> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Die troos van die doop
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-troos-van-die-doop/
- Published: 2026-09-05T07:00:54.000Z
- Updated: 2026-09-05T07:00:53.000Z
- Author: Olielamp

Die doop word vandag dikwels as ‘n openbare geloofsbelydenis en ‘n persoonlike besluit om Christus te volg beskou. Ons as gelowiges mag egter weet dat die doop veel meer inhou. Dit is die genadige werk van God en ‘n sakrament om ons geloof te versterk. Dit verseël God se verbond met ons. Alhoewel die doop vir ons so alledaags mag voorkom, moet ons besef dat dit ‘n heilige instelling van God is en met ‘n spesifieke rede aan ons gegee is. Laasgenoemde lei ons na die kernvraag van die artikel: Watter troos bied die heilige doop aan ons as gelowiges?

### Waarvandaan kom die doop?

Almal word in sonde gebore en deel in die verdoemenis van Adam. Deur God se genade het Hy egter ‘n weg gestel om weer in vrede met Hom te leef. In die Ou Testament was iemand wat aan God behoort het, deel van die ou verbond, en het die besnydenis as teken daarvan ontvang. In die Nuwe Testament het Christus self die doop ingestel om die besnydenis te vervang. In Matthéüs 28:19 gee Jesus die opdrag aan sy dissipels om te doop, naamlik: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees…” Jesus self is ook gedoop en as navolger van Hom, wil ons ook in sy voetspore volg. 

### Wat beteken die doop vir my?

Net soos ‘n Herder sy skape merk, wil die goeie Herder, die Here, ons as sy kinders merk. Wanneer ‘n persoon dus gedoop word, dien die doop as ‘n teken en ‘n seël dat ons aan God behoort. Die water wat by die doop oor ons gestort word, dui daarop dat ons uiterlik van ons vuilheid skoongewas word. Ek, as gedoopte kind van God, word, daarmee saam, net so gewas met die bloed van Christus van my innerlike vuilheid - my sondes (Romeine 6:4a). So seker as wat die water my uiterlik skoonwas, so seker was Christus my hart skoon (Romeine 6:4b). Ons ontvang ook beloftes met die doop. Van die Vader se kant af beloof Hy dat ek deel is van sy genadeverbond en ‘n erfgenaam is van die ewige lewe. Die Seun beloof dat Hy my reinig van my sondes, en die Heilige Gees beloof dat Hy in my sal woon. Dit is dus ‘n onverstaanbare groot geskenk van God.

### Wat eis die doop van my? 

God vra van sy gedoopte kinders om sy beloftes van versoening en gemeenskap met Hom aan te neem. Hy vra dat ons gehoorsaam aan God sal leef deur sy gebooie na te kom en dat ons Hom bo alles, met hart, siel en verstand sal liefhê. Alhoewel ek, as sondige mens, nie hierdie eis uit my eie kan nakom nie, beloof die Vader dat Hy sy Heilige Gees aan my gee om my hierin te lei.

### Watter troos bied die doop aan my?

Deur die doop word ons weer deur Christus as sy kinders aangeneem. Dit is ‘n nuwe en voller openbaring van God se ewige verbond. Dit is ‘n genadegawe en ‘n geskenk aan ons. Waar ons eers, as gevolg van ons sondige natuur, die gemeenskap met Hom verbreek het en as vyande teenoor God gestaan het, sien Hy ons nou, deur die versoenende werk van Christus, weer aan. Hierdie troos word deur God se genade aan sy kinders van alle ouderdomme gebied. In Handelinge 16:15 vind ons die voorbeeld van Lidia, die purperverkoopster, wat saam met haar hele huishouding gedoop is. Dit is dus duidelik dat God eerste na ons toe kom met sy genade, al kan ons dit nog nie verstaan nie.

Ons as mense kan so gou moedeloos met onsself en ons sondes raak. Dit kan ons verwyderd van God laat voel. Wanneer dit gebeur mag ons God se teken van die doop onthou en Hom dank dat ons deel van sy verbond mag wees. Dink terug daaraan dat God sy beloftes deur sy Woord aan jou bevestig en jou nooit alleen sal laat nie, want sy Gees woon in jou. Wees ‘n getuie van God se groot genade en liefde deur ander te vertel van die troos wat jy deur die heilige doop mog ontvang. 

*Geskryf deur Liani Miske, VGK Maranata*