> ## Content Index
> Fetch the complete content index at: https://olielamp.vgk.org.za/llms.txt
> Use this file to discover other available public pages before exploring further.

# Die Huwelik as instelling van God
- URL: https://olielamp.vgk.org.za/die-huwelik-as-instelling-van-god/
- Published: 2026-09-12T13:00:35.000Z
- Updated: 2026-09-12T13:00:34.000Z
- Description: Die huwelik, die verbinding en verbond tussen man en vrou, is deur ons Hemelse Vader in die paradys ingestel omdat dit nie goed was dat die mens alleen was nie. Die Here lê in die skepping die begeerte om ‘n mens se lewe te deel en om ‘n maat te hê om jou aan te vul.
- Author: Olielamp

Die huwelik, die verbinding en verbond tussen man en vrou, is deur ons Hemelse Vader in die paradys ingestel omdat dit nie goed was dat die mens alleen was nie. Die Here lê in die skepping die begeerte om ‘n mens se lewe te deel en om ‘n maat te hê om jou aan te vul. Hierdie instelling is in vandag se tyd onder baie druk van die sekulêre wêreld en daarom is dit goed vir ons om te verstaan hoe die Here die huwelik geskape het en hoe dit in ons lewe behoort te lyk.

In Genesis 2:24 lees ons dat die man sy vader en moeder sal verlaat, sy vrou sal aankleef en dat hulle een sal wees voor God. In Matthéüs 19:5 bevestig ons Here Jesus ook hierdie grondslag wat kenmerkend is van ‘n Bybelse huwelik. Wat beteken dit vir ons vandag? In die wêreld is dit vandag algemeen dat die huwelik gesluit word vir eie gewin: dit gaan oor ek en jy as individue, en wat elkeen van ons daaruit kan baat. Baie keer word die huwelik net uit romantiese gedagtes gesluit, sodat albei partye kan saamleef omdat dit voordelig is vir hulself. Daar is nie sprake van eenwording nie, maar van twee partye wat wetlik verbonde is en twee aparte lewens lei. Dit is egter nie hoe God dit ingestel het nie. Hy sien die man en vrou as een, deur die Heilige Gees verbind. Hulle moet saamwerk om aan Sy koninkryk te bou. Dit is nie meer *ek* en *jy* nie, maar *ons*. Die man en vrou vorm saam ‘n nuwe eenheid. Dit is ‘n aardse afbeelding en voorbeeld van die eenheid wat daar in die Drie-eenheid is.

‘n Kernbeginsel wat ons in die Bybel leer en wat Tim Keller in sy boek, *The Meaning of Marriage,* so mooi beklemtoon, is dat die huwelik ‘n verbond is en nie net ‘n kontrak tussen man en vrou nie. Eerstens is dit ‘n verbond tussen beide man en vrou en God. En tweedens is dit ‘n verbond tussen man en vrou. ‘n Verbond, oftewel ‘n belofte, hou soveel meer diepte in as ‘n kontrak. Daar is emosies betrokke en kan nie sommer afbetaal of beëindig word nie. Dit beteken dat jy aktief aan die verhouding moet werk en dit as ‘n prioriteit in jou lewe moet hou. Jy kan dit nie op die agtergrond kan skuif of kan opdeel in verpligtinge wat afgehandel moet word nie.

Hoe lyk ‘n Christelike huwelik egter volgens die Bybel? In die Bybel gee die Here beide mans en vrouens goeie riglyne oor hoe ‘n huwelik moet funksioneer. Voor ons in die rol van die vrou en die man onderskeidelik inspring, is dit eerstens belangrik om te sien dat ons opgeroep word om mekaar te dien binne-in die huwelik. Dit beteken dat beide partye mekaar moet ondersteun en die ander se belange op die hart moet dra. So vinnig wil ons as mense net aan onsself dink, maar dit is juis wat so mooi aan die Christelike huwelik is: ons word opgeroep tot selfopofferende liefde vir ons eggenoot, selfs al word ons daardeur benadeel. 

Beide man en vrou het ‘n belangrike rol om in die huwelik te vervul. Manne moet hul vrouens met hul hele hart en optrede liefhê, en vroue moet onderdanig wees en hul mans ondersteun. Ons sal bietjie later in die artikel meer na hierdie rolle kyk.

