Sewe dinge wat God haat

Arie Roos – 9 November 2014

Ons almal ken al die storie: God is ʼn liefdevolle God, maar tog is Hy regverdig en haat Hy sonde. Ons hoor dit al van kleins af. So ek kan net imagine wanneer jy die naam van die artikel sien, dan dink jy: “Ja, ek ken hierdie storie al: God haat sonde. Duh.” En dan verwag jy ʼn teksverwysing gevolg deur die lysie van sonde in daardie spesifieke teks. Dis nie wat in hierdie artikel gaan gebeur nie, want ek wil nie net doen wat altyd gedoen word nie, en ek wil nie jou tyd mors deur net gewoon dieselfde holrug-geryde feite weer neer te skryf nie.

Die een vraag wat eers uit die weg geruim moet word, is dit: Mag ʼn Christin dinge haat? As kind het die meeste van ons geleer dat ons nie mag haat nie. Natuurlik, haat is direk die teenoorgestelde van liefde. Ons moet ons naaste liefhê, maar beteken dit dat ons niks mag haat nie? Nee, dit beteken dat ons nie ons nááste mag haat nie. So ons mag wel dinge haat.

Voor jy nou verder lees, skryf eers self sewe dinge neer wat jy haat. Hier is nie nou ʼn reg en verkeerd nie. Jy kan sondes neerskryf as jy wil, maar as jy die buurman se lelike grasperk haat, skryf dit neer. For that matter, as jy jou buurman haat kan jy dit ook neerskryf, dan het jy darem die eerste stap geneem om met daardie sonde op te hou: erkenning. Dis nie so moeilik om sewe dinge te kry wat jy haat nie. Hier is sewe van die goed wat ek haat: rassisme, wreedheid teenoor diere, misbruik van swakker mense, onbillike mediese kostes, leuens in die media, korrupsie, en tolhekke op gewone paaie.

Vat nou een van die dinge wat jy haat, en dink aan hoe jy voel as jy dit raaksien. Byvoorbeeld, as ek sien iemand is wreed met diere, dan kry ek ʼn baie sterk gevoel van woede en disgust. Doen dit nou vir elke ding wat jy op jou lysie geskryf het. As jy deur jou lysie is, behoort jy ʼn goeie idee te hê van wat die woord ‘haat’ beteken.

Noudat jy verstaan wat die woordjie ‘haat’ beteken, blaai gou na Spreuke 6 en lees verse 16 – 19. Hier is dit duidelik dat God baie sterk oor hierdie spesifieke sondes voel. My lysie is nog in die argaïese taal van die ou vertaling en in die poëtiese taal van Spreuke, so kom ek verduidelik vinnig wat hierdie dinge beteken.

1. Trotse oë

Trotse oë dui op iemand wat hoogmoedig is. God haat dus hoogmoedigheid.

2. 'n Tong wat lieg

ʼn Tong wat lieg dui natuurlik op oneerlikheid. Dit verwys na alledaagse leuens wat mense vir mekaar vertel vir hulle eie gewin. Dit verskil bietjie van die valse getuienis in die sesde item. God haat dus oneerlikheid.

3. Hande wat onskuldige bloed vergiet

Hande wat onskuldige bloed vergiet dui op moord, wat God haat. Lees ook Mat 5:21-24.

4. 'n Hart wat onheilsplanne beraam

ʼn Hart wat onheilsplanne beraam dui op iemand wat plannetjies maak om sy naaste te benadeel (dink maar aan Moriarty van Sherlock Holmes as ʼn goeie voorbeeld). God haat dit dus as ons mekaar met uitoorlegging benadeel.

5. Voete wat haastig na die kwaad toe loop

Voete wat haastig na die kwaad toe loop dui op iemand wat nie van sonde af probeer wegbly nie. God haat dit as ons nie teen die sonde stry nie.

6. Een wat as valse getuie leuens uitstrooi

Een wat as valse getuie leuens uitstrooi is iemand wat lieg oor ander mense. Sulke mense veroorsaak gereeld onrus tussen ander. God haat dit as ons oor mekaar lieg. Dit sluit mooi aan by nommer 7 op Spreuke se lysie.

7. Een wat tussen broers tweedrag saai

Een wat tussen broers tweedrag saai. God haat dit as ons mekaar se verhoudings versuur.

Ons sien dus dat dit nie verkeerd is om die dinge wat God haat, self ook te haat nie. Dit is juis belangrik vir ons om dieselfde dinge as God te haat. As ons die sonde haat, is dit makliker om teen die sonde te stry. As ons sonde afskuwelik vind, sal ons ook geneig wees om mekaar op die regte pad te hou. Tog mag ons weet dat Christus ons verlos het van die regmatige straf op al hierdie dinge!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *