> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Die Sewende Gebod: Heiligheid in liefde en verhoudings
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-sewende-gebod-heiligheid-in-liefde-en-verhoudings/
- Published: 2026-08-29T13:22:13.000Z
- Updated: 2026-08-29T13:34:13.000Z
- Description: Die sewende gebod sê dat jy nie egbreuk mag pleeg nie. En dit is inderdaad wat die gebod verbied. Maar soos met die ander gebooie, is God se bedoeling meer as net die direkte daad wat genoem word.
- Author: Olielamp

> “Jy mag nie egbreek nie.” (Exodus 20:14)

As iemand die sewende gebod noem dan dink ons heel waarskynlik direk aan wat ons in Exodus 20 lees: *Moenie egbreuk pleeg nie.* En dit is inderdaad wat die gebod verbied. Maar soos met die ander gebooie, is God se bedoeling meer as net die direkte daad wat genoem word. Die sewende gebod gaan oor die manier waarop God wil hê dat ons ons seksualiteit, ons liggame, ons huwelike en ons verhoudings moet gebruik.

Die sewende gebod leer ons nie net wat ons nie mag doen nie, maar ook hoe ons wel moet leef.

### Die huwelik is nie bloot ’n menslike instelling nie

Van die begin af het God die verhouding tussen man en vrou op ’n besondere manier ingestel. Genesis 2:24 sê:

> “Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”

Die huwelik is dus meer as net ’n romantiese verhouding of ’n kontrak tussen twee mense. Dit is ’n besondere verbond waarin ’n man en ’n vrou hulle aan mekaar verbind.

Seksualiteit is daarom ook nie net ’n fisiese behoefte wat bevredig moet word nie. God het dit met ’n bepaalde doel geskape en dit binne die huwelik ’n besondere plek gegee. God verbied dus nie seksualiteit nie; Hy gee dit ’n plek, ’n doel en ’n betekenis.

Ons sien ook die huwelik in die manier waarop die Bybel God se verhouding met sy volk beskryf. En ook net sy volk, nie met ander volke nie. God is getrou aan sy verbond, selfs wanneer sy volk ontrou is. Die Bybel gebruik daarom dikwels huweliksbeelde om Israel se verhouding met God te beskryf.

Die huwelik wys uiteindelik ook vooruit na Christus en sy kerk. Paulus beskryf Christus as die Bruidegom en die kerk as sy bruid. Die huwelik het daarom ’n groter betekenis as net die geluk van twee individue.

### Die sewende gebod gaan verder as egbreuk

Jesus maak dit baie duidelik in die Bergrede:

> “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” (Mattheüs 5:27-28)

Jesus skuif die fokus van meer as net die daad, Hy wys na die hart.

Iemand kan dus sê: “Ek het nog nooit egbreuk gepleeg nie,” terwyl sy gedagtes en begeertes voortdurend deur wellus beheer word. Dis waar die probleem begin. Dikwels al lank voordat die daad plaasvind. Dit begin in ons gedagtes, wanneer ons ‘n persoon nie meer sien as ’n iemand wat na die beeld van God geskep is nie, maar as iets waarmee ons ons eie begeertes mee kan bevredig.

Ons sien dit oral rondom ons - in die mense en op sosiale media. Ons leef in ’n kultuur wat selfbevrediging amper as ’n hoogste doel beskou: *"As dit my gelukkig maak, moet ek dit kan doen. As ek dit begeer, moet ek dit uitleef."*

Maar die eintlike vraag wat ons moet vra is: Is dit wat ek begeer, ook wat God van my vra?

### God bepaal hoe ons leef

Ons kan nie ’n toestel ontwerp en dit dan vir enige doel gebruik wat ons wil nie. Die vervaardiger bepaal waarvoor dit gemaak is. 

Die sewende gebod verbied daarom nie net egbreuk nie. Dit roep ons tot seksuele reinheid en waarsku teen seksuele onsedelikheid, seksuele mishandeling, pornografie en wellus. Die beginsel bly dieselfde: ons seksualiteit behoort onder die heerskappy van God te staan, soos Hy dit bepaal het**.**

### Die positiewe kant van die gebod

Martin Luther het daarop gewys dat die negatiewe formulering van die Tien Gebooie ook ’n positiewe plig impliseer. Wanneer God sê: “Jy mag nie doodslaan nie,” beteken dit nie net dat ons die ander moet afbreek en seer maak, maar ook dat ons ons naaste se lewe moet beskerm en bevorder.

Dieselfde geld vir die sewende gebod.

“Jy mag nie egbreek nie” beteken nie bloot dat ons nie ons huweliksmaat moet verneuk nie. Dit beteken positief dat ons getrou, rein en eerbaar moet leef binne ons verhoudings.

Dit beteken dat ’n man sy vrou moet eer en ’n vrou haar man moet eer. Dit beteken dat ons nie ander mense vir ons eie seksuele bevrediging mag gebruik nie. Dit beteken ook dat ons binne die huwelik met liefde, selfbeheersing en respek moet optree.

Om getroud te wees beteken nie dat enige seksuele optrede daarom outomaties reg is nie. Liefde soek nie bloot eie bevrediging nie; liefde soek die welsyn van die ander persoon. Die sewende gebod beskerm daarom iets kosbaars: die heiligheid van die huwelik en die waardigheid van mense.

### Alles begin in die hart

Die groot uitdaging is dat ons nie bloot met uiterlike gedrag moet probeer klaarkom nie. Jesus neem ons terug na die hart.

Ons kan pornografie vermy en steeds deur wellus beheer word. Ons kan fisies getrou wees aan ons huweliksmaat en tog emosioneel ontrou wees. 

Dit is waarom die stryd teen seksuele sonde uiteindelik nie net ’n stryd oor gedrag is nie. Dit is ’n stryd oor wat ons harte liefhet.

### Christus en die gebroke mens

Die sewende gebod wys vir ons hoe ver ons van God se volmaakte standaard af is. Dit ontbloot nie net die persoon wat fisies egbreuk gepleeg het nie, maar ook die persoon wat in sy gedagtes wellus koester, ander mense gebruik, sy huweliksmaat nie eer nie, of sy eie begeertes belangriker ag as God se Woord.

Daarom is die doel van die sewende gebod nie bloot dat ons bang moet wees om seksuele sonde te doen nie. Die doel is dat ons leer om God se goeie ontwerp vir ons seksualiteit te waardeer en te eer.

### ’n Heilige lewe in ’n onheilige wêreld

Die wêreld rondom ons sal aanhou om vir ons te sê dat vryheid beteken om elke begeerte uit te leef. Die sewende gebod leer ons egter dat ware vryheid nie daarin lê om slawe van ons begeertes te wees nie. Ware vryheid is om te kan leef soos God ons geskep het om te leef.

Die vraag is daarom nie net: “Wat mag ek doen?” nie, maar:

*“Hoe kan ek met my liggaam, my gedagtes en my verhoudings God verheerlik?”*

Ons liggame behoort nie aan onsself nie. Ons behoort aan Christus.

*Geskryf deur Ben Bunk, VGK Pretoria*