### Die huwelik as afbeelding van Christus en Sy Kerk

As ons Efésiërs 5:18 – 21 lees, sien ons dat man en vrou gevul moet wees met die Heilige Gees. Dit is belangrik dat deur die Gees se werking, man en vrou die nodige krag en wysheid sal ontvang om mekaar te dien. ‘n Dienende houding soos wat ons Here Jesus so pragtig kom wys het op aarde. ‘n Houding van selfopoffering, omgee, respek en vergewing - wat jou eggenoot se belange eerste plaas. Deur ons verhouding met Christus eerste te stel, het tot gevolg dat Hy jou die wysheid en krag sal gee om jou lewensmaat selfoppofferend te kan dien. 

Die mooi aan die huwelik is dat dit so ‘n direkte afbeelding is van Christus se verhouding met sy Bruid, die Kerk. In Efésiërs 5:22-33 lees ons dat Paulus die huwelik tussen man en vrou direk vergelyk met die verhouding tussen Christus en die kerk en dat Christus hoof is oor sy Bruid. Net so het Hy die man as hoof oor die vrou gestel. Christus het sy kerk tot die einde van sy aardse lewe toe so liefgehad dat Hy Homself vir haar gegee het sodat sy heilig en rein kan wees. Netso moet die man sy vrou soos sy eie liggaam liefhê, haar versorg en beskerm en, indien nodig, bereid wees om sy lewe vir haar prys te gee. Soos die gemeente hom deur Christus laat lei, so moet die vrou haarself aan die liefdevolle leiding van haar man toevertrou. God het die ewige huwelik ingestel en ons kry nou al ‘n voorsmaak van hoe die ewige huwelik sal wees met Hom as ons ewige Bruidegom (Efésiers 5: 22-33).

### “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê.”

As dit kom by die verantwoordelikhede en pligte van mans in hul huwelik, sien ons iets drasties anders as wat die wêreld ons wil laat glo. Mans word opgeroep om hul vroue lief te hê, soos Christus die kerk liefhet. Dit moet ‘n liefde wees waardeur hy homself volledig gee. Dit sluit reiniging in en gaan daarop uit om sy vrou te laat floreer, sonder enige vlek of rimpel (Efésiërs 5:27). Dit moet dus ‘n dienende liefde wees, en nie gesag wat die vrou oorheers of onderdruk nie.

Net soos Christus die hoof is oor sy Bruid, net so is die man aangestel as hoof oor sy bruid en huisgesin. Christus wys vir ons in Titus dat die man geestelik sy gesin moet lei en dat hy verantwoordelik is vir die groei in geloof en dieper kennis van ons Verlosser. Wat beteken dit egter? Hoe kan die man dit toepas in sy lewe? Eenvoudig deur dit in gebed aan die Here op te dra en ‘n lewende verhouding met Hom te soek. Deur gebed kan hy sy gesin aan die Here opdra en bid vir die nodige insig en leiding om sy taak te verrig. Ons lees in Genesis 25:21 dat Isak vir die Here gebid het, en Hy het sy gebed verhoor en Rebekka het swanger geword. Manne moet bid, en vir God vra dat Hy die gesin sal bly beskerm en bewaar. Ons kragte kom nie uit onsself nie en daarom moet die man op God bly vertrou en Hy sal hom lei.

Die man het nog ‘n belangrike rol in die huwelik gekry, naamlik voorsiener en beskermer. En in die rol is daar vier areas wat die man moet beskerm en voorsien, naamlik fisies, geestelik, emosioneel, en moreel.

Mans het ‘n natuurlike geneigdheid om hul gesin fisies te beskerm en te voorsien. 1 Timόtheüs 5:8 beklemtoon die belangrikheid, maar dit is nie al wat God van die man vra nie, hy moet ook vir sy gesin geestelik, emosioneel en moreel beskerm en voorsien. Wat beteken dit vir die man? Geestelike beskerming en voorsiening beteken dat die man alle sake na God moet bring, veral as hy dit nie self kan oplos nie. In plaas daarvan om kwaad of gefrustreerd te word met sy gesin, bring dit na God toe. Op hierdie manier bring die man stabiliteit in die gesin. In Kolossense 3:19 noem Paulus dat die man hul moet vrou liefhê, sagmoedig optree, en juis nie verbitterd, of emosioneel onstabiel wees nie. Dit word gedoen deur te luister, die vrou se gevoelens te erken en self te erken wanneer hulle verkeerd opgetree het. Laastens, is dit belangrik om die gesin moreel te beskerm en te voorsien. Soos in Efésiërs 5, moet die man die lig in die huis wees, self die voorbeeld wees en beheer wat in die huis toegelaat word, in terme van sosiale media, musiek, ensovoorts.

