> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# “Do ut des”  vs  “Do quia dedit”
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/do-ut-des-vs-do-quia-dedit/
- Published: 2026-09-09T17:00:27.000Z
- Updated: 2026-09-09T17:00:26.000Z
- Description: "Do ut des". Dit is ‘n latynse frase wat beteken “Ek gee sodat jy kan gee”. Die Romeine het hierdie antieke formule gebruik tydens hul offerdiens - 'n soort simbiotiese verhouding.
- Author: Olielamp
- Tags: Olielamp Oordenkings & Nuusflitse

**Lees:** Levitikus 1

*Do ut des*. Dit is ‘n latynse frase wat beteken “Ek gee sodat jy kan gee”. Die Romeine het hierdie antieke formule gebruik tydens hul offerdiens. Al het hulle nie geglo dat jy sommer ‘n god kon omkoop nie illustreer hierdie uitdrukking wel die tipe verhouding wat die Romeine met hulle gode gehad het – jy het offers gebring sodat die gode jou kon seën en dan kon jy weer groter offers bring, dus ‘n soort simbiotiese verhouding (Hellenic Faith, 2021). 

In amper elke antieke kultuur het mense offers gebring. Elke volk het sy gode gehad, elkeen met sy/haar spesifieke vereistes vir offers. In die moderne era is offers glad nie meer so algemeen nie. Tot ‘n groot mate is hierdie verandering te danke aan die Christendom. Soos wat Christendom oor die wêreld versprei het, is die offerdiens orals afgeskaf. Die gevolg is dat die offers vir ons vreemd en outyds klink. Daar is selfs die gevaar dat ons onbewustelik begin aanneem dat die Ou-Testamentiese offers ook ‘n soort *do ut des* was – die volk wat God probeer tevrede hou deur offers te bring. Maar die Bybelse betekenis van die offers is radikaal anders. In vandag se oordenking let ons op die brandoffer vanuit Levitikus 1 en hoe dit eerder opgesom kan word met *do quia dedit* of te wel “ek gee omdat Hy gegee het”.

God se voorskrifte vir die brandoffer in Levitikus 1 begin met die woorde “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand van julle aan die HERE 'n offer **wil** bring, **kan** julle jul offer bring van vee — van beeste of van kleinvee.”

God beveel nie: julle moet vir my ‘n offer bring nie. Nee, die brandoffer val juis in die kategorie van vrywillige offers. Dit stel ons dadelik voor ‘n belangrike vraag. Hoekom sou ‘n Israeliet ‘n bees of stuk kleinvee sommer net so heeltemal wou verbrand? Of dalk nader aan ons: hoekom sou ons uit ons besittings (of tyd) ‘n offer aan God wou bring? 

Met die eerste oogopslag lyk dit asof die rede sou wees om God tevrede te stel, vers 3 sê immers “sodat hy welgevalle voor die aangesig van die HERE kan vind”. Is dit dan tog *do ut des?* 

Psalm 50 kan hier van groot nut wees: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (vers 9-15)

Gebaseer hierop sou dit net dwaas wees om aan te neem God het die offers nodig en daarom kan ons sy guns wen deur dit vir Hom te gee. Die psalmis sê daarom ook dat ons veel eerder God dank kan offer. 

Ons sal dus verder moet lees in Levitikus 1\. Alreeds in vers 4 lees ons: “En hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê, dan sal dit vir hom met welgevalle aangeneem word om versoening vir hom te doen.” Hierdie vers bring ons by die kern van die Brandoffer – versoening met God. En duidelik gaan dit nie hier oor ‘n mens wat sy skuld af betaal deur ‘n dier te verbrand nie, of iemand wat ‘n honger monster voer sodat hy nie self verslind word nie. Nee, die Here maak dit baie duidelik dat die offer self nie die versoening bring nie. Daar staan immers dat die offeraar sy hand op die offerdier se kop moet sit. Dit is ‘n baie duidelike beeld dat hierdie dier in sy plek sterf. Hiermee bely die offeraar dat **hy** in werklikheid moes sterf. 

So hoe is dit dan moontlik dat daar versoening kan wees? Wel daar is net een moontlikheid: die offer wys heen na iets groters. Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat dit inderdaad heengewys het na Jesus Christus, die offer wat God self gebring het. 

Die offers het tot in die fynste besonderhede op Christus gewys. Die offerdier moes volmaak sonder enige gebrek wees, Christus was volmaak, sonder gebrek en sondeloos. Die priester wat die bul geoffer het mog die vel hou (Levitikus 7:8), net so het die soldate wat Jesus gekruisig het sy klere gehou. Die brandoffer moes volledig verbrand word, so het Christus sy lewe volledig vir ons kom gee. Lees maar net wat staan daar in Hebreërs 10: “die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God” (vers 4-7). 

Wat is die impak hiervan - vir die Israelite en vir ons vandag? Dit kan nie anders as dat offers slegs gebring word uit dankbaarheid vir wat God reeds vir ons gedoen het nie - *do quia dedit –* of met die woorde van1 Johannes 4:19 “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”

Hierdie wete dryf ons daartoe om ons liggame te stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer (Romeine 12:1). En wat is hierdie offer wat God van ons verlang? Dit is dank en eer (Psalm 50:14-15), dit is “'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart” (Psalm 51:19), en dit is weldadigheid en mededeelsaamheid, “want God het ‘n welbehae aan sulke offers” (Hebreërs13:16). Om nie eens te praat van die lofoffer van ons lippe (Hebreers 13:15) of ons gawes uit dankbaarheid vir God se voorsiening nie, want ook dit is deel van ons offerdiens, maar dit sal maar moet wag tot volgende week wanneer ons let op die spys- en dankoffers. 

### Coram Deo

In die wonderlike verbond met God bring die volk nie offers om iets van God terug te kry nie (*do ut des*), maar veeleerder omdat hulle soveel van Hom ontvang het (*do quia dedit*). Dit is die heel duidelikste in Christus, Hy is die Een waarop die brandoffer gewys het. Hy het ons sondes op Hom geneem en sy lewe volkome vir ons opgeoffer. Deur Christus is daar nou versoening vir ons. Nou kan ons ook aan God ‘n welgevallige offer bring deur ons lewens aan Hom oor te gee. Volkome, met ons liggame maar ook met ‘n verslae hart, ‘n hart wat oorgegee is in totale afhanklikheid aan God. 

### Gebed

Almagtige God, dankie dat U reeds die volmaakte offer eens en vir altyd gebring het (Hebreërs 10:14). Here, nou wil ek ook my liggaam as ‘n lewendige offer aan U gee. Maar Here, ek is nog so vol gebreke, daarom bid ek U: “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees” (Psalm 51:12) sodat my offer U welgevallig kan wees. Amen.

### Bronne

- Hellenic Faith. (2021). Sacrifice & Do ut des. Gelees September 06, 2026, vanaf Hellenic Faith: [https://hellenicfaith.com/do-ut-des/](https://hellenicfaith.com/do-ut-des/?ref=olielamp.vgk.org.za)

*Geskryf deur Hanno Moes, VGK Pretoria*