skape te waak. Die poortwagter maak die deur vir die ware herder oop. In terme van hierdie illustrasie verteenwoordig die poortwagter, wat die skaapskooi vir die herder oopmaak, die Vader, wat die hemele vir Christus oopmaak en Hom toelaat om Sy skape in die veiligheid van die kooi te bring.

Die herder ken sy skape een vir een. Net soos die herder sy skape ken, ken die skape ook die herder se stem. Hulle volg die herder waar hy ook al gaan. Wanneer die herder hulle roep, kom hulle en volg hulle hom. Dit illustreer dat ons, as skape van Christus, sy stem behoort te ken. Gelowiges ken Christus en sy stem, en daarom volg hulle Hom. Hulle volg nie ’n vreemdeling nie, omdat hulle nie die stem van ’n vreemdeling herken nie. Die goeie Herder lê sy lewe vir die skape af.

Jesus sê verder in vers 7 dat Hy die deur is: “As iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.” Die deur is oop en ons kan deur Christus in gaan. Daar sal ‘n tyd kom waar die deur toe gaan wees en dat dit te laat gaan wees om in te gaan. Bekeer van jou sondes en leef volgens onse Here Jesus Christus.

In Lukas 15:1–7 vertel Jesus Christus die gelykenis van die verlore skaap. Die herder gaan soek die skaap wat verlore geraak het en nie meer by die ander skape is nie. Hy hou aan soek totdat hy dit vind. Die skaap was verlore, maar is toe gevind (Lukas 15:6).

As ons ook na die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15:11–32 kyk, sien ons dat die jongste seun, in dieselfde konteks as die vorige gelykenis, soos ’n verlore skaap was. Hy het sy pa se geld geneem en dit verkwis. Hy het ook ’n sondige lewe gelei en die geld op prostitute gespandeer. Uiteindelik het hy sy sonde besef en besluit om terug te gaan huis toe. Toe sy pa hom van ver af sien aankom, het hy hom tegemoet gehardloop en omhels. Die pa was bly, want sy seun was verlore, maar is teruggevind.

Baie keer is ons soos die verlore skaap en die verlore seun. Tog ken Christus elkeen van ons en roep Hy ons om na Hom toe te kom. 

Onthou: Die deur is oop. Met ander woorde, Christus is die deur, en die evangelie verkondig die eenvoudige waarheid dat daar slegs deur Hom verlossing is. “Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word” (Handelinge 16:31). Hy is die deur. En Hy is die goeie herder wat omgee vir swak sondaar skape. 

### Coram Deo

Psalm 23:2

Die deur is oop. Dit is slegs moontlik deur Christus. Die waarheid van die evangelie is eenvoudig dat die weg na verlossing net deur Hom alleen is. Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word (Hand 16:31). Hy is die deur. Hy is ook die goeie Herder, wat sy lewe aflê vir die skape en omgee vir elke skapie wat wegdwaal, soveel so dat Hy die 99 agterlaat om die een verlore skaap te soek. 

### Gebed

Hemelse God, Vader, Seun en Heilige Gees, U is ons Goeie Herder; U is die Deur. U gee so baie vir ons om dat U selfs die een skaap uit die honderd gaan soek. U Woord sê: “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer” (Lukas 15:10). Help ons om te bekeer, o God, en nie te versuim om deur die Deur in te gaan nie. Help ons, Here, om op U te vertrou, die stem van die Goeie Herder te hoor en Hom te volg. In Christus se Naam. Amen.

### Bronne

- Jesaja 40:10-11
- [The Good Shepherd Discourse, a Sermon from R.C. Sproul | Listen to Free Sermons from R.C. Sproul at Ligonier.org](https://learn.ligonier.org/sermons/good-shepherd-discourse?ref=olielamp.vgk.org.za)
- [https://learn.ligonier.org/articles/how-is-jesus-the-door](https://learn.ligonier.org/articles/how-is-jesus-the-door?ref=olielamp.vgk.org.za)