Dit is ‘n baie groot verantwoordelikheid en ook is dit na die sondeval nie meer natuurlik in die mens nie, daarom mag en kan hulle dit in gebed voorlê aan hulle Hemelse Vader, en vra vir wysheid en krag om ook hulle gesin so te bewaar en te voorsien. 

### “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.”

Net so is daar in vandag se tyd baie geraas wat ons hoor oor hoe die wêreld die rol van ‘n vrou sien, maar wat leer die Skrif ons? ‘n Vrou moet bystand en ondersteuning bied aan haar man. Ons lees in Genesis 2:18-22, dat die Here vir Adam ‘n helper geskape het. Iemand wat hom bystaan en ondersteun in tye van swaarkry en nood. Die vrou is nie aangestel as bevelvoerder oor haar man nie, maar as ‘n helper vir hom. Die woord *helper* is nie heeltemal die regte vertaling van die Hebreeuse woord ‘*ezer’* nie. In Engels word die woord eerder vertaal met *ondersteuning, deel in vreugde*.

Verder, lees ons in Efésiërs 5:22 – 24 dat die rol van die vrou is om onderdanig te wees aan haar eie man, net soos die gemeente onderdanig is aan Christus. Dit is belangrik om te noem dat, net soos Christus gelyk aan die Vader is in die Drie Eenheid en nie minderwaardig nie, net so is die vrou ook gelyk aan haar man in belangrikheid - daar is bloot net ‘n verskil in rol en take. Haar huwelikstaak is anders ingestel as die van haar man. Sy word opgeroep om onderdanig te wees. Dit beteken dat die vrou gehoorsaam moet wees aan haar man vir so ver dit billik en volgens die wil van God is, en te weet dat Christus hom aangestel het as hoof oor haar. Die man is nie aangestel om misbruik te maak van die gesag wat aan hom gegee is nie, maar om sy vrou te dien. Daarom beteken dit dat hy haar belange in ag sal neem en altyd die beste vir haar sal soek. Dit is die mooi aan die oproep om onderdanig te wees. Indien die man sy gesag misbruik, is daar altyd ruimte om na die gemeenskap van die heiliges uit te reik vir ondersteuning, maar deur dienend jou roeping na te kom werk die Here in beide partye en mag daar selfs bekering en terugkeer kom. 

In Titus 2:4-5, het die vrou nog ‘n taak gekry. Alhoewel dit weer bevestig dat die vrou onderdanig moet wees aan hul eie man, is dit ook belangrik dat die vrou die onderdanigheid aan jong vroue leer, sodat hulle in hul huwelike en lewe tot eer van God kan leef en hul taak so dienend kan vervul in sy Koninkryk.

### Die prag van Sy werk

Die huwelik skyn in sy volle prag as ons mekaar kan bystaan in tye van swaarkry, saam mag geniet van alles wat goed is, dienend mekaar se belange eerste stel en tekortkominge en sondes vergewe omdat ons weet dat Christus dit vir ons gedoen het. God het ‘n pragtige doel met die huwelik en as man en vrou is dit belangrik om dit nie uit die oog te verloor nie. Man en vrou moet in opregte liefde en heiligheid saamleef en, indien die Here hulle met kinders seën, hulle in die ware kennis en vrees van God opvoed sodat sy lof nog soveel ryker oor die aarde kan weerklink. Bid, hou vas aan God se beloftes, maak Hom die middelpunt van jou huwelik en vertrou dat sy seën op julle huwelik sal rus. God het immers man en vrou aan mekaar gegee, en daarom sal niks hulle in hierdie lewe van mekaar skei nie.

U kan gerus *The Meaning of Marriage* van Tim en Cathy Keller lees. Dit is ‘n waardevolle en insiggewende boek.

*Geskryf deur Riana Antonides, VGK Bellville*