> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Die agtste gebod: Wandel en handel in opregtheid met jou naaste
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-wandel-en-handel-in-opregtheid-met-jou-naaste/
- Published: 2026-09-19T07:00:23.000Z
- Updated: 2026-09-19T07:00:22.000Z
- Description: Die agtste gebod sê jy mag nie steel nie. Dit klink baie eenvoudig, maar die gebod behels baie meer as net dat jy nie ander mense se besittings mag vat nie. Dit handel oor hoe ons ons eie besittings, geld en werk hanteer, asook hoe ons moet omgaan met ons naaste se besittings.
- Author: Olielamp

Ons ken almal die tien gebooie. Die agtste gebod sê jy mag nie steel nie. Dit klink baie eenvoudig, maar die gebod behels baie meer as net dat jy nie ander mense se besittings mag vat nie. Dit handel oor hoe ons ons eie besittings, geld en werk hanteer, asook hoe ons moet omgaan met ons naaste se besittings. 

### God se besittings en ons rentmeesterskap daaroor

Om die agtste gebod, ‘Jy mag nie steel nie’, te verstaan moet ons terug gaan na Genesis. God het die hele universum gemaak met alles wat daarin is. Hy het aan ons alles gegee wat ons nodig het. Ons moet onthou dat dit wat in die wêreld is en wat ons ontvang, van Hom afkom, ons mag dit gebruik wetende dat dit van God is. Die Here het vir die mens in die tuin van Eden geplaas. Hulle het alles ontvang wat daar is en is as rentmeesters daaroor gestel. In Psalm 24:1 staan daar geskrywe: ‘Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en die wat daar woon, alles behoort aan die Here.’ Dit is hoekom ons praat van rentmeesterskap. Die Here vertrou ons toe met Sy eiendom, ons mag daarvan gebruik maak terwyl ons op aarde lewe. 

Vanaf die begin van die Bybel sien ons dat die Here Adam en Eva in die tuin geplaas het met die opdrag om dit te bewerk en te bewaak (Genesis 2:15). Net so moet ons ons eie eiendomme vandag ook gebruik (bewerk) en oppas (bewaak). Materiële en aardse dinge moet daarom nie tot hoogmoedigheid of trots lei nie. Dit word aan ons toegeken deur die Here en moet met verantwoordelikheid beheer en bestuur word. God verbied egter glad nie die besit van privaat besittings of eiendomme nie, dit sal in kontras staan met die agtste gebod self. Maar God ken ons mense en daarom waarsku Hy ons teen die selfsug van rykdom. Paulus wys ons wat ware rykdom is in 2 Korinthiërs 8:9\. Wanneer ‘n mens vir die Here Jesus ken, besit ‘n mens eers ware rykdom. 

### Die wortel van diefstal, dit is meer as net die daad self

Vanuit Jesus se bergpredikasie leer ons dat die sonde nie begin by die fisiese daad nie, maar al reeds by die gedagte (Mattéüs 5:28). Net so is dit al verkeerd en teen God se wil om daaraan te dink om iets van jou naaste te vat of te besit. Dit begin by gierigheid en afguns, die begeerte om te hê wat die Here nie vir jou bestem het, of om die ander se rykdom nie te gun nie. Die Here waarsku ons baie duidelik teen hierdie sonde in Lukas 12:15: ‘Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die voorspoed van sy besittings nie.’ 

As ons die vers in gedagte hou sien ons dat die agtste gebod in ons daaglikse lewe op baie verskillende maniere toegepas kan word. Ons kan dit toepas op luiheid by die werk waar ons tyd steel van ons werkgewer, in korrupsie, in die nie-betaling van regverdige lone, op oneerlike maniere sake te doen, belastingontduiking en dit gaan so aan. In Spreuke 11 staan daar: ‘ ‘n Valse weegskaal is vir die Heer ‘n gruwel, maar in ‘n volle gewig het Hy ‘n behae’. Met ander woorde God verwag van ons eerlikheid. Enige keer wanneer wins deur misleiding nagejaag word of ten koste van iemand anders gemaak word, word hierdie wet oortree. Dit wys die wantroue in God se voorsienigheid as Skepper en stel die skepsel bo God. 

### Die positiewe aspek van die agtste gebod

Ons het in die vorige paragraaf gesien dat ons eerlik en verantwoordelik moet wees met ons besittings, verder moet ons ons naaste se belange net so belangrik ag as ons eie belange. Ons is immers almal gelyk en niemand is belangriker as die ander in God se oë nie. 

Paulus gee vir ons die perfekte toepassing hiervan in sy brief aan die Efesiërs: ‘Laat die een wat steel, nie meer steel nie maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te doen wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek lei.’ (Efesiërs 4:28). Let op die verandering, waar die hand eers geneem het van dit wat hom nie toekom nie, word dit ‘n hand wat hard werk om te gee. Ons doel op aarde is om die Here te verheerlik met alles wat ons doen. Deur te gee en na ons naaste om te sien, kan ons ‘n seën vir ons naaste wees. Dit is ook belangrik om te onthou: ‘n welvarende persoon word nie veroordeel omdat hy of sy baie besittings het nie, maar wel as hy of sy sy of haar hart toesluit vir die behoeftige voor die deur (1 Johannes 3:17 - 18). Regverdigheid in die lewe word van ons vereis deur die Here. Dit beteken dat ons opreg moet handel dryf, regverdige vergoeding sal gee vir werkers en naasteliefde betoon aan die mense om ons. 

### Genoegsaamheid staan teenoor die gierigheid van die materialistiese wêreld

Die mammon is die wortel van allerlei kwaad. Die agtste gebod roep ons terug na die basiese behoeftes toe: ‘n lewe van goddelike tevredenheid. Paulus sê in 1 Timótheüs 6:6-8: ‘Maar die godsaligheid saam met die vergenoegdheid is ‘n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees’. Iemand wat tevrede is, staan in lyn teenoor die persoon wat ander mense se besittings begeer. Wetende dat God se genade genoeg is, sal die mens innerlike rus en genoegsaamheid gee. 

### ‘n Heilige lewe in ‘n gebroke wêreld

‘Jy mag nie steel nie’ is uiteindelik ‘n spieël wat ons tekortkominge, kleingeloof en selfsug ontbloot. Dit wys ons na Christus en die kruis waar ons vir ons gierigheid en oneerlikheid vergifnis vind. Dit roep ons ook verder op om in die wêreld as lig te skyn en om in absolute betroubaarheid en eerlikheid met ons naaste te leef. ‘Laat ons ‘ja’ ja wees en ‘nee’ nee wees.’ (Mattéüs 5:37). 

Sodra ons leer om in die vertroue op God te leef, in Sy liefde en voorsienigheid, word ons vrygemaak van die slawerny van selfsug en gierigheid. Ons word dan nie meer deur ons besittings besit nie, maar dit word instrumente in ons hande waarmee ons dankbaar die Here kan dien, prys en ons naaste in nood mee kan help. Dit is die ware heiliging waartoe die agtste gebod ons roep. 

*Geskryf deur Mathys de Wit, VGK Pretoria*